Die kerslied

Die kerslied is geskryf vir ‘n kerssandiens. Tussen die verskillende paragrawe kan liedere gesing word, relevante skrifgedeeltes gelees word, of dit kan saam gelees word deur verskillende voorlesers, soos ipv preek. in ons eie gemeente was dit positief ontvang. Mag ons kerslied vanwee sy diepte en opregtheid hierdie kersfees harte verander. Groete

Heel aan die begin:

Die Skepping

afgehandel, klaar en goed, baie goed

nog net die kroon

deur wie God op die aarde sou woon

liefde, seën en respek

die begin van ‘n  ewige gesprek

gesprinkel deur liefde, vreugde, lof

die Teenwoordigheid, woorde, oorgawe

het minute en sekondes

in die ewigheid laat verdof

harmonieus het vredevolle riviere gevloei

maar versluier het die teenstem begin groei

subtiel is grootsheid gesuggereer

julle verdien dieselfde eer

julle verdien kennis, selfstandigheid

het die stem gestreel

en uiteindelik hul vermoë om God te hoor, gesteel

die gesprek het eensklaps verstil

woorde is vasgevang in sekondes en tyd

eeue, mense, koud en kil

verswelg deur ewige stryd

die kroon het versteen, gefossileer

slegs vae dowwe herinnering

sou die loflied ooit weer terugkeer

sou die sonde-skemering

oorgaan tot uiterste duister

sou ons ooit weer na God luister

 

Die nuwe begin:

Die nag word skielik versteur

deur ʼn liefde wat die duisternis verteer

 dis nie ʼn stem waarin die woede knars

en ook nie ʼn oordeel wat oor mense losbars

die lig word gevul met nuwe harmonieë

klanke van die hemelstemme groei

riviere van liefde begin weer vloei

in die koue stilte van die nag

kom God se liefde verbasend sag

sou ons die hemelkoor

hierdie keer hoor

óf sou die afsydigheid van ons siel

keer dat ons weer aan God se voete kniel

sou die boodskap ons nou binne dring

wat die geskeurde hemel aan ons bring

 

Die vreemde begin:

Die lied het op vreemde plekke ʼn tuiste gevind

in die harte van vrouens

in die stem van ʼn kind

dit was in die herders se voetval

in ʼn dofverligte, stinkende stal

heidense wyse manne het die ster gesien

en verstaan watter lof hierdie kind verdien

van alle hoogmoed en pretensie gestroop

was hulle ook nou vir hierdie gesprek oop

soos hierdie harmonieë groei

begin die woorde weer vloei

Sy liefde keer deur die lied terug

Sy hart bars oop soos ʼn ryp vrug

wat saad in alle rigtings skiet

die rokende lamppit, die geknakte riet

word herstel en begin weer sing

die wat dors het, kan hul kruike bring

die lied dring deur elke dowe oor

vir almal om die boodskap te hoor

melaatses word rein

en mag weer in dorpe verskyn

die feit dat kreupeles loop

gee ook die blindes hoop

 en sonder dat iemand dit verdien

begin ons God se genade sien

hortend, huiwerend

breek ons die bande wat ons verstom

want God het na ons toe gekom

 

Die genesing  begin:

Nuwe harte begin nou blom

mense sien skielik mense

hulle reik uit oor alle grense

die lied weerklink uit die snaaksste oorde

nog vreemder is die nuwe woorde

geseënd is die armes, treurendes, sagmoediges

ja, hulle wat honger en dors na geregtigheid

én die wat barmhartigheid is,

geseënd is die reines en vredemakers

én die wat ter wille van sy Naam vervolg word

oor húlle sal God uiteindelik sy liefde stort

 

Die nimmereindigende lied:

Selfs in die donkerste nag

behou die loflied nou sy krag

selfs in die skrilste koue

weerklink die lied van kinders en vroue,

en as die donker skadu’s om my groei

en my weer aan my stil verlede wil boei

dán weerklink die lied van die Engelekoor

hiérdie keer kan ek ook my stem daarin hoor

Ere aan God, in die hoogste hemel  …

Sélfs my stem, bereik nou sy oor,

in die koue stilte van die nag

kom God se liefde, steeds, verbasend sag

Bookmark and Share

Tags: ,

No Comments

Nagmaal Toewyding

By die onlangse Calvyn Konferensie was daar ‘n besondere aanbieding en gesprek oor liturgie/sakramente en daaruit voortvloeiende etiek. Ek het aanvanklik die Nagmaalgebed geskryf, maar in voorbereiding vir ‘n Nagmaal die responsoriese gedeelte bygesit. Veral met die oog op 25 Oktober 2009, probeer ek hierin iets na vore bring van die Gereormeerde spiritualiteit wat nie net myself/gemeente moet verander nie, maar ook die samelewing waarin ons woon. Dalk beteken dit vir iemand iets. Dit is so geskryf dat dit maklik op Power Point gesit kan word. Sterkte.

