3 Oktober 2004

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Habakuk 1:1-15

Ander tekste: Klaagliedere 1:1-6; Ps. 137; 2 Timoteus 1:1-14; Lukas 17:5-10

Tema: Soms kla ons verniet dat dit swaar is om die Here te dien.

Inleiding

Iets wat ons in ons dag dalk meer moet hoor, is dat God sonde haat. Hy verafsku ongehoorsaamheid en ontrou, veral omdat Hy getrou is. In ons verhouding met God moet ons weet dat God ons red op grond van ons geloof in Jesus Christus, maar steeds van ons gehoorsaamheid en toewyding verwag. Die koninkryk van God kos jou niks. Dit sou dwaasheid wees om dit van die hand te wys of te minag.

God versamel ons voor Hom

Ons leef uit God se genade, maar die Here vra dat ons Hom uit dankbaarheid gehoorsaam sal dien. Daarom moet ons die genadegawe wat ons ontvang het toe ons gered is, soos ’n vuur aanblaas. "Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. (Ons) moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie (2 Tim. 1:7-8). Inteendeel, ons moet "ons deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God ons gee dra. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees."

"Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.

Kom ons loof die Here vir wat hy vir ons gedoen het"(2 Tim. 1:9b-10).

Sang

Lied 441:1, 2, 3 "O Heil’ge Gees, ons Heer"/NSG 273 "O, Heil’ge Gees, vul my gemoed"

Diens van die Woord

Epiklese

Psalm 119:129–136

Skriflesing

Habakuk 1:1-11

Diens van die Tafel

Skriflesing

Lukas 17:5-10

Ons dink so maklik ons verdien iets voor God. Maar as ons volledig aan Hom toegewyd lewe en Hom in elke gedagte, woord en daad dien, doen ons maar nog net wat God van ons verwag. Dan kan ons nog nie op iets voor God aanspraak maak nie, dan moet ons Hom net dankbaar dien.

Die Nagmaal is ’n fees van dankbaarheid. Die Heilige Gees verseker ons deur die teken van wyn en brood van God se genade wat ons in Jesus Christus deelagtig geword het. As ons dan die tekens gebruik, dank ons die Here met ons hele wese en moet ons in dankbaarheid ons lewe opnuut aan Hom wy.

Lees uit die Formulier die gedeelte oor dankbaarheid.

Geloofsbelydenis

Lied 308:1-5 "Neem my lewe"/NSG 260

Uitsending

Sang

Lied 309: 1, 2, 3 "My lewe bly aan U gewy"/NSG 267

Seën

Gebruik die trinitariese seën.

Sang

"Amen" kies enige van die volgende: Lied 312-315/NSG 355, 356.

INLEIDING tot HABAKUK

Die tradisionele "Inleidingsvrae" by 'n Bybelboek het hermeneutiese betekenis. Die datering en biografiese besonderhede van die profeet is van belang in die mate wat dit die interpretasie van die teks dien. Die struktuur van die boek en die wyse waarop die onderdele met mekaar saamhang en die perspektief wat daarop geneem word, asook die teksafbakening vir die prediking, bepaal die boodskap wat daaruit volg.

Alhoewel daar allerhande legendes oor Habakuk uit die tussen-testamentiese tyd bestaan wat dui op die agting wat hy geniet het, is daar buiten die boek niks oor hom bekend nie. Die feit dat hy, naas Haggai en Sagaria, die enigste Skrifprofeet is wat in die inleiding van sy boek "profeet" genoem word, dui daarop dat hy bes moontlik 'n amptelike profeet en dus aan die tempel verbonde was. 2:2 dui dalk daarop dat mense van hom 'n heilsprofesie verwag het, wat in dié konteks die vernietiging van die staatsvyande sou beteken. Die aanduiding van kultiese en musikale elemente (veral in hfst. 3) pas hierby in, veral as 1 Kronieke 25:1-8 hiermee saam gelees word. Ook die gebruik van die teologiese (hfst. 2) en teofanie-tradisies (hfst. 3) wat met die tempel geassosieer is, pas hierby (vgl. verder onder).

