27 JUNIE 2004

DERDE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: 1 Kronieke 29 :10-19

Ander tekste: 2 Konings 2:1-14; Psalm 16; Galasiërs 5:1,13-25; Lukas 9:51-62

Inleiding

Beide die fokusteks en die psalmlesing is ’n afwyking van die RCL, en ’n storielyn tussen vandag se fokusteks en die ander tekste is onwaarskynlik. Die fokusteks is Dawid se dankgebed na die insameling van gawes wat nodig is vir die bou van die tempel. 'n Saak wat hom na aan die hart gelê het (1 Kron. 29:3). Hy beskou dit nie as ’n teken van die volk se toegewydheid of goedhartigheid nie, maar eerder van God se vrygewigheid (1 Kron. 29:14).

Elemente van die tempel, rentmeesterskap en God se vrygewigheid word in die liturgie weerspieël.

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Aanvangsgebed

Almagtige God,

ek wil my gedagtes, gevoelens

en begeertes

in hierdie oomblik op U rig.

Ek wil U voel en vind

al is dit by benadering

soos ’n blinde wat reik en tas

na die ongrypbaarheid van lig,

want U is buite my begrip …

U wat voor alles was –

van ewigheid tot ewigheid –

in Wie alles is en nog sal wees,

begin, sin en voleinding van my bestaan,

verbond van hemel en aarde

God van water, wind en vuur en grond,

Skepper van die lewe,

Maker van die heelal en van mense,

U wat heers oor sonnestelsel en atome,

Die verbinding van my chromosome …

Ek wil my denke, hart,

en diepste wense

op U rig,

want U is ewig,

getrou en goed.

Ontferm U oor my,

kom my tegemoet.

(Gebed deur Willie van der Merwe soos aangehaal uit die Groot Gebedeboek.)

Aanvangswoord

Psalm 84:2-6

Loflied

Psalm 84 "Hoe lief het ek u woning Heer"

 

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Psalm 119:17-24

Skriflesing

1 Kronieke 29:10-19

Respons op Skriflesing

Lied 188 "Kom dank nou almal God"/NSG 10

Woordbediening

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaal

Dankgebed

Vir die brood wat ons geëet het,

vir die wyn wat ons gedrink het,

vir die lewe wat U gegee het:

Vader, Seun en Heilige Gees,

sal ons U prys.

Vir die lewe van Christus in ons,

wat al ons vrese oorwin,

wat ons help om vir ander te leef:

Vader, Seun en Heilige Gees,

sal ons U prys.

Vir die mag van Christus om ons te lei

in lewe en in dood,

tot aan die einde saam met al u mense:

Vader, Seun en Heilige Gees,

sal ons U prys.

(Gebed uit Contemporary prayers for public worship)

Sang

Lied 192 "Grote God, u skepperhand"

uitSENDING

Wet

Galasiërs 5:1,13-25

Sang

Lied 200 "U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie"/NSG 43

Seën

Gee aan ons dat ons met volle oorgawe

u gebooie, u verordeninge en u voorskrifte sal hou.

(1 Kron. 29:19 verwerk)

 

preekstudie – 1 KRONIEKE 29:10-19

Teks

Vir die Kronis het die klimaks van Dawid se koningskap aangebreek. Hy het alles gedoen sodat daar ’n tempel vir die Here gebou sal word. Die bydraes tot die bou van die tempel bied die agtergrond vir die gebed van Dawid (1 Kron. 29:10-19). Soos Moses die bydraes van die vrygewige aanbidders met die bou van die tabernakel ontvang het, ontvang Dawid dit van die aanbidders vir die tempel (sien Eks. 25:1-7; 35:4-9, 20-29 binne die breër Tabernakelperikope in Eks. 25-31 en 35-40). Hy stel egter self ’n uitstekende voorbeeld deur persoonlik by te dra (29:2-5): "David’s generosity was lavish and served as a catalyst for the generosity of the people. Leaders will never see openhanded giving from the people if they are not willing to take the lead in this as well" (Thompson).

