Jesaja 60:1-6 (Kobus Smit)

31 Desember 2000

Epifanie

 

Ander Tekste: Psalm 72:1-7; 10-14  Matteus 2:1-12  Efesiërs 3:1-12

 

Teks

Ons teks kom binne die breëre korpus van Trito-Jesaja (56-66) voor, wat geskryf is om die ballinge wat na Jerusalem toe teruggekeer het, te bemoedig en aan te moedig om die Here regtig te dien.  Trito-Jesaja bestaan uit drie onderafdelings (56-59, 60-62 en 63-66), wat 'n hegte eenheid vorm.  Jesaja 60-62 vorm die kern daarvan en veronderstel 'n noodsituasie in Jerusalem.  Maatskaplik, polities en godsdienstig het dit alles behalwe goed gegaan.  Die volk was ontnugter, want hulle is gekonfronteer deur verwoesting, armoede en vyandigheid van die mense wat gedurende die ballingskap hulself op die ruďnes van Jerusalem gevestig het.  Daar het tweedrag en onsekerheid geheers.  Die luisterryke beloftes van Deutero-Jesaja het nie gerealiseer nie.  Die volk het gewonder:  Waar is God?  Wat het van al sy beloftes geword?   

Jesaja 60-62 dui ook Israel se finale bestemming aan as God se herstelde volk in wie Hy die realiteit van sy verlossing aan al die volkere van die aarde wil vertoon.  Hierdie hoofstukke wemel van beloftes van seën en verlossing en beklemtoon dat dit God gaan wees wat hierdie transformasie en die koms van die Messiaanse koninkryk gaan bewerkstellig.   Agt sleuteltemas kom herhaaldelik in Jes 60-62 voor:  God sal sy volk verlos;  Hy sal vir hulle lig gee;  Hy sal sy heerlikheid met hulle deel;  die nasies sal aangetrek word deur wat hulle van God in Israel sien; hulle sal Sion se kinders vir haar terugbring;  hulle sal hulle rykdom bring en dit aan die God van Israel skenk;  die wat Israel verdruk het, sal verneder word en sy sal oor hulle verhoog word;  beide Israel en die nasies sal God se geregtigheid beleef en 'n voorbeeld daarvan wees.

Jesaja 60 beskryf 'n nuwe toestand van heil wat Jahwe vir Jerusalem gaan skep.  Jerusalem sal herbou word en 'n lig in die duisternis wees waarheen die volkere sal stroom.  Anders as by Deutero-Jesaja word die heil nie as 'n spesifieke historiese gebeurtenis aangekondig nie (bv. verlossing uit ballingskap), maar eerder beskryf as 'n wonderbaarlike verandering van die volk se treurige toestand.  Die profeet gebruik die skema van 'n klaaglied.  Die voorspelling van verlossing volg op die beklaagde toestand.  Meeste kommentare stem saam dat Jesaja 60 'n eenheid vorm.  Dit word meestal soos volg verdeel:  inleiding en aankondiging van die heil (1-3);  die nasies kom na Jerusalem (4-9);  verdrukkers word verneder en verdruktes word verhoog (10-16);  goud vir brons (17-22).  Die Lectionary se perikoop-indeling laat dus nie reg aan ons teks se oppervlakte-struktuur geskied nie.  Daarom beveel ons aan dat die perikoop tot vers 9 uitgebrei word.

