20 Junie 2004

Tweede SONDAG IN KONINKRYKSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: 1 Kronieke 16:7- 36 (bygewerk by die RCL)

Ander tekste: 1 Konings 19:1-15 (RCL: 19:1-4 (5-7); 8-15a); Psalm 42 en 43 (RCL: of Jesaja 65:1-9) (RCL: Psalm 22:20-29); Galasiërs 3:23-29; Lukas 8:26-39.

Inleiding

Hierdie Sondag hanteer die lof van God (1 Kron. 16) teen die agtergrond van vertwyfeling (Ps. 42 en 43). Elia verval in diepe depressie (1 Kon. 19). Die vertwyfeling is vir ons soms onuitstaanbaar. God spreek hom aan amper soos Jesus vir Legio aanspreek (Luk. 8)! Ja, Jesus se teenwoordigheid op aarde was en is die tyd van finale en volkome bevryding (Gal. 3).

Die triomfantlike toon van die fokusteks vorm `n skrille kontras met die diepe menslike vertwyfeling. In die liturgie moet die kontras as verrykende spanning hanteer word. Die Woord begelei gelowiges om deur die spanning en neerslagtigheid te werk en tot nuwe sekerheid te kom. Die nuwe koers wat in God se koninkryk aangedui word (sien opmerkings by die basisliturgie) is `n koers van lof te midde van omstandighede wat maklik tot bevangenheid, vertwyfeling en depressie kan lei.

n Tweede opsie: Mens sou kon kies om die alternatiewe lesing van Jesaja bo die tweeling Psalm 42 en 43 te gebruik. Dan sou jy `n goeie aansluiting by Lukas 8 (Legio se weerstand teen Jesus) vind omdat die Here die volk ook deur Jesaja hard aanspreek omdat hulle verseg om te reageer. Hulle bly "tussen die grafte" sit en eet onrein varkvleis (Jes. 65:4). Die invalshoek van die diens verskuif sodoende van menslike vertwyfeling na God se roep. (Die voorgestelde diensorde ondersteun nie die tweede opsie nie.)

Die volgende word ter aanvulling van die basisliturgie aan die hand gedoen:

god versamel ons voor hom

Lees 1 Konings 19:1-4; 8-15a voor die doopbediening (of doopherinnering). Vra die vraag of ons besig is om die aftog te blaas voor die aanslag van die Bose.

`n Gebed om skuldbelydenis word afgesluit met die lees van Psalm 43.

Sing Psalm 42 (Kies verse uit een van die berymings wat geleentheid bied om terneergedruktheid uit te druk.)

Verkondig God se vryspraak na die doop/doopherinnering.

diens van die WOORD

Gebruik Psalm 119:9-16 as gebede by die epiklese.

Kinder-/jeugtyd volg direk op Psalm 119. Moenie skroom om jong mense se terneergedruktheid openlik aan te spreek nie.

Sing Lied 518 "Voel jy soms of die Here te ver is".

Daarna volg die Skriflesing en preek Die gedeelte uit Lukas word ook gelees om die verlossingsmoment in die Nuwe Testament te aksentueer.

diens van die TAFEL

Lees Galasiërs 3:23 29 na die geloofsbelydenis wat hardop saam bely word.

Gebruik Psalm 22:20b29 as gebed van dank- en lofbetuiging.

uitSENDING

Sing NSG 293 "Rus van moedeloses"; Lied 503/NSG 45; "Jesus, Rots, my hoop vir ewig"; Lied 517. "Leer ons U vertrou, o Here".

 

preekstudie 1 KRONIEKE 16:7-36

Teks

Dié teks sluit nou aan by die gedeelte wat volgende Sondag behandel word (1 Kron. 29:10-19). Die prediker sou hierdie twee Sondae as mini-reeks kon behandel.

Die breër agtergrond van die loflied is die plasing van die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, deur Dawid. Daarvoor tref hy bepaalde maatreëls (16:2-6, 37-43). Die lied is uit verskeie psalms saamgestel: Psalm 105:1-15 (8-22); 96:1-13 (23, 24) en 106:1, 47-48 (34-36). n Mens sou uiteraard die kommentare op die verskillende psalms kon lees vir beter agtergrond, maar vir die uitleg van hierdie gedeelte is die interpretasie wat die Kronis daaraan heg of uit watter hoek die Kronis daarna kyk, van belang.

