Padlangs met gemeentes

Padlangs met gemeentes

Frederick Marais van Communitas

Padlangs met gemeentes RSS Feed
 
 
 
 

Energiepunte in Gemeentes

Energiepunte in gemeentes
Waar en hoe het die Here op verassende maniere deur gemeentes gewerk in 2008?

Tydens die Communitas-spanvergadering-in Nov 2008 het ons nagedink oor tendense wat ons in gemeentes waarneem. Ons het besluit om oor die volgende geloofsonderskeidende vraag na te dink en verhale te vertel: Waar en hoe het die Here op verassende maniere deur gemeentes gewerk vanjaar?

Ons ervarings en verhale is natuurlik gestempel deur ons dienslewering aan gemeentes die afgelope jaar. Ons is as span genooi om vanjaar met ‘n verskeidenheid van gemeentes en predikante op pad te wees. Ons het dieper probeer kyk as die voor-die-hand-liggende na nuwe tendense of energiepunte wat ons kan help om te besluit waarin ons moet belê vir die toekoms. As Communitas Netwerk vat ons mekaar se hande om in ons dienslewering te fokus op hierdie tendense en geleenthede as gawes voortspruitend uit die werk van die Gees.

Ons is deur hierdie verhale geinspireer en het weer ontdek dat gemeente hulleself nie kan bou nie, maar dat gemeentes gebou word deur die werk van die Drie-enige God.  Dat ons tyd nodig het om daaroor na te dink, daaroor te bid en insig te ontwikkel nie is wat ons doen nie maar wat die Here onder ons aan die doen is. Die hoop wat voortspruit uit die werk van die Gees is dikwels ‘n “skugter” hoop, jy kan dit maklik miskyk veral as jy te besig is met jou eie agenda. as jy dit opmerk kan ons dit as gawe ontvang en sodoende vennote word van die Drie-enige God. Dan sal ons ontdek dat sy las lig en sy juk sag is.

Waar en hoe  het die Here op verassende maniere deur gemeentes  gewerk vanjaar?
Positiewe ontwikkelings  en tendense soos waargeneem deur die Communitas-span:

  1. Lidmaat inisiatiewe. Ons neem waar dat meer en meer lidmate inisiatief en verantwoordelikheid neem vir die gemeente en ontwikkelinge in gemeentes. In die verhale wat vertel is, het ons opgemerk dat daar ‘n groeiende groep lidmate is wat selfstandig as leiers na vore tree en leiding neem. Ons is verras om op te merk dat lidmate in dikwels moeilike situasies op ‘n stil manier eenvoudig aangaan om hulle roeping uit te leef en sodoende werk hulle mee aan die herstel van gemeentes.
  2. “Nuwe” gemeentes in armoede- en multikulturele en ont-kerklike kontekste: Ons bemerk ‘n klein maar betekenisvolle aantal gemeentes wat besig is om onder die radaskerm na vore te kom.  Dit is gemeentes wat ons in die verlede sou toemaak of laat “terugstig” het met ander gemeentes.  Hierdie gemeentes funksioneer en lyk baie verskillende as die “normale” profiel van ons gemeentes. Dit is nuwe dikwels klein gemeentes of herlewerings van gemeentes in situasies van armoede of multikulturaliteit. Kenmerkend van hierdie gemeentes is hulle institisionele broosheid en hulle bereidheid om risiko’s te neem. Ons merk op dat die leiers hier met ander vrae besig is as gewone hoofstroom gemeentes. In baie gevalle het daar slegs ‘n klein kern van ‘n vorige groter gemeente oorgebly, maar is daar leiers wat met nuwe visie vir die gemeenskap na vore kom. Ons merk op dat hulle dikwels in konflik kom met die institusionele gesig van die kerk, soos die Ring waarin hulle is of buurgemeentes wat met hulle wil saamsmelt, maar is verras met hulle vasberadenheid en deursettingsvermoë. Hule definieer vir ons in ‘n groot mate hoe die toekoms sal en kan lyk. Om met hulle te werk is ‘n voorreg wat ons inspireer en motiveer. Tot ‘n groot mate is hulle die gemeentes wat die roeping en die belydenisse van ons sinodes beliggaam.
  3. Energie  waar daar “oor-grens” blootstelling en kontak is. Ons bemerk dat gemeentes wat buite hulle kerklike grense blootstelling het, itv uitreike of die bou van verhoudings met mense wat nie deel is van die gemeente nie, die gemeentes is met die meeste energie.  Dit is ‘n ander soort energie as wat na vore kom as uit die instandhouding van die gemeente. Ons is verbaas oor die intensiteit en die krag van hierdie energiepunte.
  4. Ons bemerk ‘n groeiende leerbaarheid en bedieningswysheid onder predikante. Ons sien dit nie net raak in die groeiende groep predikante wat kurususse en konferensie bywoon nie, maar veral in die leerbare houding van die leraar. Ons bemerk ‘n bereidheid om nuut te leer en met hoop dat ons gemeentes wel ‘n verskil kan maak.  Wat ons veral opval hier is die genesing wat daar al by baie predikante gekom het, wat hulle instaat stel om met ‘n positiewe leerbare ingesteldheid nuwe uitdagings aan te pak. Hierdie leerbaarheid is in kontras met ‘n naiewe idealisme aan die een kant of ‘n fatalisme aan die ander kant. Ons is verras met die vasberade wysheid en deurdagtheid wat deur hierdie predikante uitgestraal word. In hulle teenwoordigheid het dit moontlik geword om eerlik te wees oor dit wat ons nie weet nie.
  5. Ons bemerk ‘n merkbare nuwe passie onder jonger mense. Ons wou aanvanklik praat oor jonger lidmate maar het toe pogemerk dat dit nie altyd in die eerste plek jomgmense is wat as lidmate inskakel in gemeentes nie. Dit is jong mense met ‘n passie vir die evangelie en ‘n eerlike uitleef daarvan.  Dit beteken nie dat hulle noodwendig “en mass” inskakel by gevestigde bedieninge nie.  Ons  sal steeds saam met hulle moet soek na alternatiewe bedieninge waar hulle kan inskakel. Ons dink egter dat dit nie noodwendig meer so is dat gevestigde kerke ‘n “no-go-area” vir jonger lidmate is nie.  Dit hang grootliks af van die aard van die bediening van die gemeente. 
  6. Daar is in gemeentes ‘n duidelike soeke na verdiepte spiritualiteit of ‘n gereedheid om geestelik begelei te word.  Hierdie is dalk van die sterkste tendense wat ons bespeur. Baie van ons verhale het te make gehad hiermee. Ons het opgemerk dat die verhale te make het met leiers wat oor die vermoe beskik om lidmate geestelik te begelei en as leierskap saam geloofsonderskeidende leiding te gee. Opmeklik in hierdie verhale is die be-oefening van geestelike dissiplines deur die leiers. Ons is geinspireer deur die gereedheid van gemeenteleiers om vanuit ‘n geestelike vertrekpunt na te dink oor hulle leierskap in gemeentes.

Dit is ons missie by die Communitas om gemeentes te begelei om hulle roeping te ontdek en hulle gawes te ontsluit. Ons hoop dat hieride waarnemings julle as gemeenteleiers sal prikkel in julle nadenke oor die energie wat die Gees in julle gemeente geskep het vanjaar.

Hier is nie leiers nie!

Ek verwonder my daaraan dat sekere restaurante werk en ander nie. Daar is byna ‘n mitiese element wat maak dat sommige nuwe restaurant byna onmmiddelik nadat dit oopgemaak het vol mense sit- ek wonder altyd waar die mense vandaan kom, of liewer wat hulle dan in die verlede gedoen het voordat hulle hierheen gekom het?!