Israel se hoop dat God sal kom en haar bevry (40:3, 10; 46:13, 52:8, 59:20) het 'n werklikheid geword (1-3).  Soos wat die son na 'n nag van angs opkom, so is God weer in Jerusalem teenwoordig.    Wat die profeet betref, is die redding reeds 'n werklikheid.  In vers 1 en 2 word die heerlikheid (‘kebôd) van God en lig (‘ôręk) parallel gebruik.  Die heerlikheid of ‘magtige teenwoordigheid van die Here’ is soos die lig van 'n nuwe dag wat aangebreek het (vgl. Jes 58:8 ‘Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag…’; vgl. ook 19-20). Alle teofanieë (verskynings) word gekenmerk deur die heerlikheid (teenwoordigheid) van God.  Dit is juis die belewing van sy glansryke majesteit en heerlikheid wat die waarnemers daarvan altyd oorweldig het (Jes 4:5; 6:3; Eks 24:17; 33:22; Eseg 1:28; Hab 2:14).   Die beeld van die lig hier is gewis 'n sinspeling op Genesis 1 en 'n nuwe skepping.  Israel is die besondere getuie van hierdie Lig en Jerusalem die middelpunt van die transformasie.  Daarom die bevel (imperatief):  ‘Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig!’ (v.1).  Leef volgens jou ware identiteit!  Self kon Israel dit nie vermag nie.  Die heerlikheid (lees teenwoordigheid) van God wat Jerusalem (lees Israel) verlig het, het Israel weer laat besef dat sy die uitverkore volk is wat geroepe is om 'n lig vir die nasies te wees.  Heerlikheid behoort slegs aan God (2:10) en Hy deel dit met niemand nie (48:11).  Tog is Hy bereid om dit met sy volk te deel  (35:2) en sy heerlikheid deur Israel as sy dienskneg aan die volkere bekend te maak (49:3).  God se heerlikheid via Israel bring die volkere in beweging na Jerusalem, want sy Lig via Israel is vir hulle onweerstaanbaar (2:2-5).  Hulle kom omdat hulle die Wet van die God van Jakob wil leer.  Selfs konings sal aan sy voete neerval en hom aanbid,  want Israel het 'n teken van heil geword (11:10), 'n lig vir die nasies.  Die openbaring van God se heerlikheid in Jerusalem het nie net 'n keerpunt in Israel se geskiedenis teweeg gebring nie, maar ook in die van die omringende volkere ten opsigte van hulle bestemming. 

In verse 4-9 laat die profeet nie die kans verbygaan om 'n indrukwekkende beskrywing van die volkere se pelgrimstog na Jerusalem te gee nie (vgl. Jes 2:1-5; 45:14-15; 49:22-23; Hag 2:6v.v.; Sag 14:10-11, 16, 20; Op 21:2).   Van die weste af kom die skepe oor die see aan soos 'n swerm duiwe.  Van die ooste af  kom die kameel-karavane van Midian en die Arabiese stamme met skape as brandoffers en goud en wierook vir die tempel, asook die laastes van die ballinge. Hulle kom nie om die guns van die Jode te wen en of om hulle te vergoed vir al die lyding wat hulle vir hulle veroorsaak het nie.  Hulle kom ter wille van die Lig.  Hulle bring hulle gawes vir een doel:  om die ‘lof van die Here te verkondig’ (6b).  Die heropbou en verheffing van die Godsvolk het begin.  Hierdie instroming van die volkere in Jerusalem met goud en wierook– die kosbaarste besittings in die Ou Nabye Ooste – sal nie net vir Israel verstom en verbaas nie, maar sal hulle ook met 'n diepe ontsag, vreugde en blydskap vul.  Want daar sal geen wetteloosheid, sosiale onderdrukking of droefheid wees nie.  Vrede sal die bewakers en geregtigheid die goewerneurs van die Godstad wees (v.17).

So sal die openbaring van God en die manifestasie van die ou Godsvolk die hele węreld op  sy kop omkeer, 'n geruďneerde provinsiale stad in 'n internasionale hoofstad omskep en verwagtinge heeltemal oortref en taal en kulturele grense deurbreek.  Opvallend is die feit dat die visioen in kultiese terme beskryf word wat rykdom en oorvloed insluit.  Selfs vreemdelinge kan ook deel van die ou Godsvolk word en as priesters dien. 

