Archive for June, 2009

Jan da’ in Bethesda.

Ouds. Jan v. Alleman

het ‘n slag ‘n vakansie beplan.

Na Bethesda wou hy nou die pad graag vat.

Hy kry egter nie die bekende bad -

maar wel ‘n vrou

wat sy gedagtes hou …

Soos alleman?

Besoek aan die Uilhuis, Nieu Bethesda

1.

Die meermin

in die groot Karoo

nooi ons in:

kom kyk, kom glo!

Verstom betree ons dit wat sy gee:

haar wêreld wat vertel

van haar wee,

van haar wel.

Oop-oë dom

bly ons luisterend loop

tussen beelde wat stom

dalk vertel van ‘n hoop.

In haar huis voel dit heilig

‑ so vol privaat ‑

waar sy seker, veilig

haar denkspoor kon laat.

Oop-oë dom;

sy kom gryp ons vas.

Haar beelding praat stom

in sement en in glas.

My wonder

word verwonder

en bewonder:

dat sy behep

wel só kon skep,

iets maak

aan haar saak.

En ons raak.

Ek wens ek kan weet

of haar harde, koue, starende kroos

op haar werf, haar ooit kon troos?

Ek wens ek kan weet

of die lig wat sy so self wou vang,

verligting kon gee in haar wêreld se bang?

Ek wens ek kan weet …

hoor ek in elke uil

‘n stukkie huil?

In die klein-klein kerk

het ek tog bemerk

hoe sy haar wend

tot gebed in sement.

“En nou bly geloof, hoop …”

En liefde?

2.

Die Uilvrou

het haar eie wêreld probeer bou

met selfs ‘n kerk.

Maar dit het skynbaar nie gewerk.

Dit was net ‘n model

wat van iets anders wou vertel

wat nie daar was.

Het sy iets verpas

en toe gevange gebly

in haar seerkry?

Haar Betesda-hunkering,

kon dit vir haar herstel bring?

Het sy na die dood

gevlug weens haar nood?

Naby die Uilhuis staan ‘n regte kerk,

‘n ark vir die vloed gereed.

Ek wonder of sy dit ooit weet

en dit vir haar sou werk?

3.

Soos ‘n meermin

net die water kan in

en nie daaruit meer kan min;

of die Uilvrou,

wat so beelde bou

van dit waaraan sy klou,

so bly ons kleef

aan wat ons weef

terwyl ons hier probeer oorleef.

En kry soms so min

van die sin

hierin.

By Betesda het baie stip gestaar

om die roer van die water te gewaar.

By al die baie blinde hoop

kan Een die lamme laat leer loop.

Tags: , ,

Wind op die water

Wind op die water

Tags:

Branders

Branders

Tags:

‘n Kaggel se warmte

Dit kan net in Afrika só ruik.

Vroeër vandag was dit nog anders. Wel al winter, maar die vele grys wolke en die paar druppels was skugter en skaars. Toe trek dit toe: ‘n winters-toe, so anders as die donder en bliksem van die somer.

Daarmee saam het daar ander reuke gekom: reën op stof (nie grond nie), die koudheid in jou neus en om jou neus se vleuels en die onmiskenbare rookreuk van ‘n vertroostende kaggelvuur.

Dis anders as ‘n braaivleisvuur.

Glad nie soos ‘n bosbrand nie.

Ook nie soos ‘n ashoop se smeul nie.

Dit het ‘n warmte, want dit roep definitiewe beelde op: nat stewels by die voordeur, ‘n sambreel wat hardnekkig nie wil toe nie en gretig drup, ‘n kurktrekker, ‘n bord groentesop (met stipsels lensies), ‘n groot glas rooiwyn, vingers in die hare, later ekstase.

Warmte.

