12 oktober 2003

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Fokusteks: Amos 5:6-15

Ander tekste: Psalm 22 en 90; Hebreërs 3:1-6; Markus 10:17-31

Inleiding

Baie gelowige mense het gelykvormig met die wêreld geword. Ons is dikwels so vasgevang in die wêreld waarin ons leef, dat ons nie aldag eers dink aan wat God van ons verwag of vra nie. Wêreldse standaarde het die norm geword. Tog verwag God van sy kinders dat hulle volgens sy wil, sy riglyne sal leef. Dat hulle juis in hierdie harde, sondige wêreld sy liefde en genade sal uitleef. Daarom word ons opgeroep om ernstig na die wil van God te soek en daarvolgens te leef.

God vergader ons voor Hom

Aanvangswoord en seëngroet

Volgens die basisvoorstel vir koninkrykstyd.

Sang

"Ons sien die tekens van die tyd" Lied 584:1 NSG 135 "Wanneer U as die regter kom"

Skuldbelydenis en genadeverkondiging

Lees Markus 10:17-31 om die gemeente weer te laat dink oor die toewyding wat die Here van sy gemeente vra. Gee in stilte geleentheid vir nadenke oor die woord van die Here. Gebruik Psalm 90:7-17 as gebed van skulderkenning en roepe na die Here om genade.

Sang

"Getroue Heiland staan my by" Lied 584:3 /NSG 218: 2 "Jesus, Redder, hoor my bede" (sodat die wat skuldig voel oor hulle verdeelde harte, hulle hoop net op Jesus, die Here en Verlosser kan plaas).

Diens van die Woord

Vra die gemeente of hulle gereed is om na die Woord van die lewende God te luister. As ons daarna luister vra dit van ons om dit getrou te gehoorsaam. Hebreërs 3:1-6 spoor ons as gemeente aan om getrou aan die Here te wees en te bly soos ons Here, Jesus Christus was.

Sang

"U het die brood gebreek" Lied 253/NSG 370

Gebed vir die opening van die Woord/Epiklese

Skriflesing

Amos 5:6-15

Prediking

Antwoord

"Heer, wees ons genadig" Lied 247/NSG 233

Diens van die Tafel

Die nagmaal herinner ons daaraan dat Jesus ons met God versoen het. Dat ons op grond van sy gebreekte liggaam en gestorte bloed volkome versoening vir al ons sondes ontvang het. Daarom kan ons nuut begin. Daarom kan ons vandag hier uitgaan met die vaste voorneme om ten volle toegewyd aan die Here te gaan leef. By die brood en die beker gaan daar vir ons nuwe horisonne op sodat ons kan saamstem met die digter van Psalm 22:25-31.:

Voorganger: Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie. Hy het Hom

daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom gehoor.

Gemeente: Mag hulle lank en gelukkig lewe.

Voorganger: By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet, en sal dié wat na die wil van die

Here vra Hom prys.

Gemeente: Mag hulle lank en gelukkig lewe.

Voorganger: Mense oor die hele aarde sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer.

Gemeente: Die koningskap behoort aan die Here.

Voorganger: Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem en Hom as Koning erken.

Gemeente: Die koningskap behoort aan die Here.

Voorganger: Ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel. Die nageslag sal Hom dien, en

hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.

Gemeente: Die Here het dit gedoen.

Voorganger: Die sal dan aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossingsdaad getuig.

Gemeente: Die Here het dit gedoen.

Sang

"Leer my u wil, Heer" Lied 528/NSG 268 as 'n gebed van toewyding.

Uitsending

Dankoffer

Kindertyd

Vertel die verhaal van die man wat 'n baie groot skat ontdek het en dit graag wou bekom. Toe hy na die prys verneem, sê die eienaar die skat kos hom alles wat hy het. Dadelik het die man geglimlag, want wat hy besit het was n paar rand in sy beursie, wat hy toe net daar uithaal en betaal. Daarop vra die eienaar vir hom of dit al is wat hy het. Hy antwoord bevestigend waarop die eienaar hom vra om sy klere uit te trek. Hy het mos gesê dat die skat die man alles kos.

