4 Julie 2004

VIERDE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Koninkrykstyd gebruik te word

Fokusteks: 2 Kronieke 1:1-13 (bygewerk by RCL)

Ander tekste: 2 Konings 5:1-14, Psalm 66(:1-9), Galasiërs 6:1-16, Lukas 10:1-20

Inleiding

Die teksgedeelte handel oor God se verskyning aan Salomo. Dit vertel nie net van laasgenoemde se keuse van wysheid bo rykdom nie, maar ook hoe God vir sy volk sorg.

Toetrede

Gebruik een van die aanvangsliedere uit die basisliturgie vir koninkrykstyd.

Lof en Aanbiddingsliedere

Lied 464 "O Heer, my God,"/NSG 29; Lied 454 "Vader ons eer U"/NSG 46

Doopbediening

Sluit aan by die verhaal van Naäman (2 Kon. 5). Benut ook die toepaslike woorde van Psalm 66.

Woorddiens

Lees Psalm 119:25-32 as epiklese.

Sang na die Skriflesing

Lied 469 " O, diepte van die wysheid en kennis"/NSG 38

Na aanleiding van Salomo se keuse, kan die volgende gebed uit die Middeleeue, van Thomas A Kempis, na die prediking gebid word:

Here, gee aan my die genade om te weet

Wat U wil hê ek moet weet:

Om lief te hê wat ek behoort lief te hê;

Om waarde te heg aan die dinge

Wat vir U die waardevolste is;

En om my weg te hou

Van alles wat vir U aanstootlik is.

Moenie my toelaat om mense te oordeel

Bloot op grond van wat ek sien nie,

Of te verwerp op basis van wat ek mense hoor sê nie.

Leer my, Here, om te onderskei,

Met die insig wat net van u Gees kom:

Tussen sienlike en onsienlike dinge;

Tussen waarheid en wat vals is.

Leer my om bo alles te onderskei wat U wil is in elke situasie.

Amen Groot Gebedeboek p. 328)

Na die gebed kan Lied 471 "Soek allereers die Koninkryk of Lied 471 "God se Koninkryk het naby gekom,"/NSG 201, gesing word.

Diens van die tafel

Lees Galasiërs 6:1-6 (7-16) voor die vredesgroet.

Uitsending

Lees Lukas 10:1-20.

Sing Lied 488 "Helder skyn u lig vir die nasies"/NSG 19

 

 

preekstudie 2 KRONIEKE 1:1-13

Teks en konteks

2 Kronieke 1 vertel die verhaal van die begin van Salomo se koningskap, vanuit die Kroniekskrywer se oogpunt. Vir `n verstaan van die teks is drie sake belangrik:

1. Die Kronieke-verhale is gebaseer op die ooreenstemmende verhale uit Samuel en Konings, maar is met `n spesifieke redaksionele fokus geskryf: Die Kronis skryf na die terugkeer uit die ballingskap vir mense wat bemoediging soek in hulle geloof. Daarom fokus die skrywer op spesifieke sake in die geskiedenis: Op dit wat God doen; op die feit dat Hy sy verbondsbeloftes nakom; die plek van die tempel; die aanbidding van God in die tempel; die taak van die koning as regeerder namens God oor die volk en die werk van die priesters en Leviete. Hy stel die konings van Israel en Juda doelbewus in `n goeie lig, sodat hulle voorbeelde van geloof, gebed en vroomheid nagevolg kan word. Hy laat byna alle sondes en foute wat Dawid en Salomo se beeld kon skaad, weg. Hy verwys byvoorbeeld nie na Dawid se owerspel met Batseba nie, en verswyg onder andere die feit dat Salomo se vrouens hom op sy oudag tot afgodediens verlei het. Hy "sif" die geskiedenis en gebruik net gedeeltes waar die konings vir sy lesers goeie voorbeelde stel, waardeur hulle geloof en vertroue in God versterk kan word. Vir die prediker is hierdie fokus belangrik (sien La Sor vir `n uiteensetting van die Kronis; bondige samevatting van Selman).

