17 augustus 2003

Negende Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Fokusteks: Spreuke 9:1-6

Ander tekste: Psalm 11/147; Efesiërs 5: 15 - 20; Johannes 6: 51 - 58

Inleiding

Wysheid nooi mense om 'n keuse te maak tussen lewe en dood. Ware wysheid wat na die lewe lei is 'n soeke na die patroon wat God in die natuur en samelewing geplaas het. Dit is 'n oproep na koninkrykslewe, om elke dag op alle lewensterreine na God se wysheid te soek, en nie jou geloofslewe te verskraal tot 'n eng geestelikheid nie.

God vergader ons voor Hom

Aanvangslied

"Lei, Vriendelik Lig" NSG 278 verse 1 3 "/Lied 511 "Lei U ons, Lig"

Voorganger: Ons harte hunker na troos.

Gemeente: Ons wil met liefde aan mekaar verbind wees.

Voorganger: Ons soek na diep en volledige insig.

Gemeente: Ons wil God se geheimenis ken.

Voorganger: Dié geheimenis is Christus.

Gemeente: In Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.

Etos van God

Soos in die basisliturgie vir koninkrykstyd.

Aanvangswoord

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

Seëngroet

Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus, en die Gees van wysheid en kennis van God.

Sang

"U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie" NSG 43:4-6/Lied 200

Diens van die Woord

Gebed vir die opening van die Woord/epiklese

Voorganger: Here Jesus, ons dank U vir u Woord.

Gemeente: U is die vleesgeworde Woord.

Voorganger: Heilige Gees verlig ons harte en verstande.

Gemeente: Praat met ons deur die geskrewe Woord.

Voorganger: Vader gee ons gewillige hande en voete.

Gemeente: Maak ons gehoorsaam aan die gepredikte Woord.

Skriflesing

Spreuke 9:1-6

Sang

"Bring my die ou, ou tyding" NSG 346: 1 en 2/ "Spreek, Heer" Lied 254

Preek

Sang

"Bring my dieselfde tyding" NSG 346 vers 3

Oomblik van stilte en toewyding aan God en sy wêreld.

Apostoliese Geloofsbelydenis

Offergawes

Diens van die tafel

Dieselfde as in die basisliturgie vir koninkrykstyd.

Lees

Spreuke 3:1-35 as riglyn vir lewe van wysheid (oftewel vir lewe onder Gods regering)

Uitsending

Sang

"Al my strewe na die lewe" NSG 282 verse 1-3/ "Jesus, U gaan voor" Lied 505

Seën

Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid!

Sang

Lied 312 - 315 "Amen"

PREEKSTUDIE SPREUKE 9:1-6

Teks

Ons teks is 'n soort allegoriese beskrywing van die uitnodiging deur Mevrou Wysheid tot die fees wat sy voorberei het. Die eksplisiete teenganger van die verse is die uitnodiging deur Vrou Dwaasheid tot die "gesteelde water" wat sy aanbied (9:13-18). Die parallelle tussen die verse beklemtoon juis die teenstelling tussen die vroue: hoe hulle beskryf word; hoe, waar en wat hulle aanbied, en wat diegene verwerf wat hulle uitnodigings aanneem. Die enigste direkte en letterlike ooreenkoms tussen die twee is die beskrywing van diegene aan wie die uitnodiging gerig word (v 4 en 16).

Tussenin staan 'n aantal spreuke (9:7-12) wat deur die meeste uitleggers as sekondêr, en min of meer verbandloos met die twee uitnodigingsbeskrywings gesien word (vir opsomming van standpunte, vgl Vox). Vers 7-8 waarsku dat sekere mense skynbaar ononderrigbaar is (die spotter), teenoor die wyse wat algaande toeneem in wysheid (vers 9). Vers 10 stel die kernbeginsel van die Ou-Testamentiese wysheid (vgl Spr 1:7; Job 28:28; Ps 111:10). Vers 11 sluit direk as motivering by die eerste persoon uitnodiging in verse 5 tot 6 aan, maar is nou gerig aan die enkelvoud (jy). Vers 12 sluit weer direk hierby aan en noem letterlik die twee kategorieë leerders in verse 7 tot 9. Die komposisiegeskiedenis van die tussenverse is verseker gekompliseerd, maar dit is duidelik dat die verse op die twee basiese kategorieë leerders fokus. As 'n mens die parallel tussen vers 7 tot 9 en vers 11 tot 12 herken, is dit moontlik om vers 10 as die spilpunt van die hoofstuk te beskou.