Terwyl die man sy klere uittrek haal hy sy motorsleutels uit die sak. Die eienaar vra hom wat dit is en hy antwoord dat dit die sleutels van sy motor is. Die eienaar vra toe dat hy dit ook moet oorhandig, want die kosprys is alles wat hy het.

Die man was baie verontwaardig en vra hoe hy dan by die huis moet kom, waarop die eienaar sê: O jy het n huis. Gee maar die sleutels. Onthou, die prys van hierdie skat is alles wat jy het.

Waar dink jy moet my vrou en kinders bly, vra die man verontwaardig? O! Jy het n vrou en kinders. Jy sal hulle moet gaan haal. Onthou die skat kos jou alles, antwoord die eienaar.

Wanneer ons die Here dien vra hy van ons alles. Dan is daar nie een deeltjie van ons lewe wat ons vir onsself kan hou nie. Jesus het gesê: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel' en met jou hele verstand.

Sang

"My lewe bly aan U gewy" Lied 309/NSG 267

Seën

Sang

"Amen" Lied 312 - 315

 

PREEKSTUDIE AMOS 5:6-7; 10-15

Inleiding

Die boek Amos se plek in die Bybel

Die boek Amos vorm deel van die sogenaamde klein profete in die Ou Testament. Jesaja, Jeremia en Esegiël is die sogenaamde groot profete. Amos is, volgens die Hebreeuse weergawe van die Ou Testament, die derde van die klein profete, net na Hosea en Joël. Amos, wat nie deel van n profeteskool was nie, maar vanuit sy beroep as skaapboer tot profeet geroep is, was waarskynlik die oudste van die Skrifprofete. As skaapboer van Tekoa, n dorpie aan die wesgrens van die woestyn by die Dooie See, suidoos van Betlehem, tree hy veral in die noordelike ryk op as profeet. In hierdie tyd was Ussia die koning van Juda (die suidelike ryk) en Jerobeam II koning van Israel (die noordelike ryk).

Dit was n tyd van besondere militêre en ekonomiese voorspoed vir Israel. Tog was dit ook n tyd waarin daar n groot kloof tussen ryk en arm bestaan het. Die rykes het boonop hul steeds toenemende materialisme gevoed ten koste van armes wat uitgebuit is. Arm mense is van toegang tot hulpbronne, vooruitgang en basiese menseregte weerhou. Hierdie onreg het gewoed te midde van die instandhouding van die tempeldiens en die hou van godsdienstige feeste.

Die uitstaande kenmerk van die boodskap van Amos is dat hy die belangrikheid van diens aan God wat lei tot en parallel loop met diens aan en beoefening van geregtigheid teenoor die medemens, veral die noodlydende medemens, in die skerpste en duidelikste taal in die Bybel belig.

Ons teks se plek in die boek Amos

Ons teks vorm deel van die reeks oordeelspreke teen Israel, wat strek van hoofstuk 3:1 tot 6:14. Die misstande in die volk word in dié gedeelte ook uitgelig: korrupsie, uitbuiting van armes, materialisme, valse regspraak. Wat egter opvallend is, is die oproep om die Here (v 6) en wat goed is (v 14) te soek en om die slegte te haat en wat goed is lief te hê (v 15). Die soeke na God word aangedui as die weg tot herstel van die reg, ware lewe vir myself en my medemens, en die heilsame teenwoordigheid van God. n Mens vind slegs hierdie ware lewe as ek ander mense ook laat leef, as ek die kondisies kan help skep waarbinne hulle n menswaardige bestaan kan voer, profeteer Amos.

Konteks

Die misstande van Amos se tyd is nie onbekend in ons tyd nie: korrupsie, vervulling van die materialistiese behoeftes van ryk mense ten koste van armes, die voortsetting en selfs vergroting van die kloof tussen ryk en arm (Suid-Afrika is saam met Brasilië die lande met die grootste gini-koëffisiënt in die wêreld, dit wil sê met die grootste kloof tussen ryk en arm), omkoop van besluitnemers, ignorering van die vraag na hoe ons besluitneming op verskillende lewensterreine en ons lewenstyl die magteloses en weerloses in die samelewing raak. Die bekende Suid-Amerikaanse teoloog, Gustavo Gutierréz, het juis gekonstateer dat hierdie arm en weerlose mense weliswaar nie die enigste nie, maar tog eerste aanspraak op God en medemens se ontfermende geregtigheid het.

