10 Februarie 2002

Vyfde Sondag ná Epifanie/

Sondag van Jesus se

verheerliking

LITURGIESE VOORSTEL (1)

Fokusteks: Psalm 2.

Ander tekste: Eksodus 24:12-18; 2 Petrus 1:16-21; Matteus 17:1-9.

INLEIDING

Die preek oor die fokusteks, Psalm 2, wat in dié bundel verskyn, gee op n helder en duidelike manier die betekenis

van hierdie psalm deur en kan baie help om n verhaallyn vir die liturgie te bepaal. Psalm 2 en ook ander tekste vir

hierdie Sondag is ryk aan beelde vir die heerlikheid van God en die verheerliking van Jesus. Dié rykdom van beelde

gee geleentheid om, veral aan ons kinders, op n verstaanbare manier iets oor die heerlikheid van God en die

verheerliking van Jesus deur te gee.

Ons moet ook onthou dat hierdie Sondag as hoogtepunt van die Epifanie ook die oorgang na Lydenstyd is. Die

oorgang kom nogal na vore in die Matteusteks van hierdie Sondag. Petrus, Jakobus en Johannes kry die kans om

Jesus se heerlikheid met hulle eie oë daar bo-op die berg te sien. Maar met die afkom van die berg lê Jesus hulle

die swye op tot ná sy dood en opstanding.

Seëngroet

Daar is genade en vrede vir julle in oorvloed deur julle kennis

van God die Vader wat aan Jesus eer en heerlikheid gegee het,

en Jesus ons Here, die geliefde Seun oor wie God Hom verheug (na 1 Pet 3:2, 17).

Geloofsbelydenis

Oorweeg dit om op hierdie Sondag die Belydenis van Nicea te gebruik wat effens duideliker praat oor die heerlikheid

van Jesus.

Seën

Die God wat vrede gee, sal julle bewaar sodat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer

in heerlikheid kom.

Gemeente sing die "Amen" in die Liedboek van die kerk (lied 313).

Fokusteks: Matteus 17:1-9.

Ander tekste: Eksodus 24:12-18; Psalm 2; 2 Petrus 1:16-21.

INLEIDING

Verheerlikingsondag is die afsluiting van Kersfees-/Epifanietyd en tegelyk die oorgang na Lydenstyd. Op hierdie

Sondag word daar gefokus op Jesus se verheerliking op die berg een van die geleenthede in sy lewe waar die

LITURGIESE VOORSTEL (2)

heerlikheid van God sigbaar geword het en wat aanleiding gegee het tot die belydenis dat Jesus Christus die Seun

van God is. Die liturgiese kleur vir hierdie Sondag is wit en die binneruim van die kerk kan ryk versier word om

uitdrukking te gee aan die glansryke gebeure op die berg.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Aanvangslied

n Lied waarin die heerlikheid van Jesus besing word, soos JSB 2 32.

Votum

Die gemeente nader tot God met n responsoriese voorlesing na aanleiding van Psalm 2:11-12.

Liturg: Julle moet die Here met ontsag dien.

Gemeente: Dit gaan goed met almal wat by die Here skuiling soek.

Liturg: Julle moet Hom met vrees en bewing toejuig.

Gemeente: Dit gaan goed met almal wat by die Here skuiling soek.

Liturg: Julle moet aan Hom onderdanig wees.

Gemeente: Dit gaan goed met almal wat by die Here skuiling soek.

Amen.

Seëngroet

In die Naam van die verheerlikte Here: genade en vrede vir julle!

Aanbidding en lof

Gepaste lofliedere, soos Lied 467:1, 2; JSB 2 2:1-2 of JSB 2 3:1-3.

