25 Augustus 2002
Dertiende Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Jesaja 51:1-6.
Ander tekste: Psalm 138; Romeine 11:33-36; Matteus 16:13-20.
Tema: Vir die mens oor wie Hy Hom ontferm, bewerk die Here ’n verlossing wat vir altyd is.
Die Here God bevestig dat Hy die Almagtige God is wat Hom oor die mens ontferm en vir die mens verlossing
bewerk. God is in staat om die onmoontlike te doen. Vertrou net op Hom.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Gebruik die voorgestelde frase met Jesaja 55:1 voor die votum.
Votum
Romeine 11:33-36 kan gebruik word.
"O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy
weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets
terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!
Amen."
Seëngroet
Soos voorgestel.
Sing
Psalm 100:1-4.
DIENS VAN DIE WOORD
Epiklese
Psalm 138:5-8 baie nuttig gebruik word om ons afhanklikheid van God te erken.
Maak ’n keuse uit een van die voorgestelde liedere.
Skriflesing
Kindertyd
Die volgende verhaal kan vertel word om God se teenwoordigheid in ons lewe te illustreer:
Daar was ’n baie besonderse aap wat koning oor al die diere geword het omdat hy so ver kon spring. Maar die aap
was nie hiermee tevrede nie. Hy wou graag koning oor die hele aarde wees. Hy gaan toe na die Here en vra Hom
of hy koning kan word oor die hele aarde. Die Here sê vir die aap: "Kom staan hier in my hand. As jy uit my hand
kan spring, kan jy koning oor die hele aarde word."
Die aap het hom nie twee keer laat nooi nie en binne ’n oogwink het hy so ver gespring soos hy kan. Toe hy grond
vat, sien hy dat hy aan die einde van die aarde gekom het en dat daar vyf pilare staan. Hy stap toe na die middelste
van die vyf pilare en maak ’n merk daarop om aan te dui hoe ver hy gespring het. Toe draai hy om en binne ’n
oogwink was hy weer waar hy aanvanklik gestaan het.
"Wanneer spring jy dan?" vra die Here hom.
"Ek het klaar gespring tot aan die einde van die aarde. As U my nie wil glo nie, kan U op my rug klim, dan gaan wys
ek U die merk wat ek op een van die pilare aan die einde van die aarde gemaak het."
Toe maak die Here sy hand stadig oop. Aan sy middelvinger wys Hy vir die aap die merk wat hy daar gemaak het.
"Sien jy nou, Aap," sê die Here, "jy was nog altyd in my hand. Selfs toe jy tot aan die einde van die aarde gespring
het, was my hand steeds onder jou, het Ek jou stewig in my hand gehou. Jy kan nooit uit my hand spring nie, want
Ek hou alles, ook vir jou, veilig in my hand."
Maats, ons is mos nie dommer as hierdie aap nie. Ons weet die Here sorg vir ons en Hy hou ons veilig in sy hand.
Prediking
Sang
Gesang 40:4/NSG 43:4.
DIENS VAN DIE TAFEL
Volg die basisvoorstel.
UITSENDING
Gebruik die tweede keuse van die basisliturgie as die inleiding.
Voor Gesang 222:4/NSG 186 kan Gesang 47:1, 3, 5/NSG 42 ook gesing word.
Tema
Ons einde, God se nuwe begin.
Teks
Die val van Jerusalem in 586 vC was meer as net ’n traumatiese ervaring vir Ou Israel. Militêre, ekonomiese en
sosiaal-maatskaplike strukture was daarmee heen. Die ergste was: hulle godsbegrip het aan skerwe gespat. Van
Ou Israel het letterlik niks oorgebly nie.
Nie dat Israel nie gewaarsku is nie.
In die jare voor die optrede van die "eerste" Jesaja, het die profeet Amos (oorlede in 750 vC) al gewaarsku: "Soos
’n skaapwagter twee pootjies of ’n stukkie oor weggryp uit ’n leeu se bek, so sal die Israeliete weggegryp word" (Am
3:12). Hoekom? Omdat Israel net vir homself gelewe het. Gerieflik op "oorgetrekte gemakstoele" (3:12d) het die
Kinders van die Verbond gesit in hulle winterhuise en somerhuise, afgewerk met houtpanele en ivoor. "Bring wyn
dat ons kan drink!" (4:1d), het hulle gesê terwyl die jongklomp op "spogperde" tussen die wingerde en tuine heen
(Am 4) baljaar.
Rykdom en voorspoed moet gepaardgaan met verantwoordelike rentmeesterskap teenoor God en medemens. En
presies hier het die probleem gelê.
Terwyl die vroue "lekker lewe ... soos die (skou)koeie van Basan," word die "swakkes verdruk en die armes
mishandel" (4.1), die reg in die grond in vertrap (5:7b) en omkopery en korrupsie gepleeg (5:12). In kort: dit was ’n
"bose tyd" (5:13).
Nie dat Israel in díe tyd nie godsdienstig was nie. Inteendeel. Israel was baie godsdienstig en konserwatief. Hulle
het nasionale gedenktekens opgerig, volksfeeste bygewoon en godsdienstige rituele streng nagekom.
Juis dít het ’n tydgenoot van "eerste" Jesaja, naamlik die profeet Jeremia (626 vC tot met die val van Jerusalem in
586 vC), geweldig ontstel.
In Jerusalem het die tempel steeds blinkend op Sionsberg gestaan. "Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is
die Here se tempel, dit is die Here se tempel!" (Jer 7:4). "Alles is reg! Alles is reg!" en "hulle (skaam) hulle nie eens
nie," sug Jeremia wanneer hy na hierdie verdraaide volksteologie luister (6:14-15).
