Inleiding tot die 8 Patrone van Gestuurde Gemeentes
Gestuurde gemeentes luister na God se spesifieke roeping. Gestuurde gemeentes ervaar en neem deel aan God se roeping en die bemagtiging deur die Heilige Gees om deel te neem aan God se sending in die wêreld. Die gemeente doen dit op so ’n manier dat beide die uitreik van die gemeente en die gemeentelike lewe ’n getuienis van Jesus Christus is.
Daar is geen maklike formule nie: “Doen dié drie dinge en julle sal ’n gestuurde gemeente wees.” Daar is nie ’n lysie van aktiwiteite wat julle kan uitvoer om sukses te behaal nie. Navorsers het egter ag “patrone” (wat ietwat oorvleuel) geïdentifiseer wat hulle in gestuurde gemeentes teëgekom het. Dié patrone word in meer detail in die boek Treasure in Clay Jars bespreek. Daar word ook gemeentelike stories vertel ter illustrasie van dié patrone.
Patrone kan herken word, selfs al is hulle nie identies nie. So kan ’n geruite patroon op materiaal byvoorbeeld verskillend lyk op verskillende tipes materiaal. Geruite materiaal kan verskillende kleure hê, selfs ’n verskeidenheid verskillende kleure. Dit kan simmetries wees – of nie. Die ruite kan klein of groot wees. Die materiaal kan lakenstof of koordferweel wees, katoen of wol. Maar die patroon kan steeds as geruit geïdentifiseer word. Dit is hoe dit werk met hierdie “patrone in gestuurde getrouheid”. Die patrone mag in verskillende vorms voorkom in kleiner en groter gemeentes, in verskillende kulturele omstandighede en in verskillende kerktradisies, maar ’n mens kan steeds die patroon identifiseer.