Dan kry jy ander restuarante- alles is in plek- die menu, die wynlys, die tafels, dekor, lekker geur van koffie in die lug- goeie musiek, nie te hard nie- maar daar kom nie mense nie. Na ‘n rukkie kom daar  spesiale aanbiedings, vir ‘n rukkie ‘n paar meer mense, dan is dit maar weer leeg soos voorheen - so ‘n 40dae special treatment vir die kliente. Soms is dit dan die finale doodskoot- die laaste bietjie energie en kapitaal is opgebruik en die plek moet toemaak.

Met gemeentes werk dit ook soms so- hulle kommunikasie(lees bemarking) is in plek, die kerk is goed versorg (lees dekor), daar is lekker filter koffie na die tyd- my gunsteling, goeie preke, rotsvaste strukture, maar mense bly besoekers en meld nie aan by die “leierskap tafel”van die gemeente nie.  In gesprekke hieroor is die verskoning dikwels- hier is nie leiers nie!  As ek dit hoor weet ek, die magic ontbreek soos in baie nuwe restaurante.

Ek was die week met ‘n paar predikante in ‘n intense gesprek hieroor.  Die konteks was ‘n klompie SA predikante wat mbv Stigting Zebra in Nederland oa ‘n kursus saam met Nederlandse kollegas bygewoon het. Ons was 18 altesaam.  Die gesprek het gegaan oor gesekulariseerde Nederland waar die gemeentes nie meer leiers het nie, ja en ook oor Suid-Afrikaanse gemeentes waar ons ook dikwels voel daar is nie leiers nie. Ek moes die vrae vra- en het bly vra hoekom, omdat ek ook oor hierdie fenomeen wonder. Want sien ek glo- noem my maar naief- dat leierskap ‘n gawe van die Gees is wat aan die gemeente gegee word. Ek glo meer hieraan as die inpak van kultuur, sekularisasie, geleerdheid, opvoedingsvlak ens. Ek glo eenvoudig die Gees gee leiers aan die gemeente. So as daar nie leiers is nie, is die fout nie die mense nie maar le dit in die gemeente en die huidige leiers.  Daarom bly ek vra: waarom se ons dikwels in die kerk en gemeentes:      Hier is nie leiers nie!

Die gesprek neem ‘n interessante onverwagse wending, een van die predikante is van oordeel dat ons nie lief genoeg vir die lidmate is nie. Ja maar glo jy in jou lidmate, vra ek so uit die heup- of soos die Nderlanders se- ek skiet met slappe polse! Glo jy dat hulle met die beste bedoelings soms aanmeld, met voorstelle kom, idees het ensomeer. Ons gaan drink tee.

Na teetyd se ‘n skerpsinnige kollega uit Nederland- die vraag pla hom.  Om eerlik te wees, se hy, hy is nie seker of hy op die manier glo in die lidmate van hulle gemeente nie. Ander ego sy gevoel. Ons praat dikwels meer negatief oor lidmate as positief, se ons vir mekaar.  Ons praat verder en begin al hoe meer wonder of daar nie in ons predikante ‘n ingebore- of is dit eerder ‘n aangeleerde agterdog is oor die toewyding of motiewe of bedoeling van lidmate nie. Aan die einde van die kursus se ‘n SA predikant dat sy die week agter gekom het die kerk het haar geleer om agterdogtig te wees- en sy is nie eintlik so van geaardheid nie. Ek dink sy slaan die spyker op die kop- Hier is nie leiers nie want as hulle na vore kom word hulle dikwels (ek dink onbedoeld) met agterdog bejeen.

Ek verstaan dit baie goed- predikante en gemeenteleiers word dikwels teleurgestel deur mede-gelowiges wat dinge belowe en nie die beloftes nakom nie. Dan begin die agterdog groei en voor ek my kom kry begin ek so agterdogtig oor elke nuwe inisiatief te dink.  Ek sien dit dikwels by dosente of onderwysers- wat met sterre in hulle oe begin en voor hulle kom kry praat hulle soos die ander kollegas oor studente en leerders, Jy sal maar sien jy kan hulle nie vertrou nie!

..en dan kry jy die uitsonderings. ‘n Kollega van ‘n gemeente waar die bedieninge hand oor hand gegroei het die afgelope halwe dekade vertel dat hulle in 6 jaar se tyd vir elke inisiatief ja gese het en dan byvoeg Hoe kan ons jou help? Daar is nie ‘n gebrek aan leiers nie- inteendeel daar is telkens nuwes wat hulle aanmeld- sommige is baie besige en belangrike mense maar wat aanvoel in hierdie gemeente is daar ‘n ruimte om my gawes uit te leef.

 

In die Jordaan buurt in Amsterdam is daar ‘n pragtige standbeeld van ‘n ene Meneer  Theo Tijssen- ‘n onderwyser wat in die vorige eeu toe Amsterdam baie arm was en daar in die arbeidersbuurt baie jonges op straat was  oppad om niksnutte te word.  Hy word vereer omdat hy soveel deernis en geloof in die jonges gehad het. Die standbeeld wys ‘n ou man met ‘n welige snor wat skuins op die bank van ‘n jong seun sit- hy kyk af na die onseker seun- ons ken die prentjie almal so goed- uit ons kinder geheue kan ons die ervaring van die seun maklik oproep.  Maar as jy nader stap kom jy agter hier is ‘n verskil- die blik van die leraar is sag en hoopvol en dalk nog belangriker, geduld!  Daarom word hy vereer- hy het ander na die leerders gekyk want hy het anders oor hulle gedink!

 

 

 

NS Die kollega wat so vir elke inisiatief ja gese het kry die onvermydelike vraag: …en hoeveel probleme moes julle in die 6 jaar oplosDaar was een probleem sitausie, antwoord hy, maar om te dink hoeveel potensiele leiers ons sou gekeer het indien ons nie elke keer ja gese het nie!

Terreurvrye ruimtes!

Hierdie week was ek bevoorreg om deel te wees van ‘n kursus waar VGK en NG predikante en lidmate opgelei is in Fasiliterende Leierskap. Soos wat die kursus gevorder het, het ons beleef dat die vertroue onderling groei en mense oopmaak teenoor mekaar en al hoe eerliker met mekaar begin praat.

Die kern hiervan was dat ons gefokus het op ‘n blaamlose en waarderende luister na mekaar.

By dag drie - waag ek dit om die groep uit te daag om eerlik met mekaar te begin praat oor ons vooroordele teenoor mekaar.  Ek verwys na Coenie se opmerking dat ons mekaar nie regtig leer ken het nie.  Ons doen ‘n rollespel waarin ons, ons voorveronderstellings oor mekaar opskort en in mekaar se skoene probeer klim.  Ek vra ‘n VG leraar om te probeer ervaar wat NG mense beleef het toe geprekke van die VGK leiers se kant opgeskort is.  Ek vra ‘n NG leraar om te probeer ervaar hoe die VG mense die gebeure by hulle sinode ervaar het. So klim ons in mekaar se wêrelde in. Toe ons hieroor nadink, sê ‘n NG leraar wat meer as 30 jaar in die bediening is:

Dit is die eerste keer dat ek ervaar dat VG leraars blaamloos en waarderend na my verhaal luister!

Ons word almal vir ‘n oomblik stil - kan dit waar wees dat daar tussen ons kerke so min ruimtes is waar ons mekaar kan leer ken en waardeer?  Kan dit waar wees dat daar in die soeke na mekaar byna geen veilige ruimtes waar ons oop en eerlik met mekaar kan praat nie.  Anthonie Verheule, ‘n Nederlandse pastor/teoloog, praat van “terreurvrye ruimtes”. Ja,  merk ‘n ander VGK leraar op, ek het vanoggend gesien dat ons bly was om mekaar te sien, en dit was eg, dit is omdat ons regtig geleer het om mekaar te waardeer en te geniet.

