Ander tekste: Psalm 65, 2 Timoteus 4: 6-8 en 16-18 en Lukas 18:9-14
Daar
bestaan konsensus onder geleerdes dat die boek Joël ’n literêre eenheid vorm.
Daar is egter nie eenstemmigheid oor die aard van hierdie eenheid nie. Vir ’n
goeie bespreking van die wyse waarop Joël 2:23-32 in die groter geheel inpas,
kan die bydrae van Prinsloo (1987) geraadpleeg word. Twee verdere opmerkings is
hier van belang: a) Dit is teologies en tematies beswaarlik moontlik om oor een
deel van die boek te preek sonder om die geheel ter sprake te bring. b) Die
indeling volgens die leesrooster is minder bevredigend. Na die oproep tot berou
in hoofstuk 2:12-17 (deel 4) volg Jahwe se antwoord 2:18-27 (deel 5). Die
bekende 2:28-32 bou op hierdie belofte van heil voort met spesifieke verwysing
na die Dag van die Here wat hier, in teenstelling met 2:1-11, as ’n dag van
heil voorgestel word. Die preekvoorstel hieronder fokus op 2:28-32 en lees
daarvandaan terug en vooruit – beide literêr en histories.
Daar
bestaan geen konsensus onder geleerdes oor die historiese agtergrond van die
boek Joël nie. Voorstelle wissel van die regeringstyd van Joas (870 v.C.), die
regeringstyd van Sedekia voor die val van Jerusalem in 587 (dus iewers na 597
v.C.), die tyd van Haggai en Sagaria (rondom 520), en die periode na die herbou
van die mure van Jerusalem (na 435 v.C.), tot die laat-Hellenistiese periode
(2de eeu v.C.). Miskien kan ’n mens met Calvyn saamstem dat die historiese
konteks vir die prediking nie so deurslaggewend is nie aangesien die boodskap
van Joël nietemin duidelik is.
Joël
2:28-32 moet verstaan word as ’n beskrywing van die Dag van Jahwe. Geen sistematiese
beskrywing van die betekenis van die Dag van Jahwe in die Ou Testament is
moontlik nie. Dit kom deurgaans in die profetiese literatuur van die
na-ballingskap periode voor, maar dit word telkens op ’n verskillende wyse
gebruik. In Obadja dui dit op ’n dag van nasionale herstel; in Maleagi gaan dit
om reiniging deur die oordeel heen; in Jesaja 24 word die verwoesting beskryf
wat die bose op die dag van oordeel sal tref; in Jesaja 65 gaan dit om nuwe
lewe na die oordeel; soms gaan dit oor ’n geweldige konflik tussen Jahwe en die
teenstanders (Esegiël 38-39, Joël 3, Sagaria 14).
In Joël
1:15 en 2:11 word na die Dag van Jahwe verwys as ’n dag van oordeel oor Israel
self wat met groot verwoesting vir Israel gepaard sal gaan en wat van die
Allerhoogste self afkomstig is. In Joël 2:31 word die Dag van oordeel nog
steeds as ’n vreeslike dag geteken, maar dit word in hoofstuk 3 omgebuig tot ’n
dag van oordeel oor die vyande van Israel. Terwyl die oordeel op die vyande
gewreek word, sal daar by die Here in Sion uitkoms wees, ’n veilige vesting.
Dáárdie dag sal daar heil vir Israel aanbreek (3:18f). Prinsloo (1987:238) vat
die betekenis van die boek Joël binne hierdie konteks netjies saam:
Die boek
Joël is primêr ’n heilsboodskap vir die troostelose na-eksiliese Judese
gemeenskap. Dit wil sê Jahwe regeer nog steeds, daar is nog hoop, en Jahwe sal
straf bring oor die nasies wat Juda tot skande gebring het tydens die
ballingskap. Vir die moedelose en toekomslose na-eksiliese gemeenskap was dit
’n bemoedigende boodskap.
Die
klaaglied oor die dag van oordeel word dus omgebuig tot die belofte van ’n dag
van heil wat sal aanbreek deur die oordeel oor die vyande heen. Dit is
belangrik om daarop te let dat die klaaglied en die heilsbelofte ewe ver strek.