Konteks

Die profesieë oor die nuwe Jerusalem en die nasies wat daarheen stroom, het op twee maniere reeds in vervulling gegaan.  Eerstens in die sin dat alle Ou-Testamentiese profesieë in Jesus Christus  vervul is.  Hy is die Lig vir die węreld (Joh 8:12; 9:5).  Net Hy kan hierdie węreld uit die greep van die duisternis verlos.  Daarvoor het Hy die duisternis vir drie ure trotseer deur aan 'n kruishout as vervloekte buite die stadsmure van Jerusalem te sterwe.   Oor die afgelope 2700 jaar is hierdie profesie in Jesaja 60 duisendvoudig bewaarheid – veral na Jesus se kruisiging en die stigting van die kerk (Hand 2).  Dit sal finaal in vervulling gaan in die nuwe Jerusalem wat verlig sal word deur die heerlikheid van God (Op 21:23) waarheen die nasies met hulle skatte sal kom om daar te lewe.  Die kerk is geroepe om die lig vir die węreld te wees.  Die Bybel praat van die navolgers van Jesus as ligdraers (Matt 5:14,16; Luk 12:35; Ef 5:8), want dit is hulle taak om die lig wat hulle ontvang het te versprei.  As sendelinge is dit hulle taak en roeping om hulle lig in die węreld te laat skyn, sodat die duisternis kan wyk en God verheerlik kan word.  Nie met hulle eie lig  nie, maar met die hemelse lig.  Die belofte van God se teenwoordigheid is dus nie meer beperk tot 'n geografiese plek en 'n tyd nie.  Sy teenwoordigheid moet in Christus gesoek word.  Die kerk is sy liggaam en verteenwoordiger op aarde.  Dit beteken natuurlik nie dat mens oor Jesaja 60 vanuit 'n Nuwe-Testamentiese hoek kan preek asof Jerusalem en Israel sonder meer aan die kerk gelyk is nie.  Die geloof en die boodskap aan die oorspronklike adressante moet deeglik verreken word, al is dit maar vaag.

Die prediking oor die teks bied veral twee moontlike weë.  Enersyds sou mens die teks kon gebruik om te bemoedig en te vertroos.  Andersyds handel die verkondiging hier oor Israel en die kerk se roeping in die węreld.

Die profeet het die visioen van die volkere wat na Jerusalem stroom gebruik om 'n verslae, beangste en ontnugterde volk, wie se geloof gedreig het om hulle in die steek te laat, te troos en hulle geloof in God te versterk. 'n Duitse prediker, L. Gopplet, het die volgende lyn in so 'n preek gevolg:

1.         Die gemeente kan haarself verheug (5).  Dit is die enigste en gepaste reaksie wat die volk van God kan hę.  Luther het gesę:  ‘Dan sal jy sien, so is dit, jy is die arme, ellendige en onbeduidende volkie, jou vyande sien wat hulle graag sien, en jy sou ook graag wou sien  dat jy groot en belangrik is.  Maar dit sien  jy nog nie…  Daarna sal jy sien, en hulle  sal  nie sien nie’. Die prediker kan hier geskikte illustrasie-materiaal uit die visioen gebruik.

2.         Die volkere sal na God en sy Seun terugkeer.  Daar sal 'n pelgrimstog van die volkere na die ‘stad op die berg’ wees (Matt 5:14;  Op 21:24v).  Elke verstote mens uit die heidendom sal saam as die nuwe volk van God byeenkom.  Dit sal 'n vreugdedevolle reis wees, want die geskeidenheid, die isolasie en die grense het verval.  Krygstuig is in vredesskilde omskep.

3.         Die bedoeling is om uiteindelik 'n aanbiddende gemeenskap te word.  Die skepping het na die Skepper teruggekeer.  Die verlange na bevryding van hulle wat die lewe versuur en deurmekaar krap, is gestil. Rykdom en besittings het sy greep op die mensdom verloor en dien nou om God te dien en verheerlik.

4.         Dit alles geskied met groot haas (vlietende wolke en swewende duiwe).  Nie met bloed of geweld nie, maar met  'n gesamentlike, spontane aanvaarding van God se wil.

 

'n Ander Duitse prediker, Konrad Jutzler, het die perikoop opgesom met: ‘"Die openbaring van God laat ons sien’.  Hy het die volgende lyn in sy preek gevolg:

1.         'n Eskatologiese visie (blik op die toekoms) gee nuwe perspektief op jou eie lewe en roeping.  Dit laat Israel ontdek hulle is die uitverkore volk en geroepe om 'n lig vir die nasies te wees.

