20 MEI 2004

HEMELVAART – feesdiens

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Psalm 47

Ander tekste: Handelinge 1:1-11; Efesiërs 1:15-23; Lukas 24:44-53

Inleiding

Op Hemelvaart vier ons die opname van Christus in heerlikheid en mag in die teenwoordigheid van God die Vader. Dit is nog deel van Paastyd en daarom behoort die verband tussen die opstanding en die hemelvaart beklemtoon te word. Soos vir die res van die Paastyd is die liturgiese kleur vir hierdie fees wit. Indien enigsins moontlik behoort daar moeite gedoen te word om hierdie diens as ekumeniese geleentheid saam met ander kerke in dieselfde omgewing te vier.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

Lied 425 of 427

Aanvangswoord

Psalm 47:7-9, 10b

Seëngroet na aanleiding van Efesiërs 1:1-2)

Aan almal in……………….. (gemeentenaam) wat aan God behoort en in Christus Jesus glo:

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Aankondiging van Christus se troonsbestyging:

Lees Efesiërs 1:15-23.

Aanbidding en lof

Gepaste lofliedere soos Lied 428 of 429.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing uit Handelinge

Handelinge 1:1-11

Skriflesing uit die Psalms

Psalm 47

Skriflesing uit die Evangelie

Lukas 24:44-53

Prediking

Geloofsbelydenis

Die Geloofsbelydenis van Nicéa, of sing as alternatief Lied 259; Henk Temmingh se toonsetting van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Voorbidding

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalgebed

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die brood,

die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die wyn,

die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Mag die Here met julle wees!

Gemeente: En ook met jou!

Voorganger: Hef op julle harte.

Gemeente: Ons hef dit op tot die Here.

Voorganger: Kom ons bring dank aan die Here ons God.

Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger: Here, ons God, dit kom U toe dat ons dank en eer aan U bring –

oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

Na sy opstanding uit die dood

het Hy aan sy dissipels verskyn

en is Hy terwyl hulle dit sien, in die hemel opgeneem,

om daar aan u regterhand te regeer as die Koning van die konings.

Daarom prys ons u Naam saam met die hemelwesens,

saam met die profete en apostels,

saam met alles wat asem het.

Gemeente: Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

Hosanna vir die Seun van Dawid!

Prys Hom wat in die Naam van die Here kom!

Hosanna in die hoogste hemel!

Voorganger: Here God, Skepper van die hemel en die aarde,

U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.

Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom

sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,

en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

"Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis."

Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:

"Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis."

Gemeente: Ons verkondig u dood, Here Jesus!

Ons vier u opstanding uit die dood!

Ons wag op u koms in heerlikheid!

Voorganger: Here ons God,

ons roep vandag die lewe van u Seun Jesus Christus in herinnering,

sy lyding en sy dood aan die kruis,

maar veral ook sy triomf oor die dood

en sy Koningsheerskappy by U in die hemel.

Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Voorganger: As volgelinge van die Here Jesus Christus bid ons nou saam:

Gemeente: Die "Ons Vader"-gebed (kan ook in die vorm van Lied 266 of NSG 325 gesing word)

Vredesgroet: Die gemeentelede groet mekaar met ’n handdruk of omhelsing met die woorde: "Mag die vrede van die Here met jou wees."

Die instellingswoorde van die nagmaal, uitgespreek deur die voorganger, word gevolg deur die Agnus Dei (as alternatief kan Lied 379 gesing word):

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Wees ons genadig.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Ontferm U oor ons.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Here, gee ons u vrede.

Uitdeling van die tekens en kommunie

Lofprysing

’n Gepaste lied kan deur ’n koor gesing word – moontlik die Halleluja-koor uit Händel se Messias, of die openingsgedeelte uit die Gloria van Vivaldi. Alternatiewelik kan die gemeente een van die Hallelujas uit die Liedboek sing, byvoorbeeld Lied 218 of 228.

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Een van die liedere hierbo genoem.

Seën

Sang

Lied 317/NSG 355/356 of "Amen" (Kies enige van Lied 312-315.)

 

PREEKSTUDIE – EFESIëRS 1:15-23

Teks

Die Efesiërbrief vertoon die karaktertrekke van `n omsendbrief wat aan meer as een gemeente, waarskynlik in Klein-Asië, gerig was. Die aanduiding "aan die Efesiërs" is nie deel van die oorspronklike teks nie. Dit is nie seker hoe dit daar gekom het nie.

