Ander
tekste: Deuteronomium 4: 1-2, 6-9; 1
Kronieke 22: 1-19; Psalm 45: 1-2, 6-9; Markus 7: 1-8, 14-15, 21-23; Jakobus 1:
1-27
Hooglied is
eerste van die vyf Rolle,’n versameling wat deel vorm van die derde deel van
die Hebreeuse Bybel, die Geskrifte. Daar bestaan min twyfel dat Hooglied ‘n
minnelied is waarin die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou besing word. Die
skrywer praat in die eerste, tweede en derde persoon namens die verskillende
karakters, te wete die man, die meisie, die digter, die vroue van Jerusalem en
die broers van die meisie. Twee kategorieë liedere kan onderskei word, naamlik
monoloë en dialoë.
Dit was
algemeen aanvaar dat Salomo die outeur was na aanleiding van die opskrif.
(alhoewel die Hebreeus hier as van, vir
of oor Salomo vertaal kan word) Hierdie tradisionele siening was ongetwyfeld
een van die redes waarom die boek as deel van die Hebreeuse kanon aanvaar is.
Die bepalende faktor blyk egter die aanname van die allegoriese interpretasie
van Hooglied as amptelike vertolking in beide die Judaisme en die Christendom.
Burden
identifiseer vier “lokaliteite” of plekke wat herhaaldelik in die boek voorkom
en wat die minnaars simpatiek of onsimpatiek gesind is: die woestyn, die
platteland of oop veld, die stad en die huis. Die ontmoetingsplekke word binne
toe gunstiger vir die vervulling van die liefde, behalwe dat die stad as ‘t
ware as laaste en venynigste struikelblok die pad versper.
Vyf temas
wat herhaaldelik voorkom en mekaar oorvleuel dra by tot die betekenis van die
boek: uitlokking van die beminde; skeiding van die beminde; soektog na die
beminde; selfhandhawing en hulde aan die liefde self.
Ons
teksgedeelte tel onder die eerste tema. Die beskrywing van die land as ‘n
lushof dien om die beminde aan te spoor om saam te kom. Die klassieke lentelied
(2:8-14) dra die volgende boodskap: alles in die natuur is besig om te paar –
waarom nie ons ook nie?
Terwyl die
minnelied beskou word as die makrovorm, onderskei vakkundiges ‘n aantal
mikrovorme: die bewonderingslied
(bv 1:9-11; 2:1-3); beeldliedere
(bv 1:13-14; 2:16); beskrywingsliedere
bv 3:6-8); die selfportret (bv 1:5-6; 8:8-10); die spoglied (6:8-9; 8:11-12);
die skertslied (1:7-8); die belewingslied bv 2:8-9; 2:10-13; 6:11-12) en
liedere van verlange (bv 1:2-4; 2:4-5).
Hooglied
bevat meeste van die konvensionele taalverskynsels wat in Bybelse en ander
digkuns gebruik word, onder andere parallelismes, refrein, alliterasie,
retoriese vrae, eufemisme, hiperbool en personifikasie.
Gemeenskaplike
elemente (‘topoi’) van liefdesliedere
moet as metafore en nie letterlik verstaan word nie. Die tematiese waarde van
die metafore is belangrik vir die verstaan van die gedig(te) waarin hulle
voorkom. Die digter van Hooglied maak van ‘n hele reeks gebruik
Flora, fauna en kunskatte speel ‘n belangrike rol in
Hooglied;
druiwe en die wingerd is simbool van vroulike seksualiteit;
die tuin is ook ‘n simbool van vroulike
seksualiteit en van die herstel van die paradystoestand;
die
genietinge van die ryp vrugte (eet en
drink) dui veral op manlike seksualiteit
seksuele
sensualiteit word deur die gebruik van
alle sintuie beklemtoon.
Verklaarders
onderskei ses wyses van uitleg
Die allegories-tipologiese uitleg vergeestelik Hooglied. Hiervolgens sou
die liefdesverhouding tussen man en vrou gesien word as die verbondsverhouding
tussen Jahwe en Israel (Joodse uitleg) of Christus en sy kerk (Christelike
vertolking). Kritiek teen hierdie manier van uitleg is dat die woorde en
karakters binne hul verskillende verbande en die belang van die konteks en
literêre vorme van Hooglied, heeltemal geïgnoreer word (Burden). Voorbeelde
hiervan, as die meisie sê sy is bruingebrand, sê verklaarders dui dit op sonde.
