Pagan Christianity? Exploring the roots of our Church practices.

Pagan Christianity? Exploring the roots of our Church practices. 2008. Revised and updated. Frank Viola & George Barna
Die premis van die boek is dat die gebruike van die kontemporêre geïnstitusionaliseerde Westerse kerk weinig Bybelse gronde het. Inteendeel, dit het eerder heidense wortels. Die gebruike wat spesifiek bevraagteken word, is die besit van kerkgeboue, liturgiese orde in eredienste, die preek, die pastoor, om formeel op Sondae aan te trek, begeleidende musiek, kore en lofprysing, die gee van tiendes, betaalde amptenare, die doop en nagmaal en alle vorme van Christelike opleiding (vanaf kategese tot kweekskole). Teenoor die geïnstitusionaliseerde kerk stel die outeurs die organiese "Spirit-led, open-participatory meetings with a nonhierarchical leadership" (New Testament-styledmeetings) wat spontaan in mekaar se huise vergader soos in 1 Kor. 14:26-40 deur Paulus beskryf (xix).
In die nadink oor die boek is dit belangrik om eerstens kennis te neem van die belangrikste winspunte van die boek. Eerstens daag dit gemeentes uit om werklik krities na te dink oor hoe hulle hul bediening inrig. Dit maak dit telkens duidelik dat talle kerklike gebruike bloot kulturele aanpassings was in 'n gegewe tydstip van die kerk se geskiedenis. Dit is daarom nie onveranderlike Bybelse gebruike nie. Tweedens is hulle pleidooi vir die groter deelname van alle lidmate aan die erediens, die verwydering van die skeiding tussen leraars en lidmate (clergy and laity), en 'n kerk wat meer organies en minder hiërargies funksioneer, 'n belangrike een waarvan die kerk kennis moet neem.
Ongelukkig het die boek egter ook talle teologiese gebreke. Nie alleen wat feitlikheid (hulle voer bv. aan dat hulle net met "unmovable historical fact" werk (p. 7), maar sal probleemloos praat van Jesaja wat in die helfte gesaag is. Iets waarvoor daar geen konkrete historiese bewyse bestaan nie -p. 4); eksegese en enkele formulerings betref nie, maar fundamenteel oor hoe dit teologie beoefen.
Derdens is Viola en Barna se hermeneutiese sleutel onderliggend aan die boek uiters problematies. Hulle uitgangspunt is dat daar vir elke gebruik in die kerk 'n Bybelse (verkieslik Nuwe-Testamentiese) beginsel moet wees (in die praktyk dikwels 'n teks). Omgekeerd moet elke Bybelse beginsel of teks weer nagekom word. Indien nie, is 'n kerklike gebruik volgens hulle bloot oorgeneem vanuit 'n heidense konteks en daarom heidens (pagan). Hulle gee dan ook talle voorbeelde van hoe o.a. kerkkore vanuit heidense kontekste (en dus nie bloot neutrale sekulêre kontekste) oorgeneem is. Kerktorings word byvoorbeeld gesien as variante van die Babiloniese obeliske (p.31). Op die manier het 'n "pagan" Christelike kerk volgens hulle ontstaan.
Om die kerk weer volgens die Bybel in te rig moet daar vervolgens aldus die skrywers teruggegaan word na die beginsels van die Nuwe Testament sonder om noodwendig die gebruike daarvan presies soos tweeduisend jaar gelede te verrig (xxix). Laasgenoemde uitganspunt is nie per se verkeerd nie. Die probleem is eerder dat die skrywers hulle uitgangspunt nie konsekwent implementeer nie. Hulle het bv. baie te sê oor die kontaminering van die teologie deur heidense Griekse filosofie (p.6), maar neem die dialektiese benadering van die bevraagtekening van alles van Sokrates as hulle uitgangspunt (p.5). Daar is ook geen werklike kriteria in die boek vir wat 'n Bybelse gebruik 'n beginsel maak nie. Die vraag is naamlik wanneer word iets in die Nuwe Testament bloot beskryf en wanneer is dit 'n voorskrif vir alle geloofsgemeenskappe. Só kan hulle Paulus se kollekte vir die kerk in Judea (1 Kor. 16:2) as 'n blote beskrywing van 'n eenmalige historiese gebeurtenis neem, wat nie die beginsel daarstel dat alle gemeentes weekliks geld moet insamel vir arm kerke nie (p. 236). Hulle kan ook aanvoer, dat net omdat Hand 14:23 melding daarvan maak dat daar ouderlinge in elke gemeente aangewys moet word, dit nie voorskriftelik is vir alle geloofsgemeenskappe nie omdat dit net beskryf wat in die gemeentes van Klein-Asië gebeur het. In die lig van die hantering van laasgenoemde gemeentelike gebruike in die NT is die vraag egter waarom hulle Paulus se spesifieke raad aan een van sy mees problematiese gemeentes in 1 Kor. 14:26-31 (p.235) oor hoe hulle hul byeenkomste moet inrig, op alle geloofsgemeenskappe van toepassing wil maak? Waarom ook nie die gebruik van die gemeente in Handelinge om alles te verkoop nie? Dis ook opmerklik dat hulle geen melding daarvan maak dat Paulus die gemeente in Korinte opdrag gegee het dat vrouens in hulle samekomste moet swyg nie of dat hulle, hulle hoofde moet bedek nie.
Die vernaamste kriteria wat Viola en Barna gebruik om Nuwe-Testamentiese gegewens mee te sif is die onderskeid tussen lokale en reisende Christene en nie tussen voltydse en deeltydse geestelike werkers nie. Geestelike werkers is dus nie geregtig op betaling vir hulle dienste omdat hulle dit voltyds doen en daarom nie vir hulleself voorsiening kan maak nie. Hulle is bloot daarop geregtig omdat hulle heeltyds reis. Alles wat Paulus gedoen het - bv. om te preek, gesag oor gemeentes uit te oefen, en finansiële steun te ontvang is slegs vir Viola en Barna aanvaarbaar omdat hy 'n reisende apostel was. Sodra 'n pastoor van 'n kerk wat nie reis nie, egter op 'n vaste en gereelde grondslag bv. sou onderrig gee uit die Bybel (m.a.w. preek) is dit in beginsel verkeerd (en dus onbybels en daarmee saam per implikasie heidens). Die waterdigte onderskeid tussen reisende en lokale geestelike leiers hou egter nie rekening met die feit dat Paulus dikwels vir meer as 'n jaar op plekke oorgebly het nie, en dat daar voorbeelde in sy briewe is van himnes (bv. Fil. 2:5-11) en belydenisse (1 Kor. 15:3-7) wat daarop dui dat alles nie spontaan en eenmalig in gemeentes se samekomste plaasgevind het nie. Die boek verreken ook nie werklik die pastorale briewe se blik op die vroeë kerk nie.
| < Vorige |
|---|




