17 OKTOBER 2004

NEGENTIENDE SONDAG IN KONINGKRYKSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Habakuk 3:1-19

Ander tekste: Jeremia 31:27-34; Psalm 121; 2 Timoteus 3:14-4:5; Lukas 18:1-8

Inleiding

Gemeentelede ken waarskynlik Habakuk 3 as gevolg van die lied oor die vyeboom. 'n Jubellied te midde van slegte omstandighede (Hab. 3:17-19). Die doel van die liturgie sal dan juis wees om die erediensganger hiertoe te begelei, deur middel van 'n ervaring van God se grootheid.

Die liturgiese aanwysings ("sela" en die verwysing daarna as 'n gebed) verraai die feit dat hierdie hoofstuk wel 'n liturgiese funksie gehad het. Die duidelikste liturgiese temas is waarskynlik die gebed (Hab. 3:2), die epifanie-beskrywing (Hab. 3:3-15) en dan die geloofsverklaring (Hab. 3:1719). Juis hierdie teofanie-beskrywing kan benut word om mense in 'n situasie van vertwyfeling, te help om God opnuut raak te sien. In die erediens sou 'n voorganger dit ook kon benut om dit vir die postmoderne mens, met sy behoefte aan ervaring, 'n grootse belewing te maak. In hierdie liturgiese voorstel, word ook gepoog om die eenheid met die voorafgaande Sondag te handhaaf.

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Vooraf

Probeer om by hierdie geleentheid veral van visuele materiaal gebruik te maak. Deur middel van kleurtransparante of 'n dataprojektor kan beelde uit die natuur gewys word om die grootheid van God te illustreer. Projekteer dit voor die begin van die diens reeds.

Aanvangsgebed

"Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,

my plek op die vestingmuur gaan inneem,

ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê

en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt" (Hab. 2:1).

Stilte

"Die Here is in sy heilige tempel:

almal op die aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!" (Hab. 2:20).

Stilte

Sang

Lied 586 "Hef op jul hoofde, vromes"

Aanvangswoord

"Here, ek het gehoor wat van U vertel is

en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het.

Doen dit tog ook in ons tyd,

laat u dade ook in ons tyd ervaar word,

ontferm uU selfs in u toorn" (Hab. 3:2).

of

"Ek kyk op na die berge:

waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

My hulp kom van die Here

wat hemel en aarde gemaak het" (Psalm 121:1-2).

Seëngroet

Trinitariese formule

 

Getuienis

Reël vooraf met iemand vir 'n getuienis oor God se kragtige ingryping in sy/haar lewe.

Lofsang

Sing 'n paar grootse lofliedere. Reël vooraf vir gepaste begeleiding, byvoorbeeld orrel aangevul met 'n trompet:

Lied 175 "Majesteit"

Lied 197 "Wonderbare Koning"

Lied 202 "Loof die Here, al wat lewe"\NSG 33

Wet

Jeremia 31:27-34a

Skuldbelydenis

Stilgebed

Lied 247 "Heer, wees ons genadig"

Genadeverkondiging

"Ek sal julle oortredings vergewe

en nie meer aan julle sondes dink nie" (Jer. 31:34b).

Geloofsbelydenis

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Psalm 119:145-152

Lied 442:1, 2 "Gees van God wat in my woon"

Skriflesing

Habakuk 3

Woordbediening

Die prediking kan dan inderdaad afgesluit word met 'n meditatiewe geleentheid om God in sy groot magsverskyning te ontmoet. Daar is talle gepaste musiekstukke, wat hiervoor gebruik sou kon word. Dit is egter belangrik dat die musiek vir die betrokke erediensgangers toeganklik sal wees. Dit moet kontekstueel relevant wees. Vir visuele voorstellings kan gekyk word op 'n webwerf soos www.textweek.com.

Gebed

DIENS VAN DIE TAFEL

Gebruik die basisliturgie.

