11 Julie 2002

Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: 2 Kronieke 6:12-42

Ander tekste: Amos 7:7-17, Psalm 82, Kolossense 1:1-14, Lukas 10:25-37

Inleiding

Uit die Kronieke-teks vir vandag kom die gebed van Salomo by die inwyding van die tempel. Die inhoud van die gebed is `n aanduiding van die rol van die tempel in die lewe van die geloofsgemeenskap. Die ooreenkomste tussen die liturgie van die Christelike erediens en die invloed van die tempeldiens op die gemeenskap kan deur vandag se liturgie weerspieël word. Die teksgedeeltes lei ons daartoe om die erediens en die "liturgie van die lewe" beter te verstaan. Ons leer met ander woorde om in die teenwoordigheid van God te bid sodat ons in die teenwoordigheid van God kan leef.

Aanvangsgebed

"Sou God werklik by die mens op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie gebou waarin ons vergader is. Hoor tog Here onse God die gebed van u dienaars. Hoor ons smekinge. Luister na die hulpgeroep van u kinders. Vestig nou u Naam oor ons" (n.a.v. 2 Kron. 6:18-20).

Lees daarna Kolossense 1:3-8.

Aanbiddings- en lofliedere

Lied 159 "God is hier teenwoordig,"/NSG 343; "Lied 171 Heilig, heilig, heilig"/NSG 5; Lied 176 "Halleluja, U is Koning".

Verootmoediging

Gebruik Amos 7:8-9 saam met die 10 gebooie as uitnodiging tot verootmoediging.

Epiklese van die Woord

Lees hierdie Sondag Psalm 119: 33-40. Sing Psalm 25:1-2 daarmee saam.

Diens van die Tafel

Na aanleiding van Psalm 82 kan die ietwat ongewone en onbekende psalm dien as riglyn vir die volgende voorbiddingsgebed:

"Ons Almagtige God en Hemelse Vader, in die Naam van Jesus ons Here bid ons tot U:

Laat reg en geregtigheid geskied aan alle mense wat in nood verkeer; veral hulle wat valslik beskuldig, aangekla en dalk selfs veroordeel is. Ons dink aan kinders wat sonder die liefde, sorg en beskerming van ouers moet grootword. Veral dink ons aan die derduisende kinders van Vigs-slagoffers. Ons bid vir mense wat arm is. Vir wie dit n stryd is om daagliks te oorleef, wie nie gereeld voedsel geniet en die veiligheid van n eie woonplek nie. Ons dink aan die miljoene mense wat jaarliks as gevolg van oorloë of etniese geweld vlugtelinge word. Laat ons nie in die duisternis van ons eie geïsoleerde wêreld leef sonder om die nood van mense om ons raak te sien nie. Laat u lig skyn oor al die nasies van die wêreld, Here, onse God. Amen."

Die alternatiewe tekskeuse van die RCL, naamlik Deuteronomium 30, bied ook toepaslike woorde om ons van God se belofte van nabyheid te verseker.

Uitsending

Lees Kolossense 1:9b-14.

Slotsang

Lied 470 "U, Here, is ons Koning" NSG 151 "Jesus is die Koning".

 

 

PREEKSTUDIE 2 KRONIEKE 6:12-42

Teks en konteks

Die perikoop handel oor Salomo se gebed by die inwyding van die tempel. Dit is `n lang en vol gedeelte. Die prediker sal `n bietjie moet dink oor die voorlees van die Bybelteks om te verhoed dat die hoorders "afskakel" en eers weer met die preek "aanskakel". Dit is belangrik om die konteks waarin die gedeelte (Salomo se gebed) afspeel, duidelik te maak. `n Vlugtige lees van hoofstuk 1 tot 6 sal vir die prediker die nodige agtergrond gee (lees gerus John Bright se gedeelte oor Salomo) vir die wyer konteks waarbinne die gebeure afspeel (sien ook teks en konteks by die preekstudie oor 2 Kron. 1 vir die verhouding en verskille tussen Kronieke en Konings se weergawe van die gedeelte).