Ons kan sê dat dit drie "fragmente uit die liedere- en gebedeboek van die na-eksiliese gemeente" is (Roubos). Om hierdie "loof die Here" beter te verstaan, moet ons raaksien dat Psalm 105 en 106 die geskiedenis van Israel in oënskou neem. Die Kronis gaan nie op dieselfde "toer" deur die geskiedenis soos dié psalms nie, maar sluit by die gedagte aan. Psalm 96 is n sogenaamde koningspsalm.

1 Kronieke 16:7: Braun en ander geleerdes is van mening dat Asaf se aanstelling teruggaan na die tyd van Dawid. Dawid het waarskynlik aan hierdie groep opdrag gegee om iets vir hierdie geleentheid voor te berei. Die eerste "uitvoering" daarvan vind nou plaas. Noordtzij sê dat hierdie n vaste liturgie vir die diens by die ark geword het. Daardeur is die willekeur van die priesters uitgeskakel.

1 Kronieke 16:8-22: Die eerste gedeelte (8-22) kom ooreen met Psalm 105:1-15. Dit laat die res van die Psalm (16-45) geheel en al uit. Die rede is waarskynlik dat die Kronis die res van die geskiedenis van Israel nie as belangrik vir hierdie geleentheid sien nie. Vers 8-13 is n inleiding. Anders as in Psalm 105, verwys vers 13 na Israel en nie na Abraham nie. Israel en Jakob dien as aanduiding dat die hele verbondsnageslag die Here moet loof. Die feit dat die skrywer eerder na Israel as na Abraham verwys, beteken dat hy die oorspronklike geskiedenis direk wil toepas op sy gehoor (Israel). Wie God loof, roep sy naam uit (Roubos). Israel se verlede en God se trou lei tot lof en blydskap: "wie hom daarin beroem dat hy n seun van Jakob is, wat die uitverkiesende genade van God en al sy heerlikheid ervaar het, vind sy lewenstaak in die lofprysing van die Here en die gedurige herinnering aan sy wonders" (Noordtzij). Hierdie Here se teenwoordigheid moet gedurig gesoek word. Die grootheid van die Here is nie beperk tot Israel nie. Die nasies moet dit weet.

In 14-22 word baie aandag aan die verbond van Jahwe met Israel gegee, met spesifieke verwysing na die aartsvaders. Hy fokus op die geskiedenis van die aartsvaders om n spesifieke rede: "By concluding with verse 15 of the psalm, the writer has permitted vv 12-15 (= 1 Chron 16:19-22) to stand more in the nature of a timeless principle applicable therefore to his own day: It is the people Israel, reduced in number and without a homeland, which is protected by God. The appropriateness of such a message, it must be agreed, is obvious during the exilic or post-exilic periods" (Braun). Dit kom ooreen met die gedagtes van Williamson: " it would seem that the chronicler expected the politically insignificant community of his own day to identify itself with the patriarchs. They too were protected and they too could look to a brighter future" (Williamson).

In Psalm 105:8 word benadruk dat die Here sy verbond in stand hou. In 15 word die volk opgeroep om dit te onthou. Die versekering van God se trou in die psalm word hier omskep in n imperatief aan die volk. Roubos beskou dit as n skryffout omdat die Kronis, volgens Van Selms, nie n getuienis van God se trou sal verander in n vraag na menslike trou nie. Die oproep om God se trou te onthou, hoef nie so verstaan te word nie. Die opdrag om God te loof vir sy getrouheid, beteken tog nie dat God se trou van ons lof afhang nie. Die verandering is nie n skryffout nie, maar n "desire to make the text speak more directly" (Braun).

Daar is n klein verskil tussen 16:19 en Psalm 106:12. Die "hulle" in Psalm 106 word vervang met "julle" in die werk van die Kronis. Die bedoeling is weereens om n eenheid aan te dui tussen die aartsvaders se ervarings met God en die huidige volk se ervarings met Hom. Die ark, as simbool van God se teenwoordigheid, verkry n vaste plek. Die gesalfde koning doen dit. Daarom is hy ook onaantasbaar.