Nagmaal Toewyding

In die donker wêreld  waarin ons woon,

gee dit my hoop

dat u lig sedert my doop steeds op my skyn

en dat in hierdie doolhof van verwarring

u stem my steeds lei en stuur

Respons:

Laat u lig so helder op my skyn

Dat dit ook deur my

in die donker  wêreld sal inskyn.

In die bitterheid en geweld waarin ons ons daagliks vasloop,

kan ons rondom u tafel in u teenwoordigheid sit

en ervaar hoe U ons met liefde toevou

en  daar u gawes van  genesing geniet.

Respons:

Waar daar haat is, laat ek liefde bring

Waar daar bitterheid is, vergiffenis

Waar daar lyding is, verligting.

In die liefdeloosheid en verskeurdheid van die kerk,

staan U, ons Verlosser, en met u deurboorde hande

neem U ons hande, bind ons aanmekaar

en dwing ons om met nuwe oë na mekaar te kyk

Respons:

Vul ons met u liefde,

gee ons sagte, versorgende hande

En laat ons met nuwe liefde na mekaar

en die wêreld kyk.

Al die korrupsie en inhaligheid in die raadsale van die wêreld

kon nie keer dat U u hemeltroon verlaat nie

U het  onder ons u kruis  kom dra het

sodat ons ʼn kruis-kwaliteit lewe kan lei.

Respons:

Vul ons met u vergiffenis

Reinig ons van hoogmoed en selfsug

En gee ons knieë wat kan kniel.

In ʼn wêreld waar woorde hol simbole geword het

het dié Woord vlees en bloed geword,

vul die Gees elke woord met waarheid en ewigheid

en roep u mense terug na u veranderende teenwoordigheid.

Respons:

O Gees, vul ons woorde met redding en krag

En laat ons lewens mense nooi

In u helende teenwoordigheid in.

Dankie dat u lig steeds skyn, al begin my geloof kwyn

dankie dat ek met leë en bewende hande

steeds van U die brood en wyn kan ontvang

Realiteit  van geloof, hoop en liefde!

Respons:

Laat u lig tot in ewigheid in my skyn

Lewensbrood, voed my op my lewenspad asb.

En vul my met verwagting vir die Feesmaal van die Lam.   Amen

Bookmark and Share

Tags: ,

No Comments

Sakramente

Sakramente
Ouds. Jan
is so bly hy kan
hom telkens weer wend
tot die heil’ge sakrament.

Doop
Die sakrament van die doop
is ʼn dompel in die Hoop
dat ek nooit hoef te koop
hoe my lewe moet verloop.

Nagmaal
Ek voel die koel doodsbrood.

Hierdie brood
lyk bleek,
lykbleek,
so dood.

Dis klam, sag.
Ek talm,
kalm…
en wag.

U’t nie die dood
vermy,
vir my.
Díe brood:

ek weet ek eet nou lewensbrood.

Die wyn brand soet
in my keel.
Ek voel die vloei na binne.
U vul my sinne,
maak heel.
U bloed vergoed.

Die sluk:

was dit té groot
uit die beker van u dood?
Die wyn woel warm in my;
maak my warmhartig, bly –
verruk!

Die groot sluk was nie sonde;
dis toe balsem vir my wonde.

Nadink-nagmaal
Here,
kom voed my met die goed
wat so gewoon vertoon:
ons brood, ons wyn
vir ons pad, ons pyn.

U,
Goeie Herder, vat my hiervandaan verder.
U’t my verlos met dié padkos:
u brood, u wyn,
van u pad, u pyn.

Vir dié feesmaal het U betaal!

U goedheid en guns
sal lank by my bly
en ek is tuis in die Here se huis
tot in lengte van dae, sonder klae.

Bookmark and Share

Tags: , ,

No Comments

Nagmaalsgebed

Nagmaalsgebed

In die donker wêreld  waarin ons woon, gee dit my hoop

dat u lig sedert my doop steeds op my skyn

en dat in hierdie doolhof van verwarring

u stem my steeds lei en stuur.

In die bitterheid en geweld waarin ons ons daagliks vasloop,

kan ons rondom u tafel in u teenwoordigheid sit

en ervaar hoe U ons met liefde toevou

en  daar u gawes van  genesing geniet.

In die liefdeloosheid en verskeurdheid van die kerk,

staan U, ons Verlosser, en met u deurboorde hande

neem U ons hande, bind ons aanmekaar

en dwing ons om met nuwe oë na mekaar te kyk.

In  die korrupsie en inhaligheid in die raadsale van die wêreld

het  U u hemeltroon verlaat

en onder ons u kruis  kom dra

sodat ons nou ‘n  kruis-kwaliteit lewe kan lei.

In ʼn wêreld waar woorde hol simbole geword het

het dié Woord vlees en bloed geword,

vul die Gees elke woord met waarheid en ewigheid

en roep u mense terug na u veranderende teenwoordigheid.

Dankie dat u lig steeds skyn, al begin my geloof kwyn

dankie dat ek met leë en bewende hande

steeds van U die brood en wyn kan ontvang

Realiteit  van geloof, hoop en liefde!