UITSENDING

Sang

Lied 516 "Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie"

Seën

Die Here sal jou seën en beskerm.

Die Here bewaar jou van alle gevare.

Bedags sal die son jou nie steek nie

en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.

Die Here sal jou lewe beskerm.

Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd (Ps. 121:5-8).

Sang

Lied 314 "Amen"

 

 

PREEKSTUDIE HABAKUK 3

Teks

Habakuk is waarskynlik die beste bekend vir sy onvergelyklike lied van geloofsjubel te midde van die allerslegste omstandighede (3:17-19). Wanneer 'n mens egter vra hoe hierdie verse met die res van hoofstuk 3 en hoofstuk 3 weer met die res van die boek saamhang, is antwoorde nie so voor die hand liggend nie. Binne 'n kort boek soos Habakuk is dit egter noodsaaklik om op vrae met betrekking tot die samehang van dele in te gaan, omdat die betekenis van dele binne die geheel gevind moet word.

Dat hoofstuk 3 soos dit in die Bybel staan, as 'n eenheid gefunksioneer het, is duidelik uit die liturgiese verwysings (3:1,19). Hierdie aanduidings wat tipies is ook van baie psalms en die voorkoms van die woord "sela" wat buiten die psalms net hier voorkom, verklap die liturgiese funksie van die gedeelte. Soos verskeie psalms word dit 'n gebed genoem, hoewel die oorwegende aard daarvan nie dié van 'n gebed is nie. Menings loop uiteen of die liturgiese elemente in die teks uit 'n voorstadium, voor dit deel van die boek Habakuk geword het, dateer en of dit die invloed van latere kultiese gebruik van die gebed van Habakuk is. Hiermee saam loop verskeie teorieë oor hoe en waar en wanneer die profesie ontstaan het. WTL gee 'n opsomming van standpunte hieroor. As daar duidelikheid hieroor was, sou dit seker die interpretasie van die teks gedien het, maar ons kan nou nie anders as om die teks te neem soos wat dit staan nie, naamlik as 'n eenheid.

Tog moet die verskil tussen die twee hoofdele van die hoofstuk in gedagte gehou word. Die visioenêre beskrywing van 'n epifanie waarin God kom om te oordeel en te red (3:3-15), word omraam deur die profeet se reaksie van angs, verwoord in gebedsvorm (3:2,16). Daar is 'n klaarblyklike breuk hiertussen en die "ten spyte van" geloofsjubel-lied (3:17-19). Die genre en toonaard verskil hemelsbreed. Geen van die motiewe oorvleuel nie en die situasie wat die lied veronderstel, is totaal anders. Dit lyk of dit 'n "rustige" landelike agtergrond het, teenoor die kultiese en internasionale politieke verwysingsraamwerk van die vorige gedeeltes. Die lied reflekteer die situasie van die burgery (soos in 1:2-4), maar hier die kleinboer. Hier is die nood nie dié van uitbuiting nie, maar die gevolg van normale natuurrampe, terwyl hier nie van kosmiese gebeure (soos in 3:3-15) sprake is nie. Alhoewel die toestande van misoeste, en so aan enige tydvak pas, herinner dit sterk aan die situasie in die na-ballingskaptyd. Hierdie verskille het baie uitleggers laat sê dat 3:17-19 onafhanklik en bes moontlik heelwat later ontstaan het.

Oor hoe Habakuk 3 met die res van die boek saamhang, loop menings eweneens uiteen. Volgens sommige is die visioen in 3:3-15 eintlik die openbaring wat in 2:3 aangekondig is: "wat gou kom, waarop jy geduldig moet wag". Dit word nie aangebied as 'n ander of opvolgende openbaring nie en dien, soos 2:5-20, as God se antwoord waardeur Hy sy heerskappy oor die volkere wêreld en natuur bevestig. 2:5-20 en 3:3-15 vervul dus dieselfde funksie, alhoewel hul inhoud en aard aansienlik verskil: eersgenoemde is op die historiese situasie van Habakuk en die Galdeërs gemik, terwyl laasgenoemde 'n kosmiese perspektief het.