As lid van Jerusalem se elite is dit opvallend dat die sosiale misstande in die volk, wat dikwels deur die elite gepleeg is, hom so aangryp dat hy met die roerende gebed van 1:2-4 begin (vgl. Amos, wat as arbeidersklas plattelander, sosiale vergrype aanspreek). Oor sy "sielelewe" hoef ons nie te spekuleer nie. Dis duidelik dat sy gedrenktheid in die teologiese tradisies van sy volk hom eksistensieel raak en hom tot God dryf, waaruit hierdie profesie gebore word.

Ten spyte van ander moontlikhede wat al geopper is, bestaan daar breë konsensus dat "Galdeërs" (1:6) na die Nieu-Babiloniese ryk verwys en dat dit as sleutel tot die datering dien. Met die val van Nineve (612 v.C.) bring Nabopolasser, die stigter van die Galdese ryk, die Assiriese ryk tot 'n val en verbreek so die houvas van Assirië op Palestina. In 605 verslaan sy seun, Nebukadnesar, vir Farao Nego van Egipte by Karkemis. Juda was in die tyd juis vassal-bondgenoot in die tyd van Egipte. Hiermee is die weg geopen vir Nebukadnesar om verskeie strooptogte op die Judese ryk uit te voer, tot en met die verwoesting van Jerusalem in 587 v.C.

Indien die verdrukking waaroor Habakuk in 1:2-4 klae deur 'n buitelandse mag veroorsaak is, sou dit na die Assiriërs moet verwys, wat beteken dat die teks voor 612 v.C. gedateer moet word. Kommentare is egter taamlik eenstemmig dat die teks na toestande binne Juda self verwys en wel in die tyd van Jojakim (2 Kon. 23:35v.). In die kort "windstilte" tussen Assiriese en Babiloniese oorheersing word allerhande sosiale vergrype deur die heersersklas gepleeg. Dis baie soos in die tyd van Amos toe daar in die windstilte tussen Siriese en Assiriese oorheersing soortgelyke vergrype gepleeg is. Volgens die beste kommentare volg die antwoord van die Here in 1:5-11 ná  die eerste invalle van die magte van Nebukadnesar rondom 600 v.C. Die kronologiese samehang van die volgende klagte en openbarings is nie duidelik nie. Die toestande wat in die geloofslied in 3:17-19 gereflekteer word, sou in enige periode kon pas.

Die formele struktuur van die boek is duidelik. Hoofstuk 1:2-4 is die profeet se klae-gebed oor onregspleging wat ongestraf bly; 1:5-11 is die antwoord van die Here – Hy stuur die Galdeërs; 1:12-17 is die profeet se verwyt-gebed oor die ongerymdheid van God se optrede. Hoofstuk 2:1-4 bied 'n inleiding wat kulmineer in die spreukagtige orakel wat op skrif gestel moet word; 2:6-20 bevat 'n vyftal weë uitsprake. 2:5 word deur sommige by 2:1-4 en ander by 2:6-20 gereken. Hoewel dit nie formeel deel van die orakelspreuk in vers 4 is nie, het dit tog duidelike saaklike verband daarmee. Dit dien as skakel tussen die twee dele van die hoofstuk. Hoofstuk 3 het 'n besondere opskrif en karakter, en het volgens sommige moontlik selfstandig gefunksioneer, bes moontlik in die kultus. Die gebed (3:1) en reaksie van die profeet (3:16) omraam die teofanie-visioen (3:2-15). Die slot "ten-spyte-van-lied" (3:17-19) het nie direkte ooglopende verband met die voorafgaande verse nie. Dit is alleen binne die groter verband van die hele boek wat hierdie slot sin maak en die profesie tot 'n ongeëwenaarde hoogtepunt voer.

Die eie aard van die onderskeie hoofstukke moet erken word, maar moet primêr as eenheid hanteer word. Daar is 'n innerlike dinamiek waar, soos dikwels in die klaagpsalms, van klae en ontnugtering deur geloof tot lof beweeg word. Die verskil hier is dat die Here geloof word, al het die uitkoms nog nie gekom nie. Elke onderdeel kan dus alleen binne die groter samehang sin maak en as deel daarvan verstaan word. Watter gedeeltes as preekteks gekies word, bepaal dikwels die boodskap. So is 1:12-17, 2:1-4 en 3:1-19 as tekste deur WTL gebruik. Die Leesrooster stel 1:1-11, 1:12-2:4 en 3:1-19 voor. Deur die voorstel word 2:5-20 uitgelaat. Die gedeelte het egter direkte verband met 2:1-4. Ek gaan eerder die drie hoofstukke elk as geheel as my preektekste hanteer. So word die boek as geheel behandel. Dit bly natuurlik vir die eksegeet en prediker 'n uitdaging om drie opeenvolgende preke oor die kort boek te maak en aan die een kant die volledige boodskap daarvan vas te hou, sonder om aan die anderkant die ontsluiting voortydig "weg te gee", sodat jy eintlik in preek twee en drie, nie iets nuuts te sê het nie.

