16 November 2003

Twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: Daniël 12: 1-13

Ander tekste: Psalm 16; 1 Samuel 2: 1-10; Hebreërs 10: 11-25; Markus 13: 1-23

Inleiding

Op hierdie voorlaaste Sondag van die kerklike jaar val die klem sterk op die eindgebeure. Dit word onder andere in die Skrifgedeeltes uit die Ou Testament (Dan 12) en die evangelies (Mk 13) weerspieël, en kan ook sinvol in die res van die liturgie tot uitdrukking gebring word.

GOD vergader ONS VOOR HOM

Aanvangswoord/votum

Psalm 16: 5-11 kan as votum gebruik word.

Seëngroet

Skuldbelydenis

Die gemeente bely hulle skuld saam hardop soos volg:

Genadige God,

ons bely dat ons in gedagtes, woorde en dade

teen U gesondig het;

deur dit wat gedoen het

en dit wat ons nagelaat het om te doen.

Ons het U nie lief gehad met ons hele hart,

en ons naaste nie liefgehad soos onsself nie.

Wees ons genadig, ter wille van u Seun, Jesus Christus.

Vergewe ons, vernuwe ons en lei ons

sodat ons vreugde kan vind in u wil

en kan wandel op u weg,

tot eer van u heilige Naam.

Amen.

(alternatiewelik doen die voorganger die skuldbelydenis namens die gemeente en die gemeente bevestig dit met die "Amen").

Verootmoediging

Die gemeente sing een van die Kyries in die nuwe Liedboek, byvoorbeeld Lied 242, 247 of 248.

Vryspraak

Voorganger: Die Almagtige God

het sy Seun, Jesus Christus, gegee om vir ons te sterf

en Hy vergewe ons sonde op grond van die verdienste van Christus.

Daarom verkondig ek aan julle

volkome vergifnis van julle sonde,

in die Naam van die Vader,

en van die Seun

en van die Heilige Gees.

Gemeente: Amen.

 

Aanbidding en lof

Gepaste lofliedere kan nou gesing word, byvoorbeeld Lied 219: 1-3 of 590: 1-2

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Skriflesing uit die Ou Testament

Daniël 12: 1-13

Prediking

Stille nadenke

Geloofsbelydenis

Voorbidding

DIENS VAN DIE TAFEL

Hebreërs 10: 11-25 kan in plaas van die nagmaalsformulier gelees word.

Gebed

Vredesgroet

Die gemeentelede groet mekaar met n handdruk of omhelsing met die woorde: "Mag die vrede van die Here met jou wees."

Die instellingswoorde van die nagmaal, uitgespreek deur die voorganger word gevolg deur die Agnus Dei:

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Wees ons genadig.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Ontferm U oor ons.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Here, gee ons u vrede.

Uitdeling van die tekens en kommunie

Lofprysing:

n Gepaste lied, byvoorbeeld Lied 587: 1-2, kan gesing word. Alternatiewelik kan die Lofsang van Hanna (1 Sam 2: 1-10) gelees word.

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 597: 1-5 of 602: 1-5 (of een van die ander liedere hierbo genoem)

Seën

Amen (deur die gemeente gesing in een van die weergawes in die Liedboek, Lied 312-316).

As alternatief vir die seën kan NSG 355 of 356 gesing word.

 

PREEKSTUDIE - DANIëL 12:1-3

Teks

Daniël 12:13 bevat die finale woorde van die openbaring wat by hoofstuk 10 begin het. In dié aangrypende visioen word Daniël meegedeel wat aan die einde van die tyd sal gebeur, wanneer beide die hewigste aanslag van die bose magte teen die heiliges sal plaasvind, én God die finale oorwinning oor hulle sal behaal. Dit beteken verlossing en beloning vir die gelowiges.

