Leierskap

Leierskap

Leierskap vir nuwe werklikhede

Leierskap RSS Feed
 
 
 
 

Leierskap IS dissipelskap!

Ek het die afgelope tyd baie gewonder wat is aan die skuif in ons benadering tot leierskap in die plaaslike gemeente. Hoe lyk leierskap in die plaaslike gemeente? Hoe lyk leierskap anders vandat ons kerkrade verklein?

Ons kerk se storie loop ietwat anders as dié van Jesus en sy dissipels. Sonder dat ons dit sekerlik bedoel het, het ons organisasies se strukture van leierskap begin naloop. Dit kan ook nie veel anders nie, want die tipe leierskap wat gewillig was, is diegene wat in die ander organisasies ook die leiding geneem het. Omdat kerkleiers verantwoordelik voel vir elkeen wat by hulle geloofsgemeenskap betrokke raak, is strukture ontwikkel wat mense op groot skaal kan betrokke hou. Deel hiervan is natuurlik ook om die inkomste te bly waarborg wat groot geboue en salarisse en projekte in stand kan hou. Dié soort leierskap is nie noodwendig sleg of onvanpas nie, maar êrens kan ons die hart van leierskap soos Jesus dit bedoel het, verloor.

Daarom wil ek dié stelling maak: Leierskap soos Jesus dit bedoel het, IS DISSIPELSKAP. Ek reken ons moet meer tyd en energie daarin belê om gelowiges te leer om weer dissipelskap op te neem. Ons het wonderlike lidmate gevorm, maar swak gevaar om dissipelskap te leer. Die krake wys al hoe meer, maar gelukkig neem die hunkering na hierdie primêre leierskap al hoe meer toe. Kom ons neem Jesus se opdrag weer radikaal ernstig op: “Gaan dan heen en maak die mense my dissipels…”

Enkele gedagtes:

1. Leierskap is Jesus-gesentreerd. Die andersheid van geestelike leierskap lê in die Een wat ons roep om Sy dissipels te wees. Hoe meer ons gelowiges kan help om IN JESUS te bly, hoe meer gaan hulle God-momente raaksien en aangryp. Dit haal die druk af van die predikant as “performer” wat mense trek, en help elkeen verstaan ons is saam in die beweging om die Koninkryk te laat kom.

2. Leierskap is INVLOED. Elkeen wat ‘n dissipel is, oefen invloed uit. Dis leierskap. Ons sal mense minder moet laat stres oor of hulle leiers is al dan nie, en meer daarvan maak om hulle te leer hulle ís dissipels. Daarom is karakter en integriteit so belangrik. Ons sal ons lidmate baie help as hulle leer om hulle geestelike lewe se krag te ontdek deur meer te wéés by die Een wat hulle bedien met genade en waarheid. En ja, ek hoef dit seker nie te sê nie – dit begin by jouself en jou verhouding en tyd saam met Jesus.

3. Leierskap is roeping. Hoe meer ons gelowiges laat onthou WAAROM, des te meer gaan ons die vrug beleef van begeesterde dissipels wat ‘n van-binne-geïnspireerde doel vir hulle lewe ontdek. Ons is moeg om mense aan te vuur, terwyl die krag van die Heilige Gees self beskikbaar is. Wanneer ons ons roeping verloor, val ons terug op leierskapsgewoontes wat nie strook met wat Jesus ons leer nie – soos om magspeletjies te speel.

4. Leierskap is SPANWERK. Ons leer by Jesus dat Hy met ‘n span mense werk en in hulle lewens inbou. Ons kan nie met almal werk nie. Ons het eenvoudig nie daardie kapasiteit nie. Het jy al gedink watter positiewe effek dit op volhoubare bediening gaan hê as jy 80% van jou tyd bestee aan dié 20% mense van die gemeente wat reeds beGEESterd is? Jy is nie die een wat die span bymekaarmaak nie. Jesus het hulle rééds gekies – gaan hoor by Hom wie is in.

Dis vakansietyd. Ek hoop jy gaan hierdie tyd kan gebruik om weer net dissipel te wees. Leier sonder titel. Soek weer daardie hunkering in jou siel op om een met Jesus te wees. Maak jou lêtyd ‘n indommeling in die belewenis van Jesus se teenwoordigheid. Maak jou sit en staar na niks tyd ‘n dankie-tyd om net saam met Hom te wees. Maak jou gluur in die vuur oomblikke passievolle herinneringtyd aan die tye toe jy sy heilige Teenwoordigheid so intens beleef het.

