Positiewe Ouerskap

Kontak kommunikasie

Posted in Kommunikasie

Een van die gebiede waar die wêreld die heel meeste vordering gemaak het die afgelope 40 jaar is die gebied van kommunikasie. Reeds van die laat 19de eeu probeer ons kommunikeer met toestelle en die ontdekking van “wireless” toestelle wat jy saam met jou kon rondry!  Nou het alles net onherroepelik verander.

Onbetaalbare selfoon oproepe en 85c smsse (snaaks dis nog steeds 85c al vir meer as 10jaar!) is later vervang met internet gebaseerde kommunikasie programme soos Mix-it en later BBM en WhatsApp and still counting … Ook die Facebook en Twitter-era help ons in kontak bly en voorsien aaneenlopende kommunikasie.  En tog… Ons weet nie meer hoe om te kommunikeer nie. Ouers vertel dat hulle nie meer weet hoe om met hulle kinders kontak te maak nie.  Hulle stuur ook nou maar ’n WhatsApp!

AddThis Social Bookmark Button

Ouerskap of opvoeding?

Posted in Ouerskap

Ouerskap gaan oor goeie verhoudings.
Miskien is deel van ons probleem oor positiewe ouerskap juis die term “ouerskap”. Die term plaas al die interaksie wat daar is tussen ouer en kind outomaties as iets van die ouer na die kind. Ouerskap is daarom alleen die verantwoordelikheid van die ouer(s).
Ek wonder of ’n beter term nie “opvoeding” is nie.

AddThis Social Bookmark Button

HOE GEMAAK AS MY KIND “GEBOELIE” WORD OF SELF ’n “BOELIE” IS?

Posted in Dissipline

Afknouery so oud is as die mens se geskiedenis, maar verskeie navorsers bevind dat dit aan die toeneem is. Kuber afknouery dra tot die toename by, maar 'n samelewing wat vinniger verander as ooit tevore en ouers wat rondtas omdat die ouerskapmodel wat hulle van hulle ouers geërf het nie meer in die nuwe omstandighede doeltreffend is nie, speel ook 'n beduidende rol.

Wat afknouery betref kan jou kind die slagoffer wees, of – skokkend soos dit mag wees – die een wat afknou. Die geheim in beide gevalle is om kinders te help om gesonde verhoudings aan te knoop.

AddThis Social Bookmark Button

Kinders meet kragte met ouers

Posted in Dissipline

My kind meet kragte met my – en wen

‘n Radelose ouer vertel dat haar voorskoolse kind weier om opdragte uit te voer. Hy weier onder andere volstrek om sy speelgoed op te tel as hy klaar gespeel het. Sy gee dan vir hom ‘n keuse soos: “As jy nie jou speelgoed optel nie, kan ons nie die storie lees wat jy so graag wil hoor nie.” Hy kies dan om nie die storie te hoor nie. Dit maak nie saak wat sy probeer nie – hy hou voet by stuk en gee nie in nie.

Iemand anders vertel dat sy as klein kind geweier het om in opdrag van haar ouers vir haar boetie verskoning te vra omdat sy “lelik” was met hom. Sy is aangesê om op ‘n stoel te sit tot sy kans sien om verskoning te vra. Sy het ure op die stoel deurgebring, maar kon nie beweeg word om verskoning te vra nie.

Ouers beland onverhoeds in so ‘n “oorlog” of “magstryd” met weerstandige kinders oor hulle verantwoordelikhede en pligte. Wat ouers moet verstaan is dat hulle nie die stryd kan wen nie. Kinders het al die tyd in die wêreld om die magspel te speel en jou te toets en te beproef. Al raad is om die kind oor te haal tot ‘n ander siening.

1.  Fokus op die probleem en nie op jou kind of die stryd nie, want as ma op die kind  fokus en hom beskuldig, byvoorbeeld: “Jy is ongehoorsaam/ stout”, verstaan hy dat hy die probleem is. Hy voel dan veronreg en jammer vir homself en nie oor sy ongewenste gedrag nie. Boonop sal die kind ervaar dat sy ouer onbillik teenoor hom is.  As sy in ‘n stryd tree met haar kind oor byvoorbeeld optel van speelgoed, kan ‘n volskaalse magstryd ontstaan sonder dat die probleem opgelos word. Dit help die ouer om minder emosioneel te reageer en gee perspektief as sy in haar gedagtes die probleem van haar kind skei en vir haarself sê dat hy nie die probleem is nie. Sy is vir hom lief en hy is pragtig en is nie ‘n slegte mens omdat hy nie die speelgoed optel nie. Die probleem is dat die speelgoed nie opgetel word nie.

