Webmeester on November 29th, 2009

In ons worsteling met immoraliteit en die verwante probleme, is ons deur menings en bydraes van verskeie persone gehelp,  Bonhoeffer, Anna Arendt, George Picht, Johannes van der Ven en Hauerwas. Nie een se bydra alleen kan die hele immorele landskap verander nie.

Vanaand, in ons gesamentlike soeke na morele heropbou, neem David Gill verbonde aan die Universiteit van Chicago en skrywer van die Boek – The opening of the Christian mind, ons terug na die bybelse waarheid as vertrekpunt om ons morele wildernis te transformeer.

Hy is oortuig ons moet na Jesus kyk. Ons moet Jesus sentraal plaas in ons pogings om ons immorele praktyke, gewoontes en gebeure te beveg.

Dit mag vir baie vreemd op die oor klink, maar tog is dit juis wat die skrywer van die brief aan die Hebreërs in hfstuk 1:3 onomwonde en baie duidelik stel. “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God….vers 4 “ hy is net so verhewe bo die engele, as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.”

In ander woorde – Jesus is God’s goedheid vir die wêreld, Jesus is moraliteit vir die wêreld. En daarom kan, en is hy met reg, in morele taal gestel, die etiese draai-as, die fondament, die essensie van ons karakter en karakterbou-inisiatiewe.

Jesus is die waarde, en deug wat ons wil besit en wees..In ’n komplekse wêreld met verskillende waardestelsels, is Jesus die standaard van goedheid en norm wat ons as Christene moet vestig. Wanneer immorele taal gebesig word, is Jesus die taal wat ons wil praat, wanneer ons deur immorele praktyke soos geweld, korrupsie, drank-en-dwemmisbruik, moord, ongehoorsaamheid en verwaarlosing gekonfronteer word, wil ons die leringe van Jesus betekenis gee, leringe soos vergifnis, barmhartigheid, genade, geregtigheid en naasteliefde.

Jesus as besitter en uitstraler van God se heerlikheid, Jesus as die ewebeeld van God, die draer en manifesteerder van God se standaarde van goedheid, is daarom ’n morele visie waaraan ons as Christengelowiges kan vashou, ons deur die morele – visie geinspireer word om in die krag van Christus –ook moreel goed te doen en morele transformasie te  bewerk.

Soos Jesus God se heerlikheid, goedheid, liefde en redding uitgestraal het, kom ons verbind ons daartoe om ook God se heerlikheid, goedheid, standaarde van moraliteit – uit te straal.

Gebed: Here vul ons met u heerlikheid sodat ons u goedheid kan uitstraal. Amen.

Donald Katts

Bookmark and Share
Webmeester on November 28th, 2009

Ons immorele landskap laatmens baie  dink oor hoe en waar ons moet begin regmaak, veral oor wat gedoen kan word. Die Noord Amerikaanse etikus, Stanley Hauerwas stel voor dat ons stories vertel. Hy meen ons het stories nodig om te verstaan wie ons is, waartoe ons geroep word, juis omdat stories volgens hom koherensie aan ons lewe gee, dit die plan van ons lewe organiseer. Hy is oortuig dat stories die potensiaal het om ons te transformeer. En die storie waarvan Hauerwas praat, is die storie van die Bybel. MAW – die storie van God se handeling met Israel, in Jesus en met die Kerk.

Hy meen ons karakter as Christene word daardeur gevorm. Daarom is dit nie eers snaaks dat Jesus se preekstyl soms die van storievertel was nie. Ek dink maar net aan die preek/of storie van die Barmhartige Samaritaan – Hier word die leser blootgestel aan storievertel:

-          ’n Storie wat gaan oor geloofsverskille – oor geweld – naastediens, oor barmhartigheid, gasvryheid en morele verantwoordelikheid – Lukas Hstk. 10:30 -37 verhaal die storie  – ’n man was vanaf Jerusalem opppad na Jerigo. Hy word deur rowers oorval en half dood gelaat. ’n Priester en ’n Leviet wat daar langs moes gaan, het, toe hulle die man sien, ver langs verby gegaan.