Die teks self bestaan uit `n inleiding en `n gebed. In die inleidende gedeelte (12-14) word Salomo se respek vir God in sy gebedshouding beklemtoon: Hy het op `n verhoog voor die hele volk gaan kniel, sy hande na God uitgestrek en toe hierdie gebed gebid. Die gebed het vyf dele of momente, wat van mekaar onderskei kan word. Die eerste drie dele is op `n manier inleidende gedeeltes, terwyl die laaste die slotgedeelte vorm.

Aanhef en bevestiging van die verbond. In die eerste gedeelte (14-17) roep Salomo God as Verbondsgod aan. Hy gebruik drie keer die gelade aanspreekvorm "Here, God van Israel" (14, 16, 17). In die gedeelte bevestig Salomo dat God Hom aan sy verbond hou (14). In lyn hiermee versoek hy God om Homself ook aan sy belofte aan Dawid te hou, naamlik dat God sal toesien dat daar altyd een van Dawid se nasate op die troon sal wees. (Salomo bid dus eintlik vir homself en vir die stabiliteit van sy koningskap.)

Invoeging: Sou God werklik op aarde woon? Na die aanhef is daar `n gedagte (18) wat soos `n invoeging lyk, omdat dit heeltemal uit pas is met die hele trant van die gebed. As `n mens in aanmerking neem dat die betrokke gebed gebid is by die inwyding van God se tempel, is dit geregverdig om weer hierna te kyk. In die vorige perikoop (2 Kron. 6:2) sê Salomo dat hy nou vir God `n huis gebou het waarin God "vir ewig" kan woon. Maar as hy sy gebed begin, val Salomo homself byna in die rede, om die belangrike vraag te vra: "Sou God werklik by die mens op aarde woon?" Daarna antwoord hy sy eie vraag deur duidelik te sê: "Hierdie tempel wat hy gebou het, kan God nie bevat nie." Hierdie byna terloopse selfgesprek van Salomo bring `n verandering in die trant van sy hele gebed. In die res van die gebed vra hy nooit dat God uit die tempel na hulle gebede sal luister nie. Hy vra dat God uit die hemel na hulle gebede, hier by die tempel gerig, sal luister. Hiermee kry die tempel `n spesifieke plek: `n Huis wat na God se Naam genoem is (20), waar offers vir Hom gebring en gebede tot Hom gebid word; waar Hy op `n besondere manier teenwoordig is, maar wat Hom beslis nie kan omvat nie. Die konsep dat God in die tempel sou bly, soos wat van ander "gode" geglo is, het nooit in Israel posgevat nie, alhoewel die heiligheid van die tempel aan die heiligheid van God gekoppel word (vgl. Jer. 7).

Algemene versoek om verhoring van gebede. In die derde deel versoek Salomo God in die algemeen om sy eie gebede, ook dié van die volk, te hoor as hulle dit vanuit die tempel (20), of selfs in die rigting van die tempel (21) bid. Laasgenoemde is belangrik. Al was die tempel `n baie besonderse plek, was daar altyd die bewussyn dat God ook op ander plekke aanbid kan word.

Gebede vir spesifieke situasies. Nou volg die hart van die gebed. Salomo tree as priester vir die volk in met die oog op verskillende situasies. Sewe verskillende situasies word geskets. In sommige situasies is die volk die slagoffers van hulle eie sonde, en moet God hulle vergewe. In ander situasies moet God hulle uit (onverdiende) rampe uit red. Die situasies word in besonderhede genoem. Elke bede volg dieselfde struktuur:

a. Die moontlike probleem word geskets, byvoorbeeld: "As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom `n eedverpligting oplê" (22).

b. Daarna vra Salomo God se hulp as die individu of volk ten opsigte van die genoemde probleem in die tempel (of in die rigting van die tempel) sou bid.

c. Sewe keer rig Salomo identies dieselfde versoek tot God in belang van die bidder, wat die oplossing vir die probleem is: "Luister tog uit die hemel." Dit is waarvoor Salomo eintlik bid; die hart van die hele gebed, dat God sal luister na elkeen wat tot Hom bid by hierdie tempel.