Ook vir "eerste"Jesaja (751 vC tot ongeveer 711 vC) was hierdie verdraaiing van God se verbond een te veel. God
weier om tot volksgod gedegradeer te word. Volksgodsdiens is afgodediens. Daarom dat "eerste" Jesaja prontuit
PREEKSTUDIE - JESAJA 51:1-6
praat van Israel se "nuttelose offergawes" (Jes 1:13). God haat hulle godsdienstige feeste (1:13-14). "As julle julle
hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie" (1:15).
Hoekom?
Israel gee nie om vir die veronregtes, die "weeskinders" en "weduwees" (’n kollektiewe uitdrukking vir alle randfigure
in die samelewing) nie. So sterk voel God oor die gelowige se uitreiking na die minderbevoorregte dat Hy selfs sê:
"... julle hande is met bloed bevlek" (Jes 1:15-17) – die bloed van die armes.
Toe die "Groot Val" ’n paar jaar ná die dood van "eerste" Jesaja plaasvind, het Israel dus geen verskoning gehad
nie.
Dit was Israel se verdraaide godsbegrip wat gelei het tot die verwoesting van Jerusalem. Dit was hulle eie skuld dat
die tempel afgebreek en die "heilige voorwerpe" gebuit is, dat die eertydse leiers en rykes in ballingskap weggevoer
is, dat Israel nou god-loos was – saam met die tempel is ook God vernietig.
In hierdie droewe omstandighede tree ’n onbekende profeet na vore. Omdat sy (hulle?) boodskap (Jes 40-55) ook
in die Jesaja-bloemlesing opgeneem is, verwys ons na hierdie profeet (profete?) as Deutero- of "tweede" Jesaja.
Deutero-Jesaja rig ons Skrifgedeelte direk aan die ballinge wat op moedverloor se vlakte sit. Mense met geen
toekomsvisie meer nie. Mense wat nog net hulle liere al huilend aan die wilgerbome kan ophang (Ps 137).
In die vorige bedeling toe hulle die bevoorregtes was, was hulle doof vir die tweede deel van die "ware" profete se
boodskap. Nou, in hulle hooploosheid, kan hulle skynbaar ook nie onthou dat Amos gesê het nie: "Ek sal die lot van
my volk Israel verander" (9:14) wanneer hulle "die reg en die geregtigheid ... (laat) aanrol soos watergolwe" (5:24).
Hulle het skoon vergeet van Jeremia se "Ek is die Here die God van al die mense" (32:27). En wat van "eerste"
Jesaja se "Kom tog ... Al was julle skarlakenrooi van sonde ..."? (1:18). Om nie eens te praat nie van die Seun wat
gebore sou word, wat ons sou bevry en heers "deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd" (9:1-6).
Deutero-Jesaja verkondig ’n radikale boodskap: God lê nie onder die ruïne van die Sionstempel begrawe nie. Hy
leef! Hy staan gereed om uit barre woestyne ’n nuwe tuin van Eden te skep. In die nuwe Sion sal daar weer "vreugde
en blydskap" wees, "daar sal gedank en gesing word" (Jes 51:3b). Máár, en hiér kom vir Israel die grootste
teologiese kopskuif denkbaar, God gaan die God van ál die volkere wees – selfs die eilande word nie vergeet nie
(51:5).
Meer nog: Júlle gaan die verkondigers van hierdie nuwe boodskap wees.
Deur toe te laat dat sy verbondsvolk eers tot op die rand van uitwissing gebring word, kon die Here God hulle ou
teologiese paradigmas deurbreek, was Israel gereed om nuut te dink oor God en hulle roeping in die wêreld. Dít
wat – met respek gesê – selfs vir God "onmoontlik" was solank Israel selfgenoegsaam met ’n selfgemaakte volksgod
gesit het, word nou moontlik.
Eers nadat die nageslag van Abraham aan die einde van hulleself gekom het, kon God se heerlike Nuwe Begin in
aanvang neem, is "redding" en "verlossing" op pad (51:5).
God se Nuwe Begin begin by die handjievol wat "wil reg doen, julle wat na die wil van die Here vra" (51:1).
Dit laat ’n mens dink aan die "die verlore seun" waarvan Jesus in Lukas 15 vertel. Ons einde is God se nuwe begin.
Dit is nie moontlik om oor "redding" en "verlossing" in Jesaja 51:1-6 te preek sonder om die sosiaal-ekonomiese
wantoestande in "Ou Israel" op die voorgrond te plaas nie. Ten nouste daarmee verweef is die onverskilligheid en/of
onbetrokkenheid van die amptelike kerk (met uitsondering van enkele "ware" profete) teenoor hierdie
gemeenskapsondes.
Die "Groot Straf", soos Israel dit beleef het, was toe al die tyd ’n Nuwe Begin wat God met sy volk maak. Die wese
van die Nuwe Begin bestaan nie uit in curvatis in sé, dit is ’n na binne gebuigde godsdiens (Luther) nie, maar uit ’n
na buite gerigte lewe. Dít is coram Deo, ’n lewe voor die aangesig van God.
Die toepassing van hierdie Skrifgedeelte op ons huidige tyd is voor die hand liggend. Dit is uiters aktueel, maar sal
van gemeente tot gemeente met die nodige sensitiwiteit moet geskied. Solank "sensitiwiteit" nie die afswakking van
die Woord van God vir ons tyd beteken nie.