Habakuk 3:17-19 is inderdaad die hoogtepunt en "ontsluiting" van die hele boek. As dit nie daar gestaan het nie, het ons die boek totaal anders gelees, en dalk glad nie(!). Die skoonheid en eenvoud daarvan spreek elke hoorder aan. Hierin staan dit teenoor die swaar gelade en soms moeilik verstaanbare voorafgaande gedeeltes, soos 3:3-15 en selfs 2:4. Soos 2:4 spreek dit van geloof, al word geen "teologiese" uitdrukkings hierin gebruik nie. Habakuk 2:4 bevat 'n oproep aan die gelowige/regverdige om in geloof te lewe. Die oproep word gemotiveer deur die versekering dat God optree en heerskappy voer (2:5-20, vgl. preek oor Hab. 2). 3:17-19 is 'n illustrasie van dieselfde geloof van iemand wat verseker is dat God optree en heerskappy voer (3:3-15). Iets van die triomfantelikheid van die epifanie-beskrywing (3:3-15) word dan ook in die geloofsuiting in 3:17-19 weerspieël. Maar, soos in die res van die boek, word die geloof steeds beoefen te midde van die aktuele nood.

Die visioenêre epifanie-beskrywing in 3:3-15 bevat verskeie genre-elemente, met 'n sterk himniese toonaard. Die inleiding (3:3-4) beskryf die koms van God in terme wat herinnering aan die konstituerende verskyning van God aan sy volk by Sinai (Eks. 19). Die terme word veral in himnes gebruik (Deut. 33:2; Rig. 5:4-5, vgl oorwinningslied in Ps. 68). Naas die argaïese term vir God (soos Ps. 18:32) word Hy Heilige (vgl. Hab. 1:12) genoem. 3:3d sluit by 2:14 aan. "Blitse" in vers 5b herinner aan die glansende verskyning in die vorige verse, maar hier is dit nou instrumente van oordeel, as parallel van 3:5a (soos onder andere in Deut. 32:24).

Die kern van die visioen (3:6-12) beskryf die oordeelsoptrede van God. In die twee raam-verse (3:6, 12) word sy kosmiese optrede die konteks gemaak van sy oordeel oor die nasies. Hierdie twee aspekte kom op verskillende wyses in die tussenverse ter sprake. 'n Verskeidenheid motiewe word hiervoor ingespan; tipiese historiese (3:7) en oorlogsmotiewe (3:9). Dit mag selfs wees dat die hele beskrywing deur die "Dag van die Here" tradisie by die profete geïnspireer is. By die ander voor-ballingskap-profete is die motief egter telkens teen die volk van God self gerig (vgl. Am. 5:13; Miga 1:3v.). Waarskynlik lê daar motiewe uit die Kanaänitiese mitologie agter 3:8, 15 (Albright). Dit is moontlik dat in 3:10 sondvloedmotiewe funksioneer, of selfs uit die skeppingsmitologie; dat God se ingrype alles terugvoer na die oer-toestand (vgl. 3:11ab).

