23 November 2003

Sondag van Jesus die KOning feesdiens

liturgiese voorstel

Fokusteks: Daniël 7: 9-14

Ander tekste: Psalm 93/132; Openbaring 1: 1-8; Johannes 18: 33-37

Inleiding

Die laaste Sondag van Koninkrykstyd kondig ook die einde van die kerklike jaar aan en staan bekend as Sondag van Christus die Koning. Dit staan ook op die oorgang na Adventstyd en herinner ons daaraan dat Christus die Koning ook die Here is wat weer in heerlikheid sal kom.

Die liturgiese kleure vir hierdie Sondag is wit en goud wat ook aangevul kan word met die koningsblou/pers van Advent. Simbole van koningskap soos n kroon en n septer kan die kanselkleed of baniere in die aanbiddingsruimte versier. Dis verkieslik om hierdie simbole met n kruismotief te kombineer om te verseker dat die viering van die dag nie té triomfalisties verloop nie.

Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in n gemeente is, kan n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

GOD VERgader ONS VOOR HOM

Aanvangslied

n Gepaste Taizé-lied, byvoorbeeld Lied 224, 225 of 227 kan ten aanvang deur n koor of n kleiner ensemble gesing word.

Aanvangswoord/votum

Gedeeltes uit Openbaring 1(en 5) kan soos volg benut word:

Voorganger: "Ek is die Alfa en die Omega," sê die Here God,

"wat is en wat was en wat kom, die Almagtige."

Gemeente: Aan Hom wat op die troon sit,

en aan die Lam

behoort die lof en die eer,

die heerlikheid en die krag,

tot in alle ewigheid.

Voorganger: Waardig is die Lam wat ons uit liefde

deur sy bloed van ons sondes verlos het

en ons sy koninkryk gemaak het,

priesters vir God sy Vader.

Gemeente: Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag

tot in alle ewigheid! Amen

 

Seëngroet

Voorganger: Genade en vrede vir julle

van Hom wat is en wat was en wat kom,

en van die sewe Geeste (Heilige Gees) voor sy troon,

en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie,

die eerste wat uit die dood opgestaan het,

die Heerser oor die konings van die aarde.

 

 

Proklamasie

Iets soos die volgende kan nou gesê word: "In Efesiërs 1:15-23 word daar groot dinge gesê vir die gemeente wat leef onder die Koningskap van Christus. Kom ons luister daarna en dink opnuut daaraan dat dit wat hier geskryf staan, ook op ons van toepassing is." [Lees Ef 1: 15-23]

 

Aanbidding en lof

Gepaste lofliedere wat handel oor die Koningskap van Christus, kan nou gesing word, byvoorbeeld Lied 168, 175, 201, 202 of 216 (NSG 156).

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Skriflesing uit die Ou Testament:

Daniël 7: 9-14

Skriflesing uit die Psalms

Psalm 93.

Skriflesing uit die evangelie

Johannes 18: 33-37

Prediking

Stille nadenke

Geloofsbelydenis

Die Geloofsbelydenis van Nicéa, of as alternatief n gedeelte soos die volgende, gebaseer op Efesiërs 1: 19-22:

"Ons glo in God wat sy geweldige groot krag in ons wat glo, uitoefen. Dit is dieselfde mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het.

"Ons glo in Jesus Christus wat as Koning regeer: hoog bo alle bose magte en enige ander vorm van gesag waarvan daar sprake mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as Hoof van die kerk."

Voorbidding

DIENS VAN DIE TAFEL

Eucharistiegebed

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die brood,

die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die wyn,

die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Mag die Here met julle wees!

Gemeente: En ook met jou!

Voorganger: Hef op julle harte.

Gemeente: Ons hef dit op tot die Here.

Voorganger: Kom ons bring dank aan die Here ons God.

Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger: Here, ons God, dit kom U toe dat ons dank en eer aan U bring

oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

Na sy opstanding uit die dood

het Hy aan sy dissipels verskyn

en is Hy terwyl hulle dit sien, in die hemel opgeneem,

om daar aan u regterhand te regeer as die Koning van die konings.

Daarom prys ons u Naam saam met die hemelwesens,

saam met die profete en apostels,

saam met alles wat asem het.

