Ander
tekste: Psalm 22:1-15; Hebreërs 4:12-16; Markus
10:17-31.
Job 23:1-17
is die enigste teks uit die boek Job wat in hierdie liturgiese jaar as
fokusteks gebruik word. In hierdie
studie word daarom eerder op die boek in die breë gekonsentreer. Dit is om hoorders wat net een keer hierdie
jaar aan Job blootgestel gaan word tog die geleentheid te bied om die teologie
en vraagstuk van hierdie meesterlike literêre werk beter te kan begryp.
Daar was
talle verhale in die ou nabye Ooste (veral Mesopotamië) in omloop oor 'n
soortgelyke lydende regverdige.
Aangesien hierdie sogenaamde “Job-verhale” baie oud is, is dit
waarskynlik dat die verhaal van Job soos ons hom ken, gegroei het uit 'n
voorstadium, 'n digterlike verwerking, en 'n paar latere byvoegings. Die boek is 'n wysheidsgeskrif wat te doen
het met ontwikkelings binne die sogenaamde wysheidstroom. Die wysheidsleraars wou voorskrifte gee oor
hoe voorspoed verseker kan word. Job
reageer op die probleem wat ontstaan as mens dink dat voorspoed deur wyse
optrede verseker kan word.
Die boek as
geheel bestaan uit 'n raam-verhaal van prosa (1-2 en 42:7-17) en 'n lang
poëtiese gedeelte tussenin. Die raam
het oorspronklik alleen bestaan en is deur die digter gebruik as die fondament
vir sy magtige werk. Tussen die begin
en einde van die boek word die digwerk in verskillende stappe uiteengesit. In die eerste helfte daarvan is daar drie
redegange wat so uitgewerk is dat Job telkens eerste praat en om die beurt deur
een van sy drie vriende geantwoord word (ABACAD drie maal). Dit verloop so dat die drie vriende Job nie
troos nie, maar beskuldig. Hulle lei
uit sy leed af dat hy moes gesondig het en hul woorde toon 'n dalende simpatie
vir Job. Daarteenoor neem Job se
heftige verdediging van sy onskuld in dieselfde mate toe totdat hy naderhand
God uitdaag (29-31). Benewens die
kunstigheid van hierdie redevoeringe laat die digter aan die einde van die
derde redegang (21-27, na 3-11, 12-20) boonop die drie vriende se toesprake
wanordelik word sodat Sofar nie eens 'n beurt in die laaste rondte kry
nie. So toon hy hoe hul argument uitrafel
en in chaos eindig.
Voordat God
se antwoord op Job se uitdaging aan die beurt kom, hoor ons eers van 'n vierde
vriend wat nêrens elders in die boek genoem word nie. Hy heet Elihu en hy verklaar Job se lyding as 'n tugtiging van
Godsweë, maar tegelyk behou hy ook die vergeldingsdogma. Daarna volg God se magtige toespraak waarin
Hy Job dwing om sy verset op te gee en hom in die arms van God te werp. Die epiloog vertel hoe dit weer, ten spyte
van sy rebellie, met Job begin goed gaan het en hoe daar, ten spyte van vrome
verdediging van God se eer, vir die vriende teëspoed begin kom het.
Job en sy
vriende staan teenoor mekaar. Aan die
een kant vind ons die vriende met hul onversetlike opvatting van die
vergeldingsleer. Hierdie dogma het
gelui dat 'n mens beloon word met die goeie as jy iets goeds doen en gestraf
word met die kwade as jy verkeerd doen.