In die hoogtepunt (3:13-15) ontvang God se optrede teen die nasies, bes moontlik spesifiek teen die Galdeërs (3:13c//1:13g), sentrale aandag. Hier word dit uitdruklik gestel dat dit ter wille van die redding van sy volk is dat God op die dramatiese wyse ingryp (3:13a). Die parallelle uitspraak (3:13b) "Sy gesalfde" is problematies. Die enigste keer dat die uitdrukking in die profete gebruik word, is ten opsigte van Kores wat uiteindelik die Galdeërs verslaan het (Jes. 45:1). In die psalms en deuteronomistiese geskiedenis word dit van die Dawid-dinastie gebruik. In die historiese omstandighede van Habakuk lyk dit onwaarskynlik dat dit na die huidige koning verwys, tensy dit 'n geval van uiterste patriotisme by Habakuk was, wat direk teenoor die profesieë van sy tydgenoot Jeremia staan. Indien dit op die na-ballingskap-leierskap van die volk slaan (vgl. Dan. 9:25), word daardie situasie reeds hier deur Habakuk voorsien. In sy reaksie op die visioen verwoord Habakuk sy innerlike ontsteltenis by die verskrikking van wat God belowe om te doen (3:2//3:16). In 3:2 bid hy dan tog dat die profesie spoedig voltrek sal word en in 3:16 sê hy dat hy rustig/geduldig daarop sal wag. Hierin kom iets van die spanningsmotief van 2:3 weer na vore (vgl. opmerkings hieroor by verlede week se studie oor Hab. 2).

Oor die posisie en funksie van die slot (3:17-19) is hierbo alreeds gehandel. Al die stapel-bedrywe van die Palestynse leefwyse word hier genoem. Alles waarvan elkeen se daaglikse oorlewing afhanklik is, is tot niet. Die landboukomponente suggereer langdurige droogte, hoewel die verdwyning van vee die gevolg van strooptogte deur vyande kan wees. Die Israeliet was in besonder daarvan bewus dat hy vir die vervulling van hierdie basiese behoeftes van die Here afhanklik is. Ja, dat dit tekens van sy seën is. Nou kom stel die profeet op eenvoudige, maar aangrypende wyse, dat alles verdwyn het. Daar is niks meer om op terug te val nie.

'n Mens kan jou beswaarlik 'n sterker teenstellende funksie vir die WAW voorstel as in 3:18. 'n Mens sou verwag dat die profeet hoogstens sou sê dat hy sal wag, of selfs bly glo. Om ten spyte van omstandighede aan die Here te bly vashou (vgl. verlede week se studie). Maar die teendeel is eerder waar as hy twee baie sterk werkwoorde gebruik. Die Hebreeuse woord vir "jubel" ('lz) word dikwels met uitgelate vreugde vertaal (vgl. Jes. 50:11; Sef. 3:14 e.v.; Ps. 28:7; 68:1-5 vir van die verbande waarin dit gebruik word). Die Hebreeuse woord vir "juig" (g'l) is semanties verwant aan 'lz, maar die twee Hebreeuse terme kom nie elders as parallelle voor nie. g'l het sterk kultiese konnotasies en word dikwels as reaksie op 'n Godsdaad gebruik en lê nie soveel klem op die uiterlike vertoon van vreugde nie (aldus THAT).

Die besondere klem op die persoonlike aard van die reaksie mag die leser nie verbygaan nie: "ek ... ek ... my Redder ... my Krag ..." Wanneer 'n mens die verse met die profeet se eie worsteling met God (1:2-3) vergelyk, sien jy watter lang pad hy gekom het. Ook die opstapeling van Godsname is opmerklik: "God van my verlossing" herinner aan 3:13ab. Maar daar is geen sprake van persoonlike verlossing nie. HERE Here (Jaweh Adonayi) lê klem op sy mag en heerskappy. Dit is Hy wat die verandering in die profeet bewerk. Die beeld van 'n vlugvoetige wildsbok suggereer krag, lewenslustigheid, flinkheid, ratsheid, vryheid (vgl. Ps. 18:34; Jes. 58:29-31). Dit komplementeer die vreugde in die vorige vers.

Konteks

'n Groot gedeelte van die uitgebreide bespreking van die struktuur van die teks (wat die eerste bladsy van Teks hierbo beslaan), is van toepassing met betrekking tot die konteks van die teks self (vgl. daar). Vergelyk ook die Inleiding op Habakuk en konteks by die preekstudie oor Habakuk 1 in die reeks vir gegewens oor die tyd waarin die profesie gefunksioneer het en die posisie van hoofstuk 3 binne die boek. 'n Preek oor Habakuk 3 moet altyd in aanmerking neem dat dit binne die konteks van en as hoogtepunt vir die profeet se worsteling met God oor wat in die wêreld aan die gang is (hfst. 1) en ná die oproep tot geloof te midde van die uitsiglose situasie (hfst. 2), staan.