Die brief bestaan uit twee hoofdele: hoofstuk 1-3 en 4-6. Die struktuurelemente van 1-3 vertoon `n eie aard, wat dit in die genre van die Joodse berakah-gebed (bestaande uit `n lofroep en die rede vir die lof, en dan aangevul kan word met voorbidding, skuldbelydenis en `n geloofsbelydenis) plaas. Deel 1 is lofprysing aan God, wat aan die heidene deel gegee het in sy heil (1:3-3:21). Efesiërs 1:15–23 bestaan uit voorbidding vir die nuwe Christene (15-21) en `n geloofsbelydenis (22, 23). Die geloofsbelydenis bevat twee elemente: God het Jesus verhef tot Hoof, die Regeerder oor die ganse kosmos, en God het hierdie Regeerder aan sy volk as heilbewerker geskenk. Deel 2 van die brief bestaan uit ‘n vermaning met leerstellige uitbreidings oor die wese en funksie van die kerk (4:1–6:20).

Die breër verband van Efesiërs 1 kan in twee verdeel word. In 3-14 prys die apostel God oor die seëninge wat die gemeente in Christus ontvang het, terwyl hy in 15-23 bid vir die nuwe Christene – dat God hul oë sal open om die volle rykdom van hierdie seëninge te verstaan. In 15–20a gaan dit oor die verheldering van hul geestesoë, letterlik die "oë van julle hart", sodat die heilige waarheid herken en erken kan word. Dit gaan veral oor drie dinge: Eerstens om die hoop van hul roeping te ontdek en te ken. Tweedens om die rykdom van hul heerlike erfenis te verstaan. Derdens om te besef hoe groot die krag is wat Hy uitoefen in dié wat glo; dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgewek is, is aan die werk in die lewe van gelowiges. In sy opstanding is ook die krag van ons opstanding geleë.

Vers 20-23 word deur Stoot so onderverdeel dat die "grootheid van sy krag" in drie stappe gedemonstreer word: Jesus se opwekking uit die dood (20a), Jesus se heerskappy oor die bose (20b-22a) en Jesus se hoofskap oor die kerk (22b-23). Barth en Gnilka wys daarop dat die vier amperse sinonieme vir krag in 19 (dunamis, energeia, kratos en ischus), saam as omvattende beskrywing van die mag van God verstaan moet word. In 20-23 word hierdie mag bewys deur dit af te lei uit God se magsdaad, en wel in sy handelinge met Jesus Christus. Al vier die uitdrukkings: Hy het opgewek, Hy het laat sit aan sy regterhand, Hy het onderwerp, Hy het gegee, beskryf wat God aan Christus gedoen het. Dit word aktief geformuleer as dade van God en as demonstrasies van sy unieke krag.

Vers 23 bied `n probleem rakende die presiese aard van Christus se heerskappy met betrekking tot die wêreld. Sy heerskappy oor en in die kerk word bely, maar wat van die wêreld? Barth oordeel dat dit hier gaan om die heerskappy van Jesus oor alle dinge: die Heer van die kerk is ook die Heer van die wêreld. Volgens Gnilka juis `n troos vir die kerk in Klein-Asië, wat sosiologies onbeduidend en getallegewys swak was. Hulle Hoof is ook die hoof van die kosmos. Hulle Heer is Heer oor alle dinge. Dit gaan in die gedeelte oor die vraag na wie nou eintlik in beheer van die wêreld is. As die gemeente wil swig voor die angsvolle vraag omdat dit lyk asof die kwaad oral besig is om te oorwin, kom die bede dat die gemeente tot `n beter insig sal kom van wie eintlik in beheer is en wie eintlik oor alle magte regeer. Die sigbare grond vir hierdie beter insig is die opwekking van Jesus uit die dood.

As Jesus, wat opgevaar het na die hemel en aan die regterhand van God sit, tans in beheer is, is die volgende vraag: Wat is die aard van sy heerskappy? Van Ruler skryf dat God alle dinge regeer deur Jesus Christus, maar Hy heers Christelik en heilsaam met genade, liefde en lankmoedigheid. Dit is veral ook `n waarskuwing teen enige ongeduldige poging van die kerk om anders te wil heers, om self die knoop te wil deurhak. Dit gaan om Christus wat heers – oor sy kerk en oor die wêreld – en nie om die kerk wat (in sy plek) oor die wêreld mag of wil heers nie. Die saak van Christus kan slegs gedien word in die styl van Christus; deur sy Gees en nie deur krag of geweld nie. Ons word hier gewaarsku om nie ons eie saak en eie belang op so `n wyse met sy saak of sy belang te identifiseer nie, dat ons dan probeer om in sy naam, maar nie in sy styl nie, ons kruistogte te onderneem.

