Ander
tekste: Spreuke 8:1-4; Romeine 5:1-5; Johannes
16:12-15
Daar is ’n
uitstekende bespreking van Psalm 8 deur Loader (1991) en ook deur Müller (1988)
in die Woord teen die Lig reeks. Vir
eksegetiese kommentaar kan hier met Loader en Müller se besprekings volstaan
word. Enkele hermeneutiese opmerkings is nietemin van belang.
Psalm 8 is
’n besonder netjies gestruktureerde eenheid waarin die humilitas en die dignitas
van die mens met mekaar gebalanseer word. In die eerste helfte van die psalm
kom die skrywer onder die indruk van die geringheid en afhanklikheid van die
mens. Dit is juis kinders, suigelinge (vlg. Loader ’n toonbeeld van swakheid en
magteloosheid, nie soseer van ongekunsteldheid nie) wat die lof van God besing.
Sonder hierdie insig in die geringheid van die mens kan ons onsself al té
maklik in hubris opstel as die teëstanders van God (vlg. Loader ’n toonbeeld
van rebellie, oormoed en arrogansie). Hierdie insig word in die tweede helfte
van die psalm gebalanseer met die waardigheid en grootsheid van die mens. Die
mens word met eer en heerlikheid gekroon as heerser. Dit vra nie alleen
selfrespek (in plaas van ’n sieklike skuldkompleks) nie, maar veral ook respek
vir die menswaardigheid van andere. Elke mens is waardig in God se oë omdat God
tog nog aan die mens dink en na elke mens omsien.
Loader meen
tereg dat die literêre struktuur (humilitas-dignitas) van Psalm 8 op ’n
gebalanseerde mensbeskouing dui. Dit korreleer met Genesis 1 se opvatting dat
die mens één spesie is binne die gemeenskap van alles wat lewe (alles wat
voortgespruit het op die sesde dag), maar dat die mens tog ’n besondere plek en
verantwoordelikheid binne die skepping het (Gen 1:26-28). Dit korreleer ook met
die geringheid-grootsheid paradoks wat Paulus in 1 Korintiërs 1 ontwikkel,
asook met die Christologiese spanning tussen ontlediging (kenosis) en
verheerliking. Miskien kan ’n mens tot die slotsom kom dat die grootsheid van
die mens volgens Psalm 8 juis in ’n besef van die geringheid van die mens lê.
Hierdie
balans kan besonder maklik skeefgetrek word. Aan die een kant word die
menswaardigheid van andere op talle maniere aangetas. In Suid-Afrika bly dit
van deurslaggewende belang om die menswaardigheid van alle mense te beklemtoon
– téénoor die ideologieë van rassisme, seksisme, klassisme en elitisme wat ons
manier van leef, praat en dink so maklik binnesypel. Elke mens (moordenaars,
kriminele, boemelaars, verkragters, rassiste, korrupte amptenare en
fundamentaliste ingesluit) is ’n draer van die beeld van God en verdien daarom
die respek van andere. Volgens ’n apokriewe verhaal is daar drie engele wat
voor elke mens uitloop en aankondig: ‘Now hear ye, now hear ye: Make way, make
way for the image of God.’
Aan die
ander kant bestaan daar ’n tendens binne die Christelike kerk om die unieke
plek van die mens binne die skepping te oorbeklemtoon. Dit lei nie alleen tot
die oersonde van hubris teenoor God nie. Dit het ook gelei tot ’n menslike
arrogansie (antroposentrisme) in terme waarvan ons ons plek en
verantwoordelikheid binne die skepping misbruik.
Vir die
prediking is dit belangrik om hierdie antropologiese balans te beklemtoon
teenoor die wyse waarop dit op ’n bepaalde tyd en plek skeefgetrek word. Met
die oog op Omgewingsondag val die fokus hier op die arrogansie van die mens
teenoor God en die res van die skepping. Die opmerkings onder Konteks fokus dus op hierdie aspek.