Kindertyd

Verduidelik aan die kinders dat Verheerlikingsondag omtrent halfpad tussen Kersfees en Paasfees gevier word. "By

Kersfees (toe Jesus gebore is) en by Paasfees (toe Jesus opgestaan het uit die dood) was daar verskillende dinge

wat vir mense gewys het dat Jesus meer as n gewone mens was en dat Hy spesiaal van God af gekom het. Maar

tussen Kersfees en Paasfees het Jesus as mens hier op aarde gelewe en die grootste deel van sy lewe was vol

swaarkry. Dit kon veroorsaak dat mense vergeet het dat Jesus n spesiale mens was wat van God af gekom het.

Daarom het God n paar keer in Jesus se lewe vir mense so n ietsie gewys van wie Jesus regtig is. Een so n keer

was toe Jesus en drie van sy dissipels op n hoë berg was." Vertel kortliks wat met Jesus op die berg gebeur het

en verduidelik dat die verhaal ons ook help om te onthou dat Jesus nie sommer n gewone mens was nie, maar dat

Hy die Seun van God is. Psalm 2 kan ook gedramatiseer deur drie kinders/jongmense voorgelees word: verse 1-5

deur n verteller, vers 6 deur iemand wat die stem van God verteenwoordig en verse 7-11 deur iemand wat die

Messias voorstel.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Here, dit is goed dat ons hier is.

Ons het vanuit die vlaktes van ons lewe gekom

na die bergtop van hierdie ontmoeting met U.

Ons kom na U met die begeerte

om met die geloofsoog U in al u majesteit te sien.

Ons wil met die geloofsoor u stem uit die hemel hoor wat sê

dat Jesus Christus u geliefde Seun is oor wie U U verheug.

Open ons oë en ons ore deur die werking van u Gees.

Open ook ons harte sodat ons sal glo dat Jesus Christus die Here is.

Tot eer van u groot en heilige Naam.

Amen.

Skriflesing

2 Petrus 1:16-21.

Sang

Gesang 183:1, 3.

Skriflesing

Matteus 17:1-9.

Prediking

Geloofsbelydenis

Die gedeelte uit die Geloofsbelydenis van Nicea wat oor Christus handel, word deur die liturg voorgehou terwyl die

gemeente ná elke frase reageer met die respons: "God het gesê: Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.

Ons sal na Hom luister."

DIENS VAN DIE TAFEL

Eucharistiegebed

Instellingswoorde

Uitdeling van die tekens en kommunie

Lofprysing

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Gesang 182:1-5 of Gesang 10:1, 3.

Seën

Luister na die woorde van God se geliefde Seun: Staan op en moenie bang wees nie.

Mag sy heerlikheid jou op jou lewenspad bybly.

Amen (gesing deur die gemeente).

Tema

Hierdie Sondag vier ons die verheerliking van Jesus Christus. Psalm 2 besing die Messiaanse heerskappy van

Christus oor die hele wêreld.

Teks

Oor die vorm en struktuur van Psalm 2 is daar groot ooreenstemming. Die eksplisiete verwysings na die koning in

verse 2 en 6 sowel as na die koning se uitlating in verse 7-9 toon duidelik dat dié psalm tot die genre van die

koningspsalms behoort. Hierdie psalm bestaan uit vier strofes. Die eerste strofe (vv 1-3) beskryf die futiele

sameswering van die nasies van die wêreld teen die Here en sy gesalfde. Die "chaos" moet waarskynlik verstaan

word teen die agtergrond van die Egiptiese wêreldordeningsdenke (Weltordnungsdenken) waarvolgens die koning

die persoon was wat die skeppingsorde met sy troonsbestyging sou herstel. Die tweede strofe (vv 4-6) beskryf die

reaksie van Jahwe wat opstandige nasies met veragting gadegeslaan het. Die derde strofe (vv 7-9) beskryf Jahwe

se raadsbesluit oor sy gesalfde en dié se gesag. Die laaste strofe (vv 10-12) bestaan uit n ultimatum aan die leiers

van die nasies en n oproep om Jahwe te dien. Die teks het n chiastiese struktuur: A (vv 1-3); B (vv 4-6); B (vv 7-

PREEKSTUDIE - PSALM 2

9), en A (vv 10-12). Die tweede en derde strofes beskryf die besonderse verhouding tussen Jahwe en sy koning.

