Die boek
Maleagi kom waarskynlik uit die eerste helfte van die 5de eeu – kort voor Esra
en Nehemia se optrede – en reflekteer veral die Deuteronomistiese wet, eerder
as die Priesterkode wat deur Ezra na Palestina teruggebring is. Daarom draai
alles in Maleagi om die vervulling van verbondspligte.
Elizabeth
Achtemeier meen dat die boek deur 'n anonieme profeet geskryf is en dat dit in
die vorm van 'n hofgeding gegiet is. Aanvanklik is die Here die aangeklaagde.
Die Israeliete beskuldig hom van twee dinge: (1) U het ons nie liefgehad nie.
En (2) U voer nie u deel van die verbondspligte uit nie want U laat nie reg
geskied nie. Maar die rolle van aanklaer en aangeklaagde word gou omgeruil.
Want as die Here begin antwoord, is dit duidelik dat Hy onskuldig en dat Israel
skuldig is.
Ons teks se
plek in die boek Maleagi
In vele
opsigte is geloof om op God te wag. Dit is om uit te sien na 'n toekoms wat die
Here gaan bring. En dit is om in vertroue en met gehoorsaamheid te handel
ooreenkomstig hierdie verwagting. Die probleem is net dat God se tydskaal en
ons s'n nie eenders lyk nie. Juis daarom is die Bybel en die geskiedenis van
gelowiges ook deurspek van klagtes. Sommige is klagtes wat aan die Here vashou,
soos die klagte van Christus aan die kruis, toe Hy geroep het: "My God, my
God, waarom het U my verlaat?" Maar ander, soos hierdie klagte van die
Israeliete in Maleagi se tyd, is siniese en vyandige klagtes.
Hulle het
vol hoop teruggekeer uit die ballingskap. Daar was die wonderlike beloftes een
waarvan ons verlede week gelees en oordink het. Maar skynbaar was hulle nie net
op die wêreldtoneel nonentiteite nie; die Here het ook van hulle vergeet en
selfs die natuur was teen hulle. Maar die een vir wie hulle bo alles kwalik
neem, is Jahwe. Daarom begin die boek met aanklag teen Hom en sy liefde word
daarin in twyfel getrek.
In sy
antwoord wys Hy hulle daarop dat Hy hulle nog altyd liefgehad het. Hulle moet
maar net na die lotgevalle van die nasies om hulle kyk om te sien hoe goed Hy
vir Israel was in vergelyking met die ander. Edom is 'n voorbeeld. Hulle het
nie soos die Israeliete na hulle eie grondgebied teruggekeer nie. Die Here was
nog altyd vir Israel lief.
En tog het
hulle Hom beledig deur geen eerbied vir Hom te hê nie (1:6). Hulle het sommer
hulle swakste diere vir Hom geoffer en die priesters wie se verantwoordelikheid
dit was om die volk op te voed in die vrees van die Here, het nog erger
opgetree as die volk self. Dit was vir hulle net moeite om die Here te dien. En
wat meer is, die volk se ontrou teenoor God het ook ontrou teenoor mekaar
geword en veral die huwelik bedreig. Deur hulle ontrou en hulle egskeidings het
hulle die Here se heiligdom ontwy.
In
2:17-3:5, die teks vir hierdie Sondag se prediking, kondig die Here die oordeel
aan. Hulle wag op sy koms, en kla dat Hy nie handel nie. Maar Hy gaan skielik
kom in die persoon van sy engel. Die koms gaan nie vir hulle lekker wees nie.
Want in die lig van die verwording waaroor Hy reeds gekla het, sal Hy hulle
moet kom suiwer, en die wat verdruk word, moet kom red uit hulle hande.
In die
gedeeltes wat volg, word dit duidelik dat Hy hulle ten spyte van alles, tog nie
opgegee het nie. Maar hulle moet verander. Hulle moet anders oor Hom dink en
besef dat Hy hulle liefhet en vir hulle wil sorg. Maar hulle moet hulle eers
bekeer. Dan sal hulle agterkom dat dit
die moeite werd is om Hom te dien, soos 'n kind 'n pa dien en nie soos iemand
wat vir loon werk nie. En die wat Hom liefhet sal vryword en bokspring soos
vetgemaakte kalwers.