In beide gevalle raak dit 1) die land self (plante, bome, veld, vee), 2) die
mense (voedsel, water, militêre veiligheid, kultus, nasionale eer) en 3) die
eer van die Naam van Jahwe. Daar is in hierdie verband ’n opvallende tematiese
parallel tussen Joël en Esegiël 36. Daar het oordeel en heil eweneens
implikasies vir die land, vir mense en vir die Naam van Jahwe. In beide gevalle
wend Jahwe die oordeel af, maar dan nie soseer ter wille van mense nie, maar
ter wille van die land en veral ter wille van sy Naam wat oneer aangedoen word.
In beide gevalle hang die belofte van heil saam met die Gees van Jahwe wat in mense se lewens posvat.
Joël
2:28-32 en Handelinge2:16-21
In die
Christelike kerk kan ons Joël 2:28-32 nie lees anders as deur die bril van
Handelinge 2 nie. Dit is egter belangrik om Joël binne sy eie konteks te
verstaan en so tot sy eie reg te laat kom. Dit gaan in Handelinge om die
uitstorting van die Heilige Gees en om wat alles op daardie dag gebeur het. In
Joël 2 gaan dit oor die komende Dag van die Here wat ’n nuwe heilstyd sal
inlui. Die gees van Jahwe is binne hierdie konteks die nuwe lewewekkende krag
wat die Here se teenwoordigheid meebring. Die Gees van Jahwe help mense om met
nuwe hoop en moed, met ’n nuwe visie, ’n droom vir die toekoms te leef.
Apokaliptiese
trekke in Joël 2:28-31?
Die oordeel
van die Dag van Jahwe word in Joël 2:30-31 (ook 2:10) in kosmiese terme
beskryf. Daar sal tekens in die hemel en op aarde wees; die son sal donker word
en die maan bloedrooi. Hierdie beelde is nie soseer ’n apokaliptiese beskrywing
van die einde van die wêreld nie, maar eerder ’n dramatiese aanduiding van die
omvang van die oordeel wanneer die Dag van Jahwe in die geskiedenis aanbreek.
Prinsloo (1987:236) meen tereg dat Joël op die drumpel tussen ‘eskatologie’ en apokaliptiek
staan.
In ’n
bondige maar uitstekende bespreking van Joël 2:18-32 lig Michael Welker (1991:
147-151) die volgende teologiese momente uit:
Die belofte
van Joël bied versekering van God se reddende teenwoordigheid te midde van die
monumentale katastrofes. Die Gees word ‘uitgestort’ in ’n daad van oorvloedige
genade. Die metafoor dui op ’n pluriforme gebeure wat in alle rigtings spat en
op verskillende maniere ’n uitwerking in die samelewing het. Die Gees se
werking verbreek die eenvormigheid van magstrukture.
Die Gees
word op ‘alle vlees’ uitgestort. Dit dui op die brose, kwesbare, begrensde en
sterflike liggaamlikheid van die mens. Die broosheid en sterflikheid van die
mens word nie opgehef nie, maar word ’n draer van die werking van die Gees. Die
Gees kom nie net op dié wat sterk is, op die wat aansien geniet en in
magsposisies is nie. Die gewelddadige skaal van die kosmiese gebeurtenisse maak
almal bewus van hulle nietigheid en broosheid – ook die magtiges en die
heersers.
Mans en
vroue, jonk en oud, selfs slawe en slavinne Gelyke status word hier op ’n
merkwaardige aan alle mense gegee – in ’n kultuur waar volledige gehoorsaamheid
verwag is van volwasse seuns aan hulle vaders, vroue aan hulle mans en slawe
aan hulle eienaars. Die barmhartigheid wat volgens die profete aan die
hulpeloses gebied moet word, word hier uitgebrei om gelyke status aan alle
mense te verleen. Dit gaan egter nie net om ’n abstrakte vorm van gelykheid
nie. Dit is ’n gemeenskap waarin elkeen ’n eiesoortige bydrae kan lewer vanuit
hulle spesifieke ervarings met God. Die vermoë om die werklikheid, en die
toekoms wat God in gedagte het, te ontsluit word aan elke mens gegee deur die
profetiese gawes wat hulle ontvang.
Daar is
talle moontlike hermeneutiese invalshoeke wat in die prediking benut kan word.
In die preekskets hieronder word een voorstel aan die hand gedoen, naamlik die
moedeloosheid van die na-eksiliese gemeenskap en die behoefte aan ’n
rigtinggewende visie vir die toekoms. Die drome en visioene van Joël 2:28 bied
’n moontlike vertrekpunt in so ’n geval.