-          ‘n Derde man, ’n reisiger, ‘n Samaritaan het, toe hy die beseerde man sien, hom innig jammer gekry, sy wonde verbind, hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg geneem. Hy het die onkoste betaal en was bereid om enige verdere onkostes te dra.

Hartroerend, maar ook hartonstellend, bewonderingswaardig, maar ook teleurstellend. So word die leser se eie emosies losgewikkel, sy eie waardestelsel beoordeel, sy eie morele ingesteldheid ondersoek. En dit is hoe stories meewerk in die opbou van ons moraliteit wat noual vir baie lank onder verdenking is.

Stories help om ons karakter te vorm, ons moreel te oriënteer. Stories beweeg en transformeer ons om te word soos die storie. Jesus beveel die wetgeleerde om heen te gaan en NET SO TE GAAN DOEN. Maar Jesus daag ook vir ons uit – gaan en doen jy net so.

Hauerwas herinner ons nie net aan die transformerende krag van stories nie, maar help ons onthou dat die Christen-geloofsgemeenskap eintlik ’n storie-gemeenskap is – ons die opdrag en verantwoordelikheid het om die storie  – die storie dat God, Jesus na die wêreld gestuur het om te red, en te verlos – dat ons die storie deur ons geloofs-en-morele lewe oor en oor moet vertel – so oor-vertel, dat ander ook die storie sal liefkry en daarvolgens sal leef.

Gebed: Here vorm ons deur U storie van liefde, genade en vergifnis. Amen.

Donald Katts

Bookmark and Share
Webmeester on November 28th, 2009

Die feit dat Suid-Afrikaners ’n sportnasie is, is weer bevestig met die oproep van Danny Jordaan aan alle Suid Afrikaners om geel te as simbool vir ons ondersteuning van Bafana Bafana se deelname aan die Wêreldbeker-sokekrtoernooi volgende jaar. Ek stem. Dit is ’n goeie idee vir spanbou en geesbou. Ek dink dit kan ook die bou van gemeenskap en gemeenskaplikheid en selfs nasiebou tot gevolg hê.

Die bou van gemeenskap (koinonia), met ander woorde die sorgdra van gesonde onderlinge verhoudinge, die uitleef van waardes soos eerlikheid, toewyding en respek, die nastreef van hulpverlening, trou, menswaardige behandeling en nasietrots, en dan ook om positief, humoristies en nederig te wees, is wat ons nodig het. Dit spel vir my ja gemeenskapsbou. Dit spel vir my geel. Dit spel vir my saamspeel en saamleef.  Dit alles  is op die spel gedurende die groot wêreldbeker- sokkertoernooi. Maar dit is ook waaroor ons lewe as Suid Afrikaners gaan. Dit is waaroor ons lewe-in-gemeenskap gaan.

Om te leef veronderstel gemeenskap, en gemeenskap impliseer die bestaan van ander, die leef met ander. Uit ons geskiedenis het ons jammerlik geleer hoe om gemeenskap te vermy en veral hoe gemeenskap nie behoort te lyk nie. Hopelik weet ons nou ’n bietjie meer hoe gemeenskap werklik lyk en hoe om hierdie gebrek aan gemeenskap te herstel en in te kleur. In die konteks van verhoudinge en gemeenskap verwys geel gewoonlik na jaloesie (meer negatief). Heg ons aan geel egter ’n positiewe konnotasie en sê ons met die dra van geel dat ons jaloers waak oor ons onderlinge verhoudinge, jaloers waak oor die waardes wat gemeenskap verryk en gemeenskaplikheid bevorder, jaloers waak oor die behoud van ons saamleef-en-saamspeel, dan kry Jordaan se oproep vir die dra van geel ’n besliste ja. Dan staan geel vir meer as net ons ondersteuning van ons nasionale sokkerspan. Geel het dan die betekenis van saambou en saamleef, die betekenis van goeddoen en saam laste dra. Op ’n persoonlike vlak sê ons ons wil met die ander wees, verkoop ons die filosofie van ek-wil-by-jou-staan en openbaar ons ons begeerte vir eensgesindheid, vir nasie-wees en saamstaan.

