Ander
tekste: Jeremia 33:
17 -26, Lukas 21: 25 - 38, 1 Tessalonisense 3:9 - 4:12; Psalm 25.
Die Boek
Jeremia se plek in die Bybel:
Die boek
Jeremia is nie maklik om te lees of te preek nie. Tog is daar min boeke in die
Ou Testament wat so belangrik is vir 'n Bybelse teologie. Die eerste rede
daarvoor het te make met die tyd waarin die profeet opgetree het. Want hy was
profeet in Juda van 626 tot 584 v.C. En
Juda se omgewing – die antieke nabye Ooste – het in daardie tyd totaal en al
verander. Die Assiriërs wat daardie wêreld vir byna 'n eeu lank oorheers het,
het geval en die Neo-Babiloniërs het die septer stewig in die hand gevat. In
die proses het die enigste twee oorblywende stamme van Israel, Juda en
Benjamin, hulle land, hulle tempel en hulle koning verloor. Dit was die einde
van Israel as politieke mag. Voortaan sou hulle slegs as godsdienstige
gemeenskap verder bestaan. Dit is nou as 'n mens die kort tydjie van die
Makkabeërs se regering en die moderne staat Israel buite rekening laat. Dit was
Jeremia se taak om God se woord in hierdie tyd van ongekende omwenteling te
verkondig. Dit maak die boek vir die kerk hier aan die Suidpunt van Afrika op
hierdie tydstip onmisbaar en kosbaar.
Maar die
boek is ook 'n brug tussen die ou en die nuwe verbond. En dit is die tweede
rede hoekom die boek vir ons van teologiese belang is. Want van die dag af wat
die volk uit Egipteland, uit die slawehuis bevry is tot in Jeremia se tyd moes
die Here worstel met 'n volk wat gedurig in opstand was teen sy regering.
Israel wou net hulle eie kop volg, God se reëls vergeet en sy liefde ignoreer.
Op die lang duur moes dit Hom onderkry. "Sy geduld het opgeraak," sê
Jeremia. "Hy het genoeg gehad."
En Israel betaal die prys vir hulle ongehoorsaamheid. Hy vernietig
hulle. Tog bly Hy getrou aan sy beloftes en Hy laat 'n klein res oorbly. Maar
sy genade gaan ook verder. Hy los ook die probleem van Israel se voortdurende
sonde op. Want Hy besef dat praat nooit sal help nie. Die sonde sit eenvoudig
te diep in hulle harte ingegrif. Daarom is al raad om hulle harte te verander.
Hy moet sy Woord op mense se harte skryf. Die res van die Bybel se geskiedenis
vertel hoe Hy dit te weeg gebring het.
Ons teks
se plek in die boek Jeremia:
Een van die
redes hoekom dit so moeilik is om Jeremia te lees, is omdat die profeet nie 'n
skrywer was nie, maar 'n prediker. Hy het dus nie self sy boek beplan en
geskryf nie. Hy het weliswaar vir Baruk gehad wat sy profesieë kon opteken en
versamel. Maar daar het waarskynlik ook ander hande (en penne) aan die finale
produk meegewerk. Daarom is dit so moeilik om 'n deurlopend kronologiese of
soms selfs net 'n logiese struktuur in die boek te vind.
Wat wel vir
ons van belang is, is dat ons teks deel is van die hoofstukke wat algemeen as Die Troosboek bekend staan. Die gedeelte
word so genoem na aanleiding van die Here se opdrag aan Jeremia in 30:2 om al
die troosvolle woorde wat hy tot die ballinge moes spreek, in 'n boek op te
skryf. Oor die omvang van dié boek, is daar ook verskil van mening. Die meeste
stem saam dat dit minstens hoofstukke 30 en 31 is, en daarmee saam 33. Hoofstuk
32 is duidelik van 'n ander aard. Dit vertel die verhaal van Jeremia se
grondtransaksie. Maar dit is dalk die mees troostende deel van die hele
Jeremiaboek. Daarom sal dit nie verkeerd wees om die hele gedeelte: 30:1 tot
33:26 as die boek van troos te beskou nie.
