1 September 2002
Veertiende Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Gebruik hierdie voorstel saam met die basisliturgie vir Koninkrykstyd.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Die Here wat getrou bly, is hier in ons midde en Hy nooi jou nou …
Kindertyd
Verkeerde verwagtings word teleurgestelde verwagtings:
Help die kinders om te verstaan dat ons lewe ’n antwoord is op wat God reeds vir ons gegee het. Ons moet onsself
as offers gee, omdat Jesus Homself gegee het vir ons verlossing.
Die doop, indien dit bedien word, kan baie help om ons kinders dit te laat verstaan. Daarom kan kindertyd rondom
die doop geskied.
Juis die ontferming van God is die rede waarom ons ons as offers aan Hom gee.
’n Algemene misverstand is egter dat ’n lewe as offer net vreugde en vrede inhou. Gesels kortliks oor Jeremia se
teleurgestelde verwagtings, nie omdat God nie sy beloftes gehou het nie, maar omdat Jeremia verkeerde
verwagtings gehad het.
Laat die ouers en kinders ’n beurtsang sing: "Doen slegs u wil, Heer …"
Tema
Om te leef tussen die brose almag van God en die skrikbewind van die werklikheid.
Teks
Die teksgegewens is grotendeels in die preekvoorstel verwerk. Hierdie perikoop lewer geen ingewikkelde vrae op
oor eenheid en vloei nie. Tussen hoofstukke 11 en 20 vind ’n mens vyf gedigte in die Jeremiaboek. Die digterlike
aard van die klaaglied neem die vorm van ander soortgelyke klaagliedere aan. Die verrassing lê in die inhoud. Die
opstandigheid is kenmerkend van die klaagliedere en die prediker moenie meer daaraan toedig nie.
Vers 19 mag klink soos ’n gewone bekeringsoproep, maar dit gaan eintlik om die herstel tot die amp. Om voor God
te kan staan soos een van God se diensknegte. ’n Mens kan dit alleen doen wanneer jy kan onderskei tussen dít
wat eg is en dít wat waardeloos is. Walter Zimmerli beskou hierdie teks daarom eintlik as ’n woord van hoop. Die
prediker kan gerus daarby aansluit en nie net op die aanvegting, die swaarkry en die depressie fokus nie. Ek kies
die verband tussen verse 16 en 19 as die hartaar van die hoop wat in hierdie klaaglied opgesluit lê.
Konteks
Christene voel soms vasgekeer tussen hulle geloof en die sekularisende werk- en leefomgewing waarin hulle hulle
bevind. Die dringendheid wat hulle voel oor wat God te sê het vir die land en sy mense word verdoof deur ’n
samelewing wat die erns van sake nie besef nie en ’n sekere "lightness of being" nastreef. Wanneer daar oor die
sake van belang gepraat word, ervaar Christene negatiewe verhoudings en houdings. Talle Christene en predikante
leef in voortdurende spanning juis omdat hulle in die spanningsveld tussen God se Woord en die vele woorde van
die samelewing staan. Die mense wat dit die swaarste het, is dié Christene wat met hulle eie mense wil praat oor
hulle ligsinnige benadering tot die lewensnoodsaaklike vraagstukke van ons tyd. Die manier waarop ons samelewing
oor vigs, armoede en moraliteit praat, is goeie voorbeelde waarna die prediker kan verwys. ’n Mens begin
PREEKSTUDIE - JEREMIA 15:15-21
dan soms self wonder of God werklik prakties is, of God tot ons tyd spreek. Soms raak mense gefrustreerd oor hulle
Christelike roeping en verloor die soet smaak van die evangelie. Hierdie teks is vir sulke moeë Christene. Die teks
nooi hulle uit om weer te proe aan die Woord van God asof hulle dit vir die eerste keer smaak.
Calvyn verbind hierdie teks met die nagmaal en sê dat dit gaan om "eet" en nie net om "smaak" nie. Die Woord is
voeding vir die mistroostige. In hierdie teksgedeelte sien hy ook die streep getrek tussen predikante wat bloot
akteurs van die Woord is en dié wat ware bedienaars van die Woord is. Eersgenoemde streel die oor. Laasgenoemde
streel die hart, die kerk en die land – met die ware betekenis van die Woord, wat hoop gee, selfs wanneer
dit hard oorkom.
Preekvoorstel
Hierdie teks vorm ’n digterlike eenheid wat vasgevang staan tussen die gereformeerde omhelsing van God se
soewereiniteit en die pynlike onbarmhartigheid van die kinders van dieselfde God. Aan die kern van die stryd lê die
groot vraag van die identiteit van die profeet: Hoe sal die profeet sy of haar identiteit vestig tussen die eise van God
aan die een kant en die eise van die volk aan die ander kant?
Jeremia kies die kant van God. Hy besluit om die Woord van God te vertrou bo die menige eise van sy eie voorvaders,
vaders en ouboete. Maar, dit gaan nie maklik nie. Hierdie De Skrifgedeelte is een van vyf gedigte wat dateer
uit die tyd van die koningskap van Jojakim. Die gedigte vorm individuele klaagliedere. Laasgenoemde was algemeen
bekend in die gebruike in die tempel. Klaagliedere word gewoonlik ingelei deur ’n selfbejammerende monoloog
en soek/vind berusting in God se antwoord en versekering. Dié klaaglied van Jeremia word soms vergelyk met
Augustinus se Confessions.