Dit is die skarnier van die hele wysheidsbeweging. Dit kom ooreen met die eenvoudige
lewenswysheid waarmee 'n ouer vandag sy kinders sal opvoed. As jy die verkeersreëls verontagsaam sal ‘n
ongeluk jou tref; as jy dit gehoorsaam, sal jy veilig arriveer. Dit word 'n onproblematiese, praktiese
beskouing genoem. As sodanig is dit ook
goeie raad. Maar 'n mens kan die
verhouding nie omkeer nie. 'n Mens kan
nie na 'n kind in die hospitaal gaan en sê jy is raakgery, dus het jy oor 'n
rooi lig geloop nie. 'n Mens kan nie
sommer uit teenspoed aflei dat daar 'n spesifieke sonde as oorsaak vooraf gaan
nie. Dit is wat Job se vriende gedoen
het. Hulle het nie by die ou,
onproblematiese en praktiese soort wysheid gebly nie, maar die hele redenasie
in trurat probeer bedryf. Na hulle
mening moes Job sy lyding met 'n spesifieke sonde verdien het.
Hoekom? –
Omdat hulle dogma so sê – die beste voorbeeld van wat die “verstarring van die
wysheid” genoem word. Dit beteken dat
hulle nie meer met die werklikheid en met die mens se ervaring daarvan gereken
het nie, maar met 'n teorie daaroor. As
die dogma of teorie sê dat God sonde straf, dan kan daar uit allerlei
redenasies konklusies getrek word en die teorie beskou homself dan as reg
afgesien van wat die werklikheid getuig.
Hierdie
verskynsel het oral in die nabye Ooste opgeduik en het die ou,
gesonde-verstand-tipe wysheid 'n verstarring van hierdie soort ondergaan. Protesreaksies was daar ook. Daar is talle tekste uit Egipte, Sumerië en
Babilonië waar die geldigheid van so 'n klipharde soort verstarring
bevraagteken word. In die meeste
gevalle word die krisis egter nie opgelos nie en word die oë op die ou end ook
maar vir die probleem gesluit. Die enigste
twee uitsonderings, waar die proteswysheid dus nie uiteindelik die handdoek
voor die verstarde wysheid ingooi nie, is Job en die boek Prediker. Die sogenaamde “Sumeriese Job”: kaputileer
voor die probleem deur te sê dat die lyding van vrome mense bewys hulle is maar
net oënskynlik vroom. Die sogenaamde.
“Babiloniese Teodisee” bevraagteken ook eers die vergeldingsdogma, maar die
lyder word eindelik deur 'n vriend oortuig dat hy tog maar sy lyding moes
verdien het. ‘n Ander Babiloniese teks
sê dat lyding nie so erg soos die dood is nie en dat die probleem daarom ook
nie so erg is nie – volstruistaktiek.
Ten slotte sê ‘n verdere Babiloniese bundel dat die mens tog nie weet
wat goed is nie en daarom gestraf kan word vir wat hy gedink het goed is. So tree keer op keer 'n worstelstryd in
wanneer mense waarneem dat die vergeldingsleer nie werk nie – net om aan die
einde dan tog maar toe te gee dat dit werk.)
Die
onversetlikheid van Job se vriende dryf Job algaande tot ‘n rebellie teen
God. Hulle moet egter nie goedsmoeds
sleg gemaak word nie, want hulle het altyd vir die eer van God teen die rebelse
woorde van Job opgekom. Hulle verdedig
hulle geloof aan 'n morele beginsel waarvolgens die wêreld bestuur word, terwyl
Job se ontkenning dat daar so iets bestaan hul hele godsdienstige waardesisteem
aantas.
Hierdie
vegters vir God word egter nie net deur Job nie, maar ook deur God
verwerp. Hy sê vir Elifas: “My toorn het ontvlam teen jou en jou twee
vriende, want julle het nie reg van My gespreek soos My kneg Job nie”
(42:7). Dit verwys na die dinge wat
hulle in die digterlike redes oor God gesê het en Job se erkenning dat hy in
die loop van die debat met sy vriende verkeerd gepraat het en nou herroep wat
hy vroeër gesê het. Die verdediging van
God deur die vriende was dus verkeerd.
Job word aangeneem nie vanweë sy vroeëre vroomheid nie (dit sou op grond
van menslike verdienste wees), maar ten
spyte van die vuis wat hy vir God gebal het. Die vriende word verwerp, nie vanweë hul ongehoorsaamheid nie, maar
ten spyte van hul noue verdediging van
God se eer.