Ek dink Coenie is reg, ons behoort mekaar as leiers oor die grense van kultuur en ras en kerkverband beter te geleer ken het.  Hoekom het dit nie gebeur nie? Wat hou ons vas dat ons nie kan vorder nie - dat ons nou weer vasgeloop sit in ‘n totaal onaanvaarbare verbrokkeling van verhoudings tussen die kerke?

Ek het hierdie week geleer dat een van die redes is  dat daar byna geen - terreurvrye gespreksruimtes is - waar ons mekaar as mense kan ontmoet nie.  Ons kom almal met ons verhale van seerkry daaraan, verhale van vernedering, van diskriminasie, van beskaming, verhale wat vertel hoe ons mekaar as mense langs die pad verwaarloos het.  Die werklikheid is dat ons almal seer gekry het in die afgelope 30 jaar van stryd tussen die kerke. Prof Russel Botman het by Verantwoordelike Vernuwing gesê: “Die huidige geslag leiers het te veel beleef het en te seer gekry het om sommer maklik met oplossings te kom.” Ons het mekaar tot ketter verklaar, mekaar beveg en swart (sic) gesmeer, gesprekke  opgeskort, ooreenkomste  gebreek, prosesse het versand, en so kan ek aangaan. In hierdie prosesse het mense seer gekry en die emosionele wonde lê baie diep.  Dit help nie ons fokus op die aanvaarding van Belhar, dit moet ons ook doen, of skryf kerkordes, dit moet ons ook doen, of konsulteer gemeentes, dit moet ons ook doen, maar ons doen die voor die hand liggende ding nie - en dit is om in liefde na mekaar uit te reik en blaamloos en waarderend na mekaar te luister en mekaar te leer ken nie. Voor ons nie mekaar eenvoudig onvoorwaardelik leer aanvaar en liefkry nie, sal die ander dinge galmende simbale wees met hol klanke.

In my agterkop is die verhaal wat ‘n NG leraar ‘n paar jaar gelede vertel het van ‘n besoek aan die VGK gemeente in hulle dorp. “Ons praat so een maal ‘n jaar met mekaar, dan kry ons NG ouens ons jaarliks pak slae,” was sy weergawe.   Ek hoor aan die ander kant dikwels VGK leiers wat kla dat NG leiers nie regtig op ‘n dieper vlak verhoudings met hulle wil bou nie - hulle hou net vergaderings met ons, maar wil nie saam met ons huis toe gaan en saam eet en koffie drink nie!  Die ruimtes tussen ons is nie terreurvry nie - maar vol landmyne.

Hoe skep ons terreurvrye ruimtes? Ek het geleer dat die volgende gewoontes baie doen:

  • Ons luister na mekaar sonder blaam - as ons gaan aanhou om te probeer vasstel wie het die meeste foute gemaak het, gaan die terreur tussen ons net vergroot.  Ek dink nie dit is meer die tyd om te moraliseer nie - kom ons vat elkeen sy/haar eie blaam, en erken dat die ander met sy/haar beperkthede soos ek die beste doen wat ons kan.
  • Ons handhaaf die ingesteldheid van waardering teenoor mekaar. Ek het die week weer gesien as ‘n mens werklik na mekaar se stories luister, is daar altyd iets om te waardeer.  Almal is na die beeld van God geskape en kan daarom waardeer en bevestig word. Vir my is dit ‘n geestelike dissipline om die Gees te vra om my hierin te lei.
  • Kom ons breek voorveronderstellings en stereotipes wat ek handhaaf oor die ander af. Vra jouself af, wat is daardie voorveronderstellings wat in jou sit oor die leiers van die ander kerk - net ek en jy kan dit in ons eie lewens beveg en begin om eerlik te raak oor die rasse-, kulturele- en kerklike vooroordele wat ons almal in ons binneste koester.  Ontkennende sinnetjies soos: ek het niks teen hulle nie - gaan niemand help nie.
  • Skep ruimtes waar verhoudinge gebou kan word so gereeld as wat jy kan - los maar die vergaderings as daar nie verhoudings is nie.

Die bekroonde Poolse reisjoernalis Rysard Kapuscinski wat verlede jaar oorlede is, skryf in die pragtige boekie: De Ander ( oorspronklike titel Ten Inny) dat die probleem in die verhoudinge tussen vreemdelinge nie lê in die grense en die strukturele struikelblokke nie, maar in die onsekerheid wat daar vir elkeen van ons lê in die ontmoeting. Ontmoeting met ‘n vreemdeling is ‘n vraagteken, skryf Kapuscinski.   Dit is waarteen ons moet aanstoot, nie die grense buite onsself nie, maar die grense, die vraagtekens aan die binnekant.

Hoe sal dit wees as ons vir ‘n oomblik sal ophou om die blaam te soek en begin om mekaar te soek? As ons begin om mekaar lank genoeg met ‘n waarderende blik in die oë kyk dat die ander nie hoef af , of weg te kyk nie, maar kan terugkyk?

Ek dink Goddelik.

Is predikante verantwoordelik vir die geestelike lewe van lidmate?

Ek het die afgelope twee weke twee keer kursusse gehad oor sisteemdenke en gemeente-leierskap.  Daar was verskeie AHA oomblikke, soos wat dit gaan as ‘n mens ‘n slag dieper dink oor die sisteem waarin jy funksioneer.  Dit is veral as ons begin dink oor die sg “mental model” in die sisteem, dat jy uitgedaag word om werklik jou diepste voorveronderstellings op die tafel te sit en te bevraagteken. Die volgende defenisie van “mental models” werk vir my:

 