Die gedeelte sluit nou aan by die gebed in 1 Kronieke 16:7-36 (verlede Sondag se preekstudie). Williamson toon die noue ooreenkomste tussen hierdie lied en die lied in 16:8-36 aan. Hy verwys veral na 3 elemente:

Die tema van die aartsvaders wat geen vaste land gehad het nie (10, 18, 14-16). Israel bly vreemdelinge, selfs al het hulle ’n grondgebied, net soos die voorvaders (16:19): "Whereas they might well have despaired of ever seeing a return to such days as David’s, it is made clear to them that theologically speaking the situation has much in common with his, both because they worshipped the same God, in whose hands remain power and the kingdom, and because the nature of man as a stranger and sojourner on the earth is not altered even by the wealth and security which had been granted to David" (Williamson). Selfs al ervaar hulle nou relatiewe voorspoed, is dit omdat die landsbelofte aan die aartsvaders ook vir hulle geld en omdat hulle God se beskerming geniet het. Juis daarom is Dawid se belydenis dat alles van die Here af kom geen leë woorde nie (14). Dit bied die regte perspektief vir die voorbereidings vir die tempelbou.

Die viering van die Here se koningskap (16:23-33) is ’n tweede gemeenskaplike tema (11-12). Die erkenning van die koningskap van die Here plaas die troonsbestyging van Salomo ook hier in die regte perspektief. Nie Salomo nie, maar die Here is koning.

Beide gedeeltes sluit af met ’n belydenis van afhanklikheid van God wat in die vorm van ’n versoek of petisie uitgespreek word. Hier bid hy vir die trou van die volk en Salomo teenoor die Here, wat slegs kan standhou as die Here dit moontlik maak.

In die lig van hierdie drie perspektiewe sê Williamson kan ons sê dat hierdie twee perikope die raamwerk bied vir die verstaan van 1 Kronieke 17-29, waarin Dawid se voorbereidings vir die bou van die tempel uitstaan.

Daar is niks vreemds aan die lied/gebed van Dawid nie. Dit wemel van klassieke Ou-Testamentiese elemente van gebed (sien Braun vir ’n uitvoerige bespreking). Dit bestaan uit drie basiese elemente: lofprysing, danksegging en ’n pleitrede. Al drie elemente berus op iets waarvoor die Here geloof en gedank word en waarom daar gepleit kan word. Die lofprysing is gebou op die grootheid van God. Die danksegging is gebou op God se voorsiening en sorg, te midde van die mense se niksheid. Die versoeke in vers 18 en 19 "have their support both in the statement of God's delight in righteousness and in Israel's present righteous state as seemingly generous and joyous contributions" (Braun). Uiteraard funksioneer die lied in ’n liturgiese konteks en bou op die ryk erfenis van bestaande godsdienstige konsepte. Braun sê dat die gebruik van hierdie "gemengde lied" deur Dawid dalk ’n aanduiding kan wees van hoe mense in die tempel of sinagoge tydens die tyd van die Kronis gebid het. Direkte Bybelse tekste en tradisies is gebruik en het ingebed geraak in die liturgiese gebruik van die gemeente en in individuele vroomheid.

Vers 10, 11: Die gebed begin met lofprysing. Die krag, roem, glans en majesteit van die Here hang soos ’n koningsmantel om die Here en omvat die hele aarde (Noordtzij). Die uitdrukking "Geloof sy U, Here" is die basis vir alle latere Joodse lofprysing. Ons kan ook aanvaar dat hierdie uitdrukking die grondslag vorm vir die doksologie wat aan die einde van die Ons Vader-gebed in sommige manuskripte voorkom. Hoewel dit nie in die oudste manuskripte voorkom nie, kan aanvaar word dat dit reeds vroeg in die Christelike era as normaal beskou is (Didachè 8:2) (Roubos). Die gedeelte in Kronieke is een van die invloedrykste gedeeltes in die hele boek, omdat dit selfs weerklank vind in die afsluiting van die gebed van Jesus in die vroeë kerk.