Nog een hermeneutiese kwessie: Interpretasie moet begin by 'n poging om so goed moontlik die teks te hoor soos die "eerste hoorders" dit gehoor het. Wat het die profesie vir die mense van Habakuk se tyd beteken? Hierdie is wel geen normale profesie nie. Hulle het die gebedsworsteling en God se antwoorde nie eerstehands gehoor nie. Daarby lê die dele (1:2-4 en 1:5v.) kronologies dalk jare uit mekaar. Heel waarskynlik het hoofstuk 3 selfstandig bestaan in kultiese verband (vgl. bo). Die komplekse proses waardeur profesieë versamel en op skrif gestel is, is vir ons hoofsaaklik onbekend (vgl. Koch). Die punt is dat dit juis in die besondere samehang soos dit in die teks oorgelewer is, dat die gebede en visioene vir die gelowiges in die voor- en ballingskapsituasie enkele jare later, maar ook in die tyd daarna betekenis gehad het, soveel so dat dit as deel van hulle profetiese korpus opgeneem is. Die profeet se "ondervinding" getuig van hoe daar gelowig met 'n krisis omgegaan moet word, vóór die ontsluiting kom. Dit is die "storie" van geloof op pad, op die krisis-pad. Dit sê: die gelowige mag maar vra en worstel, ja, moet vra en worstel, want anders is jy nie gelowig op pad nie. Geloof leer jou om in en met nood – fisiese en geloofsnood – vrae selfs oor God, te leef.

Habakuk is 'n boek vir leef met 'n spieël en 'n raaisel, van ironie en anomalie, van leef in die nog nie vanuit die reeds van geloof, wat die onsienlike sien. Dis die boek van worstel met wat jy sien, wat dit nie afmaak of ignoreer nie. Dis die boek wat in die pyn van die nou met 'n lied van geloof leer leef.

Bibliografie

Woord teen die Lig II/1, met ‘n inleiding en drie preekstudies met uitgebreide bibliografie; Ancor Bible Commentary, vol 25; Interpertation; NICOT; K Koch: The Prophets, vol 1.

PREEKSTUDIE – HABAKUK 1:1-17

Teks

Die hoofstuk bestaan uit twee klaag-gebede deur die profeet: die eerste oor God wat nie antwoord nie en die tweede oor die antwoord wat Hy dan wel in 1:5-11 gee. Elke vers van die eerste gebed (1:2-4) begin met 'n baie sterk appellerende woord met 'n verwytende ondertoon: Hoe lank, waarom, daarom. Die profeet spreek God direk met sy verbondsnaam aan. Hy kla dat hy al so lank bid, terwyl die Here onbetrokke bly; geen reaksie toon nie. Dit gaan teen sy wese in. In Eksodus 3:7-14 waar Hy die Naam die eerste keer openbaar, toon Hy homself juis as die God wat kla en nood oor verdrukking hoor en sien en ingryp.

In vers 3 lê 'n sinspeling tussen die Here wat die profeet onreg laat sien waaroor hy dan in gebedsworsteling gaan, en die Here wat sien en niks doen nie. Hy stapel ses terme oor sosiale en juridiese misstande op, maar dit is meer as tegniese terme; dis daaglikse lewenservaring, meestal van die gewone mense en dikwels aan die hand van diegene wat juis daarvoor verantwoordelik is om toe te sien dat die dinge nie gebeur nie. Onreg (regsverkragting en magsmisbruik) en moeite (belas word, swaar kry) word duidelik in Jesaja 10:1-2 beskryf. Van verwoesting en geweld het ons in ons land eweneens reeds te veel ondervinding, in besonder juis hulle aan die onderent van die sosiale spektrum. Stryd en twis as onderlinge onenigheid kan vele vorme aanneem. Vergelyk die tyd van Jojakim (sien inleiding). Vers 4 beskryf die gevolge van die toestand: Reg het geen betekenis nie. Die kern van die profeet se verwyt is dat slegte mense die oorhand oor goeies het.