Hoe is dit
moontlik? – Omdat hulle verkeerd gespreek het by die ontvouing van hul
vergeldingsdogma. Hierdie leer het so
versteen dat hulle gedink het God moet altyd mense straf oor spesifieke sondes
– met ander woorde dat God die gevangene van 'n sisteem is en nooit anders mag
optree as wat daardie menslik-uitgedinkte sisteem bepaal nie. Die outeur gaan besonder kunstig te werk: As die vriende se verstarde leer reg was,
dan sou ons uit hul uiteindelike onheil (Hfst 42) moes aflei dat hulle daarmee
gestraf word vir hul verkeerde woorde.
Met ander woorde, as hulle reg was, dan was hulle verkeerd.
So omsingel
die digter hulle met 'n sirkel-argument waaruit daar geen ontsnapkans is
nie. En daar hou die boek ook op – die
vriende sit aan die einde in dieselfde bootjie as Job in die begin: onheil
sonder dat hulle iets gedoen het om dit te verdien. Daarmee word die innerlike weerspreking en totale onhoudbaarheid van
die vriende se teologiese verstarring afgewys.
Job word
ook in so 'n redenasiesirkel vasgevang.
Nadat Job God uitgedaag het om verantwoording te doen vir sy behandeling
(Hfst 29-31), neem God die uitdaging aan.
In die onvergelyklike Godsrede antwoord Hy op die klag, maar nie een van
die uitsprake daarin is 'n direkte antwoord nie. Tussen 'n inleiding en 'n slot verwys Hy in vier maal vier
strofes van vier reëls elk oor sy skepping en sy sorg vir die diere
daarin. Wat lê onder die
aardfondamente? Wie het die see by die
geboorte met wolke doeke toegedraai?
Wie se verstand het instink aan die trekvoëls gegee? Die antwoord van God bestaan net uit vrae -
Job moet self die antwoord verskaf.
Maar tog is dit retoriese vrae wat iets te sê het. Hulle dwing Job in die rigting van die
antwoord wat hy self moet gee. So sê
God aan Job dat geen mens die misteries van die skepping deurgrond nie. Geen mens omvat die oneindigheidsidee (wat
onder die laaste fondament lê) nie, en niemand begryp wat instink is waardeur
die wêreld van die lewende wesens beheer word nie. Maar tog aanvaar almal dit en almal leef met die misteries
saam. Waarom kan mense dan nie ook
saamleef met die misteries van die morele orde in daardie skepping nie? So toon die kunstige digter die diep
beplande orde in die skepping van God – 'n harmonie te midde van misterie.
God sorg
self daarvoor dat Job hierdie antwoord vind deur hom in 'n redenasiesirkel te
dwing. Met goddelike humor bied hy aan
om sy troon aan Job af te staan en selfs om 'n loflied soos dié in die Psalms
te sing tot eer van die Here – op een voorwaarde: Job moet die dinge kan doen wat God kan, soos die groot
skeppingslied hulle sopas ingeryg het.
En terwyl hy besig is, moet hy sommer een van die mees tipiese Godsdade
volgens die Ou Testament verrig: Hy
moet die oormoedige mense wat hulself teen God verhef, verneder (40:6-8). En wie is die eerste persoon wat homself
teen God verhef het? – Hy self! So moet
Job in sy poging om God te word, homself weerhou van daardie poging. Job word in 'n ondeurbreekbare sirkel vasgevang
net soos die waarin sy vriende beland het.
Hy kan God wees, God veroordeel vir onreg en so die hele probleem van
die boek oplos alleen as hy die onhaalbare kan haal. Dit is weer 'n innerlike onmoontlikheid en Job kan alleen maar
erken dat hy sy vuis onregmatiglik voor God gebal het. So wys God die “linkse” rebellie van Job net
so grondig af as die “regse” ortodoksie van die vriende.
