Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel 1

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Habakuk 1:12-2:4

Ander tekste: Jeremia 29:1-7; Psalm 111; 2 Timoteus 2:8-15; Lukas 17:11-19

Inleiding

Wat beteken dit om te wag; geduldig te wag. Vergelyk Habakuk 2:3, 4.

God versamel ons voor Hom

Die gemeente hou by die gebruiklike soos in die basisliturgie voorgestel word.

Die volgende vrae/stellings kan gemaak word om die gemeente te help om in die konteks van die fokusteks te kom:

Gebeurtenisse is soms so seer; afstootlik en grusaam in ons lewe en samelewing, dat God doodeenvoudig nie meer plek daarin het nie. Inteendeel, God word ernstig bevraagteken of Hy hoegenaamd weet van ons ellende. Hoe rym dit met God se liefde en altyd-daar-wees vir ons? Ken jy sulke oomblikke in jou lewe of in dié van ander mense in nood?

As antwoord hierop kan die gemeente sittende met die volgende lied hulle ervarings bevestig: Ou Gesang 284:1, 3, 4 (melodie Lied 155). Ongelukkig het die lied in die nuwe Liedboek verval. Indien die liturgie op skrif is, kan dit tog gebruik word. Geen alternatief in NSG.

As ons in hoogste nood verkeer:

geen hulp naby of teë-weer.

Vermoeid deur stryd en buite raad

roep ons na U ons Toeverlaat

Ootmoedig hef ons dan ons hart

tot U in ons versmoorde smart

Ons smeek U om barmhartigheid --

U is die God wat nie verwyt.

U wat u aandag ons beloof;

aan elkeen wat in waar geloof

in Jesus NAAM voor U kom staan

sien ons in Hom genadig aan.

Diens van die Woord

Epiklese

Psalm 119:129-136

Skriflesing

Habakuk 2:12-2:4

Na die Skriflesing kan Lied 281 as antwoord op die lesing gesing word. "As die nag se kleed ons sluier, bly ons steeds u heil verwag". Dit sou maklik omdig kon word as: "bly ons steeds net op U wag!"

Diens van die Tafel

By die tafelherinnering (sien die basisliturgie) kan die volgende gebed na n oomblik stilte gebid word:

Gebed

Ek sal geduldig bly wag dat God se dag kom.

Al sou die vyeboom nie bot nie en daag geen druiwe aan

die wingerde wees nie.

Al sou die olyfoes totaal misluk en ek geen seën van U in my lewe ervaar nie,

nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder.

En die Here my God gee my krag. Hy sorg dat ek nie gly en in mekaar val nie.

In Christus Jesus wat vir ons gely en gesterf het. Amen, ja amen.

Die gemeente sou hierna met die volgende liedere kon antwoord/ bevestig wat ons glo:

Gemeente aanbid staande

Ou Gesang 286:1, 2, 4 en Lied 516 (Geen alternatief in die NSG).

Vroue: O Jesus as ek mor en kla, laat swyg my voor u lyding

Die skande-kruis wat U moes dra, bring ook vir my bevryding

En ly ek uit verdiende smart, wil U dit heilig aan my hart

En louter my deur lyding.

Mans: Deur Jesus is U openbaar as allerhoogste Vader

As U in teenspoed my bewaar, bring dit my aan U nader.

U skenk my selfs in onheilsdruk, die ware vrede en geluk

ek bring U daarvoor ere!

Almal bid: Laat my in voor- en teëspoed uit u genade lewe;

Gee my ook daagliks krag en moed die beste na te strewe.

Ek glo U staan in alles by waar U my ook al heen mag lei

ek loof U troue Vader!

Uitsending

Habakuk 2:3b-4 kan weer hier gelees word.

Die gemeente kan dan met die volgende lied bevestig wat ons glo: Ou Gesang 49 se woorde is baie spesiaal. Lied 517 (nie alternatief in NSG) is n verwerking daarvan. Indien die liturgie op skrif is, kan die Ou Gesang gebruik word: Gesang 49:1.

Leer ons op U wag, o Here,

Met geduld u Naam ter ere.

Laat ons reken op u mag

juigend sing, selfs in die nag.

Leer ons bou op u genade;

te bevestig met ons dade

dat ons, vir die toekoms blind

Aan U vashou soos 'n kind.

