8 September 2002

Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Esegiël 33:7-11.

Ander tekste: Psalm 119:33-48; Romeine 12:9-21; Matteus 18:15-20.

INLEIDING

Net soos in Esegiël 3:16-21 word Esegiël in Esegiël 33:7-11 as wagter van Israel aangestel. As wagter moet hy die

volk tot bekering oproep. Wanneer die kerk in Koninkrykstyd na Esegiël 33 luister, is daar n tweërlei boodskap wat

gehoor word: enersyds hoor ons die opdrag om wagter te wees; andersyds is die oproep tot bekering ook op die

kerk van toepassing. Die liturgie sou n kerugmatiese karakter kon hê.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

In die lig van die Esegiëlteks stel ek voor dat die volgende inleidingswoorde gebruik word:

Die Here wat gesê het: "Julle is my kleinvee, julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God" (Eseg 34:31) is hier

in ons midde en Hy nooi jou: "Kom " (Jes 55:1).

As antwoord op die seëngroet kan Psalm 105:1, 2, 5/NSG 50:1, 2, 3 wat uitdrukking gee aan die gemeente se

verbondenheid aan God gesing word.

DIENS VAN DIE WOORD

Die psalm van die dag, Psalm 119:33-40, kan as epiklese voorgebid word. Dit sou ook direk ná die preek as reaksie

op die prediking gebid kon word in die woorde van Die Boodskap-vertaling.

In Kindertyd kan jy die kinders vertel van n fiktiewe (of dalk n werklike) insident uit jou kinderdae, toe jy betrokke

was by n streeptrekkery wat te ver gegaan het. Byvoorbeeld: Julle het n boomhuis gehad. Die houttrap wat na die

boomhuis toe gelei het, het mettertyd verweer geraak en n mens moes weet wáár om te trap sodat jy nie val nie.

Telkens wanneer nuwe kinders by julle kom kuier het, het julle hulle nie teen die trappe gewaarsku nie en dan was

daar n lekker lagsessie as hulle geval het. Tot die dag toe iemand n arm gebreek het en jy besef het dat jy

daarvoor verantwoordelik was

So kan ons ook lekker lag vir die "goddelose" dinge wat maats soms doen, maar uiteindelik is dit ons wat van beter

weet wat ons voor die Here moet kan verantwoord.

Sang

Gesang 247:1, 2, 3/NSG 252:1, 2, 3 sal n gepaste oorgang tussen die prediking en die nagmaal bewerkstellig.

DIENS VAN DIE TAFEL

As berig kan die volgende gebruik word:

Wanneer ons die nagmaal vier, dink ons aan wat Jesus vir ons gedoen het sy lewe as offer sodat ons aan God

verbind kan wees. Terselfdertyd weet ons dat die brood wat dui op sy liggaam wat gebreek is en die wyn wat dui

op sy bloed wat gevloei het, vir ons n waarborg is dat ons skuld volkome betaal is deur hierdie offer. Die nagmaal

is ten diepste vir ons die seker bevestiging van God se liefde vir ons dat Hy n passie het vir mense.

UITSENDING

Ek sou daarvoor kies om eers die aankondigings te hanteer met n voorbiddingsgebed direk daarna en sal dan die

wet daarop laat volg. As wetlesing stel ek voor dat Romeine 12:9-21 gelees word en dat dit opgevolg word met

Gesang 225:3, 4, 5/NSG 189:3, 4, 5.

Tema

Bekeer julle en leef!

Teks

Inleiding

Die boek Esegiël kan in drie afdelings verdeel word, naamlik hoofstukke 1-24, 25-32 en laastens 33-48. Ons

teksgedeelte kom uit die laaste gedeelte. In hierdie gedeelte, wat verwys na die val van Jerusalem, wil Esegiël die

volk vertroos met beloftes van genade en herstel. Die profeet self behoort tot die ballinge van 597 vC wat saam met

koning Jojagin deur Nebukadnesar na Babel weggevoer is. Hy woon in die streek Tel Abib (3:5) en dit is hier waar

hy deur God tot profeet geroep word in die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin (1:2). Esegiël was baie

verbaas dat God Hom aan die ballinge in die heidense Babel openbaar. Dié profeet het ongeveer 25 jaar lank sy

profetiese arbeid onder die ballinge verrig. Hy het die woord van die Here onder die ballinge verkondig voor en ná

586 vC, die jaar van die val van Jerusalem.

Preekvoorstel

Hierdie betrokke Skrifgedeelte is gepreek gedurende die periode van die ballingskap. Jerusalem is ingeneem deur

die vyandelike Babiloniërs. Dit was eintlik vir die Jode ondenkbaar. Hulle het gedink dit is heeltemal onmoontlik.

Trouens, die Jode het geglo dat die stad nooit ingeneem sou word nie, dat God dit nooit sou toelaat nie. God

(tempel), volk en land was vir die Jode intiem met mekaar verbind. Die val van Jerusalem het dus geweldige

reperkussies gehad vir die Jode se geloof in God.

