Ander
tekste: Romeine
8:12-17; Johannes 3: 1-17; Psalm 29
Hierdie
gedeelte dien as ’n inleiding tot Jesaja 7 en 8. Die perikoopafbakening hou
waarskynlik verband met die siening dat ons hier met ’n roepingsverhaal te doen
het. Die roeping van Jesaja kan egter nie los van die inhoud van sy roeping
gesien word nie.
Die
sterfjaar van Koning Ussia was iewers tussen 748 en 735vC. Sy mede-regeerder
was na alle waarskynlikheid Agas, aangesien Jotam, wat ook ’n mede-regeerder
tydens Ussia se siekte was (2 Kon 15:5), voor sy vader Ussia gesterf het.
Troonwisseling was gewoonlik ’n kritieke tyd in die geskiedenis van Israel.
Volgens Snijders was dit in sulke tye dat ’n profetiese stem rigtinggewend kon
wees. Die verwysing na die dood van Ussia is nie sommer ’n onnodige historiese
verwysing nie. Dit het ’n “teologiese” betekenis.
Hierdie
“teologiese” betekenis word verder belig deur die woorde van Jesaja in 6:5: En nou het ek die Koning gesien, die Here
die Almagtige. Israel is sonder ’n koning. Dit is ’n krisistyd. Maar die
Here sit op die troon. In ’n sekere sin is hierdie aanduiding – dat die Here
Koning is – reeds kritiek op koning Agas (Jes 7). Geleerdes is dit eens dat
Jesaja se roepingsverhaal teen die agtergrond van sy stryd met Agas gesien moet
word. Jesaja ontvang die geloofsbrief van die eintlike Koning om hom teen die
koning van Juda uit te spreek. ’n Mens kan sê dat die samesteller van die boek
reeds geweet het dat Jesaja se poging om die Agas en die volk te oorreed om
veral tydens die Siro-Efraimitiese oorlog die Here te vertrou, misluk het (Jes
7). Die roeping van Jesaja moet daarom teen die agtergrond van, of as voorspel
tot, die Siro-Efraimitiese krisis gesien word. Clements verklaar: ‘There is
contained within the scope of the prophet's memoir, therefore, beginning with
his account of his call and proceeding to report his prophecies and the refusal
of Ahaz to heed them, an element of theodicy showing why the disaster inflicted
on Israel by the Assyrians in 733 had come about.’
Volgens 2
Konings 15:37 het die koalisie tussen die noordelike ryk, Israel, en Assirië in
Jotam se tyd begin. Die spanning tussen Israel en Juda het dus toegeneem. Met
die dood van Ussia kon Agas nou sy eie planne implementeer om met die
vyandiggesinde Israel te handel. Beide die volk Juda en koning Agas het hulle
plek in die geskiedenis “verloor” omdat hulle nie die God vertrou het wat aan
hulle verlossing deur die profete belowe het nie. Agas en sy volk het verkies
om liewer politieke oplossings te volg deur hulp by Egipte te gaan soek.
Dat die
serafs staan, is volgens Snijders ’n aanduiding van hulle diensbaarheid. Hulle
sing in die koor en een voer die reinigingsaksie uit. Dit is liturgiese
handelinge binne die geheel van die teofanie in die tempel. Die voorkoms van
hierdie soort figure in die Ou Nabye Oosterse wêreld was algemeen. Waarskynlik
was dit gevleuelde slangagtige wesens (Kaiser). Belangstellendes kan hieroor
verder gaan nalees.
Snijders
wys daarop dat die drie pare vlerke drie funksies het. Dit bedek hulle gelaat
en geslag (“voete”) en stel hulle in staat om vinnig te vlieg. Die bedekking
van hulle gesigte en geslagsdele beklemtoon ook die afstand tussen hulle en die
Here. Dit is waarskynlik die beste om saam met Snijders te sê dat hierdie
wesens gewoon die heiligheid van Jahwe beklemtoon.
Die lied oor
die heiligheid van Jahwe beklemtoon nogeens die afstand tussen die hemelwesens
en die Here. Hierdie lied kan as ’n konsentrasie van Psalm 99:3,5,9 gesien
word. Die lied wat oor Jahwe gesing word, beklemtoon ’n paar sake:
Hy is die
magtige Here wat oor hemel en aarde heers (Kaiser).
