13 April 2003

SESDE SONDAG IN LYDENSTYD palmsondag

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Psalm 31: 10-17;

Ander tekste: Markus 11: 1-11; Markus 14-15; Jesaja 50: 4-9a; Filippense 2: 5-11

Inleiding

Saam met Paassondag is Palmsondag sekerlik een van die heel belangrikste Sondae in die kerklike jaar: dit is die laaste (en daarom die hoogtepunt) van die ses Lydensondae. Dit is ook die begin van die Groot Lydensweek en in die evangelielesing vir die Sondag (Mark 14-15) word die gebeure van die res van die week reeds in vooruitskou geneem. Op hierdie Sondag word die intog van Jesus in Jerusalem gevier. Omdat dit ook die begin van die Groot Lydensweek is, moet dit egter nie uitsluitlik as n triomfantelike geleentheid gevier word nie. Die intog wat herdenk word, is dié van die Koning wat gekom het om te ly en te sterwe. In die liturgiese voorstel wat hier aangebied word, word daar in die eerste deel van die diens op die intog gefokus, terwyl die prosessie van die gemeente die oorgang bewerkstellig na die tweede deel van die diens waar daar op die lydensverhaal gefokus word. Die fokusteks (Ps 31:10-17) gee die onderliggende toonaard van die dag aan, naamlik dreigende onheil.

Die liturgiese kleur vir Palmsondag is dieselfde pers as vir die res van Lydenstyd, of n dieprooi wat dui op die bloed van Christus wat op Goeie Vrydag gestort is. By baie kerke is dit die gebruik om kruisies wat van palmblare gevleg is aan lidmate uit te deel (vind by die plaaslike Anglikaanse of Roomse kerk uit hoe die kruisies gevleg word). Die binnekant van die kerk moet so min as moontlik versier word: konsentreer op simbole van Christus se lyding, soos die kruis en die doringkroon. Verkieslik geen blomme nie.

In sommige gemeenskappe is dit die gebruik om op Palmsondag n optog met palmtakke deur die strate te hou. Dit kan n goeie geleentheid wees vir ekumeniese samewerking tussen nabygeleë gemeentes van verskillende denominasies.

Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in n gemeente is, kan n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

GOD VERgader ONS VOOR HOM

Indien dit prakties moontlik is, kom die gemeente voor die aanvang van die erediens buite die kerkgebou byeen waar daar palmtakke aan almal of aan n gedeelte van die gemeente (byvoorbeeld die kinders) uitgedeel word. Die voorganger verduidelik kortliks die doel van die dag se feesviering deur byvoorbeeld te sê: "God het ons vandag bymekaar gebring om die begin van Jesus se Groot Lydensweek te gedenk. Ons dink vandag in besonder aan sy intog in Jerusalem toe hy die stad binnegekom het om sy verlossingswerk te voltooi: om te ly, te sterwe en op te staan uit die dood".

Aanvangswoord/Votum

Voorganger: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Gemeente: Hosanna vir die Seun van Dawid!

Voorganger : Mag die Here met julle wees.

Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Laat ons saam bid:

Here God van ons verlossing,

verleen in genade aan ons u bystand

terwyl ons naderkom om u groot dade te oordink,

die groot dade waarmee U vir ons die ewige lewe bewerk het;

deur u Seun, Jesus Christus, ons Here.

Gemeente: Amen.

Skriflesing

Markus 11:1-11

Drumpelgebed:

Voorganger: Mag die Here met julle wees.

Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Kom ons dank die Here ons God.

Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring

Voorganger: Ons loof en dank U, o God,

Vir die groot liefdedade waarmee U ons verlos het

deur u Seun Jesus Christus, ons Here.

Op hierdie dag het Hy die heilige stad Jerusalem triomfantelik binnegegaan

en is Hy deur die skares as Seun van Dawid en Koning van die konings verwelkom.

Help ons dat ons Hom altyd sal eer as ons Here en Koning

en Hom sal volg met volkome vertroue.

Ons vra dit in sy Naam,

Hy wat saam met U en die Heilige Gees leef en regeer,

een God, nou en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Voorganger: Laat ons nou verder gaan.