Onder die omringende heidense volkere het die gedagte geleef dat die god van n volk wat die oorlog verloor, n

swak "god" was. Die inname van Jerusalem en die ballingskap het binne dié konteks n negatiewe beeld van die

God van Israel laat ontstaan. Die verwoesting van Jerusalem het die beeld by hulle laat posvat dat die God van die

Israeliete teen die Babiloniërs verloor het en dat die Babiloniese god of gode dus sterker was as die God van Israel.

Die profeet Esegiël spreek hierdie saak aan en wil in sy prediking die teendeel bewys.

Die taak van die profeet in Babel was juis om die volk te verseker dat God hulle nie vergeet het nie, maar hulle juis

uit die situasie wou verlos. Vir dié doel het God Esegiël aangestel as n brandwag (33:7). Só wou God die volk

waarsku teen die gevaar. Daar het dus n groot verantwoordelikheid op Esegiël gerus om as die brandwag by die

volk op te tree.

Die betekenis en funksie van die brandwag

In 33:1-6 word daar in die algemeen oor die aanstelling en rol van n brandwag gepraat. Esegiël 33:7-9 verklaar

spesifiek dat Esegiël deur God in hierdie posisie aangestel is. Die taak is dus aan Esegiël opgedra om die oordeel

oor Jerusalem en Juda aan die Israeliete en die ballinge aan te kondig. Terselfdertyd moes hy die volksgenote tot

belydenis van skuld bring en hulle op die weg lei tot n nuwe volksbestaan. Helaas, dit was geen maklike taak nie

(sien die profeet se stryd om sy taak uit te voer in 3:25 ev en die moeilike boodskap wat hy verder moes verkondig

in 33:21-33). Esegiël moes aan die volk verkondig dat vir dié wat onreg pleeg, die pad na die dood lei én dat die val

van Jerusalem hiermee saamhang. Hy moes egter ook aan hulle verkondig dat n nuwe lewensweg volg vir dié wat

van hulle slegte dade afsien en reg laat geskied (sien 33:10-29).

Esegiël het al vroeër met hierdie prediking begin, maar dit bereik n dramatiese hoogtepunt in die periode van die

swygende God (24:25-27). Esegiël 3:17-22 is feitlik woordeliks dieselfde as 33:7-9. Terwyl die profeet se roeping in

hoofstuk 3 ter sprake is, vertel dieselfde woorde in hoofstuk 33 eintlik hoe die profeet hom van sy taak gekwyt het.

Verwysend na die herbeklemtoning van die roeping van die profeet in Esegiël 33:7-9 moet ons nou vra: Wat word

bedoel met hierdie woorde? Wat beteken dit? (Die vraag na die betekenis van sy woorde en optrede klink soos n

refrein deur Esegiël se profesie. Sien bv 37:18 en ook 17:11; 20:49; 21:7; 24:19). God se antwoord op dié vraag is:

"Mensekind, Ek het jou as brandwag oor die huis van Israel aangestel" (sien 3:17; 33:7). Die brandwag het die lewe

van die stad en sy inwoners in sy hand gehou. Wanneer hy die situasie verkeerd beoordeel of verraad gepleeg het,

moes hy met sy lewe boet. Die beeld van die brandwag was goed bekend in die Ou Testament (2 Sam 13:34; 18:24;

2 Kon 9:17, 20; Jes 21:6-8). In 1 Konings 20:39 lees ons dat n soldaat opdrag ontvang het om iemand op te pas,

te bewaak, en indien hy sou misluk, kon hy met sy lewe boet of moes hy n geldboete betaal. Ongeskiktheid en

verraad van mense in verantwoordelike poste is ook swaar gestraf (sien bv Gen 40). Dit verklaar ook die

hartstogtelike erns van die profete wat hulle amp en verantwoordelikheid vergelyk het met n brandwag of uitkykpos

bo-op die poort van die stad (gewoonlik die enigste uitkyktoring).

PREEKSTUDIE - ESEGIËL 33:7-11

Die gebruik van die brandwag was dan ook reeds vir Esegiël n bekende metafoor vir die profetiese amp. Hosea

noem homself byvoorbeeld "wagter oor Efraim" (9:8; 5:8; 8:1) terwyl Jeremia van die profete praat as wagte (6:17).

Sien ook Amos 3:6 en Jesaja 56:10 en 62:6. By Esegiël is die brandwag egter nie slegs die profeet wat die volk wil

waarsku nie, maar ook die een wat die verantwoordelikheid dra vir die lewe van die mense wat aan hom toevertrou

is. Hierdie aspek is nie by die ouer profete afwesig nie, maar by Esegiël kry dit n ekstra aksent omdat die woord

wat hy op sy uitkykpos ontvang ook die handel en wandel van elke lid van God se volk betrek. Sy profete-amp of

rol sluit dus nie slegs die klassieke opdrag in om sy hoorders te waarsku nie, maar ook om die bedreiging van God

se oordeel oor Israel te verkondig.