Hierdie
hoofstukke troos omdat die Here daarin sy plan om Israel weer ‘te bou en te
vestig’ (Jer 1:10) bekend maak. Hy sal die lot van die volk verander en hulle
terugbring om die land te besit wat Hy aan hulle voorvaders gegee het (Jer
30:3). So stapel Hy belofte op belofte om die ballinge weer moed in te praat en
hoop te gee vir die toekoms.
Al die
beloftes van redding wat ons in 30-32 kry, laat ons met twee vrae: Eerstens,
hoe kan mense wat voortdurend teen die Here gerebelleer het, en selfs hulle
kinders vir Molech geoffer het ooit weer bondgenote van God word? En tweedens
wat se soort lewe sal die mense hê wat weer deur God in die land gebou en
gevestig word?
Jeremia 33
antwoord hierdie vrae. Die Here sal hulle uit genade (v.26) ‘heeltemal gesond
maak’ (v. 6) en hulle ‘reinig van al die sondes’ (v. 8) waarmee hulle teen Hom
oortree en in opstand gekom het. Dit is die antwoord op die eerste vraag.
Op die
tweede vraag antwoord die hoofstuk net so mooi: Daar sal weer huweliksfeeste
wees, (v.11) sodat die gesinslewe kan voortgaan. En die eredienste sal weer
hervat word (verse. 11 en 18). En die Here sal altyd 'n wettige en regverdige
koning voorsien om op die troon te sit (verse 14-26) sodat mense ‘onbesorg’ kan
lewe (v.16). Die Here kan dit doen, want Hy is die skepper vir wie niks
onmoontlik is nie (32:17).
Die deel
van die belofte wat handel oor die wettige en regverdige koning, is ons teks
vir hierdie Sondag.
Die teks
bevestig dat die Here 'n vroeëre belofte sal uitvoer. Die belofte is reeds in 2
Samuel 7:8 opgeteken en is in Jeremia 23:56 herhaal. Hy sal vir Dawid 'n
wettige afstammeling gebore laat word, en die koning sal in die land laat reg
geskied en reg doen. Daar sal altyd iemand uit die huis van Dawid op die troon
van Israel sit.
Hierdie
belofte het nie in Jeremia se hart ontstaan nie. Want dit is uit die res van
die boek duidelik dat hy nie veel ooghare vir die Dawidshuis gehad het nie. Om
die waarheid te sê: Wat hom betref was hulle die grootste probleem vir Israel.
(vgl. hfs. 22) en Israel sou beter sonder hulle as met hulle kon klaarkom.
Sommige eksegete meen selfs dat Jeremia onmoontlik hierdie profesie self kon
uitgespreek het. Dit moet 'n latere toevoeging wees. En hulle vind dan steun
vir hierdie standpunt by die feit dat verse 14–25 in die teks van die
Septuagint ontbreek.
Hoe dit
ookal sy: Die belofte van 'n koning uit die huis van Dawid is deel van die
padkos wat Israel in hulle rugsak op weg deur die geskiedenis saamgekry het.
Geen belofte oor die nuwe tyd wat voorlê sou hiersonder volledig kon wees nie.
Of dit nou deur die mond van Jeremia of deur die pen van 'n persoon uit 'n
latere tyd was, die Heilige Gees het hierdie belofte aan ons kom maak.
Dié koning,
sê die belofte, sal kom doen wat konings veronderstel is om te doen: Hy sal in
die land laat reg geskied en reg doen. Dit is nie 'n nuwe droom nie. Dit was
van meet af aan wat die Here van Israel se konings verwag het (1 Kon 10:9; Jes
9:6; Ps 72:1-4, 12-14;). Wat nuut is, is die versekering dat daar uiteindelik
'n koning sal kom wat aan hierdie vereistes voldoen! Dit sal nuwe lewe op 'n
wonderlike manier moontlik maak.