Mental models are deeply held internal images of how the world works, images that limit us to familiar ways of thinking and acting. Very often, we are not consciously aware of our mental models or the effects they have on our behavior.”
Kom ek val sommer met die deur in die huis- Ek dink ons predikante sit met ‘n “mental model” wat so klink: Predikante is verantwoordelik vir die geestelike lewe van lidmate.  Dink so ‘n bietjie hieroor.  Hy le mi baie diep in ons sisteem, so diep dat ons dalk gaan sukkel om by hom uit te kom. Dit is natuurlik nie net predikante wat so dink nie, maar ook lidmate, en mense wat predikante oplei, en DVK’s en kerkrade en, en , en dalk jy ook wanr ek weet ek “default” ook maklik daarheen.
Kom ons haal dit uit en kyk daarna.  Indien dit waar is dat predikante verantwoordelik is vir lidmate se geestelike lewe, sal ons op die langtermyl lidmate he wat afhanklik is van predikante, lidmate wat voel hulle weet te min die van die Bybel om daaroor te kan praat en gemeentes wat uiteindelik gemaklik is dat die dominee hulle geestelik bedien en gelukkig hou.  Ek sou kon aangaan om ‘n kerklike lewe te beskryf waar die predikant die bediening “doen” en lidmate ontvangers is van sy geestelike “input” in hulle lewe.
Laat ek liewer ‘n storie vertel:  Ek was kort in die bediening in Somderset-Oos toe ek vir ‘n baie gewaardeerde oudeling vra om ‘n wyk se byeenkoms te lei. “Ek sien nie kans nie “, was sy antwoord, “want ek weet te min van die Bybel om ‘n groep daaroor te kan lei”. In ons gesprek hieroor vra ek hom hoeveel keer hy al in sy lewe in die kerk was- ons kom by ‘n getal van 1600 keer- wat hy preke gehoor het oor tekste in die Bybel! Daar is geen ander onderwerp waaroor hy soveel “lesings” gehoor het as oor die Bybel nie, en tog voel hy hy weet te min.  Maak nie ‘n fout nie, hy sal vrymoedig wees om oor ander onderwerpe maklik ‘n gesprek te lei.  Die vraag is waarom hy in sy geestelike lewe nie die vrymoedigheid het nie- Kom ek waag ‘n antwoord. Nie omdat hy nie wil nie, nie toegewyd genoeg is nie, nie omdat hy lui is nie, nie omdat hy nie….
maar omdat sy dominees gedink het, ons is verantwoordelik vir sy geestelike lewe- daarom het ons ‘n sisteem geskep waarin hy geestelike afhanklik gehou is van predikante.
In kort: predikante het met al hulle goeie bedoelings in sy pad gestaan om geestelik te groei
Kom ons ons draai dit om:  Wat sou gebeur indien hy vir sy volwasse lewe predikante gehad wat se, my verantwoordelikheid is om die gawes toe te rus ter wille van die opbou van die gemeente. (Ef 4) Se nou maar elke keer wat die ouderling in die kerk was of ‘n byeenkoms bygewoon het was dit die “mental model” Predikante is verantwoordelik om die gawes toe te rus tot opbou van die gemeente.  As die oudeling kom vra dat ek geestelik verantwoordelikheid moet neem vir hom, se ek konstant nee, nie my werk nie, maar as jy wil kan ek jou toerus!
Daar kom tye wat jou “mental model” -dalk goed gewerk het in die verlede maar toksies raak- dit begin jou sisteem vergiftig. Ek dink ek het die afgelope week so een ontdek.  As ons nie ons denkraamwerk verander van predikante-is-verantwoordelik -vir-die-geestelike-lewe- van-lidmate, na iets soos Ef 4 se voorstel van toerusting nie, sal daar van baie van ons drome oor ‘n kerk met volwasse lidmate min terreg kom.  Ons sal praat oor lidmaatbemagtiging, ons sal preek oor die gawes, ons sal mense smeek om wyksbyeenkomste te hou, ons sal hulle later met die Here dreig- maar al die tyd staan ons as predikant vierkantig in die pad van presies daardie dinge- want ons dink dit is ons werk om mense geestelik te versorg.
What mental models served us well in the past but will be toxic to our future if continued?
As ek reg is dat dit ‘n Mental model is, beteken dit dat as ons dit ontdek, ons dalk ‘n verwilderde gevoel sal he van iets soos- maar wat moet ‘n predikant dat doen? het ons nog predikante nodig ens? Moenie bang wees vir daardie gevoel nie- dit is ‘n teken dat daar groei is al is ons doodsbenoud om dit in die oe te kyk en hardop te se.
Mag ek jou vra- wil jy regtig vir die res van jou bediening aangaan om verantwoordelik vir mense se geestelike lewe te wees en hulle so afhanklik hou van jou - of voel jy ook die roeping om hulle vry te laat sodat hulle kan groei en grootword.
Die keuse is relatief eenvoudig…dink ek.

Ek is vasgeloop…

Ek kry gister ‘n oproep van ‘n gemeentedominee uit  die binneland, ons ken mekaar so van sien by kursusse ens. Het jy 5 minute, vra hy- ek weet uit ondervinding dit gaan ‘n halfuur wees.  Ja ek het- se ek en klap die rekenaar toe. Hy val met die deur in die huis: Ek is vasgeloop! In ‘n paar paragrawe som hy die situasie netjies op en vra, van wat hy alles probeer het om dinge in die gemeente te verander, niks daarvan het geweerk nie, en vra toe: Se my wat moet ek in hierdie situasie doen, want ek weet regtig nie? Later die dag mail Nico Simpson vir my die skets wat vasgelooptheid uitstekend vasvat ( gaan kyk gerus na se werk by www.claripics.com en respekteer asb die kopiregreelings)

Ek kry nogal dikwels hierdie soort oproepe, eintlik te veel. Van die meer siniese kollegas sal se I-am-going-nowhere-slowly.. Ek was self daar in my bediening- in die neentiger jare in Studentekerk was ons vasgeloop, energievlakke was laag- ons het ons bes probeer maar die vasgelooptheid wou maar net nie weggaan nie.  Energie het uit die sisteem geloop soos water wat jy in ‘n gebarste emmer gooi. Mense kyk na jou met die hoop jy het ‘n antwoord, maar jy weet jy het nie, maar durf dit nie se nie. Glo my ek het empatie met mense wat vasgeloop is.

Wat mense nie aldag verstaan nie, is dat gemeenteleiers mense is wat in die publiek werk en elke week met die bediening bediening moet aangaan.  Ons moet leer om voor te gee alles is OK, terwyl niks OK is nie. So waar kry ek as gemeenteleier die tyd om te gaan dink oor my vasgelooptheid, waar is dit veilig om eerlik daaroor te wees?

So wat maak ‘n gemeenteleiers as hy/sy vasgeloop is. Jy begin by die besef dat vasgelooptheid ‘n gawe van die Gees aan jou is. Dit klink teenstrydig, maar vasgelooptheid is ‘n voorreg en gawe as jy bereid is om die geskenkpakkie oop te maak. Ek skiet so uit die heup van wat ek gesien werk het met kollegas

Wat hou ‘n mens op om te doen in ‘n vasgeloopte situasie …

  • Vergeet van afdankings of bedank- dit is in elk geval gewoonlik gebore uit ‘n sondebok perspektief
  • Staak enige vrom van beskuldiging- as jy ‘n dominee is- jou lidmate en leiers en as jy ‘n lidmaat is staak die beskuldiging gemik op die dominee. Dit gaan julle nerens bring nie.
  • Moeinie energie mors op nuwe programme of respete nie, dit is nou nie die tyd daarvoor nie.  Die kans is goed dat hierdie laaste effort die spyker in die doodskis kan wees
  • Vermy valse sukses indikatore soos geld in die bank, getal mense in die kerk ens.  Gemeentes wat hierop fokus gaan suksesvol die kreeftegang
  • Hou op om besig te wees.  Die activity trap is een van die gevaarlikste dinge vir mense wat vasgeloop is.  Daar is geen waarde in besig wees as sodanig nie.

Wat kan ‘n mens oorweeg om te doen…

  • ‘n Vasgeloopte situasie is ‘n baie goeie plek om te wees, want dit kan die broeikas wees vir ‘n wonderlike nuwe geboorte, mits jy dit nie ontken nie- dit is die moeilike deel vir sommige van ons- om eerlik te wees met onsself oor waar ons nou is.  Jy is waar jy is en dit is ‘n goeie plek om te wees.
  • Vasgelooptheid kom nie sommer reg nie dit vat tyd- guns jouself die tyd, neem ‘n sabatsverlof- as jy bang is dat dinge dan finaal uit mekaar gaan val, is dit ‘n bevestiging dat jy die verlof moet neem.
  • Begin waarderede ondersoek te doen van wat om jou aan die gebeur is. Daar is altyd ook goeie goed wat gebeur- ons sien dit in vasgeloopte situasies net nie raak nie. Begin om die goeie dinge wat gebeur- meeste daarvan sal dinge wees wat jy self nie gedoen het nie- neer te skryf en met mense te deel.  Maak ‘n punt daarvan om ‘n DRAER VAN HOOP  te wees.
  • Stel jouself bloot aan ander kontekste, besoek ander gemeentes, maak vriende met mense wat nie in die gemeente is nie- walk across the room. In kort jy de-center sodat jy na jou situasie vanuit die oe van die buitestaander kan kyk.
  • Kry ‘n fasiliteerder of mentor wat saam met julle die pad kan loop- bly weg van konsultante- hulle het ‘n sak vol antwoorde wat ander mense uitgedink het en hulle aan jou wil verkoop-dit is nie wat jy nou nodig het nie. jy het ‘n significant other nodig wat kan journey.
  • Neem tyd om die gemeente se storielyn op te teken en spandeer tyd om saam met leiers daaroor na te dink.  Nouwen is reg as hy se ons verhaal is ons mees intieme leermeester- as ons dit verloor is ons werklik verlore. Ontwikkel ore om God se alternatiewe storie in die verhaal te hoor.
  • Identifiseer die struikelblok in jouself- dar is geen waarde daarin om te fokus op die foute van ander nie- en besluit self wat jy daarmee gaan doen. Moeinie iets probeer doen aan die struikelblok waarmee jy die meeste sukkel nie.
  • Spandeer meer as gewoonlik tyd aan afsondering gebed en Wandel in die Woord. As dit kan gaan op ‘n week retreat

… we try to solve difficulties of living and working together in ways (usually the same old ways) that make things worse by creating self-reinforcing vicious circles… Halstead

Ek is baie nuuskierig om te hoor hoe jou lysie lyk!