Vers 5-11 bevat God se reaksie. Volgens kommentare waarskynlik eers toe die Galdeërs reeds in opmars was of reeds hul eerste strooptog op die Judese bevolking uitgevoer het. Die orakel, wat sonder inleiding aangebied word, is aan die volk ("julle") gerig. Die lê klem op die ongelooflike van die boodskap, naamlik oor wie God se instrument en wat die omvang van hulle optrede is, soos in die volgende verse beskryf word.

Vers 6-10 kondig eers die Galdeërs (vgl. inleiding) as God se antwoord op Habakuk se eerste gebed aan en beskryf dan die aard van hulle aanslag. Hul spoed en oorweldigende en vreesinboesemende krag word met realistiese natuurvergelykings geteken. Hulle verwoes en beset en voer gevangenes weg. Onthou, dis die tyd toe mense soos Esegiël en Daniël as bannelinge weggevoer is. Onreg, geweld en magsmisbruik, waaroor Habakuk in sy eerste gebed gekla het, word nou juis deur die vergelders in die hand van God in oormaat gepleeg. In die afskeidswoord oor die voortsnellende magte (11) lê daar 'n ironiese kinkel as gesê word: "hy oortree en is skuldig, sy krag is sy god". Die feit dat die Babiloniërs God se instrument is, beteken nie dat hulle nie die skuld dra vir hul optrede nie (vgl. Jes. 10:5e.v.).

In die tweede (aan-)klag van die profeet (1:12-17) gaan dit nie meer oor wat God doen nie, maar meer oor sy wese. Die vraag waarmee vers 12 begin, is nie een van twyfel nie, maar druk die skreiende teenstrydigheid uit tussen wie Hy is (12a-c) en nou aankondig as wat Hy doen (12d-f). Die terme waarin op Jahweh geappelleer word, is verbondsterme, wat as grond vir hoop dien (12c) en eweneens sy reg om te mag straf, erken (12d,f). Dis veelbetekenend dat aan Hom as "Rots" (toevlug in nood, vgl. Psalms) vasgehou word. In die aangrypende aanspraak op "Here, God, my Heilige" vind 'n mens 'n poëtiese stottering wat twyfel tussen wanhoop en hoop.

Vers 12 word in vers 13 uitgebou, met 'n belydenis oor die wese van God. Dit dien as aanspraak waarom Hy nie so iets, soos wat Hy aangekondig het, behoort te doen nie. Die aanklag, in die vorm van verwytende vrae in vers 13e-h, stel dieselfde kernprobleem as 1:4c, maar nou is die goddelose die Galdeërs wat God se volk verdruk. Deur te sê dat hulle "meer" regverdig is, word die skuld van die volk wel erken. Die wreedheid van God se (vgl. "U" in 14a) straf-instrument en die magteloosheid van die slagoffers word treffend met beelde uit die visserswêreld beskryf (14-17). Vers 17 sluit af met 'n klaend-verwytende vraag of God maar die ongetemde voortgang van verwoesting, soos van die perlemoenstropers in ons dag, sienderoog gaan toelaat.

Konteks

Habakuk 1 heet 'n "Godspraak" (1:1), maar bestaan nie uit tipiese profetiese toesprake nie. Dit verwoord die profeet se worsteling met God, wat in die oorlewering daarvan aan hoorders 'n profetiese boodskap bring – dit word profesie, soos Jona se ondervinding. Beide se eerste hoofstukke het alleen binne die boek as geheel betekenis. Beide laat die hoorder/leser na hom/haarself kyk deur met die onderskeie profete te identifiseer. Habakuk se geval stel ons voor die vraag oor hoe gaan ons – sekerlik ek as individu, maar veral as kerkleier (kultus/hof-profeet), maar ook as geloofsgemeenskap (kerk) – om met onreg in die wêreld. Hoe raak dit ons? In hoofstuk 1 lê dit op twee vlakke: intern – sosiaal-polities, en ook in groter, internasionale verband (terwyl ek hier skryf, is die VSA besig om Irak in te val!).