Soos ’n seegloed van geel ons spelers kan inspireer, so kan geel as gemene kleur bydra tot die skep van gemeenskap en nasiebou. Die inkoop in die dra van geel het die potensiaal om die gees, gesindheid en ingesteldheid van Suid-Afrikaners ’n hupstoot in die rigting van menslikheid, versoening, eenheid en samehorigheid te gee. Dit kan ’n kragtige middel en selfs manier wees om mense aan te moedig om om te gee en sorgsaamheid aan die dag te lê. Amper soos die Emmausgangers (Luk.24:13 – 35), toe Jesus gemaak het asof Hy verder wou gaan, by Hom daarop aangedring  het om by hulle te bly, aangesien dit amper aand was. Hier toon hulle hul verlange om gemeenskap met Jesus te hê, besorgdheid en omgee, die begeerte om saam te wees. Die dra van geel, dink ek, kan dit vir ons doen, of ten minste kan ons met die dra van ons geel, vir mekaar en die wêreld sê: Ek is ondersteunend, toegewy, menslik en hulpvaardig. Met die dra van my geel wil ek sê ek steun Bafana Bafana, maar ook die reg op lewe, nasiebou, nasietrots en gemeenskap.

Dr. Donald Katts

Bookmark and Share

Tags:

Webmeester on November 27th, 2009

Dat ons morele herstel nodig het is ’n kommer wat beide politikus en teoloog, ekonoom en wetenskaplike deel. Die knellende vraag in die debat van morele herstel is -  Wat kan gedoen word? Waar begin ons?

Soos Bonhoeffer, Anna Arendt, George Picht  met voorstelle kom, bied die moraalfilosoof, Johannes Van der Ven, dissipline aan as vertrekpunt tot enige oplossing van ons morele verval.

Van der Ven argumenteer dat vir dissipline om effektief te wees, dit nie net met goeie, en  ferme,  beheer gepaard moet gaan nie, maar moet dit veral met baie omgee, sorg en liefde beheer word. Dissipline weet ons, dra by tot goeie gewoontevorming, wat weer goeie karakter tot gevolg kan hê.

Dit is immers die doel van dissipline om goeie morele mense en of burgers te kweek, mense en of burgers wat oorvloedig is in die doen van die goeie, die mooi en naspeurlike.

Woorde wat vir dissipline in die Nuwe testament gebruik word is  leer, onderrig, bestry, vermaan, teregwysing, weerlê en bestraf. Dit is dan ook hoe dit in  2Tim.hstk 4:2-4 voorkom. Hier word die gedagte van dissipline sterk deur die verwante woordgroepe uitgedruk.

Paulus skryf aan Timoteus om met die toepassing van dissipline – betekende lering, onderrig, bestryding, weerlegging, aanmoediging en geduld aan te hou – 1stens om die gemeente te help om teen die dwaalleer en verval staande te bly, en 2dens – omdat daar ’n tyd sal aanbreek waar mense nie meer na die gesonde leer sal luister nie (m.a.w. mense sal ongedissiplineerd raak, mense sal enige vorme van teregwysing, vermaning en dissipline versaak).

So getuig die kerklike praktyk van kerktug, ook van die noodsaaklikheid om dissipline te handhaaf. Vertel dit ’n storie dat dissipline van belang is, dit ’n rol te vervul het in die vorming van die gelowige se geestelik en morele karakter? Die vermoë en ingesteldheid om jouself dinge te kan ontsê, jouself van verkeerde dinge te distansieër, negatiewe dinge op te sê, en dissipline dien as bewapening van die self teen slegte invloede. Ek wil waag om te sê dat sonder dissipline dit moeilik, indien nie onmoontlik is om aan God, toegewyd te wees, jou naaste moreel te beinvloed en ’n dinamiese getuie van die evangelie te wees.