Daar
bestaan weinig twyfel oor die omvang van die perikoop waarvan Maleagi 3:1-5 'n
onderdeel is. Dié perikoop begin reeds by 2:17. In vers 17 is daar 'n nuwe
aanklag teen die volk. Hulle maak Jahwe moeg met hulle woorde. Die Lewende
Bybel vertaal met: "Die Here is moeg vir julle stories." Die profeet praat met die ‘openbare mening’.
Die volk
het reeds 'n geruime tyd gelede uit die ballingskap teruggekeer. En hulle het
verwag dat die groot beloftes van God (waaroor ons onder andere verlede week
gelees het) in vervulling sal gaan. Maar dit het algaande duidelik geword dat
die beloftes oor die koning wat kom nie waar word nie. Hulle leef nog steeds
onder vreemde juk. 'n Depressiewe vermoeidheid het hulle beetgepak. En iets wat
net vaagweg in hulle gedagtes bestaan het, het al meer deel van hulle openlike
pratery geword: Maak dit nog sin om aan die beloftes van die Here vas te hou.
En boonop lyk dit nie asof Hy hom regtig steur aan dit wat aan die gang is in
die land nie. Mense vang allerhande goed aan en kom maklik daarmee weg. Dit lyk
asof die Here deur niks te doen nie, dit nog goedkeur ook. Hy hou van sulke
mense. En hulle vra: "Waar is die God wat reg moet laat geskied?” Waar is die
God wat die vermeteles moet verneder en die nederiges moet verhoog?
Hulle
twyfel nie daaraan dat God leef nie. Hulle twyfel egter daaraan dat Hy die wil
of die begeerte het om iets te doen aan die misdaad in hulle land. Hulle begin
selfs twyfel aan sy integriteit.
Dít maak
die Here moeg. En nou, in 3:1-5, laat die profeet Jahwe self aan die woord kom:
Die Here na wie hulle soek, sal skielik na sy tempel toe kom, en Hy stuur sy
boodskapper vooruit om die pad reg te maak.
Die gedagte
dat 'n boodskapper vooruit die Here se pad moet regmaak, kom net in die Maleagi
boek voor. Hierdie voorstelling berus op 'n oosterse gebruik om ‘n boodskapper
voor 'n besoekende koning uit te stuur. Hy moes almal langs die pad en in die
stede en dorpe waarsku dat die koning aan die kom is. Hy moes ook sorg dat alle
hindernisse uit die weg geruim is.
Die
moeilike vraag om te beantwoord, is of
die wegbereider waarvan die Here hier praat, 'n hemelse of menslike figuur is,
en of dit 'n kollektiewe of individuele figuur is. Dan ook nog of dit 'n
historiese of toekomstige figuur is.
Sommige uitleggers dink aan 'n engel. Sommige aan 'n reeks boodskappers
waarvan Johannes die Doper die laaste is. Ander dink weer aan 'n profeet of 'n
Elia redivivus. Dit is nie regtig moontlik om uit te maak presies hoe Maleagi
die boodskapper vir homself voorgestel het nie. Dit is ook nie nodig nie. Die
nuwe Testament het die boodskapper as Johannes die Doper verstaan. Maar J
Ridderbos het in deel IV van sy reeks Het
Godswoord der Profeten, bladsy 313 –314 geskryf dat ons moet reken met 'n
belofte wat nie uitgeput raak voor die finale koms van die Here nie. Die
boodskapper mag slaan op iemand wat nog voor Johannes opgetree het. En na
Johannes is daar 'n hele reeks boodskappers – predikers van die Woord van God –
wat as voorlopers die (weder)koms van die Here aankondig. So word die volk van
die Here dan elke Sondag voorberei daarop dat Hy skielik kan kom.
Maar die
boodskapper is nie die belangrike een nie. Die volle lig van die teks val op
Jahwe wat kom. In 2:17 het die volk gevra: Waar is die God van die reg dan? En
nou belowe Hy dat hulle 'n onverwagse antwoord op die vraag gaan kry. Hy gaan
skielik na sy tempel toe kom. Hy word ook hierdie die Verbondsengel genoem.
Sommige
dink dat die benaming Verbondsengel 'n verwysing is na die geloof wat in Israel
bestaan het, dat die Here die verbond by Sinaï deur 'n engel bemiddel het.
Vanuit die Nuwe Testament weet ons dat hierdie belofte in Christus vervul is.