Die vraag
wat met goeie reg vanuit die boek Joël gestel kan word, is watter visie ons vir
die toekoms het. Watter drome droom ons ouer mense nog en watter visioene sien
ons jong mense? Het ons verval in moedeloosheid of droom ons nog van ’n beter
wêreld? Hierdie vraag is van besondere belang in die lig van die moedeloosheid
waarin baie mense, ook in Afrika, verval het. Hierdie gees van moedeloosheid
kom veral tot uitdrukking in die vrese van mense oor die ekonomiese en
ekologiese probleme wat ons en ons kleinkinders in hierdie eeu in die gesig sal
staar. Baie vind ontvlugting in óf vooruitgangsoptimisme óf in spekulasie oor
kosmiese katastrofes ('n sieklike behae in rampe en ellendes). Die boek Joël
wys egter op ’n ander moontlikheid, naamlik die belofte van heil. Wanneer die
gees van Jahwe oor mense vaardig word, open dit hulle visie vir ’n nuwe
toekoms.
Watter
beelde en drome (of nagmerries) het mense vandag ten opsigte van die toekoms?
Dit is nie moontlik om ’n algemene antwoord op hierdie vraag te bied nie. In
die prediking sal die plaaslike konteks wel deeglik in ag geneem moet word. Die
uittreksel hieronder gee nietemin ’n aanduiding van die byna kosmiese omvang
wat negatiewe beelde van die toekoms reeds aangeneem het.
Die
volgende is ’n uittreksel uit hoofstuk 1 van A Rainbow over the Land: A South African guide on the church and
environmental justice deur EM Conradie & DN Field (Western Cape
Provincial Council of Churches, 2000). Dit bevat interessante aanhalings en
bepaalde perspepsies in verband met die toekoms:
‘We are
often confronted by ominous environmental statistics and troubling future
projections. The message from the mounting data has become increasingly clear
to everyone in slogans such as: "The future isn't what it used to
be." Or: "If current trends continue, we will not!" Prophets and
poets from all over the world add their voices to a deeply seated concern about
the well-being of our planet and all its people. These poets and prophets
function as the antennae of society because they seem to be able to register
and express the pain impulses of the world in which we live.
‘Media
reports often remain rather distant, not really affecting our daily lives
directly. Yet, they reinforce our silent fears for the future. Deep down we are
not very confident that these issues will be adequately addressed. We feel
powerless to change the direction of the world in which we live on our own.
This is born from the realisation that other forces seem to control the destiny
of the earth and all its creatures. We fear that some things may be spiralling
out of control. We thus remain deeply concerned about the world which our
children and grandchildren will inherit from us. We fear over-population, crime,
poverty, rampant diseases, chaos, economic deficits, and increasing
environmental hazards.
‘In popular
culture, these fears and anxieties are often expressed in apocalyptic images,
horror movies, cartoons, science fiction literature, or heavy metal rock music.
These are full of images of cosmic horrors, featuring, for example, vengeful
insects or rats or machines taking over the world, frequently in the aftermath
of a nuclear catastrophe. In these latter-day apocalyptic portrayals of cosmic
battles, the forces of the Light often save the day, but provide only temporary
reprieve from the daily fears, cosmic despair and spiritual emptiness that
pervade much of contemporary culture (Paul Santmire in Ted Peters, The cosmos as creation, 1989:266).
‘These images
of the future express the repulsive ugliness of the world in which many of us
live. They also express a sense of a looming global crisis. However, they
hardly provide us with a stimulating and encompassing vision for the new
century.
‘What kind
of world will our children inherit from us?
‘Have you
thought about the world that your grandchildren will inherit? Some prophets of
doom are very quick to announce the end of the world. Many people think that
this will come about sooner rather than later, probably within this century.
Sallie McFague, the American feminist theologian, gives a much more sober
picture of what life could be like for future generations on this planet (e.g.
by the end of the twenty-first century):
‘It will, I
suspect, generate a different, far more mundane, kind of horror: the struggle
for food and water, the stench of pollution in the sky and ocean, the battle
for decreasing parcels of arable land, the search for basic medical care and
education. Succeeding generations will set their sights lower: they will not expect shade trees in the cities or
forests in the country any more than they will expect a better future for their
children. They will, among other things, learn to live with "much beauty
irrevocably lost," but by then they may not even miss it. They will have
grown used to a hotter, drier planet with many more people and many fewer
trees, flowers and other animals (The
body of God, 1993:8).
‘One may
perhaps add that pockets of wealth, probably extreme will continue to exist. Since
this wealth will be based on ever scarcer resources, it will have to be
protected by more than high walls, sophisticated alarm systems and barbed wire
fences.