2. Die kommentare vergelyk voortdurend die verskille tussen die verhale in Konings en Kronieke, en dui die betekenis van weglatings of uitbreidings deur die Kronis aan. Terwyl dit vir die eksegese interessant en belangrik is, veronderstel dit `n kennis van die teks van Konings, asook van die teologiese verskille tussen Konings en Kronieke, wat nie na die kansel toe saamgeneem moet word nie. Die prediker moet eerder `n keuse maak vir óf Konings óf Kronieke. Die gekose teks se integriteit moet gehandhaaf word sonder die heen en weer verwysing tussen die twee tekste. Vir die prediker is dit wel belangrik om die parallelle teks uit Konings te lees (Dit kan verwarrende uitsprake voorkom, bv. "Die heel eerste ding wat Salomo as koning gedoen het, was om God te raadpleeg." Dit is wel wat die Kroniekskrywer sê, maar Konings vertel dat Salomo eers gou sy belangrikste vyande doodgemaak, die Farao se dogter getrou en toe eers by Gibeon gaan aanbid het (1 Kon. 1-3).).

3. Dit is duidelik (na `n soektog na preke oor die gedeelte) dat Konings se weergawe van die verhaal as preekteks baie gewilder is. Die Kronieke-verhaal lê egter sy eie belangrike aksente, wat uitdagings aan die prediker stel en werd is om in `n preek opgeneem te word.

Die teks van 2 Kronieke 1:1-13

Die klimaks van die perikoop is sekerlik die verrassende gebeure waar God aan Salomo by Gibeon verskyn (7). Die skrywer doen egter heelwat moeite vooraf om sy lesers in die prentjie te bring. Die eerste Kroniekeboek eindig met die vertelling van hoe Dawid vir Salomo as sy opvolger aanwys het, en hoe hy op die troon van die Here (1 Kron. 29:23) sit met al die amptenare om hom. Salomo het ongeveer tussen 961 en 922 v.C. geleef. Hy was die eerste koning van Israel wat sy koningskap deur afkoms verkry het. (Beide Saul en Dawid is op God se aanwysing deur die profeet Samuel, op grond van hul spesiale gawes, as koning gesalf.) Dit is sekerlik in Salomo se guns dat hy die Koningshuis van Dawid deur afkoms kan voortsit (die Kronis maak ook baie hiervan), omdat dit teruggaan op `n belofte van God aan Dawid. Die feit dat hy die troon deur sy afkoms gekry het, het egter ook nadele: Hy was terdeë bewus daarvan dat hy nie koning geword het op grond van sy besondere gawes nie. Hy vra in hierdie hoofstuk dat God aan hom die gawes van wysheid en kennis sal gee, om sy taak as koning te kan uitvoer. Die belangrikste aspek van sy taak as koning (volgens die skrywer) is om die tempel te bou en die kultus rondom die tempel te vestig. Daarom word die grootste gedeelte van die hoofstukke in Kronieke oor Salomo se lewe (7 uit 9 hoofstukke), aan die bou van die tempel gewy.

Inhoudelike sake in die teks

Vers 1: Voordat Salomo sy taak as koning kan aanpak, het hy God se hulp en wysheid nodig. Reeds in vers 1 wil die skrywer die aandag vestig op die band tussen God en Salomo; Hy vertel dat die Here sy God by Salomo was.

Vers 2: Salomo dien God egter nie alleen nie. Sy geloof is nie vir hom `n "persoonlike saak" nie, sou mens vandag kon sê. Hy roep die hele Israel op om hierdie gewigtige eerste tree van sy koningskap saam met hom te gee en saam met hom die Here te gaan raadpleeg. Die Kronis beskryf dit doelbewus so; die heel eerste openbare optrede van Salomo nadat hy koning geword het, is om God te raadpleeg (3). Omdat die tempel nog nie gebou is nie, staan die tabernakel nog by die hoogte by Gibeon. Hierheen gaan Salomo om aan God te offer. Die Kronis maak `n punt daarvan (3) om breedvoerig te verduidelik dat die tabernakel daar gestaan het. Hy wil seker maak dat sy lesers Salomo se aanbidding op die Gibeonshoogte nie gelykstel met die verbode aanbidding van Baal "op die hoogtes" nie (Konings verwys 11 keer negatief na aanbidding "op die hoogtes", bv. 2 Kon. 23 19-20). Hy verduidelik ook dat die ark van die verbond nie meer daar was nie (4), maar die bronsaltaar wat oorspronklik vir die tabernakel gemaak is, wel. Daarop offer Salomo en sy gevolg "`n duisend brandoffers". Die getal duisend hoef nie letterlik opgeneem te word nie. Dit beteken dat hulle dit in totale oorvloed vir die Here geoffer het.