Maar dit is waarskynlik nie soos Maleagi self dit verstaan het nie. Die beste
moontlikheid is om die Engel in die nouste verband met die Here self te sien.
Die Engel van die Here was 'n persoonlike selfmanifestasie van Jahwe. Dalk was
dit net 'n manier om van sy verskyning as sodanig te praat. Dit is tog uit die
geheel duidelik dat dit Hy self is wat na die tempel toe kom. En Hy kom tempel
toe omdat dit vir Hom gaan om die verhouding wat herstel moet word.
Die
verhouding kan slegs herstel word, as die sy volk deur die gerig louter en
suiwer. Die volk moet gereinig word. As dit voltrek is sal hulle offers bring
wat Hom behaag. Dit sal offers wees wat in ooreenstemming met die voorskrifte
van die wet gebring is. En so sal die gemeenskap met God weer moontlik wees.
Die gebeure
in vers 5 volg nie kronologies op die herstelde offerdiens in vers 4 nie. Dit
is deel van die oordeel oor die volk. Hulle het na Hom gevra en gedink die
ander mense is sondaars. Maar as Hy na hulle toe kom sal hulle ontdek dat hy
oor hulle hele volkslewe oordeel en húlle as sondaars sien. Die kwaliteit van
hulle lewens is heeltemal in stryd met dit wat Hy van hulle verwag. Hulle is
sondaars voor Hom. Hy rig hom tot enkele kategorieë van sondaars: dié wat hulle
met toordery ophou; die egbrekers; dié wat vals ede aflê; dié wat die dagloner te
kort doen; die wat die weduwee en die weeskind veronreg; en die wat die
vreemdeling verdring. Opsommend kan hulle genoem word: dié wat nie vir die Here
eerbied het nie. Dit is die samevatting van al hierdie sonde. Wat opvallend is,
is dat dit meesal sonde is wat op sosiale gebied gepleeg word. Omdat hulle God
nie met hulle hele hart liefhet nie, het hulle hulle naaste ook nie so lief
soos hulleself nie.
Die Dag van
die Here het in Christus aangebreek. Maar in plaas daarvan dat Hy die volk
uitgewis het, het Hy sy Seun in hulle plek laat sterf. Tog is die belofte nie
uitvervul met die koms, lyding, sterwe en opstanding van Christus nie. Daaroor
in die volgende gedeelte meer.
In hierdie
paragraaf wil ek graag oor die gerig grootliks aansluit by H Berkhof. Hy het in
sy dogmatiek, Christelijk Geloof, op
so 'n wyse oor die gerig geskryf dat dit jou dwing om daaraan 'n groter plek in
jou teologiese denke te gee, as wat ons normaalweg doen.
Ons het
immers uit reaksie teen 'n soort oordeelsdag-prediking wat die genade van God
in Christus vir alle praktiese doeleindes ontken het, ook al hoe meer begin
nalaat om oor die gerig en die oordeel te preek. Maar daarmee het ons 'n soort
genadeprediking gekry wat tog op 'n manier die erns van die sonde ontken. God word
dan tot Iemand verander van wie daar gesê kan word: "Vir die Here is almal
wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” – Die Bybel praat anders oor
God.
"Ons
weet", skryf Berkhof, "dat die Gees van Christus wat mense in hier beslag neem en gedeeltelik
verander, ginds die proses sal
voltooi." Hy gaan voort om te verduidelik dat ons ons hierdie oorgang na
die nuwe lewe in die hiernamaals as te plotseling voorstel, maar so hou ons nie
rekening met die noue samehang wat tussen die lewe aan beide kante van die dood
bestaan nie. Want daar is so 'n samehang. Die Nuwe Testament praat immers oor
die voltooiing as vrug, oes en loon van wat in die aardse lewe gesaai en gestry
word. Hierdie samehang het in die eerste plek 'n negatiewe gevolg. Ons sal
eendag in die lig van God se teenwoordigheid verskyn. In hierdie lig sal ons
ontdek dat ons skuldig is en ontrou was aan sy verbond. Hierdie ontdekking sal
op 'n manier gebeur wat nou vir ons totaal en al onmoontlik is. Dit is die
gerig. Ons moet daardeur gaan. Ons sal nooit die vreugde van die vernuwing ten
volle kan smaak as dit nie gepaard gaan met 'n besef van alles wat in ons
lewens in die pad daarvan gestaan het nie.
