23 februarie 2003

sewende sondag na epifanie

liturgiese voorstel

Fokusteks: Jesaja 43:18-25

Ander tekste: Psalm 41; Markus 2:1-12; 2 Korintiërs 1:18-22

Inleiding

Die boodskap van epifanie, Christus se koms as Lig vir die wêreld en die gemeente se ontdekking van haar eie sending in die wêreld, loop soos n goue draad deur vandag se leesroostertekste. (Uit die teksverband van die Jesaja- en Korintiërsteks is dit sinvol om die twee tekste effe anders te lees as in die leesrooster, naamlik Jesaja 43:16-21 en 2 Korintiërs 1:15-22.)

Jesaja: Vers 16-17 verhaal die uittog uit Egipte. Vers 18-19 vertel van die nuwe verlossing wat God te weeg sal bring en vers 20-21 wys op die eindresultaat van hierdie verlossing. Daar sal water in die woestyn wees, diere sal God vereer en die volk van God sal sy lof verkondig.

Psalm 41: Dit is die dankseggingslied van n enkeling. Dit is n lied wat laat blyk hoe God omstandighede kan omkeer. In hierdie geval die persoonlike ernstige siekte toestand van die psalmskrywer, waarin selfs sy boesemvriend hom die rug keer. Maar die Here staan hom by en maak hom gesond. Daarvoor loof hy die Here tot in die verre toekoms.

2 Korintiërs 1:15-22: Sommiges in Korinte sê dat Paulus nie doen en optree soos hy belowe nie, dit impliseer dat hulle ook nie regtig op die boodskap wat hy verkondig kan vertrou nie. Paulus antwoord: dis nie so nie en teen hierdie agtergrond sê hy ook hoekom nie. In vers 19-20 noem Hy Jesus Christus weer die gesalfde van God en herinner die Korintiërs aan die vervulling van God se beloftes. In Paulus se eie woorde n bietjie vroeër: Christus het vir ons sonde gesterwe, is begrawe en het op die derde dag weer opgestaan. Dit beteken eenvoudig dat mense verlos word, want Jesus was in die verlede en is steeds besig om sonde te vergewe en nuwe lewe te gee, sodat God alles in almal kan wees. Paulus verseker die Korintiërs dat Jesus die vervulling van al God se beloftes is.

Markus 2:1-12: Hierdie verhaal bevestig in soveel woorde (en dade) dit wat in die ander tekste gesê word. Hier tree Jesus self op en maak n mens gesond en vergewe sy sonde. Die verhaal loop so: Mense wat in nood is, wend hulle tot Jesus, Jesus vergewe hulle sonde, sommiges vind dit moeilik om te glo, maar dis nietemin waar. Die uiteinde is: "Hieroor was almal verbaas en hulle het God geprys en gesê: so iets het ons nog nooit gesien nie."

Die lesing van vandag se vier tekste behoort so te geskied dat die gemeente byna self die verhaallyn kan ontdek. Tydens die Diens van die Woord kan die vier tekste agtereenvolgens gelees word waarop die prediking volg. Tydens die prediking of by die Diens van die Tafel kan die gemeente gelei word om elk hul eie verhaal voor God te leef.

God vergader ons voor hom

Skuldbelydenis, erkenning van nood, vryspraak

Alternatief 1:

Gee n paar oomblikke van stilte sodat elkeen oor haar/sy eie sonde en nood (fisies en geestelik) kan nadink.

Die voorganger kan na n paar oomblikke begin om iets soos die volgende te sê: "Deur bewustelik oor ons persoonlike sonde en nood na te dink, bely ons dit in soveel woorde voor God. Op hierdie belydenis sê God: jy weet dat Ek in die verlede ook reeds jou sonde van toe vergewe en jou nood van toe verlig het. Op vanoggend se belydenis vergewe Ek jou ook en wil jou help in jou nood en van nuuts af met jou die pad loop. "

 

Alternatief 2:

Die gemeente se belydenis van haar sonde en nood kan responsief in die woorde van een van die tekste gedoen word. Word die Markusteks hiervoor gebruik, loop dit letterlik uit op die vergiffenis en vryspraak. Die psalmteks kan op dieselfde wyse gebruik word, veral die nuwe beryming deur TT Cloete.

