25 Januarie 2004

derde sondag na Epifanie

Liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir die Sondae na Epifanie gebruik te word.

Fokusteks: Nehemia 8:1-10

Ander tekste: Psalm 19; 1 Korintiërs 12:12-31; Lukas 4:14-21

Inleiding

In Psalm 19, Nehemia 8:1-10 en Lukas 4:14-21 val die aksent op die verskyning van God in die herontdekking van die wet/Woord van God en in die optrede van Jesus Christus. Teologies is dit belangrik dat die liturg moet onthou dat die wet en Jesus Christus twee gestaltes van God se Woord is en nie teenoor mekaar staan nie, maar mekaar aanvul en voltooi.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

Lied 159 "God is hier teenwoordig"

Aanvangswoord (alternatief vir die voorstel van die basisliturgie)

Psalm 19:1-7 of Psalm 19:5 of die volgende moontlikheid:

In die begin was die Woord daar,

en die Woord was by God,

en die Woord was self God.

Hy was reeds in die begin by God.

Alles het deur Hom tot stand gekom:

Ja, nie `n enkele ding wat bestaan,

het sonder Hom tot stand gekom nie.

In Hom was daar lewe,

en die was die lig vir die mense.

Die lig skyn in die duisternis,

die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Joh. 1:1-4).

Seëngroet

Ek groet julle in naam van die een Woord van God

Jesus Christus

wat wet en mens geword het

en waarvan die Gees in ons lewe getuig:

genade en vrede vir julle.

Aanbiddingslied

Lied 223:1, 2, 3 "Aan Jesus, Koning al die eer"

Voorganger: Die Woord van die Here is volmaak.

Gemeente: Dit gee lewe.

Voorganger: Die onderwysing van die Here is betroubaar.

Gemeente: Dit gee wysheid aan die wat nog onervare is.

Voorganger: Die bevele van die Here dui die regte koers aan.

Gemeente: Dit bring blydskap.

Voorganger: Die gebod van die Here is helder.

Gemeente: Dit gee insig.

Voorganger: Die eise van die Here vir sy diens is goed.

Gemeente: Dit staan vas.

Voorganger: Die bepalings van die Here is reg.

Gemeente: Elkeen van hulle is regverdig.

Voorganger: Hulle is kosbaarder as goud.

Gemeente: Selfs as baie goud.

Voorganger: Soeter as heuning,

Gemeente: As druppels uit `n heuningkoek.

Voorganger: U dienaar laat hom daardeur leer.

Gemeente: Wie dit alles onderhou groot is sy beloning.

Toewydingslied

Lied 250:1, 2, 3, 5 "Gods wet vra enkel liefde"

Genadeverkondiging

Ons weet ook dat God se wet ons nie altyd bevry nie maar juis bind. Daarom het ons vergifnis nodig. God het sy Seun, Christus, as tweede gestalte van God se Woord gestuur om ons vry te spreek.

Kom ons luister na: Lukas 4:17-18.

Toe Hy opstaan om uit die Skrif te voor te lees,

is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee,

en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:

Die Gees van die Here is op My

omdat Hy My gesalf het

om die evangelie aan armes te verkondig.

Hy het My gestuur

om vrylating vir gevangenis uit te roep

en herstel van gesig vir blindes,

om onderdruktes in vryheid uit te stuur,

om die genadejaar van die Here aan te kondig.

Diens van die water

Die liturg gaan staan by die doopvont en herinner die gemeente daaraan dat ons doop beteken dat ons deur die Heilige Gees deel het aan die kruisdood en opstanding van Christus. Die ou mens in ons is dood en ons het `n nuwe lewe ontvang. God het sy wet/ Woord as gawe gegee om daarom ook `n bevrydende en nuwe lewe te leef. Lees Psalm 19:8-12.

Lofsang

Na die genadeverkondiging sê die liturg: Weet vanoggend dat God se genadejaar reeds vir elkeen van u aangebreek het. Kom ons loof Hom daarvoor:

Lied 245:1.2 "Ek wat vergifnis Heer, ontvang het "

Lied 227 "Sing, loof en prys die Heer"

diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing en prediking

Diens van die tafel

Geloofsbelydenis

Nagmaalsherinnering

Die nagmaal herinner ons dat Christus mens/liggaam geword het en dat ons nou deur die Heilige Gees sy liggaam is. Kom ons luister na 1 Korintiërs 12:12-31. Ons moet onthou dat die gawes wat God aan sy liggaam gee, bedoel is tot die opbou van die liggaam en nie vir jaloerse en selfsugtige redes nie.