Hierdie misstande het sowel persoonlike as geïnstitusionaliseerde gesigte. Met ander woorde dit is misstande wat my en jou lewens persoonlik en ook mensegroepe se ingesteldheid as groepe raak. Die vraag is hoe is ek en jy individueel en in groepsverband ingestel teenoor geld, besittings en die materiële dinge wat so maklik mense se hoofrede vir bestaan word. Dié misstande is die produk van die najaag van eiebelang en die bevrediging van materialisme deur sowel individue as groepe (bv nasies, verenigings van nasies soos die Europese Unie, transnasionale maatskappye, die sogenaamde nuwe elite wat bestaan uit n klein groep uit die voorheen benadeeldes wat ekonomies vooruitgaan terwyl die massa benadeeldes steeds in armoede leef).

Die Noord-Amerikaanse Gereformeerde filosoof en teoloog, Nicholas Wolterstorff, meen dat geregtigheid n aanduiding gee van hoe mense se verhoudinge moet lyk. Al die verhoudinge waarin ons leef, die tussen mens en God, mens en medemens, mens en hom of haarself, mens en die nie-menslike deel van die skepping, word gekenmerk deur vreugde. So beskou is geregtigheid nou verwant aan die Joodse idee van "shalom", omvattende heil en vrede. Ongeregtigheid neem die vreugde in verhoudinge weg. Die Noord-Amerikaanse teoloog, Karen Lebacqz, se siening dat dit in geregtigheid nie net daarom gaan dat die grootste mate van geluk vir die grootste aantal mense bewerk moet word nie, of dat die vryheid van elke individu beskerm moet word, of dat die euwels van onreg ontmasker moet word nie, of dat groter klem op die minder bevoorregte gelê moet word nie, of dat die arme voorkeur moet geniet nie, maar dat dit veral daaroor gaan dat ons denke oor n situasie beslissend bepaal moet word deur die vraag na watter effek keuses en praktyke en strukture op die noodlydendes het. Hiermee vind sy aansluiting by Amos se ontmaskering van sosiale ongeregtigheid as die uitbuiting van die behoeftiges en kwesbares. Die Belydenis van Belhar (1986) verwoord hierdie selfde waarheid in artikel 3 in die bekende formulering dat God in n situasie van onreg, op n besondere wyse die God van die arme, die noodlydende en die veronregte is. Hierdie beklemtoning van die noodlydende beteken, volgens Gustavo Gutiérrez, nie dat die noodlydendes die enigste aanspraak op geregtigheid het nie, maar dat hulle wel eerste aanspraak daarop het.

Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke het in 1997 by sy Algemene Vergadering in Debrecen op voorstel van die Suider-Afrikaanse Bond van Gereformeerde Kerke, n processus confessionis oor ekonomiese onreg in die konteks van die globale ekonomie afgekondig. Verskeie ekumeniese wêreldliggame neem deel aan hierdie proses, waarin besin word oor die implikasies van die Christelike geloof vir die globale ekonomie en oor die uitdagings wat veral ekonomiese globalisering aan Christene stel.

Op gemeentelike vlak kan die soeke na God en na geregtigheid gedien word deur die toeëiening van hierdie betekenisvolle proses in die wêreldkerk én deur te kyk na ons eie ekonomiese lewenshouding en lewenswyse. Want, in die hart van die Debrecen verklaring word immers duidelik verklaar, aan die hand van die eerste artikel van die Heidelbergse Kategismus: Ons behoort nie aan ons self nie

Preekvoorstel

Hierdie preekvoorstel is nie n voltooide preek nie, maar voorsien riglyne vir n preek aan die hand van die teks in die spesifieke konteks van die prediker. Gegewens wat hierbo weergegee is, kan goedskiks by die uitwerk van die preek benut word.

Die profeet Amos beskryf reg en geregtigheid as die kenmerke van individue en n volk wat die Here dien en Hom soek. Wie God deur die tempel en offerdiens aanbid en wie Hom soek, dit wil sê hulle aan Hom toewy, beoefen reg en geregtigheid.