Lofsang

Sing twee of meer liedere.

diens van die woord

Sien die inleiding hierbo. Die preek word met `n lofsang gevolg.

diens van die Tafel

Voorganger beweeg onder die sing van die lofsang na die tafel en laat die geloofsbelydenis deur die gemeente sonder aankondiging op die sang volg.

Voor die nagmaalsgebed kan weer na die nagmaal verwys word as onder andere die bevestiging van Jesus se gesag om sonde te vergewe en nuwe te gee.

uitsending

Die Korintiërsteks, soos die vorige week, gee sterk teologiese motivering om positief met n wil om verandering in die wêreld daar buite te maak, uit die kerk te stap. Jesus Christus is (byna soos in die moderne reality-TV) die realiteit van God se beloftes. Die gemeente het dit nou in die nagmaal weer geproe en gaan leef van daaruit in die realiteit van die wêreld. Om dit verder te bevestig sê Paulus in vers 22 dat God die Heilige Gees as paaiement gegee het van dit wat ons nog sal ontvang. Die gemeente gaan onder leiding van die Heilige Gees uit die kerk en gaan onder sy leiding leef en n verskil maak in die wêreld. Onthou dat die seën aan die einde van die erediens waarmee God ons die wêreld instuur nie n presentjie is nie, maar opdrag om as sy kinders in die wêreld te gaan leef.

 

PREEKSTUDIE JESAJA 43:18-25 (OOK VERSE 26-28)

Teks

Die sogenaamde troosboek in Jesaja begin by hoofstuk 40, waarskynlik uitgespreek tydens die laaste gedeelte van die ballingskap, met die terugkeer in die vooruitsig. Volgens Beuken plaas n tydsberekening vanuit die geloof die leser van dié hoofstukke iewers tussen die feit van Kores en die verwagting van die verlossing wat rondom drie bakens van hoop kristalliseer; de nuwe uittog, die optrede van die Kneg en die herstel van Jerusalem (Vertaal). Die leser word uitgedaag om te sien dat God in beheer van die geskiedenis is. God sal herstel bring! Ondanks die verlede is God besig om n nuwe toekoms te skep.

Die uitdrukking in Jesaja 43:18, 19, "moenie aan die vroeëre dinge dink nie ..." vind n hoogtepunt in vers 25, wanneer die Here sê dat Hy nie aan die volk se sondes dink nie. Die grondslag waarom mense nie aan die vroeëre dinge hoef te dink nie, is omdat God n nuwe begin maak. Waarna die "vroeëre dinge" verwys, is nie heeltemal seker nie. Sommige geleerdes dink dat dit verwys na die sonde van die volk wat tot ballingskap gelei het. Ander is van mening dat dit na die hele geskiedenis verwys wat uiteindelik rampspoedig verloop het. Verskillende geleerdes kies daarvoor dit na die vroeëre redding uit Egipte verwys, wat in die vorige verse aan die orde gestel is (verse 16, 17). Nou gaan Hy iets heeltemal nuuts doen. Hoewel daar ooreenkomste met die eerste uittog uit Egipte is, sal hierdie nuwe uittog uit ballingskap so nuut en anders wees, dat daar geen sin sal wees om aan die eerste uittog te dink nie. Whybray gee aan 43:16-21 die opskrif: "The new overshadows the old". Volgens Whybray sal die vroeëre redding uit Egipte sal slegs n skaduwee wees van die groter wonders wat God gaan doen (Vertaal). As teenstelling tot die waters wat gedreig het om hulle tydens die eerste uittog te vernietig, is die riviere nou n simbool van lewe en nuwe begin.

In Jesaja 43:20, 21 het die redding van die Here n invloed op die nie-menslike wêreld. Die jakkalse en volstruise is sogenaamde klaagdiere (Beuken). Hulle bring nou aan God die eer vir die redding wat Hy bring. Beuken sê dat lof (43:21) en getuienis (43:8-13) die twee gestaltes is waarin die volk God se nuwe ingrype in die geskiedenis beleef. Soos die eerste uittog uiteindelik tot lof gelei het (Eks 15), sal die nuwe uittog God se mense weer na hulle doel terug lei, naamlik om Hom te eer.