Liturgiese voorstel 2

(Sondag voor die Algemene Sinode)

Fokusteks: Habakuk 1:12-2:4

Ander tekste: Jeremia 29:1-7; Psalm 111; 2 Timoteus 2:8-15; Lukas 17:11-19

Inleiding

In terme van liturgiese temas uit Habakuk 2, sou 'n mens kon aansluit by die aspek van om te wag op Here die aspek van stilword en meditasie in die erediens (sien Hab. 2:1). Tog moet dit ook duidelik in die liturgie blyk dat hierdie wag op God inderdaad ook geskied in die spanningsveld tussen belofte en vervulling, tussen die alreeds en die nog-nie (sien 2:3). Verder het hierdie wag ook te doen met stil-wees in verwondering voor die Here, wat in sy heilige tempel is (vgl. v. 20).

Habakuk 2:4, as sentrale vers in die hele boek, val binne ons perikoop-afbakening.

Dit bevat 'n oproep aan die gelowige/regverdige om in geloof te lewe. Die oproep word gemotiveer deur die versekering dat God optree en heerskappy voer (2:5-20). Daarom moet daar in die erediens gefokus word op 'n oproep, 'n motivering tot geloof in hierdie God, wat Homself só openbaar.

Hierin is natuurlik ook die troos te vind: Dit gee aan die regverdige, die een wat op God vertrou die versekering dat God aan die werk is en dat Hy die verdrukkers sal vergeld. Maar dan geld daar ook 'n waarskuwing, naamlik om nie op eie insig en vermoë te steun nie

Voorsang

Lied 200 "U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie"/NSG 43

Psalm 66:1-4 "Juig, almal op die aarde, roem Hom"

Lied 474 "Skeppergod, U is die Heer"

Lied 285 "O God, so groot in heerlikheid"/NSG 337

Lied 161 "Halleluja! Heer, U is ons lewe" /NSG 327

Kantory/kerkkoor

Lied 247: "Heer, wees ons genadig" (na die lees van die Wet as skuldbelydenis)

Psalm 111: kantory kan deel vorm van die beurtsang

Lied 442: "Gees van God wat in my woon" (net na die epiklese)

Lied 206: "Halleluja!" (na die Skriflesing)

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Probeer vir hierdie geleentheid veral visuele materiaal gebruik. Beelde uit die natuur kan, deur middel van kleurtransparante of 'n dataprojekto,r gebruik word om die grootheid van God te illustreer. Projekteer dit voor die begin van die diens reeds.

Lees: Habakuk 2:1 en gee daarna tyd vir stilte

Lees: Habakuk 2:20 en gee weer tyd vir stilte

Sang

Lied 159:1-3 "God is hier teenwoordig"/NSG 343

Aanvangswoord

Vgl basisliturgie plus respons van gemeente (verkorte Ons Vader).

Sang

Lied 586:1 "Hef op jul hoofde, vromes" of Lied 594:1 "Na ons bestaan in tyd en ruimte"

Seëngroet

Trinitariese formule

Lof

Lees Psalm 111:1-4, herhaal :1

Sing Psalm 111:1-2 keervers almal; vers 1 dames; vers 2 mans

Lees Psalm 111:5-10 beklemtoon vers 10c en sluit daarmee aan by die keervers van die Grové-melodie, wat in die sang gebruik word.

Sing Psalm 111:3-4 keervers almal; vers 3 dames; vers 4 mans

Wet

Lees Matteus 22: 37-40 (of Eksodus 20:1-17) met Habakuk 2:4 as verduidelikende nota

Gee tyd vir stilgebed

Skuldbelydenis

Lied 247 drie maal

Genadeverkondiging en Retensie

Gebruik 2 Timoteus 2:11-13

Geloofsbelydenis

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Psalm 119:137-144

Sang

Lied 442:1 en 2 in spontane aansluiting by die gebed "Gees van God wat in my woon"

Skriflesing

Habakuk 1:12-2:4 en Jeremia 29:1-7 (of slegs 4-7)

Respons

Halleluja! Vergelyk basisliturgie.

Kindertyd

Prediking

Kort gebed, wat aansluit by die Woordverkondiging

As alternatief kan die wet/skuldbelydenis/genadeverkondiging/geloofsbelydenis hier gedoen word.

DIENS VAN DIE TAFEL

Dit sal goed wees indien die gemeente die nagmaal vier vergelyk basisliturgie.

UITSENDING

Voorbiddingsgebed deur 'n lidmaat of n paar lidmate, wat die voorganger soos volg inlei: "Juis omdat ons wil reg doen voor God se aangesig (Hab. 2:4), wil ons ook ons gemeente, ons land en die nood van die wêreld voor God bring ..."