Mag jy in hierdie Christustyd beleef hoekom jy Jesus lief het. En dissipels wil maak.

Bookmark and Share

Hoe skep leiers ‘n kultuur van vertroue?

In ‘n kultuur van vertroue gebeur alles vinniger. In ‘n kultuur van wantroue is daar agterdog, moet oor alles weer gepraat word, die verlede word kort-kort afgestof, en die toekoms is onseker.

As daar een aspek van leierskap is waaraan tans hard gewerk moet word, is dit die skep van vertroue. Dis dié een aspek wat die eenheid in die kerk kan maak of breek, en die integriteitspad en pas van ons land bepaal. As ons dit kan regkry om mekaar ten volle te vertrou, ontsluit dit ongekende potensiaal!
In die besigheidswêreld het die legendariese Jack Welch, vorige CEO van General Electric, vertroue eenvoudig opgesom: “Jy weet dit as jy dit voel.”

In ‘n organisasie waar vertroue heers, lees mense nie verborge agendas in mekaar se woorde nie. Mense vertrou dat elkeen die ander se beste belange sal dien. Bestuur is meer vloeiend en leiers hoef nie oor te gaan tot buitensporige beheer-en kontrolemaatreëls nie.

Hoe bring ons so ‘n kultuur?

Leef ‘n gedeelde roeping. Wanneer roeping en waardes die eerste en laaste woord spreek, word jou eie emosies nie die springplank vir chaos nie. Spreuke 28:26: Wie op homself vertrou, is ’n dwaas; wie hom deur wysheid (lees roeping) laat lei, is veilig.

Besluit om te vertrou. Besluit om te alle tye die beste van die ander persoon te glo. Mense word wat jy van hulle verwag. Mense  moet weet jy sal hulle rug toemaak.

As jy wil vermy, praat. Soms voel jy aan alles is nie pluis nie, maar jy het net nie die energie om dit te hanteer nie. Fout! Dit haal jou gewoonlik later soos ‘n tornado in. As jy daardie “gevoel” kry, praat. “Verbeel ek my, maar dit voel…?”

Praat reguit. Vra vir die feite. Sê hoe jy dit verwag. Sit dinge in perspektief. Vra om verskoning indien nodig. Praat die waarheid.

Luister. Probeer werklik verstaan, voordat jy probeer diagnoseer of voorskryf.

Bly respekvol. Moenie toelaat dat die gevoel van wantroue jou respek vir die ander persoon laat verloor nie. Wantroue is nie ‘n lisensie om in iemand se karakter te klim nie.

Maatskappye  wat die pad van vertroue loop, is bereid om ‘n geld-terug-waarborg te gee. Geestelike leiers moet die pad van “Ek is wat Ek is” soos hulle Vader loop. Nie net ons eie lewe en integriteit is op die spel nie, maar die lewe en integriteit van die Een wat sy lewe vir ons geoffer het. Ek sien op die internet Michael Frost en Alan Hirsch se nuutste boek is “reJesus – A Wild Messiah for a Missional Church.” Vertroue beteken iemand sien Jesus in my en kan saam met my die pad verder loop – soos met Jesus. Dis tyd om radikaal te reTrust!

Bookmark and Share

Nog lief vir wat jy doen?

Is jy nog lief vir wat jy doen?

Geestelike leiers wat hulle liefde en passie vir die gemeente verloor, is besig om te ontspoor.

Dan Reiland skryf in The Pastor’s Coach (www.INJOY.com):

“So do you still love what you do? Church work can be rough. You serve people who think you work one day a week and have no idea you work 60 or more hours every week! The same people who fuss at you to take a day off, fuss at you if you try to take a day off on the day they want you for something. Living out those tensions isn’t easy, especially in smaller churches. You’ve got to love what you do to stay in the game.

You must also know where you are going to love what you do. I don’t think I’ve ever met a leader who is spinning their wheels without direction who loves what they do. On the other hand, I know many leaders in difficult and stressful situations who absolutely love what they do because they know where they want to go. It makes such a big difference. There are moments when you may not love what you do, but you can always be doing what you love. “

Is jy nog lief vir wat jy doen? En hoekom jy dit doen?