Die persoonlike karakter van die klaaglied ontstaan uit die wens van die profeet om ook maar net ’n normale lewe
te lei soos waaraan hy in Anatot gewoond was. Hier bevind hy hom enersyds ver van sy mense in stryd met die
koning en die nasionale beleid, en andersyds in spanning met die volk. Jojakim het die wonderlike hervormings wat
Josia bewerkstellig het, laat verval. Hy het ook besluit om sy beleid in lojaliteit aan Egipte te ontwikkel en uit te bou.
Anders as Josia, werk hy ook nie saam met die profete nie. Inteendeel. Hy bedreig en vermoor hulle. Daarteenoor
spoor hy sy eie hofpriesters aan om die regeringspropaganda te verkondig dat alles wel is (14:13).
Rondom hom hoor Jeremia die valse optimisme van die volk wat nie meer goed nadink oor hulle omstandighede
en oor waar hulle met God staan nie. Die onnadenkende gelag en gesing van die volk laat ’n wolk van terneergedruktheid
op hom toesak. Dit word vererger deur die eensaamheid wat hy ervaar. Mense vermy hom. Hy is die
bederwer van hulle pret. Hy is die verraaier van hulle nasionale optimisme. Die profetiese taak om valsheid en
onegtheid te ontmasker sonder aansien van die persoon, vervreem hom van almal wat hy vir sy eie gemoedsrus
nodig het. Terwyl hy werk as vriend van die mense, sien hulle hom al hoe meer as vyand.
Derhalwe nader hy nou tot die enigste gespreksgenoot wat hy oor het – die God wat hom geroep het. Maar hoe kan
hy hom anders tot dié God wend as in die taal van die klaaglied? Dis ’n ander soort lied as dié van die valse
optimisme van die volk. Dis Jeremia se eie klag oor sy eensaamheid (15:17a) waarvoor God self te blameer is
(15:17b) en waaroor hy sy geboortedag vervloek (15:10). Hy sink weg in die hoopverlorenheid en pyn van die
roeping van ’n weerlose profeet. Hy wil by God weet waarom sy pyn so aanhou en sy wonde so ongeneeslik is. Sy
wonde, so kla hy, weier om te genees.
Dan, soos in ander klaagliedere, kom God self aan die woord met ’n streng bekeringsboodskap: As jy terugkeer,
omdraai, sal Ek jou herstel. Dit help nie om al hoe dieper in die donker pessimisme weg te stap nie. Staan voor My.
Om staande te bly, sal jy moet onderskei tussen dít wat waardevol is en dít wat waardeloos is. Dan maak God die
groot woord los: Jy is my segsman! (15:19). Een van die vertalings sê: "As jy voortbring wat edel is … sal jy soos
my mond wees."
Met hierdie skerp woorde van bemoediging herinner God Jeremia aan dít wat hy self vroeër genoem het: die soet
smaak van God se woorde op die lippe van die spreker. Reeds in vers 16 het Jeremia self bely hoe hy die woorde
van God "soet" gevind het. Dit het vreugde en vrolikheid in sy hart gebring. Niks is beter, niks is lekkerder as dit wat
van God uitgaan nie. God se instrumente, God se kinders wat sy Woord spreek, proe die "soet" op hulle lippe en
ervaar die vrolikheid in hulle harte.
Jeremia moes weer leer dat God weet waarmee God besig is. God weet dat God se woorde nie net pyn bring nie,
maar ook soet vreugde in die lewe van God se kinders. God het Jeremia uit die moederskoot geroep en God sal vir
hom sorg. Dan moet hy kan onderskei, op sy lippe kan proe wat edel is en wat waardeloos is.
En dan kom God se woorde van hoop (15:20). Die Here sal Jeremia versterk, hom ’n "onneembare kopermuur"
maak. Sy opponente sal dan ook steeds teen hom wees, maar hulle sal hom nie oorweldig nie.
Bibliografie
Calvin, J 1950. Commentaries on the Book of the Prophet Jeremiah & The Lamentations. Michigan: Eerdmans.
Clements, R E 1973. Interpretation: A Bible commentary for teaching and preaching. Atlanta: John Knox Press.
Clements, R E 1988. Jeremiah: interpretation. Atlanta: John Knox. Craigie, P C, Kelly, P H & Drinkard, J F (eds)
1991. Word Biblical Commentary, Vol 26: Jeremiah 1-25. Koch, K 1983. The prophets Vol II: The Babylonian &
Persia Periods. London: SCM Press. Lundbom, J R 1999. The Anchor Bible. Jeremiah 1-20: a new translation with
introduction and commentary. Thompson, J A 1980. The Book of Jeremiah. Michigan: Eerdmans. Van Selms, A
1972. Jeremia Deel I. Nijkerk: G F Callenbach NV. Zimmerli, W 1971. Mark and his hope in the Old Testament.
London: SCM Press.