Hoe soek ons dit nie almal nie. Vroeër vandag het ek saam met ‘n mede-mens gesit. Sy’t iets vernederends beleef, ongevraag en walglik. En later praat ons toe oor ons mensgeit, hoe ons almal smag na iets of iemand (of soos Barnard Steyn se oom gesê het: “Mense wil van geweet wees”) en behoeftes het. Aan warmte.

Maar waar soek mens?

By die bedrieglike Sertifikate van Sukses?

Of die glimmende Poele van Plesier?

Dalk by die Glans van Geld?

Warmte. Aanvaarding. Erkenning.

Vir haar het ek nie raad gehad nie, want ek kan nie toor nie. In elk geval: wat sou ek vir haar getoor het? ‘n Betroubare hunk met ‘n goed ontwikkelde intuïsie? ‘n Rustige plaasboer met ‘n leer-hoed en leer-hande? Dalk ‘n dapper pionier met wie sy die wêreld vol kan flenter?

Vir eers: die druppels op die dak, die stompe wat nou en dan knetter, die hitte om die enkels, die warmte.

Diep in die hart.

Kat en muis

(na aanleiding van sommige briljante kunstenaars wat niks betaal word nie)

baie arme drommels
het al
na hulle katte gekyk en kwylend geskryf:

‘ek wens my lewe was só.’

genoeg slaap
‘n speletjie of twee
‘n muis om my
mee uit te daag

en ‘n gawe baas

om die honger
te
ver
jaag.

Tags:

Finale woord

finale woord?

ʼn finale streep?

ooit  ʼn finale doodsgreep?

Kan Hy wat sy gees

in die hand van die Vader gee

die laaste asem uitblaas

kan ʼn lewe waaruit geweld

die laaste vergiffenis wring

verwelk wanneer  Hy sy ma

na ʼn ander seun bring

Kan ʼn dood wat die voorhangsel skeur

die lig finaal verbeur

is daar ʼn finale woord

oor dié liefde?

Vlugtige nuwe asem

gees in God se hand

streep in die sand

lig uit allerheiligheid

verswelg  die finale woord

teenwoordigheid verfyn tot ewigheid

tyd word nou gehou deur hemelse akkoord

vreugde is ʼn vry gedagte

gaan oor in lof vir duisende geslagte

wind waai oor ons laaste vraag

duisternis begin in ewigheid vervaag

gedagtes word verlig

wonderspel van liefde

begin sy wonders verrig

nuwe stemme, nuwe gedagtes

nuwe woorde, nuwe vrede

nuwe vreugde,

… nuwe mense …

goddelike kreatiwiteit ontplof

skiet finale woorde en dade

uitmekaar

genesende hand skuif

brokstukke in waar

dit pas in ʼn legkaart

van nuwe visioene

en bewegende beelde

van vars helende seisoene

wat grensloos  oormekaar skuif

tydens die kleurespel van reënbooglig

in die kleur en klank van ewige tyd

ontvang die lewe ligvoets

nuwe heiligheid

om te dans

oor enige finaliteit

Tags: , ,

Ashes to ashes

as Woord wederwoord wek
en Beeld beeltnis trek

waarom dan die wrede doolhof
van vrae en vrees en stotter en stof?

of

is ek stof?

en keer ek altyd terug na stof?

dalk eerder:

uit die stof
klink ons lof.

Tags:

My verse (2)

Die rymery
is ‘n joernaal van my;
my binnewêreld wat hand opsteek
en kwessies probeer oop te breek,
om dinge skryfbaar vry
te kry.

My verse

Ek deel graag hierdie verse -

wil tog nie
hiermee spog nie,
want dié
stuk terapie

is net maar aangesteekte kerse.

Lewe, dood – Liefde

Ek het by ‘n jong egpaar betrokke geraak wie se vroeggebore baba na 3 dae gesterf het. Hulle het lank gewag vir die baba en toe hierdie tragedie. Die ma het baie vrae oor godsdiens en geloof gehad. Ek wou vir hulle iets gee wat hul sou laat verstaan dat die tragedies ook met “goeie” mense gebeur en dat God in dit alles steeds teenwoordig is. Daarom eers die twee gedigte van Totius en Philander en toe my eie worsteling saam met hulle.