AddThis Social Bookmark Button

Wenke wat help vir raadop ouers

Posted in Wenke

Daar is niks wat vergelyk kan word met die vreugde van ouerskap nie. In ons familie ervaar ons dit op die oomblik in oorvloed. Ons eerste agterkleinkind is pas gebore en natuurlik is klein Cobus die pragtigste, slimste en voorspoedigste baba ooit. Hy is nog ongeskonde en sonder die letsels van die lewe wat geen kind misloop nie, selfs al het hy ouers wat hom wil toevou in hulle liefdevolle beskerming. Om doeltreffende ouers te wees sal hulle ongetwyfeld ‘n hele reeks vaardighede bemeester. Ek kan egter onthou dat ek soms net aan ‘n reddingstou in die vorm van een of ander wenk wou vashou as alles nie volgens plan verloop het nie. Vanaand dink ek aan wenke wat moontlik jong ouers (en ander ouers) kan help:


• 1 Gee liefde
 

Vertel vir hom en vir haar hoe spesiaal en uniek elkeen is. Wees kwistig met drukkies en soentjies. Wees “daar” as jou kind jou nodig het.

• 2 Spandeer tyd saam met elkeen afsonderlik.

Doen saam met jou kind dié dinge wat hy of sy graag wil doen (dit sal nie altyd die aktiwiteit wees waarvoor jy lus is nie). Dit kan wees om saam wegkruipertjie of Monopoly te speel. Dalk wil hy gaan fietsry of wil sy ‘n musiekkonsert bywoon. Kinders floreer op ouers se aandag en as daar twee ouers is, benodig hulle beide se tyd en aandag.

• 3 Praat minder en luister met volle aandag

As ouers empaties luister; met oë, ore en hart, help dit hulle om begrip te ontwikkel vir hul kinders se gevoelens en ervarings. Dit is vir die kind makliker om te vertel wat haar kwel wanneer die ouer die aktiwiteit waarmee hy besig is staak en regtig luister. Ouers wat met volle aandag luister dra sy twee boodskappe oor: “Jy is belangrik genoeg” en “ek gee om”. ‘n Kind se grootste behoefte is nie dat sy ouer vir hom moet raad gee nie, maar dat sy ouer sal hoor wat hy sê.

• 4 Skep struktuur
 
‘n Kind voel geborge as daar gereelde eet- en slaaptye is, selfs al skop hulle soms daarteen. Dit skakel konflik uit as daar roetine handelinge is soos dat skoolklere uitgetrek word as hulle van die skool af kom en dat huiswerk afgehandel word voordat hulle gaan speel. Waak terselfdertyd daarteen om rigied te wees

• 5 Laat kinders toe om keuses te maak

Die blote kans om ‘n keuse uit te oefen verminder by ‘n kind weerstand om ‘n taak uit te oefen, want dit laat hom in beheer en belangrik voel: “Wil jy jou blou broek of jou groen broek aantrek?” of “wil jy Weet Bix of Post Toasties hê?” of “wil jy jou medisyne met koeldrank of ‘n lekkertjie afsluk”.

• 6 Probeer om nie uit gewoonte “nee” te sê nie

Nee is vir ‘n kind soos ‘n rooi doek vir ‘n bul. Sy vra: “Kan ek gaan speel?” Sê eerder: “Ons eet oor 5 minute” as “nee, ons eet oor 5 minute”.

• 7 Behou hoop

Kinders het dikwels ‘n droom van wat hulle wil word en bereik. Jou kind wil ‘n sanger, dokter, polisieman, onderwyser of beroemde sportman word. Droom saam eerder as om hom wreed te ontnugter. Hy sal wel mettertyd realisties word en ontdek wat sy werklike aanleg is.

• 8 Moenie blameer nie

Wanneer ‘n kind ‘n fout maak en jy blameer of verkleineer hom, voel hy vir homself jammer. Verduidelik eerder waarom dit ‘n fout was en wat ‘n beter opsie sou wees. Spreek die fout aan en nie op die kind nie.