Voorbidding

Dankoffers

Uitsending

Wet (as verbintenis en wegsending)

Kom ons verbind onsself as geroepe mense opnuut aan God en onderneem om sy wet wat vrymaak te leef. In die lig van die preek en liturgie kan dit `n goeie idee wees om die gemeente met die lees van die hele wet soos ons dit in Eksodus 20 vind, weg te stuur.

Slotsang

Lied 255:1,2 "Woord van God, Woord van die lewe "

Seën

Gaan vier fees, eet en drink,

en deel uit aan dié wat niks het nie.

Moenie hartseer wees nie.

Dien die Here met blydskap.

Hy sal julle beskerm. Amen (aangepas Nehemia 8:11).

 

PREEKSTUDIE – NEHEMIA 8:1-10

Teks

Alhoewel dit vir die doel van `n preek nie nodig is om al die besonderhede rondom die verwantskap van Esra, Nehemia en Kronieke te ken nie, is daar sekere dinge waarvan predikers moet kennis neem. Dit hang saam met die feit dat die boeke van Esra en Nehemia eers in die derde eeu na Christus van mekaar geskei is. Voor die derde eeu was dit een boek. Voorts word redelik wyd aanvaar, ten spyte daarvan dat dié standpunt nie sonder probleme is nie, dat Esra, Nehemia en Kronieke `n eenheid vorm. Volgens Myers lyk dit asof Esra van die begin af bedoel is as geïntegreerde deel van Kronieke, terwyl Nehemia later as `n soort addendum toegevoeg is.

Die bedoeling van die Kronis was oënskynlik om iets te verbeeld van die lewe van die kultiese gemeenskap van Dawid tot en met Esra. Om aan te toon hoe dit ontstaan het, in stand gehou is, gegroei en ontwikkel het, gedurende die goeie en slegte tye van hul geskiedenis. Dit is duidelik dat die skrywer gemeen het dat Israel hulle oorlewing en voortbestaan in die eerste plek aan die kultus as die bewarende en stabiliserende instansie te danke het. Belangriker egter as die skrywer of die samesteller van Nehemia, is die tyd waarin dit afspeel. Die gebeure waarvan in Esra en Nehemia vertel word, kan min of meer een honderd jaar na die terugkeer uit die ballingskap geplaas word; gedurende die regeringstyd van die Persiese koning, Artaxerxes 1 (465 – 424 v.C.).

Dié gebeure het egter `n redelike lang aanloop. In dié verband is Israel se lot in `n groot mate deur die opkoms van die Persiese Ryk onder Kores bepaal. Nadat Kores vir Babilon verslaan het, het hy volgens 2 Kronieke `n dekreet uitgevaardig wat die herbou van die tempel in Jerusalem gemagtig het. Hierna het groot getalle Jode teruggekeer, veral tussen 538 v.C. en die troonsbestyging van Darius in 522 v.C.. Darius is later deur Artaxerxes 1 opgevolg. Dit is duidelik dat daar meer as een terugkeer was, maar ook dat talle Jode in Babilon agtergebly het. Die terugkerende ballinge is nie met oop arms ontvang nie. Beide Jode en Samaritane in Palestina het bedreig gevoel deur die terugkerendes. Nehemia het ook te kampe gehad met die weerstand van die plaaslike regeerders, maar omdat Nehemia deur die koning aangestel is, het hy oor die mag beskik om sy taak te kon volvoer. Die belangrikste oogmerk van sy koms na Jerusalem was om die stad te beveilig. In terme van die destydse wêreld het dit beteken dat hy `n muur moes bou.

Dit blyk ook uit die verslae in die boek dat Nehemia waarskynlik `n groter verantwoordelikheid gehad het as net die bou van die muur. Hy het die wet baie goed geken en was gevul met `n diepe besef van wat reg is: "Profoundly concerned about the faith of his fathers, Nehemiah set out to do what he could for its security, its activity, and its effectiveness in the land the Lord had given to them. His great achievement was the reconstruction of the walls of Jerusalem. But along with it, and perhaps of equal or greater significance, went new inspiration and direction for the proper functioning and well-being of the people of God" (Myers).