Totius (J.D. du Toit) (1877-1953)

o Die pyn-gedagte

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my.

Die mense sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan;

die skadu’s word lank en weer kort;

die drywerstem van my werk weerklink,

en ek gaan op my kruisweg vort.

*

Maar daar skiet aldeur ’n pyn in my hart,

só, dat my lewe se glans verdwyn:

Jou kind is dood met ’n vreeslike dood!

en – ek gryp my bors van die pyn.

o Die bliksemgedagte! … Ja, lieflingskind,

één straal het jou skone liggaam verskroei,

maar bliksemstrale sonder tal

laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ’n vlindertjie,

sy ’t lugtig omheen geswerf;

’n asempie wind kon haar vlerkies breek

en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,

dis één uit die tienduisend-tal,

en ag! dat dit sy was en ek moes sien

dat sy dood in my arms val!

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my;

die mense die sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

 

 

P. J. Philander (geb. 1921)

Haar uitvaart

Al oor my dak het hul gemaal …

dié voëltjies het vir haar kom haal.

Half-toegevoue vuisies klein

het ylings na die doodsgordyn

gegryp en dan weer moeg verslap …

die sweet het langs haar slapies afgetap.

Haar ogies sien ek duidelik nog,

hul het vir my gesmeek om tog

te help … die pyn te stil,

maar ek was magteloos teen Sy wil,

en halfweg na die hospitaal

het, asemloos, die dood ons ingehaal.

 

 

 

Lewe en dood – liefde?

 

Lewe en Dood

geskenk, genade, geneem

van alles gestroop

sonder toekoms en sonder hoop

arm en leeg van gees

kan God werklik  daarin wees?

Is die JA vir die lewe

werklik ‘n NEE vir die dood

is ‘n JA vir hoop

ook vir hierdie donker nood?

 

Verbyster, verslaan, verstom

waar sal ons troos vandaan kom?

Sy asem skenk lewe,

energie, handjies wat soekend gryp, bewe

realiteit wat skielik in ‘n wasige droom opgaan

dis so sinloos, kan ons dit verstaan

is daar werklik ‘n skakel

tussen gebrokenheid en ewigheid

tussen sinloosheid

en God se teenwoordigheid

 

Kan gestroop en verslae van Gees

werklik tot in ewigheid geseën wees

en die wat treur en ween

kom troos deur God se seën?

Energie en lewe wat eenmaal bestaan

kan nooit weer vergaan

dit kan wel van een vorm na ander transformeer

maar word steeds

deur God se teenwoordigheid beheer

selfs hoop en wysheid sal soms stom bly staan

maar God se liefde hou vir ewig aan

 

Daar in die stilte van jou nag

hou Hy geduldig en liefdevol wag

en wanneer jy wil skree en skel

omdat opstandigheid en pyn jou verteer

sal Hy ook dit absorbeer

as jou gedagtes rondtol

en jy tot op jou as vassit in die sand

onthou jou droom is nou in sy Vaderhand

ja, terwyl die lewe wel transformeer

word dit deur God se ewige liefde beheer

 

God se JA vir die lewe

Is juis vir ‘n gebroke wêreld in nood

Sy passie vir die lewe

breek die kettings van die dood

as die gordyn sak oor ons hoop

in die skemering van ons pyn

gaan God se arms vir ons oop

en laat Hy die duisternis verdwyn

energie, lewe, lig

is die wonder wat sy liefde in ons verrig

‘n lamp vir jou voet

en ‘n lig vir jou pad

Hy wil ook jou hand kom vat

 

Sy liefde sal voortdurend transformeer

omdat  Hy die lewe vir jou begeer

miskien voel jy verslae en verdwaas

soos ʼn kind

mag jy in sy Vaderarms jou tuiste vind

 

 

Tags: ,