Die
probleem of die wêreld volgens 'n morele orde bestuur word kan dus nie opgelos
word deur 'n teologiese sisteem van sekerhede nie. God se skepping kan dan nie eens deurgrond word nie, hoe dan nog
sy bestuur daarvan? Hy is groter as
alle teologietjies en oortuiginkies en sisteempies. Was dit anders, dan was Hy nie God nie. Die probleem kan egter ook nie opgelos word deur God tot orde te
roep en teen Hom te rebelleer nie. Deur
dit te doen, word sy grootheid en ondeurgrondelikheid ook ontken – asof 'n mens
Hom kan dwing om in terme van 'n vergeldingsdogma te móét optree!
Dit alles
beteken dat Job en die vriende van dieselfde
basiese veronderstelling uitgegaan het, naamlik dat God aan die
vergeldingsleer gebonde is. Die vriende
het net verklaar dat Hy altyd in terme
van hulle teorie optree en Job het geëis
dat hy dit moet doen.
Tog is daar
meer simpatie in die boek vir Job as vir die vriende. Hulle was oppervlakkig en het sonder worsteling en al te
goedsmoeds gemeen dat hulle God kan verklaar – mooi gekamoefleer met vroom
redevoeringe. Job, daarenteen was 'n
eerlike worstelaar wat uitdruklik uitgeroep het wat hy van God dink en nie
vroom praatjies daaromheen geweef het nie.
Job het hom met sy uitdagende houding as die meerdere van God opgestel,
maar die vriende het dit gedoen met hul vroom klinkende maar oppervlakkige teorieë
oor God. Daarom word beide deur God
oorwin. Job word egter nie, soos die
vriende se teologie eis, met vernietiging vir sy rebellie oorwin nie. Hy
word na God toe oorwin. Daarmee is
die verstarde dogma in al sy ongenaakbare onsensitiwiteit omvergegooi en Job
gedwing om hom in die arms van God te werp.
Dit is
duidelik dat daar nie net twee soorte teologieë (nl die ortodokse
sisteemteologie van die vriende en die rebelse protesteologie van Job) in die
boek voorkom nie, maar ook twee godsdienstige wêrelde. Aan die een kant staan Job se beskouing. Hy probeer verstaan en deurdink wat God
doen. Maar sy uiteindelike konklusie
(wat ook die digter se oortuiging is) is dat mense alleen maar kan buig voor
die ondeurgrondelike God. Aan die ander
kant staan die vriende. Hulle het nie
geworstel soos Job nie, maar wel gedink dat hulle God verstaan en Hom in kanne
en kruike het. Albei kante sê God is
almagtig en groot en albei kante probeer die probleem deurdink. Geloof en denke - albei hierdie elemente kom
by albei groepe voor, maar tog verskil hulle godsdiens hemelsbreed. Die rede daarvoor is die verhouding van die
twee elemente. By die vriende vorm hul
verstandelik deurdagte skemas die raamwerk waar binne hul geloof moes
optree. Hul verstand vorm die
beperkende grense vir hul geloof in God en hoe God is – hulle wou God inhok en
vaspen binne hul denksisteempie. Job se
finale posisie is egter presies andersom.
Die kritiese, denkende intellektuele element is daar, maar dit word
omgewe deur die geloof in die ondeurgrondelike majesteit van God. Job het probeer verstaan hoekom hy ly en hoe
die bestiering van God werk, maar ook ingesien dat God se wonderbaarlikheid nie
met die denke omvat kan word nie. Job se vriende.
![]()
![]()




Predikers
kan selektief van bogenoemde inleidingsgegewens gebruik maak om by die volgende
uit te kom: Die betekenis van die boek
Job beweeg op drie vlakke:
Die eerste vlak gaan spesifiek om lyding. Dit is geen wonder dat baie geleerdes die
boek as 'n soort klaagpsalm opvat nie.
Ten opsigte hiervan bring die boek vir ons tegelyk sy antwoord en sy
misterie. Die misterie is dat God geen
verstandelike bevredigende oplossing bied nie.
Waarom goeie mense soms meer as andere moet ly (en waarom skurke soms 'n
lekker lewe mag geniet) kan eenvoudig nie rasioneel verklaar word nie.