Die teologiese onderbou van Nehemia moet verstaan word teen die agtergrond van die rol wat die tempel in die kultus van Israel gespeel het. Binne dié verband is dit belangrik om die aard van die offerpraktyke goed te begryp. Offers het nie in die eerste plek net met een of ander godsdienstige ritueel te doen nie. Die noodsaak van die offers ontspring uit die versuim van die volk van die Here om te lewe soos wat Hy van hulle vereis. Juis omdat die Judaïsme (soos die Christendom) `n geweldige sterk ontwikkelde etiese besef het, het die skuld van mense as ’t ware vanselfsprekend op die voorgrond getree. Van dié skuldbesef kon `n mens, volgens die gebruik van die tyd, alleen deur boetedoening verlos word, oftewel die bring van offers.

Soos in die tyd van die profete, het die gevaar altyd bestaan dat dié boetedoening in die meganiese afhandeling van sekere godsdienstige praktyke kon verval. Dit het maklik gebeur dat `n persoon `n lam na die altaar kon bring – om van hul skuldgevoel ontslae te raak – sonder dat die offer hulle opnuut van die lewende teenwoordigheid van God én die lewende behoeftes en nood van die medemens bewus gemaak het. Die hervormings van Esra en Nehemia, met die geweldige klem op die wet, was daarop gemik om so `n meganiese aanbidding te ontbloot en te bestry. Die verbondsverhouding is nie iets wat sy beslag kry vanuit die onderhouding van sekere voorskrifte nie, maar is `n lewende verhouding wat in die alledaagse praktyke geleef moet word. Binne dié konteks moet die wet verstaan word; die wyse waarop dit in hulle harte, verstande en dade moet leef.

Die Hebreeuse woord bîn wat hier telkens met "verstaan" vertaal word, beteken iets soos "onderskei", of "om te weet wat reg is". Dit kan egter ook dui op die weg van verstaan, of die ervaring waarlangs `n mens leer om te verstaan. Bloot die frekwensie waarin dit hier gebruik word, is alreeds `n aanduiding dat dit `n sleutelwerkwoord in die verstaan van die teks is.

In vers 8 kom `n soortgelyke werkwoord voor wat in die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel met "onderrig" en in die NAV met "verduidelik" vertaal is. Die stam hiervan (Heb. prš) beteken "om op te breek". Dit kan dus dui op `n vertaling waarvan hier sprake is. (Die Jode het Aramees gepraat en waarskynlik was dit nodig om die Hebreeus te vertaal.) Ander kommentators is egter nie oortuig hiervan nie. Watter keuse `n mens ook al maak, dit bly steeds `n aanduiding van die noodsaak van "interpreteer, uitlê, of die weg waarlangs die wet verstaanbaar gemaak word".

Dit is laastens belangrik om daarop te let dat as hier van "wet" gepraat word, dit waarskynlik op die tweede betekenis van die Tora, naamlik die Pentateug, dui.

Konteks

In sy homiletiese uitleg van Nehemia, sê Walter Lüthi, sou hy Nehemia 8 in die een sin kan saamvat: `n Volk kry begrip vir die Bybel. Die konteks waarbinne hy oor dié gedeeltes gepreek het, was in 1945/’46 tydens die opbou van Duitsland na WO II. Dit is duidelik dat hy hier preek met die verwagting dat in die naoorlogse Duitsland `n tweede soort reformasie sou uitbreek, waarin die Bybel weer met vreugde gelees sal word.

Die konteks waarbinne Christene in Suid-Afrika na hierdie teks luister, is sekerlik ook een van heropbou, een van naoorlogse vernietiging, een van die verwagting van `n nuwe reformasie. Die blote tabulering van hierdie sake sal by elkeen waarskynlik `n eie verstaansraamwerk oproep. Daarom is dit belangrik dat predikers ten aanvang vir hulleself baie goed sal uitmaak hoe die konteks van hul konkrete hoorders lyk.