Die woorde "In daardie tyd" (v 1) vind aansluiting by die geskiedenis in die voorafgaande hoofstuk. Dit beskryf die skrikwekkende tydperk wat die volk van God moes deurmaak onder die aanslag van goddelose heersers wat God uitgetart en sy volgelinge aan verdrukking onderwerp het. Die begin van daardie tydperk het reeds aangebreek, maar dit sou nog hewiger word en n klimaks bereik onder die mees gehate koning, Antiogus IV Epifanus. Daarom moet 12:13 saam gelees word met 11:40-45, waar die aktiwiteite van die wreedaard beskryf word. Gedryf deur n onversadigbare magsug sou hy een volk na die ander oorweldig, selfs die beloofde land inval en baie ander lande tot oorgawe dwing. Selfs die magtige Egipte, Libië en Kus, sal onderwerp en van skatte beroof word. Hy sal woedend opruk teen almal wat dit waag om hom teë te gaan en in sy woede sal hy baie mense vermoor. Die tyd van swaarkry vir die gelowiges sal die diepste laagtepunt wees in die geskiedenis van die volk, want vandat daar nasies is, was daar nog nooit soveel verdrukking, smart en lyding nie. Ofskoon dit n krisistyd is, sal dit net n tydperk in die geskiedenis wees en deur God se ingryping getermineer word. By 11:45 word voorspel hoe die loopbaan van die gewraakte koning, wat teen die Allerhoogste gelaster, die heiliges vervolg en hulle godsdiens en aanbidding probeer verwoes het (7:25), tot n einde kom. Eintlik het Daniël sy einde reeds vroeër in n nagtelike visioen gesien (7:9-27). Die magtige wreedaard word aan sy einde geteken soos een wat self magteloos geword het, omdat niemand hom kan (of wou) help nie.

Waarskynlik sou die gewelddadige aanslag teen God se volk ook die einde van die tyd wees. Die verwagting was dat daar aan die einde van die tyd n alles-bepalende daad van God se kant sal wees wat die vyand finaal sou uitwis. Hoe ver in die toekoms hierdie einde van die tyd sou wees, is nie seker nie. Goldingay en andere reken dat die fokus van die visioen op die periode onmiddellik na die dood van Antiogus IV val. Sommige denkers suggereer dat die visioen se vervulling nog moet plaasvind. Binne die konteks lyk dit tog of die vervulling slaan op die beëindiging van Antiogus IV se bewind, en die verlossing van die gelowiges wat die verdrukking onder hom deurgemaak het.

Deur die bewaring van God het baie heiliges egter staande gebly. Die engel, Migael, was daar om oor die lede van die volk wag te hou. Migael word in die enkele plekke waar hy in die Bybel vermeld word (10:13, 21; 12:1; Jud 9; Op 12:7), voorgehou as die groot engel, die vernaamste engel of die aartsengel. Hy is, volgens Joodse oorlewering, die beskermheer, voorspraak en verdediger van die Joodse volk. In Daniël l tree hy na vore as die verdediger van die Joodse volk teen die aanslae van die goddelose magte wat deur God se vyande aangestig word. In Judas is hy juis die een wat met die duiwel in n woordestryd gewikkel is oor die liggaam van Moses, die groot leier van die Joodse volk. In Openbaring voer hy die stryd in die hemel teen die draak en sy engele wat God se kinders vervolg. In die lig hiervan sien sekere geleerdes hierin die bewyse van n hemelse stryd tussen Migael en n bose engel wat die vyandige magte se verteenwoordiger is. Die hemelse oorwinning wat Migael behaal, bepaal ook die uitslag van die aardse stryd. Daarna sal Migael verder voorspraak maak sodat almal wat in die boek opgeskryf is, gered word. Die kern van die saak is egter dat dié wat in die stryd gewikkel was, maar getrou gebly het, uiteindelik seker kan wees van hulle redding.

Met die uitdrukking "almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is" (vgl. Eks 32:32; Ps 69:29; Jes 4:3; Eseg 13:9; Mal 3:16; Fil 4:3; Op 3:5), word aangedui dat diegene wat die geloof behou, se verlossing gewaarborg is. Hulle word deur God bewaar en sal nooit verlore gaan nie. Waarskynlik dui dit op die gebruik om rekord te hou van al die inwoners van n stad. Diegene wie se name opgeteken is, het die voorregte van gemeenskaplike lidmaatskap geniet, terwyl diegene wie se name ontbreek, geëkskommunikeer kon word. Hiermee word n duidelike onderskeid gemaak. Hoewel Migael as beskermheer optree van die hele volk, is dit egter net die gelowiges, wat ondanks dreigemente van straf en dood, getrou was en wat verlos word om die beloning te ontvang op hulle lojaliteit. Dié boek is nie die "Boek van die Waarheid" (10:21) waarin die toekomstige geskiedenis van die goddelose volkere sowel as die kinders van God opgeteken is nie, ook nie die "boeke wat die aanklagte" en oordele van God (7:10) bevat nie. Dit sal die boek wees wat die volledige lys bevat van almal wat aan God getrou was, die verloste burgers van die ware Jerusalem.