1 Kronieke 16:23-29: Hier is n duidelike oorgang na nuwe gedagtes. Die koningskap van Jahwe staan op die voorgrond. Dit is die hart van die lofprysing. Ons moet die konteks daarvan verstaan. Dieselfde God wat die aartsvaders van n klein en polities onbeduidende groepie mense tot n magtige volk gemaak het, is ook die koning van die lesers van die Kronis: "The hymn celebrating the Lords kingship implicitly conveys a similar message of encouragement and hope" (Williamson). Te midde van vreemde gode en heersers is Hy steeds die God van hemel en aarde, uit wie daar krag en vreugde voortkom: "If the Chroniclers readers could identify themselves with their forefathers, the patriarchs the people of Israel of the Chroniclers day might well take hope and look to a brighter future" (Thompson). Hierdie gedeelte eindig met n baie sterk toekomsvisie. Die Kronis, deur sy verwysing na die verlede, sien n oop toekoms: "Die teokratiese visie is immers uitsig op die uiteindelike openbaring van God se koninkryk" (Roubos).

In 1 Kronieke 16:27 kies die Kronis vir "woonplek" in plaas van "heiligdom" (Ps. 96). Nie "krag en glans vul sy heiligdom" (Ps. 96:6) nie, maar "krag en vreugde vul die plek waar Hy is". Ook in 16:29 word die begrip "voorhowe" (Ps. 96:8) vervang met "aangesig". Immers, die tempel is volgens die verloop van die geskiedenis waaroor die Kronis skryf, nog nie gebou nie.

1 Kronieke 16:30-34: In hierdie verse word benadruk dat die Here se heerskappy selfs deur die skepping bekend gemaak moet word. Die uitdrukking dat daar aan die liefde van die Here geen einde is nie, kom algemeen voor en benadruk die liturgiese konteks van hierdie lied.

1 Kronieke 16:35-36: Hierdie woorde vind ons ook in Psalm 106:47. Die Kronis laat die "halleluja" (Ps. 106) weg. Die hele inhoud van Psalm 106 wat ook die geskiedenis van Israel in oënskou neem, word oorgeslaan. Dit is opvallend, omdat die Psalm hoofsaaklik op die ontrou van die volk teenoor die trou van die Here fokus. Braun is van mening dat die lesers waarskynlik hierdie verlede in herinnering sou roep wanneer hulle die woorde gehoor het. Die troue liefde van die Here sou hulle, ten spyte van hulle sonde, uit die nasies versamel. Israel verwag sy redding van die Here alleen: Hy is God "ons Verlosser". n Ingrype van God sal nodig wees om die volk bymekaar te maak en van die nasies te red. Dit sal lei tot die lof aan God. Om die Here te loof is voortaan die doelwit van die bevryde Israel se lewe (Noordtzij).

Konteks

Tydens koninkrykstyd vra die kerk haarself af wat die implikasies van die heilswerk van Jesus vir ons lewe is. Ons het nuwe koers vir die lewe en ons leef tegelyk in die verwagting dat die Here nuwe dinge sal doen. Koninkrykstyd gaan oor ons lewe voor God, waar ons ook al beweeg. Met dit in gedagte, bied hierdie gedeelte n hele paar perspektiewe vir die lewe voor God.

Die belydenis van die Here se koningskap in n baie onseker tyd, staan hier uit. Uit die bespreking hierbo het dit reeds na vore gekom dat die mense aan wie die Kronis skryf, in n oorgangstyd is. Net soos die aartsvaders is hulle ook vreemdelinge. Hulle het nie n vaste verblyfplek nie. Dit is n gemeenskaplike tema in die gedeelte en in die gedeelte wat volgende Sondag aan die beurt kom (1 Kron. 29:10-19). Slegs deur die direkte ingrype van God, die Koning, sal hulle situasie verander. Dit is die gebed aan die einde van die lied: "In the reality of worship, Israels historical role in the world is upheld, but in the harsh actuality of life in a minor province of a vast empire it is recognised that such a role can only be introduced by Gods intervention. The anthology thus chooses the practical way of stimulating the faith which the work as a whole aims also to evoke" (Williamson).