Ook nie
deur te sê alle mense is sondaars en daarom moet alle mense verwag om te ly
nie. Dit is nie die probleem nie – die probleem is hoe dit verklaar word dat
mense wat minder as ander verdien om te ly, meer as hulle moet ly. Wat het 'n pasgebore baba in Hirosjima
gesondig meer as een in Pretoria om lewenslank aan aantoombestraling te
ly? Hierop sê ons digter is daar geen
rasionele antwoord nie. Die simpatie in
die boek vir die rebelse Job wys dat God 'n diepe respek het vir sy lydende
skepsel wanneer hy begin vra “waarom?”, wanneer hy 'n verklaring eis en selfs
wanneer hy teen God in opstand kom.
'n Mens mag
in sy bitterheid vra “waarom” en God respekteer dit – maar die verstand kan die
antwoord nie vind nie. Die antwoord is
'n ervaring – gemeenskap met God. Dit
bestaan daarin dat mens jou te midde van die raaisels eenvoudig maar oorgee in
die hande van God. Daardie ervaring lê
ander kant alle “oplossing” en maak hulle dus oorbodig. So bring ons boek aan vraende en miskien
selfs opstandige lyers geen oppervlakkige toemaartroos nie, maar 'n boodskap
van diepe berusting vir elkeen wat selfs deur die diepste twyfel en rebellie
heen tot die besef van 'n ondeurskoubare maar tog sinvolle orde gekom het.
Op’n tweede vlak gaan dit om die manier waarop mense van God
praat. Dit is geen wonder dat talle
geleerdes die boek as 'n Israelitiese wysheidsgeskrif opvat nie, want die
wysheidsleraars was die mense wat ons vandag “teoloë” sou noem. Hulle het soos alle teoloë, gepoog om iets
van God te sê. So dien die hele
probleem van menslike lyding ook as draagmiddel om hierdie meer basiese
onderwerp ter sprake te bring. Hierdie
vlak van die boek se boodskap bring ook vir ons sy antwoord op die vraag wat
ons dan van God sal sê en tegelyk sy misterie.
Die misterie van God, sy ondeurgrondelikheid, grootheid en majesteit
waarvan die boek so indrukwekkend gewag maak – dit waarsku ons om bewus te bly
van die grense van ons opvattings oor God.
Alle menslike begrip, taal en voorstellings-teologieë, belydenisskrifte,
kerklike besluite en die Bybel ingesluit – is nie groot genoeg om die
werklikheid van God te omvat nie. Mense
wat meen dat enigiets wat bestaan – hul vaste oortuigings, belydenis en die
Bybel inkluis – God kan omvat is skuldig aan godslastering. Hulle meen soos Job se vriende dat daar iets
in die menslike denke bestaan wat God kan verklaar soos 'n wiskundesom en wat
daarom groter is as God.
Niemand sal
dit natuurlik ooit erken nie (kyk hoe mooi en vroom het Job se vriende oor God
se grootsheid gepraat!). Maar die
gevaar is altyd daar dat mense per implikasie aanspraak op “Godkundigheid”
maak. Daarom word ons (miskien die
teoloë die meeste van almal, maar ook alle Christene) gewaarsku dat ons geloof
nooit mag verstar tot 'n sisteem van sluitende antwoorde nie.
Ook dit sal
niemand sommer so erken nie, maar dit kom ongelukkig baie voor. Ons kan nie alle vrae beantwoord nie, nie
oor waarom goeie mense dikwels swaarder as ander moet ly nie en ook nie oor die
dieptes van God se ondeurdringbare wese nie.