Van Wyk (WTL) gee 'n bespreking van ander preke oor Habakuk 3. Sy kritiek is dat hulle die kern van die saak, die "rede" waarom die profeet tot die loflied kom, mis, naamlik dat dit sentraal oor God gaan. Hy fokus dus op God, maar benut nie die teks self genoegsaam nie. Hy sê nie hoe die teofaniebeskrywing hierin funksioneer nie en benut ook nie die aksent op God in 3:18-19 nie.

As 'n mens in aanmerking neem dat die hoofstuk klaarblyklik liturgies gefunksioneer het (vgl. Teks hierbo), open dit kreatiewe moontlikhede om die teofaniebeskrywing te benut, om juis die mens in 'n situasie van vertwyfeling en uitsigloosheid (waaroor ons in die vorige studies al genoeg gesê het) te help om God weer nuut te sien. Dis onduidelik hoe Habakuk die inhoud van 3:3-15 aan sy hoorders gekommunikeer het of hoedat dit in die (waarskynlik herboude tempel) liturgie aangebied is. Volgens die teks gebruik Habakuk 'n verskeidenheid motiewe (vgl. Teks) om hierdie grootse tafereel te skets, om mense onder die indruk van die grootsheid van God te bring. Miskien kan 'n liturgiese gebeurtenis as aanloop tot die preek of selfs tydens die preek gebruik word om die teofanie te laat herleef.

Vandag is soveel tegniese hulpmiddels beskikbaar dat die liturg na gelang van omstandighede en fasiliteite, haar/sy verbeelding teuels kan gee. Die visuele aspek kan met beelde uit die hemelruim, van natuurskoon en van geweld en lyding, deur n Power Point-aanbieding ingespan word. Klank, soos 'n opname van Beethoven se Skeppingslied, kan 'n geweldige indruk maak. Gemeentesang van gepaste liedere oor God kan hiermee gekombineer word. Dit kan afgewissel word met voorlesings uit die Bybel en ander literatuur. Soos in die teks (3:13), moet die klimaks van die aanbieding wees dat in dit alles God besig is met die heil van sy volk (en die wêreld?). Volgens die raam verse (3:2,16) het die teofanie die reaksie van ontsag én verwagting by die profeet/hoorder tot gevolg gehad. Ons het ook hierbo gesê dat die beskrywing self 'n himniese toonaard het. Dit is sake wat in die beplanning van 'n liturgiese gebeurtenis in aanmerking geneem moet word. Dit moet 'n mens tot 'n "wau"-ervaring bring; As God só is, is dit wat ek beleef relatief...

Die hele tyd dat ek met die teks besig was het Dirkie Smit se Geestelike Waardes van 'n tyd gelede by my gebly. Onder die tema "stasies van vryheid", noem hy vier dinge waarop ons prys stel: vryheid van keuse, vryblywendheid van nood, kommervrye lewe en vryheid van vrees. Hierteenoor stel hy die vier stasies van vryheid wat Dietrich Bonhoeffer uit die tronk kom voorstel: dissipline, daad, lyding, dood. Smit sê dit is nie alleen vir geloofshelde daar nie, maar vir gewone mense, soos, sê hy, diegene wat elke Sondag in die VGK gemeente waar hy aanbid, in die liedere oor God (liturgie) krag kry om te midde van hul omstandighede lofprysend te lewe. In ons Westerse ekonomies florerende gemeenskappe is die dinge wat hy noem, hoë waardes en dit wat Bonhoeffer noem, veral die laaste twee, dinge waarvan ons ons probeer loskoop. Maar ook in Afrika-kulture is dit dieselfde dinge waarvan ons ten alle koste probeer wegkom. Hoe hoë waardes dissipline/opoffering en daad/diens vir ons is, moet elke gemeenskap ook maar vir hulleself afvra.