2.         Die ontdekking van ons roeping gee ons oë vir ons gemeenskaplike toekoms en dat die heidene ook deel van God se plan met sy kerk is.

3.         Ons beweeg saam na God se bestemming (toekoms) vir ons.  Volkere stroom na Jerusalem en word deel van die volk van God.

Preekvoorstel

Ons as kerk van die Here kan ons net verheug. Ons kan net  straal van blydskap, vreugde en verwondering, maar ook van diepe ontsag.  Dit is al gepaste reaksie wat ons as die volk van God kan hę.  Luther het by geleentheid gesę:  ‘Dan sal jy sien, so is dit,  jy is die arme, ellendige en onbeduidende volkie; jou vyande sien wat hulle graag sien, en jy sou ook graag wou sien dat jy groot en belangrik is. Maar dit sien jy nog nie….  Daarna sal jy sien, en  hulle sal nie sien nie’.  Die Godstad wat in duisternis was, is verlig, want God het onder sy volk kom woon.  Die nag van sonde, verlorenheid en vereensaming het soos by die skepping gewyk voor die daglig van God se verlossing. Die verlate stad wat 'n ruďne was, is herbou.  Die stad wat altyd sy stadspoorte moes sluit om hom teen die vyand te verskans, se poorte staan nou dag en nag oop vir vriend en vyand.  Die nasionale stad het 'n internasionale stad geword en getrou aan sy naam: 'n stad van vrede. Daar is nie meer vyandige nasies wat aanval, in ballingskap wegvoer, vernietig, onteien, verdruk en verneder nie.  Net nasies wat mekaar lief het en dien, want buite die stadspoorte staan 'n kruis. Die kruis van dié God wat hemel en aarde versoen het, maar ook mens.

Oor die afgelope 2700 jaar sedert hierdie profesie van Jesaja het die volkere na God en sy Seun teruggekeer. Elke dag is daar 'n pelgrimstog van die volkere op pad na die ‘stad op die berg’, die kerk van die Here.  Een van die eerste van wie die Nuwe Testament melding maak, is die Romeinse offisier van Kapernaum wat sy verlamde slaaf na Jesus gebring het.  Van hom het Jesus self gesę: ‘Ek sę vir julle:  Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan sit in die koninkryk van die hemel’.  Kan ook nie anders nie, want Jesus is die Lig van die węreld wat vasgevang is in die duisternis van sonde.  Hy het ook die vyandskap en muur van skeiding tussen Jood en Griek afgebreek.  Hy is ‘ons vrede’ (Ef 2:14).  Soos wat Hy baie tollenaars en sondaars van hulle eensame ballingskap verlos het deur saam met hulle te eet en te drink, so het ook die  vroeë Christelike kerk gedoen.  Hulle het nie na die persoon of nasionaliteit van bekeerlinge gevra wat by hulle aangesluit het nie.  Jood, Griek en Romein, vroeëre aardsvyande, het saam onder een dak aanbid en die knie voor Christus gebuig.  Die grootste deel van die kerk van die Here dra ook vandag by tot die vervulling van hierdie profesie omdat die koninkryk van God gesoek word en ras, klas, stand as relatief beskou word en nie langer 'n skeiding tussen mense veroorsaak nie.  Net in Afrika is daar elke dag 'n tou van 1600  mense wat tot redding kom en stroom na die nuwe volk van God. Dit is vir hulle 'n wonderlike en vreugdevolle reis, want hulle gaan huis toe.  Na hulle eintlike tuiste.  Hulle is ‘nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God’ (Ef 2:19). Christus, die koning van die kerk het alle vyandskap, alle haat en vooroordeel, alle skeidsmure, alle grense wat verneder en vereensaam, afgebreek en vernietig.  Dit is nie meer ‘van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie’, want ‘hier is Christus alles en in almal’ (Kol 3:11).