Sang

Lied 507:1-4 "Hemelse Vader, U heers op u troon" of Lied 502 "Vol vertroue, vas en veilig"

Seën

Die Here se trou staan vir altyd vas. Hy hou sy verbond altyd in stand. Al sy voorskrifte is vir altyd geldig.

Die roem van die Here hou altyd stand (Ps. 111:3, 5, 8, 10 aangepas).

Respons

"Amen" kies enige van die volgende: Lied 312-315.

PREEKSTUDIE HABAKUK 2:1-20

Teks

Hierdie hoofstuk as geheel bevat God se tweede openbaring en staan binne die boek as "antwoord" op Habakuk se tweede klagte in 1:12-17. Temporeel volg dit nie direk op die klagte nie, want die profeet moes daarop wag. Dit word uitdruklik 'n "visioen" genoem (2:2b/3a). Die openbaring wat as openbare kennisgewing opgeskryf moes word, beslaan klaarblyklik net vers 4. Maar vers 4 is eerder 'n raaiselagtige spreuk, terwyl die verduideliking daarvan (2:5-20), die karakter van 'n visionêre openbaring dra (vgl. hieronder). Dit is dus noodsaaklik dat die hele hoofstuk as teks geneem word. Om 2:1-4 saam met 1:12-17 as teks te kies, laat die klem op die antwoord-karakter daarvan val, hoewel dit nie uit 2:4 alleen duidelik is wat die antwoord wel beteken nie. Om 2:1-4 alleen as teks te kies (so WTL), verlei die prediker om eie konnotasies in die uitleg van 2:4 (kennelik die kernvers van die hoofstuk) in te lees, soos baie preke oor die teks inderdaad doen. Ons moet dus eerder probeer ontdek wat 2:4 volgens die "uitleg" daarvan in die res van die hoofstuk beteken.

In die inleiding (v.1) sê die profeet dat hy homself vir 'n tyd afgesonder het om op die antwoord van die Here te wag. Waarskynlik is die vers letterlik bedoel, al is dit nie noodwendig 'n vestingmuur waarop hy homself teruggetrek het nie. Om die posisie van 'n brandwag in te neem, is egter ook metafories van die funksie van 'n profeet in afwagting van 'n Goddelike openbaring (Eseg. 33). Die woorde van 2:1e is problematies: "wat ek sal antwoord op my klag". Die meeste kommentare volg die Pesitta en lees: "Hy sal antwoord op my klag", wat dan die parallel van 2:1d is. Die 1983-Afrikaanse vertaling lees: "wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt". Dit verlê die aksent, deurdat ander lede van die gemeenskap nou by die probleemvraag van hoofstuk 1 betrek word. Tog maak dit sin omdat die antwoord uitdruklik vir openbare kennisname bedoel is (2:2).

Oor wat die oorspronklike visioen as antwoord van die Here ingesluit het, loop menings uiteen. Sommige meen dit is slegs 2:2-4, ander weer sluit 2:5-20 hierby in. Andere meen dat dit eintlik op 3:3-15 dui. Wat in 2:3 van die "visioen" gesê word, kan beslis nie (net) op 2:4 betrekking hê nie. Binne die huidige teksverband vorm 2:2 die opdrag om die openbaring vir openbare kennisname neer te skryf, sodat verbygangers dit maklik kon lees. Vers 3 bevat die motivering. Dit is 'n belofte ter bemoediging, van sekere en naderende vervulling (3:bc//fg) wat die waarskuwing dat dit ook weer nie onmiddellik gaan gebeur nie (2:3de) omsluit. Hiermee word 'n spanningselement geskep, wat tipies is aan eskatologiese beloftes. Die profesie dra wel eskatologiese elemente, daarin dat dit die vergelding van vyandige magte aankondig in die volgende weë-uitsprake, maar daar is nie sprake van die finale vernietiging van alle vyande en die aanbreek van 'n nuwe era nie. Die apokaliptiese dimensies wat Van Wyk in die vers vind, is te betwyfel (selfs ook of daar in 2:14 en 20 sulke motiewe te vind is).

Vers 4 bevat die woorde wat klaarblyklik vir openbare kennisname opgeskryf moes word. Omdat 2:4b verskeie kere deur die Nuwe Testament aangehaal word as Skrifbewys vir die regverdigmaking uit geloof (alleen), lees 'n mens natuurlikerwys daardie konnotasies in die woorde in. Binne sy verband is vers 4 egter 'n raaiselagtige uitspraak met tipiese wysheidselemente. Dat die volgende weë-uitsprake in vers 6 "spreuk en raaisel" genoem word, het eerder op vers 4 betrekking. Die betekenis van die vers moet dus binne sy eie konteks gesoek word. Hierin is die teenstelling tussen twee (groepe) mense van belang.