In die lied
van die serafs word nie alleen die klank van God se heiligheid beklemtoon nie,
maar ook sy “volstrekte toewijding” aan sy volk en sy wêreld (Snijders). Dat
Jahwe heilig is, is iets wat hom ook bo al die ander gode afsonder. Soos die
mens deur God geheilig of afgesonder word sodat ons aan Hom toegewyd kan leef,
so is God anders as alles in hemel en op aarde.
’n Ander
aspek van die lofsang op die Here, is dat die aarde vol is van sy heerlikheid.
Hier vind ’n besliste verskuiwing plaas. Jahwe se kleed vul die tempel, maar sy
heerlikheid vul die aarde. Dit gaan nie oor Jahwe se sogenaamde
alomteenwoordigheid nie. Die aksent val hier eerder daarop dat dit God se eer
en heerlikheid is om die hele aarde met sy teenwoordigheid te vul. Dit staan
teenoor die chaos en die leegte van die aarde in Genesis 1:2. Sonder die
teenwoordigheid of heerlikheid van die Here, verval die aarde, is die aarde
sonder vorm en inhoud (sien Eseg 12:19 en 32:15 waarin die gevolge van die
leegheid van die land beskryf word). Wanneer die skepping in chaos beland,
ontneem dit God sy eer en heerlikheid.
Pragtig
skryf Snijders dat God se algehele toewyding aan die wêreld en sy mense gerig
is op ’n aarde wat vol sal wees van God se mense en hulle werke. Hierdie
volheid is God se heerlikheid en eer. Hoe vreeslik om daaraan te dink dat
hierdie land eers in chaos sal moet beland voordat God se heerlikheid herstel
sal word (6:12,13). Kaiser het dieselfde in gedagte, maar klee dit in met ’n
eskatologiese motief: “What the heavenly beings praise in the immediate
presence of the God whose glory and might are there before them, still needs to
be seen on earth (Ps 96.7f.)... For when the recognition and acknowledgement of
God's power and honour have become universal on earth, every will will be
subject to him, the time will be fulfilled, and he will be all in all (I Cor.
15.28).”
Hier word
tipiese taal en simboliek van ’n teofanie aangetref (sien ook Eks 20:18; 2 Sam
22:9; Rig 5:4,5). Die lied van hemelse lof is te veel vir die aarde. Alles
rammel en skud. Die oneindige afstand tussen God en mens word ook hierdeur
beklemtoon (Kaiser).
Die woord
“onrein” is ’n kultiese begrip. So iemand kan nie aan die kultiese handelinge
soos offers deelneem of in God se teenwoordigheid kom nie (sien Ps 15 en 24).
’n Versoeningshandeling is uiters noodsaaklik. Clements verklaar tereg dat die
woorde van die profeet: Elke woord oor my
lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is, ’n
intense bewustheid is ‘not simply of guilt in general, but specifically of
unfitness to use his mouth in the service of God. There is in this a very real
understanding that he was being called upon to become the spokesman of God's
word. The fact that he lived in the midst of a people of unclean lips, refers
to his consciousness of the prevalence of sins of speech among the people
generally. The reference to the guilt of the people generally is used to
emphasise that the prophet felt that he had hitherto been no different from the
rest of his nation, but that he was now being called upon to fulfil a task
which required him to be quite separate from them.’
Die
reinigende vuur reinig die spraakvermoë van die profeet. Die opdrag aan die
profeet is vreemd en byna absurd. Saam met Kaiser moet egter beklemtoon word
dat dit nie hier gaan oor die inhoud van die boodskap wat hy moet uitdra nie,
maar die gevolge daarvan. Dis so goed as om aan ’n prediker te sê: ‘gaan preek,
dit sal nie veel help nie.’ Waarskynlik hou dit verband met dit wat in Jesaja
29:9-12 gebeur. Die volk sal eers besef dat hulle mislei is, wanneer hulle
geheel en al in ’n krisis beland het.