Vers 2: Niks kan die sekerheid van die gelowiges se uiteindelike redding van hulle wegneem nie. Die wreedste vervolging onder Epifanus kon dit nie regkry nie. Selfs nie die dood nie, want baie van dié wat ontslaap het, wat onder die felle aanslag met hulle lewens geboet het, sal uit die graf opstaan tot die ewige lewe. Vers 2 is die enigste keer in die Ou Testament dat die uitdrukking "ewige lewe" gebruik word, en duidelik oor die opstanding uit die dood van n enkeling gepraat word. Op ander plekke skemer slegs iets deur van die moontlikheid van n lewe na die dood (Ps 17; 39; 49; 73; Pred 3:18-22; Jes 53). In die visioen word nie n duidelike teologie oor die opstanding uit die dood uitgespel nie. Die teks en konteks waarin dit voorkom, fokus op die triomf van God se koninkryk aan die einde van die tyd van beproewing. In die voorspelling van die geweldige verdrukking wat die finale oorwinning van God sal voorafgaan, word die ryke troos van die opstanding uit die dood en n ewige lewe van heerlikheid vir die gelowiges voorgehou. Dit dien tot bemoediging van hulle op die weg van geloofsvervolging en lyding.

Vir dié wat in die lewe behoue bly, sal redding betyds opdaag, maar ook hulle wat in die stryd gesterf het, word beloon. Die woord "baie" dui aan dat nie almal wat reeds gesterf het, sal opstaan tot die ewige lewe nie. Met die woord "party" word die bedoeling duideliker omlyn. Net party is bestem vir die ewige lewe, terwyl party bestem is vir die ewige skande en veragting. Die dapper manne en vroue, wat op gevaar van hulle lewe af liewer soos martelare gesterf het in plaas van kapitulasie, se name is in die boek opgeteken vir die ewige lewe. Vir die afvalliges, wag daar net ontreddering.

Die uitdrukking "verstandige leiers" in vers 3 verwys in die algemeen na diegene wat getrou aan Jahwe gebly het. Allereers moet gedink word aan die Jode wat nie deur die helleniseringsproses meegesleur is nie, maar gehou het by Jahwe se gebooie. Verder is daar diegene wat nie geknak het onder die felle aanslae van vervolging nie. Hulle lewe van getrouheid het n versterkende uitwerking op mede-volksgenote gehad. Hulle voorbeeld en verstandige leiding vir dié wat begin twyfel het, was beslis van onskatbare waarde. Daar was ook diegene wat in leiersposisies aangestel was, wat gehou het by die geopenbaarde waarheid van God en wat met bemoediging en voorbeeld die volk aangespoor het en daardeur baie mense op die regte pad gelei het. Vir hulle almal wag daar beloning aan die einde van die stryd. Hulle sal oorlaai word met eer en heerlikheid en sal skitter met die glans van die hemel self. Hulle beloning word vergelyk met die glans wat versprei word deur die hemelliggame. Hulle sal in die ewige lewe die glansende heerlikheid deelagtig wees, want hulle sal vir altyd skitter soos die sterre. Met hierdie uitdrukkings word luister verleen aan die heerlikheid in die ewige lewe waarmee hulle beloon sal word (Aalders).