As sy van haar bortse praat, sê hulle dui dit op die Ou en Nuwe Testament.
Volgens die
letterlik-historiese uitleg is
Hooglied ‘n erotiese liefdeslied. Dis
‘n bundel liefdesliedere van of een outeur of wat deur verskillende outeurs op
verskillende tye vir verskillende geleenthede geskryf is en deur ‘n redakteur
op skrif gestel is.
Die kulties-mitologiese uitleg verklaar
Hooglied as ‘n kultuslied wat in die
vrugbaarhiedsritusse (veral tydens die hieros
gamos, die heilige huweliksluiting) by die wisseling van winter en lente
gebruik is.
Die
voorstanders van die dramatiese opvatting
reken dat ons Hooglied vanweë sy dialogiese karakter soos ‘n drama moet lees. Een van die voorstellings is dat Salomo ‘n mooi
jong meisie uit die noorde van die land vir hom as vrou neem. Hierdie bruilof
word dan in Hooglied besing.
Die
strukturele samestelling bied vir sommige verklaarders die sleutel tot die
verstaan van Hooglied. Hiervolgens moet die teks as gestruktureerde eenheid
bestudeer word.
Volgens die letterkundige uitleg moet Hooglied soos
enige ander boek hoofsaaklik as literatuur gelees word. Gegewens uit Hooglied
dui daarop dat ons hier met die liefdeslewe en hofmakery van die Israeliete te
make het. Pragtige fasette van die liefde kom na vore, naamlik die bewondering,
die verlange met sy nagmerries, die aanspraak op getrouheid, en die blydskap
van saamwees. “Dis liefdesgedigte op hulle beste!” (Burden)
Burden vat
die betekenis van Hooglied soos volg saam: “God se wêreld sluit immers meer in
as die eng godsdienstige, dit omvat ons hele lewe, ook die prag – maar
enigmatiese wêreld van die liefde tussen ‘n meisie en haar vriend. Hierdie boek
sal ‘n juweeltjie bly solank liefde tussen die geslagte ‘sterker as die dood
is’. Die wyse spreukedigter sê mos dat ‘die liefde tussen ‘n man en ‘n meisie’
iets is wat hy die minste verstaan.”
Keel sien
die basis van liefde in Hooglied ‘not as a vague genital lust but great
admiration of the beloved partner, who seems inapproachable in his or her
radiance – distant on inaccessible mountains, hidden in locked gardens,
painfully longed for and sought. The lovers mutually experience one another as
so beautiful, so radiant, so magnificent that every discovery, every possession
of the other can be experienced only as unfathomable gift, never taken for
granted.”
Hooglied
het ‘n duidelike didaktiese funksie. Dit kan goed gebruik word as
seksvoorligting aan jongmense en spesifiek as integrale deel van voorhuwelikse
beraad, maar ook vir huweliksverrykingsprogramme.
Hooglied
bied uitmuntende stof vir prediking oor intieme verhoudinge tussen die
teenoorgestelde geslagte. Dit help ons om die mooi en reinheid van liefde en
seks binne die regte perspektief te plaas, naamlik dat liefde en seks ten spyte
van die verdraaide beeld waaraan ons gewoond geraak het, gawes van God is; ook
dat liefde nie in die eerste plek seks in die oog het nie, maar dat seks die
finale vervulling is van ‘n liefdesverhouding waarin beide persone mekaar
bewonder en respekteer as skepsels van God.
‘n Preek
wat aansluit by die oorhoofse tema, naamlik dat ‘n regte lewenswyse aangeleer
word binne ‘n huweliksverhouding waarin man en vrou vreugde vind in mekaar,
moet myns insiens begin by die skeppingsverhaal. Daar lees ons dat God sê: 'Dit
is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan
help, sy gelyke.’ (Gen 2:18). Hier word dit ondubbelsinnig gestel dat die God
wat ons aanbid ons diepste menswees en behoeftes verstaan. G’n wonder nie, prof
Heyns skryf dat Adam gefluit het van vreugde toe hy sy oë oopmaak en sy
lewensmaat sien.
Dis
belangrik dat ‘n mens daardie eerste oomblik van ontmoeting sal onthou of dan
die eerste keer toe jy besef het dat hierdie ou of meisie jou hart laat
bokspring het. Veral wanneer daar soms
onweerswolke oor julle verhouding hang, of sommer net wanneer julle in mekaar
se arms is. Die deel van hierdie herinneringe kan op wonderlike wyse help om
weer so ‘n vonk in die verhouding te gee.