Dus, kom ons maak dissipline deel van ons Christelike mondering en ons Christelike geloofslewe. Want deur ’n gedissiplineerde lewe, kan ons die morele woestyn transformeer in ’n  oase van die goeie, die mooie, opbouende en menslike.

Gebed: Here maak my gedissiplineerd in wat ek doen, sê en dink en veral in hoe ek as u kind leef. Amen.

Donald Katts

Bookmark and Share
Webmeester on November 26th, 2009

In ons soeke na maniere om morele oplewing te bewerk, antwoord die teoloog en opvoedkundige George Picht ’n Duitser ons, deur te se: “Die vraag is nie voor watter krisisse ons tans staan wat belangrik is nie, daarvoor is ons reeds te laat”.

Die vraag wat ons moet adresseer is, voor watter krisisse gaan ons oor tien of vyftien jaar staan? As ons dit betyds kan sien, kan ons NOU iets daaraan doen.

George Picht help ons besef dat moraliteit – Nie net te doen het met seks, korrupsie of oneerlikheid nie. NEE, George Picht se toekoms -gefokusde  benadering help ons ontdek dat moraliteit ons hele lewe raak. As gelowige, as burger, as ouer, as werknemer, as speler of toeskouer. Dit het te doen met ons ingesteldheid, met wat ons doen, ons drome.

Dit in kort, is immers waaroor die bybel en die bybelboodskap gaan, waaroor Christen en gelowig-wees gaan. Waaroor kerk gaan. Naamlik; verandering,  konformasie, herstel, beroering. Amper soos Lukas in hoofstuk 19:42 verhaal.

Hy sê – Toe Jesus nog nader kom en die stad voor hom sien, het Hy daaroor gehuil en sê toe –  “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is!” Jesus betreur die feit dat die inwoners nie ver vooruit kon sien en as sulks niks gedoen het om hul vrede te verseker nie. Tog het die stad in beroering gekom. Het mense gevra – Wie is hierdie man?  So was die lewe en bediening van Jesus. Hy het gemeenskappe omvorm omdat hy toekomsgerig was. Hy het lewens aangeraak omdat hy ewige-lewe gerig was en verantwoordelik en gehoorsaam was, dus het hy in die nou-en-hier van mense se lewe, iets gedoen om hulle van die krisisse van die toekoms – naamlik die oordeel, die  straf en ewige verderf te bewaar –  Daarom sterf hy en staan hy op – daarom die HG, daarom die kerk.

Dus moet ons nou die krisisse van die toekoms kan sien, moet ons dit nou kan identifiseer, Moet ons nou iets daaromtrent doen..Maar meer, moet ons in terme van ons geestelike en morele krissis,  naamlik, ’n lewe sonder Jesus as Verlosser nou iets hieraan aandoen, moet ons nou oorweging skenk aan dinge soos bekering, ’n lewendige geloofslewe en naastediens – sodat ander, van die wonder-evangelie wat hulle uit die krisisse van nou, en van die toekoms kan red, kan verneem.

Met morele herstel werk dit dalk langer, maar as ons nou begin liefhê, nou begin vergeef,   nou moreel begin leef, kan ons nog ‘n verskil maak, kan ons nog lewens aanraak en gemeenskappe opbou. Ja kan ons help dat ‘n betere toekoms op almal wag.

Gebed: Here help ons om die krississe van ver raak te sien en nou iets daaraan te doen. Amen.

Donald Katts

Bookmark and Share
Webmeester on November 25th, 2009

Soos gisteraand, werk ons met die vraag van morele herstel, mense soos ek en u wat sit en top oor wat ons kan doen om die moraliteit van ons samelewing ja, maar ook van ons familie-lewe, ons vriende , en werksverhoudinge te beinvloed.

