Ander
tekste: Jeremia 23:1-6; Kolossense 1:11-20; Lukas
23:33-43
1. ‘‘n Vaste burg is onse God” is die nou al
bekende opskrif wat Luther aan dié Psalm toeskryf.. Dit is ‘n gepaste titel na aanleiding van die beskrywing van God
met woorde soos: ‘toevlug’,
‘beskerming’, ‘helper’ en die refrein ‘beskutting’(8,12).
Dié Psalm
spreek ook van ‘n onwrikbare vertroue in dié God. Daarom het baie juis ook ‘vertroue’ as tema vir Psalm 46. P C Craigie noem dit ‘Psalm of Confidence’ en R Kittel die
‘Hooglied van vertroue’.
Prinsloo
noem dat ‘n mens ook dié Psalm kan tipeer as “een van die modelvoorbeelde van
die psalmdigkuns”.
2. Wat genre betref, loop die menings
heeltemal uiteen omdat Psalm 46 uit soveel verskillende elemente bestaan. Daar is elemente wat herinner aan die
himne. Dit begin by die lof van God (2)
en eindig daarmee (12). Aangesien die
psalm deurtrek is van elemente van vertroue meen Prinsloo dat die meeste
eksegete daartoe neig om dit as ‘n kollektiewe vertrouenslied te klassifiseer.
Die
kombinasie van verskillende elemente maak van Psalm 46 ‘n unieke psalm.
Gevolglik is dit moeilik om een spesifieke genre uit te sonder. Tog blyk die mees gebalanseerde weg om hier
te volg die van D H Odendaal – (Woord teen die Lig 11/4 bl. 113 e.v.) te wees. Hy stel voor dat Psalm 46 as ‘n Sionslied beskou moet word waarin
beide bogenoemde elemente, naamlik lofprysing en vertroue, tot hulle reg kom.
Sionsliedere
is ‘n onderafdeling van die himnes en word gekenmerk deur hulle fokus op
Sion/Jerusalem, die stad van Jahwe.
Hoewel die naam Jerusalem of Sion nie in Psalm 46 voorkom nie is vers 5
ongetwyfeld ‘n verwysing daarna. Ten
diepste gaan dit oor God wat sy
woonplek in Sion maak.
3. Die psalm vorm ‘n strukturele eenheid
waaroor nie gedebatteer hoef te word nie.
Ons vind hier ‘n kombinasie van verskillende stylfigure ten einde ‘n
sekere effek tuis te bring. Die ruimte
ontbreek om hier reg te laat geskied aan al die verskillende fasette en
betekenisse van hierdie inhoudryke psalm.
Ek verwys u graag na Woord teen
die Lig 11/4 bl. 113 - 118 en (W S Prinsloo) Van Kateder tot kansel
bladsy 73 – 93, vir ‘n meer volledige uiteensetting.
Ons sal
vervolgens oorsigtelik na sekere struktuur-elemente kyk. Die struktuur is drieledig. Die volgende drie strofes kan onderskei word
: 2 -4; 5 -8 en 9 -12.
In die
eerste strofe oorheers die chaosmotief, waar die chaosmagte van die natuur
beskryf word. Die relasie tussen 2, 3
en 4 kan soos volg saamgevat word : In
2 word ‘n stelling gemaak en die gevolg daarvan word in 3 weergegee. Vers 3 sê verder ook onder watter
omstandighede die beskerming plaasvind.
In vers 4 word hierdie laaste faset uitgebou by wyse van die chiastiese
struktuur en die voortsetting van dieselfde beeld.
In die
tweede strofe kom die paradysmotief na vore waar die rus en vrede wat God
bewerkstellig teenoor die chaos van 2-4 staan.
Teenoor die bruisende waters van vers 4 kry ons in 5 die kalmte van die
strome. Die gevaar wat in vers 6
gesuggereer word, word uitgespel in vers 7.
Vers 8 verbind as refreinvers oorkoepelend met die voorafgaande
verse. Die paradysmotief wil die
sekuriteit van Jerusalem beklemtoon.
Daarom is 5 en 6 baie teosentries.