Bookmark and Share

Seisoene in leierskap

Een van dae is dit weer lente. ‘n Tyd van nuwe groei en ontsluiting van potensiaal.

Maar al die geestelike leiers voel nie so nie….

Omdat geestelike leiers tans heelwat langer in hulle gemeenskappe bly, sien medegelowiges jou seisoene raak. Jy kan dit nie werklik wegsteek nie. Daniel Goleman het gesê dat ons emosies ons verklap. Selfs op onbewuste vlak tel mense jou emosionele seine op.

Die implikasie is dat mense gaan ervaar jy is “af” – en hoe langer jy “af’ voel, hoe meer val dit op. Kerkraadslede kom en gaan volgens hulle termyn, maar jy is daar vir ‘n langer termyn. Dit beteken gemeentes sal moet leer om saam te leef met die feit dat hulle geestelike leier dalk in ‘n herfs- of winterseisoen is. Hulle sal moet leer om genade te betoon en spanleierskap op te tel. En die geestelike leier sal moet leer om die seisoene te lees en eerlik oor te gee aan ander leiers wanneer nodig. Geestelike leierskap sluit altyd die gemeenskap van gelowiges in sodat ons op nuwe maniere sal moet leer om mekaar te verduur en begelei in ons “af”-tye.

Daar is ‘n verskil tussen produktiwiteit, en die proses van geestelike verdieping. Jy kan baie produktief wees, sonder geestelike diepte. Diensverhoudinge sal mooi moet let op die verskil en ander vrae en verantwoordelikhede moet stel aan hulle geestelike leier as wat jy aan ‘n CEO van ‘n maatskappy stel. Anders sit ons met ‘n stelsel van leiers wat alles volgens die boek van leierskap in die samelewing doen, maar min toon van die leierskap van die Boek van God.

Hier is ‘n paar gedagtes om jou seisoene te gebruik vir groei:

Herfs: Oorgangstyd. Pragtige kleure, maar blare word afgegooi aan die einde van ‘n suksesvolle somerseisoen. Die fokus is op eenvoud vir oorlewing, geen ekstra bagasie kan hou in die komende winter nie. Kyk wat jy kan voltooi, of kan delegeer. Maak minder. Werk met die formule van “less is more”. Moenie nog goed aanpak om op te maak vir die somer wat verbygaan nie. Herfs breek gewoonlik aan nadat jy die “wen” of doelwit bereik het. Dis soos ‘n post-doktorale depressie. Vier en sê dankie vir wat in die somer bereik is.

Winter: Refleksie. Dis laaglê tyd. Keer ‘n bietjie in jouself en rus in jou verhouding in God. Rus baie. Slaap genoeg. Reduseer jou kernwaardes tot drie (in die lente en somer het dit ‘n geneigdheid om meer te word soos jou verantwoordelikhede toeneem). Lees na en dink oor jou roeping. Herformuleer jou roeping.  Kuier gereeld by vriende – veral ook dié buite jou werksomgewing. Belê baie tyd in jou familie en gesin. Moenie vreeslik resultate najaag nie. “Wees” net. Stap of draf lang ente. Bou jou reserwes weer op. Fliek, Gaan staan vir ‘n uur in ‘n boekwinkel en blaai deur die tipe boeke wat jy nooit andersins sou lees nie. Absorbeer indrukke, maar moet nog nie in ‘n produseer modus oorgaan nie.

Lente: Visie en groei. Formuleer jou visie vir jou leierskap vir die volgende termyn. Kry die span byeen en formuleer visie vir die volgende tyd. Formuleer duidelik en eenvoudig wat bereik wil word. Stel doelwitte vir jouself, die geloofsgemeenskap, geestelike groei. Woon kursusse by wat sal help om die (nuwe) visie uit te leef.  Verkondig die visie aan almal en kry “inkoop”.  Moenie die goeie gewoontes verloor wat jy in die winter aangeleer het nie. Belê in nuwe verhoudings. Bemagtig en bemoedig mense. Gee eienaarskap af aan ander. Jy is die draer van die visie en lentekrag – hou jouself fiks en vrolik.