Vers 4a is moeilik vertaalbaar. Letterlik staan daar min of meer: "hy (wat) opgeblase is, sy siel is nie regverdig nie", of: "wie se siel opgeblase is in hom is nie regverdig/opreg nie". Die uitspraak het sekerlik algemene betekenis, maar binne die samehang met vers 5 (vgl. "opgeblase" [4a] en "trots" [5a] en herhaling van "sy siel".) dui dit op die houding van die Galdeërs, soos uit die volgende verse duidelik word. Die wyse waarop hulle in 1:5-11 geteken is en die uitspraak "sy eie mag is sy god" (1:11d) sluit hierby aan. Dat die mens as "nie reg/opreg" beskryf word, bevat volgens sommige kommentatore reeds 'n oordeeluitspraak. Dit staan dan teenoor die belofte van "lewe" (4b). Die 1983-vertaling sê dan ook: "sal sy verdiende loon kry". Dit is inderdaad wat die volgende weë-uitsprake sê. Daar geld die beginsel van gelykwaardige vergelding.

Hierteenoor word die lewenshouding van die regverdige in 2:4b geteken. Die regverdige in die uitspraak is die mens wat (reeds) in 'n regte verhouding met God staan, soos dit menigvuldiglik veral in Spreuke voorkom, en daar ook teenoor die "goddelose" en diesulkes staan. Binne Habakuk beteken dit diegene wat deur hul medemens verdruk en verontreg word, hulle namens wie Habakuk in die eerste plek om geregtigheid by God gebid het (1:4). Dit is nie mense wat deur hulle eie pogings van wetsonderhouding regverdigheid verwerf het nie, maar wat vanuit hulle (verbonds-) verbintenis met en toewyding aan God bysy voorskrifte hou. Dis hulle wat, in terme van Jesus se gelykenis, as goeie bome goeie vrugte dra. Vir hulle is die spreuk as oproep en bemoediging bedoel.

Hulle word opgeroep tot "geloof". In vers 4 staan dit teenoor die "opgeblase siel", diegene wat in hulle eie vermoëns en krag hulle eie lewens probeer bepaal. Die regverdige leef uit vertroue en afhanklikheid van God, in afwagting van wat Hy doen (vgl. Jes. 7:9; 28:16). Dit is om nie op eie vermoë en insig, selfs sienings van God (vgl. preek oor Hab. 1) staat te maak nie. Geloof is hier nie die "instrument" of die wyse waarop iemand geregverdig word en die lewe verkry nie. In Romeine 1:17 en Galasiërs 3:11 gaan dit oor geloof as die weg tot regverdigmaking (vgl. Joh. 3:36), teenoor onderhouding van die wet. In Hebreërs 10:36-38 word die uitspraak aangehaal in 'n verband wat meer in lyn is met die bedoeling van Habakuk. Die 1983-vertaling van Habakuk 2:4b is myns insiens hoegenaamd nie in lyn met die bedoeling daarvan nie. In die hele boek is daar geen oproep om reg te doen nie, maar om in afhanklikheid op God se handeling te wag (vgl. 2:3), ook al bly dit tans nog uit (vgl. preek 1 en Hab. 3:17-19). Daarin is die reg doen.

Die begrip "lewe" is in die Ou Testament 'n baie gelade term, soos inderdaad ook veral in die Johannes-geskrifte. Dit het dikwels noue konnotasies met die begrip "vrede" en dek, binne die holistiese denkwyse van die Ou Testament, alle aspekte van 'n mens se bestaan. In Habakuk val die klem egter nie op aards-fisiese voorspoed, soos dikwels elders nie. As teenhanger van 2:4a en binne die wyer verband van Habakuk wil die uitspraak juis sê dat die lewe meer is as afwesigheid van verdrukking, verontregting of watter vorm van lyding ook al. Dit weerspieël iets van die slotsom waartoe die digter van Psalm 73 na sy worsteling kom. Inderdaad is daar vir baie van ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges die verleiding om die aksent van "lewe" tot "ewige lewe" te verlê en die hier en nou te verontagsaam. Maar vir die mens van Habakuk se tyd was dit juis nodig om daarop te wys dat sy verhouding met God om meer as aardse voorspoed en afwesigheid van swaarkry gaan. Vir ons is dit eweneens nodig om te weet dat die lewe wat die Bybel beloof, nie die huidige nood ophef nie, maar ons in afhanklikheid aan God leer lewe; juis daarin.