Daarna volg die hoogtepunt van die hele verhaal. Salomo het God gaan raadpleeg, waarop God self aan hom verskyn. Hierdie gesprek tussen God en Salomo volg `n patroon wat aan die mense van die skrywer se tyd bekend was. Soortgelyke verhale word elders in die Bybel aangetref (Eks. 24 en 25, toe die tabernakel gebou is). Sulke verhale kom ook in buite Bybelse geskrifte van die Ou-Nabye-Ooste voor. Die skema word telkens gevolg: Die koning offer aan sy godheid. Dan verskyn die godheid aan die koning, die godheid vra die koning wat sy wens is. Die koning antwoord eers en spesifiseer wat hy nie nodig het nie, voordat hy sy wens bekend maak (vgl. die interessante kommentaar van Dillard). Die feit dat hierdie verhaal gegiet is in `n vorm wat wyer as die Ou-Testamentiese horison gaan, moet nie die betekenis daarvan verwater nie. Daar is geen twyfel by die interpretasie van hierdie gedeelte dat daar iets baie besonders tussen God en Salomo plaasgevind het nie. In God se baie vrygewige aanbod aan Salomo (vra wat Ek jou moet gee) hoor ons die woorde van die Here Jesus (Joh. 15:16): "Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra." Soos in Johannes, het die oop aanbod in Kronieke nie te doen met rykdom en roem nie, maar met dit wat nodig is vir die dienswerk waarvoor God mense geroep het. God gee veel meer as wat Salomo verwag het (vgl. 2 Kron. 1:17, waarin Salomo se rykdom besing word). Die perikoop se einde (13b) verwys terug na die eerste vers. Hier word bevestig dat Salomo (na sy ontmoeting met God) regtig `n stewige houvas op sy koningskap gekry het.

Preekvoorstel

Met so `n historiese Bybelteks, is dit sinvol om `n inleiding te gee voordat die teks gelees word. Kies uit die volgende inleidende opmerkings volgens die omstandighede van elke spesifieke gemeente.

Skets eers die groter prentjie deur kortliks `n oorsig oor die geskiedenis van die Ou Testament te gee (selfs net in een paragraaf). Verduidelik dat Israel as volk gebore is tydens die uittog uit Egipte (1260 v.C.), met belangrike elemente soos die Pasga, Rooisee en Tien Gebooie wat daarby hoort. Daarna het hulle (na die woestyntog) die beloofde land onder Josua ingeneem (1240 v.C.). Na Josua het `n tyd van relatiewe onrus gevolg (Rigterstyd toe daar nog nie `n koning was nie 1220-1050 v.C.). Dan volg die hoogtepunt van Israel se volksbestaan: die verenigde koninkryk onder Saul, toe Dawid en laastens Salomo (1050-930 v.C.). Die verhaal waaroor dit in die perikoop gaan, speel gedurende hierdie tyd af, alhoewel dit eers heelwat later geskryf is. Volledigheidshalwe kan verder gesê word dat die land Israel na Salomo, in 2 lande verdeel het (930 v.C.), elk met sy eie koningshuis. Beide koningshuise is gekenmerk deur goddelose konings; Israel meer as Juda. Israel is uiteindelik heeltemal vernietig (722 v.C.). Later is Juda in ballingskap weggevoer (587 v.C.). Na ongeveer veertig jaar keer `n handjievol ballinge terug, saam met Serrubabel. (vanaf 538 v.C.), waarna hulle ondergeskik aan verskillende moondhede, in Palestina gewoon het tot met die geboorte van Jesus.

Nou kan iets oor Kronieke gesê word: Dit is geskryf in die tyd na die terugkeer uit die ballingskap, met die doel om die Israeliete, wat swaar gekry het, moed in te praat en hulle te herinner aan hulle afkoms as verbondsvolk. Kronieke wil ook uit die geskiedenis aandui dat God aan hulle voorouers getrou was.