Leierskap in tye van chaos?

 

Die afgelope twee weke was chaoties op vele fronte.

 

  • Die wêreldmarkte het hulle afgeloop in ‘n skuldberg in die VSA, banke is gelikwideer, noodplanne van miljarde dollars is inderhaas ontwerp om te red maar die inpak word wêreldwyd gevoel;
  • Suid-Afrika se president pres Thabo Mbeki is te midde van hoogspanning in die ANC teruggeroep deur sy party en die nuwe “tydelike” president is pres Kgalema Motlanthe. ‘n Hele reeks ministers bedank, permiers word ontslaan of bedank en daar is sprake van ‘n skeuring in die regerende party.
  • Zimbabwe het magsdeling gekry maar dit haak ernstig vas,
  • Prof Piet Strauss se groeteboodskap by die VGK se Algemene Sinode het woede en verontwaardiging ontlok- die moderatuur reageer deur te sê hulle is jammer en te vra vir versoening
  • Die eenheidsproses in die NG-familie knars tot stilstand, vertroue is ernstig geskaad en WARK word gevra om te bemiddel
  • Prof Allan Boesak bedank uit alle leiersposisies in die VGK na afloop van die Gay-debat op die VGK se Algemene Sinode in Hammanskraal.
  • Die koerante kasty die kerke oor hulle onvermoë om te versoen en tot eenheid te kom.
  • Nou het nog nie eers na die chaos in die ekologie, die misdaad, die familie-spanninge, MIV-Vigs … verwys wat ons lewens daagliks chaotiseer nie.

 

Te midde van dit alles gaan gemeentes en predikante voort met hulle eredienste, pastoraat, jeugbediening en uitreike. Ek wonder hoe maak jy met al hierdie chaos? Knyp jy oë toe ignoreer en gaan net aan? Beskuldig jy die leiers, is jy kwaad vir hulle? Word jy ‘n slagoffer van “bose”magte wat die wêreld wil vernietig? Kry jy jouself jammer en besluit die lewe is onregverdig? Of gaan jy in ‘n depressie en kla maar voort met die massa? Voel jy skaam oor ons kerke se onvermoë om hoop te gee en voel jy lus om te sê: Ek-is-nou-wel-deel-van-die-kerk-maar-ek-dink-nie-meer-dat-die-kerk-‘n-boodskap-he-nie.

 

Wat ek eintlik wonder oor, is die vraag oor hoe jy oor God dink in sulke tye van chaos? Elkeen van die bg strategië is op punte aanloklik, maar ek moet sê op die ou end sien ek nie vir hulle kans nie. Dit is soos Ancy Ammerman op ‘n plek oor nostalgie sê, Nostalgie is vir die oomblik lekker, gee jou ‘n warm gevoel om die hart oor die ou dae, maar in feite is jy besig om jouself kop eerste te begrawe! My aanvoeling is so oor bg reaksies.

 

Hoe gee gemeenteleiers in tye van chaos leiding?

 

Ek dink dit het alles te make oor hoe ons oor God dink en hoe Hy teenwoordig of afwesig is in die chaos.

Arnold van Ruler skryf in vyftiger jare, in die dekade van chaos na die Tweede Wêreld oorlog, vir my op ‘n bevrydende manier oor God in die Chaos. God laat nie net chaos toe nie sê hy, maar skep ook chaos! God is nie bang vir chaos nie, Hy is binne-in die chaos. Vergeet daarvan, waarsku hy om die skuld volledig by mense te probeer vind, ja natuurlik is die sondige mens medeskepper van die chaos. Ja die sonde is ‘n belangrike faktor, en so ook die bose, maar op een of ander wyse is dit ingeskakel in ‘n groter werklikheid en dit is God se teenwoordigheid binne-in die pyn en verwarring van die chaos. Natuurlik gaan uit bokant ons begrip en is dit dikwels veel makliker om maar terug te val in ‘n swart-wit teologie wat ‘n duiwel soek om al die blaam op te plaas.

 

Gee ons leiding met hierdie swart-wit teologie verval ons in liefdeloosheid, want ons stel onsself buite die chaos, deur ander te blameer. Die teenoorgestelde kan gebeur as ons saam met Van Ruler teologies dapper raak en God probeer raaksien in die chaos- om Van Ruler aan te haal- liefde hou ons in de chaos vast, want as God ook in die chaos is verlam die chaos nie die liefde nie, maar aktiveer dit liefde. Hoeveel het ons nie hiervan gesien in die tyd van die Xenophobia in Suid-Afrika nie. Talle gemeentes het in hierdie tyd van chaos, eenvoudig binne-in daardie chaos getree, hulle kerke oopgemaak, hulle harte oopgemaak en mense net liefgehê. Ek dink dit is mense wat verstaan dat God op een of ander manier in die chaos is en vanuit die chaos met ons praat.

 

Hoe sou dit wees as moderators in hulle groeteboodskappe sou begin met: Broers en susters dit is moeilike tye, maar God is ook hierin saam met ons, en daarom kan ons mekaar te midde van alles liefhê. Broers en susters ek wil maar eintlik net een ding sê, Ek is lief vir julle en wil saam met julle soek na oplossings. Hoe sal die partypolitiek anders lyk as christene in daardie sisteme onthou dat elke mense, ook die leier wat ons afsit, in die chaos steeds na die beeld van God gemaak is? Hoe sou dit wees as die leiers in Zimbabwe onderhandel met die wete God is in die chaos van Zimbabwe teenwoordig en hierdie chaos, hoe omvangryk ookal, kan nie die liefde wat die Gees in ons harte uitstort verlam nie, want dit kom van God af.

Hoe sou dit wees as jy hierdie week as gemeenteleier onthou:

God is in alles wat met ons gebeur, reageer dus op alles wat met jou gebeur asof God daarin is.

H Richard Niebuhr

 

 

Om te fokus op wat God nou doen!

Leiers wat kan fokus op wat God nou doen: die uitdaging van ver-antwoord-elike leierskap

‘n Week gelede het ek een van die mees merkwaardige aande saam met gemeenteleiers beleef. In kort: die proses nou al byna 18 maande aan die gang, die leiers het met toewyding gewerk in die proses maar die vordering was min, meestal omdat hulle onderling goed moes uitsorteer en moes leer om diep na mekaar te luister. Dit is dinge wat tyd vat.

 

Toe ek daar aankom is ek vriendelik ontvang maar daar was nie groot enoesiasme en energie nie. Soos altyd het sommige gewaarsku dat die proses nou iets sal moet produseer, dit gaan nou eenvoudig te lank aan sonder enige resultate, met so ‘n minder as verbloemde skewe kyk na my as fasiliteerder.

 

Ons begin die naweek, na ‘n wnadel in die Woord uit Fil  met die vraag:  Wat het God gedoen sedert ons laas bymekaar was? In die gesprek  begin die gemoed van die groep te swaai- na 20min in die gesprek se iemand- die swaai het met ons gebeur ons het dit net nie opgemerk nie!  Jy kon nie anders as om saam te stem nie. Daar het iets verander in die verhoudinge tussen die spanlede, en tog het hulle dit nie self opgemerk nie en kon hulle daarom ook nie daarom reageer nie.