Alhoewel die verse tussen die twee uitnodigings dus in 'n sin verbandloos is met die uitnodigings, help dit om die fokus van die hoofstuk op die persone aan wie die uitnodigings gerig is te plaas, en in reliëf te plaas. Dit is juis hulle aan wie die uitnodiging gaan wat in die twee uitnodigings identies is (vgl bo).

Die verbande tussen Spreuke 9 en die vorige hoofstukke is opmerklik: Die uitnodiging van Mevrou Wysheid in 9:1-6 komplementeer die langer een in hoofstuk 8. Na 'n lang selfaanbeveling van Wysheid (8:6-31) sluit die hoofstuk (8:35-36) met presies dieselfde moontlikhede van lewe en dood as wat die geval is in 9:6 en 9:18. Ook met hoofstuk 1 is daar verbande. Soos in hoofstuk 9 word die leerbares as eenvoudiges (peta'yim, naïef, "ongeslyp") en wyses beskryf (1:4-5; 8:5). Vergelyk ook 9:10 met 8:13 en 1:7. Diegene aan wie die uitnodiging tot wysheid gerig word, staan deurgaans in hoofstukke 2 tot 7 voorop, waar hulle as seun(s) aangespreek word.

Binne die kanoniese verband van die Spreukeboek, staan hoofstuk 9 dus as hoogtepunt van die inleidende hoofstukke en vorm dit die oorgang na die individuele spreuke wat volg, en waarin die spesifieke wat die wysheid wil leer uitgespel word. Saam met die vorige hoofstukke wil 9 dus die belang daarvan dat wysheid geleer word beklemtoon. Alhoewel Spreuke 9 nie 'n eksplisiete waarskuwing teen die verkeerde keuse, om gehoor te gee aan die uitnodiging van dwaasheid, gee nie, staan die uitnodiging van Mevrou Wysheid as duidelike teenpool van die gevaarlike keuse, asook as finale oproep om jou tot die fees van die wysheid te begewe.

Deur ons teks hierbo 'n soort allegoriese beskrywing van die uitnodiging deur Mevrou Wysheid te noem, wil ons waarsku om nie in al die detail van die huis en uitnodiging en feesmaal te veel betekenis te gaan inlees nie. Oor wat die betekenis van die sewe pilare mag wees, en of dit hoegenaamd iets tot die betekenis van die beskrywing bydra, loop menings byvoorbeeld uiteen. So ook oor die moontlikheid van (vrugbaarheids-) kultiese submotiewe in die teks. Von Rad skryf mooi oor die uitnodiging tot 'n liefdesverhouding met die wysheid. Verder lê die motief van die "uitnodiging tot 'n feesmaal" in die ONO literatuur en wysheid ook in die agtergrond van die teks (Hiervoor en vir verklaring van detail van die teks, vergelyk kommentare, veral Vox in Anchor Bible).

Spreuke 9:1-6 is 'n uitnodiging aan "ongeslyptes" en diegene wat nog nie ingelyf is in die wysheid van die lewe nie, om die regte keuse, vir wysheid, te maak. Hulle word opgeroep om hulle naïewe fase (peta'yim) agter te laat, "afskeid te neem van die onkunde" (NAV) en die weg van insig (bîn) te betree (9:6). Die Hebreeuse werkwoord bn, beteken om insig te kry in God se werking in die geskiedenis (Deut 32:7), natuur (Ps 28:5) en lewe (Ps 73:17). Dié insig is sentraal in die Ou-Testamentiese wysheid (Spr 1:2. THAT 1). Dit word "die lewe" genoem (9:6; vgl 8:35, teenoor dood, 9:18). In die Ou Testament val die klem op 'n geseënde en voorspoedige aardse lewe as gawe van God (Spr 3:1-2; 4:10, 13, 22-23; THAT 1; Von Rad).

Terwyl ons teks 'n uitnodiging tot die fees van die wysheid is, moet die verband van waarskuwing teen die teendeel, die lewe van dwaasheid, van tydelike genot, steeds in gedagte gehou word. In die uitnodiging gaan dit juis ook om 'n keuse.

Konteks

In die Ou Nabye Ooste, so ook in Israel, is wysheidsuitsprake in die opvoedingsproses gebruik en daarvoor versamel. Naas die gesinsverband is dit aan die koninklike hof en later by die heiligdom gebruik om veral jongmanne vir hul openbare lewe, veral in posisies van leierskap, sy dit staatsamptenare of geestelike leiers, voor te berei. In ons teks is dit veral hulle wat aangespreek word. Vandag sal die teks in besonder in jeug prediking gebruik kon word om hulle uit te nooi en te waarsku. Maar die uitnodiging geld inderdaad almal; almal het nodig om dit van tyd tot tyd te hoor.