Hierdie wonder gebeur en gaan al hoe meer gebeur.  Die nuwe stad Jerusalem waar God self die tempel, is gaan nog verder op aarde neerdaal.  ‘Die nasies sal in die stad se lig lewe…’(Op 21:24).  ‘Die poorte daarvan word gedurende die dag nooit gesluit nie:  daar sal nie meer nag wees nie.  Die mense sal luister en die rykdom van die nasies daarheen bring’ (Op 21:25-26).  Waar God teenwoordig is, word die grense van die normale bestaan opgehef. Soos wat daar in Jerusalem 'n totale veredeling, 'n onverklaarbare vermeerdering van waarde plaasgevind het, (17a) so gebeur dit ook vandag in die kerk op baie terreine.  Dink nou maar net, om een voorbeeld te noem, aan die wonder dat  teologie, na soveel hartseer, skeiding en vernedering, onder een dak by die Teologiese Seminarium op Stellenbosch aan alle studente in die Wes-Kaap doseer word.  Waar God waarlik onder sy volk woon, word die Godstad nie meer beheers deur sonde, vooroordeel, haat en geskeidenheid nie, maar deur geregtigheid en vrede (17b).   Waar God koning is oor alles en oor almal, bestaan daar nie meer vyandigheid tussen volkere onderling nie.  Waar volkere saam in God se teenwoordigheid woon, omskep volkere hulle oorlogwapens in nuttige werktuie (Jes 2:4), want die behoud van lewe en hierdie węreld het belangriker geword as geweld en bloedvergieting.

Ons teks verwys na die vredesryk wat aangebreek het.  Die skepping het na die Skepper teruggekeer. Die kerk, bestaande uit alle volkere, tale en nasies, is onder een Hoof, Jesus Christus, verenig en het haar ware bestemming bereik:  hulle het 'n aanbiddende gemeenskap geword.  ‘Hier is Christus alles en in almal’ (Kol 3:11).  Daarom aanbid en dien hulle Hom dag en nag.  Die verlange na bevryding van dit wat die lewe versuur en deurmekaar krap (ballingskap, verdrukking, onderdrukking, vereensaming), is gestil.  Die  skatte van die aarde, die goud en wierook, is nie meer 'n twispunt tussen volkere nie.  Dit is nie meer die oorsaak daarvan dat volkere teen mekaar in oorlog optrek en mekaar vernietig nie.  Dit is nie meer die oorsaak daarvan dat mense verarm, verdruk word en ly nie.  Dit is nie meer 'n Mammon wat aanbid word nie, maar 'n middel waarmee mense God en mekaar dien en help. Rykdom en besittings het sy greep op die mensdom verloor en dien nou om God te dien en verheerlik. In plaas daarvan dat mense hulself net verryk ten koste van ander en net hulle eie koninkryke bou, het Mammon 'n middel geword waarmee God se huis herbou word.  Rentmeesters kom oor land en see met hul kosbaarhede om God se koninkryk uit te bou.

Dit alles geskied nie voor geweerlope of bajonette nie.  Dit gebeur nie onder dwang of onder protes of teen wil en dank nie.  Dit gebeur spontaan, sonder enige dwang of aandrang.  Trouens, dit gebeur, in die taal van Paulus, omdat jy nie anders kan nie, maar moet, want die liefde van Christus dring jou daartoe. Dit gebeur waar mense uit alle windrigtings, oor land en see saamkom, die knie voor Christus buig en elke tong Hom bely (Fil 2:10-11).

As God in die Godstad teenwoordig is, as die heerlikheid van God die Godstad verlig, as Christus onder sy volk kom woon, dan word sy kerk 'n onweerstaanbare aantrekkingskrag.  'n Verligte stad op 'n berg waarheen die mense vanuit duisternis hulle haas om bevry te word.  Dan seil hulle in die duisternis vinnig soos wolke wat deur die wind voortgedryf word, na die Lig.  Dan kom hulle wat vasgevang is deur die magte van die duisternis, soos duiwe vinnig aangesweef op pad na hulle neste toe, want die dors na die water van die lewe is net te groot.  Die  verligte stad op die berg is die poort na redding, lewe en vreugde.  So die kerk kan haar net verheug!