Konteks

Vir die korrekte verstaan van ons teksvers moet rekening gehou word met die feit dat Daniël 712 vanuit n apokaliptieseskatologiese perspektief geskryf is. In sy oorsig van die leer oor die laaste dinge, vermeld Müller die vernaamste resente strominge in die denke oor die eskatologie. Elkeen van die verskillende rigtings "het op sy eie wyse die prediking beïnvloed omdat dit die hermeneutiese raamwerk vorm waarbinne die teks uitgelê word" (Müller). n Kort onderskeid tussen apokaliptiese en profetiese eskatologie dui daarop dat laasgenoemde op n toekomsverwagting fokus, gerig op beter toestande binne die huidige geskiedenis. Vir Israel beteken dit dat sy herstel deur politieke prosesse en sosiale veranderinge, nog op aarde en in die geskiedenis sal plaasvind. In teenstelling met so n aardse toekomsverwagting, sluit apokaliptiese eskatologie n meer kosmiese dimensie in (Burden). Die hoop is op n bonatuurlike ingryping van God vir die vestiging van n nuwe aarde en hemel aan die einde van hierdie geskiedenis, in n boaardse ruimte en tyd. Die aandag is op dit wat in die hiernamaals sal gebeur, in n bo-historiese bestaan wat die dood transendeer. Aan die einde van die tyd sal God direk ingryp tot redding van die regverdiges en veroordeling van die onregverdiges, in n nuwe lewe wat op die huidige bestaan sal volg. Vanuit die perspektief van n nuwe eeu word die huidige geskiedenis die verlede, hede en toekoms geïnterpreteer en beleef (Vorster). Hierdie perspektief is die sleutel tot die verstaan van Daniël 712.

Verder vertoon dié materiaal n openbaringskarakter. Die inligting word gewoonlik toegedig aan n bonatuurlike wese wat in n visioen verskyn. Dit is deurspek met allerhande simbole wat allegories geïnterpreteer moet word (Burden) en wat die uitleg van so n teks bemoeilik. Hoe moeilik die Boek Daniël ook al mag wees om te verstaan, kan ons met Burden saamstem dat dit n universele boodskap van bemoediging bevat vir mense wat leef in problematiese tye van onrus en onsekerheid. God word egter nooit deur probleme van enige aard verras nie. Hy is altyd in beheer van die hele wêreld.

Die boodskap van Daniël 12:1-3 is dat daar n finale oorwinning van God aan die einde sal wees. Dit behels beloning vir die regverdiges en hou n besondere boodskap in vir die tydsgewrig waarin die kerk tans is. Lidmate raak al meer onseker in politieke prosesse waaroor hulle geen beheer het nie. Onsekerhede wat die gevolg van werkloosheid, skielike ontslag, ekonomiese wisselvallighede en armoede is, neem toe. Daar is onsekerhede aangaande die rol en die gesag van die kerk. Daar word toenemend gedink aan wat die toekoms inhou. Die boodskap van Daniël 12:1-3 is ook toepaslik vir hierdie tyd van die kerklike jaar. Sommige mense het moed verloor, omdat alles wat tydens die kerkfeeste belowe is, nie gerealiseer het in hul lewe nie. Ander voel liggaamlik en emosioneel uitgeput. Die mooi voornemens aan die begin van die jaar het nie gematerialiseer nie. Nog ander het vertroue in die Kerk verloor, want die kerk het nie die oplossings vir ons tyd nie. Is dit nog die moeite werd om in God te glo? Kan ons nog glo in Jesus se verlossing van die wêreld, terwyl onreg, bedrog, geweld, moord en kindermishandeling toeneem?

Vir hulle moet die preek sekerheid en nuwe hoop bring: God se finale redding van sy gelowiges is aan die kom! Gelowiges moet volhard en staande bly. God laat nie sy kinders los nie. Hy het die eintlike beheer oor alles. Hy bepaal alles. Sy gelowiges is nie maar pionne op die skaakbord wat deur die vyandige wêreld rondgeskuif word nie. Ook die swaarkry en lyding van sy kinders is by Hom bekend. Bowendien gebruik hy die lyding wat sy kinders moet deurmaak om sy ware kinders van die wat afvallig geraak het, af te skei. Deur swaarkry en lyding word hulle gelouter en gereinig. Deur dit alles is Hy besig om vir Hom n volk voor te berei wat elke toets kan deurstaan en wat deur sy genade kan staande bly. Hulle wat die toets geslaag het, sal aan die einde die oorwinning smaak en die beloning uit God se hand ontvang. Selfs vir die getroues wat reeds gesterf het, is daar die sekerheid van die opstanding uit die dood tot die ewige lewe. Vir dié wat ontrou geword het, moet dié boodskap andermaal tot waarskuwing dien. Op hulle wat nie glo nie, wag die ergste; geen redding en verlossing nie. Vir die ongelowiges wat reeds gesterf het, beteken dit n opstanding tot ewige skande en veragting. Die boodskap van Daniël 12:1-3 is dus vir die kerk vandag en vir vermoeide gelowiges vandag relevant.