Gemeente: Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

Hosanna vir die Seun van Dawid!

Prys Hom wat in die Naam van die Here kom!

Hosanna in die hoogste hemel!

Voorganger: Here God, Skepper van die hemel en die aarde,

U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.

Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom

sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,

en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

"Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis."

Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:

"Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis."

Gemeente: Ons verkondig u dood, Here Jesus!

Ons vier u opstanding uit die dood!

Ons wag op u koms in heerlikheid!

Voorganger: Here ons God,

ons roep vandag die lewe van u Seun Jesus Christus in herinnering,

sy lyding en sy dood aan die kruis,

maar veral ook sy triomf oor die dood

en sy Koningsheerskappy by U in die hemel.

Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Voorganger: As volgelinge van die Here Jesus Christus bid ons nou saam:

Gemeente: Die "Ons Vader"-gebed (kan ook in die vorm van Lied 266 of NSG 325 gesing word)

Vredesgroet

Die gemeentelede groet mekaar met n handdruk of omhelsing met die woorde: "Mag die vrede van die Here met jou wees."

Die instellingswoorde van die nagmaal, uitgespreek deur die voorganger word gevolg deur die Agnus Dei:

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Wees ons genadig.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Ontferm U oor ons.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Here, gee ons u vrede.

Uitdeling van die tekens en kommunie

Lofprysing

n Gepaste lied kan deur n koor gesing word moontlik die Halleluja-koor uit Händel se Messias, of die openingsgedeelte uit die Gloria van Vivaldi. Alternatiewelik kan die gemeente een van die Hallelujas uit die Liedboek sing, byvoorbeeld Lied 218 of 228.

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 215: 1-5 (of een van die ander liedere hierbo genoem)

 

Seën

Voorganger: Die Almagtige God wat is en wat was en wat kom,

sal julle seën en julle beskerm.

Die Here Jesus Christus, die Koning van die konings,

sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees.

Die Heilige Gees sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.

Gemeente: Aan God al die lof en die dank!

Voorganger: Gaan in vrede en dien die Here!

Amen (deur die gemeente gesing in een van die weergawes in die Liedboek, Lied 312-316).

As alternatief vir die seën kan NSG 355 of 356 gesing word.

 

PREEKSTUDIE DANIëL 7:910, 13-14

Teks

Daniël 7 is die weergawe van n nagtelike visioen. Vers 18 is n allegoriese beskrywing van diere wat elkeen n goddelose koninkryk verteenwoordig. Daarop volg n toneel van n hofsitting (verse 914) waarin die Een wat ewig lewe op die goddelike troon gaan sit (verse 9-10) om te oordeel. As die visioen voortgesit word (verse 13-14), arriveer daar by die hofsitting iemand soos n menslike wese, wat met die wolke verskyn. Die belangrikheid van verse 9-10 en 13-14 word beklemtoon en die effek daarvan verhoog deur n verhewe ritmiese styl, soortgelyk aan die parallelisme van die Hebreeuse poësie, deur die gebruik van allerhande vergelykings en metafore. Die res van die hoofstuk het te make met die betekenis van die visioen. Die twee teksgedeeltes (verse 9-10, 13-14) vir hierdie laaste Koninkryksondag voor die aanbreek van die Advent, het dus te make met die uitslag van die hofsitting wat die goeie tyding bring, naamlik dat die verdrukking verby is en dat daar redding vir die gelowiges is.