’n Ene geleerde Anna Arendt, ook ‘n Duitser, meen as ons net gehoorsaam is, as ons net konformeer (dalk aan die Christelike leer, en of Christelike etiek) kan ons die hede so verander dat daar wel ‘n toekoms is.

Haar eintlike  uitgangspunt is, dat ons in elk geval die toekoms beinvloed. Of ons nou iets doen, soos Jesus vir Bartimeus gedoen het, en of ons  versuim, ons beinvloed.wel die toekoms Daarom moet ons vandag, nou, verantwoordelikheid beoefen deur gehoorsaamheid te openbaar.

Gehoorsaamheid is immers een van die vroegste deugde wat ons as kind aangeleer word. Gehoorsaamheid aan ons ouers, onderwysers, manne en vroue in uniform en veral gehoorsaamheid aan God. Ons verstaan van jongsaf wat dit beteken om gehoorsaam te wees. Dit is om te luister. Dit is om die regte ding te doen. Dit is om eerlik teenoor jouself te wees.

Dat gehoorsaamheid as deug en of karaktertrek, gekoppel word aan ons lewenskwaliteit, die morele standaard van ’n volk en individie, blyk sterk uit Salomo se skrywe in Spreuke 14:34, waar hy sê, “ Gehoorsaamheid aan die Here, laat ’n volk sterk staan”

Die digvers is midde ’n stel digverse wat interessant genoeg, morele konotasies het byv. Salomo praat van ’n geduldige mens wat verstandig is,(v.29); Wie ’n  arm mens verdruk, beledig sy Maker; Wie hom oor ’n arm mens ontferm, eer God “(v.31).

Dat gehoorsaamheid as deug, aan ’n gesonde morele lewe gekoppel word, is nie vreemd nie juis omdat ons ongehoorsame optrede as immoreel bestempel word. Hoeveel onnodige seer en pyn word nie daagliks deur ouers ervaar bloot omdat hul kinders nie wou luister; hoeveel onskuldige lewens is nie al verwoes en selfs gedood deur iemand se ongehoorsame optrede nie? – ’n motorbestuurder wat nie stop by ’n rooi verkeerslig, iemand wat onder die invloed van drank bestuur, sy beheer verloor en ’n kind op die sypaadjie dood ry nie.

Gehoorsaamheid as deug kan help om ons uit die immorele moeras te red. Gehoorsaamheid aan reëls en gedragskodes. Gehoorsaamheid aan gesagvolle persone en instellings. Gehoorsaamheid aan veral en spesifiek, aan die Here, sy evangelie, Sy waardes, Sy vereistes, Sy leringe en lewensstyl, kan ons moreel weer genees.  En meer dit kan hoop, inspirasie, doelgerigtheid en naastesorg by ons as Christen-gelowiges  inskerp en ons as volk in alle opsigte laat sterk staan.

Gebed: Here help ons in gehoorsaaamheid aan  u te leef, sodat ons U volk, sterk kan  staan. Amen:

Donald Katts

Bookmark and Share
Webmeester on November 24th, 2009

Baie mense, indien nie almal, is bekommerd oor die morele verval, soos gesien in die vlaag van geweld, misdaad, korrupsie, disrepek en wetsoortredings.

Hoe kan ons, hoor ek gedurig, die samelewing meer menslik en hoopvol maak? Hoe kan ons die toekoms so beinvloed dat respek, eerlikheid, goedheid, moedigheid, hoop, trou en diensbaarheid aan die orde van die dag is.

Ds. Dietrich Bonhoeffer, die Duitser meen in tye van morele verval, daar 2 soorte houdings is wat NIE pas by kerkmense nie. 1. is – ‘n houding van hoogheiligheid – hulle wat net kritiseer, blameer, sleg sê, skuld gee, en doemprofeet is.