'n Geloof of 'n belydenis of 'n teologie wat meen dat hy kán, of, wát so
optree of, wat meen dat hy die waarheid volledig “het”, maak soos die vriende
van Job. Dan kan dit net so vroom soos
hulle opvattings wees, maar dit sal nooit die oordeel kan ontduik: “... julle het nie reg van my gespreek soos
my kneg Job nie”. Job is die grootste
bewys onder die Bybelboeke dat God se openbaring 'n ontmoeting, 'n persoonlike
belewenis is en nie 'n stel feite en proposisies en leerstellinge nie. Die antwoord aan die denkende en ernstige
mens wat hierdie dinge oorweeg, is dat hy mag vra en wonder, selfs mag
kritiseer en bevraagteken en toets, maar dat daar rondom hierdie nadenke en
uitpluis-drang die bewussyn van die onmeetbare, alleen geloofbare God moet
wees. Ons denke moet deur ons geloof
omgewe word.
Op die laaste vlak gaan dit om verset soos die van Job teen
God, maar ook van die digter teen die verstarde teologie. Geen wonder soveel teoloë het ingesien dat
die boek 'n juridiese aspek het nie omdat Job God tot 'n regstryd uitdaag – en
verloor. As God die kritiese rebel nie
vernietig nie, maar na homself toe aankeer, dan sê dit baie van sy liefde vir
mense wat hul vuiste vir Hom bal. Is
dit nie juis vir hulle dat sy Seun in die wêreld gekom het nie? As God so maak met mense wat teen Hom in
opstand kom, dan beteken dit ook baie vir hoe die kerk teenoor sulke mense moet
staan.
Hoe
ongemanierd is ons nie dikwels in ons verdoemende uitsprake oor die goddelose
dit en die anti-goddelike dat nie! Dink
byvoorbeeld maar aan moderne skrywers, om net een voorbeeld van baie moontlikes
te gee. Aan die een kant het kerklike
woordvoerders 'n kruistog van veroordeling teen talle sulke Job-figure
onderneem, maar aan die ander kant nie ingesien dat dit die teenoorgestelde
houding is van die een wat ons dikwels inneem teenoor Job-figure in die hole
van die stede nie. Die een soort rebel
word heftig en vlammend veroordeel en die ander een word jammer gekry. En dan is lank nie alle sodanige Job-figure
rebelle teen God nie, maar alleen krities teenoor die sisteme waarin mense Hom
probeer dwing het. En dit is juis 'n
goeie ding! Die Bybel bevat self ten
minste twee boeke wat so gesind is (die ander is Prediker)!
Kritiese
figure in 'n gemeenskap, 'n kultuur en in die kerk is onontbeerlik. Hulle help om diskussie en bewoënheid te
bevorder. Heilige onrus! Daarsonder word alles stil, klinies, doods. Dan begin mense dink hulle het al die
antwoorde, want daar kom geen vrae nie.
Die sosioloë vertel ons ook hoe nodig sulke meningswisselinge is. Maar hier het ons 'n godsdienstige rede
waarom ons dit moet verwelkom. As mense
nie meer bewoë raak oor 'n saak nie, nie meer ondersoek, debatteer en verskil
nie, is daar verstarring.
Daarom moet
die bestaan van sulke mekaar-kritiserende groepe nooit betreur word nie, maar
verwelkom word as iets gesonds – 'n teken van lewe. Daar is wel twee voorwaardes.
Die eerste is dat elke rigting of groep homself ook nie moet
verabsoluteer en beskou as die een wat die waarheid “het” nie. Dan word hy ook maar soos die
Job-vriende. Die tweede voorwaarde is
dat broederlikheid en liefde nooit verlore moet gaan wanneer gedebatteer word
nie. As ons nie persone en sake
onderskei nie en venynig word teenoor mekaar, dan het ons die Gees van Christus
bederf.
Bibliografie
Loader, J A 1985. Inleiding tot die ontstaan, struktuur en boodskap van Job. Lesing gelewer by die Aasvoëlkopse Bybelskool. Loader, J A 1986. Tekste met ‘n wysheidsperspektief, in Deist, F en Vorster, W (reds), Woorde wat ver kom, 103-122. Kaapstad: Tafelberg. (Die literatuur van die Ou Testament, Deel 1). Loader, J A 1987. Die boek Job, in Burden, J J en Prinsloo, W S (reds), Tweegesprek met God, 1-8. Kaapstad: Tafelberg. (Die literatuur van die Ou Testament, Deel 3)