Esegiël is egter nie slegs die siener (profeet), die aankondiger van God se gerig oor Israel nie, maar ook die persoon

wat die leiding moet gee in die lewe van die gelowiges in die ballingskap. Hy moet hulle oortuig van sonde,

geregtigheid en oordeel (Joh 16:8). Die profeet moet die volk uit die krisis lei, uit die situasie van die loutering van

die ballingskap waarin God se gesig vir hulle verborge geraak het. Hy moes hulle help om te kom tot erkenning van

hulle wandade en tot die besef van God se persoonlike aanwesigheid en heil te midde van die aankondiging van

onheil, van oordeel en van hulle ervaring van vernietiging.

Die openbaring van God self, sy selfvoorstelling Ek is die Here in die geskiedenis van die volk van Israel neem

ten slotte die vorm aan van n persoonlike konfrontasie met die goddelose (vv 8-9). Die oordeel oor Israel geld

daarom ook vir elke individu. Niemand kan hulle onttrek aan die aankondiging van die oordeel deur óf byvoorbeeld

die skuld daarvoor in die verlede te soek óf hulle gewoon nie daaraan te steur nie. Elkeen mag die woord van die

oordeel en heil as n persoonlike boodskap hoor, die verkeerde (sondige) weg verlaat en gehoor gee aan die oproep

tot bekering. Hierdie keuse vir n nuwe bestemming en lewensweg is dan ook die eintlike sentrale onderwerp van

Esegiël 33:10-20.

Die weg na n nuwe begin (33:10-11)

Die profetiese waarskuwing was noodsaaklik as die eerste stap in God se positiewe doel met die ballinge. Wat

hierdie doel was, word nou duidelik. Deur die prediking van die profeet het dit vir die ballinge duidelik geword dat

hulle sondes die grondoorsaak was van hulle slegte situasie. Dit het selfs die kwaliteit van hulle lewe aangetas en

hulle was dus niks beter nie as die goddeloses wat sterf as gevolg van hulle sondes (33:8-9). Die volk se erkenning

van hulle sonde word uitgedruk in n gemeenskaplike klaaglied (net soos in Jes 53:5 en 59:12 se "ons oortredinge").

Dit praat van die dood as n mag wat heers in hulle lewe (sien ook Ps 116:3, 8) en as gevolg daarvan ook van

wanhoop. Hoe sou hulle dus die lied van die Here kon sing in n vreemde land? (Ps 137:4). Histories gee die

klaaglied uitdrukking aan die gevolge van die katastrofe van 587 vC en daarom van die sosiale en godsdienstige

disoriëntering wat die krisis van die ballingskap veroorsaak het (sien bv Klaagl 3:42-47).

God het egter hewig beswaar gemaak daarteen dat sy volk Hom sien as iemand wat slegs behae het in die dood

van sondaars. God wil dan juis dat die sondaar gered word. Die veroordeling was daarom juis n middel tot hierdie

doel. Veroordeling was die voorloper tot verlossing. God bevestig dit in Jeremia 1:10 die profeet word deur God

aangestel om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, ten einde te bou en te plant. (Sien ook Deut

30:15-20; Jer 21:8.) Binne die Esegiëlboek is hier n eskatologiese verbintenis met sy latere hoofstukke wat praat

van die nuwe lewe en vereenselwig word met die terugkeer van die ballinge (36:24-32; 37:11-14). God wil n

verandering van lewenstyl as die vrug van die bekering hê, en hiertoe word die volk opgeroep in 33:10-11 (sien ook

Eseg 14:6).

Voor die val van Jerusalem het die ballinge in n situasie van onverantwoorde optimisme geleef, in die oortuiging

dat die stad nie verlore kan gaan nie. Ná die inname het hulle egter verval in n pessimisme sonder enige verwagting

van n toekoms. As gevolg hiervan was hulle onder die indruk dat God n welbehae het daarin om die doodstraf op

skuldiges te voltrek. God stel egter dié vraag in Esegiël 18:23: Het Ek dan miskien n behae in die dood van die

goddelose? In Esegiël 33:11 gaan God so ver deur met n eed aan Homself te sweer: "So seker as Ek leef, sê die

Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en

lewe." Op hierdie manier verwerp God die gedagte so ver moontlik van Hom af dat Hy Hom in die dood van die

skuldiges sou verlustig. Nou volg die skerpste teenstelling. God het wel n lus (welbehae) daarin dat die

boosdoeners hulle van hulle verkeerde weë sal afwend sodat hulle in die volle sin van die woord sal lewe.

Hierdie verklaring wat God se gesindheid wat onder eed aflê word, word tereg gevolg deur n onmiddellike oproep

tot die volslae ommekeer/bekering van die oortreders. Op hierdie hartstogtelike beroep volg nou die vraag waarin

die onuitspreeklike groot liefde van God duidelik word: "Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?" In die lig

van so n groot Goddelike erbarming is dit immers nie nodig dat een of meer mense verlore gaan nie.