Vers 5 vorm 'n verbinding tussen die sentrale spreuk in 2:4 en die weë-uitsprake in vers 6 en verder. Dit gee inhoud aan wat veral in vers 4a gesê word (vgl. bo by 4a). Hier en in die volgende verse word nie eksplisiet na die Galdeërs verwys nie. Wat egter van die vyand (soms in derde en soms in tweede persoon) gesê word, slaan binne die verband van die boek op die Galdeërs. In volgende geslagte van gebruikers van die teks kan dit dan ook betrekking hê op wie (wat) ook al die krisis van die gelowiges veroorsaak.

Die weë-uitsprake is 'n tipiese vorm van profetiese oordeelsaankondiging. In Habakuk word dit veral in die mond van die nasies, wat saam met die Jode onder die Galdeërs deurgeloop het, gelê (6a, 8). In die algemeen geld die beginsel van gelykwaardige vergelding; wat hulle ander aangedoen het, sal hulle nou self tref. Die besonderhede wat in die vyf weë aangekondig word, hoef nie hier bespreek te word nie. Tog mag daar in spesifieke uitsprake aanknopingspunte wees wat in die prediking in bepaalde situasies met vrug gebruik kan word. Die prediker moet dus die uitsprake wel goed deurwerk.

Behalwe vir 2:16cd word daar nie uitdruklik gesê dat die vergelding deur Jahweh bewerk word nie. Wat in 2:13 van Hom gesê word, het eerder betrekking op sy gebruik van die Galdeërs, soos in 1:5-11 gestel is. Hier word ook nie gesê dat die volke of 'n spesifieke volk, dit ten uitvoer gaan bring nie. Die effek van die weë is egter om diegene aan wie Habakuk se boodskap gerig is, die versekering te gee dat hulle verdrukkers hul verdiende loon sal ontvang. Die uitspraak teen afgodsdienaars (18-19) hang saam met die uitsprake dat die Galdeërs se krag hul god is en hulle aan hulle nette, dit is hul oorlogsmasjinerie, offer (1:11,16). 2:18d gebruik die begrip "vertrou" wat semanties verwant is aan "geloof" (2:4b). Hiermee word 'n subtiele teenstelling tussen vertroue op eie maaksels en geloof op die lewende God gestel.

Dit is binne dié verband wat die uitsprake in 2:14 en 20, wat op die oog af nie vloeiend binne die verband pas nie, besondere sin maak. Ten spyte en te midde van die chaos en skynbare afwesigheid van God, of die onverstaanbaarheid van sy bestuur van die wêreld, sien die gelowige iets groters raak. Sy sien die dag kom wanneer almal op die aarde die heerlikheid/koningskap van die God van die verbond, Jahweh, sal ken. Kennis is in die Bybel 'n eksistensiële saak. Ja, almal op die aarde sal voor Hom stil wees. Dat dit met "sy heilige tempel" saamhang, is verstaanbaar indien Habakuk 'n kultus-profeet was (vgl. Inleiding). Sonder om verder hierop in te gaan, is dit tog opvallend dat die uitspraak in dieselfde tyd gemaak is toe Jeremia die volk opgeroep het om NIE (blindelings) op die teenwoordigheid van die Here in sy tempel te vertrou nie (Jer. 7:4v.).

Konteks

Habakuk 2 bevat baie mooi tekste wat in isolasie vir baie vindingryke preke kan sorg. Vers 1 die profeet se geestelike instelling en ons gepaste spiritualiteit; vers 3 dalk oor die gejaagdheid van ons lewe en die lees van die Bybel; vers 4 oor saligmaking deur geloof; vers 6-7, 9 oor ekonomiese verdrukking en bevryding; vers 5, 8, 10, 17d oor imperialisme; vers 12-13 oor wanadministrasie en korrupsie; vers 15-16 oor immoraliteit; vers 17 oor ekologie; vers 18-19 oor afgode en vertroue op eie prestasie. Watter mooi sendingpreke kan 'n mens nie met verse 14 en 20 maak nie! Ek herinner my dat prof. Willie Jonker gemaan het om nie 'n teks sonder sy verband te gebruik nie, want, sê hy, dan gee jy self daaraan 'n nuwe, vreemde verband, waarin die teks noodwendig iets anders as sy bedoeling beteken.