 

Die res van die naweek is ons byeenkoms gekenmerk deur ‘n groeiende hoop en vertroue- God is besig met ons en ons kon dit ontvang en daarop reageer- of antwoord. Ek het hieroor in Luisterryke vergaderings (BM 2007) iets geskryf en ek het weer gaan kyk of dit na verlede naweek nog sin maak- wel so ietwat behalwe dat ek nou nie net teoreties daaroor skryf nie maar vanuit my ervaring met hierdie groep besondere leiers.

 

Om te fokus op wat God nou doen begin by wat H Richard Niebuhr noem ‘n ver-antwoord-delike lewe. Hy onderskei tussen 

  • gehoorsaam te wees aan wette, 
  • ‘n doelgerigte lewe en 
  • ‘n verantwoordelike lewe in

The Responsible Self, pp47-68. Ek som dit kortliks op- LW Niebuhr se oorspronklike argument het te make gehad met die ontwikkeling van ‘n etiese teologie terwyl ek dit hier van toepassing maak op gemeenteleierskap:

 

  • Vir baie gemeenteleiers is die eintlike saak van christelike leierskap die nakom van wette of reëls, want hulle wil graag hê die gemeente moet gehoorsaam wees aan die wil van God.  Op die oog af klink dit reg, maar as ‘n mens mooi daaroor nadink is daar baie verkeerd met so ‘n benadering. Die gevaar is dat die reëls of wette God se lewende teenwoordigheid vervang.  Wanneer reëls die vertrekpunt is, word ons rigied en meganies- mooi woorde vir geestelik lui- en het dit tot gevolg dat ons nie fokus op wat God nou aan die doen is nie. Ek onthou dat ek jare gelede met Ferdinand Deist ‘n gesprek gehad het oor Jeremia- ek wou ‘n pinkster daaroor hou en hom ‘n bietjie gaan uitvra oor die porfeet. Sy samevatting oor Jeremia was min of meer: As jy met die lewende God wil saamleef is jy in vir groot verassings en moet jy nooit dink jy is in beheer nie. Reels hou nie van verassings nie.
  •  ‘n Meer gewilde motief die afgelope aantal dekades is om doelgerig te wees. Met die vertrekpunt werk dit meestal so: Ons bepaal wat God se doel is, en poog dan om so effektief as moontlik hierdie doel van God na te strewe. Die veronderstelling is dat God ‘n plan het(Jer 29:11 of Lukas 10:1) en dat ons meestal ‘n goeie idee het wat hierdie plan van Hom is.  ons werk is om hierdie plan van God so suksesvol en effektief- lees doelgerig as moontlik moet uitvoer. Hierdie soort denke pas netjies in by hoe ons in die moderne samelewing besighede bestuur en die algemene lewensgevoel van mense wat sukses en doelgerigtheid aanhang as die ideaal in die lewe. Ons is dan geneig om al die klem te laat val op die aktiwiteit en besigwees van die gemeente en kan in die proses met baie goeie bedoelings voeling met God verloor. Die doel en die gerigtheid op die doel vervang  God in die gemeente! Die probleem hiermee is dat ons soos die dissipels en die eerste gemeentes nie so maklik ‘n greep ontwikkel op God se plan nie, en baie maklik ons planne met dié van God kan verwar. Hierdie is byna ‘n naïewe positiewe ingesteldheid op die lewe wat so maklik vir die versoeking van, groter is beter, kan val.

 

  • Niebuhr dink ons moet eerder ‘n lewensstyl van ver-antwoord-elikheid navolg as leiers in die gemeente. Ons lewe is ‘n antwoord op God se aksie. Ons wag op Hom en ontvang dan van Hom as die bron van liefde en genade koers en rigting vir die pad vorentoe.  Die eerste vraag is daarom nie wat ons moet doen nie, maar wat God doen en dán, hoe kan ons daarop antwoord.    Matteus 6:33: “Gee jou volle aandag aan wat God nou besig is om te doen …” (Vertaling van The Message).

 Dit is hierdie 3de benadering wat ons Vrydag-aand be-oefen het- en ons gehelp het om te verstaan, God het die swaai reeds gebring, ons moet dit net ontvang uit sy hand en met ons lewens daarom antwoord.  Ek dink die hoe hiervan werk min of meer so:

 

Die ” hoe”  van om te fokus op wat God nou doen?

 

1.      Ons gesprek fokus hier op  die  moontlikhede, die kairos,  wat God in ons tyd saam vir ons oopgemaak het. Die klem behoort hier te val op die nóú – in hiérdie konteks.  Ek onthou ‘n gesprek so tien jaar gelede waar ‘n kollega gevra het ons moet almal nadink oor die rol wat ons speel om versoening in die dorp te bevorder. ‘n Uur later was ons nog steeds besig om te definieer wat ons presies onder versoening verstaan-sic! Daar is tye wat die Here vir ons ‘n geleentheid oopbreek, waar ons eenvoudig moet reageer met ver-antwoord-elike lewens wat bereid dis om die geleentheid wat God nou vir ons gee te benut. Tye waarin ons gehoorsaamheid van ons vra om risiko’s te loop sonder dat ons enige waarborge het. Ek sou se dit is die ingesteldheid van mense wat verwag dat die Gees ons elke dag lei. Omdat die Gees deur die Woord lei- is my ervaring dat ons hierdie kairos-oomblikke beter raaksien as ons Wandel in die Woord.

 

 

2.      Raak bewus van die bewegings van die Gees

John Ackerman skrywe: “Daar is twee bewegings van die gees: na God toe en weg van God af. Altwee bewegings kan deur God gebruik word. In bewegings na God toe, wees bly en dankbaar, doen langtermyn beplanning en begin nuwe bedieninge as God jou in daardie rigting roep.”

 

Die verhaal van Jona help ons om te verstaan wat met “bewegings nader aan God en verder van God af” bedoel word. Die wonder van Jona se verhaal is dat God met Jona besig was terwyl hy weggevlug het van die roeping van die Here én toe hy gehoorsaam was daarin om die oordeelsboodskap aan Ninevé oor te dra.  Die Here het as’t ware sy ongehoorsaamheid ingesluit in sy plan om Jona uiteindelik in Ninevé te kry. En in terme van die Luister seisone en luistersiklus (stasie 5), is dit interessant om te let daarop dat dit die “buitestaanders” op die skip was, wat hom gehelp het om God se stem weer te hoor (Jona 1:8 vv).

 

Dis daarom baie belangrik dat ons die storie van ons konteks getrou en vertel en diep luister na mekaar. Só begin die prentjie duideliker word van wat God besig is om te doen met ons lewens, en kan ons met groter ywer daarmee  saamwerk.

 

In bewegings wat ons ervaar “weg van God af” is, moet ons nie moedeloos word nie, maar onthou, God is besig om dinge te verander. Daar is tye wat ons dapper genoeg sal moet wees om te sê dat die Here ‘n nuwe weg met ons wil inslaan en dat ons nie te gou met aksiebeplanning kan voortgaan nie, omdat ons doodgewoon nie weet nie en eers weer en weer wil luister. Byna soos mense wat eers ‘n nuwe taal moet aanleer, moet ons aangaan met die proses van luister. Soos wat die Gees Christus eers in die woestyn gestuur het, mag ‘n ver-antwoord-elike lewe soms wees om eers ‘n “sabbat” of ‘n tyd van rus en besinning aan te kondig. 

 

Dit vra ‘n profetiese ingesteldheid om te erken dat die Here ‘n nuwe koers met ons wil inslaan. Dit is hoekom dit so belangrik is om te fokus op wat God nou doen. Nie alles wat ons in die naam van die Here doen is sy wil nie.  Nie elke keer wat ons bymekaar om die wil van die Here te onderskei ontstaan daar ‘n nuwe insig nie. Daar is kere wat die Gees ons terughou van aksie, wat ons moet wag, wat ons moet omdraai, wat ons ons foute moet erken. Dit is vir ons met ‘n westerse ingesteldheid wat onmiddellike resultate soek, baie moeilik om halt te roep en te wag op die Here.