Vers 40 en 41 vorm die slot van die gebed. Vers 40 is `n kort samevatting van die hart van die gebed, naamlik dat God "elke gebed hiervandaan" tog moet verhoor. Vers 41 is algemene versoeke om seën. Die laaste sinsnede gryp weer na die inleiding terug: Salomo herinner God weer aan sy belofte aan Dawid (in Salomo se belang). Kronieke leen hier uit Psalm 132, vanaf vers 8.

 

Enkele belangrike sake wat in die gebed na vore kom:

Wie se gebede moet verhoor word? Salomo vra dat sy eie gebede, dié van die hele volk, of van individue, verhoor moet word. Trouens, hy brei dit uit. Hy vra dat enige mens (29) se gebed verhoor sal word, selfs die vreemdeling wat uit `n ver land kom (33). Dink hier aan die voorhof vir die heidene, wat Jesus met die tempelreiniging "skoongemaak" het sodat die heidene `n plek kan hê om te bid (wel by `n latere weergawe van die tempel, maar dieselfde beginsel). Salomo vra uiteindelik dat God elke enkele mens se gebed sal beantwoord, wat hom tot God mag rig. Hier kom `n belangrike beginsel na vore: God se genade is nie beperk tot die gehoorsame lede van sy volk nie. Almal het toegang tot God. Selfs mense wat swaar gesondig het, kan terugkeer en in die tempel (of in die rigting van die tempel) met God praat (vgl. Luk. 18:9 die gelykenis van die Fariseër en Tollenaar, waar lg. ook in die tempel mag kom). Ook vir hulle doen Salomo hier voorspraak.

Sonde, rampe, straf en vergifnis. Salomo voorsien dat verskeie rampe nog die volk gaan tref, as straf op hulle sonde, "... want daar is nie `n mens wat nie sondig nie ..." (36). Hy vra spesifiek dat, as die volk deur God met rampe gestraf word, God hulle eers moet vergewe (4 keer word vergifnis genoem), en dat God dan hulle gebede moet verhoor en die rampe van hulle wegneem. Ook by die gedeelte is die Konings-teks gewilder en kon slegs een preek oor hierdie gedeelte opgespoor word. David Read gebruik slegs een vers vir `n (interessante) preek (2 Kron. 6:18): "Sou God werklik by die mens op aarde woon?" Hy vra selfs in watter mate God in formele kerkstrukture en kerkwerk te vinde is, teenoor die argument dat God nie "in kerke" is nie, maar "in die wêreld" waar deernis en liefde betoon word. Hy maak `n saak daarvoor uit dat God wel ook in die formele strukture van kerke werk, waarmee ons gemaklik kan saamstem. Die indruk is egter tog dat hy die vraag in 2 Kronieke 6 eintlik net as afspringplek gebruik en nie verder aan die teks reg laat geskied nie.

Preekvoorstel

Voordat die Bybelteks gelees word, kan die agtergrond en konteks kortliks geskets word. Dit kan help met die verstaan van die gedeelte om te weet dat die bou van die tempel volgens die Kronis, Salomo se belangrikste lewenstaak was. Dit kan sinvol wees om enkele van die gegewens in 2 Kronieke 1-5 vir die gemeente te vertel, om iets van die omvang van die bouprojek te verduidelik. Daar is baie sketse van voorstellings van hoe die tempel kon gelyk het. Indien die prediker toegang tot `n dataprojektor of oorhoofse projektor het, kan `n skets van die tempel vir die gemeente gewys word voordat die inwydingsgebed gelees word.