Konings is
nie regtig deel van ons ervaringswêreld nie. Die bietjie wat ons in die moderne
tyd van hulle lees, help ons ook nie verbysterend baie om die gedeeltes oor
konings in die Bybel beter te verstaan nie. Die probleem is dat ons gedagtes dadelik
‘regeer’ as werkwoord aan koning
koppel. So doen die Heidelbergse Kategismus byvoorbeeld ook in Sondag 12.
Christus is met die Heilige Gees gesalf "... tot ons ewige Koning, wat ons
met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en
bewaar." En as gesalfdes is ons koningskap om in hierdie lewe met 'n vrye
gewete teen die sonde en die duiwel te stry en hierna met Christus in ewigheid
oor alle skepsels te kan regeer.
In die
woordjie regeer hoor ons veral die betekenis: Gesag uitoefen. En uiteraard is
dit wat konings betaal word om te doen. Maar tog lê die klem in die Ou
Testament nie soseer op die uitoefening van gesag as sodanig nie. Maar die
gesag is 'n middel tot 'n doel. En die doel is diens. Die koning het in diens van
God gestaan om reg en geregtigheid uit te oefen. Hy moes sy gesag en posisie
gebruik om veral die vreemdeling, die wees en die weduwee te beskerm en te
versorg. Dit kom wel met een woordjie in die Kategismus se formulering oor die
koningskap van Christus uit, maar ongelukkig nie in die gedeelte oor óns amp as
konings nie. Dit is jammer dat Ursinus en Olevianus nie daaraan gedink het om
daar iets in te skryf oor ons taak om te veg vir reg en geregtigheid en om na
die armes in die samelewing om te sien nie. Die Belhar Belydenis het wel
daardie korreksie aangebring, maar dit ook nou weer nie in verband met ons
koningskap in navolging van Christus se koningskap gebring nie.
Uit die
voorafgaande blyk dat ons op twee maniere by die teks betrokke is. Aan die een
kant is ons ontvangers van die Koning wat moes kom, se sorg. En aan die ander
kant is ons navolgers wat op ons beurt weer ander moet versorg.
As ons oor
sorg praat, moet ons as Christene dikwels teen twee fronte veg. Aan die een
kant bestaan daar in ons samelewing 'n neiging dat mense hulleself te maklik as
slagoffers sien, en te min daarvan maak dat hulle eie besluite 'n groot rol
speel in die dinge wat met hulle gebeur.
Aan die
ander kant is dit ook so dat ons lewens wel deur magte buite ons beheer oorheers
word. In een van die vele strategiese beplanningsmetodes wat deur maatskappye
gebruik word, word hierdie eksterne faktore wat ons bestaan beïnvloed met die
engelse akroniem PEST beskryf. Dit staan vir ‘Politics, Economics, Society,
Technology’. As 'n mens net 'n bietjie gaan sit kom jy gou af op die name van
mense wat jy ken wie se bestaan radikaal deur een of almal van hierdie magte
geraak is. Die ontwikkeling van tegnologie laat mense hulle werk verloor.
Politiek maak tans dat veral wit blanke mans moeiliker werk kry as voorheen,
maar voorheen het dit die meeste mense in die land van 'n ordentlike werk
beroof. Die ekonomie veroorsaak dat mense armer word en so kan 'n mens
voortgaan. Hierdie dinge is soos die armes – ons sal hulle altyd met ons hê
totdat Christus weer kom.
Maar daarom
is die belofte van 'n koning wat regverdig regeer so belangrik. Want in die ou
tyd was die koning die samevatting van al hierdie magte. Hy was hulle tyd se
PEST. Verskriklik baie het vir die gewone man op straat afgehang van die koning
se bereidheid om soos die Here te regeer. Die vreugde van ons teks is dat die
Here so 'n koning voorspel het. En die vreugde van Kersfees is dat hierdie
belofte bevestig is. Daarom wag ons met nuwe moed op die wederkoms van hierdie
Koning. En in die tussentyd veg ons as Christene so hard as wat ons kan om reg
en geregtigheid in ons samelewing.