Vers 12-15: Die woorde is primêr ’n belydenis van afhanklikheid van God se genade, nie lof vir die rykdom wat beleef word nie (Roubos). Ja, God is die bron van alle gawes, maar juis dit bevestig ook die totale afhanklikheid van God. Wie voor die Here se koningskap staan, besef ook sy/haar eie afhanklikheid van die Heer en verstaan hulle plek voor Hom (sien 1 Kor. 4:7). Dat dit wat hulle het, slegs genade is, word verder bevestig deur die begrippe "vreemdelinge" en "bywoners", wat ongelukkig nie duidelik in die NAV na vore kom nie. Die OAV verwoord dit duideliker: "Want ons is vreemdelinge en bywoners voor u aangesig soos al ons vaders; ons dae op die aarde is soos ’n skaduwee, en daar is geen verwagting nie."

Dit is begrippe wat gereeld van die aartsvaders gebruik word (Gen. 17:8; 21:23; 23:4; 1 Kron. 16:19; Heb. 11:13-14): "They spoke of persons without property and therefore without security of their own who lived in an area only by the good graces of its citizens. Like widows and orphans, they were in need of protection. Even after possessing the land, Israel was to have this attitude about themselves, remembering that the land really belonged to the Lord. In his very nature man is only resident alien and the sojourner on earth" (Thompson). Ons kan ook sê dat hierdie lied die identiteit van die volk tydens en na ballingskap uitlig (vgl. Esra 9:6-15).

Vers 17-19: God se gawes plaas die mens se verantwoordelikheid om die Here met opregtheid te dien, op die voorgrond. Dit gaan oor ’n onverdeelde hart. Alles berus egter op die genade van die Here. Dat die volk die Here met opregtheid dien, maak Dawid bly, maar sy gebed is dat die Here steeds hierdie gesindheid in hulle lewe en die lewe van Salomo sal bewerk. Om die wet te onderhou en om die tempel te bou, is daarom onlosmaaklik aanmekaar verbonde: "A temple without wholehearted devotion to the law was an empty gesture" (Thompson). Dawid het nou alles gedoen wat hy kon. Nou moes sy seun die taak verder neem. Bo alles moet hy die Here met ’n onverdeelde hart dien: "algehele selfoorgawe, met ’n wil wat ’n verlengstuk van God se wil sal wees" (Noordtzij).

Roubos maak baie daarvan dat die verdienste-gedagte geheel en al in die gebed ontbreek: "Te alle tye is die gevaar altyd daar dat die vroom mens liewer met woorde as met gawes dankbaarheid bewys, tensy dit iets kan verdien." Hier word in afhanklikheid van die Here gevra dat mense steeds getrou en opreg voor Hom sal bly. Die Here moet daaroor waghou sodat daar geen ander redes ontstaan waarom mense die Here dien nie (Noordtzij). Thompson sluit hierby aan. Omdat hulle aan die ontvangkant van God se genade was, kon hulle gawes bring. Dawid se gebed is dat hierdie gewilligheid om vir die Here te gee, standhoudend sal wees op grond van sy guns in die verlede.

Konteks

Braun wys daarop dat die Kronis bepaalde terminologie gebruik wat belangrik is om Israel se identiteit oor God te verstaan: "… the author seems to move quietly from the age of David to a much more troubled one such as the exile. So at both the beginning and end of the preparations for the temple (1 Chr. 17-29), there stands a prayer in which the expressed ideas are of primary importance for the writer's understanding of Israel's existence before God" (Braun). In dié konteks word God geloof. Dirkie Smit se lesing oor lofprysing (sien preekstudie by vorige Sondag) bevat waardevolle gedagtes oor lof aan God in ’n tyd van vreemdelingskap. Hier word uitvoerig daaruit aangehaal: "Die vyfde probleem wat kan intree rondom lofprysing – en wat in die loop van die kerkgeskiedenis ongelukkig verskriklik maklik ingetree het – is dat ons in 'n sin ons hele lewe, waar ons bid, dink en leef in die wêreld, kan skei van die feit dat ons daarmee nog maar op aarde is, nog maar op pad is. Ons is nog nie óf in die hel óf in die hemel nie. Ons is op aarde. Ons kan die koninkryk van die hemele uit die oog verloor. Die Christus wat regeer, regeer nou nog teen die magte, teen die stryd en teen die swaarkry en teen die ellende. Eenmaal sal die koninkryk in sy volle heerlikheid kom. Ons lof op God is nou ’n lof omdat ons vertrou dat dit gaan waar wees. Maar ons sien dit nog nie, ons ervaar dit nog nie. Ons is, soos wat die Christelike tradisie altyd gesê het, in 'n status viatoris – 'n toestand van op weg wees."