6:10-13 Die
bedoeling van die boodskap is vir baie mense onverklaarbaar. Hoekom sou die
profeet mense moet traag maak? Hoekom moet mense ontoeganklik word vir die
Woord van die Here? Snijders is van mening dat ’n mens slegs die grootheid van
God se uitredding sal begryp as mense totaal vasgevang is in die hopeloosheid
en chaos van hulle eie situasie. Die Deuteronomistiese teologie moet egter ook
nie uit die oog verloor word nie. Die prentjie van die Judese konings is na die
val van Juda ontwikkel om duidelik te maak dat die val van Juda nie op God se
rekening geplaas moet word nie, maar vierkantig op hulle eie skouers rus. Die
profeet sê eintlik watter effek die voor-ballingskapse profesie op die volk
gehad het. Die profeet moet daarom eerder verstaan word as iemand wat God se
bedoeling bekend maak en wat die volk oproep tot ’n beslissing tussen lewe en
dood, voortgang of vernietiging. Slegs op hierdie manier kon dit vir die mense
duidelik gemaak word dat die Here nie onmagtig was in politieke stryd nie. Die
katastrofe is hulle eie skuld. Die verwoesting van die mense en die land is nie
onherroeplik nie. Maar God se begin is ’n nuwe begin. Soos met die eerste
skepping, moet alles woes en leeg wees. Eers dan begin die Here oor met sy
volk. God keer Hom teen sy volk …om sy volk te red (Snijders).
’n Aspek
wat in die verstaansgeskiedenis van die teks van belang is, is die gebruik
daarvan deur die Nuwe Testament. Koch wys daarop dat Paulus se gebruik van
Jesaja 6:10 in Romeine 11:8 ev daartoe gelei het dat sommige persone die leer
van die dubbele uitverkiesing in die Christelike dogmatiek ontwikkel het.
Hierdie leer bepaal dat mense van ewigheid af òf verkies is tot die ewige lewe
òf verwerp is tot die ewige straf. Dit is ongelukkig so dat die uitverkiesing
deur die eeue as ’n grootheid náás die evangelie geplaas is, wat daarop neerkom
dat dit die heil op 'n ander wyse bewerk het as wat die Woord dit doen. In
plaas daarvan dat verbond en verkiesing as 'n gestalte van die Woord of
heilsmededeling van God gesien moet word, is dit dikwels as 'n heilsmededeling
náás die Woord gesien. Hoewel die leer van die verkiesing daarop gerig is om
sekerheid van die verlossing te bewerkstellig het dit in die proses gebeur dat
karikature oor hierdie leerstukke ontstaan het en eerder onsekerheid tot gevolg
gehad het. Koch (The prophets, vol 1)
wys egter tereg daarop dat die gedeelte in Jesaja hoegenaamd nie so verstaan
kan word nie. Uit die eksegetiese gedeelte is dit reeds duidelik dat die
aanleidende oorsaak tot die woorde van die profeet nie die “ewige raad” van God
is nie. Die gedrag van Agas en sy volk (Jes 7) het hierdie woorde van die
profeet bevestig. Op Deuteronomistiese trant wil die redaktor duidelik maak dat
die skuld vir hulle sonde lê by God lê nie, maar by hulself.
Normaalweg
word dit as ’n roepingsvisioen gesien, maar dit verskil wesenlik van ander
roepingsverhale in die Ou Testament (Kaiser). Teenoor die meeste ander verhale,
is Jesaja die “gewillige” geroepene. In ander roepingsverhale het die
geroepenes meestal besware teen hulle roeping. Ongelukkig is die roepingaspek
in hierdie preke losgemaak van die inhoud van die roeping van Jesaja. Klem is eerder
gelê op sy sonde, die versoening en sy gevolglike bereidwilligheid om in die
Here se diens te staan. Hierdie oproepe om “soos Jesaja” te wees, is dikwels
ook op ’n moralistiese wyse ingeklee. Ek is van mening dat hierdie aspek op ’n
sekondêre vlak lê.
Na my
mening is bogenoemde gedagtes waardevolle perspektiewe om in gedagte te hou. Op
Triniteitsondag sal dit egter die beste wees om die klem te laat val op die
lied van die serafs. In die geskiedenis van die kerk is hierdie gedeelte op
verskillende maniere gebruik. Origenes het byvoorbeeld die serafs as
verteenwoordigers van die ander twee persone van die drie-eenheid gesien. Ander
kerkvaders het die driemaal “heilig” uitroep deur die serafs as ’n lied oor elk
van die drie persone van die drie-eenheid, gesien. Hoewel ons hiervan kan
verskil, is dit duidelik dat die tradisie van die kerk iets van die triniteit
in die teksgedeelte ingelees het.