Dit is wat
die preek hieronder wil duidelik maak. Uiteraard is die preek hier bloot in
gekondenseerde vorm. Die prediker sal dit self moet uitbou en uitbrei en veral
selfs moet voorbeelde soek. U eie gemeente sal genoeg stof daarvoor bied!
Ons kry in
die samelewing altyd weer mense wat knaend die fout vir dit wat in hulle lewens
misloop by ander mense of by die omstandighede gaan soek. Dit is altyd iemand
anders se skuld, of die omstandighede s'n dat dit met hulle sleg gaan. Dat
hulleself 'n aandeel daaraan het, kom nie eens by hulle op nie. Hulle glo hulle
is slagoffers. En omdat hulle slagoffers is, kan hulle ook niks daaraan doen om
hulle omstandighede te verander of die hoof te bied nie. Jy hoor dit baie in
die soort gesprekke wat mense voer. Dit is byna soos 'n kind wat by haar ma kom
en sê: "Mamma, die donker maak my bang." Jou eerste reaksie is om vir
die kind te sê; foeitog! Maar as jy mooi daaraan dink, is dit nie waar wat sy
gesê het nie. Dit is nie die donker wat haar bang maak nie, want die donker is
nie in staat om enige iets te doen nie. Die donker kan mos nie agter 'n boom
uitspring en skree: ‘Boe’, nie. Sy het haarself vir die donker bang gemaak. Die
oomblik as jy dit besef, kan jy haar help om haar vrees vir die donker te
oorwin. Grootmense sê: “Die politiek maak my kwaad”. Of "Die misdaad in
die land maak my moedeloos." Hulle vergeet dat hulle self kan kies of
hulle kwaad of moedeloos of bang of wat ookal wil wees of nie.
Jeremia was
die profeet wat baie hard probeer het om die volk Israel te laat besef dat dit
hulle eie keuses is wat die ellende op hulle laat afkom. Daar was destyds 'n
spreekwoord: Die vaders het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het
stomp geword. Dit beteken: Die ellendes wat ons tref is die gevolg van die ouer
geslag se sonde. Klink dit bekend? Nie lank gelede nie, was daar mos 'n
lewendige debat in die pers wat juis deur hierdie selfde idee gedra is. Maar
Jeremia het teen hierdie gesindheid geveg. Ons maak self die keuses wat ons lot
bepaal, het hy vir hulle gesê.
Maar soos
met alle groot waarhede, is dit met hierdie een ook. Die werklikheid is meesal
meer ingewikkeld as wat ons met een of twee sinne kan sê. Tot 'n groot mate is
ons vir ons eie lotgevalle verantwoordelik. Maar daar is ook magte en kragte in
die wêreld aan die werk wat van mense slagoffers maak. Daar is werklik mense
wat ten spyte van hulle beste pogings deur omstandighede ondergeploeg is.
Sommige van
die mense wat strategiese beplanning in die sakewêreld doen, noem hierdie
kragte wat ons lewens teen wil en dank bepaal met die mooi engelse naam van
PEST. Dit staan vir Politics, Economics, Society, Technology. Politiek bepaal
mense se lewens. In die ou Suid-Afrika kon 'n bruin of swart mens moeilik 'n
goeie pos vind. En in die nuwe Suid-Afrika maak die politiek dit vir blanke
mans baie moeilik om 'n werk te vind. Ons kan die redes opnoem hoekom dit so
is, en dit is dalk ook goeie redes. Maar ongeag wat die redes is: Mense se
lewens word nie net deur hulle eie keuses bepaal nie. Daar is kragte soos die
politiek wat 'n rol speel in dit wat met ons gebeur. So ook die ekonomie. En
die gemeenskap. En die tegnologie.