Vers 9: Die uitdrukkings, "daar is trone reggesit" (v 9) en "die hofsitting het begin" (v 10) laat geen onduidelikheid nie dat die koninklike troon hier spesifiek as regbank voorberei word. Dit was in elk geval n funksie van die koning om die reg uit te oefen. Hierdie belangrike hofsitting vind plaas onder Hom wat ewig lewe (v 9), wat letterlik beteken: "n Oue van dae", en hy tree op as die regter, wat op sy troon gaan sit (vgl Jes 6:1; Eseg 1:26; 43:6-7). Daar bestaan geen twyfel nie dat hier sprake is van n verskyning van God self op die regbank. Die rede waarom God op so n mensvormige wyse voorgestel word as n oue van dae met hare soos skoon wol, dit wil sê wit hare, is nie seker nie. Die enigste antwoord is dat God se eerbiedwaardigheid beklemtoon word (Aalders). Die feit dat Hy as n oue van dae geteken word met wit hare, moet dus nie gesien word as tekens van iemand wat oud en afgeleef is en reeds verswak het nie. Eerder dui dit op sy ervaring en wysheid. Hy leef vir ewig, met ander woorde, sy kennis en ondervinding word nie beperk deur n aantal lewensjare soos n gewone mens nie. Hierdie regter se klere was so wit soos sneeu, dit wil sê, Hy is bekend vir sy reinheid. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur en vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Wanneer God aan die volk verskyn het of wanneer die Goddelike oordeel plaasvind, was daar dikwels vuur te sien (vgl Gen 15:17; Eks 3:2; Num 9:15; 16:35; Ps 50:2-3; 97;3). Dit slaan veral op God se heiligheid, veral daar waar Hy gereed maak om te oordeel (Deut 4:24). Die wiele is altyd n teken van beweeglikheid. God se heerskappy word dus nie beperk deurdat Hy slegs aan een geografiese gebied gekoppel is nie.

Dat daar trone reggesit word, dui daarop dat meer persone aan die hofsitting sou deelneem. Sommige geleerdes meen, aan die hand van 1 Korintiërs 6:13 en Openbaring 20:4 wat aandui dat die gelowiges oor die wêreld en selfs oor die engele sal oordeel, dat sommige van die regverdiges hierdie trone sou beset. Die teks en die verdere verloop van die visioen gee egter geen aanduiding vir wie hierdie trone gereedgemaak is nie. In die hofsitting tree God alleen op: "In Daniels vision the interest is concentrated first upon the Judge alone and he is clearly God Himself, the only God" (Porteous). Aalders haal Montgomery aan: "the plural (thrones) is not to be stressed, for only One took his seat." Ook die feit dat slegs die troon waarop God sit, verder omskryf word (vgl. vuurvlamme en wiele van vuur), terwyl geen woord oor die ander trone gesê word nie, onderbeklemtoon die ander trone. By gebrek aan duidelike gegewens uit die konteks is dit dalk die beste om allerhande spekulasies daaroor te laat vaar, aangesien niemand anders as God alleen, n bydrae in die hofsitting lewer nie.

Vers 10: Soos die vuur verder gevloei het, strek sy regering, heiligheid en oordeel ook verder en die hele wêreld is onder sy heerskappy. Dat daar duisende der duisende, ja miljoene voor Hom kom staan en Hom gedien het, verwys na die ontelbare skare wat die goddelike Regter-koning omring om Hom te dien en wat gereed is om sy bevele uit te voer Dit blyk verder dat diegene wat geoordeel gaan word, se doen en late opgeteken is, want die boeke met aanklagte is oopgemaak. Ofskoon daar ook wyd gespekuleer is oor watter boeke presies bedoel word, blyk dit uit die konteks dat ons hier te make het met die boeke waarin die dade van die mense opgeteken is. Ook dit wat mense in die geheim gedoen het, sal as aanklagte uit die boeke geneem word en voor die hof dien. En die werke van elke mens sal vír of téén hom of haar getuig. In die Skrif is "die boeke" simbolies van God se onfeilbare geheue met betrekking tot die dade van mense. Verder is die boeke n aanduiding van die regverdigheid van die oordeel wat uitgespreek gaan word. Burden maak die interessante opmerking dat daar in die geskiedenis van die wêreld slegs lewensgeskiedenisse van vooraanstaande mense gehou en geskryf word, maar in God se biblioteek is daar n biografie van elke mens. Volgens die volgende verse het die hofsitting uitspraak gelewer oor die diere, die vyandige wêreldryke. Dit het gelei tot die vernietiging van een van die ryke, terwyl die ander se heerskappy van hulle weggeneem is.