Beuken benadruk dat ons hier met n herinterpretasie van die tradisie te doen het. Die eerste uittog was belangrik vir die vroeëre verhouding wat die Here met die volk gehad het. Die tweede uittog word nou die nuwe basis van hulle verbondenheid aan die Here. Ja, dis n pad wat vir hulle onbekend sal wees (42:16), maar dis n pad waarop God hulle geplaas het.

Jesaja 43:22-25 lyk aanvanklik of dit nie regtig inpas nie. In die voorafgaande verse word God se nuwe weg beskryf. In hierdie gedeelte word die onvoorwaardelike vergifnis van die Here tussen twee radikale uitsprake oor die sonde van Israel geplaas (lees ook verse 26&27). Dit is egter belangrik om raak te sien dat ons hier met n soort "hofsaak" tussen die Here en sy volk te doen het (verse 26-28). Die volk word deur die Here opgeroep om hulself te verdedig teen die idee dat hulle straf van ballingskap nie verdien word nie. Die doel van die gedeelte is om die ballinge te bevry van hulle selftevredenheid oor hulle godsdienstige verlede. Hierdie selftevredenheid staan in die weg daarvan dat hulle die nuwe beloftes en begin van die Here kan raaksien. Selfs hulle huidige selftevredenheid word onvoorwaardelik vergewe.

Jesaja 43:22: Israel het tog geglo dat die Here onregverdig was om hulle deur hierdie ballingskap te laat gaan, omdat hulle getrou was in die kultus. Nee, sê Jesaja, die Here se begin is heeltemal nuut. Dit kan nie op die offerdiens of die vroeëre godsdienstigheid van die volk bou nie. Immers, al het die volk die kultus onderhou, het hulle God nie daardeur gedien nie. Hulle het wel in die gebed en kultus iemand aangeroep, maar dit was nie die Here nie. Jesaja 43:22-24 sluit aan die by die sogenaamde kultiese gedeeltes van die Ou Testament (sien o.a. Jes 1:10-17; Jer 7; Am 5:21-27). In dié gedeeltes word herhaaldelik benadruk dat die kultus leeg is wanneer mense dit beoefen in plaas van ware toewyding aan God en diens aan die medemens. Plaasvervangende godsdiens is nie wat die Here wil hê nie. James Mayes skryf dat dit vir jou is wat God wil hê, nie maar net iets nie. Ongeregtigheid en feesviering hoort nie bymekaar nie. Van Selms skryf: "n Lewe sonder erediens en etiek is benedemenslik. n Lewe met erediens en sonder etiek is huigelary. n Lewe met etiek en sonder erediens mis diepte. En lewe met erediens en etiek is God se liefdevolle eis." Dit is wat verkeerd geloop het. Dit is hoekom die offerdiens van Israel nooit as beginpunt vir God se nuwe handelinge kon dien nie. Beuken sê: "Die kultus is wel uitgevoer, maar nie om God die eer te gee wat Hom toekom nie" (Vertaal). Hoe sal dit vir die volk moontlik wees om God se lof te verkondig? Immers, hulle het dit nie in die verlede gedoen nie. Hulle voorvaders het dit nie gedoen nie (verse 26-28). Net n nuwe daad van God kan dit bewerk.

In Jesaja 43:23, 24a word die drie verskillende offers wat Israel in hulle kultus gebring het genoem. Israel het dit nie gebruik om God te eer nie (sien opmerkings by 43:22). God het ook nie gevra dat hulle sulke offers moes bring nie. Tereg sê Beuken: "So mond hierdie verse uit in die gevolgtrekking: die offerkultus is nie handel tussen Israel en God nie. Israel het daarmee nie JHWH se belange gedien nie en kon dit nie as rede aanvoer waarom God hulle moes beskerm nie."