Die reg is veronderstel om soet te wees veral vir die geringes en kwesbares in die samelewing, vir die armes, weduwees, wese en noodlydendes. Die regstelsel moet die belange van die kwesbare mense beskerm. Die regspraak in Israel het in Amos se tyd (8ste eeu voor Christus) egter soos wildeals geword. Wildeals was die bitterste plant in Palestina. Vir die mees kwesbare mense in die samelewing het die regspraak bitter geword. Ryk mense, wat hul rykdom verkry het deur die armes uit te buit, het die regters omgekoop en die regspraak korrup laat word. Daar was nie meer sprake van opregtheid, van handel en oordeel volgens die norme en standaarde wat n weerspieëling is van wat God vir sy mense wil hê nie.

Die korrupte regspraak was egter maar een sosiale misstand in die Israelitiese samelewing. Die beoefening van sosiale ongeregtigheid wat in verband staan met die onregverdige regspraak, was die ander misstand. Sosiale ongeregtigheid het duidelike gesigte. Volgens Amos is die beoefening van ongeregtigheid gesien in die uitbuiting, vertrapping en verdrukking van die minderbevoorregtes (2:7a; 3:10; 4:1; 8:4); die afneem van hul grond as hulle nie hulle skuld kon betaal nie, en die verkoop van skuldenaars as slawe, selfs slawe op hul eie grond (2:6; 8:6a); die gebruik van behoeftiges as goedkoop arbeid ter wille van selfverryking (5:11); die beoefening van bedrog teenoor behoeftiges in die handel (8:5,6b); onregverdige heffings (5:11a); seksuele misbruik (2:7b).

Die mense wat geregtigheid beoefen is volgens Amos daardie mense wat God soek, wat Hom dien en wat die goeie soek. Vir hulle wat hulle aan God en die goeie toewy (verse 6, 14, 15) is geregtigheid nie net n standaard waaraan hulle die lewe in die samelewing meet nie. Nee, vir hulle is geregtigheid ook n deug. Hulle beliggaam geregtigheid. Die bekende deugde-etikus, Stanley Hauerwas, benadruk dat regverdige mense deur die Heilige Gees gevorm word binne die kerk waar die karaktervormende verhale van God se handelinge in Israel, Jesus Christus en die kerk oorvertel word. Reg en geregtigheid is nie net abstrakte begrippe of ideale nie. Dit kry, ook in ons dag, gestalte in mense, ek en u, wat na God soek, wat dus glo in en toegewyd is aan Jesus Christus. Die teenwoordigheid van hierdie deugde reflekteer ons geloof in en toegewydheid aan die drie-enige God.

Aan Hom behoort ek en jy immers, met hart en siel, deur ons getroue Saligmaker Jesus Christus (HK 1), en met die gunste en gawes wat Hy aan ons gee om te bestuur, nie ter wille van ons self in die eerste plek nie, maar ter wille van die noodlydendes en die armes vir wie Hy n besondere sagte en ontfermende hart het (Belhar 3). Omdat die mense van Israel dít vergeet het en omdat hulle n lewe gelei het wat die reg van die armes en die weerloses vertrap het, praat Amos oordeelstaal met hulle, sing hy n treurlied (v 1), profeteer hy hulle val as n voldonge feit, terwyl dit eintlik nog met hulle baie voorspoedig gaan. Die naderende onheil kan afgeweer word as die volk hulle bekeer, as hulle na die wil van die Here vra (v 4, 6a). As hulle hul egter nie bekeer nie, sal die Here hulle soos n vuur tref wat nie uitgeblus kan word nie (v 6b). Maar as hulle goed probeer doen, nie verkeerd nie, deur te haat wat verkeerd is en vir die reg op te kom, teen die uitbuiting en vir diegene wat vertrap word, sal hulle lewe. Só het Amos destyds die volk opgeroep tot bekering. Só praat die Here se Woord ook met ons vandag. Ek en jy en ons as gemeente, word vandag weer saam opgeroep om in die moeilike ekonomiese konteks van vandag, voortdurend die reg te soek en ook só te leef dat die armes uit hulle ellende verlos kan word. Daartoe roep God wat Hom oor ons ontferm ons op en daartoe help Hy ons.