 

3.      Om te fokus is vir baie gemeentes ‘n uitdaging. Dit is bekend dat gemeentes ly aan wat in die organisasie-teorie bekend staan aan “mission drift”.  Daar is soveel goeie dinge om te doen dat ons energie versprei word tussen ‘n duisend en een dinge. Dit maak ons te besig en op die ou end moeg.  “Mission drift” is dodelik, want as ‘n gemeente daaraan lei verloor sy haar passie om net een Here te dien. “The main thing is to keep the main thing the main thing.” My ervaring is- en dit is die naweek bevestig- wanneer ons fokus op wat God nou doen en dan daarop reageer word dinge helder en kom die fokus. Nie die soort fokus wat gebore is uit strategiese beplanning of die kompromie van ‘n kommissie nie, nee die fokus van die eenvoud van die evangelie.

 

 

Wanneer leiers goeie nuus nie kan (wil) raaksien nie

Die afgelope 2 weke het ek redelik intensief met 4 gemeentes se leierskap saamgewerk. Van die gemeentes het ek eintlik maar hierdie week ontmoet terwyl ander weer meer as ‘n jaar saam met my in proses is. Hulle is uiteenlopend in byna alle opsigte, maar daar is ‘n paar dinge wat my opgeval het wat ooreenkom.  Voor ek die storie vertel, dink ek terug aan ‘n proses wat ek saam met ’n taakspan gehad het.  Ons moes in die ‘n sinodale sisteem adviseer oor wat tans in die kerk aan die gebeur is- ek dink dit was so 3 jaar gelede.  Ons het ‘n vriend genooi wat sisteemdenke kan toepas om saam met ons te dink oor wat die dinamika is wat aan die ontvou is.

Om ‘n lang storie kort te maak is ons gevolgtrekking dat daar herstel by gemeentes te bespeur is- baie vroee tekens maar tog wel duidelik waarneembar, en dat die vir die leierskap belangrik is om dit raak te sien en dit in der waarheid van die Here te ontvang.   Aan die ander kant was ons besorg dat die leierskap dit nie gaan raaksien omdat hulle te probleem ge-orienteerd was. Eintlik was ons besorgheid nog dieper- om dit in sisteemtaal uit te druk, ons was bekommerd dat die leierskap met die “mental model” gewerk het dat die NG Kerk eintlik maar besig is met ‘n uitgerekte begrafnis, soos wat Piet Naude dit op ‘n stadium uitgedruk het.  Ons het gewonder of hulle die “goeie nuus” gaan glo, of hulle die verassing daarvan gaan omhels veral omdat hulle dit nie self bewerk en verwag het nie.

Ons vrese is bewaarheid- ek kan nog my verbasing en skok onthou toe een na die ander van die leiers ons analise uitmekaar trek met ‘n nog groter “dooms day” storie oor wat aan die gebeur is in die kerk- nou dit was nie almal nie, maar wel is ons analise so stilletjies van die tafel gehaal en die vergadering het hulle weer bepaal by die agenda van probleemoplossing. Die goeie nuus was nie ontvanklik nie, die probleme moes aangespreek word. Wanneer gaan ons van hierdie onsinnigheid verlos word?

Om terug te kom by die afgelope twee weke se ervarings met die gemeentes- daar is duidelike herstel in almal te bespeur, sommige werklik verstommend ander aan die begin van die pad. Met almal gaan dit eintlik beter as ‘n paar jaar gelede, en tog het ons buiten een geval nogal moeite gehad om die leiers te help om dit raak te sien, dit te vier en in dankbaarheid te ontvang. Te midde van die duidelike positiewe energie was meeste van die leiers besig om die stoei met die probleme en het hulle die nuwe lewe eenvoudig misgekyk.

Met die terugry praat ek en my mede-fasiliteerder hieroor- ons verstaan nog nie regtig waarom die leiers ‘n meer negatiewe prentjie oor die gemeente het as wat werklik die geval is nie?  Hoekom kyk ons dit mis? Ek dink Shiela Cussons het verstaan hoekombloeisel-in-begraafplaas.jpg

*

*

Wat ruis in die donker flikkerende bome

In die wind, en glans in die driftige vlae

Van die reën, roer in die wortel, stoot

In die sap?- besige Christus,

Jy.

Hoe kon ek jou ooit misgekyk het

Die sin van dié stuwing gemis het

en so afwesig gestaar het na my?

Sheila Cussons

Corpus Christi

*

*

Later die week bel ek ‘n vriend wat predikant in die platteland is en ek noem terloops dat ek herstel en ‘n geestelike ontwaking in gemeentes beleef, oombliklik beaam hy dit, vertel hy dat dit die vervullendeste tyd van sy bediening is en dat hy anders as 5 jaar gelede op geen ander plek wil wees as in die gemeentbediening nie. Ek dink hy verstaan dat die roering en die stuwing van nuwe lewe nie in deur ons brute krag kom nie, maar iets is wat jy in verwondering ontvang en dan as liturg vier aan ‘n feestafel. Projekleiers en voorsitters van finanskommissies en almal van ons wat nog bly glo dat ons die kerk moet red sal dit moeilik verstaan.

Leer my…

Ons was in ‘n kursus-situasie.  Ons stoei oor ‘n ding met mekaar, en ek vra een van die predikante wat sy gedagte is oor die saak.  Hy bly ongemaklik lank stil en se toe: Ek het nie ‘n idee nie Frederick, en toe maak hy die sin klaar met, weet jy waar ek kan leer om dit te doen! Dit is soos ‘n granaat met ‘n “delay” meganisme, eers die volgende dag op die vliegtuig gaan dit af in my kop- dit is die eerste keer wat ek ‘n predikant hoor vra, weet jy waar ek kan leer om dit te doen ek weet nie hoe nie! en toe skielik hoor ek dit oral rondom my, predikante en leiers in gemeentes wat openlik begin raak oor hulle onvermoe en vir mekaar begin vra leer my. Jare terug het ‘n vriend ons geleer dat intelegensie nie gemeet word aan hoeveel jy weet nie, maar wat jy doen as jy nie weet nie!

Dit was nie so lank terug dat ons eerder sou sterf as om te erken ons weet nie. Kursusse, om nie te praat van vergaderings nie, was slagvelde van alwetende predikante en gemeenteleiers wat mekaar probeer uitoorle het oor hulle gewaande kennis en in die proses hulle onkunde met vrymoedigheid verkondig het.  Ons was in verdedigings linies teen mekaar opgestel, en nou begin dit plek maak vir ‘n leerbare gees.  Begin die Luisterseisoen so sonder dat ons dit agterkom inpak te maak? of is dit ‘n geval van die Gees wat besig is om ‘n nuwe gemeenskap van gebroke en daarom leerbare mense te skep in gemeentes en kerkstrukture wat ons nooit gedink het ‘n veilige plek sou kon word waar ons mekaar kan leer nie.

ekspert51.bmp John Ackermann het in sy wonderlike boek  Listening to God, verduidelik dat leerbaarheid net kan kom as die leiers bereid is om hulle ekspert-posisie prys te gee en self ‘n posisie van leerbaarheid in te neem. As leiers konstant voorgee dat hulle weet, maak dit van die luisteraars passiewe ontvangers van die insigte van die ekspert. As dieselfde leiers begin eerlik raak, en saam beign soek na die antwoorde, word die passiewe luisterraars, mede-leerders.’n Aantal jare gelede fasiliteer ek ‘n gesprek in ‘n gemeente wat vasgeloop is, maar tog begin om saam te worstel.  ek being die gesprek deur te vra wat hulle gemotiveer het om met ‘n proses te begin. ‘n Gemeenteleier vir wie ek tot vandag toe nog baie respek het antwoord oombliklik:  Ons sit al lank vasgedraai, maar maak asof ons weet, maar laas maand het een van ons dominees vir die eerste keer aan die einde van die vergadering, terloops gese: Nou het ek ook nie meer ‘n antwoord nie. Toe het ek geweet, nou gaan dinge begin regkom.  Dieselfde dominee was verbaas en vertel hoe ontsteld hy by die huis gekom het en ‘n mislukking gevoel het, onwetend dat hy ‘n proses van leerbaarheid ingelui het. Dit is soos ‘n berg wat van ‘n mens se skouers afval as jy as leier afstand doen van die gewaande ekspert posisie en saam met leiers ‘n pad te begin stap, saam opsoek na die waarheid wat nie een van ons besit nie maar ontvang as gawe van die gemeenskap van die gelowiges.Gemeenskap van leerders