Ons moet onthou dat baie van hierdie voorlaaste werklikhede waaraan ons so tyd en energie spandeer, lankal in puin sal lê, terwyl sy koninkryk nog vas en seker sal kom. Hierdie waarheid word treffend geïllustreer in die speurverhaal van Chesterton "Die Hamer van God". Vader Brown ondersoek die moord van `n skurk wie se skedel met `n hamer verbrysel is. Die hele dorp verdink die dorpsmid, maar uiteindelik is dit die predikant, die broer van die vermoorde. Hy het die gewoonte gehad om hoog in die boonste toring van die katedraal te sit van waar hy almal se doen en late kon dophou. Daar in die toring het hy toornig geraak oor die misdadigheid van sy broer en hom met `n hamer gegooi. Vader Brown sê vir die predikant dat die berge gemaak is om na op te kyk en nie om daarvandaan af te kyk nie. So is kerktorings gemaak as vingerwysers na God en nie vir ons om daarvandaan af te kyk op ons medemens nie, want dan word hulle soos insekte in ons oë.

Dit is Christus wat regeer en nie ons wat in sy naam, namens Hom, met toorn regeer nie. Hy regeer in liefde en sagmoedigheid, met vergifnis en geduld. Ook Jüngel waarsku teen ons diep sluimerende verlange na die hoogtes en om self in die hemel te sit en regeer (speel "as ek God was"). Die waarheid is dat God tans Christelik regeer in die wêreld, nie deur krag en geweld nie, maar deur sy Gees. Dit beteken meestal verborge, onsigbaar, onherkenbaar, in ‘n dienskneggestalte. Daarom is dit vir die Christen `n geloofswerklikheid. Soms breek daar flitse van sy heerskappy deur, maar dit bly maar flitse. Dat Christus regeer, is geen ervaringsfeit nie, nie die logiese gevolgtrekking uit `n neutrale analise van gebeure nie, maar `n geloofsbelydenis wat verkondig en geglo word, dwarsdeur aanvegtinge heen.

Wat beteken dit dat Jesus na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God sit? Dit is beeldspraak wat wil sê dat Jesus die heersersposisie ingeneem het. In die Ou Testament is die regterhand van God die beeld vir sy krag. Die regterhand van God is dit waarmee Hy magtige dade op aarde bewerkstellig. Wanneer Jesus aan die regterhand van God sit, beteken dit dat Hy die mag en die krag van God besit. Dit is die posisie van waar Jesus intree, sorg, regeer en oorwin. Dit is presies wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde." Daar is dus niks of niemand wat mag en sê oor ons het nie. Daar is niks wat ons kan skei van die liefde van God nie. Die hele wêreld, die geskiedenis en ook ek, is in sy hande.

Hier kan treffend na Openbaring 5 verwys word, waar Jesus die leeu en die lam die boek ontvang wat in God se regterhand is. Ons lees in Openbaring 5 dat daar gesoek word na iemand wat waardig genoeg is om die boek in God se regterhand, die boek waarin sy ewige planne vir die wêreld geskrywe staan, te neem en om die planne daarin tot uitvoer te bring. Net as dit lyk asof daar niemand is nie, sien Johannes die Leeu en die Lam, Jesus wat Homself oorgegee het soos `n Lam, maar die oorwinning behaal het oor die dood en die sonde, soos `n Leeu. Hy ontvang die boek en Hy regeer tans die wêreld volgens die ewige planne van God. Jesus regeer. Ons weet dit deur die geloof. Met die blote oog is dit nie altyd sigbaar nie, inteendeel, ons sien Jesus nie regeer in die wêreld nie. Ons sien Hom selfs min in sy kerk regeer. Jesus se tyd aan die regterhand van God is vir die kerk `n tyd van hoop en glo.

Preekvoorstel

`n Moontlike tema vir prediking oor die gedeelte kan wees: Jesus regeer. Ons het `n eindelose hoop. Nie `n hopelose einde nie.

Inleidend kan verwys word na die vraag waarmee almal worstel: Wie regeer vandag die wêreld? Is God regtig in beheer? As Hy in beheer is, hoekom lyk dit nie so nie en hoekom doen Hy nie iets nie? Hoekom sien Hy nie die bose mense reg nie? Ons ken die speletjie: "As ek God was, sou ek …" Man Friday vra hierdie vraag vir Robinson Crusoe, waarop hy dan antwoord: As God die bose mense moet regsien, moet Hy dalk by my en jou begin.