Die teks bied talle preekmoontlikhede. Die konteks waarbinne Nehemia 8 hier in die kerklike jaar geplaas word, is dié van Epifanie. In die meeste Protestantse kerke word tradisioneel gedurende dié tyd oor onder meer die sosiale implikasies van Jesus se leer en lewe gedink. In kort kan `n mens sê dat dit oor die effek van God se openbaring op ons lewe gaan. Met ander woorde, nie alleen die vraag: Wie is God? nie, maar: Wie is God vir ons (vandag)? Met die skryf van die preekstudie is dit feitlik onmoontlik om te voorspel hoe die wêreld aan die begin van 2004 daar gaan uitsien. Ten tye van dié skrywe is sake soos die sogenaamde nuwe hervorming en debatte waarin die gesag van die Bybel bevraagteken word, dinge wat mense se hoor van die teks gaan beïnvloed. Teen dié agtergrond moet hierdie preek hier gelees word.

Preekvoorstel

Een van die merkwaardigste skrywers van die 20ste eeu was die Noorweegse Nobelpryswenner, Sigrid Undset. Een van haar groot werke wat in vier volumes verskyn het, is The Master of Hestviken. Dit speel in die 13de eeu in Noorweë af. Die een ding waarvan `n mens intens bewus raak as jy die boeke lees, is die geweldige en onvoorstelbare verskil tussen die tyd waarin ons tans leef en die wêreld van 7 eeue gelede. Die wêreld waarin haar karakters geleef het, is een waarin moord en doodslag so algemeen was, dat dit met `n boete gestraf is. Dit is `n wêreld wat skipper tussen Bybelse vroomheid en `n heidense natuurwet. Wat veral opvallend is van die geestelikheid van haar karakters, is dat dit `n vroomheid is wat ten diepste bepaal word deur `n besef van sonde, skuld en oordeel. Maar dan op so `n manier dat die skuld en die voortdurende besef van die noodsaak van boetedoening soos `n donker wolk oor die hele verhaal hang.

`n Mens hoef nie `n siener te wees om raak te sien hoe ons moderne gevoel van spiritualiteit hiervan verskil nie. Steve Hofmeyr (soos in die debatte in die Afrikaanse pers) vertolk waarskynlik die gevoel van `n groot hoeveelheid gelowiges as hy sê dat hy nie in die oordeel glo nie. Die spiritualiteit van die 20ste eeu is soos hy sê, een van genade, een van oewerlose liefde. Die merkwaardige ding is dat ons dieselfde Bybel het as wat mense 7 eeue gelede in Noorweë gelees het. Die Bybel het nie verander nie, maar ons lees die Bybel anders. Anders gestel, ons verstaan die Bybel anders.

Daar is natuurlik niks mee verkeerd dat ons in elke tyd en binne ons eietydse konteks die Bybel anders verstaan nie. Tog vra talle mense in ons tyd: Hoe weet ons dat ons met ons verstaan nie maar ons eie voorkeure en belange inlees nie? In kort, hoe verstaan ons wat ons lees?

`n Mens kom dit meestal nie met die eerste lees van hierdie gedeelte in Nehemia 8 agter nie, maar die werkwoord wat hier die meeste voorkom, is die woord "verstaan".

In Esra en Nehemia word die verhaal vertel van Israel se terugkeer na die ballingskap in Babilonië. Die terugkeer is moontlik gemaak deur die verskyning van die Persiese koning, Kores, op die wêreldtoneel. Hy het die Babiloniërs verslaan en almal wat hulle weggevoer het, toegelaat om na hulle vaderlande terug te keer. Die boek Nehemia speel omtrent ’n honderd jaar na die terugkeer, gedurende die tyd van koning Artasasta (ook genoem Artaxerxes I) af. Na die terugkeer uit die ballingskap het die verskillende Persiese konings ook vir die Jode toegelaat om die tempel te herbou. Dit was Nehemia se taak om die muur om Jerusalem te herbou.

`n Mens kan in Esra en Nehemia gaan lees van al die terugslae, teenkanting en probleme wat opgekom het met die herbou van die tempel en die stad. Dis aangrypend om in Esra te lees van die reaksie op die lê van die fondamente van die tempel: "Baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word" (3:12).