• 9 Moenie dreig nie.

Ouers is geneig om baie keer te dreig voordat hulle optree. Dit maak kinders ouerdoof. ‘n Kind weet dat hy byvoorbeeld maar met sy voete op die bank kan sit, want ma en pa dreig, maar tree nie regtig op nie. Gee liewer ‘n keuse met ‘n logiese gevolg: “As jy aanhou om met jou voete op die tannie se bank te sit, sal jy op die vloer moet sit”.
Wenke help baie, maar ‘n mens kan ook verstrik raak in al die wenke as jy nie oor ‘n ‘n goed-gedefinieerde ouerskapsiening beskik nie. Gelukkig is daar kursusse, soos POSPAR wat daarmee help. Vir meer inligting gaan na “Positiewe ouerskkap” op die Communitas webblad.

AddThis Social Bookmark Button

Ouerskap en 'n Ontstellende Nuusberig

Posted in Ouerskap

 Ouerskap en ‘n Ontstellende Nuusberig

Die afgelope week was ‘n hartseer tyd. Dit gons in ons land en die moord op  Eugene Terreblanche is ‘n gespreksonderwerp in bykans elke huis. Mense soek na  ‘n simplistiese oorsaak daarvoor: Is hy vermoor  omdat ‘n leier ‘n liedjie gesing het wat ruimte skep vir die minagting van mense se lewens? Het dit gebeur omdat mense wat betaal moes word, nie betaal is nie?  Was alkohol die oorsaak van die tragedie? 

Ouers se bespiegelinge en uitsprake oor die aangeleentheid sal ‘n blywende indruk op hulle kinders maak. Afhangende van wat hulle sê, sal hulle bydra tot die skep van óf ‘n versoenende óf ‘n haatdraende gesindheid in hulle gesinne. Die gesindheid wat geskep word sal ook soos suurdeeg verder versprei, want elke gesin beïnvloed ook ander mense en gesinne.  Wat 'n ontsaglike verantwoordelikheid het ouers.

'n Ontstellende berig soos die moord op Eugene Terreblanche kan egter ook 'n geleentheid wees om saam met ons gesinne introspeksie te doen binne ons godsdienstige perspektief. In ons gesin het ons geworstel en gepraat en ons eie gesindheid onder die vergrootglas geplaas. Om sin te maak uit  die ontstellende gebeure was ent-ent ‘n pynlike proses. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat 'n gebrek aan respek teenoor mekaar moontlik een van die oorsake van die tragedie was: As 'n mens nie respek vir ander het nie, sing jy liedjies soos  “Kill the boer, kill the farmer” en “Bobbejaan klim die berg” om mekaar te tart. Ons het die hand in eie boesem gesteek en erken dat ons ook nie altyd genoeg respek teenoor alle ander mense betoon nie. Eindelik het  ons by die punt gekom waar ons ooreengekom het dat ons graag 'n klein bydrae tot die voorkoming van geweld in die land wil maak. Ons  het twee voornemens vir onsself geformuleer:

1. Ons gaan daarna streef om alle mense met respek te behandel - selfs al handhaaf ons verskillende standpunte.

2. Ons gaan mense respekteer deur nie onsself hoër as enige ander mens te ag nie.

AddThis Social Bookmark Button

OORLAAIDE OUERS ERVAAR SPANNING

Posted in Ouerskap

 

Tydens ‘n onlangse kursus het ek weer daarvan bewus geword dat dit vir ouers voel asof hulle hulself in duisend stukkies moet verdeel om al hulle pligte na te kom. Dit bring spanning mee.


Toe ek baie jare gelede ‘n kind was, het ek skool toe en terug gestap en namiddae self gesorg dat ek by buitemuurse aktiwiteite uitkom – ook te voet. Selfs wanneer daar saans aktiwiteite by die skool was, het ons gestap. Ouers was nie bekommerd oor ons veiligheid nie. Gedurende daardie tyd was ma’s oor die algemeen tuisteskeppers van beroep en baie min van hulle het buitenshuis gewerk.

Tye en omstandighede het intussen ingrypend verander. Vandag beklee beide ouers gewoonlik beroepe. Om eerlik te wees verkies die meeste van ons die nuwe bedeling – ook om ons konfyt en vrugte in blikkies te koop. Daar is egter ook ‘n skadukant: Ouers is besiger, nie net omdat beide werk nie, maar ook omdat dit nie meer vir kinders veilig is om alleen op straat te beweeg nie en hulle vervoer moet word. Tydens ‘n onlangse kursus het ek weer daarvan bewus geword dat dit vir ouers asof hulle hulself in duisend stukkies moet verdeel om al hulle pligte na te kom. Dit bring spanning mee. Dit is onrusbarend hoeveel medikasie gebruik word vir toestande wat aan spanning gekoppel kan word, soos hoofpyne, buikpyne, slaaploosheid, hartkloppings en brandpyne in onder andere jou nek en skouers.

Die antwoord vir die probleem is nie om:
•Op die bank te gaan lê en slaap nie.
•Sommer net lui te wees nie.
Ontspanning is:
•‘n Doelbewuste aksie.
•Dit word die beste gedoen terwyl jy helder wakker is.
•Daar is verskeie ontspanningstegnieke en dit kan
aangeleer word.

Ouers kan nie altyd die spanning vermy nie, maar kan leer om die negatiewe gevolge uit te skakel.

Ek deel met julle ‘n aantal kits ontspanningstegnieke Besluit self wat vir jou die beste werk.

•Trek jou asem diep in; hou dit vir 'n paar sekondes en sug dit uit.
Trek weer jou skouers op tot by jou ore terwyl jy jou asem diep intrek en in hou; buig die skouers agtertoe totdat dit voel asof jou blaaie aan mekaar raak. Sug jou asem uit en laat jou skouers slap val. Jy sal aangenaam rustig en ontspanne voel en die nare brandpyn in jou nek en skouers sal mettertyd verdwyn.

•Aan die agterkant van jou nek is loop twee senings van jou skedel na jou skouers. Aan die buitekant, alkante daarvan, is twee holtetjies. Gebruik jou middelvingers en vryf liggies, met sirkelbewegings in die holtetjies. Daar sal ‘n ontspanne gevoel deur jou hele lyf versprei.

•Gebruik jou duime en voorvingers om net bokant jou oorbelletjies met sirkelbewegings te vryf.

•Klem jou vingers ineen en plaas jou geklemde hande agter jou nek. Hou jou kop regop en trek jou ken in. Trek jou asem diep in en hou dit so. Beur teen jou hande, so hard as wat jy kan, vir 'n paar tellings en laat skiet terwyl jy terselfdertyd jou asem uit sug. Herhaal 10-keer.

 

AddThis Social Bookmark Button

Kwaliteit Tyd lesse van die Obamas

Posted in Kwaliteit tyd

Ons gesels hierdie keer oor die planne wat ‘n baie besige gesin maak:

In die Oktober 2009 uitgawe van die "Reader's Digest" kry ons ‘n kykie in die gesinslewe van die Amerikaanse president en sy gesin. As dit by kinders kom, verskil hulle nie so baie van die meeste van ons nie: Hulle is ook werkende ouers met ‘n besige skedule en hulle kinders het dieselfde basiese behoeftes as ons s'n - selfs al woon hulle in die Wit Huis.

Dit blyk dat om kwaliteit tyd saam met hulle kinders deur te bring, vir hulle ‘n hoë prioriteit is.

  • Hulle baljaar saam met hulle kinders op rollerskaatse.
  • Sasha, die jongste, "snuggle" op haar pa se skoot terwyl hulle na haar sussie se sokkerwedstryd kyk. Sokker, kan jy glo! Dit is net dapper ouers wat hulle dogter toelaat om sokker te speel. Pa Obama kan wel nie by alle wedstryde wees nie, maar hulle ma maak ‘n punt daarvan om beskikbaar te wees.
  • Op die eerste skooldag word soentjies en drukkies links en regs uitgedeel.
  • Ma Michelle beplan rituele vir die kinders wanneer hulle pa (wat amper as ‘n naweekouer beskryf kan word), weens werksverpligtinge heel dikwels nie tuis is nie. Hulle hou byvoorbeeld "snuggle time". Gedurende dié tyd kuier ma en dogters heerlik in die bed en gesels ‘n hond uit ‘n bos.
  • Die President is nogtans nie onbetrokke nie. Hy het al sewe Harry Potter boeke hardop vir sy dogter Malia voorgelees. Al die saamlees het tot gevolg dat die kinders nou ywerige lesers is.
  • Hulle probeer om die meeste van die tyd saans saam eet. Blykbaar is dit makliker vandat hulle in die Wit Huis woon, want Pa se kantoor is in die onderste verdieping van hulle "huis". Hulle het ook ‘n vaste tyd om in die bed te wees. Eenvoudige, herhalende rituele soos hierdie, wat te make het met eet- en slaaptyd, laat kinders veilig voel, selfs al rebelleer hulle soms daarteen.
  • Hulle ouma speel ‘n belangrike rol in hulle lewens en vandat hulle in die Wit Huis woon is sy amper soos ‘n derde ouer. Haar portefeulje is naskoolse afsprake, tuiswerk, musiek oefen en ander buitemuurse aktiwiteite.
  • Toe die Michelle Obama die Wit Huis se binnenshuise versiering laat doen het, was een van haar kriteria dat dit moontlik moes wees om van die rusbankkussings ‘n fort te bou. In hulle gesin is dit ‘n heerlike aktiwiteit vir ‘n reëndag.

Het dit u ook getref dat nie een van die aktiwiteite geld kos nie?

Vir meer inligting oor die Obama familie kyk hier

 

AddThis Social Bookmark Button

Maak tyd vir kwaliteit tyd

Posted in Kwaliteit tyd

Ons kan deelnemende ouerskap vergelyk met ‘n pad wat tot ‘n eindbestemming lei waar goeie verhoudings en positiewe waardes gevestig is. Elke POSPAR ouer stap met die pad. Langs die pad gee POSPAR noukeurige aanwysings wat gevolg kan word om veilig by die eindbestemming aan te kom. Daar is egter ‘n vangplek: Die pad het ‘n stewige basis of fondament nodig, anders ontstaan daar slaggate wat vordering belemmer of selfs onmoontlik maak. Ouers wat op pad is met deelnemende ouerskap is self vir die instandhouding van die basis verantwoordelik. Hulle doen dit deur kwaliteit aandag aan hulle kinders te gee - kwaliteit tyd ís die fondament van deelnemende ouerskap.

Die waarheid is dat ouers gewoonlik nie tyd het daarvoor nie. Hulle moet dit skep, maar hoe?

  • Eerstens is dit nodig dat ouers hulle lewens sal vereenvoudig en
  • tweedens is dit nodig om te beplan of begroot vir tyd vir aktiwiteite met kinders (oor hierdie een gesels volgende keer).

‘n Eenvoudige(r) leefwyse (ek sukkel daarmee en dit sal my help om saam met u daaroor te besin)

Gordon Mc Donald gebruik in sy boek, ‘n Tyd vir orde, die volgende slagspreuk: "Pasop vir die leegheid van ‘n besige leefwyse". Willem Nicol sê in sy boek, Rykdom in eenvoud: "Daar is verskeie sake in ons oorvol lewe wat ons nie sal doodmaak as ons minder aandag daaraan gee nie."

Hoewel dit net ‘n ouer self is wat sal kan vasstel wat die sake is "wat nie sal doodmaak" as hy of sy minder aandag daaraan gee nie, kan ons mekaar aan die dink sit oor moontlikhede. Ek noem daarom voorbeelde van hoe ouers daarin geslaag het om hulle lewens te vereenvoudig om tyd te maak vir kwaliteit tyd met kinders:

Pieter vertel hoe hy sy spogtuin met ‘n inheemse tuin vervang het. Die tuin het nie net ‘n kwart van die aandag nodig wat die vorige tuin geverg het nie, dit benodig ook feitlik geen besproeiing nie. Tot sy verbasing stel sy kinders ook baie meer belang in sy nuwe tuin, raak opgewonde oor elke nuwe blommetjie en soek oral na inheemse plantjies. In die verlede was die baie aandag wat hy aan die tuin gegee het tot nadeel van sy verhouding met sy kinders, nou bring hulle daar kwaliteit tyd deur.

Anida vertel dat sy haar huishouding vereenvoudig het om meer tyd vir haar kinders te maak deur op te hou om ure lank te stryk. Sy probeer om klere te koop wat nie te sleg lyk as dit nie gestryk word nie en het opgehou om te wonder : "Wat sal die mense sê?" Klere word nou net netjies opgevou en weggepak. Sy stryk ook nie meer lakens en slope nie, want sy weet van niemand wat iets oorgekom het as hulle op ongestrykte lakens slaap nie.

Jeanne kon nooit nee sê nie en het aan tien verskillende organisasies behoort, almal voortreflike sake. Sy het dit verminder tot twee en het nou meer tyd vir haar gesin.

Liewe ouers, help asseblief met nog voorbeelde!

AddThis Social Bookmark Button

Die geheim van ouerskap

Posted in Ouerskap

Dit is ‘n windstil maanligaand. Ons kuier op die stoep; luilekker  na ‘n ete van gebraaide witstompneus, rogbrood, suurvykonfyt en moerkoffie. Dit is rustig, ons gasheer en gasvrou se  kinders is al “uit die hand uit”.  Die twee kinders verskil van mekaar soos die ooste van die weste, maar dit gaan goed met hulle, baie goed. Ten spyte van verskillende geaardhede en belangstellings is die kinders geheg en lojaal aan mekaar. Ons gesels oor baie sake en later ook oor ouerskap. Die ouers het Pospar gedoen toe die oudste 3 jaar oud was - 16 jaar gelede en is steeds van oordeel dat dit hulle geweldig baie gehelp het met hulle ouerskap. “Vertel vir my,” sê ek vir Gasheer en Gasvrou, “van julle ouerskapsiening. Wat is vir julle die heel belangrikste?” Hulle deel hulle siening wat ons so kan saamvat:

Gasvrou: “Die heel belangrikste is om jou kind onvoorwaardelik te aanvaar. Jou kind moet altyd weet hy of sy is vir jou uniek. Die Liewe Vader was so gaaf om hom te vorm presies is soos jy hom wou hê. Hy mag maar hy wees. Jy wil hom nie verander nie en sal enigiets doen om hom te help om te groei tot die maksimum van sy godgegewe potensiaal”. ‘n Bietjie  aangedaan voeg sy by: “Dit is wat my pa aan my gedoen het. Hy het nooit vir my laat voel dat ek nie goed genoeg was nie. Ek het altyd geweet dat ek vir hom reg is soos wat ek is.”

“Die ander saak wat net so belangrik is , is dat jou kind altyd moet weet jy is “daar” vir hom. Dit beteken nie dat jy moet spring as hy sy vingers klap nie, maar dat jy daar is om te deel in vreugdes. Jou skouer is ‘n veilige plek om op te huil. Hy kan met jou redeneer as hy helderheid oor ‘n saak nodig het. Jou oor is daar vir al sy sorge en jy sal niks wat vir hom belangrik is afmaak as onbenullig nie.”

Gasheer: “Jou kind moet weet dat jy in haar glo. As jy nie in haar glo nie, kan jy kwalik verwag dat ander mense sal. Sy moet ook weet jy glo nie net in haar as dit goed gaan nie, maar as sy ‘n gemors van ‘n saak maak, sal jy nog steeds in haar glo - sy hoef dit nie vir jou weg te steek nie. Dit is belangrik dat jy dit vir jou kind sê en dat jy dit aan haar bewys as sy depressief is, dwelms gebruik, swak vaar met studies of nie as haar liefdeslewe in skerwe lê.”

Hy voeg by: “Jy moet vir jou kind kan sê: “Jammer”. ‘n Ouer is ook maar net ‘n mens en dit is deel van menslikheid om foute te maak. As jy merk dat daar besig is om ‘n afstand tussen jou en jou kind te ontstaan, is dit nodig om saam te gaan sit - ‘n geleentheid te skep - om te praat oor wat jy gedoen het wat hinder. Deur “jammer” te sê vir iets wat jy wetend of onwetend onlangs of lank gelede gedoen het, help jy om die klonte van verbittering of verontregting wat jou kind van binne opvreet, op te los.”

AddThis Social Bookmark Button


priligy online

modafinilcheap cialishttp://brandcialiso.com/canadian pharmacyhttp http://propecian.com/ exposedcanadian pharmacy constipation sildenafil y dapoxetinelargest canadian online pharmacycanadian pharmacy