‘To quote
Sallie McFague again:
‘As more of
the earth becomes desert, water scarcer, air more polluted, food less
plentiful, the lines between the "haves" and the
"have-nots" will become even more sharply drawn. Justice for the
oppressed will recede from view when resources become scarce. If the human
population doubles in forty or fifty years, as seems likely, and the pressure
on the planet for the basics of existence intensifies, those with power will do
what is necessary to insure their own piece of the disappearing pie (1993:9).
‘Herman
Daly, an economist, and John Cobb, a Christian theologian, paint a similar
picture:
‘On a
hotter planet, with lost deltas and shrunken coastlines, under a more dangerous
sun, with less arable land, more people, fewer species of living things, a
legacy of poisonous wastes, and much beauty irrevocably lost, there is still
the possibility that our children's children will learn at last to live as a
community among communities. Perhaps they will learn also to forgive this
generation its blind commitment to ever greater consumption. (For the common Good, 1994:400).
1. Wat is
jou droom in die lewe? Om ’n goeie man of vrou te trou? Om as ’n gelukkige
gesin saam te lewe? Om beroepsbevrediging te ervaar? Om bevordering te kry? Of
miskien om net weer ’n werk te kan hê? Om baie geld te maak? Om ’n huis in ’n
beter omgewing te kan bekostig? Of om net ’n huis van jou eie te kan hê? Om in
sport te presteer? Om die jackpot te slaan? Om of een of ander eksotiese plek
te gaan vakansie hou? Om daardie mooi vinnige kar of motorfiets te kan koop? Om
eendag beroemd te wees? Om op ’n veilige plekkie af te tree? Om volledig te
herstel na ’n ongeluk of operasie? Om goeie gesondheid te behou?
Nog
belangriker: Wat is jou visie vir die toekoms? Hoe sien jy die toekoms, kom ons
sê oor 50 jaar – wanneer jou kleinkinders min of meer so oud sal wees soos wat
jy nou is? Vergelyk die bespreking
onder ‘Konteks’ hierbo. Daarin word iets uitgedruk van baie mense se vrees vir
die toekoms op ’n bedreigde planeet.
Drome en
visioene speel ook in die Bybel ’n belangrike rol. Dink aan die drome van
Josef, die visie vir vrede, reg en geregtigheid by talle profete, die
toekomsvisie van die geloofshelde volgens Hebreërs 11 en die visie op ’n nuwe
hemel en ’n nuwe aarde in Jesaja 65 en Openbaring 21. Kom ons kyk hier na die
nuwe visie vir die toekoms wat die boek Joël vir ons oopmaak.
2. Die
prentjie wat ons van Israel in die boek Joël kry, is allesbehalwe rooskleurig. Dit is moeilik om die
historiese omstandighede waarbinne die boek Joël geskryf het, vas te stel.
Nietemin lees ons van sprinkane, droogtes, hongersnood, ellendes, konflik en
militêre bedreigings vir mense. Dit lyk asof die hele aarde besig is om weg te
kwyn van droogte: diere, die bome, die plante en die veld is besig om te ly.
Die gevolg hiervan is dat die Naam van Jahwe deur die modder gesleep is. Nog
erger: ’n vreesaanjaende dag van oordeel vir Israel was op pad. Die ergste was
dat die verwoesting wat Israel getref het van God self afkomstig was (1:15).
Die God wat vir Israel moes beskerm is die oorsaak van die rampe wat hulle tref. Watter hoop bly daar dan nog oor? Wat kan ’n
mens in só ’n situasie doen.
3. Die
antwoord hierop is eenvoudig: ’n mens kan niks anders doen nie as om bang te
wees. Dan word jy deur jou vrese lamgelê. Die hele aarde word met skrik oorval
(2:10). Dit is egter nie waar die boek Joël eindig nie. Ons lees in hoofstuk
2:12 dat die volk daaraan herinner word dat Jahwe hulle God genadig en
barmhartig is, lankmoedig en vol liefde. Jahwe is begaan oor sy Naam wat deur
die modder gesleep word onder die nasies (2:17). Dit is wanneer Jahwe ingryp
dat die hele prentjie verander. Dan is daar is genoeg kos om te eet, die veld
groei welig, die bome dra vrugte, Israel se eer word herstel, die Naam van
Jahwe word geprys (2:26). Die ou verbintenis tussen God en Israel is herstel.