Die kern van sy worsteling word veroorsaak deur sy geloofsperspektief, bedoelende hoe hy God se betrokkenheid by die konkrete nood van die dag sien. 1:2-4 is reeds 'n reaksie op wat God syns insiens nie doen nie – geweld en verontregting gaan blykbaar aan God se aandag verby. 1:12-17 is 'n reaksie op God se antwoord, naamlik dat Hy mense as instrument gebruik wat slegter is as dié vir wie Hy straf. In die eerste klag is die krisis van die profeet God se onbetrokkenheid. Dit gaan teen sy geopenbaarde wese in (vgl. Eks. 3:7-14 bo). In die tweede stel hy dit eksplisiet dat God se optrede teen sy wese skreeu. Die verbond-"ekonomie" dat God se oordeel en redding saamhang, kan hy nog verstaan (12), maar dat Hy dit deur wrede en genadelose instrumente doen, soos Hy dit self in 1:5-11 beskryf, vorm die dieptepunt van die profeet se geloofskrisis.

Hier gaan dit dus oor die teodisee-vraag, soos in Job, maar op 'n ander vlak. In die Bybel is die teodisee-vraag geen teoretiese argument nie, dit word gebore uit en besleg in die felheid van die lewenskrisis. Eers as die lewenskrisis 'n geloofskrisis word, ontstaan die teodisee-vraag. Dit gebeur wanneer die (menslik gesproke) anomalie tussen jou verstaan van God en wat jy van sy bestuur van die lewe sien, jou geloofsfondamente skud. Wie die "wêreldbestuur" prysgee aan toeval of noodlot, of aan die bose, doen aan die Bybelse getuienis en sy eie geloof tekort. Die probleem kom vir ons wanneer ons die feit/belydenis dat God in beheer is, met die vraag hoedat Hy die beheer uitoefen, met mekaar in verband probeer bring. Dit is die krisis van die vraag na die sin van lyding, die "waarom"-vraag, wat Habakuk in hoofstuk 1 herhaaldelik vra.

Die ontsluiting van die profeet se worsteling lê eers, in 'n sin, in hoofstuk 2 en 3. Maar daarvoor moes hy klaarblyklik lank wag (2:1-3). Hoofstuk 1 moet egter in die volle krag van sy eie boodskap verkondig word, wetende dat daar wel 'n oofstuk 2 en 3 is. Hoofstuk 1 kan nie sonder die "meer" wat daarbuite lê verkondig word nie, maar die "meer" mag ook weer nie die felheid van Hoofstuk 1 afplat of voortydig ontlont nie.

Die Ou Testament verkondig op vele plekke, deur middel van die deuteronomistiese en verbondsteologie, maar ook in die liturgiese psalms en in die standaard-wysheidsdenke, die oordeel van die goddelose en die redding van die regverdige/gelowige, veral in hierdie bedeling. In die Nuwe Testament verdiep die probleem. Jesus se boodskap en lewe, asook Paulus en die apostels se ondervindinge, getuig daarvan dat die gelowige juis verdruk sal word en sal ly. Om te wys op die heerlikheid wat hierna wag, bring verseker troos en gee krag in die krisis. Maar ons moet waak om mense in eksistensiële geloofskrisse daarmee te paai sonder om by hulle te sit en hulle worsteling en vrae en twyfel te hoor. Selfs Jesus het tot en met bloedsweet in Getsemane met God geworstel. Habakuk 1 is die fase van "in die meul wees". Soos Job, van die klaagpsalms en Jesus self, is die boodskap van Habakuk 1 om in die krisis met God te bly worstel.

Daar is in ons wêreld soveel konkrete lewenskrisisse wat dreig om mense se geloofsoog te verdonker. Ja, wat hulle oor God self in twyfel bring. Elkeen kan die lys aanvul (armoede, werkloosheid, gesinsontwrigting en -geweld, bendes en misdaad, plaasaanvalle en kapings, MIV en Vigs, oorlog, ontworteling, hongersnood...) In die prediking sal elkeen by die konkrete situasie van die gemeente/gemeenskap moet aansluit, sonder om daarby vas te steek. Die vraag is natuurlik of ons self só deur die lewenskrissise om ons aangespreek word en daarby betrokke is, soos Habakuk, en of God net vir ons 'n vraag word as ons eie klein wêreld begin kantel.