Amen

Bookmark and Share

Tags: , ,

No Comments

Liedgebed

Liedgebed 65_web

Ek sal graag my bydrae maak met ’n Liedgebed wat ek gereeld in meditasiedienste en my eie stiltetyd gebruik.  Ek vind dat die melodie die waarheid van die woorde op ’n manier in my vasmaak.  Ek het dit eenkeer geskryf na ’n praatjie van Coenie Burger waarin hy my getref het met die feit dat God self ons hoop is.

Bookmark and Share
No Comments

Dood

Ouds. Jan se klasmaat is dood.

En hy was by die begrafnis.

Die impak daarvan op Jan was groot,

groter as wat verwag is.

1.

Ag Here,

Ek wens ek kon alles wat moeilik verstaanbaar is

net toemaak en wegvou

en net by U wees.

Ek wens ek kon paaie wat moeilik begaanbaar is

net afsper en weghou

en net by U wees.

En by U kom rus

en by U kom skuil;

deur U gesus

as ek by U huil.

2.

Die reën het saggies begin:

ongemerk, onverwag en sag.

Stroompies vloei oral in,

maak nat waar ek probeer te keer.

Dit dam in my oë,

spoel oor my wange,

stu en stroom met eie vermoë

deur donker gedagtegange.

Dit woel

die klippe wat maal

en spoel

in my donga verhaal.

Dobberend kom ek tog later,

voos gestamp en broos,

onverklaarbaar kop bo water

drywend in ‘n poel van troos.

3.

Sien my hartseer en my smag

wyl ek seerhart voor U wag.

Steun my vashou as ek bo

alles in u vashou glo.

4.

U grootheid, Heer, kan ek nie peil nie;

ek word daardeur soms diep getref.

Maar nêrens anders kry ek heil nie.

Ek wil my hart tot U verhef.

Tot U rig ek my dank en ere -

in u genade wil ek bly

en vol verwondering, o Here,

in u onpeilbaarheid rus kry.

[Met apologie aan Lied 200 van die Liedboek van die Kerk.]

Bookmark and Share

Tags: ,

No Comments

Laslap

Laslap

Bookmark and Share

Tags:

No Comments

Sleutel

Sleutel

Bookmark and Share

Tags:

No Comments

Jan da’ in Bethesda.

Ouds. Jan v. Alleman

het ‘n slag ‘n vakansie beplan.

Na Bethesda wou hy nou die pad graag vat.

Hy kry egter nie die bekende bad -

maar wel ‘n vrou

wat sy gedagtes hou …

Soos alleman?

Besoek aan die Uilhuis, Nieu Bethesda

1.

Die meermin

in die groot Karoo

nooi ons in:

kom kyk, kom glo!

Verstom betree ons dit wat sy gee:

haar wêreld wat vertel

van haar wee,

van haar wel.

Oop-oë dom

bly ons luisterend loop

tussen beelde wat stom

dalk vertel van ‘n hoop.

In haar huis voel dit heilig

‑ so vol privaat ‑

waar sy seker, veilig

haar denkspoor kon laat.

Oop-oë dom;

sy kom gryp ons vas.

Haar beelding praat stom

in sement en in glas.

My wonder

word verwonder

en bewonder:

dat sy behep

wel só kon skep,

iets maak

aan haar saak.

En ons raak.

Ek wens ek kan weet

of haar harde, koue, starende kroos

op haar werf, haar ooit kon troos?

Ek wens ek kan weet

of die lig wat sy so self wou vang,

verligting kon gee in haar wêreld se bang?

Ek wens ek kan weet …

hoor ek in elke uil

‘n stukkie huil?

In die klein-klein kerk

het ek tog bemerk

hoe sy haar wend

tot gebed in sement.

“En nou bly geloof, hoop …”

En liefde?

2.

Die Uilvrou

het haar eie wêreld probeer bou

met selfs ‘n kerk.

Maar dit het skynbaar nie gewerk.

Dit was net ‘n model

wat van iets anders wou vertel

wat nie daar was.

Het sy iets verpas

en toe gevange gebly

in haar seerkry?

Haar Betesda-hunkering,

kon dit vir haar herstel bring?

Het sy na die dood

gevlug weens haar nood?

Naby die Uilhuis staan ‘n regte kerk,

‘n ark vir die vloed gereed.

Ek wonder of sy dit ooit weet

en dit vir haar sou werk?

3.

Soos ‘n meermin

net die water kan in

en nie daaruit meer kan min;

of die Uilvrou,

wat so beelde bou

van dit waaraan sy klou,

so bly ons kleef

aan wat ons weef

terwyl ons hier probeer oorleef.

En kry soms so min

van die sin

hierin.

By Betesda het baie stip gestaar

om die roer van die water te gewaar.

By al die baie blinde hoop

kan Een die lamme laat leer loop.

Bookmark and Share

Tags: , ,

No Comments

Wind op die water

Wind op die water

Bookmark and Share

Tags:

No Comments