Hy verwys in hierdie verband na Luther wat die kerk van sy tyd van theologia gloriae – 'n teologie van die glorie – verdink het. Hulle rykdom, mooi katedrale en Gregoriaanse gesange het hulle laat voel dat God by hulle is en dat hulle amper niks meer nodig gehad het nie: "Dit kweek ’n soort mentaliteit by ’n mens dat jy God loof vir wat jy sien, wat jy het en wat vir jou lekker is en wat jy ervaar. Dit is nie die Christelike lof nie. Daarom het Luther gesê: `die Christelike geloof is 'n theologia crucis – 'n teologie van die kruis.’ In hierdie wêreld waarin ons lewe, is Christus aanwesig, ja, as een wat sit aan die regterhand van die Vader, maar as die Gekruisigde wat sit aan die regterhand van die Vader. Sy wil geskied nie in alle opsigte nie. Sy heerskappy kan nie in alle opsigte gesien word nie. Die klag, die nood, is daarom absoluut deel van die Christelike lewe. Die Christelike lof is ’n lof vanuit dieptes, vanuit die nood. … Geloof is om God te begin loof en prys teen hierdie ellendes in wat jy sien, om God te prys vir wat jy met die geloofsoog kan sien, al sien jou gewone oog dit glad nie raak nie. Die egte Christelike lof ontstaan eers daar."

Daar is ’n onverbreekbare band tussen die lof aan God en die gehoorsaamheid aan sy wil. In dié verband is die gedagtes van Dirkie Smit weer gepas. ’n Ander gevaar van lofprysing is dat ’n mens dit kan losmaak uit die verbande waarin dit hoort. Uiteraard moet ons lofprysing nie losmaak uit die ander verbande van danksegging, skuldbelydenis, voorbidding en toewyding nie. Lofprysing moet nooit verhef word tot die enigste vorm van gebed nie. Wat hiermee saamhang, is dat daar in die Christelike tradisie baie gemaak is van die beginsel: lex orandi – lex credendi – lex (con)vivendi: "Lex beteken wet of reël, orandi beteken om te bid. Die Christelike kerk het daarmee in die geskiedenis bedoel dat die reël vir jou gebed behoort die reël van jou geloof te wees, en dit behoort die reël vir jou lewe te wees – die reël vir jou saamlewe – te wees. Soos wat jy bid, moet jy dink, moet jy lewe. Die reël vir jou gebed behoort ook die reël vir jou denke, opvattinge, sieninge, jou standpunte, jou waardes, jou idees, die manier waarop jy werk, die manier waaroor jy oor jouself en ander dink, dit behoort daarvoor ook die reël te word. En die manier waarop jy bid, behoort die reël te word vir hoe jy lewe as mens, jou gedrag in die wêreld, ook vir jou gedrag met ander mense. Miskien is die gevaarlikste versoeking as ons die verbande nie in lofprysing onthou nie, as ons 'n skeiding maak tussen ons aanbidding, ons erediens, ons aanbidding van God, ons lofprysing aan God, ons erediens, die manier waarop ons dink en die manier waarop ons lewe."

Dit stel die basiese aspekte van Christelike spiritualiteit aan die orde. Wainwright sê dat spritualiteit die kombinasie van gebed en lewe is. Wakefield reken dat dit die manier is waarop gebed 'n invloed uitoefen op mense se houding, lewe, gedrag en lewenstyl. W D Jonker is van mening dat daar vir alle vorme van spiritualiteit onderskei moet word tussen drie wesenlike aspekte:

die persoonlike verhouding van die mens tot God;

die gemeenskaplike omgang van die gelowiges met God en met mekaar;

die praktiese uitlewing van die geloof in die wêreld.