Om goed oor die teks te preek, moet nie by die krisisse vasgesteek word of by `n teoretiese behandeling daarvan nie – allermins moet daar probeer word om maklike oplossings bied. Die teks wil ons lei om by die hart van die vraende, worstelende, verwytende gelowige uit te kom. Die preek moet nie in 'n psigologisering verval nie, maar dit is dalk ook weer net die prediker wat al self deur die meul is wat deernisvol oor die teks kan preek. Soos Habakuk se worsteling vir die mense van en na sy tyd gekommunikeer het dat mense in krisisse maar vrae mag vra, vir God mag verwyt en deur hom ontnugter word, wil die teks steeds mense daarmee troos. Troos in die sin dat hulle mag weet dat wanneer hulle dit doen, hulle nie die geloof verloor het nie, maar dit juis beoefen, soos die volgende hoofstukke duidelik maak. Daarmee is hulle "in goeie geselskap", selfs van Hom wat aan die kruis uitgeroep het: "My God, My God, waarom het U my verlaat?"

Van Wyk (WTL) wys tereg verskeie preke oor die teksgedeelte af, omdat dit op nie-sentrale elemente daarvan fokus. Sy eie voorstel kan met groot vrug gelees word, hoewel dit neig in die rigting van 'n teoretiese behandeling van die teodisee-probleem. Sy ontsluiting bevredig nie, want dit lê nie in die teks nie, naamlik dat ons aan God kan vashou omdat Hy sy hand op ons gelê het.

Preekvoorstel

Om die Habakuk-probleem dramaties aan die orde te stel: Wat sou jy sê as jy begaan is oor die losbandigheid en permissiwiteit van ons dag (miskien omdat dit jou kring, jou gesin raak) en die Here kom sê: Moenie jou bekommer nie, Ek stuur die vigs-pandemie om 'n bietjie balans in sake te bring? So, as jou kind sterf, weet: Ek is besig. Miskien was dit iets van die ervaringsveld van die profeet Habakuk (hier kan enige situasie wat vir die gemeente aktueel is, gebruik word).

Ons is belas met situasies. Ons bid by tye vir oplossings en dit lyk gewoon of God Hom nie aan ons of die nood steur nie. Inteendeel, dinge word dikwels juis erger. Ons het die ervaring dat die erger dinge God se "antwoord" is (1:5-11). Dit ruk ons hele geloofswêreld aan flarde. Hoe meer ons oor God dink, oor al die wonderlike dinge wat die Bybel van Hom getuig, en as ons op al die mooi beloftes aanspraak maak en dinge bly versleg, dan bevind ons ons in Habakuk se skoene. God sê, en die Nuwe Testament in Jesus se profesieë oor die eindtyd ook, dat dinge al slegter gaan word in die wêreld en vir gelowiges.

Wat hierdie krisis soveel meer akuut maak, is dat ons in 'n wêreld van kitsoplossings lewe, van medikasie vir elke skeet en programme vir elke probleemsituasie. Glans, voorspoed, en noem maar op, stempel die moraal van ons dag. Die mens is in beheer, alle probleme kan opgelos word deur onderhandelinge of terapie. Ons pretendeer dat pyn en lyding uitgerangeer kan word. Die ergste is dat daar strominge in die Christelike kerk is wat inkoop op hierdie positivistiese lewenshouding, meer nog, wat vir God instrument van die kitsoplossing-kultuur maak. Dikwels suggereer diesulkes dat as God nie vir jou so "werk" nie, daar nog iets met jou geloof skort.

Die probleem met so 'n aanpak is dat mense nie met hulle akute nood en lewensvrae en worsteling met God gehelp word nie. Inteendeel, hulle word dieper in hulle krisisse ingedryf en van hul geloof wat hulle daarin moet dra, beroof. Helaas is dit 'n feit dat mense deur so 'n (wat Habakuk betref) onbybelse houding al tot selfmoord gedryf is. Ja, soms word die goeie wel 'n werklikheid; 'n huwelik word gered en herstel; na eeue se onderdrukking en lyding kom soms, soos Goddank in ons land, bevryding. Maar alte dikwels bring dit ook nie die utopie nie. Soms is die ontnugtering in die goeie tyding soveel groter. Werkloosheid en armoede en geweld en verval, neem blykbaar hand oor hand toe.