Antiogus IV se gewelddadige regime is in 164 vC beëindig, toe hy op een van sy rooftogte skielik aan n onbekende siekte gesterf het. Dit het in n sin bevryding vir die verdruktes beteken. Maar die opstanding uit die dood het nie plaasgevind nie. Tereg word gevra of die profesie reeds vervul is of nie? Met die Nuwe Testament reeds agter ons, lyk dit asof die voorspelling nie uitgeput is met die historiese konteks kort na die einde van Antiochus IV nie, maar dat dit eers sy absolute en finale vervulling in die eskatologiese gebeure aan die einde van die wêreld sal bereik. Iets soortgelyk sien ons by die sogenaamde eskatologiese uitsprake van Jesus (Matt 24; Mk 13; Luk 21) waar dit lyk asof Hy die gebeure met betrekking tot die verwoesting van die tempel van Jerusalem, saamsien met die gebeure aan die einde van die dae. Volgens Grosheide is dit n voorstelling op Oosterse aanskoulike wyse. Die hele toekoms lê oop voor die profeet en hy sien dit in geheel as die ontwikkeling van God se raadsplan (Vertaal).

Christus sluit self by Daniël 12:1 aan as Hy voorspel dat daar voor sy wederkoms "n groot verdrukking (sal) wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie" (Matt 24:21). Verder vind die betekenisvolle verwoesting van hom wat teen God in opstand gekom het (Dan 11), weerklank in 2 Tessalonisense 2:8-12. Daar voorspel Paulus die "wettelose" wat op die toneel sal verskyn en met magsvertoon en vals tekens baie sal mislei. Hy sal uiteindelik deur die Here Jesus verdelg word. Ook die apostel Johannes sien in sy visioen hoe die "dier wat uit die aarde gekom het" en wat die mense verlei het, by die koms van Jesus Christus in die vuurpoel van swael verbrand (Op 19:20).

Preekvoorstel

In sy artikel oor eskatologiese prediking sê Müller: "In n era waarin so baie omwentelinge `n vraag oor die toekoms plaas, word die leer oor die laaste dinge uiters relevant." Hy beweer ook: "Eskatologiese prediking was die stiefkind van die kerk totdat dit in ons tyd weer gesien word as die antwoord van die Woord van God op dieproblematiek van die nood van ons tyd" Hy waarsku egter dat eskatologiese prediking nie n handige "noodoplossing" vir die vraagstukke van die dag is nie, maar is tog oortuig dat die kerk baie meer daaroor moet preek, onder andere, in die paar Sondae voor Advent. Volgens hom moet die volgende aspekte in gedagte gehou word:

1. Die prediker het in die soort prediking te make met n vreemde aktualiteit. Die bekende is aan die verbygaan en die nuwe aeoon is op hande. Die nag is verby en die dagbreek wat die nuwe dag inlui, is naby.

2. Hierdie prediking lui ook die fees van verwagting in. Dit wat nog ver in die verskiet lê, word geteken asof dit reeds geniet word. Die preek moet n smeekbede wees: "Kom spoedig, Here Jesus!" Die prediker moet die gemeente n voorsmaak te laat kry van wat nog aan die kom is. Die prediking moet egter bly op die persoonlik-eksistensiële vlak. Dit moet elke lidmaat stel voor die Here wat aan die kom is. Daarom staan die oproep tot bekering sentraal in die eskatologiese prediking.

3. Voorts moet dit die gemeente oproep om die geveg teen onreg en boosheid voort te sit, n stryd waarin geveg word vanuit die oorwinning. Die sekerheid lê daarin dat die groot oorwinning reeds aan die kruis behaal is deur Hom wat weer kom. Hierdie soort prediking moet uit die toekoms sin gee aan die hede. Sonder die lewende verwagting en hoop van die toekoms, val die sin van die lewe weg. Boweal moet dit prediking wees wat die gemeente inspireer tot positiewe waaksaamheid, omdat ons die uur nie weet nie en die tyd onverwags aanbreek soos n dief in die nag.