As die
evangelie ons wil troos, kan hy dit dus nie net doen deur vir ons te vertel dat
die Heilige Gees ons harte so kom verander dat ons werklik nuwe mense word wat
die regte keuses kan maak nie. Natuurlik help dit al baie dat ons die Here
gehoorsaam is, en by Hom wysheid leer. Ons spaar onsself in die proses baie
groot hartseer. Maar as die Gees ons wil troos, moet Hy ook praat oor die magte
en omstandighede van buite wat ons lewens beheer. Hy moet ook 'n plan maak met
die politiek, die ekonomie, die gemeenskap en die tegnologie.
In Jeremia
se tyd het hulle hierdie moderne begrippe van ons, nog nie geken nie. En die
tegnologie was nog nie eens in sy kinderskoene nie. Daarom het hulle, wanneer
hulle oor die magte van politiek, ekonomie ensovoorts gepraat het, dit nie PEST
genoem nie, maar Koning. Die koning en sy optrede was deurslaggewend vir die
mense van die land. En omdat die koning so deurslaggewend was, het die Here
besondere eise aan Israel se konings gestel. Hulle moes regeer soos Hy. Dit het
veral twee dinge beteken: Hulle moes sorg dat aan almal reg geskied en hulle
self moes geregtigheid doen. Dit beteken dat die koning bo alles die
verantwoordelikheid gehad het om te sorg dat niemand swaarkry nie. 'n Goeie
koning regeer so dat die arm mense ook genoeg het. Geregtigheid is om so te
regeer dat daar vir elke mens in die land – ook die vreemdeling, die weeskind
en die weduwee – 'n lewe sonder trane moontlik is. En die belofte wat die Here
aan hulle na die ballingskap maak is: Daar sal so 'n koning gebore word!
En ons is
nou bevoorreg om een van die dae die herdenking van hierdie Koning se
geboortedag te vier. En in die loop van die jaar sal ons uit die evangelies
lees en onthou hoe Hy veral oor die mense wat swaarkry, bekommerd was. Hy het
siekes gesond gemaak. Hy het honger mense kos gegee. Hy het teen die onreg wat
mense aangedoen word, geprotesteer. Hy was werklik die koning wat reg en
geregtigheid kom doen het. Deur sy dade het hy in die tydjie wat Hy hier op die
aarde was, Jeremia se belofte kom bevestig. Om die waarheid te sê: Hy het deur
sy optrede kom wys hoe wonderlik 'n koning wat reg en geregtigheid doen,
werklik is. En nou met adventstyd onthou ons nie net dat Hy gekom het nie, ons
herinner mekaar daaraan dat Hy weer kom. Dat hy dan alle onreg wat ons lewens
ongelukkig maak sal kom ophef.
Maar ons doen ook meer as om net te onthou. Ons weet immers dat Hy nou aan die regterhand van die Vader sit. Dat Hy reeds regeer. Maar hy regeer nou deur ons in die wêreld uit te stuur. Daarom moet ons politiek veral daarop gemik wees om die armes en die hulpeloses te kan help. En ons moet so aan die ekonomie deelneem en dit so vorm dat die ekonomie mense dien en nie andersom nie. En ons moet die gemeenskap waar dit binne ons vermoëns is, so struktureer dat niemand onder onreg gebuk gaan nie. En ons moet waar ons kan daaroor waak dat die tegnologie 'n monster word wat mense van werkgeleentheid beroof en die lewe vir hulle onmoontlik maak. Kortom: Jesus se regering in ons harte en lewens moet herkenbaar word in die vrug van reg en geregtigheid vir die mense in die samelewing om ons wat dit nodig het. As ons dit so kan regkry, is dit heel jaar vir die mense om ons Kersfees en sal hulle ook begin roep: Kom Here Jesus!.