Vers 13: As die visioen verder beskryf word in verse 1314, verskuif die fokus skielik na iemand soos n menslike wese (letterlik: "mensekind" of ook net "mens"; vgl ook 8:17; Eseg 2:1, 3, 6; Job 25:6; Ps 8:5) wat by die hofsitting aansluit. In apokaliptiese geskrifte, soos hoofstukke 712 van Daniël asook Openbaring, word mense soms soos diere voorgestel (vgl die bose regeerders wat soos diere geteken word). Maar ook word hemelse wesens soms soos mense voorgestel. In ander kontekste sou "mensekind" n teken wees van die swakheid en broosheid van n mens teenoor God. Hier blyk dit egter nie die geval te wees nie. Hierdie nuwe aankomeling verskil wesenlik van die ander regeerders wat deur diere verteenwoordig is en wat dierlik van aard opgetree het. Hy kom nie uit die aarde nie, maar het in die wolke aangekom, dit wil sê hy het n hemelse oorsprong. God word self soms voorgestel soos iemand wat op die wolke kom of op die wolke ry (Ps 104:3; Jes 19:1; Eseg 1:4; Nah 1:3). Hierdie "mens" is dus iemand van heel besondere kenmerke. Sommige glo dat die uitdrukking juis klem lê op die verskil tussen hierdie mens en die ander regeerders wat soos diere voorgestel word: "It seems clear that what the author intends is a contrast between the one like a son of man and the beasts" (Porteous). Dit dui op die outoriteit wat hierdie mens besit. Hy is die ware mens, maar tog heelwat meer as die gewone mens hy is menslik én bonatuurlik tegelyk (Meer word in die konteks hieronder oor die figuur gesê). Dié besondere mens het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. Burden en andere sê dat ons hier te make het met n formele seremonie, soortgelyk aan die inisiëring van Israelitiese konings (Ps 2:7).

Vers 14: Die menslike figuur kom om as koning aangestel te word. Met hierdie kroningseremonie word die heerskappy en eer en koningskap, wat van die bose regeerders afgevat is, aan hom gegee (Vgl 2:37; 5:18), en word hy gevestig as die onbetwiste en soewereine heerser van die wêreld, sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien (Vgl 3:1218; 6:1721). Sy soewereiniteit is gelykstaande aan dié van God. Deur Hom te dien, word God eintlik gedien. Sy heerskappy is n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie, want "al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees" (7:27).

Konteks

Soos reeds in die voorafgaande preekstudie by die twee en twintigste Sondag in die koninkrykstyd aangedui is, is die teks van Daniël 712 geskryf met n apokalipties-eskatologiese strekking. Net soos in die geval van Daniël 12:13 het ons in hierdie geval ook met n nagtelike visioen te make. Die materiaal vertoon n openbaringskarakter en die inhoud is vol van allegoriese beelde en simbole (Vir meer hieroor word verwys na die paragraaf oor die Apokalipties-eskatologiese perspektief onder die Konteks by die voorafgaande preekstudie).

Seun van die Mens

Baie bespreking het al plaasgevind en daar is wyd bespiegel oor wat die werklike identiteit van die "iemand soos n menslike wese" is. n Paar verdere opmerkings in aansluiting by dit wat reeds hierbo in verband met die uitdrukking gesê is, is nodig. Verskillende suggesties is al aan die hand gedoen. Van die belangrikste is dat hierdie uitdrukking verwys na Daniël self, Moses, Judas Makkabeër, die aartsengel Migael en selfs die engel Gabriël. Dit word ook soms verklaar met verwysing na die eerste mens, Adam (Gen 1:26-27; Ps 8:5-9), die dienskneg van die Here (Jes 52:13-15), asook die Gesalfde (Op 12:10). Die verwagting in die Joodse, sowel as die Christelike tradisies, van n toekomstige koning, het die hoop laat opvlam dat dié enigmatiese figuur in 7:13 heenwys na n koning uit die geslag van Dawid. Sommige het geglo dat God self deur die uitdrukking veronderstel word, aangesien die menslike figuur oor presies dieselfde mag, eer en heerlikheid as God beskik. Nog ander sluit aan by die gedagte van swakheid en broosheid en glo dat hierdie menslike wese verwys na die brose en geteisterde, maar getroue element van die volk Israel. In hierdie figuur sou die heiliges, ondanks hulle swakheid, uiteindelik deur God regverdig verklaar word en met krag en heerlikheid beklee word, terwyl God sal toesien dat die vyande vernietig word. Die getroues neem die blywende heerskappy in besit wat aan "die heilige volk van die Allerhoogste" gegee sal word (7:18, 27). Dit is n ewige heerskappy wat eintlik God se heerskappy is en wat deur niks en niemand uit Sy hand geneem word nie. Na sy uitgebreide nota oor die suggesties wat deur die geskiedenis heen geheg is aan die uitdrukking, konkludeer Goldingay, in navolging van Porteous en andere: "Chap. 7 invites us to focus on the humanlike figures role rather than its identity. Indeed, it has been argued that the humanlike figures failure to appear in the interpretative section of the vision indicates that it is not a particularly important feature of the chapter."