God se weg met lyding en lewenskrissise is anders. Al kan Hy alle krisisse en nood oplos, soos die wonders van Jesus tekenmatig bewys, doen Hy dit blykbaar eerder by uitsondering as in die reël. God se weg is eerder om in die krisis, in die nood van die wêreld in te klim, om self deel daarvan te word. Die kruis op Golgota is die skrynendste bewys dat God se weg die weg van die lydende Kneg is. En juis hierdie mees onbegryplike en teenstrydige in die optrede en wese van God is die hart van die evangelie. Dis die "musterion" waarvan Paulus praat, wat dwaasheid is vir die mense.

Ons moet oplet dat Habakuk nie in die eerste plek met die skuld van mense worstel nie, maar met die "skuld" van God. Van Hom verwag 'n mens tog iets anders (1:2, 12-13). Die Ou Testament leer ons om nie kortpad na Satan te vat as sondebok vir alles wat ons as sleg ervaar nie, en so vir God skotvry te laat afkom en Hom te regverdig nie. Daarmee doen ons aan God te kort en gee ons die Bybelse getuienis oor sy albeheer prys. Daar is wel 'n lyn, ook in die Ou Testament, wat die bose erken, maar nie só dat die oppergesag van God in die gedrang kom nie. Die probleem is dat ons God se albeheer nie verstaan nie. As dit nie binne ons raamwerke, ook van ons verstaan van Hom, inpas nie, mag ons geloof in die krisis kom.

Soos Job, leer Habakuk 1 ons om met God oor God te worstel. God se liefde en geregtigheid het dimensies wat nie vir ons begryplik is of deur die Bybel deursigtig gemaak word nie. Hy is op geen wyse dienskneg van ons begrip van geregtigheid en liefde nie. Mense wat sê dat hulle nie in só 'n God wat Galdeërs gebruik, kan glo nie, kan eintlik ook nie in die God van die kruis glo nie. Maar alte dikwels word die kruis vereng tot simbool van God se liefde soos wat dit ons pas.

Habakuk plaas ons dus ook voor die vraag oor hoe ons oor God dink. Hy ken Hom as die troue verbondsgod Jahweh, as my Heilige, as Rots, die reine van oë. Maar hy stuit voor die lewenswerklikhede van sy dag. Hy bied nie antwoorde en oplossings en (teologiese) modelle nie. Vir hom beteken dit, om oor God te dink, is ook om met die nood van die wêreld besig te wees, en om met die nood van die wêreld besig te wees is om met God besig te wees. Hierdie besig-wees lê nie in klinkklaar oplossings, in geblikte antwoorde nie. Dit is ongelukkig waarna ons tyd vra en wat deur baie aangebied word.

Habakuk 1 kom staan langs mense, veral ook mense wat hul geloof ernstig opneem, maar wat as gevolg van die nood van die lewe en van God se skynbare onbetrokkenheid, met God worstel. Dikwels ondervind mense dat die nood, en dus ook die waarom-vrae en selfs twyfel en verwyte aan God, groei. In sulke omstandighede kom sê Habakuk 1:

God gee Hom nie prys aan ons redelike begrip, selfs aan ons verstaan van Hom, aan ons belydenisse nie. Hy gee Homself net prys aan ons geloof. Dit beteken dat ons in krisisse, ook met die ergste verwyte aan God en twyfel oor God, niks anders kan doen en mag doen as om maar net met Hom te bly worstel nie.

Om dit te doen, is nie teken van ongeloof nie, maar juis van geloof. As alles nie maar met ‘n vinger-klik regkom nie, is dit nie oor swak of klein geloof of omdat jy nie regtig kind van God is nie. Dis omdat God se (vir ons onbegryplike, selfs teenstrydige) pad in en deur die wêreld nie dié van die ophef van alle nood en vrae is nie, maar dikwels die van daar-wees in nood, al sien ons Hom nie. Dis die pad van die Kruis. Hierin vind ons troos, maar dit hef nie die werklikheid op nie.

Ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges het nie net die getuienis van Habakuk nie, maar ook van Hom wat Homself tot in die doodsangs van Getsemane en Golgota gegee het. Van Hom staan geskryf: "Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon ..." (Heb. 4:15-16).

En meer nog: "Die Gees staan ons in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie. En God wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is ..." (Rom 8:26-27).