Die
radikale vernuwing volg dus nie ‘on-middel-lik’ op ons aardse lewe nie, maar
word deur die gerig bemiddel. Die gerig oorbrug die kloof. Slegs langs die weg
van die radikale beskaming ken ons onsself as diegene wat ons vroeër was.
Alleen so kan ons die radikale vernuwing as verrassende geskenk van God
ontvang.
Die
oorweging van hierdie gedagtes kan ons daarvoor bewaar dat ons die voltooiing
allereers as 'n vervulling van ons eie aardse verlangens sal sien. Dit gaan nie
om ons veiligheid nie, maar om ons heiligheid. Alleen deur 'n ingrypende
operasie heen word ons geskik vir 'n wêreld waarin God alles in almal is en
waarin Hy ons verlangens vervul wat Hý in ons gelê het.
Die verdere
uitwerking van hierdie gedagtes met 'n nadruk op ons verantwoordelikheid in
Suid-Afrika is in die preek hieronder vervat.
Daar was
net na 1994 'n groot verligting onder inwoners van ons land. Ons het almal moed
geskep. Nóu sal dit beter gaan. Ons sal nie meer bomme hê nie. Ons sal
ekonomies groei. Ons sal 'n vesoende nasie wees. Ons gaan nuut begin en ons
gaan voorspoedig wees. Só het ons geglo.
Maar intussen
het misdaad meer geword. En die bomme in die Kaap het ook weer begin. Hierdie
keer net 'n nuwe groep wat ontevrede is. En die stroompie emigrante het begin
groei en groei. En dit is asof die hoop stadig aan die verdwyn is. Luister maar
hoe praat mense. Dit voel of ons al vinniger teen 'n steil krans aan die afgly
is, die dieptes in. Christene bid, maar dit lyk nie of die Here help nie.
Elke tyd
het sy eie pyne en nie twee tye is presies eenders nie, maar in die profeet wie
se boek ons vanoggend gelees het, se tyd was mense ook al hoe meer sonder hoop.
Na hulle uit die ballingskap teruggekeer het, het hulle groot verwagtinge
gekoester van die Here. Hy sou sy beloftes uitvoer. Hulle sou weer 'n groot en
voorspoedige volk word. Hulle sou weer 'n tempel hê wat mooi en indrukwekkend
lyk. En ons het self verlede week gelees van belofte dat daar weer 'n koning
soos Dawid gaan wees. Maar hierdie beloftes het net beloftes gebly. Want die
moeilikheid is net: Omdat die dood nie oor die Here se skouer loer soos oor ons
s'n nie, is Hy nie vervaard aan die storm deur die lewe om alles waarmee Hy
vandag eers begin, gister al te wil klaarmaak nie. Hy is die ewige en as 'n
mens met Hom te make het, moet jy kan wag. Om te wag op die Here is om te hoop
en te glo. 'n Mens kan dit ook andersom sê: Om te hoop en te glo is om te wag
op die Here.
Dit is
nooit maklik nie. En Israel kon dit nie goed regkry nie. Toe word hulle sinies
veral oor misdaad: "Die Here hou daarvan dat hier sulke nare dinge aan die
gang is in ons land!" het hulle vir mekaar gesê. Hy hou seker van mense
wat kwaad doen en korrup is. Daarom kom Hy nie om in te gryp nie. Die
lewensgevoel in Israel het een van moedeloosheid geword.
As 'n mens
hoop verloor beledig jy vir God. Maar eintlik het die belediging al vroeër
begin. Want die verhouding met Hom het reeds skeef geloop voordat die
moedeloosheid oormag oor hulle gekry het. Dit het skeef geloop oor die ganse
terrein van hulle lewens. En as dit
eers moeite word om die Here te dien en duur word om dankoffer te gee, is jou
hart al so ver van Hom af dat hoop op Hom onmoontlik geword het. Dit is dan
wanneer die ontrouheid waaroor die profeet in die vorige hoofstuk kla jou lewe
begin kenmerk en jy sommer die fout vir alles wat verkeerd is, by die Here
soek.