Nie die stad nie, maar God self is die oninneembare vesting. Vanselfsprekend speel die elemente van
vreugde en blydskap ook ‘n belangrike rol.
Aangesien Jerusalem nie oor riviere beskik nie, is ‘die strome van die
rivier’ (5) bloot simbool vir die voortdurende trou van God.
Dié gedig
beweeg in sy geheel na sy klimaktiese ontkoming in die laaste (9 -12) waarin
God soewerein die onstuimige mensheid tot orde roep en sy koninkryk van vrede
finaal vestig. Die laaste strofe trek
ook die aandag deurdat dit hier onverwags oorgaan na die direkte aanspreekvorm
teenoor die verhalende beriggewing van die voorafgaande twee strofes. In 9 -10 is die digter aan die woord, maar
in 11 is God self aan die woord. Die
dubbele imperatiewe (opdragte) by 9 en
11 beklemtoon die opdragte en dade van God.
Samevattend
kan gesê word dat die poëtiese kunswerk van Psalm 46 daartoe bydrae om die
handelinge van God nog meer te beklemtoon.
4. Wat die ontstaan en funksionele ruimte
(Sitz in Leben) betref kan ons hier volstaan deur te sê dat daar drie
benaderingswyses is, naamlik die historiese; eskatologiese (J. Ridderbos;
Gunkel) en die kultiese. Weer eens word
hier gekies vir ‘n gebalanseerde middeweg naamlik die kultiese interpretasie. Die historiese en eskatologiese momente
vloei inmekaar wanneer die gemeente voor die aangesig van die Here verkeer.
Die
verkondiging van God se almag en liefde is sentraal in Psalm 46.
(a) Hy heers oor die magte van die natuur (2 - 4
) en die politieke magte (5 - 8).
(b) As “God van Jakob” (8, 12) is Hy die
liefdevolle versorger van sy volk en hou Hy rekenskap met ons swakheid. Hy is ‘n toevlug (2); beskerming (2); ‘n
helper (6), ‘n beskutting (8,12).
(c) Vir Israel is Sion simbool van hierdie
versorging en liefde (5 en 6).
Dit is ook belangrik dat die oproep tot geloof en
vertroue (11) in die regte konteks geplaas word. Geloof staan nie op sy eie nie.
Geloof het altyd ‘n gerigtheid. Dit
is gerig op God. Geloof is leeg, hoe
groot en sterk dit ookal mag voorkom.
Dit is hierdie gerigtheid van geloof op God, wat krag gee ten aansien
van krisisse en benoudhede. Dieselfde
kan van vertroue gesê word. Wat ons in
‘n vertrouenslied het, is geloofstaal.
Soos reeds gemeld, wil die Psalm nie op enige spesifieke historiese
noodsituasies gerig wees . Dit praat in
breë, algemene taal van die bedreigings van kosmiese en politieke magte. Die wat
van die nood is, is dus nie so belangrik nie, maar wel dat geloof wel
aanvegbaar is.
Die
verskillende elemente en fasette van Psalm 46 bied ruim moontlikhede vir die
prediking.
(a) Daar
sou oor die getrouheid en teenwoordigheid van God gepreek kan word na
aanleiding van die refrein verse (8,12).
(b) Met vers 11 as uitgangspunt kan gewerk word
met die oproep tot geloof en vertroue in God.
(c) Met verse 5 en 6 as uitgangspunt sou oor God
se teenwoordigheid in die kerk gepreek word en die gevolglike getuienis van die
kerk na buite (9).
1. Groot krisisse in ons lewe, bring ons
dikwels van koers af. Dit laat ons
rigting verloor. Ons geloof kom dan
onder aanvegting en word tot die uiterste toe beproef.
Vir die
geloof gaan dit ook gepaard met twyfel, onsekerheid, vrees en moedeloosheid
mee.
Verse 3 en
4 herinner aan die toneel van ‘n aardbewing.
Die onbeweeglikheid van berge laat ons dink aan alles wat vas en seker
is. Die see laat ons weer dink aan
onrus en dreiging. Dit is iets
soortgelyk wat ‘n mens ervaar in ‘n groot krisis. Alles wat dan nog so vas en seker vas, skuif as 't ware onder ons
voete uit. Alle aardse sekuriteit is
meteens in die weegskaal. ‘n Situasie
van totale uitsigloosheid tree dikwels navore.
2. Dit is in sulke omstandighede dat God se
woorde in vers 11 tot ons kom: “Bedaar en erken dat Ek God is.”
Hoe is dit
moontlik om in sulke omstandighede bedaard, kalm en rustig te wees? Is dit enigsins moontlik? Is dit dalk nie onrealisties om so iets van
‘n mens te verwag nie. Psalm 46 wil vir
ons sê: Ja, dit is inderdaad moontlik.
Maar dit is
nie moontlik vir dié mens wat op sy eie vermoëns steun nie. Ook nie vir hulle wat op wankelbare aardse
sekuriteite vertrou nie (vgl. Luk 12:15).
Selfs nie vir hulle wat meen dat hulle geloof baie sterk is nie.
Nee, die
‘vermoë’ om rustig/bedaard te wees te midde van geloofsaanvegtinge, lê buite onsself. Ons vind rus as ons ’ontdek’ wie God is. Dit lê in die erkenning van Wie God is. Ons word dus opgeroep tot geloof en vertroue
in God.
Hierdie
formule ‘Bedaar en erken’ gaan feitlik sonder uitsondering altyd vooraf deur ‘n
uitspraak oor ‘n magsdaad van Jahwe (Prinsloo). Hierdie oproep of selfs belydenis is met ander woorde gebaseer op
die heilsdade van God. Op digterlike wyse beskryf Psalm 46 vir ons Wie God is.
Hy is die Almagtige, die groot Koning.
Wat heers oor die natuur (2 4) en die geskiedenis (5 -12). Hy is ook die
liefdevolle versorger van sy volk. Hy
is ‘n toevlug (2); ‘n helper (6) ‘n beskermer (2); ‘n beskutting (8, 12). Die
benaming ‘God van Jakob’ dui daarop dat God in sy Almag ook rekening hou met
ons swakhede. Vir Israel was Sion in ‘n baie besondere sin die simbool en teken
van hierdie versorgende teenwoordigheid van God (5, 6). Geloof is ‘n totale
oorgawe en matelose vertroue in hierdie God.
3. Met hierdie geloof en vaste vertroue op die
Almagtige God, kom staan die Ou-Testamentiese gelowige in sy krisis en
verklaar. “Daarom is ons nie bang”
(vers 3). Al gebeur die onwaarskynlike
(2-4) is daar selfs geen vrees vir dié wat skuil in ‘die rots van die eeue’
nie. Hulle “hulp kom van die Here wat
die hemel en die aarde gemaak het” (Ps 121:2).
God is hulle beskutting (8,12), hul ‘vaste burg’ (Luther).
Die vraag
is dus of ons as gemeente saam met Psalm 46 kan bely dat ons tenvolle op die
Here vertrou. Vertroue en geloof in
Hom, voorsien nie ‘n probleemvrye en noodvrye lewe vir die gelowige nie, maar
wel ‘n toevlug en beskutting ten tye van die nood. Hy is self vir ons die oninneembare vesting (5).
Die
versoeking is altyd daar om nie ons vertroue in die Here alleen te stel
nie. Wanneer die oormag te oorweldigend
vir ons lyk, mag ander weë baie meer
aanlokliker en seker lyk. Met Israel het
dit dikwels gebeur. Die perde en
strydwaens van Egipte was gesoek as beskutting teen die magtige Assirië (vgl.
.Jes 28:15, 16; 30: 2-3).
Dit is vir
die gelowige wanhopige pogings om van die chaosmagte te ontkom. God vra van ons om al hierdie gewoel en
vrugtelose pogings te laat staan en te “bedaar en erken dat Ek God is”.
Bibliografie
Wtl 11/4 (113 -124); J Ridderbos (Kampen 1958); H.J. Kraus (Augsburg Publ. House); PC Craigie (WBC); W S Prinsloos : Van kateder tot kansel 73 -102 F C Fensham : Songs from a strange land 100 - 110 A A van Ruler : Over de Psalmen gesproken 142 - 143.