Psalm 8
veronderstel ’n hiërargiese kosmologie. In die eerste helfte van die psalm blyk
dit dat die mens uiters gering is in vergelyking met Jahwe, die Naam van Jahwe,
die hemelse wesens, die hemelruim, die maan en die sterre, en die hele aarde
(min of meer in hierdie volgorde). In die tweede helfte van die psalm word die
eer van die mens (mans, vroue, kinders en suigelinge en vyande min of meer in
dié volgorde) nietemin besing in vergelyking met skape, beeste, wild, voëls,
visse, die lug, die veld, oseane (ook min of meer in die volgorde; die literêre
volgorde in Ps 8 is die omgekeerde van Gen 1). Die mens ontvang glorie en
majesteit. Die mens word gekroon (as koning) oor die aarde. Die mens heers
daarom as koning, as ‘kroon van die skepping’ oor die werk van God se hande.
Loader verduidelik tereg dat die mens se posisie in die skepping in terme van
koningsterminologie verduidelik word:
Die mens
‘heers’ (msl), en dra ’n kroon (ctr), terwyl hy met die
glorie (kabod) en majesteit (hadar) omstraal is waardeur aardse
konings (bv. Ps 21:6) as God self (bv. Ps 29:1, 104:1) gekenmerk word. Alles
wat God gemaak het, is onder die koninklike voete van die mens, soos die
voetbanke wat ons in Assiriese reliëfs onder die vorstelike voete afgebeeld kan
sien.
Hierdie
hiërargiese kosmologie is tipies van die denkwêreld van die Ou Nabye Ooste. Die
parallel met die mens se heersersposisie volgens Genesis 1:26-27 is
onmiskenbaar. Dit is egter ’n vraag of hierdie kosmologie vir ons vandag steeds
normatief hoef te wees. Enige moderne kosmologie sal veel minder hiërargies
ingeklee moet word. Ons verstaan vandag veel meer van die interafhanklikheid
van alles in die kosmos. Dit geld byvoorbeeld van die kragte van gravitasie
waarvolgens alles in die skepping met alles anders verband hou. In enige
ekosisteem is alle vorme van lewe van mekaar afhanklik. Die evolusionêre
beginsel van ‘the survival of the fittest’ is reeds verouderd. Slegs gesonde
ekosisteme (en nie die sterkste individuele organisme nie) kan oorleef.
Trouens, enige meer komplekse vorm van lewe is meer afhanklik van die minder
komplekse vorme as andersom. Die plante sal heeltemal goed sonder die mens kan
klaarkom (trouens waarskynlik veel beter). Maar die mens sal sonder plante
gou-gou tot niet gaan (dink aan die mens se behoefte aan suurstof en kos).
Die
opvatting dat die mens die kroon van die skepping is, het veral in die afgelope
twee eeue onmeetlike ekologiese skade berokken. Psalm 8 is saam met Genesis
1:27-28 die belangrikste Bybelse getuienis op grond waarvan die Christelike
kerk tradisioneel die mens as die ‘kroon van die skepping’ beskryf het. Op
grond hiervan het die gedagte ontwikkel dat God alles op aarde daar gestel het
ter wille van die mens se behoeftes. Ons mag daarom grondstowwe benut na
goeddunke. Die mens (veral mans) moet die aarde aan homself onderwerp. Ons is as rentmeesters, bestuurders en heersers
aangestel om beheer uit te oefen oor ekosisteme. So asof die aarde se
ekosisteme nie miljoene jare lank heeltemal goed (trouens beter) sonder die
mens klaargekom het nie. Veral in die (Christelike!?) Westerse wêreld is vrye
teuels gegee aan hierdie soort gedagtes. Die mens (veral mans) het homself die reg toegeëien om alles in te
palm ter wille van kortstondige eie gerief. Dit het daartoe gelei dat
natuurlike hulpbronne roekeloos uitgebuit, opgebruik, verniel en besoedel word.
Dit is ironies dat die pragtige Psalm 8 juis as regverdiging ingespan word in
hierdie proses van vernietiging. Daar is talle kritici wat die ekologiese
krisis wat ons in hierdie eeu in die gesig staar, regstreeks wyt aan hierdie
‘Christelike’ opvatting. Dit behoort duidelik te wees dat Christene heelwat
skuld het om te bely in hierdie verband.