In Jesaja 43:24 kom n belangrike aksent na vore. Die woorde "moeite aandoen" (v 22 en 24) en "belas" (v 23 en 24) kom gereeld in verse 22-24 voor. Dit staan in n sekere sin in teenstelling met die bedoeling van hierdie gedeelte. Israel moes God dien, maar het God nou n dienaar gemaak. Israel laat God die las van sy sonde dra (Beuken). Westermann wys daarop dat daar by Israel n omkering van die natuurlike verhouding tussen God en mens plaasgevind het. Hier word reeds vooruit gegryp na die "kneg van die Here" liedere wat later sal volg.

In Jesaja 43:24 en 25 word verskillende woorde gebruik om die sonde te beskryf. Die "sonde" (v 24b, 25a) is om nie aan die gedragsreëls te voldoen waarin die gemeenskap met God vorm kry nie. Die "oortredinge" (v 24b) gaan oor n verkeerde houding en dra die elemente van straf en skuld daarin. Die "opstandigheid" (v 25a) is om opsetlik weg te breek van iets. Die gebruik van die begrippe dui op die "omvattendheid en verskeidenheid, die diepte van verval en die draagwydte van alle menslike handelinge wat teen God sondig, en waaroor ons nooit ernstig genoeg kan wees nie" (Beuken). Ja, Israel se sonde verplig die Here nogeens om as Heer die negatiewe invloed wat Israel se sonde in die geskiedenis gehad het, tot niet te maak. Dit doen hy deur te vergewe en nie weer aan sonde te dink nie.

Konteks

God se verskyning in die wêreld bring n nuwe begin. Epifanie gaan daaroor. Ons bevind ons nou feitlik aan die einde van hierdie tyd na epifanie. Die oorgang na die Lydenstyd is voor die deur. Die teks is ideaal om hierdie oorgang glad te laat verloop.

1. Jesaja 40-55 bevat die sogenaamde boek van vertroosting. Die woord "troos" is as t ware die motto of slagspreuk van hierdie gedeelte. In die 1933 vertaling begin Jesaja 40 met die woorde: "Troos, troos my volk, sê julle God." Die Hebreeuse woord beteken meer as medelye wat betoon word. Dit beteken om n einde te maak aan nood. Dit beteken herstel. Dis met hierdie woorde wat Händel se Messias begin: "Comfort ye!, my people."

Die nuwe begin wat God maak met die volk in ballingskap, is wesenlik deel van die Christelike boodskap (sien Ef 2:1-10). Wat beteken hierdie nuwe begin? Die teenstelling tussen die oue en die nuwe in hierdie gedeelte is vir die prediking belangrik. Studies oor die profetiese literatuur het al meer die oë geopen vir die gedagte dat die profete van ou gevestigde tradisies, wat nie oorspronklik by hulle ontstaan het nie, in hulle profesieë gebruik gemaak het. Hierdie tradisies was die dinge in die geskiedenis wat die volk daarvan verseker het dat hulle Jahwe se eiendom was, byvoorbeeld die eksodus, die intog, die woestyntyd, beloftes aan die aartsvaders en die openbaring by Sinai. Wanneer die profete hierdie tradisies gebruik het, was dit eerder n profetiese reaksie teen die misverstaan en misbruik van die tradisies deur die volk.

In terme van Jesaja se hergebruik van die Eksodus-tradisie, wat die oue teen die nuwe afgrens, kan ons sê dat Deutero-Jesaja nie die bedoeling gehad het dat die volk die oue moet vergeet nie. Westermann stel dit treffend as hy oproep om nie krampagtig aan die verlede vas te klem nie, maar met n oop gemoed uit te sien na n nuwe, wonderbaarlike daad van God in die toekoms! Die probleem met mense wat aan die verlede vashou, is dat hulle ophou om iets te verwag, ophou hoop of glo. Die grootste gevaar wat die geloof bedreig is wanneer dit in dogmatisme vasgevang is en nie meer n handelende aktiewe God ken nie. Wanneer dit gebeur kan jy ook niks meer van Hom verwag wat nuut is nie (Westermann).