Dat die Here koning is, is n geloofsbelydenis. Dit is nie iets wat uit die voorhande werklikheid afgelei kan word nie. Net na die Tweede Wêreldoorlog skryf Barth in sy kommentaar op die belydenis dat Christus aan die regterhand van God sit, die volgende: "That is what we are to say of our time that is the first and the last thing that matters for our existence in time. At its basis lies this existence of Jesus Christ, His sitting at the right hand of God the Father. Whatever prosperity or defeat may occur in our space, whatever may become and pass away, there is one constant, one thing that remains and continues, the sitting of His at the right hand of God the father. There is no historical turning-point which approaches this. Here we have the mystery of what we term world history, Church history, history of civilisation; here we have the thing that underlies everything." Ons bely die koningskap van die Here in hoop te midde van alles wat dit weerspreek.

Die koningskap en grootheid van God kan in hoop bely word, omdat die Here in die verlede gewys het dat Hy getrou is. Deur die volk se huidige situasie en identiteit aan die aartsvaders te verbind, en deur die gebruik van die historiese psalms, is dit duidelik dat die verbond n baie belangrike funksie in hierdie lied vervul. Weliswaar haal hy nie die mislukkings van die geskiedenis aan nie, maar dit lê tog agter die gebruik van die psalms. Hy het ten doel om die volk tot lof aan God te bring en om hulle geloof daardeur te versterk. Daarom gebruik Israel se "teologiese" leiers "the collection of cultic poetry and edited it in such a manner as to rekindle fires of hope for the despondent people" (Butler, aangehaal deur Williamson) "inviting them to renew their faith in the God who, having answered the prayers and aspirations expressed in these verses so abundantly in the days of David and Solomon, could be relied upon to do so again despite all appearances in a later day." Deur die gebruik van ou tradisies word die lofprysing oor God se grootheid, verbond en koningskap die voertuig om hulle geloof in hierdie God te laat herleef, al lyk omstandighede nie altyd positief nie. Dit staan egter vas dat God geloof kan word omdat Hy in die verlede getrou was, ten spyte van hulle ontrou. n Lewe van lof en aanbidding is immers gegrond op die vaste sekerheid van God se liefde in die verlede. Daarom moet hulle ook sy verbond onthou (15).

Uiteindelik kan ons dan vra wat agter lofprysing lê. Wat lei ons ten diepste tot lof aan die Here? n Paar jaar gelede het Dirkie Smit n lesing aangebied oor die tema: Lofprysing: waarom en waartoe? Hierdie lesing, wat ongelukkig nie gepubliseer is nie, sal uitvoerig aangehaal word omdat dit nie vrylik beskikbaar is nie. Hy het op vyf gevare in lofprysing gewys. Een daarvan verdien aandag vir die doel van hierdie studie. Lofprysing is altyd n reaksie op die evangelie, op God se goeie nuus: "As dit nie die inhoud van ons lofprysing is nie, as dit nie die motivering vir ons lofprysing is nie, as dit nie die God en die Christus is vir wie ons prys nie, is ons dalk besig met lofprysing, maar nie as reaksie op hierdie evangelie nie, nie n eg Christelike lofprysing nie. Sulke ander vorme van lofprysing kom baie wyd in die wêreld voor. Daar is ook 'n lofprysing wat opkom uit die natuurlike normale godsdienstigheid van mense ver buite die grense van die Christendom. By alle godsdienstige tradisies, tot by die animisme, die mees eenvoudige, primitiewe gemeenskappe, kry jy mense wat dans en op tromme slaan en sing. Jy kry variante van dans rondom n vuur en op tromme slaan om God op te wek en die maan en die son tevrede te stel, om jouself beter te laat voel en om jouself in n blydskap in te werk en n ander gemoedstoestand of stemming te gee. Jy kry variante onder die mees gesofistikeerde, mees intelligente, mees beskaafde Westerse mense. Dit is godsdienstigheid wat met die Christelike evangelie absoluut niks te make het nie. Dit is vroomheid wat opkom uit n behoefte van 'n mens se hart aan warmte en gemeenskap en aan lekker sing, of lekker kerk hou, waar dit vrolik gaan en almal bly is. Dan kry jy dieselfde soort gevoel Sondag in die kerk wat jy Vrydagaand by die konsert gehad het of Saterdagaand by die disko ervaar het. Dit is aangenaam, almal is gelukkig, hulle sing, hulle is bly. Die lewe is vir hulle aangenaam. Hulle voel hulle leef voor die Skeppergod se aangesig. God is vir hulle goed, hulle is bly, hulle het baie rede om dankbaar te wees. Dit is so 'n algemene godsdienstigheid.