Die klem in
Psalm 8 op die mens se geringheid dui weliswaar in ’n ander rigting. Die
heerskappy van die mens beteken nie oorheersing nie. Dit vra eerder ’n
versorging van plaasdiere, huisdiere, wilde diere, voëls, visse en alles wat
leef. Die heerskappy van die mens behoort iets te weerspieël van ’n koning wat
op ’n donkie ry.
Die
ekologiese krisis hang nie soseer saam met hoe ons oor die natuur dink nie. Die
meeste mense voel heel positief oor die verruklike (en soms verskriklike)
skoonheid van die natuur. Die probleem lê eerder by die wyse waarop ons oor die
mens en die plek van die mens op aarde dink. Juis daarom is ’n toepaslike
interpretasie van Psalm 8 van die allergrootste belang. Inderdaad, wat is die
mens se plek op aarde?
Die
heersersposisie wat die mens vir homself
toegeëien het, het gelei tot ’n breuk tussen mens en natuur. Ons het aan
onsself begin dink as iets afsonderlik van die aarde. Dit blyk byvoorbeeld uit
die amper onskuldige gebruik om te praat van ‘die mens se verhouding met die
natuur’. Dit is nie korrek nie. Die mens vorm, net soos alle ander diere en
plante spesies, ’n integrale deel van die natuur. Trouens, ons leef nie ‘op’
die aarde nie, maar letterlik ‘binne’ die aarde, dit wil sê binne die dun
buitenste lagie van die aarde wat die biosfeer vorm en wat die atmosfeer
insluit. Larry Rasmussen praat selfs van ’n nuwe vorm van apartheid – van die
gewoonte om aan onsself te dink as iets ‘aparts’ van die res van die ekosisteme
waarbinne ons lewe. Dit lei nie net tot ’n gevoel van vervreemding by mense
nie, maar het ook vernietigende gevolge vir die manier waarop ons met die
natuur omgaan. Die volgende paar aanhalings illustreer die probleem treffend.
Thomas
Berry gebruik die metafoor van ‘outisme’ om die vervreemding tussen mens en
natuur te beskryf:
‘In
relation to the earth, we have been autistic for centuries. Only now have we
begun to listen with some attention and with a willingness to respond to the
earth's demands that we cease our industrial assault, that we abandon our inner
rage against the conditions of our earthly existence, that we renew our human
participation in the grand liturgy of the universe (The dream of the earth, 1988:215).’
Ernst Schumacher
skryf in dieselfde trant:
‘Modern
humanity does not experience itself as a part of nature but as an outside force
destined to dominate and conquer it. Humans even talk of a battle with nature,
forgetting that, if they won the battle, they would find themselves on the
losing side (Small is beautiful, 1973).’
Sallie
McFague identifiseer dieselfde tendens:
We have
lost the sense of belonging in our world and to the God who creates, nurtures,
and redeems this world and all its creatures, and we have lost the sense that
we are part of a living, changing, dynamic cosmos that has its being in and
through God (The body of God,
1993:34).
Ten slotte
’n aanhaling van Albert Nolan, die bekende Suid-Afrikaanse teoloog en redakteur
van die tydskrif Challenge:
‘The
majority of people in the world today seem to have lost touch with the earth
from which we were all born. And because we no longer experience ourselves as
part of the cosmos, many of us are participating in the destruction of God's
creation. When we lose touch with creation, we lose touch with God.’ (Cosmic
Spirituality. Searching for the spiritual roots of Africa and Asia. Challenge 1992:8, p. 4)
Daar
bestaan ’n uiters interessante korpus van wetenskaplike gegewens wat die
nietigheid en die grootsheid van die mens kan illustreer. Op die voetspoor van
Psalm 8 self, kan van hierdie gegewens in die prediking benut word.
Dit is
belangrik om weer by moderne mense iets van die ontsag vir die grootsheid van
die skepping, en vir die Een wie dit alles geskep het, wakker te maak. Die
bekende boek van Gideon Joubert, Die
Groot Gedagte (1997) kan in die verband benut word. Miskien nog meer
treffend, maar ongelukkig minder beskikbaar, is 'n werk van Brian Swimme, The hidden heart of the cosmos (1996).
Die
grootsheid van die skepping en die geringheid van die mens kan in ruimte en in
tyd geïllustreer word:
Dit is vir
ons beswaarlik moontlik om die afstand van 4½ ligjaar (teen byna 300 000
km/sekonde) tussen die son en die naaste ander ster, Alpha Centauri, in te
dink. Die melkwegstel bestaan uit ongeveer 300 biljoen ander sterre. Die son is
30 000 ligjare van die sentrum van die melkwegstelsel geleë. Die melkwegstelsel
is ’n redelike groot sterrestelsel. Rondom die melkweg wentel ander kleiner
sterrestelsels soos Magellaan, Fornax, Draco en Sculptor. Hierdie groep
sterrestelsels is in ewewig met Andromeda wat ongeveer 2.5 miljoen ligjare ver
is. Andromeda is ’n raps groter as die melkweg en het ook weer ’n paar kleiner
sterrestelsels van sy eie (onder andere M32). Hierdie hele groep sterrestelsels
staan bekend as die Plaaslike Groep. Dit vorm weer deel van die Virgo
Supercluster wat 53 miljoen ligjaar ver is en wat uit ’n duisend of meer
sterrestelsels bestaan. Die heelal bestaan seker omtrent uit 10 miljoen sulke
stelsels wat soos appelbloeisels in die wind uit mekaar warrel.
Nie net in
ruimte nie, maar ook in tyd verdwyn die mens in die niet. Die heelal is volgens
geleerdes ongeveer 15 biljoen jaar oud. Uit die as van vergane sterre is ons
planeet, die aarde, sowat 4.6 biljoen jaar terug gevorm. Iemand het tereg gesê:
‘We are all made from the ashes of dead stars.’ Die geskiedenis van die aarde
self is ongelooflik kompleks. Die kontinente soos wat ons dit vandag ken (al
die riviere, berge en mere) was nie altyd daar nie. Heel onlangs, slegs 120
miljoen jaar gelede, het Afrika en Suid-Amerika uit mekaar begin dryf.
Danksy 'n
baie delikate samestelling van lug, grond en water het lewe op aarde begin
ontwikkel. Die eerste vorm van fotosintese het 3.9 biljoen jaar gelede begin.
Uiteindelik het miljoene spesies bakterieë, plante, insekte, voëls, reptiele en
soogdiere oor die aarde heen versprei. Die opbloei van lewe is telkens deur
katastrofes onderbreek. In die Kambriese uitwissings (540 miljoen jaar gelede)
en weer in die Permiese uitwissings (245 miljoen jaar gelede) het meer as die
helfte van alle spesies uitgesterf. ’n
Soortgelyk katastrofe het plaasgevind aan die einde van die Cretasiese era (67
miljoen jaar gelede) wat ook die einde van die oorheersing van die groot reptiele
meegebring het. Sedertdien het soogdiere geleidelik begin om lewe op aarde te
oorheers. Olifante, kameelperde en die groot ape het relatief onlangs eers
verskyn. Die voorsate van die mens het slegs 2-4 miljoen jaar gelede op aarde
verskyn. Op die kalenderjaar van die heelal, het die mens verskyn ’n paar
sekondes voor die klok twaalfuur op oujaarsnag slaan. Sallie McFague sê tereg:
‘On the
universe's clock, human existence appears a few seconds before midnight. This
suggests, surely, that the whole show could scarcely have been put on for our
benefit; our natural anthropocentrism is sobered, to put it mildly.
Nevertheless, since it took fifteen billion years to evolve creatures as
complex as human beings, the question arise as to our peculiar role in this
story, especially in relation to our planet (The body of God 1993:104).’
Die mens
(homo sapiens) het 400 000 – 600 000 jaar gelede sy verskyning gemaak, heel
waarskynlik in Suider-Afrika. Menslike rituele en kultuur het, sover ons weet,
slegs 30 000 (miskien 100 000) jaar gelede ontstaan. Die eerste vorms van
landbou en beskawing is maar 10 000 jaar oud. Jesus Christus het 2000 jaar
gelede gelewe. In die agelope 2000 jaar het die menslike bevolking van 90
miljoen tot 6 biljoen toegeneem. En in die laaste twee eeue het die industriële
omwenteling die voorkoms van die planeet byna onherroeplik verander. Die mens,
sê Bram van de Beek, is op die laat middag van die sesde dag gemaak (ná die
skepping van die ander diere, as 't ware na God se siesta), pas 'n miljoen jaar
of wat gelede. In tyd en in ruimte vervaag die mens in die niet. Die mens sal
waarskynlik, soos die dinousourusse en baie ander spesies, weer van die aarde
af verdwyn en die aarde sal heel goed sonder ons kan voortbestaan. Trouens, God
is in staat om dan weer iets heeltemal nuuts (dalk selfs 'n nuwe, meer
intelligente spesie) tot stand te bring.
Tot sover
die geringheid van die mens. Die grootsheid van die mens kan eweneens treffend
geïllustreer word in terme van wetenskaplike gegewens. Grootsheid word nie noodwendig net in terme
van ruimte en tyd gemeet nie, maar ook in terme van kompleksiteit. In hierdie
opsig is die menslike brein wel die mees komplekse vorm van lewe wat die heelal
(so ver ons menslike kennis strek) nog voortgebring het. Ian Barbour skryf in
die verband die volgende:
‘The
greatest complexity has apparently been achieved in the middle range of size,
not at atomic or galactic dimensions. There are a thousand billion synapses in
a human brain; the number of possible ways of connecting them is greater than
the number of atoms in the universe. There is a higher level of organization
and a greater richness of experience in a human being than in a thousand
lifeless galaxies. It is human beings, after all, that reach out to understand
that cosmic immensity (in Ted Peters (ed): Cosmos
as creation 1989:147).’
Dink net
daaraan: Die getal kombinasie moontlikhede tussen die sinapse in een mens se
brein is groter as die getal atome in die ganse heelal!!
Die soeke
na die plek van die mens in die skepping kom voor in talle kulture en
godsdienste. Ook in die Christelike tradisie vind ons talle inspirerende
voorbeelde. In hoofstuk 2 van Rus vir die
hele aarde (Conradie 1996) word verskillende verdere perspektiewe bespreek
wat die plek van die mens binne die groter orde van skepping aandui. Dit sluit
in die perspektiewe van Franciscus van Assisi, Hildegard van Bingen,
inheems-Amerikaanse denke, tradisionele wysheid uit Afrika, ruimtevaarders,
moderne kosmologie en die rus van die sabbat.
Vir die
liturgie is dit waarskynlik wenslik om dieselfde strategie as die psalmis te
benut. Psalm 8 beweeg vanaf doksologie na kosmologiese verwondering na nadenke
oor die plek en die verantwoordelikheid van die mens in die skepping, en weer
terug na doksologie. Binne die doksologiese raam van die liturgie, kan die
prediking op kosmologiese verwondering fokus.
Die
preekvoorstel hieronder bied slegs ’n inleiding en ’n raamwerk. Binne hierdie
raamwerk kan ’n verskeidenheid van perspektiewe, ook buite-Bybelse gegewens,
vryelik benut word.
Inleiding
"Wat
is die mens dat U aan ons dink?" Dié vraag wat Psalm 8 stel, is gebore uit
ontsag vir die grootsheid van God se Naam oor die ganse aarde. As die skrywer
van die Psalm die hemel aanskou, die maan en sterre waaraan God 'n plek gegee
het, dan kan hy (?) nie anders as om onder die indruk te kom van die nietigheid
van die mens nie. En boonop word dit alles in stand gehou met 'n ligte druk van
God se vingerpunte (Müller). Wat is die mens dan dat God nog enigsins aan ons
dink? Dit is bedoel as 'n retoriese
vraag (Loader). Die antwoord daarop is: Niks! Dit vestig die grondtoon van die
Psalm naamlik verwondering. Die wonder is dat God bemoeienis maak met ’n
nietigheidjie in die groot heelal.
En dan volg
die verbasing van die Psalmskrywer in die tweede helfte. Die mens is eintlik
self 'n soort God (’n 'elohim). Dit
staan letterlik só in die Hebreeus. Die mens heers oor die werk van God se
hande. Alles op aarde, selfs die wilde diere, die voëls in die lug en die visse
in die see is aan die mens gegee om daarvoor te sorg. Die nietige mens dra die
kroon van 'n koning. Ons word met aansien en eer gekroon.
Die
verbasing van Psalm 8 het vandag omgekeer in 'n soort vanselfsprekendheid. Die
skrywer van Psalm 8 kan dit amper nie glo dat God tog nog aan die mens dink
nie, dat God oor kinders en suigelinge besorg is. Vir ons is die plek van die
mens in die skepping veel meer vanselfsprekend. Dit is eerder God wat vir ons
onvanselfsprekend geword het. Psalm 8 kyk op na die hemel en wonder: Wat is die mens? Ons kyk op na die
hemel en wonder: Waar is God?
Met die
vraag, "Wat is die mens?" het ons veel minder moeite. Immers, so
argumenteer ons graag, die mens is die kroon van die skepping. Ons is na die
beeld van God geskape. Ons is geroep om te heers oor die skepping. Ons het
eintlik in ons eie oë verskriklik belangrik geword. Maar ons het terselfdertyd
'n gemors gemaak van ons poging om oor die skepping te heers.
Wat het die
mens nou aangevang?
Ons was
veronderstel om vir die diere, die plante en die grond te sorg, om die aarde
soos 'n goeie tuinier te versorg. Maar wat het ons nie aangevang nie!
Ons moet
sorg vir die ‘skape en beeste’ – en die varke en hoenders. Maar baie van hulle
word deesdae in klein kampies ingehok, vetgevoer met ’n chemiese dieet en
uiteindelik geslag. Diere word wreed mishandel en gepynig.
Ons heers
oor die wilde ‘diere van die veld’ deur hulle in wildparke te bewaar. Maar al
die orige grond het ons vir onsself opgeëis. So asof een enkele spesie, die
mens, 'n goeie reg het op 90% van alle benutbare grond. Talle diere- en
insektespesies sterf uit sonder dat iemand ooit van hulle bestaan geweet het.
Ons is ook
veronderstel om vir die veld self te sorg. Maar in Suid-Afrika beland 300-400
miljoen ton bogrond elke jaar in die see. Landbougrond het ’n chemiese fabriek
geword waarin ons met gifstowwe, kunsmis en besproeiing tevergeefs ’n balans
probeer handhaaf. Industriële, mediese gifstowwe en radioaktiewe kernafval word
in stortingsterreine opgehoop of sommer iewers afgelaai. Dit traak ons nie
regtig wat met al ons gewone vuilgoed gebeur nie. Ons veronderstel: ‘What you
throw away, has gone away’ Solank die vullisverwydering net ordelik plaasvind,
is ons gelukkig.
Ons moet
ook vir die ‘voëls in die lug’ sorg.
Maar oor die lug self is ons minder bekommerd. Ons pomp die lug vol
petroldampe, want ons wil graag in ons motors, taxis en vliegtuie ry. Ons
verbrand elke jaar tonne steenkool per persoon omdat ons energie nodig het –
sonder om aan die gevolge daarvan vir ons eie longe te dink. Die osoonlaag is
alreeds vol gate. Ons is letterlik besig om die samestelling van die atmosfeer
self te verander. Daar is al hoe meer koolsuurgas in die lug as gevolg van al
die energie wat ons verband en die bome wat ons afkap. Oor die gevolge daarvan
vir ’n oorverhitte planeet moet ons ons maar later bekommer.
Ons heers
oor die ‘visse wat die oseane deurkruis’ – deur soveel as moontlik van hulle te
probeer vang. Ons wil graag skoon drinkwater hê, maar gee nie om dat allerhande
chemiese gifstowwe in die riviere afloop nie. Die see is mos groot. Die Stille
oseaan is selfs groot genoeg vir 'n paar atoomtoetse. Oor oliebesoedeling aan
ons wit strande is ons wel bekommerd, maar in die diep see raak dit ons nie
juis nie.
Psalm 8 sê
dat God letterlik alles aan ons onderwerp het
– ook die plante en die bome. Maar ons het reeds 50% van die reënwoude
op aarde afgekap. Ons besluit watter plante op watter grond mag groei, want
almal moet genoeg kos hê om te eet. Ons moet mos hout hê om te verbrand en genoeg
papier om ons koerante te kan lees.
Elkeen van
hierdie punte kan vanuit Psalm 8 toegelig word. Miskien kan verskillende
gemeentelede (vanuit toepaslike beroepe) vooraf gevra word om oor elkeen van
hierdie punte iets te sê in ’n sin of twee. Dit kan dien as ’n belydenis van
ons skuld voor God. Hierna kan ’n lied van verootmoediging volg.
Ons
verdedig al hierdie dinge deur te redeneer dat dit ons Godgegewe roeping is om
oor die aarde te heers en dit te onderwerp. Ons is mos immers die kroon van die
skepping. Maar ons vergeet dat ons grootsheid juis in ’n insig in ons eie
geringheid lê.
Die
geringheid en die grootsheid van die mens
Uittreksels
uit die materiaal in punt 3 en 4 onder Konteks
hierbo kan hier na goeddunke benut word. Verskillende gemeentelede kan
byvoorbeeld gevra word om elkeen een van die talle moontlike perspektiewe voor
te hou, die geringheid van die mens in ruimte en in tyd, die gebed van
Franciscus, die visie van Hildegard, die perspektiewe van ruimtevaarders (dat
die mens in die aarde en nie op die aarde leef nie), tradisionele wysheid uit
Afrika of die Amerikas waarin die harmonie tussen mens en natuur beklemtoon
word, natuurgedigte (dink aan Van Wyk Louw se ’Herfs’) die rus van die sabbat,
ander Psalms (19, 90, 92, 104). Hierdie perspektiewe kan gewoon langs mekaar
geplaas word sonder veel onderbreking of verduideliking. Die bydraes kan in
verskillende genres aangebied word, met Skriflesings, vertellings, voordrag,
sang, musiek, dans en (kinder)kuns. Dit is belangrik om met elke bydrae die
doksologiese toonaard van die liturgie te behou. Die bydraes moet spreek van
verwondering oor die nietigheid van die mens in vergelyking met die grootsheid
van God se skepping.
Die insig
in die geringheid en grootsheid van die mens via kosmologie en biologie lei ’n
mens nie noodwendig na God toe nie. Trouens, wetenskap en kritiese denke lei
sommige mense oënskynlik eerder van God af weg. Maar dit kan juis weer tot
hoogmoed lei. Dit kan tot ’n valse vertroue in die mens se redelike vermoëns
aanleiding gee.
Hierin is
Psalm 8 heel anders. Die ontdekking van die geringheid en grootsheid van die
mens word omraam deur die lof aan God: "O Jahwe, onse Heer, hoe magtig is
u Naam oor die hele aarde." (Ps 8:1 &10). Dit is pas wanneer die
psalmis nadink oor die almag van God dat die insig in die geringheid van die
mens gebore word. Dit is pas wanneer die psalmis nadink oor die sorg van God
dat die insig in die grootsheid van die mens gebore word. Nóg die nadenke oor
die hemelruim nóg die nadenke oor lewe op aarde lei die mens vanself na God.
Dit is pas in doksologiese verwondering waarin op God gefokus word dat ons ons
plek op aarde kan vind.
In die Nuwe Testament word hierdie insig Christologies geradikaliseer. Dit blyk nêrens beter nie as in Pilatus se beroemde uitspraak in Johannes 17:5: ‘Dit is die mens.’ [Müller wys tereg op die gevaar van ’n oppervlakkige Christologiese interpretasie van Psalm 8. Loader meen ook dat die verwysing na Psalm 8 in Hebreërs 2:6-9 eerder fokus op die vernedering en verheerliking van Christus as wat dit op die vraag van Psalm 8 fokus. Nietemin, dit is pas in Jesus Christus dat ons die geringheid en die grootsheid van die mens ten volle begryp.] Dáár, by die kruis, leer ons wat dit beteken om as mens voor God te staan te kom. Daar sien ons die gevolge van ons menslike arrogansie en hoogmoed raak, miskien vir die eerste keer. Miskien kan dit ons vandag ook help om die ekologiese gevolge van ons menslike arrogansie raak te sien. Dan sal ons dalk begin leer om ons verantwoordelikheid teenoor skape, beeste, wilde diere, voëls en visse raak te sien.