Somer: Vrugdra en volhard. Vier klein en groot suksesse soos dit bereik word. Belyn al die inisiatiewe met die roeping. Elimineer wat nie gaan vrug dra nie. Gee maksimale energie en momentum aan wat groei wys. Sien die pas as ‘n aantal honderdmeter wedlope, met rusperiodes tussen-in, sodat dit altesaam ‘n lang afstand vorm. Kry gereeld terugvoer en maak dadelik aanpassings om by die visie te bly. Hou tendense dop. Leef hoopvolle leierskap uit veral in die tye wanneer die somerhitte erg is. Omring jouself met mentors en ondersteuners. Gee gereeld en publiek erkenning aan elkeen wat bydra tot die visie en groei.

Niemand weet hoe lank ‘n seisoen gaan duur nie. Bly bid om die wysheid en insig om seisoene te lees en leef (vgl Jak 1:5; 3:17).

Bookmark and Share

Tien Swak Gewoontes van Swak Leiers

Die Harvard Business Review het in Junie tien karaktertrekke van swak leierskap uitgelig:

1. Gebrekkige energie en entoesiasme

2. Aanvaar hulle eie middelmatige prestasie

3. Kort duidelike visie en rigting

4. Het swak oordeelsvermoë

5. Werk nie saam nie

6. Dek nie hulle woorde met dade nie

7. Weerstaan nuwe idees

8. Leer nie uit mislukkings nie

9. Kort interpersoonlike vaardighede

10. Ontwikkel nie ander mense nie

Lees hier vir die Engelse weergawe

Bookmark and Share

GEESTELIKE LEIERS… bely, beleef en bly in Jesus!

Waar roeping, spiritualiteit en leierskap van predikante en geestelike leiers ontmagtig word, is een van die hoofredes dat hulle verhouding met Jesus êrens langs die pad verflou. Verskillende redes kan hiervoor aangevoer word:

* ek bestee nie genoeg tyd in my verhouding met Hom nie

* die groeiende aansprake op my tyd omrede ek by te veel goed betrokke raak

* onduidelike gemeenteroeping sodat ek vir alles moet “ja” sê

* onduidelike persoonlike roeping sodat ek voel ek moet by alles uitkom

* onduidelike identiteit as geestelike leier sodat ek in al hoe meer bestuursfunksies opgesuig word

* onbehoorlike bestuur van my energie sodat ek nie krag het as ek die tyd het nie

* onvoldoende refleksie-tyd sodat ek nie in wysheid optree nie

Onlangs sien ek Leonard Sweet en Frank Viola skryf dat ons as Christene die evangelie oor so baie goed gemaak het – behalwe Jesus. In hulle JESUS MANIFESTO for the 21st Century Church skryf hulle “Jesus Christ is the gravitational pull that brings everything together and gives them significance, reality and meaning.”

Lees meer in hierdie Magna Carta for Restoring the Supremacy of Jesus Christ

Bookmark and Share

GEESTELIKE LEIERS…betaal die PRYS

Almal hou van “bargains”. Dis lekker om vir iemand te vertel dat jy iets gekry het teen goedkoper as die aanvanklike prys. Party mense ry selfs kilometers agter hulle bargains aan. ‘n Vriend merk eendag op: ’n Mens kan jou bankrot koop aan bargains!

 

’n Groot deel van ons rol as geestelike leiers is om mense te help met verandering. Ons wil immers mense help om te verstaan waarmee God besig is, en hulle help om daarby in te val. Ons wil hulle help met geestelike groei. Dis alles verandering. Waarmee ons nie altyd rekening hou nie, is die prys wat ons self moet betaal. In die proses om ander te help verander, gebeur daar verandering in onsself ook. Ook ons moet verander om by die nuwe werklikheid te pas. Ons moet groei in leierskap om die volgende vlak te hanteer. En dit het ’n prys. Jesus het gewaarsku:

 

“Wie van julle wat ’n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf.” (Lukas 14:28-29)

 

Geestelike leiers moet waak om nie die verkeerde prys te betaal nie.

 

Ons betaal die verkeerde prys as ons:

* ons families verwaarloos

* gemeentes wil verander om by óns ambisie te pas

* tevrede is om preke te maak met slegs ’n akademiese uitleg van die Skrif sonder om sélf God se stem te hoor

* nie genoeg tyd aan gebed voor besluite bestee nie

* ons effektiwiteit net meet aan ekonomiese produktiwiteit sonder om rekening te hou van die andersoortige aard van gééstelike ekonomie

* kennis gelykstel aan wysheid

 

Die droom-deel van verandering is gratis, sê die bekende John Maxwell. Maar die reis is nie. Lees hier wat hy sê oor The Cost Question.

Bookmark and Share

GEESTELIKE LEIERS…en die FILTER VAN MIN TYD

Hoe oordeel jy of jy en die geloofsgemeenskap met die regte goed besig is?

 

Vra die vraag: Sê nou maar ons het net een maand om te leef. Dertig dae.

 

Wat sal ons anders doen? Wat sal ons meer doen? Wat sal ons beter doen? Wat sal ons los?

 

Gedurende Pinkster het ek met hierdie vraag geloop. Dis die vraag waarmee Kerry Shook sy leierspan gehelp het om met die filter van dertig dae te worstel oor wat werklik belangrik is in hulle gemeente sowel as persoonlike lewe. Hulle moes joernaal hou oor watter keuses hulle maak.

 

Kerry en Chris, sy vrou, skryf daarna die topverkoper One Month to Live (reeds ook in Afrikaans vertaal) met die subtitel: Thirty days to a no-regrets life. Die hart van die boek is om vir dertig dae lank, een hoofstuk per dag, jou te motiveer om nie te wag vir “eendag” nie.

 

Die laaste aand van Pinkster vra ek vir die gemeente waar ek optree: Wat sal jy doen as jy weet jy het net dertig dae oor om te leef? Die eerste antwoord: ek sal my werk bedank. Iemand anders: ek sal toer. So wissel die antwoorde volgens elkeen se prioriteite. Na die tyd kom iemand na my aangestap: “Doktor, ek weet wat jy moet doen. Gaan bly by jou skoonma. Die dertig dae sal vir jou na ’n ewigheid voel!”

 

Gelukkig het ek nie só ’n skoonma nie. Kerry en Chris herinner in die boek aan die vier universele beginsels vir ’n lewe sonder verwyt:

*  Live Passionately living each day as if it were your last

* Love Completely showing others love that transcends and transforms

* Learn Humbly growing through your problems and pain

* Leave Boldlycreating a legacy that will impact generations

 

(Hulle webtuiste is hier)

Jy kan nogal die gemeente of kleingroep op so ’n reis neem. Veral omdat die Bybel ons herinner: Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ’n dief in die nag (1 Tessalonisense 5:2).

 

As jy weet van nog sulke interessante hulp vir leiers, stuur asseblief vir my jou indrukke sodat ons dit met ander kan deel.

Bookmark and Share

GEESTELIKE LEIERS…leef met AKSIOMAS

Toe Bill dit sê, besef ek onmiddellik dis wat effektiewe geestelike leiers doen. Hulle doen dit soms instinktief, meesal doelbewus. Hulle bestee die tyd om dit uit te dink en te verfyn, of hulle leen dit by ander. Dit gee dadelik koers aan ’n dooiepunt, help vordering in besluitneming, en fokus aan roeping en visie.

 

AKSIOMAS.

 

Volgens die HAT is aksioma: Bewering, grondstelling wat sonder bewys as waar aangeneem word, onbewysbare of vanselfsprekende waarheid.

 

Bill Hybels het gewag vir ’n onderhoud met die legendariese Generaal Colin Powell en lees deur ’n brosjure van Powell’s Principles. Terwyl hy dit lees, besef hy dis wat hy en ander leiers doen. Daaruit volg toe sy boek met die titel “Axiom: The language of leadership”.

 

So begin ek via die internet soek wat Bill, Powell en ander sê. Dis eenvoudige maar kragtige stellings waarmee jy jouself en jou span, leierskap en organisasie, gesin en gemeenskap, leiding gee. Jyself het ook ’n aantal wat jy gereeld gebruik. Die krag vir geestelike leiding lê veral daarin wanneer die aksioma die Bybelse waarheid onderstreep.

Enkeles van Bill Hybels (kry die opsomming van sy boek hier) –

 

Oor visie:

Visie lek. Ons kan Sondag die gemeente aanvuur met ’n visie om die wêreld te verander, maar teen Dinsdag het die meeste al vergeet hulle was Sondag in die kerk.

Vision: Paint the picture passionately. Visie is ‘n prentjie van die toekoms wat passie in mense produseer.

Make the Big Ask. As dit reg gedoen word, hou mense daarvan om uitgedaag te word om betekenisvolle dinge vir God te doen.

En oor spanwerk:

In building your team, focus on three simple Cs: character, competence, and chemistry

En kommunikasie:

No Eleventh-Hour Surprises, Please. Leiers wil liewer probleme hanteer terwyl dit nog klein is…

How are you doing… really? Aan die begin van die weeklikse leierskapbyeenkoms gee dit ‘n aanduiding van elkeen se emosionele stand van sake.

En aktiwiteit:

Doable hard versus destructive hard. As die span sien hulle begin bloei in die destruktiewe sin van die woord, moet hulle begin praat oor hulle bekommernis, verwagtinge, rolle en opdragte sodat hulle nie hulle siel, liggaam, familie en bediening oor die langtermyn vernietig nie.

Facts Are Your Friends. Vier keer per jaar neem die personeel ‘n dag om hulle bedieninge te evalueer. In die oggend verdeel hulle in klein groepe om die kerk se huidige effektiwiteit te meet in verskillende areas. Hulle rangskik effektiwiteit op ‘n skaal van 1 tot 10. In die middag probeer vind hulle innoverende en inspirerende maniere om elke nommer ten minste twee punte in die volgende ses maande te lig.
Brain Breaks. Elkeen het nodig om periodiek ‘n pouse te neem as jy in beplanning of probleemoplossing situasies is. Breek elke 60-90 minute vir vyftien minute om fisiek te strek, buitelug in te asem, en die verstandsturbines te laat afkoel.

En ‘n laaste een: Are We Still Having Fun?

 

Ons sal dit waardeer as jyself ‘n paar gee (met ‘n kort verduideliking) wat jou en jou span al baie gehelp het, of waarmee jy helderheid en fokus vir jouself bring. Dalk is dit die een waarmee jy vanjaar hanteer. Of vertel wat jy by iemand anders gehoor of oorgeneem het.

Bookmark and Share

GEESTELIKE LEIERS…BESTUUR OOK!

Mense is soms geneig om ‘n prentjie te vorm van ‘n geestelike leier wat soos die Lone Ranger as die held op die toneel verskyn en weer verdwyn.

In die werklikheid is daar mense by leierskap betrokke, asook die praktyk van ‘n organisasie. Hier moet geestelike leiers nie so vroom wees dat hulle die navorsing rondom effektiewe bestuur ignoreer nie. So ‘n tyd gelede het Marcus Buckingham die wêreld wakkergeskud met First, break all the rules. Een van sy ander titels Now , discover your strengths, het mense help verstaan dat hulle op hulle sterkpunte of talente moet fokus en nie so baie tyd bestee aan hulle swakpunte (nie-talente) nie. Dit kan nogal vir predikante baie beteken as hulleself en kerkrade verstaan dat jy nie in alles goed is nie. Spanwerk begin vorm waar ander ook hulle passie en gawes na die tafel bring en geleentheid kry om dit te ontwikkel.

Gallup het die sogenaamde Gallup Q12 ontwikkel uit al die navorsing (80 000 onderhoude in meer as 400 maatskappye) as die twaalf elemente van uitstekende bestuur met die oog op wat hulle “worker engagement” noem. Na my mening is dit die tipe goed waarop Diensverhoudinge ook moet let.

Hier volg 6 van die 12 vrae (dalk kan dit verklaar hoekom jy vasgeloop voel?)

  • Do you know what is expected of you at work?

  • Do you have the materials and equipment you need to do your work right?

  • At work, do you have the opportunity to do what you do best every day?

  • In the last seven days, have you received recognition or praise for doing good work?

  • Do you have a best friend at work?

  • In the last six months, has someone at work talked to you about your progress?

Bookmark and Share

Doel

HIERDIE BLOG HET GESKUIF NA COMMUNITAS.

Ons wil elkeen wat deel in die leierskapsreis in Jesus, begelei, bemagtig en bemoedig. Gesels saam - saam word ons beter!

Onlangse Bydraes

Onlangse kommentaar

Kalender

September 2010
M T W T F S S
« Dec    
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
27282930  

Argief

Bladsye

Admin

Blogroll

Skakels