Vir die Christelike lewe is die verband van hierdie boodskap met die brief aan die Hebreërs opvallend. Die Hebreërbrief beklemtoon keer op keer dat Christene nie mense is wat "die goeie ou dae" kan verheerlik nie. Deur die koms van Christus het iets beters (nuuts!) aangebreek. Ons het n beter hoop, beter vaderland, beter verbond waaraan ons deel het. Juis daarom is die Christelike lewe n lewe wat op pad is.

2. Hierdie nuwe begin is n genadedaad van God. Dit is nie gebou op godsdienstige kwaliteite van die volk of hulle prestasies nie. Die teendeel is eerder waar. Beuken stel dit so: "Wanneer Israel onder die leiding van God die woestyn met waterstrome gaan intrek, sal hulle aan hulle skeppingsdoel beantwoord: hulle sal die lof van JHWH verkondig (43:21). Maar die afstand na daardie eindpunt is groot, want die terugkeer na God moet n aanvang neem by Israel se sonde... So onthul die diepte van die sonde die vasbeslotenheid van die genade." In die gelese gedeelte gaan dit oor sonde op elke vlak van die lewe van die volk. Die dieptepunt van die sonde is egter daarin dat hulle van God n slaaf van hulle sonde gemaak het.

Vir die Christelike prediking is hierdie gedagte belangrik. Hier vind ons die grondslag daarvoor dat God n kneg sal stuur om Israel se sonde te dra (Beuken). Uiteraard lees ons van hierdie kneg van die Here in Jesaja 53, maar die Christelike kerk bely dat God mens geword het en tot n slaaf verneder is ter wille van ons sonde (Fil 2:5-8). Hy het nie gekom om te heers nie, maar om te dien en sy lewe as losprys te gee (Mark 10:45). Juis as slaaf is Hy ook Heer oor die sonde (Heb 2:9-18).

In die prediking moet dit duidelik word dat God se nuwe begin nie die sonde van die volk ignoreer nie. Daar is nie kortpaaie om die sonde nie. God se nuwe begin gaan deur dit. Vir Jesaja beteken dit dat die volk slegs kan loskom van die verlede en in n nuwe verhouding van lof aan God kan staan as hy die negatiewe invloed wat hulle sonde op die geskiedenis gehad het, nie gaan onthou nie. Vir die Christelike kerk beteken dit dat God nie weer aan ons sonde dink nie, want die Seun van God het die vlees en bloed van mense aangeneem. Dit is waaroor die kerk in die komende weke gaan nadink.

In hierdie verband moet ons miskien vra wat die verskil is tussen "vergeet" en "nie meer dink aan nie". Dit gebeur dikwels dat ons vir mense sê dat die Here ons sonde vergeet. Is dit waar? Is dit dieselfde as "nie meer dink aan nie"? Ek dink nie so nie. Vergifnis is nie so radikaal wanneer n mens iets nie kan onthou nie. Wat vergewe jy dan? Vergifnis is baie moeiliker wanneer jy weet van sonde, dit kan onthou, maar dit nie meer in berekening bring nie. As n mens nie weer aan iemand se sonde dink nie, al weet jy daarvan, is die genade soveel groter. In hierdie gedeelte herinner God juis die volk aan hulle sonde. Hy weet daarvan. Hy ken hulle gesindheid. Hy besluit egter om nie weer daaraan te dink nie. Dit is genade om te weet van sonde, maar dit nie weer teen iemand te hou nie. Brunner sê dat God nie deur sy vingers na die sonde kyk nie. Hy neem alles wat ons gedoen het baie ernstig op. As hy dit nie sou doen nie, sou ons nie die sonde ernstig neem nie. Hy wil hê dat ons sonde vir ons ook n ernstige saak is. Hy wil die sonde wat teen ons getuig nie vernietig nie. Hy maak net die krag daarvan ongedaan deur n groter krag, die krag van sy onvoorwaardelike liefde.

3. Die prediking sal uiteraard ook moet fokus op die reaksie op God se nuwe begin. Hierdie reaksie van lof sluit mens en dier in. God se nuwe begin keer die klag van die volk en die klaagdiere om in n nuwe gesindheid van lof. Uiteindelik maak Jesaja duidelik dat ook hierdie reaksie van die volk, Gód se nuwe begin in hulle lewe is. Hy het die volk geskep wat sy lof sal verkondig (vers 21).