Habakuk 2 is streng gesproke nie 'n antwoord op die profeet se klag in 2:12-17 nie. God verduidelik niks, maar Hy gee 'n nuwe perspektief. Hy roep tot geloof en bied die grond vir die geloof. Dat Hy oordeel en dat Hy die universele God is, is nie nuwe nuus vir Habakuk of sy hoorders nie. Maar dis tog 'n aktuele perspektief wat geloof (opnuut) moontlik maak. 2:4 is nie net die sentrale vers in hoofstuk 2 nie, maar in die hele boek. Hoofstuk 1 gaan oor geloofsversugting, terwyl 2 oor geloofsverligting en 3 oor geloofsjubel handel maar alles steeds binne die verband van die akute krisis, die "nog nie", waar die vyeboom nog nie bot nie.

Myns insiens gaan dit in die hoofstuk inderdaad om 'n motivering, 'n oproep tot geloof. Die regverdige moet en kan in die krisis (van verontregting, verdrukking én van nie-verstaan van God, hfst. 1) alleen deur geloof lewe. Enersyds staan dit teenoor en dien as waarskuwing teen, die lewe wat op eie vermoë vertrou (vgl. bespreking van v. 4 by Teks hierbo). Binne verband met 2:5-20 gee dit aan die regverdige, die een wat op God vertrou, die versekering dat God aan die werk is en dat die verdrukkers wat vir die krisis verantwoordelik is, uiteindelik vergeld sal word. Maar hierin lê natuurlik ook 'n waarskuwing om nie self op eie vermoë en insig te steun nie, omdat dit jou nêrens gaan bring nie. Hiermee saam gee 2:5-20 die versekering dat God in beheer is, nie net van sy volk of die paar regverdiges se lotgevalle nie, maar dat Hy God en Here van die hele aarde is (14, 20). Uiteindelik sal alle mense, gewillig of onwillig, van sy koningskap oortuig wees (vgl. Fil. 2:9-11).

Van hierdie geloof wat bou op 'n visie van wat God doen en wie Hy werklik is, word in hoofstuk 2 die volgende gesê:

Geloof het te doen met dit waarop/op wie jy "vertrou". Vers 18-19 veroordeel die vertroue op eie maaksel, eie vermoë (vgl. bo).

Vir die beoefening van geloof is "wag" noodsaaklik (2:3e; vgl. 2:1). Maar, soos uit 2:3 duidelik is, is die wag nie 'n passiewe houding nie, dit is om te lewe in die spanningsveld tussen belofte en vervulling, tussen die reeds en die nog-nie (vgl. bo by vers 3). Wag het ook te doen met stil wees (vgl. v. 20) dié stil wees is om in verwondering te staan.

Die geloof waarvan Habakuk praat, is wel in die sin wat Hebreërs 11 dit bedoel; om die onsienlike te sien, te vertrou op dit wat ons hoop. Al is die saligmakende geloof waarvan Paulus praat in die opsig van dieselfde aard, ook om op geen van jou eie vermoëns staat te maak nie is dit nie waarvan Habakuk praat nie. Saligmakende, lewensveranderende geloof in die soenverdienste van Christus is die grond van die geloof waarvan Habakuk praat. Dit maak 'n mens 'n regverdige. Habakuk sê nou dat hierdie regverdige deur geloof moet lewe, juis te midde van lewenskrisisse. Hy praat van hulle vir wie Jesus aanspreek as die "armes van gees"/die wat weet hoe afhanklik hulle van God is (Matt. 5:3).

Egte geloof kan wonders laat gebeur en kan berge versit, maar as wonders nie gebeur en berge nie versit word nie, beteken dit nie dat daar geen geloof is nie. Geloof oorkom nie maar alle krisisse, raak daarvan ontslae en bring die utopie; soos vandag deur vele gepredik word nie. Die geloof waartoe God se boodskap vir Habakuk en die mense van die tyd oproep, is om te midde van die krisis en skynbaar eindelose lyding, aan God vas te hou. Dit is die tipe geloof wat miljoene mense, gelowige mense, vandag nog nodig het, om in omstandighede en situasies te lewe waarvoor daar menslik gesproke geen oplossing voor, of uitkoms uit, is nie. In Konteks by die preek oor Habakuk 1 het ons 'n klomp daarvan opgenoem. Die werklikheid is dat geloof wel in oormaat aan diesulkes verkondig word. Die krisis is dat die verkondigde "geloof" hol, inhoudloos, 'n "saak" op sy eie, selfs 'n verdowingsmiddel, geword het. Die devaluasie van die kommoditeit "geloof" is benouend, as ek na die prediking luister wat ek in baie wit en swart kerke hoor. Die uitdaging vir die prediking is om geloof só te verkondig dat dit weer betekenis en uitsig aan mense se lewens sal gee. Miskien kan Habakuk 2 ons daarmee help.