Wanneer die
verliefde paartjie oor mekaar praat of sing in Hooglied, waardeer hulle God se
skeppingswerk in mekaar. Hulle beskryf mekaar ook dan in terme van onder meer
die plante en diereryk. Dit moet ons ook herinner aan die feit dat my maat
skepsel van God is. Nie maar net seksobjek vir my selfsugtige behoeftes nie,
maar beelddraer van God. Ons is aan mekaar gegee, geskenke uit God se hand – om
lief te hê, te eer, te waardeer en te bewonder. Uiteindelik gaan dit in ons
huweliksverhouding of watter verhouding ookal, daarom dat ons mekaar moet help
om te word wat God uiteindelik wil hê elkeen van ons moet wees. Binne hierdie
goter ruimte van die Goddelike plan skep Hy vir ons die ruimte om mekaar lief
te hê en mekaar te geniet. Binne die groter oorgawe van myself aan God en die
Goddelike wil bied Hy aan ons die geleentheid om onsself ook aan mekaar oor te
gee.
Juis
hierdie ‘mekaar’-element word pragtig deur Hooglied uitgedruk. Die man en vrou
besing mekaar se lof, bewonder mekaar, verlang na mekaar.... Wanneer ons nie
(bewustelik) hieraan aandag skenk nie, verval ons huwelik baie gou in ‘n groef
– ons raak maar gewoond aan mekaar, ons neem mekaar se daarwees as
vanselfsprekend aan, ons doen dinge bloot uit plig, maar sonder vreugde.
Die
huweliksformulier moedig ons aan om dit wat Christus aan ons geskenk het uit te
leef. ‘Bou met liefde en in vertroue voort op die mooi dinge wat julle in
mekaar gevind het. Vermy selfsug en eiesinnigheid – dit verbreek die gemeenskap
tussen mense. Gee julleself aan mekaar op allerlei maniere, met erns en met
humor, in gelukkige omstandighede en in moeilike omstandighede.’
Kyk ons na
ons huwelike in die algemeen, moet ons tot die gevolgtrekking kom dat baie
mense getroud is, maar nie baie het ‘n huwelik nie.
As
Christene mag ons nooit uit die oog verloor dat ‘n gelowige se huwelik nie
sommer iets doodgewoon is nie. ‘Dit het ‘n heel unieke karakter. Ten diepste
wys die huwelik heen na God se liefde vir die mens. Die liefde van God vir die
sondige mens word maatstaf vir die liefde tussen man en vrou in ‘n huwelik. In
God se verhouding met die mens kan huweliksmaats sien hoe hulle teenoor mekaar
behoort op te tree.’ (Louw)
Die huwelik
is een groot leer- of oefenskool. Dis ‘n lewenslange kurrikulum. Huweliksmaats
moet altyddeur oop wees om van mekaar te leer, terwyl hulle albei oop is vir
leiding van die Heilige Gees.
Om vreugde
binne die huweliksverhouding te ervaar, beteken dat ons gedurig bewus moet wees
van die dinge wat die huweliksverhouding kan skaad. Die huweliksformulier
waarsku ons dat ‘die Satan nooit genoeë neem met wat mooi en goed is nie.’ Dr
Douglas Rosenan in sy boek Slaying the Marraige Dragons, identifiseer die volgende drake as
vyande van huweliksintimiteit: busyness erodes companionship, little neglects
quench creative caring, affairs destroy commitment, passive husbands and angry
wives handicap communication, codependent craziness sabotages completeness.
Wanneer
julle die moontlike gevare geïdentifiseer het, kan julle voorsorg tref om jul
huwelik te beskerm.
Hooglied
bied aan ons een manier om seker te maak dat ons verhouding altyd groei en op
die regte tye bloei. Hou aan om mekaar te bewonder, al is die figuur nie meer
wat hy aan die begin was nie, al het die hare minder geword. Waardeer en
koester die innerlike kwaliteite wat julle in mekaar ontdek het. Wanneer mense
binne die huwelik van die begin af strewe om sielsgenote vir mekaar te wees,
staan hulle huwelik ‘n groter kans om te hou.
Bibliografie
Burden JJ& Prinsloo WS (red) Tweegesprek met God, Die Literatuur van die Ou Testament, Deel 3; Brenner A, The Song of Songs, Old Testament Guides; Keel O, The Song of Songs, A Continental Commentary; Louw D, Liefde is vir Altyd, ‘n Huweliksgids vir Verloofdes en Getroudes.