Preekvoorstel

1. Iemand skryf dat ons kerkmense min weet van ballingskap, Auschwitz, Oos-Timorese en vlugtelinge. Miljoene mense het nie n huis en beskutting nie. Miljoene mense is vlugtelinge. Miljoene mense het hoop verloor. Daar is mense wie se lewe deur bomme vernietig is. Daar is miljoene mense wat onder natuurlike rampe ly, wat onder geestelike onderdrukking moet ly. Iets hiervan het Israel verstaan. Hulle nood het egter baie dieper gelê as hulle ballingskap:

1.1 Die ballingskap het hulle oë gesluit vir die toekoms en beloftes van God (gedagtes by punt 1 van die konteks hierbo). Klaarblyklik is hulle oë so op die verlede gerig dat hulle nie meer die nuwe van God kan raaksien nie. God het n God van die verlede geword. Hulle kan nie meer sien dat Hy in die hede vir hulle n nuwe toekoms skep nie. n Mens kan so vassteek in die verlede en wat God alles gedoen het omdat jou hede so sleg lyk, dat jy nie God se woord in die hede hoor nie. Miskien het hulle die tradisie van die uittog juis verkeerd begin verstaan, naamlik dat die Here hulle daar bevry het en dat Hy nie weer gaan handel nie. Dit het hulle sekuriteit geword.

1.2 Omdat die Here dit in die verlede gedoen het en hulle sy volk gemaak het, is Hy eintlik in die skuld by hulle. Hy het hulle in die steek gelaat. Hulle kon daarom nie aanvaar dat die Here so met hulle maak nie. Boonop was hulle nie so sleg nie. Hulle nood is dat hulle hul skuld ontken het. Dit was eintlik God wat in die skuld by hulle is. Hulle het immers die kultus onderhou. Hulle het getrou hulle offers gebring. Hulle het die Here aangeroep. Die gevolge wat hulle nou dra, is darem n bietjie erg. Dit is eintlik die Here wat onregverdig is. Ons nood is dat ons onsself probeer regverdig. Dis soos iemand wat sy vrou slaan en dan in die hof sê dat hy darem elke maand n salaris huis toe bring. Israel is klaarblyklik so.

2. Binne hierdie konteks kondig die Here aan dat Hy nuut gaan begin met hulle. Hierdie nuwe begin gaan so radikaal wees dat dit die basis gaan vorm vir n nuwe verhouding tussen hulle. Nie die eksodus nie, maar hierdie nuwe handelinge van God gaan die basis wees. Hoe kom dit tot stand? Met groot selfopoffering? Nee, nie deur selfopoffering van die mens se kant nie, maar deur God se selfopoffering. Dit lê op twee vlakke:

2.1 Israel moet verstaan dat die nuwe begin wat God maak, geheel en al in sy trou berus. Dit is die vreugde van die Here om getrou te wees aan Homself (42:21; 43:25). Hierdie trou van die Here moet verstaan word teen die agtergrond van hulle eie ontrou. Die volk moet verstaan dat hulle godsdienstigheid niks beteken het vir God nie. Dit het nie oor God gegaan nie, maar oor hulself en hulle eie voordeel (Opmerkings onder eksegetiese opmerkings by 43:22, 23). Solank ons vasgevang is in ons pogings om onsself te regverdig, kan ons nie die nuwe dinge sien wat God doen nie. Hulle lewe is dus nie die grondslag vir n nuwe begin nie. God se selfopofferende liefde is.

2.2 Israel moet verstaan dat hulle van die Here n slaaf van die sonde gemaak het (eksegetiese opmerkings by 43:24 en punt 2 van die konteks). Hulle kan ophou dink aan die vroeëre dinge, omdat daar nou n nuwe basis vir die verhouding tussen God en hulle is, naamlik sy onvoorwaardelike vergifnis. Die negatiewe gevolge van hulle sonde gaan geen effek hê op God se toekoms met hulle nie. Juis daarom mag hulle Hom vir die nuwe toekoms vertrou.