`n Eerste vraag: Regeer Jesus? Dit lyk asof alles op `n hopelose einde afstuur. Die vraag is `n brandende vraag in die harte van baie mense. As ons klinies en logies na die wêreld rondom ons kyk en alles wat gebeur, sal dit baie moeilik wees om enigiemand te oortuig dat God in beheer is. Haat, moord, geweld, misdaad, onreg, armoede, vigs, werkloosheid, siekte en dood, is aan die orde van die dag. Regeer Jesus? As ons nie so godsdienstig was nie sou ons kon lag oor hierdie vraag. Dit lyk inderdaad asof alles afstuur op ‘n hopelose einde! Asof ons op `n sinkende skip leef. Selfs ons gelowiges moet maar erken dat hierdie vraag in ons harte leef. Ons glo en ons wil graag glo, maar Here, dit lyk nie goed nie. U maak dit vir ons so moeilik! Kan U nie u mag bewys nie? Kan U nie maar die goddeloses regsien nie? Dan bedoel ons nie U moet by ons begin nie, U weet mos wat ons bedoel. Beteken Jesus se Hemelvaart en die feit dat Hy aan die regterhand van God sit, dan niks vir ons hier en nou nie?

Die antwoord: Jesus regeer. Ons het `n eindelose hoop. Dit gaan inderdaad in hierdie gedeelte oor God se heerskap oor alle dinge. Hy is die een wat heers oor die ganse aarde. As ons wil swig voor ons angstige vraag, is die gebed juis dat ons `n beter insig sal kry oor wie in beheer is. Jesus is in beheer! Maar Hy heers Christelik en heilsaam met genade, liefde en lankmoedigheid. Dit is Christus wat heers en nie ons wat namens Hom moet heers, of die knoop moet deurhak nie. Die storie van Chesterton sal goed hier gebruik kan word. Ons het maar die neiging om self in die hemel te sit en te regeer. Die waarheid is dat God tans die wêreld regeer, nie met krag en geweld nie, maar deur sy Gees. Dieselfde gesindheid van Jesus, moet ook ons gesindheid wees wanneer ons daagliks met mense te doen kry.

Die Nederlandse dominee Okke Jager sê dat ons oordeel soos mense in bomwerpers is. Ons is te hoog om vriend en vyand te onderskei. Daarom maak ons veralgemeende en vernietigende oordele. Ons praat in bondels van die jeug, die ouer geslag, die of daai soort mense. Ons etiketteer, klassifiseer en gooi bomme uit die hoogte in God se Naam. Hemelvaart is nie net `n tyd vir boontoe kyk nie, maar ook `n tyd vir rondom ons kyk en vorentoe kyk. Rondom ons, om ander mense met Jesus se oë raak te sien. Ja, om met genade na ander te kyk. In die film Ironweed sien die twee hoofkarakters `n dronk Eskimo-vrou in die sneeu lê en vra: Wat sal ons met haar doen? Is sy toevallig dronk of is sy maar `n boemelaar? Sy was maar nog altyd `n boemelaar. Wat was sy voordat sy `n boemelaar geword het? `n Prostituut in Alaska. En voor daardie tyd? Seker net `n onskuldige dogtertjie! Wel, `n onskuldige dogtertjie is goed genoeg. Kom ons neem haar in. Dit is om met God se oë te kyk. Om met genade te kyk, eerder as met oordeel.

Hemelvaart is ook `n tyd vir vorentoe kyk. Juis omdat ons in die geloof kon opkyk en kon sien dat Jesus regeer, kan ons ook in hoop vorentoe kyk, en voluit begin leef, omdat ons weet dat alles reg is, al lyk dit so asof alles verkeerd is. God regeer deur Jesus Christus, die Een wat waardig was om die boek te kon neem. Vir ons is dit `n geloofswaarheid, nie `n feit wat jy klinies en logies kan aflei uit die gebeure nie. Dit is `n geloofswaarheid wat geglo en verkondig moet word, teen die aanvegtinge in. Jesus is aan die regterhand van God, besig om te regeer. Vir ons is sy tyd aan die regterhand van God `n tyd van hoop en `n tyd van glo. Soms breek daar duidelike flitse deur van sy heerskappy, maar dit bly net flitse tot eendag wanneer sy koninkryk sal kom .

Bibliografie

Smit, D J 1983. Riglyne vir Paas, Hemelvaarts en Pinksterprediking; Smit, D.J. 2000. ... want God is ons Hoop; Ladd, G E A 1975. Theology of the New Testament; Simpson, E K 1982. The epistles to the Ephesians; Botha, F J 1984. Handleiding by die Nuwe Testament, vol. 5.