Op hierdie aanklag
van die volk antwoord die Here self. Hy kondig self aan dat Hy kom. Maar Hy
doen dit op so 'n manier dat hulle nie hulle hande kan vryf en vol vreugde vir
hulle kan voorstel hoe Hy nou uiteindelik die slegte mense op hulle plek gaan
sit nie. Want in die Here se aankondiging word dit duidelik dat Hy húlle as die
slegte mense beskou vir wie die dag van die Here gaan aanbreek. As Hy kom om die boosheid uit te wis, kan Hy
hulle nie oorslaan nie. Hulle wat kla dat kwaaddoeners maar rustig kan
voortgaan sonder om gestraf te word, besef net nie dat as hy die kwaad elke
keer moet straf en moet ingryp sal daar nie een van hulle oorbly nie. As Hy kom
om die land en sy volk te suiwer, sal hy selfs nie by die slegte mense begin
nie, maar by die priesters. Hy gaan hulle straf oor die totale gebrek aan
respek vir hom waarmee hulle hulle godsdienstige pligte nakom. Hy is kwaad oor
die manier waarop sy kinders teenoor mekaar ontrou is. Hy gaan hulle straf oor
die manier waarop hulle met die huwelik mors. Want so vernietig hulle die
kinders en die land se toekoms. Hoe moet die kinders by ontroue ouers leer om
respek vir die Here te hê? Die kans is groot dat hulle ook slegte mense word.
Dit gaan
ook nie net sleg met die huweliks- en gesinslewe nie. Dit gaan ook sleg met die
arm mense en die magteloses in hulle samelewing. Die Here het verwag dat hulle
sal omsien na diesulkes. Maar al wat hulle gedoen het was om net vir hulleself
te sorg en te kla omdat die Here dit nie beter met hulle laat gaan nie.
"As ek kom", sê die Here, "gaan dit nie vir julle Kersfees wees
nie."
Die ellende
is dat dit 'n prentjie van ons is. Ons kla ons morsdood oor die misdaad en
slaan die hande saam oor die korrupsie. Ons wonder of die Here nie gaan ingryp
nie. Intussen is ons eie huwelike nie soos Hy dit wil hê nie. Ons beursies is
toe. Ons sorg eers vir onsself en as daar iets oorbly, gee ons 'n
dankoffertjie. Ons word kwaad oor die arm mense en die bedelaars. Ons kwel ons
nie oor die wat nie vir hulleself kan sorg nie. Ons leef in ons self gekeer,
soos die mense in Maleagi se tyd.
Hoe ernstig
die Here oor ons sonde voel, word duidelik as ons dink aan hoe hierdie profesie
die eerste keer vervul is. As die Here toe moes straf, sou daar niemand oorbly
nie. Uit genade het Hy toe sy eie seun gestraf in die plek van die volk wat sy
straf deur die eeue heen verdien het, ook in ons plek. As ons wil weet hoe ernstig Hy voel, moet
ons na die kruis kyk.
Maar die
Bybel vertel hierdie verhaal nie vir ons om ons net bly te maak dat Jesus in
ons plek gesterf het nie. Hy vertel dit vir ons om ons te waarsku. Nie te
waarsku dat ons verlore sal gaan nie – want ons kan regtig juig en roep: daar
is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus is nie. Maar vergifnis
laat ook nie die dinge wat ons doen in die niet verdwyn nie. Daarom is daar
altyd 'n gerig wanneer God kom. Dit sal ook so wees as Christus weer kom.
Met sy koms
sal die boeke geopen moet word. Want die boosheid en die kwaad wat ons doen kan
tog nie in ons herinneringe saam met ons op die nuwe aarde voortbestaan nie.
Ons sal die Here in die oë moet kyk daaroor. Dit is soos amnestie. As jy
amnestie ontvang moet dit minstens duidelik wees waarvoor jy dit ontvang.
Daarom sê die Nederlandse teoloog H Berkhof, word ons gered deur die beskaming
heen.
Dit is nie
om ons te laat vrees nie. Dit is immers die een wat vir ons gesterf het wat
kom. Hy het ons lief. Maar die sekerheid dat ons die ewige lewe het, gee ons
nie 'n lisensie om te leef asof ons alles kan doen wat ons wil sonder dat die
Here ons iewers vorentoe daarmee gaan konfronteer nie. Veral die onreg wat ons
aan mekaar en aan ander doen.
Daarom roep
die wagtyd vir Kersfees ons op tot groter gehoorsaamheid. Tog groter omgee vir
ander. Tot groter eerbied vir die Here.