3. Emil Brunner skryf: "Wat ons verkeerd gedoen het, kan ons nie weer goed maak nie. Ons het geen mag daaroor nie. Dit behoort tot die verlede in alle ewigheid. En daar in die ewigheid staan dit opgeskrywe. Geen berou kan iets daaraan verander nie. Daar staan dit en getuig teen ons: "skuldig." Ons almal kan getuig van die finaliteit van sonde en die gevolge wat dit in ons lewe gebring het. Ons kan niks daaraan verander nie. Die kerk kan niks verander aan die verlede nie. Kruistogte, teologieë wat ideologieë ondersteun het, staan geskrywe tot in alle ewigheid. Ons het n nuwe begin nodig. Dit kan net gebeur wanneer God nie meer aan ons sonde dink nie. Ons het Jesus letterlik van sy Godheid beroof deur van Hom n slaaf te maak. Hy neem dit egter gewilliglik op Hom. Brunner skryf: "God se Seun moes deur die verskriklike heengaan om ons werklik te bereik. Dit alles moes gebeur, sodat ons God en onsself kon sien. God in sy liefde en onsself in ons goddeloosheid. Sonder die kruis van Golgota sou ons nie weet hoe dit met ons is nie, ook nie hoe lief God ons het nie. Daar is God en die mens in één persoon te sien, die mens in sy ellende en sy verlorenheid en God in sy nabyheid en onbegryplike liefde." Dit het Hy gedoen om ons die erns van ons sonde, maar veral van sy genade te laat sien. Hy het hierdie skuldbewys uit vrye guns aan die kruis gespyker (Kol 2:14). So begin God nuut met dooies, blindes, dowes (Jes 42:18-25).

4. So bring hy ons terug na ons bestemming, naamlik om Hom te prys. Dit is die pad wat mense wat bevry is loop. God regverdig die goddeloses. Hulle grawe daarom nie terug in die verlede om hulself te regverdig nie. Ons kyk na die verlede en neem afskeid daarvan, soos die Here daarvan afskeid neem en dit nie meer in berekening bring nie (2 Kor 5:17-19). Hy gee immers n nuwe begin deur Christus wat alle ander nuwe beginne oortref. Hy is ook vandag nog besig om oor en oor te begin met sy mense. Emil Brunner gebruik die beeld van n slaaf wat deur sy dronkenskap sy werkgewer se skuur afbrand. Die slaaf is aanspreeklik vir alles. Hy kan niks terugbetaal nie. In plaas daarvan dat die werkgewer alles wat hy het van hom wegneem en in die pad steek, neem hy niks af nie en behou hy hom in sy diens. Hy sê dat hy self die skade sal betaal. Dan gaan die slaaf se oë oop en sien hoe goeie werkgewer hy het. So het God met ons deur Jesus gedoen, sodat ons kon sien hoe lief Hy ons het. Hy het alles self betaal. Hy het die vloek van die sonde gedra wat ons moes dra. Sal ons oë dan nie oopgaan vir die goedheid van God nie! Sal ons lewensrigting dan nie oopgaan na God se toekoms met ons nie? Ons is geroep om God te eer, maar kan dit net doen as ons die grootheid van sy wonderdade verstaan. Lof word gebore uit die geweldige diepte van ons skuld en sonde. Of ons kan soos die boemelaar miljoenêr maak. Na jare se bedel ruik die bure iets wat in die boemelaar se huis stink. Toe ondersoek gedoen word na wat dit is, ontdek die mense miljoene rande tussen die gemors. Toe hulle die boemelaar daarvan vertel, het hy net sy skouers opgetrek en die volgende dag teruggegaan en gaan bedel (Johan Cilliers: Die deur na môre is oop). Mike and the Mechanics sing: "We are beggars on a beach of gold!" So hoef dit nie te wees nie!

Bibliografie

Beuken, WA, 1979. Jesaja deel IIA; Brunner, E, 1963. Ons geloof. Fohrer, G, 1964. Das Buch Jesaja 3. Band; Westermann, C, 1978. Isaiah 40-66; Whybray, R N, 1975. Isaiah 40-66.