Gemeente: In die Naam van die Here.

Die gemeente beweeg hierna die kerkgebou binne terwyl n lied (byvoorbeeld Ps 100: 1-3 en/of

Lied 326: 1-4) gesing word. Die palmtakke kan voor in die liturgiese ruimte en/of in die paadjies neergelê word.

Voorganger: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Gemeente: Hosanna vir die Seun van Dawid!

 

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Skriflesing uit die Ou Testament

Jesaja 50: 4-9a

Skriflesing uit die Psalms

Psalm 31: 10-17

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

Filippense 5: 2-11

Sang

n Geskikte lydenslied byvoorbeeld Lied 390: 1-3.

Skriflesing uit die evangelies

Matteus 14 en 15 (of Markus 15: 1ev). Die Skriflesing kan soos volg verdeel word en afgewissel word met gemeente- en/of koorsang: Matteus 14: 1-9; 14: 10-25; 14: 26-52; 14: 53-72; 15: 1-20; 15: 21-32; 12: 33-47. Dit word aanbeveel dat daar van verskillende stemme gebruik gemaak word vir die voorlesing.

Indien Lied 390: 1-3 voor die evangelielesing gesing is, kan vers 4 van dieselfde lied nou gesing word.

Prediking

Dit kan kort gehou word om nie af te doen aan die krag van die lydensverhaal self nie.

Tyd van stilte

Die volgende litanie gebaseer op die sogenaamde "Stasies van die kruis", kan oorweeg vir gebruik na die prediking

Voorganger: Here, U het vir u dissipels gesê: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg." In u Naam bid ons:

Gemeente: Here, help ons om ons kruis op te neem en U te volg.

Voorganger: U het voor Pilatus gestaan, ter dood veroordeel, terwyl u woord verwerp en u onskuld verag is.

Gemeente: Bewaar ons daarvan om u Woord wat vol waarheid en heil is, te verwerp.

Voorganger: U het u kruis gedra, uit liefde vir ons en vir die ganse mensdom.

Gemeente: Help ons om ons kruis te dra, uit liefde vir U en vir ons medemens.

Voorganger: Die gewig van u kruis was die las van ons sonde wat ons laat struikel en val.

Gemeente: In ons swakheid kom ons na U toe vir krag.

Voorganger: Al het U gely, het U steeds uitgereik en u moeder versorg.

Gemeente: Gee dat die kruis wat ons dra, ons nie sal verhinder om na die mense rondom ons om te sien nie.

Voorganger: Toe U geworstel het om u kruis te dra, het hulle n verbyganger gedwing om dit te dra.

Gemeente: Maak ons gewillig om soos Simon die laste van hulle wat swaarkry, te dra.

Voorganger: Ander het dit ook gewaag om U by te staan.

Gemeente: Versterk ons geloof sodat ons dit ook sal waag om na ons broers en susters om te sien.

Voorganger: Die las van sonde het swaar op U gerus terwyl U op die kruisweg voortgestrompel het.

Gemeente: Vergewe, Here, die sonde wat ons laat struikel en val.

Voorganger: U lyding op pad na Golgota het die vroue van Jerusalem laat huil.

Gemeente: Gee dat ons lyding in hierdie lewe opgeneem sal word in u lyding op pad na die kruis.

Voorganger: Die volle las van ons sonde het U verbrysel.

Gemeente: Laat ons nie in ons sonde aan onsself oor nie, maar bewerk in ons berou en geloof.

Voorganger: Ontbloot en bespot, het U die vernedering verduur sonder om daaroor te kla.

Gemeente: Maak ons nederig in dit wat ons doen en daagliks ervaar.

Voorganger: Vasgespyker aan die kruis, het U u plek ingeneem tussen die veroordeeldes.

Gemeente: Wees so ook tussen ons as sondaars en bring ons deur geloof saam met U in die paradys.

Voorganger: Toe u offer volbring is, het U u lewe in die hande van die Vader oorgegee.