Vir die Ou-Testamentiese mens het wysheid daarin bestaan om oor die lewe en die werklikheid waarin die mens lewe, na te dink. Dit soek na die patroon, na die orde wat God in die natuur en die samelewing geplaas het. In 'n sin dek dit die filosofiese en natuurwetenskaplike nadenke van die Ou-Testamentiese tyd. Die bron daarvan is nie besondere openbaring nie, maar gesonde verstand en skerp waarneming. Dit gaan nie om inligting ter wille van wetenswaardigheid, terwille van kennis as sodanig nie. Wysheid soek na die orde sodat die mens daarvolgens kan lewe om geluk en voorspoed te kan ervaar (sien ook Smit).

In baie opsigte sê die Ou-Testamentiese wysheid dieselfde dinge as wat deur die "ongelowige wêreld" van haar tyd gesê is. Dit neem selfs uitsprake van heidense wyses oor. Maar dit herdink die insigte vanuit Israel se besondere verstaan van God, as die lewende Skepper-God wat Homself aan Israel openbaar het. Om die orde wat Hy daargestel het te soek en te eerbiedig, is dus eweneens diens aan Hom (9:10). Op grond van hierdie veronderstelling funksioneer die wysheid dus altyd binne die raamwerk van geloof in die Here. Wie die orde van God ignoreer, versteur die orde en moet die gevolge daarvan dra; wie volgens die orde lewe, kan verwag dat dinge vir haar of hom goed sal verloop (9:6).

Die wysheid waartoe Spreuke uitnooi is om in die alledaagse, gewone lewe met wysheid, met insig te lewe; as mens wat God ken en wie se lewe deur Hom beheers word. Dit gaan daarom om die lewenskuns te leer, om met integriteit 'n positiewe lewe te gaan lewe. As gelowiges het ons nie net nodig om God te ken soos Hy homself in die besondere openbaring van sy Woord en sy Seun na ons kom nie. Ons moet ons jeug, en almal, leer om die tekens van die tye, die tendense in die samelewing en die kennis wat ons deur die wetenskap ensovoorts bekom krities te interpreteer en so te integreer dat ons met integriteit as nuwe mense op elke lewensterrein kan optree. Die wysheid nooi ons om op die tradisie, dit wat oor die jare aan insig opgebou is, voort te bou, en nie dit te vergeet of daarby stil te staan nie.

Dit gaan dus daarom dat ons lidmate geleer moet word om as koninkryksmense op elke lewensterrein te kan gaan lewe. Maar die wysheid gee nie wette, voorskrifte of beginsels nie. Dit wil jou die lewenskuns aanleer, om met insig te gaan onderskei waarop dit aankom. Dit is wat Paulus tog sê wat die Heilige Gees ons kom leer (Kol 1:9): "Ook bid ek dat julle liefde al meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom..." (Fil 1:9-10).

Ons het die wysheid en wysheidsvoorligting dringend nodig in ons tyd. Ons het nodig dat die kerk, en die prediking, lering bied wat vir die lewe voorberei, en nie nét eng geestelike toerusting nie. Ons moet mekaar leer om as Christene met geloofsintegriteit in 'n postmoderne, gesekulariseerde, gekommersialiseerde en globale samelewing te gaan lewe. Die wysheid toon dat, om as gelowige te lewe, om méér gaan as om "deur die Gees" te lewe, of eerder: te verstaan dat, om deur die Gees te lewe, om méér as ons verskraalde geloofsbeoefening gaan. Nie net in ons persoonlike verhoudings nie, maar ook in lidmate se rolle in die samelewing, in strukturele verband, op politieke, administratiewe, ekonomiese en wetenskaplike gebied. Dáár moet ons krities konstruktief gaan lewe. Wie vanuit die wysheid (en die gereformeerde siening!) oor die Koninkryk praat, praat oor die hele lewe.

Vir die gelowiges moet die gemeente dus die "nuwe huis van Mevrou Wysheid" word. Daar moet ons, mekaar en saam, leer wat "die lewe" in vandag se samelewing beteken. Van die leraar vra dit dat s/hy iets, ja baie, van die "gewone" lewe en die werklikheid waarin lidmate elke dag lewe moet weet en daarin só leiding gee dat lidmate self daar as Koninkryksmense kan gaan lewe.