"Dit is opreg bedoel, maar met die doksologie, met die egte Christelike lofprysing wat ontstaan as 'n reaksie, n antwoord op die evangelie, dat Jesus leef, het dit niks te maak nie. Lofprysing ontspoor wanneer dit nie meer 'n reaksie as antwoord op die evangelie is, waar alles begin nie, maar 'n uitdrukking is van jou eie emosionele behoeftes, stemminge, begeertes."

Preekvoorstel

n Preek oor hierdie gedeelte kan begin met die gedagte dat lofprysing die hart van die Christelike lewe is. Die volgende gedagtes van Dirkie Smit oor lofprysing kan die gedagtes hieroor stimuleer: "Die hele Christelike lewe gaan oor lof aan God, die eer van die Here se Naam, die verheerliking van sy Naam, die erkenning van sy heiligheid. Daar is niks belangriker nie. Daar is in 'n sin ook niks anders nie. Die Christelike kerk en teologie het dit van die begin af geweet. Die Griekse filosofie het die vraag gevra waarom daar hoegenaamd iets is. Waarom is daar mense? Waarom is die wêreld daar? Toe die Christelike teologie in die Griekse wêreld begin inbeweeg het, het dit hierdie vraag probeer beantwoord deur te sê: "Die skepping bestaan ad majorem gloriam Dei: tot meerdere eer van God." Dit is die Christelike antwoord op die vraag hoekom daar hoegenaamd iets is. Hoekom is daar 'n aarde, berge, bome? Hoekom is daar lig, reën, 'n son, mense? Hoekom is ek daar? Ad majorem gloriam dei. Om God meer te eer. Die Noord-Afrikaanse kerkvader, Augustinus, het 'n baie bekende boek geskryf met die naam Confessiones, belydenisse. In die boek sê hy: God is so groot, God is so wonderbaar. As 'n mens oor God begin nadink, besef jy jy verstaan so min van God. Jy moet eerder stilbly. Dit pas ons om te swyg, sê hy, as ons oor God dink. Maar terselfdertyd sê hy: "God is so groot en wonderbaar ons kan darem ook nie stilbly oor God nie. Maar praat kan ons nie oor God nie. Praat pas nie by God nie. Menslike taal kan nie oor God praat nie. Laat ons daarom jubel." Die soort menslike praat wat pas by God is jubel, is lofprysing, is aanbidding, is eer, is verheerliking. Dit is die hart van die Christelike lewe. By Calvyn en in die gereformeerde teologie was dit in die hart van die gereformeerde denke. Soli deo gloria. Deur alles wat ons is, deur alles wat ons doen, deur die hele lewe moet ons God eer. Die gereformeerdes het graag gesê: "die hele skepping is die teater van God se glorie. Daarom word ons opgeroep om saam met die skepping, maar anders as die skepping, God te loof en te prys. Ons word opgeroep om in hierdie groot teater van God se glorie, God te verheerlik."

Hy verwys na Van Ruler se boek: Waarom sal ek na die kerk gaan? Ons gaan om God te prys, nie omdat die dominee goed preek nie: "Al was die preek hopeloos, al was die hele diens 'n hopelose ervaring, solank julle 'n psalm gesing het was dit die moeite werd. Lofprysing is nie maar nog iets wat Christene moet doen die hele Christelike religie gaan om die prys van God. Dit is waarom ons lewe, dit is waarom ons bestaan."