Preekvoorstel

Begin met 'n verhaal of getuienis van 'n persoon wat in langdurige of menslik gesproke onoplosbare omstandighede (soos permanente ongeskiktheid, siekte, lewensomstandighede soos armoede of eensaamheid of wat ook al) in sy of haar geloof krag vind, om met omstandighede te lewe.

Habakuk 2 is bedoel vir mense wat deur die meul van die lewe (soos in Hab. 1) gaan. Sommige mense moet vir die res van hul lewe met menslik ondraaglike omstandighede lewe, maar die meeste van ons kom een of ander tyd ook in omstandighede wat uitsigloos lyk. Dan worstel ons met die waarom en waartoe vrae van die lewe. En ons bevraagteken God en worstel met God, soos Habakuk. As ons lank genoeg worstel, laat God sy lig deurbreek, soos in Habakuk 2. Hier is God se lig egter nie die opheffing van die krisis en die wegneem van die probleem nie. Dit is ook nie eers 'n antwoord, 'n verduideliking van waarom en waarvoor dinge met ons gebeur soos wat ons dit ervaar nie. God sê: "die regverdige sal deur geloof lewe."

Verduidelik dat dit nie hier om saligmakende geloof gaan wat die nuwe/ewige lewe bring, soos wat die frase in Paulus se briewe funksioneer nie. Verduidelik die spreuk-karakter van die uitspraak (vgl. Teks hierbo). Wys daarop dat die woord "regverdige" hier gaan oor iemand wat weet dat sy/hy op grond van God se genade aan God behoort, wat, sou 'n mens in Nuwe-Testamentiese taal kon sê, op grond van die saligmakende geloof in die soenverdienste van Jesus Christus geloofsekerheid besit. Verduidelik wat die dimensies van "lewe" in die Ou-Testamentiese holistiese denkwêreld beteken. In die Ou Testament het fisiese nood of krisis sy dit oorlog, siekte of armoede is 'n mens se geestelike lewe direk beïnvloed, omdat jy dan nie die kultiese verhouding met God kon beoefen nie. Habakuk kom sê dat lewe moontlik is, ook al ontbreek die fisiese sy daarvan. Wys daarop dat ons dikwels die aksent te veel verlê (vgl. Teks) en dan, wanneer ons regtig in fisiese krisis kom, dan wankel die ander dimensie van ons lewe (Hab. 1). God bedoel hier dat lewe betekenis kan hê, die moeite (!) werd kan wees, sinvol kan wees, al maak dit vir ons nie sin nie.

Dit, sê ons teks, is alleen moontlik deur geloof. Die geloof waaroor dit hier gaan, is van dieselfde aard as saligmakende geloof, daarin dat dit aan God en sy beloftes vashou, die onsienlike sien. Geloof is om met 'n leë hand na God te gryp en vas te hou aan wat jy nie kan sien of kan voel nie. Die geloof kan van God verwag om probleme op te los en om berge te versit, omdat Hy dit beloof het. Maar die geloof waarvan Habakuk hier praat, is om steeds aan God vas te hou, ook wanneer Hy nie, soos jy vra, die berge versit nie. Habakuk kom spel nie die aard en inhoud van die geloof uit waartoe die krisis-voos mens geroep word nie. Habakuk kom met 'n reeks weë-uitsprake wat tog perspektiewe open, en wat bedoel is om die einste geloof te laat opvlam. Hieroor kan 'n mens 'n paar dinge sê. Eerstens is uit die negatiewe komplement van vers 4a duidelik dat hierdie geloof die teendeel van eie pogings en eie prestasie en selfvertroue is. Dat die mens-gebaseerde weg om die lewe te verseker nie tot 'n betekenisvolle lewe en uiteindelike sin lei nie, word deur die lotgevalle van die self-doeners in die weë-uitsprake bevestig. Hiermee word daar dalk fundamentele kritiek op die prestasie-kultuur van ons dag gelewer. Hierop kan die prediking na gelang van omstandighede ingaan. Egte, sinvolle lewe kan nie deur al ons gejaag en sukses verseker word nie. Soms het 'n mens nodig om in die ergste lewenskrisis en selfs geloofsvertwyfeling te verval om juis dit te ontdek ...