4. Ten slotte is dit prediking wat gelaai is met die aansteeklike vreugde van n bruidskerk wat wag op die Bruidegom.

Daar is n paar moontlikhede vir die prediker:

n Preek vanuit die breë konteks, naamlik die gewelddadige stryd teen die heiliges van God wat uitloop op die uiteindelike redding van die getroues. Die gemeente moet besef dat Daniël nie n oninteressante historiese geskrif is nie, maar dat dit groot waarde het vir die situasies waarmee gelowiges vandag worstel. Miller fokus op die volgende teologiese waarhede in die konteks:

Die realiteit van God. God mag nie veronagsaam word nie (Miller haal Campbell aan wat beweer dat daar 135 profesieë in 11:1-35 reeds letterlik vervul is).

Die goddelike alomteenwoordigheid en almag van God. Hy voorspel nie net toekomstige gebeure nie, maar het ook beheer oor die geskiedenis.

Die vertroue waarmee hulle wat die stryd oorleef het kan voortleef, wetende dat die vorige profesieë vervul is. Daarom sal die beloftes van die toekoms ook sekerlik vervul word.

Die vervulling van hierdie voorspellings bewys dat die Heilige Skrif betroubaar is.

n Tweede moontlikheid deur dieselfde skrywer, asook ander, is om op die opstanding uit die dood te konsentreer. Uiteraard sal dit aangevul moet word uit die Nuwe Testament (Matt 22:23-33; Joh 11:25-26; 14:2; Rom 2:16; 1 Kor 15). Die volgende sou beklemtoon kan word:

Die sekerheid van n liggaamlike opstanding. Die dooies word opgewek tot n nuwe lewe.

Die nuwe liggaam is onsterflik.

Die opstanding sal die oordeel voorafgaan waar daar skeiding gemaak word tussen twee groepe.

Die opgestane heiliges ontvang die ewige lewe en word gekroon met eer en heerlikheid.

Die ongelowiges sal ook opstaan, maar dit is n opstanding tot die verderf (Joh 5:28-29).

Ek is van mening dat die volgende aspekte in n preek oor Daniël 12:1-3 belig moet word:

Verdrukking en lyding is onvermydelik deel van die pad van die gelowige.

Die feit van Goddelike bystand is die sekerheid wat die gelowige deur alles dra.

Die onuitblusbare hoop op en die sekerheid van die ewige lewe en heerlikheid by God.

Die ewige skande en veragting wat ongelowiges in die gesig staar.

Die volgende raamwerk bied ruimte om al die aspekte te dek: Deur verdrukking na heerlikheid.

Verdrukking: Die woedende optrede van die geweldenaars teen die volgelinge van God, word veral in hoofstuk 11 beskryf (Vgl die bespreking van vs 1 hierbo onder teks). Die skynbare sukses wat die onderdrukkers behaal, is net tydelik. God laat slegte mense ook toe om op te tree in verantwoordelike posisies; Hy skep volop geleenthede om met die mag tot hulle beskikking, goed te doen en tot voordeel van ander te wees. Tog is God nooit verantwoordelik vir enige van die slegte dade wat hulle verrig nie. Die prediker moet ten volle gebruik maak van die geskiedenis van die verdrukkers in Daniël om die gemeente van vandag wat met ander vorms van "verdrukking" en lyding te kampe het, te bemoedig. Spesifieke probleme en vrae moet aangespreek word. Daar moet met aandag geluister word na wat gelowiges vandag bekommer, wat maak dat die moed, die hoop en die lewenslustigheid wat kenmerkend van die gelowige se lewe behoort te wees, nie in hulle individuele lewens en ook nie kollektief in die gemeente, sigbaar is nie. Dit mag pessimisme wees oor die politieke toekoms, twyfel en onsekerhede, die ekonomiese wisselvalligheid, werkloosheid of die vrees vir afdanking, dreigende lewensgevare, onveiligheid, moord en doodslag. Dit mag geestelike bekommernisse wees. Die toesegginge van God in die sakramente en die feeste is nog nie sigbaar in hulle lewe nie. Gelowiges mag juis daarom begin twyfel in die boodskap van die Kerk, wat nie meer die antwoorde het op hulle probleme nie. Die preek moet duidelik maak dat God ook lyding gebruik om sy doel in elke lewe te bereik.