Die eerste en laaste strofes beskryf aan die een kant die versoeking van die volkerewêreld om hulle los te skeur

van God se heerskappy en aan die ander kant die oproep om hulle aan God se heerskappy te onderwerp.

Opvallend is die aanskoulike en dramatiese karakter van hierdie psalm. Tonele van universele rebellie word lewend

geteken. Simboliese demonstrasies van die oorwinning oor die rebelle word geïmpliseer. Dié tekste moes deel

gevorm het van dramatiese rituele. Die rituele wat hierdie heerskappy van Jahwe uitgebeeld het, was moontlik

simboliese gebare van vernietiging soos in die Hebreeuse profete (Jer 19; Eseg 5) en in die Egiptiese Nuwejaarsfees

(vgl Ps 2:9; 68:32) voorgekom het. Die prosessies van die gode na n afgeleë heiligdom was die bekendste

rituele vir die demonstrasie van koninklike oorwinnings. In Psalm 2, soos ook in die ander die koningspsalms (21,

72, 101, 110, 132), word die koning in aktiewe konfrontasie met die wêreldwye vyande van Jahwe se heerskappy

uitgebeeld.

Daar is geleerdes wat hierdie psalm godsdienstig-histories verstaan. Oor die Sitz im Leben van die psalm loop hulle

menings egter uiteen. Die kultiese sfeer waarin hierdie psalm gefunksioneer het, was waarskynlik die troonsbestyging

van n nuwe koning óf die jaarlikse herdenking van sy troonsbestyging. In die Ou Nabye Ooste was die

koningskap gekoppel aan die heerskappy van die gode en aan die belangrikste feeste. In die koninkryke van die

Ou Nabye Ooste was dit gebruiklik om die troonsbestygingseremonies of die jaarlikse hernuwing daarvan te laat

saamval met die Nuwejaarsfees. Die koning se regering op aarde is beskou as n uitdrukking van die hemelse orde

wat die hele natuur verfris. Die geskikste tyd om die koning in te huldig as sy verteenwoordiger op aarde was die

seisoen vir die viering van die lewegewende heerskappy van die godheid. In Ou Israel was die Dawidiese koningsideologie

ook ten nouste gekoppel aan die godheid en die tempel. Daar bestaan ook n sterk vermoede dat die

herfsfees van groot betekenis was vir die Dawidiese koningsideologie. Jaar ná jaar by die jaarlikse troonsbestygingsfeeste

het Jahwe en die Dawidiese konings simbolies hulle vyande oorwin en weer die heerskappy oorgeneem.

Psalm 2, soos ook die ander koningspsalms, het Jahwe se wêreldwye mag skerp verbeeld deur die troonsbestyging

van die Dawidiese koning. John T Willis (JSOT 47; 1990:33-50) meen Psalm 2 kan die beste verstaan

word teen die agtergrond van n dreigende militêre konflik wanneer die konings of leiers van die twee leërmagte

hulle opponente spottend intimideer met dreigemente van vernietigende neerlae. Hy sê vers 3 vat die voorneme van

die vyand om te rebelleer kortliks saam. Die res van die psalm (veral vv 10-12) is die retoriese uitdagende roep

(bravo) of ultimatum van die koning wat in Sion oor God se volk regeer. Sy retoriek is daarop gemik om homself en

sy manskappe te troos en te bemoedig om op Jahwe te vertrou wanneer hulle teen die vyand optrek om die

dreigende rebellie af te weer (vv 4-9). Von Rad en Ridderbos meen Israel word hier opgeroep om die verborge

universele koningskap van Jahwe te deurskou. Die koning se retoriek is verder daarop gemik om die opstandelinge

te spot en te demoraliseer en hulle op te roep om hulleself eerder aan Jahwe en hom as Jahwe se gesalfde te

onderwerp (vv 1-3, 10-12). Volgens Willis is Psalm 2 by verskeie geleenthede gebruik wanneer Juda voorbereidings

getref het vir oorlog teen die vyand veral wanneer dit vasale was wat opstand teen die koning beplan het. Hierdie

psalm was waarskynlik n kultiese ritueel bestaande uit verskeie elemente soos vas, gebed, offers en skuldbelydenis.

In vers 7 word die koning die "seun van God" genoem. Dit is die enigste plek in die Psalmbundel waar "seun" as n

titel vir die Dawidiese koning gebruik word. Dis moeilik om hierdie frase te verstaan aangesien die Ou Testament

twee sienings het van die koningsfiguur, wat radikaal van mekaar verskil. Psalm 2, soos ook die ander

koningspsalms, gee n beeld van die koning wat sterk raakvlakke het met die koningsideologie van die Ou Nabye

Ooste. In die Ou Nabye Ooste is die frase "seun van god" mities verstaan in die sin dat die koning n goddelike figuur

en hemelse wese was. Die Deuteronomistiese geskiedenis en die profete het n totaal ander siening van die koning

gehad wat allermins goddelikheid gesuggereer het. Selfs al stel Psalm 2 en die ander koningspsalms nie die koning

as goddelik voor nie, is die geïdealiseerde beeld van die koning in skerp kontras met dié wat die Deuteronomistiese

geskiedenis en die profete van die Judese konings geskep het. Die vraag is dus: Moet die formule "seun van God"

mities of metafories verstaan word? Alhoewel dié frase waarskynlik sy oorsprong in vreemde mites van Egipte of

selfs Kanaän gehad het, is die koning in Israel geensins as n goddelike figuur beskou nie. Die Ou Testament pas

dié formule in n metaforiese sin toe om die wetlike verhouding wat verbondsmatig bepaal is te verpersoonlik, want

die koning was God se uitverkore figuur en gevolmagtigde verteenwoordiger op aarde. As onderkoning van Jahwe

sit die koning nie op sy eie troon nie, maar op Jahwe sn. Dit het die implikasie dat die hele wêreld sy ryk is. James

Mays meen "seun" dui op n identiteit en status wat n spesiale reg en verantwoordelikheid teenoor God inhou,

analoog aan die spesiale reg en verantwoordelikheid wat n seun in Ou Israel teenoor sy pa gehad het. Hy was God

se agent deur wie reg, geregtigheid, verdediging en sorg (Ps 72) moes geskied. Tog het die Goddelike toegif van

wêreldwye heerskappy aan die Dawidiese konings in skrille kontras met die historiese werklikheid gestaan, want

Dawid se koninkryk op sy hoogtepunt was maar n vulletjie in vergelyking met die groot wêreldryke van sy tyd. Die

logika van hierdie psalm is dus nie histories nie, maar teologies. Psalm 2 gee uitdrukking aan die geloof dat God,

wat in die hemel troon, die Een is aan wie alle mag behoort.

Vers 9 verwys na die verbryseling van die vyande asof hulle kleipotte is. In Egipte het die koning tydens sy troonsbestyging

of met die jaarlikse viering van sy koningskap kleipotte waarop sy vyande se name geskryf was, stukkend

geslaan, om só simbolies hulle vernietiging voor te stel.

Konteks

Die onderwerp van hierdie psalm blyk baie duidelik uit die struktuur. In al vier strofes gaan dit oor die verhouding

tussen die koninkryk van God en die koninkryke van die aarde en hulle regeerders. Die hele psalm handel dus oor

die kwessie van mag en gesag. Waar is die mag en krag geleë wat al die magte en kragte beheer wat in hierdie

wêreld opereer? Wie is in beheer daarvan? Psalm 2 wil sê die mag is gesentreer in God, wat voortdurend sy mag

sigbaar maak deur die soewereiniteit van die afstammelinge van die Dawidiese koningshuis. Hierdie magsopenbaring

van God deur die Dawidstroon blyk duidelik uit die verhalende dele van Kronieke wat sy beloftes

weergee: "Ek gee hom (die koning) n blywende plek in my huis en my koninkryk. Sy troon sal altyd voortbestaan"

(1 Kron 17:14).

As gevolg van die idealisme van die koningspsalms het daar spanning gekom tussen die historiese konteks en die

teologie van dié psalms. Dié psalms het gaandeweg verwyderd geraak van hulle oorspronklike koninklike en

kultiese konteks. Hulle het nie meer na die verlede of hede verwys nie, maar van toekomstige hoop gepraat. Die

koninklike ideologie van die koningspsalms is deur eskatologie vervang. In Psalm 2 val die klem dus nie meer op

die koning nie, maar op God en sy heerskappy. Die spanning tussen die profetiese en koninklike ideologie is

opgelos deur die eskatologiese hoop op die koms van God en die Messias.

Psalm 2 is die psalm waarna die meeste in die Nuwe Testament verwys word. Volgens die Markusevangelie word

daar tydens Jesus se doop n stem uit die hemel gehoor wat vir Jesus sê: "Jy is my geliefde Seun" (Mark 1:11). In

die verhaal van die verheerliking op die berg in Lukas 9 sê die stem uit die wolk: "Dit is my Seun wat Ek uitverkies

het" (Luk 9:35). In sy preek in Handelinge 4:25-26 haal Petrus Psalm 2:1-2 aan en vereenselwig Herodus en Pilatus

met die nasies, die mense wat teen God se gesalfde, Jesus Christus, in opstand gekom het. Paulus maak in die

sinagoge van Antiogië (Hand 13:33) daarop aanspraak dat Psalm 2:7 deur die opstanding van Jesus vervul is ("Jy

is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee"). Daarom is dit nie verbasend nie dat baie Christene oor die

eeue heen hierdie psalm Christologies verstaan het (vgl ook Heb 1:5; 5:5; Op 2:27; 19:15), want Christus is die

Griekse woord vir masiah, die gesalfde.

In die ou rabbynse tradisie word die eerste twee psalms as n geestelike en tematiese eenheid beskou. Volgens

hierdie uitleggers sou koning Dawid hierdie psalm gesing het onmiddellik ná sy salwing as koning oor die hele Israel

toe die Filistyne teen hom opgetrek het (2 Sam 5:17). Volgens die rabbyne het Dawid in die Filistyne die saad van

Gog en Magog herken, die aartsvyande van die Messias.

Gedurende die Patristiese tyd en die Middeleeue is Psalm 2 messiaans en eskatologies verstaan deur kerkvaders

soos Clemens en Augustinus. Augustinus het die hele psalm op Christus van toepassing gemaak en so ook die

meeste eksegete van sy tyd. Selfs die Kerkhervormer Martin Luther het hierdie psalm messiaans vertolk. Calvyn

het erns gemaak daarmee om hierdie psalm binne die raamwerk van Dawid se koninkryk te verstaan. Hy het

tipologie gebruik om die Nuwe-Testamentiese toepassing van die psalm op Christus te handhaaf. Volgens hom was

Dawid in hierdie psalm aan die woord. Dit wat Dawid van homself gesê het, het Calvyn net op Christus toegepas.

Dawid se koninkryk was dus n voorafskaduwing van Christus sn. Calvyn het Psalm 2 tipologies verklaar om te

probeer om reg te laat geskied aan die historiese konteks van die psalm, sowel as aan die Nuwe-Testamentiese

gebruik daarvan. Hy kon egter nie daarin slaag nie. Dit is presies die dilemma waarvoor dié psalm eksegete plaas:

n mens kan nie getrou wees aan die Ou-Testamentiese konteks en die Nuwe-Testamentiese gebruik daarvan nie.

Gunkel het in hierdie psalm weinig waarde vir die Christelike gemeenskap gevind. H Schmidt het slegs Psalm 2 se

beskouing van die koning met die gekruisigde Christus gekontrasteer. Sodoende het hy hom totaal gedistansieer

van die Nuwe-Testamentiese boodskap van hierdie psalm.

Psalm 2 help ons om in sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament die universele heerskappy van God en die

Messias oor alle nasies te herken. Die Nuwe Testament sien in Jesus Christus die Koning van God, wat in die

omvattende sin die ryk en amp van die Ou-Testamentiese gesalfde aanvaar en vervul het. Aan Hom is alle mag in

hemel en op aarde gegee (Matt 28:18). Hy is die Seun en die erfgenaam (Matt 21:38). Hy is die ware Seun van die

Vader (Heb 1:5; 5:5). Dit is baie betekenisvol dat sowel Handelinge as Openbaring in die dispuut tussen die

verhoogde Koning Christus en die vyandige heidennasies Psalm 2 aanhaal (Hand 4:25 ev; 13:33; Op 2:27; 19:15).

Dat Psalm 2 messiaans verstaan kon word, is ook in n sin vreemd, want dit gaan allermins hier oor n koning wat

vrede bring. Dit gaan eerder oor n koning wat die volkere verpletter in sy woede.

Preekvoorstel

Ons leef vandag in n wêreld wat in n voortdurende magstryd gewikkel is. Daar is vandag talle oorloë wêreldwyd

aan die gang. Psalm 2 is vol van die geraas van oorlogswapentuig en die ywer van maghebbers. Die digter is bewus

van die saamtrek van militêre magte. Hy ken die strewes van die volksleiers van sy tyd. Hy is bewus van n opstand

teen Israel, sy volk, maar besef ook dat hulle eintlik in opstand is teen die God van Israel. Hy weet hulle span saam

teen die Here en sy gesalfde: "Kom ons maak ons vry en gooi hulle juk af!" (v 3). Daarom vra hy: "Waarom is daar

onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne en dit tevergeefs?"

Die nasies is in opstand teen God, want hulle wil van Hom losbreek. Die volkere is in verset teen Hom, want hulle

wil vry wees. Hulle opstandigheid is dus geen onskuldige verwêreldliking nie. Dit is n emansipering, n gelykstelling,

n stuk ateïsme wat prakties en teoreties ontvou.

Is dit moontlik? Ja, dit is. Sulke dinge herken ons tog in ons eie lewe. Ons ervaar mos vandag in ons lewe dat die

demoniese magte op verskillende maniere en in verskillende gestaltes na vore kom. Ons leef ook in n tyd waar ons

sê: "Kom ons maak ons vry en gooi die juk af." Is dit nie in baie opsigte waar dat ons hele lewe in verset en opstand

teen die Here en sy Gesalfde is nie? Die tegniek verlei ons daartoe. Ons welvaart maak ons gemaksugtig, laat ons

eerder in ander here en magte glo as in ons Here Jesus. Dikwels word ons onbewustelik in hierdie stroom

meegesleur. Die meesleurende krag van die snel ontwikkelende wêreld gee ons dikwels die beangste gevoel dat

die hele wêreld ontwortel is. Niemand kan sê waarheen ons regtig op pad is nie. Die "waarom" van vers 1 verwoord

ons angs en onsekerheid.

Die toon is die musiek, maar die toon van die "waarom" in Psalm 2 is nie die toon van angs of gespannenheid nie.

Die "waarom" van vers 1 het nie die toon van magteloosheid nie. Inteendeel, dit n troosvolle toon. Nie dat die digter

onbewus is van wat rondom hom gebeur nie. Hy is bewus van n magtige beweging teen Israel en die God van

Israel, maar dit ontstel hom geensins nie. Hy laat hom nie daardeur van koers bring nie, want agter hierdie werklikheid

sien hy n ander Werklikheid, n Werklikheid wat maak dat daar van die opstand en gewoel van die nasies

niks kom nie. Hierdie Werklikheid maak dat hulle opstand en geraas sinloos en betekenisloos is. Dit loop uit op niks

en het geen toekoms nie. God lag daaroor, want die nasies se opstand belemmer geensins sy planne nie. Nog

minder het dit enige effek op sy koninkryk. In Jerusalem het Hy sy koning agter wie Hy staan en oor wie Hy sy hand

hou. Sy mag en heerskappy blyk deur sy koning se regering in Jerusalem. Die koninkryk van God rus op slot van

sake vas en seker in God se raadsplan. Al raas die volkere ook hoe en al is hulle ook hoe opstandig, God se saak

sal bly voortbestaan. Dit is die evangelie van Psalm 2: God lag! Hy sien die opstand van die volkere en hulle

maghebbers. Dit is skyn sonder werklikheid. Dit is geen finale werklikheid nie. Die laaste werklikheid is die koninkryk

van God. Dié koninkryk kom en niks sal dit stuit nie. Daarom lag God vir hulle manewales. Dít is die evangelie. Die

evangelie is dié van die lag. God se lag. God lag ook waar mense vergeet om te lag. In die woorde "God lag" kan

n mens die hele inhoud van die evangelie saamvat.

Psalm 2 het waarskynlik oorspronklik rondom die troonsbestyging van die koning afgespeel. Onderhorige volkere

het dit gewoonlik as n geleentheid gesien om in opstand te kom en hulle afhanklikheid te herwin. God staan egter

agter die koning wat in Jerusalem oorneem. God lag en laat Hom nie deur opstandelinge ontstel nie. Daarom, waar

die koning in Jerusalem regeer, sal die ryk van God voortbestaan. Aan hom het God mag oor alle volkere gegee.

Die eindes van die aarde sal sy eiendom wees. Vir die magtiges van die wêreld sal daar geen ander opsie wees as

om hulle aan die koning in Jerusalem te onderwerp nie. Die koning wat die nodige volmag van God het, sal met sy

teenstanders afreken. Hy het altyd die laaste woord.

Ons weet nie aan watter koning die psalmis gedink het nie. Ons weet egter dat geen koning in Jerusalem se ryk

alle koninkryke van die aarde ingesluit het nie. Die eintlike gesalfde in wie die koninkryk van God finaal sou kom,

was Jesus Christus. Hy is n nog meer weerlose koning as die koning in Jerusalem: verworpe, gekruisig, magteloos

aan mense oorgelewer. Gespot, gehoon. n Weerlose offer aan n kruis. Toe Hy op die wêreldtoneel verskyn, het die

demoniese magte toegetree tot die spel. Tog is hierdie gekruisigde Man God se lag, want Hy het oor alle magte en

owerhede op Golgota getroon. Hy is die opgestane Here. Hy is die Koning! Hy het deur alle aanvegting en

eensaamheid heen gegaan. Hy, die vleesgeworde, is ook God! Sy koms en verskyning, sy dood en opstanding het

vir ons duidelik gewys dat die laaste werklikheid in hierdie wêreld nie dit is wat ons met die blote oog sien nie. Die

laaste werklikheid is die genade en liefde van Jesus Christus. Die laaste werklikheid is die komende ryk van God.

In die woorde "God lag" het die digter van Psalm 2 die hele evangelie saamgevat. Tog vind ons dit vreemd dat God

lag. In ons Calvinistiese ore met sy strak en terughoudende vroomheid klink dit ietwat ligsinnig en onbetaamlik. Tog

sê ons teks: God lag. God kan lag en stil glimlag, want Hy is nie n humorlose God nie. Wie humor het, sien deur

die gevare en laat hom nie daardeur onderkry nie. Hy behou die laaste woord. Derhalwe kan hy ook lag. So ken

God ook humor. En in Jesus Christus het God sy lag oor hierdie wêreld uitgebrei. Ons het inderdaad n God wat

kan lag. Ons het n Koning wat werklik regeer. Aan Hom is alle mag in hemel en op aarde gegee, maar Hy regeer

nie deur mag en geweld nie, maar deur sy genade. In sy liefde behou Hy die laaste woord.

Het jy die toon van Psalm 2 gehoor? God lag! Is dit nie musiek nie? Hy sien die opstand wat opbou, maar deurskou

dit op n afstand. Hy weet die God van Israel is die oorwinnaar. Daarom word dié psalm n vrolike lied, die lied van

n vrolike, opgewekte man. Hy sing en lag. Hy het God sien lag. Nou kan hy self ook lag, want God se lag is

aansteeklik. Ontspanne lag die digter saam te midde van die onrus wat die volke stook, want God het hom tot humor

bevry.

Gemeente, dít is geloof. Geloof is om saam met God te lag. Geloof is om deur God se lag aangesteek te word en

God na te spreek in wat Hy sê. Julle is ook geroep om God na te sê. Julle word tot humor opgeroep. Julle almal

word opgeroep om aan wie ook al julle pad kruis, te vertel dat Jesus die Oorwinnaar is. Dan sal julle kan ontspan

en lag. Self het julle nie die vermoë om die werklikheid waarin julle julle bevind te deurskou nie. Jesus Christus kan

julle help om die werklikheid te deurskou, want Hy het die laaste woord. As julle dit bedink, sál julle vry raak om te

lag.

Julle hoef nie meer die magte en dinge te vrees wat julle bedreig nie. Julle hoef hulle nie te vrees asof hulle die

enigste werklikheid is nie. Jesus Christus is die laaste werklikheid. Hy hou julle veilig in sy hand. Sy oorwinning kan

deur niemand ongedaan gemaak word nie. Daarom kan julle onbevange en sonder angs die lewe ingaan. Julle hoef

niks te vrees nie.

Julle hoef dan ook nie langer die magte en dinge waarmee julle te doen het te dien nie. Waar Jesus Christus die

Heer is, die Oorwinnaar, is dit onmoontlik om ander here en ander magte te dien. Julle kan ook nie langer ander

middele gebruik en ander metodes volg om julle lewe te red nie. Julle het n Heer. In Hom en in Hom alleen het julle

vryheid. Julle verloor egter hierdie vryheid sodra julle ander here navolg en dien.

Die digter sluit hierdie lied af met n oproep tot gehoorsaamheid aan die nuwe koning, wat God in Sion aanstel. Hy

waarsku: Teenstand teen hom sal tot niks lei nie. Inteendeel, dit sal fataal wees. Die volkere het dus geen ander

keuse nie as om hulle geheel aan hom oor te gee. Opstand teen die koning kan hulle ondergang en dood beteken.

Daarom moet die konings van die aarde verstandig wees en hulle laat waarsku. Die digter sluit egter af met n

belofte: Wie by God skuil, sal genade ontvang. Wie Jesus Christus as Here en Verlosser erken, word genees en

bevry. Wanneer ons egter sy gebooie en bevele verontagsaam, oorval die chaos ons en beland ons in n ewige

doodloopstraat waar die demone oor ons heers. Dan kan ons die verwildering nie keer nie. Sonder Jesus verval ons

in angs en diens aan die demone en het ons lewe geen betekenis meer nie. Sonder Jesus is daar geen lewe, geen

rus, geen vrede en geen geregtigheid nie. Onder sy heerskappy word ons vry, vry van die vrees vir demone. Hy

maak van ons vry mense in hierdie wêreld. Mense wat kan lag, omdat God regeer.