Preekvoorstel

Stap jy vandag uit op die straat van die lewe, soos die jongmense van Jerusalem wat in Spreuke 9 aangespreek word, hoor jy ook baie stemme na jou roep: Glinsterende advertensies vir gemakliker, voorspoediger en genotvoller lewe; Sepies en glanstydskrifte wat liggaamlikheid verabsoluteer en "die lewe" as sukses, voorspoed, gemak en aansien voorstel; Valse profete met verloklike nuwe insigte; Doemprofete met wapperende voorvingers...

Ons teks vertel van die uitnodigings van twee vroue (soos vandag se advertensiewese en vermaak, het die wysheid van destyds al geweet van die bekoring wat vroue inhou, en van die verleibaarheid van die man...). Die twee vroue stel die basiese keusemoontlikhede vir die mens voor: dié wat tot "die lewe" lei, en dié wat tot "die dood" lei. Dit word die keuse vir wysheid of vir dwaasheid genoem (Lei nou, na behoefte, die gemeente in die inhoud van die teks; gebruik inligting onder "teks" hierbo).

Wat is die wysheid waartoe ons uitgenooi word? Die wysheid van die ou tyd het mense geslyp vir die lewe. Met spreuke, raaisels en stories, wou dit mense, veral jong mense, slyp vir die lewe. Dit wou mense van karakter en inbors vorm. Dit het insigte uit die tradisie oorgelewer en mense oppad gehelp om in hulle eie nuwe omstandighede te gaan lewe, om daar goeie keuses te maak en met integriteit te gaan lewe. Dit het hulle 'n basis gegee om op die lewenspad te gaan om daar kennis te neem van wat in die wêreld aangaan. Om met die strominge en insigte op elke lewensterrein in gesprek te kan tree. As ons die individuele spreuke in Spreuke 10 en verder lees, sien ons dit handel oor insigte in die natuur, die wetenskap van die tyd. En oor insigte in die lewe, die sielkunde en filosofie en populêre gedagtestrominge van die tyd. En oor die bedryf, in die handel en die reg en die politiek. En oor gesin wees, kinderopvoeding, oor menswees.

Dit wysheidslering wou mense help om dit wat hulle in die alledaagse lewe teenkom, vanuit hulle gelowige werklikheidsbeskouing krities te bekyk. In voortdurende soeke moet die gelowige vra wat die "vrees van die Here" op elke lewensterrein beteken. Die gelowige bedryf nie 'n ander wetenskap of ekonomie of opvoeding as "die wêreld" nie, maar moet dit anders bedryf (Gebruik gedagtes onder "konteks" hierbo).

Die uitnodiging tot wysheid is 'n uitnodiging tot 'n koninkrykslewe. Bybelse wysheid wil ons help om uit te breek uit een van die grootste bedreigings vir die geloof vandag: Verskraling van die geloofslewe tot 'n eng geestelikheid. Dit beskerm teen kompartementering waar geloof net in sekere afdelings van 'n mens se lewe funksioneer, waar in die "daaglikse lewe" volgens ander reëls en waardes gelewe word as dié wat deur die vrees van die Here en die heerskappy van die Gees bepaal word.

Dikwels is ons nie van die verenging en kompartementering bewus nie. Ons sien nie dat ons in ons daaglikse bedryf volgens ander waardes lewe nie. Dalk is een van die grootste probleme van die kerk vandag dat dit nie (of so min) karaktervorming aan gelowiges verskaf. Die stem van die wysheid het stil geword. Die doel van die wysheid is juis om ons toe te rus vir die hele lewe as 'n koninkrykslewe.

Ons teks nooi ons om weer tot die fees van die wysheid terug te keer. Wie leerbaar is, is wys; immers: ware studente hou nooit op met leer nie! Die wysheid nooi u: wees oop. Lees wat geskryf word; luister na wat gesê word; sien in wat gedoen word; gaan in gesprek met die lewe en met mekaar en groei, kry insig, laat die Koninkryk kom deur u lewe van elke dag.

Bibliografie

Clifford, RJ 1999. Proverbs, OTL; Murphy, 1998. Proverbs, Word Bib. Com; Smit, Kobus, 1999. Preekstudies met liturgiese voorstelle, jaar B 1999-2000, Buvton; Von Rad, G 1978. Wisdom in Israel; Vox, MV 2000. Proverbs 1-9, Anchor Bible; Jenni & Westermann, 1978. Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament.