Psalm 72:1-7,10-14 (Ian Nell)

2 Januarie 2000

Epifanie

 

Ander tekste:            Spreuke 31:4-9, Jesaja 60:1-6, Matteus 2:1-12, Markus 15:1-5, Efesiërs 3:1-12,

Here, ons juig dat U gekom het as Koning van reg en vrede. Mag dit elke dag weer sigbaar word vir die hele aarde.

Teks

In Woord teen die Lig 1/7 gee Müller (1990:19-31) 'n volledige uitleg van die perikoop met twee preekvoorstelle. Dit verskyn in 'n bundel oor adventsprediking. Die Duitse preekliteratuur gebruik Psalm 72 in die tyd van Epifanie. Ons sluit dus in dié bundel aan by laasgenoemde tradisie. Myns insiens 'n goeie keuse vir die eerste Sondag van die jaar 2000. Vir 'n breedvoerige bespreking van die psalm kan Müller se studie geraadpleeg word.

Psalm 72 is 'n gebed vir die gesalfde koning waarin die digter vir God vra dat sy heerskappy op aarde sal geskied deur die regering van die koning. Die digter sien uit na 'n nuwe tyd wat God gaan laat aanbreek deur die bemiddeling van dié koning. Sy gebed bevat verskillende elemente: reg en geregtigheid, voorspoed, 'n lang lewe, universele heerskappy, mag oor vyande, onderwerping van ander konings en nasies, roem ens. Die gebed bestaan hoofsaaklik uit voorbidding, eers in die vorm van 'n imperatief (vers 1), en die res in die vorm van wense (verse 2-1, 15-17).

Oor die tyd en omstandighede waarin die psalm ontstaan het, bestaan daar nie eenstemmigheid nie. Meeste van die eksegete stem egter saam dat dit geskryf is gedurende die invoering van die Dawidiese koningskap in Israel. Dit is gepas vir so 'n situasie en het 'n algemene karakter wat dit moontlik maak om dit herhaaldelik te gebruik. Daar is dus blyke van 'n kultussituasie met 'n jaarlikse troonbestygingsfees.

Die vraag na watter koning hier ter sprake is, het reeds wye diskussie ontlok. Die targoem dink aan 'n messiaanse Koning. Hierdie regstreekse messiaanse opvatting vind ons ook in die oudste Christelike kommentare. In die Joodse oorlewering is die psalm gelees met die oog op veral koning Salomo. Die naam Salomo in die opskrif gee in dié verband egter nie werklik uitsluitsel nie. Die koning word nietemin gesien as stadhouer van God. In die plek van God is die koning die reddende, barmhartige verlosser.

Konteks

Ons sou kon vra: Is die psalmdigter nie geweldig idealisties in dit wat hy hier bid nie? Verstaan hy die werklikheid? 'n Samelewing waarin jy dit vind waarvoor hy bid, bestaan eenvoudig nie. Is dit nie maar bloot 'n verlange na 'n ander wêreld as dié waaraan ons gewoond is nie? Waar is dié koning waarvan hy hier skryf?

Ons sou verder kon gaan en vra: Hoe raak hierdie psalm ons? Is die afstand tussen Psalm 72 en ons eie lewe nie só groot dat sy woorde ons nouliks bereik nie? Stel hy nie alles eenvoudig te mooi voor nie? Kortom, dit lyk vir ons of die werklikheid van óns wêreld haaks staan op die woorde van dié digter.

Dit bring ons by die belangrike hermeneutiese aangeleentheid van die verhouding God-koning. Bepalend vir ons verstaan van die psalm is dan nié in die eerste instansie die digter se onbereikbare ideale vir die koning nie. Wat bepalend is in die beskrywing van die koningskap vind ons in God se koningskap. Die digter se ideale en verwagtings hou dus verband met God se koningskap oor hemel en aarde en dit projekteer hy dan op die menslike koningskap oor die volk Israel. Die koning is die plaasbekleder van God. Hy sit selfs op die troon van God. Die koning van Sion is die gesalfde van God. Deur dié koning word die magswerk van God voltrek. God se heerskappy oor Israel en die volke kry konkrete gestalte in dié vors.

In die lig van laasgenoemde moet ons met drie gesigspunte rekening hou:

Daar is in Israel konkrete aanknopingspunte vir die voorstelling van 'n omvattende heerskappy, soos byvoorbeeld die Dawidiese ryk.

In die voorstelling in die psalm het die ryk van Dawid tot 'n wêreldryk gegroei. Die koning staan dus sentraal en universeel. Die relasie God-koning moet daarom vir geen oomblik uit die oog verloor word nie.

Die amp, gawes en opdrag van die koning kom van God af. Daarom is die wêreldheerskappy waarvan hier sprake is nie maar net 'n ideaalbeeld nie, maar 'n afskaduwing van 'n allesomvattende mandaat dat God as Skepper en Here vir die wêreld sy verkose koning gee. Die volke van die hele aarde behoort aan die God van Israel. God staan dus agter die koning.

Die psalmdigter stel die regverdige handeling van die koning in die kader van sy afhanklikheid van God. Daarom begin die psalm met 'n aanspraak op God om die koning te help om die reg te handhaaf en regverdige beslissings te maak. En eindig hy met 'n lofprysing: Geloofd sy God die Here, die God van Israel. Dit is net Hy wat magtige dade doen! Dit is dus 'n uiting van geloof in die God van Israel. Want die geregtigheid wat die koning in die praktyk moet bring sal tot gevolg hê dat nie alleen die naam van die koning nie, maar dat Gód se Naam oral geprys sal word. Daarom sou ons die swaartepunt van hierdie psalm, ook met die oog op die prediking, in die bede van vers 1 en verse 18 en 19 kon vind.

Die kern van die werk van die regverdige koning vind ons in verse 12-15. Reg en geregtigheid is hier nie maar bloot juridiese begrippe nie, maar is God se onophoudelike sorg vir die armes en ellendiges, wie se lewens Hy red. Hulle ontvang deur middel van die Dawidiese vors die heil, die verlossing van geweld en onderdrukking. Daar is niemand anders wat vir hulle die verlossing kan bewerk nie. Alleen die Dawidiese koning is in staat om onderdrukkers te verslaan en die verdrukte te bevry. Hy is immers die "Gesalfde van die Here".

Dit lyk of ons hier ook die brug vind na die Nuwe Testament. Want alhoewel die doksa (heerlikheid) van die koning in die psalm ter sprake kom, is die menslike kant tog ook duidelik. Hy oorwin nie die dood nie. Beide aspekte, verheerliking en vernedering, bepaal in die tradisie die beeld van die Gesalfde van God. Terwyl die koning die plig het om armes by te staan, het die Messias self arm geword en word Hy onder armes gereken. Dit beteken dat die koningspsalms in die tradisie 'n nuwe betekenis gekry het. Hulle word nie meer net toegepas op 'n aardse vors nie, maar is reeds die voorsegging en belofte van die messiaanse koning van die eindtyd. Maar in die psalm self is dit nog nie waarneembaar nie.

Vra ons dan nou weer die vraag wat ons aan die begin van dié afdeling gevra het, dan begin die kontoere van 'n antwoord om vorm aan te neem. Want waar sou die koning van Psalm 72 anders te vinde wees as vir altyd en ewig by dieselfde adres: by die “armes”. Vir sover julle iets gedoen het aan die hongeriges, die dorstiges, die vreemdelinge, die naaktes, die siekes en die gevangenes, het julle dit ook aan My gedoen. Is dit nie dalk hoekom Hy wag om op die wolke in heerlikheid te kom nie, omdat Hy eers vir ons die geleentheid wil bied om Hom op hierdie wyse te soek en te vind?

Die lyn van argumentasie wat hierbo gevolg is, weerhou ons hopelik daarvan om Psalm 72 vanuit die Nuwe Testament te eksegetiseer. Want 'n mens kan maklik ontspoor as jy die werk van die koning sou wou beperk tot 'n juridiese gebeure waarin byvoorbeeld die vergewing van sonde die belangrikste word.

Preekvoorstel

Geliefdes, het U nie ook vanoggend opgestaan met die behoefte om te bid nie? Dit is asof die grootsheid van dié besondere jaarwenteling by ons 'n gevoel van diepe afhanklikheid laat ontstaan. En dan is daar geen mooier en gepaster gebed wat ons help om dié gevoel te verwoord nie, as die eerste woorde van die Onse Vader-gebed.

Ons Vader wat in die hemel is,

laat u Naam geheilig word,

laat u koninkryk kom!

Laat u wil geskied

'n Aangrypende gebed nie alleen vir die begin van 'n nuwe jaar nie, maar ook vir die begin van 'n nuwe millennium. Dit klink so reg – ja, ons wil mos hê dat God geëer moet word en sý heerskappy moet seëvier in 'n nuwe era van die geskiedens wat so pas aangebreek het.

Die digter van Psalm 72 sou sowaar saam met ons gebid het. Hy wil nét so graag sien dat God se Naam geheilig moet word in sý omstandighede: Geloof sy God die Here, die God van Israel. Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word…(vers 18 en 19). En daarom bid hy ook dat die koningskap van God deur 'n aardse koning moet realiseer: Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens U wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil… (vers 1). Is dit nie maar dieselfde as om te bid dat God se Koninkryk moet kom nie?

Dis duidelik, die psalmdigter wil die Here se Naam heilig. Hy wil so graag sien dat God se koninkryk moet kom, dat dit op aarde moet realiseer deur 'n aardse koning. Hy wil bitter graag hê dat dié heerskappy van God ook vir die volkere sigbaar moet wees in die dinge van die alledaagse lewe. En daarom speel die regverdige optrede van die vors waarvoor hy bid so 'n belangrike rol in sy gebed. Miskien het hy juis vir koning Salomo hier in gedagte. Die opskrif van die psalm wys moontlik in dié rigting. Dit beteken dat die heerskappy van God vir die volk sigbaar word in die dinge van die alledaagse lewe. En daarom is die regverdige optrede van die koning so belangrik. 'n Optrede waarin daar veral reg geskied aan die arme en die verontregte.

As voorbeeld van laasgenoemde kan ons kyk na die optrede van Koning Salomo in sy eerste regsitting – U onthou die verhaal van Salomo se raad aan die twee prostitute. Dit is dan ook nie toevallig dat Salomo aan die begin van sy regering vir die Here vir wysheid vra nie. 1 Konings 3:9 stel dit aangrypend: Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk regeer. Ons sien dus in die lewe van Salomo dat die wysheid van God hom instaat gestel het om reg te doen. Net in die volgende hoofstuk word die omvang van Salomo koningskap vir ons geteken …Juda en Israel was so baie soos die sand van die see...hulle het geëet en gedrink en was vrolik… Salomo het geheers oor al die koninkryke van die Eufraatrivier af tot by die gebied van die Filistyne… (1 Kon 4:21).

Daar is dus ooreenkomste tussen Psalm 72 en die regeringsperiode van Salomo. As ons dit in gedagte hou, is dit duidelik dat die psalmdigter nie sommer maar idealisties is oor 'n onmoontlike alternatiewe toekoms nie. As iemand met 'n intense verlange na 'n regverdige en beter wêreld nie. Dit is dan veel eerder duidelik watter perspektiewe sigbaar word onder die regering van 'n koning wat reg en geregtigheid in die praktyk uitvoer. Die regering van God en daarom ook die seën van God kry in die regering van Israel se regverdige koning konkrete gestalte. Omdat God baie naby aan sy volk is, is dit ook heel moontlik. Terselfdertyd is dit vol belofte. Want in die betreklik klein dingetjies word die oorweldige seën van God se reg en geregtigheid sigbaar.

Dit is op hierdie punt wat die psalmdigter ons as 't ware weer inspireer om te bid: Laat u Naam geheilig word, laat u Koninkryk kom, laat u wil geskied. Só, op hierdie manier, soos wat dié psalmdigter gebid het. Soos wat ons met Salomo se koningskap sien gebeur het. Maar is dit moontlik? Is dit nie idealistiese dagdromery nie? Wie is hierdie Koning en waar is sy koninkryk hiér aan die begin van die een-en-twintigste millennium?

Dit is ook die vraag wat die wyse manne gevra het in Matteus 2:1-12, wat ons evangelieteks vir vandag is: Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? (Matt 2:2). En dan kom die antwoord: in Betlehem, een van die "geringstes" onder die stede… En dan, eintlik so ánders as wat ons verwag, leer ons Hom ken as die Koning incognito, die Koning wat van geboorte tot dood wegkruip. In 'n stal gebore en as Johannes hom vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? – dan antwoord dié Koning: As jy My soek, soek My by die lammes, die melaatses, die dooies, die armes… Inderdaad 'n Koning wat wegkruip by die uitvaagsels, die onreines, die vreemdelinge, die eensames van die destydse samelewing.

Wat beteken dit dan om vir so Koning te bid? Dit beteken dat ons vanoggend bid dat Hy ons oë moet oopmaak vir dié koninkryk wat eintlik reeds gekom het, maar wat wegkruip, wat nie vir almal sigbaar is nie. Want God se koninkryk is slegs sigbaar, daar waar die Koning is. En vra ons wáár is dié Koning, dan kom ons agter dat die koning van Psalm 72 en die Koning vir wie ons bid dieselfde adres het: by die armes en die heidene. Want dit is húlle wat vir ons wys waar hierdie Koning incognito eintlik is. Daarom moet ons leer om Hom met die oog van 'n kind, van 'n arme, van 'n geplaagde, van 'n sieke, van 'n heiden raak te sien. Dit is dan ook dié Koning wat vir ons geleer het, gelukkig is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is (Matt 5:3).

Ons bid hierdie gebed natuurlik as onderdane. En onderdane is mense wat bereid is om hulle Koning te volg en mee te werk aan die koms van sý koninkryk. Hierdie onderdane sluit in regeerders, ekonome, sakemanne, mense in posisies van leierskap, maar ook armes, swakkes, mense wat Hý uitverkies het om dié wat sterk is te beskaam (1 Kor 1:27). Daarom roep hierdie Koning ook vir jou en my om die lewe van mense in beskerming te neem, om aan die hulpbehoewendes reg te bewys, om hulle saak aktief op te neem teen die verdrukker.

Alleen só kom die koninkryk en word ons gebed beantwoord. Alleen só kom die geseënde bedeling van die sjalom, alleen só word die volkere gelei in aanbidding en diens van die Koning. Alleen só sal God se koninkryk ook sigbaar word in die jaar en millennium wat voorlê. 'n Koninkryk wat nie net uit individue bestaan nie, maar ook uit 'n volk, uit 'n gemeenskap, uit 'n kerk waarin die sug van die arme gehoor word, waarin die verlange na reg en vrede opgevang word – en waarin die ryke beloftes van Psalm 72 vir die mens, die land en die wêreld gehoor word.

Dáárom moet ons vir hierdie koninkryk bid, want ons gebed is nie vrome wensdenkery en soet drome nie, maar die aangryp van 'n belofte waaraan die Beloftegewer herinner word. Die koninkryk kom alleen daar waar daarom gebid word: Laat u koninkryk kom… Epifanie laat ons ontwaak tot hierdie roepe, hierdie smeking en verlange na die Ryk.

Met Epifanie het hierdie koninkryk baie naby gekom. Dit het bereikbaar geword, dit het 'n adres gekry. En daar waar die Koning is, daar breek nuwe lewe deur in ons wêreld met sy gespanne verhoudinge in die huwelik en gesin, in kerk en samelewing, met sy armes en rykes, sy regeerders en landsburgers wat almal in afhanklikheid voor ons hemelse Vader bid:  Laat u koninkryk kom!"

 

Literatuur

Kruis, J. Woord in beweging I, 1989:205-219. Müller, BA. Woord teen die Lig I/7. Verder riglyne vir adventsprediking. 1990 19-31. Soards, M et al. 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year B.