Die 2de is – ‘n houding van opportunisme – hulle wat nie die kwaad bestry, nie die nood help verlig nie, maar elke oomblik tot eie gewin gebruik. Bonhoeffer meen dat Christelik verantwoordelike mense in sulke tye vra, wat kan ek nou hier doen om die toekoms positief te beinvloed. Dit meen Bonhoeffer is hoe ons begin om’n toekoms te verseker.

Dit is wat Markus in hhstk 10 verse 46 tot 52 uitbeeld. Daar ontmoet Jesus die blinde Bartimeus. Die skare maan Bartimeus, ’n man in nood, ’n man wie se menswaardigheid deur sy bedelary geskend is; van vernedering en gespot, kan niemand hom iets vertel nie.

Sy toekomsvisie was afhanklik van ander se goedhartigheid. Hy was oorgelaat aan die veranderlikheid van die mens. Dus, wanneer hulle met hom raas en hom maan om stil te bly, was hy nie hieroor verbaas of tot stilswye beweeg nie. Nee, na sy vele slegte ervaringe as bedeleaar, skreeu hy eerder harder, “ Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”.  Hierin hoor ek die moedeloosheid oor mense wat hulle nie aan hom steur of enigsins ’n vinger verroer om sy nood te verlig nie.Ek hoor sy hopeloosheid oor sy situasie en sy toekoms. MAAR anders as die mense, stop Jesus, roep hom en vra “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Op die lang verwagte goddelike en menslike vraag antwoord hy – “dat ek kan sien.”

Die resultaat – Jesus gee sy gesig terug. Jesus doen iets  wat die toekoms van die man in nood verander het. En dit is waartoe ons as geloofsmense, as Chistene, as kerk geroep word.  Instede dat ons met ons hoogheiligheid en opportunistiese houding, mense in nood tot niks en van-geen-belang reduseer, en so die morele koudheid van ons samelewing  aanhelp, vergestalt ons ons omgee. Ons doen dit deur ons geloofsoortuigings, menslikheid en betrokkenheid in die lewe van randfiguur-mense, die vele Bartimeuse in dade van omgee oor te sit. Wanneer ons met die nood en ellende van ander gekonfronteer word, vra ons vandag as verantwoordelike gelowiges en burgers “wat kan ek vandag doen, om die toekoms vir almal positief te beinvloed?”

Gebed: Here help ons om die nood van ander raak te sien en vandag iets te doen. Amen.

Donald Katts

Bookmark and Share
Webmeester on November 22nd, 2009

Ons dink die week saam oor waardes en een van die kernwaardes,  eintlik ‘n waarde wat onderliggend is aan al die ander waardes is morele moed.  Die moed om te leef volgens jou waardes vorm die grondslag vir al die ander waardes.  CS Lewis het gesê Courage is not simply one of the virtues, but the form of every virtue at the testing point.

Een van die mooi voorbeelde van morele moed uit ons geskiedenis is die optrede van Generaal De La Rey tydens die 2de Boereoorlog.  Toe hy hoor dat general Methuan wat aan die opmars was na Kimberley,  gewond is, het hy hom met sy eie perdekar gaan oplaai om hom na die hospitaal in Kimberley toe te neem, sodat hy goeie mediese versorging sou kry.  Baie van sy manskappe het egter nie saamgestem nie en daar was ‘n hewige vergadering in die veld, voordat Generaal De La Rey hulle oortuig het dat dit die regte en eerbare ding is om te doen. Sy vrou Nonnie, wat op daardie stadium besig was om in die veld voor Methuan se manskappe te vlug, het toe sy hoor dat hy gewond is, vir hom ‘n gaar hoender hospitaal toe geneem.  Genl De La Rey  het die morele moed gehad om teen die mening van die meerderheid in te gaan en het bly staan by sy morele oortuiging.

Het ons nie vandag oral, in ons huise, skole, op die sportveld en in die openbare lewe mense nodig wat die morele moed het om keuses te maak in lyn met kernwaardes in die Skrif en nie ter wille van gewildheid en applous nie?

  • Dit vra moed om teen die stroom van die opinie van die meerderheid in te gaan en op te staan vir wat reg en billik is,
  • Dit vra moed om nie te vloek nie, al is dit die gebruikstaal van die meerderheid
  • moed om eerlik te wees oor ‘n lynbeslissing, al kan dit jou dalk die wedstryd kos
  • moed om nee te kan sê vir korrupsie, al maak dit jou ongewild by kollegas
  • Moed om op te kom vir die “underdog,” al en staan jy alleen
  • Moed om openlik te wees oor jou geloofsoortuiging, al spot ander jou as outyds.

Waar kry mens die morele moed? Deur naby te leef aan die oorsprong van alles wat Goed en Waar is.   Dit is nie maklik om teen die mening van die meerderheid in te gaan en te leef in lyn met die kernwaardes in die Skrif nie, maar gelukkig is ons nie alleen nie en sal ons Hemelse Vader vir ons morele moed sal gee as ons Hom daarom vra.

Ons sluit af met die gebed van Piet Naude in die Groot Gebedeboek waarin  hy vra vir morele moed:

Here dit is vandag nie meer maklik

Om aan die goeie en die ware te glo en daarvolgens te probeer lewe nie.

Help my tog om op U krag alleen te steun.

Maak nie saak wat die wereld sê nie: my rigtingwyser bly U goedheid en waarheid.

As ander dink en is outyds en my idees uitgedien,

Weet ek die riglyne in u Woord staan al duisende jare: getoets deur vele voor my

En gewaarborg deur U self.

Daarom al wankel die waardes

Staan ek sterk soos ‘n welige olyfboom.

Hulle wat U misken, roer my nie.

Ek prys U: die Goeie en die Ware. Amen

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk

Bookmark and Share

Tags: ,

Webmeester on November 21st, 2009

Gordon Mc Donald skryf in een van sy boeke oor die dwase man wat ‘n seiljag gebou het. Hy wou die grootste, mooiste seilboot bou wat nog ooit uit daardie hawe gevaar het, want hy wou baie graag die volgende voorsitter van die seiljagvereniging word. Die  man het baie daarvan gehou wanneer mense gepraat het van die pragtige houtwerk en geelkoper afwerking van die seiljag en hoe meer die mense gepraat het oor die boot, hoe meer tyd, aandag en geld het die man aan die dinge spandeer wat bo die waterlyn was, want het hy geredeneer, dit is tog al wat die mense gaan sien.  Hulle gaan nie hande klap vir dit wat onder die waterlyn is nie.

Die dag van die nooiensvaart het aangebreek en almal was op die kaai, die orkes het gespeel en die sjampanjebottel is oor die boeg gebreek.  Die dwase man was trots toe hy hoor hoe almal praat oor die ongelooflike mooi seiljag en hy was seker dat hy die volgende voorsitter sou word.  Hy was so selfversekerd dat hy nie opgelet het dat die seiljag wat saam met hom uitgevaar het omgedraai het oor ‘n naderende storm nie en gou was hy self in die moeilikheid.  Omdat die boot onder die waterlyn byna niks gehad het om dit in ‘n storm te balanseer nie, het ‘n groot brander die boot laat omslaan en die dwase man is oorboort geslaan en het verdrink.  Toe die wrak ‘n paar dae later uitspoel het die mense net hul koppe geskud en gesê “Wat ‘n dwase man, om so seiljag te bou, daar was dan niks onder die waterlyn nie!

Is ons nie ook maar so dwaas soos die man nie en bou ons nie ook dikwels ons lewens, sonder om veel tyd en aandag te gee aan dit wat onder die waterlyn is, dit waarvoor daar nie eintlik applous gegee word nie, omdat dit nie altyd so sigbaar is nie, aan karakter.