Die rol wat die Kronis aan Salomo toewys, is belangrik. Hy word nie net as koning geteken nie, maar as gelowige, voorbeeldige koning wat sy volk ook as priester dien, en vir sy volk by God intree. Die saak van voorbidding (intersessie) is deesdae in sekere kringe baie gewild en beslis ook omstrede. Hierdie gebed is egter `n voorbiddingsgebed in die ware sin van die woord. Salomo tree namens sy mense (en selfs vreemdelinge) by God in en pleit dat God hulle genadig sal wees.

Aangesien die perikoop so lank is, is dit `n opsie om eers `n paar verse te lees en te behandel, voordat die volgende paar verse gelees word (bv. Eers net die inleiding, vers 12 en 13. Kyk watter voorbeeld stel die koning self voor sy hele volk, as hy voor almal `n onderdanige gebedsposisie inneem ...) Indien die prediker hiervoor kies, kan verskeie relevante momente uit die teks opeenvolgend aan die woord kom, soos dit in die Bybelteks voorkom. Gewoonlik lees `n mens eers die teks, en verklaar dit dan. `n Moontlike alternatief is om eers jou punt te verduidelik, en dan die teks te lees, sodat die mense met belangstelling en begrip luister na hoe die teks die probleem hanteer (bv. Salomo bid nie net vir homself en sy volk nie, maar ook vir mense uit vreemde volke wat God daar kom aanroep. Dit is nie `n vreemde konsep nie ook in Jesus se tyd was daar `n voorhof vir die heidene. Dit was die aangewese plek waar die heidene God in gebed kon aanroep. Jesus was ernstig daaroor dat die area werklik as plek van gebed beskikbaar moet wees. Daarom het hy die tempel gereinig. Salomo tree ook in vir die vreemdelinge wat na God roep. Luister hoe bid hy vir hulle lees 32 en 33).

Dit is belangrik om te fokus op die verbondsgeskiedenis tussen God en die volk, waarvan Salomo deel is. Hierdie gebed vind nie in `n lugleegte plaas nie. Die persone wat in gesprek is (God en Salomo), ken mekaar lankal. Daarom vra Salomo nie van God vreemde goed nie. Hy vra wat hy weet deel van God se karakter vorm, omdat hy God so leer ken het. Salomo se gebed veronderstel dat God vriendelik en goed is, dat God sonde vergewe, rampe help oplos, vreemdelinge help en sy kinders seën. Die refrein van al die bedes: "luister tog uit die hemel", is uiteindelik wat God by uitstek doen: Hy luister uit die hemel na die geroep van sy kinders nou nog.

As ek `n keuse moet maak vir een lyn deur die teks, dan is dit dié lyn: As iemand in nood is, kan hulle God met vrymoedigheid aanroep. Of hulle nood `n eksterne ramp is, en of dit die gevolge van eie sonde is, maak geen verskil nie. Roep gerus na God, want God luister uit die hemel, en Hy help! Dit is wat Salomo van God verwag, en ons kan ook.

God se antwoord. Hierdie perikoop is reeds lank, daarom moet die prediker versigtig wees om nog dele by te bring. Dit rond egter die saak goed af as jy ook verwys na 2 Kronieke 7:1222 (dit hoef nie vir die gemeente gelees te word nie vertel net wat daar staan). Hierin (7:14) antwoord God by monde van die skrywer spesifiek op Salomo se gebed en bevestig dat Hy "... sal ... luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel". Presies soos die verbondsbepalings sê. Ek kies om die aspek by te bring, omdat dit die fokus op God plaas, op wat ons van Hom kan en mag en moet verwag, en wat Hy bereid is om vir die armes, tollenaars en sondaars, die vreemdelinge, vir ons almal, te doen. Lees egter ook 7:19 en verder, omdat dit ook deel van die verbondsbepalings is.

Bibliografie

Dillard, R B 1987. 2 Chronicles. (Word Biblical Commentary); Selman, M J 1994. 2 Chronicles. (Tyndale Old Testament Commentaries); Roubos, K. 1972. 11 Kronieken. (De Prediking van het Oude Testament); Thompson, J A 1994. 1, 2 Chronicles. (The New American Commentary); Bright, J 1960. A history of Israel.