In hierdie gebed word die bogenoemde twee gedagtes, naamlik ’n lewe van lof waar die heerskappy van die Here nie altyd gesien kan word nie en die integrasie van lof en lewe, duidelik ondersteun deur ’n ander baie sentrale gedagte: die belydenis van die totale afhanklikheid van God. Die situasie van vreemdelingskap waarin die lesers hulle bevind, die erkenning dat alles wat hulle het van God af kom, en die erkenning van hulle eie beperktheid as mense, voed hulle ervaring van afhanklikheid. Hulle het en is niks as hulle dit nie van die Here ontvang nie. Hierdie belydenis van afhanklikheid kom ook na vore in die slotgedeelte van die gebed. Dawid bid dat hulle huidige gehoorsame gesindheid en Salomo se lewe van toewyding deur die Here in stand gehou moet word. ’n Lewe van lof as vreemdelinge en bywoners is ’n genadegawe van God. ’n Lewe waarin hulle lof en lewe geïntegreerd sal wees en hulle die Here met onverdeelde trou sal dien, is ’n genadegawe van God.

Preekvoorstel

’n Preek sou kon begin met ’n verwysing na die groot nadruk wat op lofprysingskursusse gelê word. Op sigself is dit nie verkeerd nie. Lofprysing is immers die hart van ons reaksie op die evangelie (sien preekstudie oor 1 Kron. 16). Die lied van Dawid is inderdaad ’n lofprysing op die heerskappy van die Here. God word gedank vir sy goedheid in die verlede. Die gebed word egter afgesluit met ’n pleitrede. Daarin word gepleit dat mense wat God nou loof, ook hierna aan die Here toegewyd sal bly. Die lof en dank aan God moet uitloop op ’n lewe van onverdeelde lojaliteit aan die Here.

Wat beteken dit om die Here met onverdeelde lojaliteit te dien? Twee sake kan uitgelig word:

Allereers beteken dit dat daar ’n integrasie tussen jou lewe van lof en jou daaglikse lewe moet plaasvind. Dirkie Smit se gedagtes oor die onskeibaarheid van ons lof en daaglikse lewe kan hier genoem word (sien ook Jes. 1:10-19; Amos 5:21-25; Jes. 58): Egte spiritualiteit impliseer hierdie eenheid. Dit word gebore waar mense hulle totale afhanklikheid van God besef (29:12-14, 16). Die Kronis se gebed sluit af met die wens dat die Here hierdie gesindheid van afhanklikheid en onverdeelde liefde in hulle lewe sal bewerk. Hierdie gebed herinner aan Paulus se woorde (Fil. 3:10): "Al wat ek wens, is om Christus te ken ..." Bernardus van Clairvaux (1090-1153) het gesê dat daar vier grade van liefde is. Eers het jy jouself net lief. Daarna het jy God lief vir die voordeel wat jy daaruit kry. Ons het God lief, maar net vir ons eie gewin. Wanneer ons God só dien, leer ons God stadig maar seker beter ken. Dan leer ons dat ons Hom moet liefhê, nie vir die voordeel wat dit vir ons bied nie, maar net omdat Hy God is. Die vierde graad van liefde is wanneer jy jou eie wil heeltemal prysgee. Ons gebed en vreugde is om te sê: "Laat u wil geskied! Soos ’n druppel water in ’n klomp wyn verdwyn, so versmelt ons wil in sy wil. Lofprysing wat nie ’n lewe van onverdeelde lojaliteit en liefde tot gevolg het nie, is sinneloos."