As dit waar is, kan ons natuurlik vra na redes hoekom ons God kan loof. Dit is hier waar die situasie waarin die lesers van Kronieke hulle bevind het, aan die orde gestel kan word. Dit was nie n goeie tyd vir hulle nie. Hulle situasie word met die swerwende, landlose aartsvaders vergelyk. Die punt kan gemaak word dat lof nie gebou is op dit wat ons ervaar nie. Die Here se heerskappy word nie besing omdat alles waarop mense gehoop het, reeds aangebreek het nie. Berkhof het die onderskeid tussen godsdiens en geloof gemaak. Godsdiens is gebou op ervaring. Godsdienstige mense loof die Here omdat hulle omstandighede dit toelaat. Geloof is om aan die Here vas te hou, Hom te loof, te spyte van omstandighede (Hab. 3:17-19; Ps. 73).

Die heerskappy van God (ook dat Jesus aan die regterhand van God sit en heers) word bely, word geglo. Hier word gepleit dat die Here hulle onder die volke sal uithaal en bymekaar sal bring, maar dit het nog nie gebeur nie. Nietemin, omdat die Here Koning is, verwag hulle dat dit anders sal wees, en herinner hulle mekaar in hierdie loflied aan die feit dat die Here heers. Die gedagtes van Karl Barth kan hier gebruik word om die sekerheid van die Here se heerskappy ten spyte van omstandighede, te benadruk.

Uiteindelik kan ons vra hoe so n lewe van lof ten spyte van moeilike omstandighede moontlik is. Dit is moontlik wanneer ons aan God se trou in die verlede dink. Die aartsvaders was nie net simbolies van landlose swerwers, vreemdelinge en bywoners nie, maar ook voorwerpe van God se trou deur die verbond. Hoewel die tempel nie meer n rol in die Christelike aanbidding speel nie, moet ons saam met Braun vra "whether that kind of devotion which gives little attention to worship also some formal aspects of worship has gone far astray from the mark." Lofprysing is n reaksie op die goeie nuus van God se genade. Deur te dink aan God se trou en as gemeente mekaar saam daaraan te herinner, bring lof in ons lewe. Dirkie Smit se gedagtes oor lofprysing as reaksie op die evangelie kan hier sinvol benut word.

Daar kan afgesluit word met die verhaal wat JP Versteeg vertel oor n bekende Franse loods, Antoine de Saint-Exupéry. Na enjinprobleme moes hy n noodlanding in die woestyn doen. Hy het net een keuse gehad, naamlik om te loop en te bly hoop dat hy hulp sal opspoor. Dit het verskriklik geword. Na dae in die woestynsand was hy totaal uitgeput. Hy wou gaan lê en sterf. In hierdie situasie het hy aan sy vrou en kinders gedink. As hulle sou weet dat hy nog lewe, sou hulle beslis van hom verwag het om aan te hou. Ter wille van hulle kan hy nie gaan lê nie. Dit het vir hom die deurslag gegee. Die herinnering aan hulle het hom laat volhou.

Omstandighede kan n mens op n punt bring dat jy hoop verloor. Die herinnering aan God se trou en sy liefde vir ons kan egter ons geloof laat herleef. Dis hoekom die loflied van Dawid so belangrik is. Dit laat die volk voortgaan. Dit laat hulle hoop. Dit laat hulle God se teenwoordigheid met hoop verwag, omdat God in die verlede mense soos hulle nie in die steek gelaat het nie.

Bibliografie

Barth, K 1949. Dogmatics in outline. SCM Press, London; Braun, R 1 Chronicles. Word Biblical Commentary, vol 14. Word Books, Texas; Noordtzij, A Kronieken 1. Kok, Kampen; Roubos, K 1982. 1 Kronieken. Callenbach; Smit, Dirkie Lofprysing: Waarom en waartoe? Ongepubliseerde lesing. Windhoek, 1992; Thompson, J A 1994. 1, 2 Chronicles. The New American Commentary, vol 9. Broadman and Holman Publishers; Williamson, H G M 1982. 1 and 2 Chronicles. The New Century Bible Commentary. Eerdmans, London.