Skets vervolgens die konteks van 2 Kronieke 1. Salomo is pas as koning aangewys, en Dawid is dood. Salomo moet nou sy eerste tree as koning gee.

Indien die teks nie heel aan die begin gelees is nie, is dit nou `n goeie tyd om dit te lees. Die gemeente het nou `n konteks waarbinne die verhaal afspeel, en kan nou meer toegespits na die Bybelteks luister.

Nadat die teks gelees is, kan sekere agtergrondsake uitgelig word, soos hierbo weergegee: dat die Here reeds Salomo se God was; dat Salomo nie `n private saak van sy godsdiens gemaak het nie, maar as leier sy mense saamneem. Iets kan gesê word oor die tabernakel en die hoogtes, maar moenie te veel daarvan maak nie. Dit is sydelingse inligting wat meer bedoel was vir die lesers van die skrywer se tyd. Beklemtoon gerus dat Salomo die hele projek met oorgawe aangepak het: Hy neem al sy mense saam, offer `n duisend brandoffers en bly sommer die nag ook daar oor.

Dan gebeur die wonder: God verskyn self aan Salomo. Waak daarteen om Salomo hier oordrewe as geloofsheld voor te stel. Waak ook daarteen om klem te lê op hoe Salomo se geloof dit alles sou bewerk het (die teks sê nie dit nie). Dit is God wat aan Salomo verskyn. Die inisiatief lê volledig by God. Hy doen dit omdat Hy wil en omdat Hy goed is, nie omdat Salomo dit deur sy optrede verdien het nie. Dit is toepaslik om hier iets van Salomo se onvermoë in sy eie oë, sy nederigheid, te maak (sien 10b). Die wonder wat hier gebeur, is nie hoe groot Salomo is nie, maar hoe groot, vriendelik en vrygewig God is. God gee vir Salomo geleentheid om te vra wat hy regtig in die lewe nodig het. Die Bybel kan self aan `n paar opsies dink wat Salomo sou kon gevra het, wat vir ons ook bekend is (rykdom, mag, aansien, die dood van sy vyande, om die Lotto te wen). Maar Salomo wys wat dit beteken om iets "in die Here se Naam" te vra: Hy vra niks vir persoonlike gewin nie. Hy vra twee goed (moenie net aan die tweede bede aandag gee nie): Eerstens dat God die belofte aan sy pa Dawid sal vasmaak. Tweedens dat God vir hom wysheid sal gee. Albei versoeke is belangrik. Die belofte aan sy pa plaas Salomo onmiddellik voor sy lewenstaak, naamlik om die tempel te bou. Die belofte aan Dawid sal eers vas wees as Dawid se seun vir God `n tempel gebou het (vgl. 1 Kron. 17:23, 24). Hierin is die jong koning ( 20 jaar oud) se karakter en sy sin vir plig duidelik. Hy verstaan waar hy inpas in God se groter plan met sy hele volk. Hierdie bede van Salomo speel regdeur sy lewe `n belangrike rol, totdat Salomo ervaar dat God sy belofte vervul het as die tempel ingewy word (2 Kron. 6:10).

Die tweede bede gaan oor wysheid. Wysheid, sodat hy die groot en moeilike werk wat God aan hom opgedra het, sal kan uitvoer. Hy is per slot van sake deur God self aangestel om oor God se eie groot volk te regeer.

Die afloop van hierdie versigtige en nederige versoek van Salomo, is gelukkig. Dit kleur sy koningskap vir baie lank. God bewys oorvloedige vriendelikheid en groothartigheid aan hom. Hy gee hom ook wat hy nie gevra het nie. God is baie goed. Salomo word bekend vir sy wysheid, en die Kronis hou hom daarby as toegewyd en vroom voor. Salomo is lankal dood, maar God is vandag nog dieselfde: vriendelik en groothartig.

Bibliografie

Dillard, R B 1987. 2 Chronicles (Word Biblical Commentary); Selman, M J 1994. 2 Chronicles (Tyndale Old Testament Commentaries); Roubos, K. 1972. 11 Kronieken (De Prediking van het Oude Testament); Thompson, J.A. 1994. 1, 2 Chronicles (The New American Commentary); La Sor, W.S. et al 1982. Old Testament Survey; Douglas, J D (ed.) 1980. The Illustrated Bible Dictionary.