Jesus as die Seun van die Mens

Miskien is dit belangrik om enkele gedagtes by te voeg, spesifiek oor hoe die uitdrukking verder gebruik word in die Nuwe Testament. Wat belangrik is vir die Nuwe-Testamentiese gemeente is dat Jesus die benaming "Seun van die mens", wat direk afgelei is van die oorspronklike uitdrukking in Daniël 7:13, by voorkeur vir Homself gebruik. Hy sluit dus, sover dit Homself betref, aan by Daniël 7:13. Die figuur in 7:13 word nie soos n reddersfiguur as sodanig gesien nie, maar soos n koninklike figuur. (Vgl die pseudepigrafiese geskrif, Henog, wat n sterk invloed uitgeoefen het op die Joodse en oud-Christelike apokaliptiek, waar die figuur voluit as reddersfiguur voorgehou word). Wanneer Jesus, veral in die Sinoptiese evangelies, na Homself verwys as die Seun van die Mens, weet dié wat na Hom luister, wat Hy bedoel. Hy bedoel dat Hy die Redder is, maar ook dat Hy dieselfde koninklike volmag besit wat aan die "menslike wese" in Daniel toegeken word. Hoewel die skrywer van Daniël 7 beslis nie die indruk skep dat die figuur die verwagte Messiaanse leier is nie, voer hy tog die beginsel van n korporatiewe persoonlikheid in. In hom of deur hom word die getroues en die heiliges verteenwoordig.

Jesus gebruik die benaming veral in drie groepe uitsprake oor Homself: a) wanneer Hy oor sy verborge hoogheid praat (Mark 2:10, 28; Luk 12:8; 19:10) asook oor sy nederigheid (Mark 10:45; 14:21; Luk 9:58); b) by geleenthede waar Hy sy lyding voorspel (Matt 20:17-19), en; c) wanneer Hy oor sy verhoging en sy verheerliking praat (Matt 13:41; 26:64; Luk 17:24; 21:35). By die Johannesevangelie kom daar n ander element by, naamlik die Seun van die mens se pre-eksistensie in die neerdaling uit, en die opvaart na die hemel (Joh 1:52; 3:13; 6:27, 62). Seun van die mens sou dus, by Jesus, nie net wys op sy swakheid en broosheid nie, maar dat hy meer is as gewone mens. Interessantheidshalwe behoort ons vir n oomblik terug te keer na die sterk kollektiewe of korporatiewe element in die verklarings van sommige geleerdes, naamlik dat dié figuur die getroue en heilige volk verteenwoordig. Trouens, hy kom om aan die heiliges van die Allerhoogste die koninklike heerskappy te skenk (7:18). Die gedagte bestaan dat die diere, wat vernietig word, elkeen n koninkryk verteenwoordig het. Derhalwe moet die figuur wat soos n menslike wese lyk ook n koninkryk verteenwoordig. Die idee in die agtergrond is waarskynlik van n hemelse Adam (mens) wat die mensdom verteenwoordig soos God die mens wou hê. In die apokaliptiese tradisies sou so n Adam op die aarde verskyn om die nuwe paradystoestand in te lui. Ons kan met reg aanvaar dat die gedagtes redelik wyd onder Jesus se tydgenote geleef het. Net soos Johannes die Doper vir hulle Elia "is", so "is" Jesus vir hulle die Seun van die Mens wat hulle verwag, wat weer die paradys op aarde sal laat kom. Net soos die "iemand soos n menslike wese" die heiliges van die Allerhoogste verteenwoordig, vind ons n korporatiewe element in die uitsprake en verklaring met betrekking tot Jesus. Hy, die Seun van die mens, wat ook as die tweede Adam (laaste Adam) by Paulus bekend staan (I Kor 15:45), verteenwoordig korporatief die verloste mensheid, net soos die eerste Adam kollektief die verlore mensheid verteenwoordig. Ons wil afsluit met n aanhaling van Porteous: "In spite of all that has been said to the contrary, it was probably Jesus himself who, when he appropriated the title `Son of Man as that best fitted to indicate who he was, fused it with the thought of a Suffering Servant and claimed no other Messiahship." In hierdie verband, naamlik n kombinasie van lyding en koningskap, is dit ook interessant om te let op Openbaring 5:12: "Die Lam wat geslag is, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang."