Die vraag
wat met heiligheid bedoel word, is natuurlik baie belangrik. In hierdie verband
het Ferdinand Deist (Die taal van die
geloof) ’n baie bruikbare gedeelte geskryf: “Dis 'n woord wat nie meer
dikwels onder ons gehoor word nie, omdat ons nie daarvan hou om ‘heilig’ te
wees nie...Waarom is ons so sku vir heiligheid? Miskien het ons ons idee van
“heiligheid” uit kinderbybels gekry waarin mense met lang, vroom gesigte,
gevoude hande en lang baarde afgebeeld is. Miskien verwar ons heiligheid met
skynheiligheid. Miskien verwar ons heiligheid met 'n soort Puriteinse
preutsheid van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie”. 'n Mens kan die
betekenis van die woord heilig beter verstaan as jy weet wat dit nie is nie.
Heiligheid beteken nie, soos ons dikwels vir mekaar sê, om afgesonder te wees
nie. Dit beteken nie “eenkant” nie. Die kloosterbewoners van die Middeleeue het
gedink hulle moet hulle as heilige mense afsonder van die wêreld en hulle
eenkant hou. Hulle wou nie hulle hande vuil maak met die stof van die
alledaagse lewe en hulle oë nie besoedel deur elke dag in die skewe wêreld vas
te kyk nie…In Jesaja se visioen van God was daar serafs om God se troon wat
hulle oë met hulle vlerke toegehou en gesê het: “Heilig, heilig, heilig is die
Here.” Hulle kon die lig nie uitstaan nie. Toe Moses van die berg af gekom het,
het sy gesig so geblink dat mense nie na hom kon kyk nie. God straal lig uit,
sê Jesaja, en Moses se gesig het gestraal nadat hy God gesien het. Christus is
ook in heiligheid vir ons ’n voorbeeld. Filippense sê: Hy het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie, maar het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan
te neem. … In plaas van “eenkant” in die hemel te bly, het Hy 'n gewone
timmerman geword, op Galilea se stofpaaie geloop aan melaatses gevat, in Gadara
tussen die grotte na 'n besete man toe gegaan en Hom in Jerusalem met die
Fariseërs se teologie ingemeng. Hy het Homself só met die skuim van die aarde
bemoei dat die ‘heiliges’ van sy tyd gesê het Hy is ’n vraat en ’n
wynsuiper…God gaan staan aan die kant van die tollenaars en prostitute en skep
vir hulle 'n nuwe lewensmoontlikheid…Hy vergewe, Hy red, Hy troos, Hy gryp in
in lewens wat verlore gaan, Hy is barmhartig.”
’n Preek
sou kon begin met die gedagte dat ons op Triniteitsondag ons geloof in die
drie-enige God herbevestig. In die Christelike tradisie is hierdie teksgedeelte
ook dikwels gebruik om hierdie geloofsoortuiging te belig. Daar kan verwys word
na Origenes en ander kerkvaders se pogings.
Hoewel ’n
mens van hulle verklarings kan verskil, bied die lofsang van die serafs op die
Here se heiligheid tog vir ons ’n sleutel om God beter te verstaan. Die vraag
kan dan gevra word: wat word met die Here se heiligheid bedoel. Ferdinand Deist
se gedagtes en dié van Snijders is vrugbare stof om mee te verduidelik dat God
se heiligheid nie sy afstand of afsondering beteken nie. In hierdie verband sê
Brueggemann (Theology of the Old Testament) dat daar ’n besliste
klemverskuiwing in die Ou Testament plaasgevind het: “…the one who might dwell
in splendid, guarded isolation is the one who is with Israel, and therefore is
or can be mobilised to act on behalf of Israel in order to save and deliver.”
God se heiligheid beklemtoon juis sy toewyding aan die mense. Die heiligheid
van die Here in Jesaja het nie met afgesonderdheid te doen nie, maar met God se
sigbare teenwoordigheid van liefde teenoor mense. Daarom word die Here se
heiligheid hier in terme van sy magtige teenwoordigheid beskryf (6:3). Dit is
een van die sleutelbegrippe in Jesaja. (Jes 10:17; 17:7; 29:23). Ook hier, in
’n krisisoomblik van volk (6:1) wend Hy hom tot die volk. Noordmans het
treffend geskryf dat God se heiligheid allereers sy nabyheid beteken. In die
liederebundel van die NG Kerk word daar in die drie verse van Gesang 6 duidelik
met dieselfde gedagte gewerk: Groot is u TROON…u NAAM…groot is u GUNS! Waar God
geloof word, word sy teenwoordigheid op 'n besondere manier as 'n realiteit
ervaar.