Ek het `n tyd gelede `n dokumentêre program oor Jerusalem gesien. Daarin word die geskiedenis van die stad vertel; van sy tye onder Christen-, Moslem- en Joodse oorheersing. Na die vernietiging van die tweede tempel in die eerste eeu na Christus was die stad eintlik tot en met 1948 nooit weer onder Joodse beheer nie. Selfs toe was daar dele van die stad, onder meer die westelike Klaagmuur, wat nie in die Joodse gebied geval het nie. Na die sesdaagse oorlog het Joodse soldate dié gedeeltes beset. `n Mens moet onthou dat dit amper 2 000 jaar was wat die stad onder nie-Joodse beheer was. Op die hakke van die Joodse soldate het ou mans na die Klaagmuur gehardloop en daar letterlik gestaan en huil, in vreemde ontroering en vreugde. `n Mens wou vra: Hoe kry iemand dit reg om vir 2 000 jaar te onthou?

Dit is oor dié soort onthou wat dit ook in Nehemia 8 gaan. Hier vergader die volk waarskynlik op die dag van die Joodse Nuwejaar op die plein voor die Waterpoort. Dis waarskynlik naby die tempel, maar definitief nie op die tempelgrond nie, omdat die vrouens en die kinders ook teenwoordig was. Die vraag wat hier in die lug hang, is: Sal die volk van God nog na meer as honderd jaar in die vreemde, na meer as honderd jaar se blootstelling aan `n vreemde kultuur en vreemde gode, nog God se wet verstaan? Dit gaan in hierdie verstaan nie om `n blote onthou van die wet nie, maar oor die vraag of hierdie wet nog in hulle harte leef.

In die skryf van die verhaal word iets van die spanning wat hierdie vraag oproep, baie mooi verbeeld. Ons lees dat die priester Esra die wetboek voor die gemeente gebring het, voor almal wat kon verstaan, almal wat die vermoë gehad het om te verstaan. Dan moet `n mens mooi kyk hoeveel detail gegee word waarmee die skrywer as ’t ware die spanning tot breekpunt wil strek. Wat sal die reaksie van die mense wees?

Daar word beskryf hoe die verhoog gelyk het waarop Esra gestaan het, wie almal daar was, wat almal gedoen het. En dan word duidelik gesê dat die Leviete die wet nie alleen voorgelees het nie, maar ook uitgelê het sodat die mense kon verstaan. Ons lees dat hulle gelees het van ligdag af tot die middel van die dag. Die aandag van die hele gemeente was by die wetboek. Wat het die aanhoor en die verstaan tot gevolg gehad? Die hele gemeente het begin huil by die aanhoor van die wet. Dit was die aanduiding dat hulle verstaan het.

Nou is die belangrike vraag vir ons: Wat beteken dit in die lig van dié gebeure om te verstaan? Dit beteken skynbaar baie meer as dat goed net vir `n mens `n soort logiese samehang vertoon.

Ek het `n vriend wat altyd as mense soms onsinnige opmerkings oor `n goeie fliek maak, of as iemand `n fliek wat hy meen goed is, as onverstaanbaar of vervelig afmaak, sê dat daar sommige flieke is wat ons nie lees nie, maar wat vir ons lees. Daarmee bedoel hy dat die fliek, sonder dat jy daarvan bewus is jou voorkeure, jou verborge agendas, jou ingeligtheid en onkunde ontbloot, deur dit wat jy daaroor sê. In dié sin lees jy nie die fliek nie, maar die fliek lees jou. Of beter gestel, jy interpreteer nie die fliek nie, maar die fliek interpreteer jou.

Dit is presies wat hier gebeur. Die volk van die Here maak die verrassende ontdekking dat dit nie soseer hulle is wat die wet verstaan nie, maar dat die wet van die Here hulle verstaan. Hulle ontdek dat dit nie soseer hulle is wat die wet lees nie, maar dat die wet van die Here hulle lees. Wat gebeur, is dat hulle in die spieël van die wet hulleself vir die eerste keer weer sien. Die wet ontbloot hulle ontrou, hulle vergeetagtigheid, hulle liefdeloosheid en hulle gebrek aan lojaliteit teenoor die Here. By die aanhoor van die wet is dit asof elke woord dieper in hulle kyk as wat hulle in staat is om in hulleself te sien. In die lig van die wet sien hulle hulleself in die oë van die Here.