Dié tema in die kerklike jaar.

Die tema onderliggend aan hoofstuk 7 en wat veral na vore kom in die twee teksgedeeltes is: die beëindiging van die eeu van verdrukking deur n ingrypende daad van God en dat God se nuwe koninkryk uiteindelik regverdiging bring vir dié wat getrou gebly het, deurdat die heerskappy, mag en grootheid van die vyandige heersers weggevat en aan die heilige volk van die Allerhoogste gegee sal word. Dit is ideale preekstof vir die laaste Sondag voor Advent. In die Advent gaan dit om Christus se eerste koms na die wêreld vir die vestiging van sy koninkryk op aarde, teen die koninkryk van die duisternis. Hier het ons te make met prediking wat oor die laaste dinge handel, wat ons oproep tot ondersoek, wat n appél tot ons rig deurdat dit gaan om Christus se koms in ons, met ons en deur ons op weg na die einde toe. Die feesdae wat vroeër in die kerklike jaar gevier is, is verby en "in n sekere sin onvervuld, hulle roep en hyg na vore: soos die helder ligstrale van vuurtorings lig hulle in die nag in, wagtend op die môre!"(Müller). Daarom is dit goed om op hierdie Sondag die gemeente opnuut op te roep om soos wagters op die môre te wag, deur te verkondig dat Jesus op pad is en dat die uiteindelike oorwinning van die gelowiges n werklikheid sal wees wanneer Hy kom.

Preekvoorstel

Die hoofgedagtes wat na vore kom uit die twee teksgedeeltes is soos volg: Daniël 7:9-10. God maak Hom gereed om die goddelose koninkryke te beëindig. Dit word duidelik uit die hofsitting. Dit is God se geregshof, waar die vyande op grond van die inhoud van die boeke aangekla en veroordeel sal word. Hy wat op die troon gaan sit het, die Oue van dae, met al die ondervinding, is nie aan die wisselvalligheid van die tyd onderworpe nie. Hy is opreg, rein en regverdig en niemand sal sy uitsprake kan betwis nie. Niemand wat teen hom gesondig het, sal aan sy oordele ontkom nie.

Daniël 7:13-14. In die plek van die vyandelike koninkryke wat God se heiliges op allerhande maniere vervolg het, kom daar nou iemand wat soos n menslike wese lyk, wat geheel-en-al verskil van die diere wat die vyandige koninkryke voorstel. Hy is van n hoër orde; hy kom met die wolke uit die hemel, en word reguit na die Oue van dae gebring, wat hom aanstel in n koninklike posisie, wat weinig verskil van God self. Hy word bekroon met die heerskappy, eer en koningskap, sodat al die volke, hom sou dien. Sy heerskappy word n ewige heerskappy wat nie tot niet sal gaan nie.

Voorbeeld 1

Sommige predikers het aan die hand van die twee teksgedeeltes, maar veral Daniël 7:9-10, hoofsaaklik gekonsentreer op God se oordeel: God die regverdige Regter

1. Die sekerheid van God se oordeel.

Hier word aandag geskenk aan die goddelose heersers wat God uitgedaag het. Klem word egter gelê op die feit dat hulle slegs toegelaat is om voort te gaan tot op n sekere punt. God bepaal hoelank sy vyande toegelaat word om die toneel te oorheers. Op sy bepaalde tyd trek Hy hulle vryheid in en word hulle heerskappy beëindig.