Hoe ons vertwyfeling, lyding, verlies, nood, ensovoorts hanteer, het baie met ons waardes te doen. En ons waardes het met ons sig op God te doen, in besonder met ons sig op sy Gesig in die persoon van sy Seun, die Lydende Kneg, tot in die dood van die kruis. Wie God sien soos Hy in die Bybel verskyn, en daardeur geraak word, kan loof ten spyte van 'n TB-hoes en 'n kloppende skuldeiser. Dis net genade, net 'n selfopenbaring van God in die lewende Christus deur die Gees wat dit laat gebeur.

Preekvoorstel

Begin deur die onnatuurlike reaksie van die profeet (3:18-19) teenoor die lewenswerklikheid waarin hy verkeer (3:17), te stel. Bring dit op 'n aktuele wyse nader tuis met situasies en ervarings van mense in die gemeente en gemeenskap. Hier kan die groter historiese wêreld en worstelinge van Habakuk, soos uit die vorige hoofstukke blyk, ingewerk word. Wys aan die ander kant op die betekenis van "jubel en juig", asook die beelde waarmee die profeet sy reaksie uitbeeld (3:18-19). Hoe kom 'n mens tot hierdie punt? In die preek oor die vorige hoofstuk is die betekenis en belang van geloof in sulke lewensomstandighede behandel. Verfris die gemeente se geheue. Maar vir baie mense is geloof nie veel meer as oorlewing nie. Hoe kom geloof tot lofprysing in sulke omstandighede?

Dikwels probeer ons geloof gebruik om aan die omstandighede te ontkom. Jare gelede was die boekies van ene Merlin Carothers baie gewild. Die bekendste was Prison to praise. Die beginsel hierin is dat as jy in die nood is, jy God moet begin dank en prys vir jou omstandighede, dan sal Hy ingryp. Dit is gebaseer op die lesing dat toe Paulus en Silas in die gevangenis begin bid en lofsing het, God ingegryp en hulle verlos het (Hand. 16:25-26). Op die oog af lyk dit of dit 'n daad van uiterste geloof is. Dit is inderdaad 'n DAAD, en dus geen geloof meer nie; só word God ge-misbruik om uit nood te ontkom. Dis nie waarvan Habakuk praat nie.

Hoe ons met ons nood omgaan en ons belewing daarvan, word grootliks bepaal deur ons waardes, of dit pro- of anti-lyding is. Hier kan van die Smit/Bonhoeffer-voorbeeld hierbo gebruik gemaak word. Laat die gemeente sy gemeenskap en eie waardestelsels rondom genoemde vier sake onder oë neem. Wys op God se waardes soos geopenbaar in die Skrif en in die kruis. Wys hoe ons waardes deur ons sig op God bepaal word. Miskien kan die liturgiese gebeurtenis (soos in Konteks hierbo voorgestel) op hierdie punt bydra om, naas die woordelikse verkondiging van wie God in Christus is, die gemeente 'n epifanie-ervaring te laat hê. (Bid maar baie hieroor, want ons bes bedoelde en bes beplande liturgie kan dit nie láát gebeur nie!)

Dalk moet hierna nie meer veel gesê word nie. Laat die afloop oorgaan in 'n spontane stilte. 'n Gepaste wyse van afsluiting mag die voorlees van Romeine 8:31-39 wees. Let daarop dat hierdie juis die afloop van n perikoop oor lyding en die rol van die Gees is. Hier is geen sprake van die ophef/wegneem van die lyding nie, maar van geloofslof te midde daarvan. Ons het telkens ook ons ander preke oor Habakuk met Romeine 8 afgesluit. As jy wil hê die gemeente moet dit besef, moet dit liefs iewers vroeër in die preek gesê word, en nie hier nie.