Tweedens sê die weë-uitsprake dat God wel iewers vorentoe herstel bring en diegene wat kwaad doen, vergeld. Vir Habakuk se hoorders in Ou-Testamentiese verband was die verwagting dat dit in hierdie lewe gebeur. Die Nuwe Testament wys dat dit dikwels nie so gebeur nie. Dit open perspektief op die hierna. Hierdie perspektief bied besondere grond vir geloof en kan vir die mens in krisis nuwe perspektief gee. Maar die prediker moet ook onthou dat dit juis nuwe grond vir worsteling mag bied, omdat dit indirek vir die mens mag sê dat sy/haar probleme nie nou opgelos gaan word nie, dat sy/hy dalk vir die res van die lewe daarmee moet lewe. Hierdie Bybelse hierna-perspektief is geen "pie in the sky when you die" gedagte, wat die nood van die lewe ignoreer nie.

Derdens kom open Habakuk 2 nuwe perspektief op God self. Habakuk 2:14, 20 kom skilder die "groter prentjie". In wat in die verse van God gesê word, herken ek iets van verwondering en aanbidding; dit wat in Habakuk 3 ter sprake kom. Dit bevestig dit wat die gelowige worstelaar altyd van God geweet het, maar stel dit op 'n nuwe manier. Die verrassende perspektief op God wat die Nuwe Testament bied, is juis dié van die lydende, sterwende Seun. Die boek Hebreërs praat ook met mense wat weens omstandighede dit moeilik vind om aan God vas te hou. Vir hulle teken die skrywer 'n nuwe prentjie van wie Jesus as Hoëpriester is. Vir hierdie mense lê hy telkens klem op Jesus se lyding, sy éénword met ons. Sy lyding loop deur tot in heerlikheid. Wie lank na Jesus in sy lyding kyk, vind ook nuwe betekenis vir sy eie lewe in die hoop op hierna (Hebr. 2, 5, 12; vgl. Fil. 2:5-11).

Ons moet nie Habakuk lees asof hoofstuk 2 na hoofstuk 1 kom en Hoofstuk 1 nooit weer terugkom nie. Wie met langdurige en onoplosbare situasies lewe, kan telkens weer hoofstuk 1 belewe. Hoe kry 'n mens dit reg om van hoofstuk 1 na hoofstuk 2 te beweeg? Want daar is nog 'n hoofstuk 3 ook!! Hoe kom 'n mens dan tot die geloof? Habakuk gee geen resep nie. Die Bybel gee geen resep van wat 'n mens moet doen nie. Want, inderdaad, geloof is geen daad van die mens nie.

Habakuk 2 sê wel dat 'n mens moet wag. Hiervan is die profeet op die uitkykpos getuienis; wagtend op God se antwoord. Ook op die vervulling van die belofte moet die mens wag (2:3). Hierdie is 'n aktiewe wag, 'n wag met verwagting dat iets gaan gebeur. Dis om in spanning te wag, wetende dat God sekerlik iets gaan doen, al is dit dalk nie gou nie (2:3, vgl. Teks). Dit is om te wag soos wat ook die skepping, wat ook aan die lyding gebuk gaan, wag: Om met 'n uitgestrekte nek op die uitkyk te wees na die vervulling (Rom. 8:18-22). Maar om te wag is juis ook om te sê dat jy self niks kan vermag nie. Dit is God wat dit laat gebeur, ook om geloof en nuwe uitsig te laat deurbreek. Dis Hy wat 'n mens aanraak om in geloof so 'n sig op Hom te kry (Hab. 2:5-20) dat jy binne jou situasie kan lewe. Hierdie teks sê nie dat 'n mens nuwe sin verkry as jy met Hom in gemeenskap lewe nie (vgl. Ps. 73). Tog mag dit in die agtergrond van Habakuk 1 lê, daarin dat die twyfelende en ontnugterde gelowige juis in gebed bly worstel.

As Habakuk 2:4 God se "antwoord" aankondig, sê hy nie hoe om dit te doen nie. Hy lewer 'n getuienis van wat God doen. Dis die verleentheid van die prediker en die pastor; jy kan nie vir mense die geloof gee nie. Maar dis juis ook weer die genade; jy kan alleen maar getuig van en oproep tot, geloof. Ná hoofstuk 11 sê Hebreërs 12:1-2: "Terwyl ons dan so 'n groot skare van geloofsgetuies rondom ons het ... laat ons die wedloop wat voor ons lê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van ons geloof". Hierin staan ons nie alleen nie. Want in ons sug en in ons uitsig op wat God besig is om te doen, lewe ons met die Trooster en "voorvrug" van die nuwe lewe, die Heilige Gees. Die Heilige Gees leer ons bid, en maak ons geloofsgemeenskap met God 'n lewende werklikheid, juis in hierdie gebroke werklikheid (Rom. 8:23-30).