’n Tweede aspek van onverdeelde lojaliteit teenoor die Here is dat ons sal aanhou om die Here te loof, selfs al ervaar ons nie die voorspoed wat ons verwag nie. Dit beteken dat ons sal aanhou om die Here te dien, al is ons vreemdelinge, bywoners en eindige mense. Hierdie lied word opgeteken terwyl die volk, soos die aartsvaders, vreemdelingskap beleef. Hulle weet nie hoe hulle toekoms gaan wees nie. Hulle kan net op die verlede van God se trou en koningskap en op sy verbondsbeloftes bou. Overduin skryf dat wanneer ons na die omstandighede rondom ons kyk, ons nie die koningskap van die Here moet besing nie, maar dalk moet sê: "Want aan die duiwel en sy handlangers behoort die koninkryk en mag en ellende tot in ewigheid." Hoe sing ’n mens ’n lied in ’n vreemde land (Ps. 137)? Hoe sing jy as jy eintlik wil sug? Ja, ons kan begin wanhoop aan God. Dit is ontsettend gevaarlik. Maar ons kan ook deur ons lofprysing probeer om die seerkry van hierdie lewe te probeer ontduik: "En in baie kringe in die Christelike kerk vandag in die wêreld waar oor lofprysing gepraat word, is dit die treetjie waar afgegly word. Dat mense nou reeds op aarde in die erediens, in die aanbidding, 'n soort hemel op aarde wil skep, waarin hulle nou reeds God van aangesig tot aangesig wil sien en hulleself verplaas in die gemoedstoestand van wonderlike warmte en ervaring van mekaar en van die Here. Daarmee wil hulle die vensters toemaak en die nare verskriklike wêreld daarbuite van hulle afsluit, die klag van hulle weer, die pyn van hulle weghou. Hulle wil lewe op 'n manier waar jy nou al as 't ware direk met God leef in aanskouing – van aangesig tot aangesig" (Dirkie Smit). Ons loof die Here op ons pelgrimstog. Ons is nie aan die Here toegewyd omdat dit met ons goed gaan nie. Ons loof nie die Here vir die voordeel wat ons daaruit behaal nie. Ons loof Hom net omdat hy God is. Egte Christelike lof word gebore uit die klag, uit die versugting dat alles nog nie is soos dit moet wees nie. In Romeine 8:18-39 kom dit ook na vore. Ons sug saam met die skepping en die Gees oor die gebrokenheid van die wêreld. Die Heilige Gees as eerste gawe van God laat ons nie van die werklikheid vergeet en op ’n buitewêreldse wolk van lofprysing rondsweef nie. Hy laat ons sug oor die gebrokenheid (Rom. 8:23). Dit dryf ons tot afhanklikheid. Wanneer ons daar is, sien ons God raak vir wie Hy werklik is. Dietrich Bonhoeffer skryf: "Die kerk in die wêreld bly ’n kerk onder die kruis. Wee die kerk wat hier ’n kerk van sigbare heerlikheid wil word. So ’n kerk het haar Heer aan die kruis verloën." Ons Heer is immers nie indrukwekkend nie. Hy is die gekruisigde. Ons sing: "Is dit, Is dit my Koning? Kyk daar aanskou die mens. Is dit is dit sy Kroning, wie het dit so gewens? Is dit sy koningshulde: die riet, die kleed, die kroon?"

As afsluiting kan verwys word na die woorde van Dietrich Bonhoeffer: "Niemand kan ja sê vir God se pad as hy nee sê vir sy beloftes en gebooie nie." Lof aan God word gebou op God se beloftes. Lof gryp vooruit na die dag wanneer die Here se koningsheerskappy finaal bevestig sal word, al is dit nie altyd hier te sien nie. Tog bely ons: Hy is Heer! Sy ryk gaan nooit verby nie. Nero, Hitler se diktatorskappe is verby, maar die dienende Christus se ryk bly staan. Die magte van die hel kon nie oorwin nie. Herveus skryf: "Die anker is onsigbaar vir die seemanne wanneer dit diep in die see in die sand gaan vassit. Al sien die matrose dit nie, is hulle tevrede dat hulle geanker is. Ons is ook hoopvol in die golwe van die wêreld. Ons sien nie die hemelse realiteite nie, tog is ons tevrede dat ons deur die hoop daaraan gebind is." Die hoop op God se finale heerskappy trek die lof uit ons! Dit maak ons ook toegewyde mense, wat ja sê vir God se gebooie. Ons is mense van God se pad. Dit maak ons mense met ’n onverdeelde hart, gekoppel aan God se wil vir ons en die wêreld.

Bibliografie

Braun, R 1 Chronicles. Word Biblical Commentary, vol 14. Word Books, Texas; Noordtzij, A Kronieken 1. Kok, Kampen; Roubos, K 1982. 1 Kronieken. Callenbach; Smit, Dirkie Lofprysing: Waarom en waartoe? Ongepubliseerde lesing: Windhoek, 1992; Thompson, J A 1994. 1, 2 Chronicles. The New American Commentary, vol 9. Broadman and Holman Publishers; Williamson, H G M 1982. 1 and 2 Chronicles. The New Century Bible Commentary. Eerdmans, London.