Die ontdekking waaroor dit hier gaan, is iets geweldigs. Want dit gaan oor `n ontdekking wat ons vandag nog maak. Die ontdekking dat `n mens die Bybel jou hele lewe lank soos `n blinde kan lees in `n poging om iets van Adam, Abraham en Jakob te kan verstaan. Wie was Adam? Waar kry Abraham sy geloof vandaan? Hoe kon die Here `n bedrieër soos Jakob kies? En dan kom jy skielik agter, dis nie ek wat die storie van Adam, Abraham en Jakob lees nie. Hierdie stories lees my. In die stories van Adam, Abraham en Jakob sien ek nie stokou figure wat soos skimme ontleed moet word nie, maar in hierdie mense sien ek myself. Ek is Adam. Ek trek soos Abraham. Ek is Jakob, die bedrieër.

Op die vraag aan die begin: Natuurlik is dit so dat ons ons eie voorkeure en ons eie agendas in die Bybel inlees. Almal van ons. Ons kan dit lank doen, selfs jare of `n leeftyd lank. Maar die Bybel is nooit aan ons lees daarvan uitgelewer nie. Daar kom `n dag, `n oomblik wanneer dit nie my oë is wat die Woord aanstaar nie, maar dat die oë van die ewige Woord my lees. Dit is die oomblik dat die skille van ons oë afval. Die oomblik van seerkry en pyn, maar dis ook die oomblik van bevryding en redding.

Ons kan die Bybel lees soos ons wil. Onthou net, daar kom `n dag dat die Bybel ons lees. Daarom kan Paulus sê dat die Woord soos `n tweesnydende swaard is. Dit vlek oop, en juis daarom genees dit. Ons kan soos sommige die oordeel verswyg en soos ander die liefde minag. Maar dis deur die oordeel heen wat ons die liefde ontdek en deur die liefdeloosheid heen, wat die oordeel ons vind.

In die boek van Sigrid Undset waarna ek aan die begin verwys het, is `n aangrypende paragraaf wat iets hiervan verwoord. Die vroulike hoofkarakter, Ingunn, dink aan haar lewe van onvoorstelbare swaarkry en lyding, aan die dinge wat haar getref het, maar meer aan die dinge wat sy oor haar eie pad gebring het. Sy dink aan haar man en die pyn wat deur haar toedoen op hom gekom het. En in die gesig van swaarkrysien sy skielik `n ander beeld. In die beeld sien sy `n beker, die beker wat Jesus in die donker van Getsemane moes drink. En in dié beker, die sonde en oortredings van die mensdom, ook haar eie sondes en oortredings. Skielik besef sy haar aandeel in die Heer se lyding, maar ook haar deelname aan die Heer se lyding. Op dié oomblik besef sy dat haar deelname aan Jesus se lyding `n ander soort lyding is as wat sy ooit tevore beleef het. Voorheen het haar lyding vir haar gevoel soos om van die een rots na die volgende teen `n afgrond af te val en uiteindelik neer te stort in `n bodemlose moeras. Om aan die lyding van Jesus Christus deel te hê, is egter presies andersom – dit was soos om op te klim teen `n berg, met `n helpende hand om aan vas te hou, stadig en pynlik. Maar selfs in die pyn was daar vreugde, want dit het êrens heen gelei. Vir die eerste keer verstaan sy wat die priester bedoel het toe hy gesê het: "daar is genesing in straf, daar is redding in die oordeel."

Dit is die punt: Ons weet nie altyd hoe om die Woord te lees nie, maar die Woord van die Here lees ons. Ons weet nie altyd hoe om die Woord te verstaan nie, maar die Woord verstaan ons. Die Woord van die Here ken nie alleen ons nood en ons pyn nie, dit ken ook ons versuim en ontrou. Daarom praat die Bybel nie alleen van genade nie, maar ook van oordeel.

Omdat dit die Woord van God is wat ons lees, daarom is die oordeel van God iets anders as ons verstaan van veroordeling. Want in die oordeel van God is daar verlossing. In die straf van Jesus is daar vir ons genesing.