  • Karakter is dit wat die kwaliteit van jou mensweees bepaal,
  • Karakter is dit wat maak dat ons nie oneerlike kortpaaie tot sukses neem nie,
  • Karakter is die voetstuk of fondament waarop jou lewe gebou word en wat bepaal hoeveel gewig jy kan dra.
  • Karakter is die enigste ding wat nie begrawe word nie, maar saam met die roubeklaers wegstap van die graf.
  • Karakter is dit wat jou laat opstaan en weer begin as die lewe jou platgeslaan het. Helen Keller het gesê “Karakter ontwikkel nie in gemaklike rustige omstandighede nie, maar dit word gebou deur  beproewing en lyding te ervaar.

Die Boodskap staan dit ook in Romeine 5: 3 en 4  Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertou en wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ‘n sterk karakter te vorm en ‘n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag.

Bid saam: Gee tog Heer dat ons nie so besig is met wat bo die waterlyn is, dat ons nie tyd en aandag gee aan dit wat onder die waterlyn is nie, want dit is waarin u belangstel.

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk

Bookmark and Share

Tags:

Webmeester on November 20th, 2009

Ons is die week besig om saam te dink oor waardes. Die woord waarde kom van die Latynse word valere en die Frans valoir wat beteken dit wat werklik waardevol is. Ons maak ons keuses aan die hand van waardes en dit beinvloed daarom ons optrede direk. Byna alles om ons, wil ons kondisioneer om die volgende te glo:

Geluk lê daarin dat jy baie goeters “stuff”,moet hê.

Jy moet daarom so gou as moontlik, so veel as moontlik van die goeters bymekaar, Die liedjie se mos “I want it all and I want it now!”

Jou sekuriteit lê in geld, mag en status.

Ons word gebreinspoel om te glo “Ek is die belangrikste persoon en die sin van my lewe lê daarin dat my behoeftes bevredig moet word, en as ek gelukkig wil wees moet my behoeftes sommer nou bevredig word,

Ons glo ook later daar is vir elke pyn ‘n produk.

Veral die advertensiewese se taktiek is duidelik.  Hulle oortuig jou dat as jy net die produk of motor of klere sal koop , dan sal jy baie beter voel en sommer ook gewild wees.  Mense koop dan net om uit te vind dat die goed voel net ‘n kort rukkie hou, maar gou-gou is daar weer ‘n nuwe mode, ‘n beter produk en ‘n jonger model op die mark en dan moet jy weer koop om beter te voel.  So hou die leun aan en aan en hou mense aan om te koop en te koop om die Whole in the soul “ te probeer vul. Bruggemans waarsku dat TV advertensies selfs jou identiteit kan beïnvloed en verander.

Die boodskappe waaarmee die tydskrifte, televisie, internet, advertensiewese en flieks ons oorspoel, is dikwels direk in kontras met die waardes in die Skrif.

  • Teenoor Ek is die belangrikste persoon sê die Skrif dat God en my naaste die belangrikste is
  • Teenoor jaag na sukses staan die opdrag om te lewe met ‘n roeping en dankbaarheid
  • Teenoor die siening van die ander as my mededinger vir wie ek moet wen sien die Skrif die ander as my medeganger by wie ek moet inhaak.
  • Teenoor Image is alles staan integriteit
  • Teenoor vat en gryp sê die Skrif gee
  • Teenoor selfhandhawing staan diens
  • Teenoor onmiddelikke bevrediging van behoeftes staan selfbeheersing
  • Teenoor mag en status nederigheid en
  • Teenoor prestasie,  genade.

Dit is so moeilik om tussen al die stemme te kan onderskei:  In Fil 1: 9 skryf  Paulus dan : Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom..

Ag Heer ons sukkel om altyd die dinge waarop dit werklik aankom te kan onderskei, want dit wat die wêreld so aantreklik vir ons opdis, word byna ongemerk deel van ons. Help ons dat ons al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons die dinge wat werklik ewigheiswaarde het, sal kan onderskei.

RSG Aandmeditasies soos gereël deur die Morele Ondersteuningsgroep van Communitas aangebied deur Jeanette de Klerk

Bookmark and Share

Tags: