Job 23:1-17 (Johan Rossouw)

15 Oktober 2000

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste:   Psalm 22:1-15; Hebreërs 4:12-16; Markus 10:17-31.

Die Here oorwin eerlike rebelle na Hom toe. 

Teks en Konteks

Job 23:1-17 is die enigste teks uit die boek Job wat in hierdie liturgiese jaar as fokusteks gebruik word.  In hierdie studie word daarom eerder op die boek in die breë gekonsentreer.  Dit is om hoorders wat net een keer hierdie jaar aan Job blootgestel gaan word tog die geleentheid te bied om die teologie en vraagstuk van hierdie meesterlike literêre werk beter te kan begryp. 

Daar was talle verhale in die ou nabye Ooste (veral Mesopotamië) in omloop oor 'n soortgelyke lydende regverdige.  Aangesien hierdie sogenaamde “Job-verhale” baie oud is, is dit waarskynlik dat die verhaal van Job soos ons hom ken, gegroei het uit 'n voorstadium, 'n digterlike verwerking, en 'n paar latere byvoegings.  Die boek is 'n wysheidsgeskrif wat te doen het met ontwikkelings binne die sogenaamde wysheidstroom.  Die wysheidsleraars wou voorskrifte gee oor hoe voorspoed verseker kan word.  Job reageer op die probleem wat ontstaan as mens dink dat voorspoed deur wyse optrede verseker kan word. 

Die boek as geheel bestaan uit 'n raam-verhaal van prosa (1-2 en 42:7-17) en 'n lang poëtiese gedeelte tussenin.  Die raam het oorspronklik alleen bestaan en is deur die digter gebruik as die fondament vir sy magtige werk.  Tussen die begin en einde van die boek word die digwerk in verskillende stappe uiteengesit.  In die eerste helfte daarvan is daar drie redegange wat so uitgewerk is dat Job telkens eerste praat en om die beurt deur een van sy drie vriende geantwoord word (ABACAD drie maal).  Dit verloop so dat die drie vriende Job nie troos nie, maar beskuldig.  Hulle lei uit sy leed af dat hy moes gesondig het en hul woorde toon 'n dalende simpatie vir Job.  Daarteenoor neem Job se heftige verdediging van sy onskuld in dieselfde mate toe totdat hy naderhand God uitdaag (29-31).  Benewens die kunstigheid van hierdie redevoeringe laat die digter aan die einde van die derde redegang (21-27, na 3-11, 12-20) boonop die drie vriende se toesprake wanordelik word sodat Sofar nie eens 'n beurt in die laaste rondte kry nie.  So toon hy hoe hul argument uitrafel en in chaos eindig.

Voordat God se antwoord op Job se uitdaging aan die beurt kom, hoor ons eers van 'n vierde vriend wat nêrens elders in die boek genoem word nie.  Hy heet Elihu en hy verklaar Job se lyding as 'n tugtiging van Godsweë, maar tegelyk behou hy ook die vergeldingsdogma.  Daarna volg God se magtige toespraak waarin Hy Job dwing om sy verset op te gee en hom in die arms van God te werp.   Die epiloog vertel hoe dit weer, ten spyte van sy rebellie, met Job begin goed gaan het en hoe daar, ten spyte van vrome verdediging van God se eer, vir die vriende teëspoed begin kom het.

Job en sy vriende staan teenoor mekaar.  Aan die een kant vind ons die vriende met hul onversetlike opvatting van die vergeldingsleer.  Hierdie dogma het gelui dat 'n mens beloon word met die goeie as jy iets goeds doen en gestraf word met die kwade as jy verkeerd doen.  Dit is die skarnier van die hele wysheidsbeweging.  Dit kom ooreen met die eenvoudige lewenswysheid waarmee 'n ouer vandag sy kinders sal opvoed.  As jy die verkeersreëls verontagsaam sal ‘n ongeluk jou tref; as jy dit gehoorsaam, sal jy veilig arriveer.  Dit word 'n onproblematiese, praktiese beskouing genoem.  As sodanig is dit ook goeie raad.  Maar 'n mens kan die verhouding nie omkeer nie.  'n Mens kan nie na 'n kind in die hospitaal gaan en sê jy is raakgery, dus het jy oor 'n rooi lig geloop nie.  'n Mens kan nie sommer uit teenspoed aflei dat daar 'n spesifieke sonde as oorsaak vooraf gaan nie.  Dit is wat Job se vriende gedoen het.  Hulle het nie by die ou, onproblematiese en praktiese soort wysheid gebly nie, maar die hele redenasie in trurat probeer bedryf.  Na hulle mening moes Job sy lyding met 'n spesifieke sonde verdien het. 

Hoekom? – Omdat hulle dogma so sê – die beste voorbeeld van wat die “verstarring van die wysheid” genoem word.  Dit beteken dat hulle nie meer met die werklikheid en met die mens se ervaring daarvan gereken het nie, maar met 'n teorie daaroor.  As die dogma of teorie sê dat God sonde straf, dan kan daar uit allerlei redenasies konklusies getrek word en die teorie beskou homself dan as reg afgesien van wat die werklikheid getuig. 

Hierdie verskynsel het oral in die nabye Ooste opgeduik en het die ou, gesonde-verstand-tipe wysheid 'n verstarring van hierdie soort ondergaan.  Protesreaksies was daar ook.  Daar is talle tekste uit Egipte, Sumerië en Babilonië waar die geldigheid van so 'n klipharde soort verstarring bevraagteken word.  In die meeste gevalle word die krisis egter nie opgelos nie en word die oë op die ou end ook maar vir die probleem gesluit.  Die enigste twee uitsonderings, waar die proteswysheid dus nie uiteindelik die handdoek voor die verstarde wysheid ingooi nie, is Job en die boek Prediker.  Die sogenaamde “Sumeriese Job”: kaputileer voor die probleem deur te sê dat die lyding van vrome mense bewys hulle is maar net oënskynlik vroom.  Die sogenaamde. “Babiloniese Teodisee” bevraagteken ook eers die vergeldingsdogma, maar die lyder word eindelik deur 'n vriend oortuig dat hy tog maar sy lyding moes verdien het.  ‘n Ander Babiloniese teks sê dat lyding nie so erg soos die dood is nie en dat die probleem daarom ook nie so erg is nie – volstruistaktiek.  Ten slotte sê ‘n verdere Babiloniese bundel dat die mens tog nie weet wat goed is nie en daarom gestraf kan word vir wat hy gedink het goed is.  So tree keer op keer 'n worstelstryd in wanneer mense waarneem dat die vergeldingsleer nie werk nie – net om aan die einde dan tog maar toe te gee dat dit werk.)

Die onversetlikheid van Job se vriende dryf Job algaande tot ‘n rebellie teen God.  Hulle moet egter nie goedsmoeds sleg gemaak word nie, want hulle het altyd vir die eer van God teen die rebelse woorde van Job opgekom.  Hulle verdedig hulle geloof aan 'n morele beginsel waarvolgens die wêreld bestuur word, terwyl Job se ontkenning dat daar so iets bestaan hul hele godsdienstige waardesisteem aantas. 

Hierdie vegters vir God word egter nie net deur Job nie, maar ook deur God verwerp.  Hy sê vir Elifas:  “My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende, want julle het nie reg van My gespreek soos My kneg Job nie” (42:7).  Dit verwys na die dinge wat hulle in die digterlike redes oor God gesê het en Job se erkenning dat hy in die loop van die debat met sy vriende verkeerd gepraat het en nou herroep wat hy vroeër gesê het.  Die verdediging van God deur die vriende was dus verkeerd.  Job word aangeneem nie vanweë sy vroeëre vroomheid nie (dit sou op grond van menslike verdienste wees), maar ten spyte van die vuis wat hy vir God gebal het.   Die vriende word verwerp, nie vanweë hul ongehoorsaamheid nie, maar ten spyte van hul noue verdediging van God se eer. 

Hoe is dit moontlik? – Omdat hulle verkeerd gespreek het by die ontvouing van hul vergeldingsdogma.  Hierdie leer het so versteen dat hulle gedink het God moet altyd mense straf oor spesifieke sondes – met ander woorde dat God die gevangene van 'n sisteem is en nooit anders mag optree as wat daardie menslik-uitgedinkte sisteem bepaal nie.  Die outeur gaan besonder kunstig te werk:  As die vriende se verstarde leer reg was, dan sou ons uit hul uiteindelike onheil (Hfst 42) moes aflei dat hulle daarmee gestraf word vir hul verkeerde woorde.  Met ander woorde, as hulle reg was, dan was hulle verkeerd. 

So omsingel die digter hulle met 'n sirkel-argument waaruit daar geen ontsnapkans is nie.  En daar hou die boek ook op – die vriende sit aan die einde in dieselfde bootjie as Job in die begin: onheil sonder dat hulle iets gedoen het om dit te verdien.  Daarmee word die innerlike weerspreking en totale onhoudbaarheid van die vriende se teologiese verstarring afgewys.

Job word ook in so 'n redenasiesirkel vasgevang.  Nadat Job God uitgedaag het om verantwoording te doen vir sy behandeling (Hfst 29-31), neem God die uitdaging aan.  In die onvergelyklike Godsrede antwoord Hy op die klag, maar nie een van die uitsprake daarin is 'n direkte antwoord nie.  Tussen 'n inleiding en 'n slot verwys Hy in vier maal vier strofes van vier reëls elk oor sy skepping en sy sorg vir die diere daarin.  Wat lê onder die aardfondamente?  Wie het die see by die geboorte met wolke doeke toegedraai?  Wie se verstand het instink aan die trekvoëls gegee?  Die antwoord van God bestaan net uit vrae - Job moet self die antwoord verskaf.  Maar tog is dit retoriese vrae wat iets te sê het.  Hulle dwing Job in die rigting van die antwoord wat hy self moet gee.  So sê God aan Job dat geen mens die misteries van die skepping deurgrond nie.  Geen mens omvat die oneindigheidsidee (wat onder die laaste fondament lê) nie, en niemand begryp wat instink is waardeur die wêreld van die lewende wesens beheer word nie.  Maar tog aanvaar almal dit en almal leef met die misteries saam.  Waarom kan mense dan nie ook saamleef met die misteries van die morele orde in daardie skepping nie?  So toon die kunstige digter die diep beplande orde in die skepping van God – 'n harmonie te midde van misterie.

God sorg self daarvoor dat Job hierdie antwoord vind deur hom in 'n redenasiesirkel te dwing.  Met goddelike humor bied hy aan om sy troon aan Job af te staan en selfs om 'n loflied soos dié in die Psalms te sing tot eer van die Here – op een voorwaarde:  Job moet die dinge kan doen wat God kan, soos die groot skeppingslied hulle sopas ingeryg het.  En terwyl hy besig is, moet hy sommer een van die mees tipiese Godsdade volgens die Ou Testament verrig:  Hy moet die oormoedige mense wat hulself teen God verhef, verneder (40:6-8).  En wie is die eerste persoon wat homself teen God verhef het? – Hy self!  So moet Job in sy poging om God te word, homself weerhou van daardie poging.  Job word in 'n ondeurbreekbare sirkel vasgevang net soos die waarin sy vriende beland het.  Hy kan God wees, God veroordeel vir onreg en so die hele probleem van die boek oplos alleen as hy die onhaalbare kan haal.  Dit is weer 'n innerlike onmoontlikheid en Job kan alleen maar erken dat hy sy vuis onregmatiglik voor God gebal het.  So wys God die “linkse” rebellie van Job net so grondig af as die “regse” ortodoksie van die vriende.

Die probleem of die wêreld volgens 'n morele orde bestuur word kan dus nie opgelos word deur 'n teologiese sisteem van sekerhede nie.  God se skepping kan dan nie eens deurgrond word nie, hoe dan nog sy bestuur daarvan?  Hy is groter as alle teologietjies en oortuiginkies en sisteempies.  Was dit anders, dan was Hy nie God nie.  Die probleem kan egter ook nie opgelos word deur God tot orde te roep en teen Hom te rebelleer nie.  Deur dit te doen, word sy grootheid en ondeurgrondelikheid ook ontken – asof 'n mens Hom kan dwing om in terme van 'n vergeldingsdogma te móét optree!

Dit alles beteken dat Job en die vriende van dieselfde basiese veronderstelling uitgegaan het, naamlik dat God aan die vergeldingsleer gebonde is.  Die vriende het net verklaar dat Hy altyd in terme van hulle teorie optree en Job het geëis dat hy dit moet doen.

Tog is daar meer simpatie in die boek vir Job as vir die vriende.  Hulle was oppervlakkig en het sonder worsteling en al te goedsmoeds gemeen dat hulle God kan verklaar – mooi gekamoefleer met vroom redevoeringe.  Job, daarenteen was 'n eerlike worstelaar wat uitdruklik uitgeroep het wat hy van God dink en nie vroom praatjies daaromheen geweef het nie.  Job het hom met sy uitdagende houding as die meerdere van God opgestel, maar die vriende het dit gedoen met hul vroom klinkende maar oppervlakkige teorieë oor God.  Daarom word beide deur God oorwin.  Job word egter nie, soos die vriende se teologie eis, met vernietiging vir sy rebellie oorwin nie.  Hy word na God toe oorwin.  Daarmee is die verstarde dogma in al sy ongenaakbare onsensitiwiteit omvergegooi en Job gedwing om hom in die arms van God te werp.

Dit is duidelik dat daar nie net twee soorte teologieë (nl die ortodokse sisteemteologie van die vriende en die rebelse protesteologie van Job) in die boek voorkom nie, maar ook twee godsdienstige wêrelde.  Aan die een kant staan Job se beskouing.  Hy probeer verstaan en deurdink wat God doen.  Maar sy uiteindelike konklusie (wat ook die digter se oortuiging is) is dat mense alleen maar kan buig voor die ondeurgrondelike God.  Aan die ander kant staan die vriende.  Hulle het nie geworstel soos Job nie, maar wel gedink dat hulle God verstaan en Hom in kanne en kruike het.  Albei kante sê God is almagtig en groot en albei kante probeer die probleem deurdink.  Geloof en denke - albei hierdie elemente kom by albei groepe voor, maar tog verskil hulle godsdiens hemelsbreed.  Die rede daarvoor is die verhouding van die twee elemente.  By die vriende vorm hul verstandelik deurdagte skemas die raamwerk waar binne hul geloof moes optree.  Hul verstand vorm die beperkende grense vir hul geloof in God en hoe God is – hulle wou God inhok en vaspen binne hul denksisteempie.  Job se finale posisie is egter presies andersom.  Die kritiese, denkende intellektuele element is daar, maar dit word omgewe deur die geloof in die ondeurgrondelike majesteit van God.  Job het probeer verstaan hoekom hy ly en hoe die bestiering van God werk, maar ook ingesien dat God se wonderbaarlikheid nie met die denke omvat kan word nie. Job se vriende.

 


Preekvoorstel

Predikers kan selektief van bogenoemde inleidingsgegewens gebruik maak om by die volgende uit te kom:  Die betekenis van die boek Job beweeg op drie vlakke:

Die eerste vlak gaan spesifiek om lyding.  Dit is geen wonder dat baie geleerdes die boek as 'n soort klaagpsalm opvat nie.  Ten opsigte hiervan bring die boek vir ons tegelyk sy antwoord en sy misterie.  Die misterie is dat God geen verstandelike bevredigende oplossing bied nie.  Waarom goeie mense soms meer as andere moet ly (en waarom skurke soms 'n lekker lewe mag geniet) kan eenvoudig nie rasioneel verklaar word nie. 

Ook nie deur te sê alle mense is sondaars en daarom moet alle mense verwag om te ly nie.  Dit is nie die probleem nie – die probleem is hoe dit verklaar word dat mense wat minder as ander verdien om te ly, meer as hulle moet ly.  Wat het 'n pasgebore baba in Hirosjima gesondig meer as een in Pretoria om lewenslank aan aantoombestraling te ly?  Hierop sê ons digter is daar geen rasionele antwoord nie.  Die simpatie in die boek vir die rebelse Job wys dat God 'n diepe respek het vir sy lydende skepsel wanneer hy begin vra “waarom?”, wanneer hy 'n verklaring eis en selfs wanneer hy teen God in opstand kom. 

'n Mens mag in sy bitterheid vra “waarom” en God respekteer dit – maar die verstand kan die antwoord nie vind nie.  Die antwoord is 'n ervaring – gemeenskap met God.  Dit bestaan daarin dat mens jou te midde van die raaisels eenvoudig maar oorgee in die hande van God.  Daardie ervaring lê ander kant alle “oplossing” en maak hulle dus oorbodig.  So bring ons boek aan vraende en miskien selfs opstandige lyers geen oppervlakkige toemaartroos nie, maar 'n boodskap van diepe berusting vir elkeen wat selfs deur die diepste twyfel en rebellie heen tot die besef van 'n ondeurskoubare maar tog sinvolle orde gekom het.

Op’n tweede vlak gaan dit om die manier waarop mense van God praat.  Dit is geen wonder dat talle geleerdes die boek as 'n Israelitiese wysheidsgeskrif opvat nie, want die wysheidsleraars was die mense wat ons vandag “teoloë” sou noem.  Hulle het soos alle teoloë, gepoog om iets van God te sê.  So dien die hele probleem van menslike lyding ook as draagmiddel om hierdie meer basiese onderwerp ter sprake te bring.  Hierdie vlak van die boek se boodskap bring ook vir ons sy antwoord op die vraag wat ons dan van God sal sê en tegelyk sy misterie.  Die misterie van God, sy ondeurgrondelikheid, grootheid en majesteit waarvan die boek so indrukwekkend gewag maak – dit waarsku ons om bewus te bly van die grense van ons opvattings oor God.  Alle menslike begrip, taal en voorstellings-teologieë, belydenisskrifte, kerklike besluite en die Bybel ingesluit – is nie groot genoeg om die werklikheid van God te omvat nie.  Mense wat meen dat enigiets wat bestaan – hul vaste oortuigings, belydenis en die Bybel inkluis – God kan omvat is skuldig aan godslastering.  Hulle meen soos Job se vriende dat daar iets in die menslike denke bestaan wat God kan verklaar soos 'n wiskundesom en wat daarom groter is as God. 

Niemand sal dit natuurlik ooit erken nie (kyk hoe mooi en vroom het Job se vriende oor God se grootsheid gepraat!).  Maar die gevaar is altyd daar dat mense per implikasie aanspraak op “Godkundigheid” maak.  Daarom word ons (miskien die teoloë die meeste van almal, maar ook alle Christene) gewaarsku dat ons geloof nooit mag verstar tot 'n sisteem van sluitende antwoorde nie. 

Ook dit sal niemand sommer so erken nie, maar dit kom ongelukkig baie voor.  Ons kan nie alle vrae beantwoord nie, nie oor waarom goeie mense dikwels swaarder as ander moet ly nie en ook nie oor die dieptes van God se ondeurdringbare wese nie.  'n Geloof of 'n belydenis of 'n teologie wat meen dat hy kán, of, wát so optree of, wat meen dat hy die waarheid volledig “het”, maak soos die vriende van Job.  Dan kan dit net so vroom soos hulle opvattings wees, maar dit sal nooit die oordeel kan ontduik:  “... julle het nie reg van my gespreek soos my kneg Job nie”.  Job is die grootste bewys onder die Bybelboeke dat God se openbaring 'n ontmoeting, 'n persoonlike belewenis is en nie 'n stel feite en proposisies en leerstellinge nie.  Die antwoord aan die denkende en ernstige mens wat hierdie dinge oorweeg, is dat hy mag vra en wonder, selfs mag kritiseer en bevraagteken en toets, maar dat daar rondom hierdie nadenke en uitpluis-drang die bewussyn van die onmeetbare, alleen geloofbare God moet wees.  Ons denke moet deur ons geloof omgewe word.

Op die laaste vlak gaan dit om verset soos die van Job teen God, maar ook van die digter teen die verstarde teologie.  Geen wonder soveel teoloë het ingesien dat die boek 'n juridiese aspek het nie omdat Job God tot 'n regstryd uitdaag – en verloor.  As God die kritiese rebel nie vernietig nie, maar na homself toe aankeer, dan sê dit baie van sy liefde vir mense wat hul vuiste vir Hom bal.  Is dit nie juis vir hulle dat sy Seun in die wêreld gekom het nie?  As God so maak met mense wat teen Hom in opstand kom, dan beteken dit ook baie vir hoe die kerk teenoor sulke mense moet staan. 

Hoe ongemanierd is ons nie dikwels in ons verdoemende uitsprake oor die goddelose dit en die anti-goddelike dat nie!  Dink byvoorbeeld maar aan moderne skrywers, om net een voorbeeld van baie moontlikes te gee.  Aan die een kant het kerklike woordvoerders 'n kruistog van veroordeling teen talle sulke Job-figure onderneem, maar aan die ander kant nie ingesien dat dit die teenoorgestelde houding is van die een wat ons dikwels inneem teenoor Job-figure in die hole van die stede nie.  Die een soort rebel word heftig en vlammend veroordeel en die ander een word jammer gekry.  En dan is lank nie alle sodanige Job-figure rebelle teen God nie, maar alleen krities teenoor die sisteme waarin mense Hom probeer dwing het.  En dit is juis 'n goeie ding!  Die Bybel bevat self ten minste twee boeke wat so gesind is (die ander is Prediker)! 

Kritiese figure in 'n gemeenskap, 'n kultuur en in die kerk is onontbeerlik.  Hulle help om diskussie en bewoënheid te bevorder.  Heilige onrus!  Daarsonder word alles stil, klinies, doods.  Dan begin mense dink hulle het al die antwoorde, want daar kom geen vrae nie.  Die sosioloë vertel ons ook hoe nodig sulke meningswisselinge is.  Maar hier het ons 'n godsdienstige rede waarom ons dit moet verwelkom.  As mense nie meer bewoë raak oor 'n saak nie, nie meer ondersoek, debatteer en verskil nie, is daar verstarring. 

Daarom moet die bestaan van sulke mekaar-kritiserende groepe nooit betreur word nie, maar verwelkom word as iets gesonds – 'n teken van lewe.  Daar is wel twee voorwaardes.  Die eerste is dat elke rigting of groep homself ook nie moet verabsoluteer en beskou as die een wat die waarheid “het” nie.  Dan word hy ook maar soos die Job-vriende.  Die tweede voorwaarde is dat broederlikheid en liefde nooit verlore moet gaan wanneer gedebatteer word nie.  As ons nie persone en sake onderskei nie en venynig word teenoor mekaar, dan het ons die Gees van Christus bederf. 

 

Bibliografie

Loader, J A 1985.  Inleiding tot die ontstaan, struktuur en boodskap van Job.  Lesing gelewer by die Aasvoëlkopse Bybelskool.  Loader, J A 1986.  Tekste met ‘n wysheidsperspektief, in Deist, F en Vorster, W (reds), Woorde wat ver kom, 103-122.  Kaapstad: Tafelberg.  (Die literatuur van die Ou Testament, Deel 1).  Loader, J A 1987.  Die boek Job, in Burden, J J en Prinsloo, W S (reds), Tweegesprek met God, 1-8.  Kaapstad: Tafelberg.  (Die literatuur van die Ou Testament, Deel 3)