Versterking: In hierdie tweede rondte moet die prediker die rol wat Migael vervul het ten opsigte van die kinders van die volk as uitgangspunt neem (Vgl. aantekening onder teks hierbo). Dié wat swaarkry moet weet dat God in beheer is en dat Hy hulle nie vergeet nie. Hy sê: "moenie bang wees nie" (Vgl Jes 43 : 1-5). God se bystand word soms sigbaar in die lewe van ander gelowiges wat volhard, ondanks die lyding en verleiding. Die belangrike rol van hulle wat getrou bly, moet nooit onderskat word nie. Deur hulle woorde en dade word ander versterk en bemoedig. Vir ons het Hy sy Woord, sy Seun en sy Gees gegee, tot ons versterking: "Ek (sal) julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom "(Op 3:10; ook Ps 91; Jes 59:19; Luk 21:17-19; 1 Kor 10:13; 2 Tess 3:3; 2 Tim 4:17; 2 Pet 2:9; Jud 24). Nie Migael nie, maar Jesus is tans ons voorspraak, voorbidder en verdediger aan die regterhand van God.

Verlossing: Die sekerheid van verlossing word afgelei van die boeke waarin almal opgeskryf word en waarvolgens hulle gered sal word (Vgl die kommentaar op die boeke in teks hierbo). Saam met die verlossing vir hulle wat nog lewe, is daar ook die sekerheid van die opstanding uit die dode van dié wat ontslaap het. Daarna volg ook die beloning vir getroues met die ewige lewe. In die ewige lewe sal elke individu van God ontvang wat hy/sy verdien het. Israel moes leer dat jy in hierdie lewe bepaal waar jy jou ewigheid gaan deurbring. Dit word nie bepaal deur jou lidmaatskap aan n bepaalde volk nie, maar op grond van jou getrouheid aan God. Die gemeente moet opnuut hoor dat verlossing deur geen engel of mens geskied nie. God se volk in die Nuwe Testament se verlossing word nie alleen deur die boeke gewaarborg nie, maar deur die daad van versoening van sy Seun aan die kruis en sy opstanding uit die graf. (Vgl Joh 14:6; 1 Tim 2:5; Heb 5:9; 1 Joh 2:2).

Verheerliking: Ongelukkig vir diegene wat afgedwaal het van God en wat hulle laat mislei het, wag daar n lewe van ewige skande en veragting. Dié ernstige waarskuwing aan die gemeente mag die prediker nooit veronagsaam nie. Maar hulle wat verstandig was en getrou gebly het, sal oorlaai word met eer en heerlikheid wat vergelyk word met die glans van die hemel self en die skittering van die sterre. God stel nie belang in die hoë waardes en die hoogste wêreldse toekennings nie. Die prag en praal van die aarde word nie deur God as noodsaaklik en waardevol geag vir hulle wat aan Hom behoort nie. Die rykdom en voortreflikhede wat die oog vang, is dikwels die tekens van die kortstondige populariteit van hulle wat n sondige en walglike lewe lei. n Lewe van getrouheid in die geloof aan God "bevat n diepte wat dieper is as die diepste punt van lyding; die dood kan so n lewe nie vernietig nie"(Helberg). Al die voorspoed, genot en geluk wat hierdie wêreld met al sy verleiding die mens bied, kan nie naastenby opweeg teen dit wat by God wag vir die gelowige nie. Die beste wat die wêreld kan bied is maar n flou, dowwe skynsel wat nie enigsins vergelyk kan word met die helderheid en skittering waarmee die ewige lewe beskrywe word nie (Vgl Rom 2:7,10; 5:2; 1 Kor 15:53-55; 2 Kor 4:17; Op 7:13-17).

Bibliografie

Miller, S R 1994. Daniel. The New American Commentary; Aalders, G Ch 1962. Daniel. Commentaar op het Oude Testament; Hartman, L F & Di Lella, A A 1978. The Book of Daniel. The Anchor Bible; Goldingay, J E 1989. Daniel. Word Biblical Commentary; Porteous, N, 1965. Daniel. Old Testament Library. Helberg, J L, 1994. Die Boek Daniël; Vorster, W 1986, Tekste met n apokaliptiese perspektief, in Woorde wat ver kom; Burden, JJ 1987, The Book of Daniel, in Dialogue with God; Müller, BA, 1985, Eskatologiese prediking, in Woord teen die Lig 1/6, Riglyne vir eskatologiese prediking; Bybelse Ensiklopedie, 2de hersiene uitgawe.