Dat God se
heiligheid sy guns impliseer, word duidelik in Jesus gesien. Christus het Hom
nie eenkant gehou nie, maar ’n gewone mens geword (Fil 2:5-11). Die woorde van
Deist hierbo is aangrypend: “Hy het Homself só met die skuim van die aarde
bemoei, dat die "heiliges" van die tyd gesê het Hy is 'n vraat en ’n
wynsuiper.”
Wanneer God
Hom só openbaar, gebeur iets met die wêreld. Sy teenwoordigheid vul dan nie net
die tempel nie, maar die wêreld. Volgens die visioen van Jesaja is God se
magtige teenwoordigheid in die wêreld sigbaar. En waar God verskyn, word die
chaos verdryf. Hierdie lied is die direk teenoorgestelde van chaos voor
skepping. In Genesis 1:2 is die aarde is woes en leeg. In die chaos begin God
met ’n nuwe toekoms deur sy verskyning. God is by die wêreld betrokke met een
doel voor oë: die hele aarde moet vol wees van God se mense en hulle werke.
Wie
verstaan dat die heiligheid van die Here sy algehele toewyding aan die wêreld
impliseer, raak in vervoering daaroor. Waar God deur sy Heilige Gees met sy
magtige teenwoordigheid intrek neem by mense en kerke wie se lewe in ’n
chaotiese toestand is, word sondaars vrygespreek en word mense draers van sy
magtige teenwoordigheid in die wêreld. Sulke mense, wat self deur die Here
heilig verklaar word, toon deur hulle optrede nie hulle eie magtige
teenwoordigheid nie, maar die Here s’n. Soos Christus homself prysgegee het,
gee sy volgelinge hulle ook onder leiding van die Heilige Gees prys. Dit het
die gevolg dat ander mense ook bewus word van God se heiligheid en
teenwoordigheid sodat hulle sal uitroep: God is heilig! Hy is die Koning! Dit
is ook die effek van God se verskyning in Christus (Fil 2:10,11. Sien ook Jes
45:23).
’n
Belangrike vraag is natuurlik wanneer dit sal gebeur. Die opdrag aan Jesaja en
die konteks van 6-8 kan dit verduidelik. Jesaja word nie geroep om ’n
bekeringsboodskap te verkondig nie. Inteendeel. Die opdrag aan Jesaja klink onnodig,
want dit het vernietigende gevolge. Wanneer die profeet dit amper nie meer kan
uithou met die boodskap nie, word die Here se doel met sy oordeel duidelik. Die
magtige teenwoordigheid van die Here, sy genadige toewyding aan die mense in
die wêreld, kan slegs gesien word waar ons ons magtige teenwoordigheid – ons
eie pogings om die lewensruimte waar ons elke dag beweeg en met ons dinamika te
vul – gestaak het. Dit word slegs duidelik waar knieë nie meer voor ons buig
nie, ons ydele drome en lugkastele vernietig is, ons drome van onafhanklikheid
en ongeloof nagmerries geword het, waar ons eer, prestasies en roem opgehou
het. Dan eers verstaan ons die woorde van Efesërs 2:4: …maar God is ryk in barmhartigheid. Want waar alles bleek en dood
lyk begin God van vooraf oor (Ef 2:1-3). God gooi verstoktes nie weg nie. Die
stompsinnigheid van Agas, Israel en ons het die dood van sy Seun gekos. Sy Seun
het weens ons hardhorendheid aan die kruis ervaar wat met ons moes gebeur het:
my God, waarom het U my verlaat… Sy Seun is as hardhorende en onbekeerde in ons
plek behandel. Deur die evangelie en die sakramente sal ons dalk oortuig raak
van sy magtige teenwoordigheid en sal ons die LIED VAN GOD SE DROOM vir hierdie
wêreld begin sing en leef: Heilig,
heilig, heilig is die Here God, die Almagtige. Hy wat was en wat is en wat kom.
Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang
omdat U alles geskep het (Op 4:8,11).
Saam met Kaiser kan gesê word: “As the Christian is alive to the never-ending presence of God in his terrible might and his goodness in the reflection of the man Jesus of Nazareth and his career as the Christ, it makes good sense for the Christian community in the eucharist to take up the seraphim's song of praise to celebrate the arrival of the one to whom all honour and lordship are due (Rev. 4.9ff.), even if they differ from their ancestors in knowing that the trisagion did not originally envisage the mystery of the divine Trinity.”