Gemeente: Hou ons naby aan u kruis en aan u dood, nou en in die uur van ons dood.

Voorganger: Troue vriende en toegewyde vroue het u liggaam versorg.

Gemeente: Maak ons troue en toegewyd in die versorging van u liggaam, die kerk hier op aarde.

Voorganger: In die graf is U neergelê, maar uit die graf het U opgestaan.

Gemeente: Wees die Heer van die opstanding vir ons en vir almal wat aan U behoort.

Voorganger: Here Jesus, ter wille van u kruis en lyding, is ons vrygespreek deur geloof,

skoon gewas van ons sonde, en herstel in ons verhouding met God.

Ons dank U vir u kruis en vir die diepte van u liefde vir ons.

Help ons om ons kruis in die wêreld te dra en om U te volg totdat U ons saam met U in die koninkryk van God laat ingaan,

waar U saam met die Vader en die Heilige Gees regeer, een God, nou en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Geloofsbelydenis

Gemeente: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader

Voorganger: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word

Gemeente: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is

Voorganger : Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die

kruis

Gemeente: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader

Voorganger: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam i is

Gemeente: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel/ en op die aarde/ en onder die aarde is,/ die knie buig,/ en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!

Voorganger: Tot eer van God die Vader.

Gemeente: Amen

Offergawes

UITSENDING

In sommige kerke is dit gebruiklik om nie n slotsang aan die einde van die erediens op Palmsondag te sing nie, omdat die gemeente daarvandaan die Groot Lydensweek binnegaan.

Seën

Voorganger: Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.

Gemeente: Amen

 

PREEKSTUDIE PSALM 31

Teks

Die begin van Psalm 31 herinner sterk aan Psalm 13 en 14. Dit begin met n oproep tot die Here om hulp, asook n belydenis van vertroue. Die digter sê dat hy baie swaar kry (10vv ). Hy getuig dat hy die Here vertrou en dat die Here hom vrymaak van die laste (v 6, 15, 16). Verder roep hy almal wat die guns van die Here geniet op tot getuienis (v 24). Heelwat eksegete klassifiseer die psalm as n klaaglied. Claus Westermann beskou die psalm nie as suiwer klaaglied nie, maar wys eerder op die lof en dankbaarheid wat daaruit voortspruit. Hy sien ook kenmerke van die wysheidsliteratuur in die psalm. Die psalm word grootliks geklassifiseer as n danklied.

Daar is uiteenlopende kommentaar oor die eenheid van die psalm. Sommige meen dat dit twee psalms is wat saamgevoeg is, maar die meeste kommentare meen dit is een psalm wat as eenheid hanteer moet word. Daar is verskeie strukturele bewyse dat die psalm n eenheid moet wees; herhaling van trefwoorde en begrippe regdeur die psalm. Let veral op verse 2 en 20 (skuil), vertroue (v 7 en 15). Die verlossende hand van Jahwe (v 6, 16a), teenoor die vyand en goddelose se "hand" (v 9, 16). Struktureel en inhoudelik beskou ek die Psalm as n eenheid en kies om dit as eenheid te preek. Sekere gedeeltes sou wel uitgelig kon word om meer as een preek te vorm. Die psalm bestaan uit twee eenhede wat nie werklik geskei kan word nie: (i) Verse 2-9 weerspieël die vorm van n gebed; (ii) Vers 10-25 vorm die tweede deel, waarin die digter afwisselend eers met sy eie lyding en dan met die Here en met ander gelowiges, besig is; (iii) Vers 10-14 brei uit oor sy eie benoudheid; (iv) Verse 15-16a bevestig sy vertroue in die Here; (v) Vers 16b-19 is n gebed tot die Here; (vi) Vers 20-23 is n uitroep van dank aan die Here; (vii) Die digter sluit die psalm af (v 24-25) met n oproep aan medegelowiges.

Die digter se nood word voortdurend in die psalm beklemtoon; soms as n klaaglied aangebied. Die digter se liggaam is uitgeput en sonder krag; nie net sy sig nie, maar ook ander fisiese aspekte moes ernstig agteruitgegaan het (vers 10). In vers 11 is dit duidelik dat bekommernis een van die oorsake van fisiese agteruitgang is. Hy het baie swaargekry deur die jare, en baie ellende beleef. Dit het weer n invloed op sy liggaam. Dit kom voor asof die digter afgetakel is na liggaam en gees. Die feit dat bekendes en bure hom vermy en vyande met hom spot, maak sy aftakeling van liggaam n sigbare werklikheid. Mense wat hom sien, vlug van hom af weg. Hy sê dat mense hom vergeet. Dit kan wees dat hy al n geruime tyd hierdie verwerping ervaar. Daar is selfs mense wat van hom ontslae wil raak. Dit klink asof hy nie meer in die samelewing inpas nie (vgl Gen 37:2; Jer 20:10). Die indruk word ook gewek dat die saak wat hom die meeste ontstel, die omstandighede rondom sy "siekte" is; dat daar mense (vyande) is wat hom ook nog verwerp, asof dit nie reeds genoeg is dat hy homself siek bekommer en ly nie. In die psalm staan die digter in sy pyn voor die Here, maar ook in sy pyn voor die genade van God (v 19-21).

Die digter se pleitroep by God kom sterk aan die orde in die Psalm; vers 5-6 en 16b 19 is die digter se dringende pleitroep oor sy nood. Hy pleit dat die Here hom moet red van sy vyande. Dit is opmerklik dat hy nie pleit dat die Here hom moet red van sy siekte of omstandighede nie, maar van sy goddelose vyande wat hom vervolg. Dit is natuurlik ook so dat sy pleitroep om redding vir sy eie "genesing" kan wees, en dat sy vyande deur sy genesing stilgemaak word. In vers 4 dui hy aan dat sy vertroue in die Here ter wille van die Naam van die Here is. Daar is n eksegeet wat meen dat die digter as gevolg van die uitspraak van vers 4 by die Here om redding pleit nie om sy eie eer nie, maar om die Naam van die Here. Dit mag so wees, maar ek dink die persoonlike pleitroep na die Here, en die intensie van vers 9-16, is eerder aanduiding daarvan dat die digter sy nood subjektief en vernederend ervaar. Die inhoud van die psalm weerspieël n eerlike en pynlike ervaring wat die digter vanaf vers 9 met sy lesers deel. Die toon van die pleitroep moet op n manier deurgegee word.

Die digter se vertroue en dankbaarheid teenoor die Here, vorm die hart van die psalm (eerste gedeelte van verse 2-9, asook gedeeltes in verse 15, 16, 20-23). Die metafoor dat die Here die gelowige se rots en vesting is (v 2-4) is nie vreemd aan die Psalms nie (vgl Ps 18:32; 19:15; 28:1; 62:3; 71:3; 94:22) en kom helder in die boodskap van die psalm na vore. Van Uchelen wys op die mooi teenstellings in die psalm, soos die hande van die Here (v 6, 16) teenoor die hande van die vyand (v 9, 16). Vers 20 lig die goedheid van die Here uit, asook dat die digter ten spyte van alles, bereid is om by die Here te skuil (die skuiling, v 2-4). Die digter bely dat die teenwoordigheid van die Here sy volgelinge beskerm (v 21), en dat die Here vir die digter sy trou op n besondere wyse getoon het toe hy verslaan was (v 22). Die digter se dankbaarheid en vertroue word dan gewys deur sy oorgawe aan die Here (v 2a, 6, 7, 8, 15, 16, 22, 23 en 24). Die digter deel oënskynlik n diep ervaring van sy eie lyding met die leser ; vertroue en dankbaarheid is deurgaans die uitkoms en hoogtepunt van sy lydingservaring.

Konteks

Die teks is tradisioneel dikwels as lydensteks gebruik. Miskien is dit omdat vers 6 baie ooreenstem met die laaste kruiswoord van die Here Jesus aan die kruis (Luk 23:46). Om die rede het baie vroeëre eksegete die teks direk Messiaans geïnterpreteer, asof die psalm vooruitwys na die kruiswoorde van die Here Jesus. Gustav Bam wys daarop dat beide Ridderbos en Schilder van mening was dat ons nie as gevolg van die ooreenkoms in woorde, hierdie psalm vanselfsprekend Messiaans moet interpreteer nie. Die psalm was eerder baie intiem deel van die gedagtewêreld en lewenshouding van die Here Jesus Christus self. Die Here het die psalm in sy lewe geleef en geken. Daarom kon hy dit in sy diepste oomblik gebruik.

Omdat die psalm as n danklied geklassifiseer word, is sy gebruik by die hoogtepunt van die lydenstyd goed geplaas. Die boodskap van swaarkry en lyding gaan oor in n dankbare loflied, omdat die digter sy lewe, sy seerkry en sy verskriklike vernedering, in die hande van die Here oorgee. Omdat die psalm struktureel nie n spesifieke patroon volg nie, was mense deur die geskiedenis heen ongemaklik daarmee om dit as geheel te preek. Ek is van mening dat die psalm na sy groot lyne (dis tog n eenheid) in die prediking gevolg moet word, en dat al die boodskaplyne iewers in die preek weerspieël moet word.

Die hele intieme en subjektiewe belewing van lyding en die oorgee met dankbaarheid daarvan aan die Here, sal myns insiens, reg aan die bedoeling van die teks laat geskied. Dit maak daarvan n lydensteks by uitnemendheid. Mense in nood kan hulle met die teks identifiseer. Hulle kan saam met die teks begin leef, totdat die krag van die boodskap hulle lewens gevul het, en hulle hul nood saam met die psalmdigter in die hande van die Here oorgee. Die prediker moet moeite maak met die digter se persoonlike belewing van die nood. Die digter se ervaring van lyding en leegheid is n werklikheid. Dit kan op n kreatiewe manier in die erediens uitgebeeld word. Om die pyn ervaring van die digter en die samelewing te versag, laat nie reg geskied aan die teks en sy boodskap nie.

Die metafoor van hande hande van die Here en hande van die vyand (v 6, 9, 16), sou op een of ander manier in die prediking aan die orde kan kom. Dit kom ook in verse voor wat hulleself as struktuurmerkers aanbied (v 6 en 16). Die twee tekste moet egter nie geïsoleer word nie, maar in konteks van die hele psalm geïnterpreteer word. Die metafoor van God se hande word regdeur die Skrif gebruik. Net in die psalmbundel, kom die term "hand" ongeveer 30 keer voor (Ps 16:11; 63:9; 138:7). Dit simboliseer die sorg en beskerming van God. Soos die metafoor van rots die veilige vesting wat die Here bied (verse 2-4) uitbeeld, is die simbool van God se hand uitdrukking van sy veiligheid en beskerming. Daar moet net gewaak word teen n allegoriese uitleg van die metafore op verskillende funksies van die hand, en dit dan op die Here toe te pas. In die literatuur is heelwat voorbeelde hiervan. In die spesifieke konteks sou die metafoor van die hand gebruik kon word om God se redding (vers 16) en beskerming in tye van nood en eensaamheid (vers 6) uit te druk. Die klem moet nie op die hand val nie, maar op God se beskerming en redding. In die Vader se hande is ons veilig, vind ons redding, vind ons rus. Dit is die hande waaruit niemand ons kan ruk nie (Joh 10:28).

Omdat die teks tradisioneel baie saam met die laaste kruiswoord van die Here gebruik word, kan Schilder se standpunt belangrike perspektiewe open. Hy wys daarop dat die digter van Psalm 31 nie dink aan die dood as hy die woorde van vers 6 uiter nie, maar wel aan die lewe, n lewe waarin die Here hom redding vanuit sy lyding skenk. As hy sê dat hy sy lewe in die hand van die Here gee, beteken dit dat dit nie die einde van die lewe vir die digter is nie, maar die begin. As die Here Jesus self die woorde aan die kruis gebruik, veral sy laaste woorde, is dit nie n doodsuitroep nie, maar n uitroep van lewe, van redding, van hoop!

Oor die laaste verse in die psalm moet ook n paar opmerkings gemaak word. Dit is treffend hoe die digter sy dankbaarheid bekend maak deur ander gelowiges wat die Here liefhet op te roep om hulle liefde vir die Here te betuig. Von Rad (aansluiting by Gunkel) noem dat hierdie dankliedere van die indiwidu, dikwels uitloop op n bekendmaking aan die gemeenskap. Hy noem dit n genre van "danksegging van die indiwidu". Dit is asof die persoon in nood n dringendheid het te praat, nie kan stilbly nie! (vgl Ps 30:13; 22:23, 26; 35:18). In Psalm 31:24 neem die bekendmaking van dank aan die gemeenskap n vorm van onderrig aan. Die digter wil die ander leer liefde vir die Here te betuig. Dit is vir hom n saak van erns dat dié wat die guns van die Here geniet, hulle vertroue in Hom sal stel.

Of die teks as geheel vir die prediking gelees word, of slegs n gedeelte, moet daar nog steeds aan die volle boodskap van die psalm aandag gegee word. Indien jy die hele psalm in die prediking hanteer, moet daar gewaak word om nie te verval in te veel aspekte wat in die psalm na vore kom nie. n Kreatiewe wenk om die teks makliker vir die gemeente te ontsluit, sou wees om eers die Skriflesing uit vers 10-16 te doen, en daarna vers 2-6, met die gedagte dat die spilpunt van die boodskap vers 16 en 6 kan wees.

Preekvoorstel

As inleiding kan n lied gespeel word waarin iemand se emosies oor sy of haar diepste seer uitgebeeld word. Daar kan selfs n video insetsel oor erge seerkry of vernedering gespeel word. Iemand sou selfs hulle ervaring van vernedering met die gemeente kon deel. Om die impak van die seerkry te illustreer, moet mense dit kan ervaar en moet hulle baie diep geraak word in die begin van die preek. Dit is een manier om hulle iets van die seerkry van die digter te laat verstaan. Om net n verhaal as inleiding te vertel, sou tweede beste wees.

Seerkry is n baie diep ervaring wat n mens nie regtig in woorde kan omsit nie. Eers as jy ander se seer beleef, word jy soms gekonfronteer met die formulering en hantering van jou eie seer. n Mens kry soms raad oor jou eie seer as jy sien hoe ander dit hanteer het. n Mens verstaan eers jou eie diepste slegte belewenisse as jy vir n oomblik n kykie kry in ander se negatiewe ervarings.

In die [salm lees ons van n digter wat geen raad meer het nie. Ons lees van iemand wat so seergekry het en so verneder is en homself so daaroor bekommer het dat dit vir hom gevoel het asof hy sy lewensdoel en sy waardigheid verloor het. In vers 10 vertel hy dat hy liggaamlik siek geword het, vanweë sy nood. Hy is besig om te vergaan omdat hy homself doodbekommer. Die seer waarvan hy praat is nie n eenmalige seer nie. Dit is duidelik iets wat hy met hom saamdra vir jare. In die jare het dit sy tol geëis. Hy kon dit ook nie meer net vir homself hou nie Ander het sy agteruitgang gesien en daarmee gespot, trouens die merktekens van sy vernedering en swaarkry was so sigbaar dat dit n steurnis vir die gemeenskap geword het . Vers 14 beskryf dat sy vyande hom uit die samelewing wou verwyder. Sy seerkry het n steen des aanstoots geword. Mense wou hom nie meer in die oë kyk nie.

Een van my dosente op Kweekskool, wyle Professor Mias de Klerk, het ons dikwels aan mense se seer herinner as hy gesê het: "Langs elke mens wat voor jou in die kerk sit, lê n groot plas trane." Elke mens het n seerkry. Sommige se seerkry is bekend. Ander se seer is van so n aard dat hulle dit goed kan wegsteek vir mense. Sommige se seerkry is soos die digter sn, iets wat oor jare kom. Dalk is jou seerkry in jou huwelik of gesin. Dit is dalk n geheim wat jy van baie jare terug met jou saamdra. Dit is dalk n seerkry wat ander mense afstoot, wat jou onaanvaarbaar vir die res van die gemeenskap maak. Vandag kan jy saam met Psalm 31:10 uitroep: "Wees my genadig Here, want ek is in die nood!"

As jy jouself vandag met die psalmis se ervaring kan identifiseer, sal jy ook met sy gebed in vers 15 en 16 kon identifiseer: "Maar ek vertrou op U Here, " en: "My tye is in u hand." Die digter se noodroep het n pleitgebed voor die Here geword. Sy nood het hy in gebed voor die Here gaan lê, meer nog, hy het sy nood in die hand van die Here oorgegee. Hiervan vertel vers 6. Die hand van die Here is deur die Bybel n teken van redding uit nood. Sy hand is sag en simpatiek genoeg om jou pyn en jou seerkry te vertroetel en te genees.

Om jou denke en ervarings in die hand van die Here te gee, vra gebed. Die psalmdigter het sy lewe en sy krisisse totaal aan die Here oorgegee deur gelowig tot God te bid. Om by die Here te skuil is n geloofsdaad. Dit is n daad waar jy sonder twyfel of eie prestasie jouself en jou krisis in die hande van die Here oorgee! Noudat die digter met geloof alles in die hande van die Here geplaas het, is dit nie meer sy krisis en sy swaarkry wat sy denke oorheers nie, maar sy dankbaarheid. Hy sing n danklied tot die Here. Hy wil hê mense wat glo, moet dit ook aan ander vertel. Hy wil en kan nie daaroor stilbly nie.

As u uself met al u seerkry ervarings in die hande van God oorgee, bevind u uself in goeie geselskap. In Lukas 23:46 hoor ons die woorde van Psalm 31:6 op Jesus se lippe wanneer Hy sy laaste woorde aan die kruis uitspreek: "In u hande gee ek my gees oor!" Die Here Jesus het met die psalm grootgeword. Hy het deur die jare met die diepte van die digter se nood kon identifiseer, sodat Hy Hom in sy donkerste uur aan die kruis, die psalm in herinnering roep om Homself in God se hande te plaas! Jesus se sewende kruiswoord sou deur die eeue vir Christene n teken wees om hul seerkry en lyding in die hande van die Here oor te gee. Maar hierdie oorgee in die hande van die Vader is nie die einde van die pad nie. Dit is eerder die begin van die pad. Jou gelowige oorgawe in die hand van die Vader, bring ook vir jou nuwe hoop vir die lewe!

Saam met Jorg Zink kan ons dié gebed bid (Iemand kan dit voorlees):

Vader, in u hande is my liggaam en my gees.

Ek kan my lewe nie vooruit beplan nie, nie vooruitsien nie,

maar ek dank U dat ek u lyding herken.

Ek staan verstom Here, oor die plan waarvolgens my lewe verloop.

Oor my wendingryke en tog gerigte lot.

U gryp in, en baie keer besef ek dat dit so moes kom.

U het my gedagtes en planne geskrap, en uiteindelik kon ek insien: So was dit goed.

Ek weet Here, dat U my nie om die hartseer lei nie, maar U lei my daardeur.

Ook al gaan ek deur donker dieptes en al voel dit vir my asof ek u hand misvat,

is ek nie bang nie, want U is by my.

Ek vertrou U Here en Vader, al verstaan ek niks.

Ek stel my in u hand.

Doen met my wat u wil.

Ek stel my in u hand en dank U as ek altyd beter leer om net dit en niks anders te begeer.

Dit is my enigste wens dat u wil met my geskied. "

(Vertaling: Leo van der Westuizen, 1980)

Bibliografie

A. Noordtzij. Psalmen. (KVHS); N.A. van Uchelen. Psalmen deel 1. (POT); A. Weiser. Psalms, (OTL); C. Burger ea, Woord teen die lig 1/8; K. Schilder, Chist Crucified; G. von Rad. Old Testament Theology Vol 1; C. Westermann. Handbook to the Old Testament; Jorg Zink. Pad na die gebed.