Die woorde van die verbond in Levitikus 26:3-5 word daarom opgeroep:
As julle my
voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal Ek vir julle
reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte
dra … Julle sal oorgenoeg kos hê en sonder sorge in julle land woon.
4. Hiermee
is die probleem wat Israel geteister het egter nog nie opgelos nie. Israel het
wel berou getoon. Hulle het teruggekeer na God. Maar wie sê dit was nie maar
net omdat hulle die straf van Jahwe wou afwend nie? Dalk dien hulle die Here
eintlik maar net ter wille van hulle eie voorspoed (2:14). Wie sê hulle berou
is opreg? Hoe weet mens dat dieselfde ou probleme nie binnekort maar weer gaan
kop uitsteek nie? Die een goeie teken is dat Israel se skuldbelydenis nie net
rondom hulleself wentel nie. Dit gaan uiteindelik om die Naam van Jahwe wat
bespot word. Dit gaan nie in die eerste plek uit die voordeel wat Israel
daaruit kan trek nie. Dit gaan primêr om die eer van Jahwe se Naam. Maar wie sê
hierdie goeie teologiese insig is nie ook maar tydelik en oppervlakkig nie?
5. Dit is
hier waar die teksgedeelte in Joël 2:28-31 so belangrik is. Die belofte van
heil en oorvloed wat in Joël 2:18-27 beskryf word, word hier ’n paar stappe
verder geneem. Alleen op hierdie wyse kan ’n blywende oplossing gevind word.
Kom ons kyk na hierdie verse in meer besonderhede:
’n Eerste
vereiste vir ’n blywende verandering is dat almal met ’n nuwe visie vervul moet
word. Die seuns en die dogters moet leer om soos profete krities te kyk na die
samelewing en met ’n visie vir die toekoms vervul word. Selfs die ouer geslag
wat dalk al in moedeloosheid verval het, moet nuwe drome begin droom vir die
wyse waarop die samelewing ingerig moet word. Sonder hoop sal alles maar weer ten
gronde gaan.
Die
merkwaardige is dat hierdie visie deur alle mense gedeel word. Die Gees word
vryelik uitgegiet op die ouer en die jonger geslag, op mans en vroue, op slawe,
selfs slavinne en hulle eienaars. Dit gebeur in ’n samelewing waar jong mense,
vroue en slawe eintlik geen seggenskap gehad het nie. Die slawe was boonop
waarskynlik buitelanders en dus heidene. Hulle word opgeneem in die nuwe
bedeling waarvoor Israel hulle moet voorberei. Die oeroue verlange van Moses
word so bewaarheid: "Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here
profete was en dat Hy se Gees op almal mag lê (Numeri 11:29)." Die hele
mensdom klein en groot moet hierby ingesluit word (Jer 31:34). Die Gees juis
word uitgestort op alle vlees, dit
wil sê op dit wat broos, kwesbaar en sterflik is. In hierdie liggaamlike
kwesbaarheid is almal, ook die heersers, gelyk
Maar hoe
kry ’n mens dit reg om ’n gees van moedeloosheid om te skakel in ’n nuwe visie
vir die toekoms? Waar moet die energie daarvoor vandaan kom? Hoe is dit moontlik? Volgens hoofstuk
2:28-29 is dit ’n stuk genade van God af. Dit is eers wanneer die Here se Gees
oor die mense kom dat só ’n visie moontlik word. Jy kan nie daarvoor beplan of
dit organiseer nie. Jy kan nie besluit om ’n nuwe visie te ontwikkel nie – net
so min as wat jy kan besluit om verlief te raak. Dit is eerder iets wat met jou
gebeur van buite af. Die inisiatief kom van God af. Dit is nie mense se visie
wat op die ou end die deurslag gee nie, maar die teenwoordigheid van die Gees.
Dit alles
vind plaas te midde van die naderende tekens dat dinge besig is om na ’n punt
toe te beweeg. Die dag van afrekening is op hande. Die oordeel is nodig ter
wille daarvan dat die aarde van onheil en onreg gesuiwer moet word. Niemand sal
dit kan ontsnap nie. Trouens, die hele kosmos, die son en die maan word betrek
by die dag van afrekening. Die redding van God se uitverkorenes is alleen
moontlik as hulle onderdrukkers op hulle plek gesit word.
Die dag van
beslissing bring ook, miskien vir die eerste keer, duidelikheid oor die wyse
waarop blywende heil verseker kan word. Die wat die naderende krisis sal
oorleef, sal dit nie op grond van hulle eie krag, vaardigheid, of vermoëns doen
nie. Dit is dié wat deur die Here geroep is wat gered sal word (2:32c). Die
redding kom van God af. Dit is net genade. Die enigste skuilplek is by God.