2. Die Regter op die regbank.

Al die kenmerke van God (vgl vergelykings en metafore in vs.9), is hier ter sake: Hy wat ewig lewe, sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme, met wiele van vuur. Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Ook die duisende en miljoene wat voor Hom kom staan en wat Hom dien. Dit verskaf n duidelike beskrywing van al God se hoedanighede wat betrekking het op sy rol as Regter op die regbank.

3. Die regverdigheid van die oordeel.

Die boeke met die aanklagte is oopgemaak. Die dade van die wrede heersers is opgeteken. Niks het God se geheue ontglip nie. Die inhoud van die boeke dien as betroubare bewyse. Aan die hand daarvan, sal die uitspraak gevel word. Die oordeel is derhalwe regverdig en kan nie in twyfel getrek word nie.

Voorbeeld 2

Ander predikers weer het hoofsaaklik gekonsentreer op die nuwe koninkryk wat tot stand gekom het en wat eintlik van belang is omdat dit nie tot niet sal gaan nie(7:13) Preke van hierdie aard is ryklik aangevul met Nuwe-Testamentiese verwysings: Die koninkryk van die Seun van die Mens.

Die oorsprong daarvan.

Die koninkryk het n hemelse oorsprong, want die "iemand soos n menslike wese" het in die wolke aangekom (Joh 8:23). Dit staan in noue verband met God self, aangesien die nuwe aankomeling na Hom toe gegaan het wat ewig lewe. Daar is n eenheid met God (Joh 10:30); hy is afhanklik van God (Joh 5:19) en hy is gehoorsaam aan die Vader (Ps 40:7-9; Heb 10:7). Sy koninkryk is n gawe van God. In teenstelling met die bose konings wat beslag gelê het op die mag, is die mag, die eer en koningskap aan hom deur God gegee (Joh 18:36).

Die kenmerke daarvan.

Dit word gekenmerk as die koninkryk van die Seun van die Mens en daarom is dit meer "menslik" in vergelyking met dié van die wrede konings; meer goddelik in teenstelling met die goddelose konings; meer geestelik van karakter teenoor die bloeddorstigheid van die diere-koninkryke. Daar is meer meegevoel met die onderdane in vergelyking met die tirannie van die vorige ryke. Dit word omring met blywende eer en heerlikheid in plaas van die skande van die vyandelike magte. Hoewel nederig in oorsprong, sal dit toeneem in mag en omvang en omring word deur God se heerlikheid.

Die bestemming daarvan.

Dit n universele koninkryk in teenstelling met die groot aardse koninkryke wat almal beperk is tot n bepaalde geografiese gebied. Hierdie nuwe koning lê beslag op almal, veral hulle wat lyding deurgemaak het (Jes 53:11). As die Seun van die Mens is hy aanvaarbaar vir almal. Sy koninkryk is gevestig op die ewige waarhede, ken geen korrupsie nie en is regverdig teenoor almal. Dit sal nooit gestuit word nie en sal groei tot aan die eindes van die aarde.

 

Voorbeeld 3

Ek is van mening dat die twee teksgedeeltes direk by mekaar aansluit omdat beide behoort tot die toneel van die goddelike hofsitting. Daar kom een oorheersende tema deur wat ons nie kan veronagsaam nie, naamlik: God in beheer van alles en almal.

1. God in beheer as Regter oor die goddelose.

Die vier groot diere in hoofstuk 7, die leeu, die beer, die luiperd en die vierde dier, wat uit die see gekom het, het almal verskrikking kom saai. Hulle was baie sterk en hulle heerskappy was vreesaanjaend. Hulle het verslind, vermorsel en vertrap. Hulle het die indruk geskep dat hulle al die mag besit en dat hulle onoorwinlik is. Hulle trotsheid en verwaandheid moes die onderdane laat sidder het. En tog was hulle nooit werklik in beheer van sake nie. God se tyd van afrekening het aangebreek op die tyd wat Hy bepaal het. Hy laat mense toe om te regeer, om aan bewind van sake te staan. Hy skep vir hulle geleenthede om as heersers op te tree en om verantwoordelik te wees vir n tydperk. Van elkeen word daar egter rekening gehou; die boeke met die aanklagte word gereeld en getrou bygehou deur God self. Wanneer God se uurwerk egter afgeloop is, word die trone reggeskuif en die hofsitting gereedgemaak. Hyself presideer op die regbank en volgens sy onfeilbare geheue word elkeen geoordeel en gestraf. Vir die wrede konings beteken dit om vernietig te word. Hulle heerskappy wat nie met verantwoordelikheid gepaard gegaan het nie word van hulle weggeneem. God is in beheer van die tyd, want Hy bepaal wanneer dit moet gebeur. Hy is in beheer van elke mens se lewe. Niemand is groter en magtiger as Hy nie. Niemand oorskry sy magte en sy perke sonder dat God dit onthou nie, want God is in beheer van alles en almal.