Van Calyn word daar mos gese dat hy na sy bekering verwys het as dit dag waarop die Here vir hom ‘n leerbare gees gegee het. Ek dink dit is besig om met ons te gebeur, ons maag maar waag om ons onkunde en veel meer met mekaar eerlik te deel. Dit gaan vra dat ons as leraars letterlik van ons troontjies sal moet afklim, ophou dominees wees en leerlinge word. Dit sal ook van gemeenteleiers afhang om die leraars toe te laat om langs hulle te kom staan en saam met hulle te leer.  Ek sien dit al hoe meer gebeur, ek hoor al hoe meer dat mense vir mekaar vra: Leer my…

NS As jy dit die eerste keer doen en die gemeente is ontsteld, moenie (terug)skrik nie- ons het hulle darem vir jare geleer om stil te bly en ons “waarheid” stilswyend te sluk. Hou op om jou antwoorde te gee wat jy weet lankal nie meer werk nie. Hou aan om eerlik saam te soek en jy sal eenvoudig verbaas wees oor die kreatiewe energie wat onder die leiers loskom. As ons ophou om eksperts te wees, sal die leerders opdaag!

It is the best of times…vir gemeentes in Suidelike Afrika

Ons het hierdie week weer Verantwoordelike Vernuwing gehad- vir my altyd lekker want dan hoor ek weer ‘n klomp nuwe stories oor gemeentes. Ek moes ook twee werkswinkels aanbied, maar verder het ek my gate uit geniet om na al die stories te luister.  Daar het ‘n paar dinge my opgeval as ek terugdink oor die 8 jaar wat ons die konferensie aanbied. Ek het 6 goed raakgesien wat ek my aan verwonder het:

  1. Die entoesiasme vir vernuwing het nie afgeneem nie maar eerder verskerp. Dit is baie min dat ‘n mens vandag kry dat daar oor ‘n tyd van 8 jaar ‘n groeiende belangstelling is om te bly werk aan vernuwing.  Meestal sal mense na 8 jaar moedeloos wees en of dink hulle het genoeg geleer of dat wat hulle leer nie eintlik help nie.  Dit is eintlik merkwaardig, jaar na jaar stroom daar honderde gemeenteleiers na die konferensie- ons het vanjaar 400 gehad.
  2. Die balkei is weg en leerbaarheid het plek gemaak Hierdie stelling mag julle verbaas so laat ek dit helderder stel.  Ag jaar gelede het baie van die konferensiegangers nog gekom met die idee ons is eintlik reg en weet hoe dit werk, en-moet-nie-vir-my-kom-se-dit-is-nie-so-nie, houding. Die houding is weg en in die plek daarvan is ‘n openlike erkenning, ons weet nie maar ons wil leer.  Dit is amper nog meer merkwaardig is die eerste stelling.  Die woord luister is kwistig gebruik deur aanbieders en deelnemers en ook be-oefen.
  3. Mense is baie broser en sagter met mekaar- dit mag nou projeksie wees want ek het natuurlik ook in die 8 jaar ouer geword, maar ek dink darem dit is meer as dit. In die 8 jaar het baie van ons moes leer dat die antwoorde wat ons gehad het het nie so goed gewerk nie, ons het seer gekry, broser geraak, moeg geword, uit gebrand, maar snaaks ek het nie wanhoop ervaar nie, eerder ‘n sagtheid.  Ek het by baie die idee gekry hulle wou sommer net daar wees om ‘n slag ‘n paar mense wat soos hulle voel en die pad met hulle saamloop in die oe kyk- baie het vir mekaar by groet-tyd gese- Kyk mooi na jouself. Ek moet se ek begin na 21 jaar in die bediening onder die klomp tuis voel.
  4. God is meer van ‘n lewende werklikheid as 8 jaar gelede- Coenie het in die laat 90′er jare in Transito voorspel dat daar verdiepte spiritualiteit gaan kom. Ek het dit gesien en in ‘n gesprek met prof Kees van der Kooi is dit bevestig- God is ‘n lewende werklikheid vir meer en meer gemeenteleiers.  Daar is baie meer gebid en getuig as 8 jaar gelede. Ek dink ons hoop is baie meer op God as op ons eie vermoens.
  5. Daar is ‘n nuwe generasie aan wie ons die plek moet gee om ons te leer  By hierdie konferensie het ek jongmense en studente gesien wat hoop het- Russel het dit so mooi gestel toe hy gese het dat dit die jong generasie is wat die ouer generasie sal moet leer wat die gameplan is. Hulle was min, te min, maar hulle was daar en hulle het gepraat deel geneem- ek het my voorgeneem- ek moet plek maak sodat hulle die leierskap kan neem. Een van my vriende het dit so gestel- ek wil so ‘n halwe tree agter my kinders wees, hulle moet nou voorloop. Ek sal daar wees om hulle te ondersteun, maar dit is nou hulle beurt op die verhoog.
  6. Die kontak met VGK lidmate het verbeter en verinnigVerantwoordelikeVernuwing was ‘n NG inisiatief, maar vanjaar was daar meer VGK gemeneteleiers as ooit, maar belangriker nog is die spontane saampraat, saam leer en die bou van bande. Die is ironies dat ek dit skryf in ‘n week wat die formele proses tussen ons tot stilstand gekners het.

As ek so na die lysie kyk, moet ek se elkeen is ‘n wonderwerk, ‘n gawe van die Gees- ek weet nie of ek dit 8 jaar gelede sou verwag het nie. By die laaste werkswinkel vertel ‘n lidmaatleier van Nederlandse gaste wat haar besoek het en so verstom was oor wat alles in hulle gemeente te beur dat hulle haar gevra het om daaroor ‘n artikel te skryf vir hulle kerk se blad. Met die skryf se sy het sy ontdek dat daar veel meer lewenskrag in hulle gemeente is as wat sy raakgesien het.

Wat is jou lysie van onverwagse groei in jou gemeente- glo my dit is daar, so waar as wat die Gees ‘n lewende werklikheid in die gemeente is.

It is the best of times…

Page 1 of 212»

Doel

Die bedoeling met die blog is om, met wie ookal wil, in gesprek te tree oor my ervarings met gemeentes soos wat hulle oor my pad kom. Dikwels sal daar meer vrae wees as antwoorde, maar met die bedoeling om gesprek aan die gang te sit.

Slideshow

Get the Flash Player to see the slideshow.

Kalender

January 2009
M T W T F S S
« Dec    
 1234
567891011
12131415161718
19202122232425
262728293031  

Argiewe

Gallery

100_4046.jpg 100_4130_0.jpg acasias-in-chobe.jpg 100_4189.jpg kokerboom-stam.jpg miwcp_lusaka_group510x300.jpg 100_4359.jpg 100_4130.jpg img_3583_naam.jpg venster.jpg

Kategorieë

Dokumente

Skakels

Registrasie en kommentaar

Admin

Popular Posts

Recent Comments

Onlangse "Posts"

Onlangse "Comments"

RSS Communitas Tuisblad

RSS Na-gedagtes

RSS Preekstudies

RSS Begelei mekaar

RSS Positiewe Ouerskap

RSS Gebed

WordPress Loves AJAX