Meer konkreet: by God op die berg Sion in Jerusalem is daar uitkoms te midde
van die naderende bedreiging (2:32b). Die Naam van die Here maak die verskil
tussen lewe en dood. Die wat hierdie Naam herken en dit aanroep, wat die Here
se naam bo alles stel (bo hulle eie veiligheid en voorspoed), hulle sal gered
word (2:32a)
6. Dit
alles mag baie mooi klink, maar dit neem vir ons nog die onsekerheid weg nie.
Immers, die toekoms bly in baie opsigte donker. Ook vir ons is die toekoms
duister en onseker. As ons enigsins realisties wil wees, sal ons moet erken dat
die groot probleme wat die wêreld in die volgende vyftig jaar in die gesig
staar waarskynlik sal vererger: armoede, werkloosheid, hongersnood, konflik,
VIGS, en die vernietiging van ekosisteme. Sommige van ons mag daaruit aflei dat
die Dag van oordeel waarvan Joël praat nou eers op hande is. Hulle predik graag
oordeel en ondergang. Party dink selfs dat die einde van die aarde en die einde
van die tyd binnekort sal aanbreek.
Die dag van
oordeel waarvan Joël praat is egter juis ’n dag van heil, nie bloot ’n dag van
verwoesting nie. Meer nog: dit is dag van heil vir die aarde self, vir die
ploegland, die vee in die veld, die vrugtebome en wingerde (2:21-22). Dit spel
’n tyd van goeie reën en oorvloed. Ons moet net leer om die tekens raak te
lees. Die tekens van heil is konkreet en sigbaar. Die reëns kom op die regte
tyd. Die weivelde is groen. Die bome dra vrugte, die dorsvloer lê vol koring.
Die parskuipe loop oor. Die tekens van oordeel is selfs nog duideliker. Dit is
aan die hemel geskryf (die son word donker en die maan bloedrooi): almal kan
immers sien waarnatoe dinge op pad is.
7. Die
reaksie wat Joël 2 van ons vra, is daarom nie een van vrees, onsekerheid of
mismoedigheid nie. ’n Mens se angste en vrese kan jou heeltemal lamlê. Dan is
jy nie meer daartoe in staat om te doen wat jou hand vind om te doen nie. Dan
fokus jy later net op jouself en op jou eie onsekerheid oor die toekoms. Dan
verloor jy perspektief. Dan sien jy nie meer die God raak wat in die middel van
die krisis vir jou ’n skuilplek bied nie (2:32).
Die oproep
van hoofstuk 2:21 is hierteenoor: "Moenie bang wees nie,
ploegland": Wees eerder bly en
juig. En in vers 23 word die inwoners van Sion in dieselfde trant opgeroep:
"Julle moet bly wees en juig tot eer van die Here julle God." Die verbasende van die oproep van Joël is
dat ons juis te midde van die naderende dag van oordeel bly moet wees. Dit gaan
immers teen al ons natuurlike neigings in. Ons natuurlike neiging wanneer ’n
krisis dreig is om bang te wees, om vas te val in ons eie onsekerheid. Maar
miskien is blydskap juis die enigste sinvolle manier om ’n donker toekoms
tegemoet te gaan. Miskien is die moed om
bly te wees die belangrikste deug wat ’n mens nodig het in só ’n tyd.
Maar hoe is
dit enigsins moontlik? Hoe kan ’n gees van blydskap en vreugde ons diepste
vrese vir die toekoms na buite dryf? Dit is alleen moontlik as ’n mens leer om
die tekens wat oral aanwesig is reg te lees. As ons eers tot die regte insig
kom. As ons besef dat die Here ons God genadig en barmhartig is, lankmoedig en
vol liefde (2:13), as ons besef dat die Here by ons staan, by ons woon, by ons
is (2:27a), as ons besef daar buiten Jahwe geen ander god is nie. Dan sal ons,
juis te midde van die naderende oordeel, oorgenoeg hê om te eet en bo alles die
Naam van die Here ons God prys, die Naam waarom alles uiteindelik gaan.
Bibliografie
Prinsloo, WS 1987. Die boek Joël. In: Burden, JJ & Prinsloo, WS: Tweegesprek met God. Die literatuur van die Ou Testament Deel 3, 231-238. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers. Welker, M 1991. God the Spirit. Minneapolis: Fortress Press.