2. God in beheer as Skepper en Onderhouer van die nuwe koninkryk.

Die gewelddadige koninkryke word vernietig, maar in die plek daarvan word God se eie koninkryk gestig. Sy koninkryk daal van bo af neer; dit kom saam met die menslike wese wat op die wolke verskyn het. Hy wat die septer gaan ontvang, is dus van goddelike oorsprong. Terselfdertyd is hy "iemand soos n menslike wese", letterlik: Seun van die Mens. Hy besit beide goddelike en menslike kenmerke. Dat die figuur reguit gaan na "Hom wat ewig lewe" wys verder op die noue betrekking met God. God se nuwe koninkryk staan nie los van Hom af nie, en sal dus Sy opdragte en bevele uitvoer en aan Hom gehoorsaam wees. Die nuwe ryk sal oorhandig word aan die Seun van die Mens. Laasgenoemde hoef nie, soos die heersers van die "dierlike koninkryke", die mag te usurpeer nie. Dit is God se gawe aan die een wat Hy betroubaar ag en wat Sy koninkryk met verantwoordelikheid sal bestuur. God sal ook self sorg dat so n heerskappy beklee word met eer en heerlikheid. Al die volke, nasies en taalgroepe sal nader kom om hom wat aan die bewind staan, te dien. God se nuwe stigting sal nooit tot niet gaan nie; die nuwe koningskap sal nie ophou nie. Dit sal n ewige koningskap wees, want "hy wat ewig is", is in beheer daarvan.

3. God in beheer as Bewaarder van sy getroue volgelinge.

In God se nuwe koninkryk sal God self sorg vir die bewaring van Sy getroue volgelinge. Selfs terwyl hulle onderworpe is aan geweldige lyding het Hy hulle nooit werklik vergeet nie. Hy was daar en het hulle bewaar en versterk om ondanks alles, moed te hou, nie te kapituleer nie en weerstand te bied. Hulle lyding en droefheid het nie net gekom van die vyand nie. Die afdwaling van tydgenote veroorsaak soms groter druk en die weerstandsvermoë word tot die uiterste beproef. Maar vir dié wat getrou gebly het, hoef daar nie twyfel te wees in die redding van God nie. Hy het bewaar en sal op Sy bestemde tyd die uitkoms bring. Onder die heerskappy van die Seun van die Mens sal hulle die voordele van sy heerskappy geniet. Dit sal vir hulle vreugde wees om aan hom te behoort. In die nuwe koninkryk sal hulle saam regeer. Die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit (7:22). Ook ten opsigte van die bewaring van sy eie, is God in beheer al lyk dit nie altyd so nie. Daarom kan ons, sy kinders van vandag, moed skep al lyk die toekoms donker en al lyk dit asof die vyand in beheer is.

Bibliografie

Miller, S R 1994. Daniel. The New American Commentary; Aalders, G Ch 1962. Daniel. Commentaar op het Oude Testament; Hartman, L F & Di Lella, A A 1978. The Book of Daniel. The Anchor Bible; Goldingay, J E 1989. Daniel. Word Biblical Commentary; Porteous, N, 1965. Daniel. Old Testament Library. Helberg, J L, 1994. Die Boek Daniël; Vorster, W 1986, Tekste met n apokaliptiese perspektief, in Woorde wat ver kom; Burden, JJ 1987, The Book of Daniel, in Dialogue with God; Müller, BA, 1985, Eskatologiese prediking, in Woord teen die Lig 1/6, Riglyne vir eskatologiese prediking; Bybelse Ensiklopedie, 2de hersiene uitgawe.