13 JUNIE 2004

Eerste Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Koninkrykstyd gebruik te word

Fokusteks: I Kronieke 4 :1-10

Ander tekste: I Konings 21:1-10; Psalm 5; Galasiërs 2:15-21; Lukas 7:36-8:3

Tema: Gaan dra vrug in God se koninkryk onder sy seënende hand.

Voorsang

Lied 470 " U, Here, is ons koning" /NSG 80

Psalm 5 " Gee, Here, aan my woorde aandag"

Lied 473 "Waarmee kan ons die koninkryk"

Lied 471 "Soek allereers die koninkryk van God"/NSG 38

Lied 157 "Here Jesus, ons is saam"/NSG 345

Inleiding

Ons betree nou die laaste seisoen van die kerklike jaar – koninkrykstyd. Alles wat ons geleer en beleef het vanaf Advent tot by Pinkster, moet nou neerslag vind in die koninkryk van die Here. Ons kan dit nie op ons eie doen nie – ons het God se seën en krag daarvoor nodig. Daarom gaan ons hierdie koninkrykstyd biddend om God se seën tegemoet.

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Aanvangsgebed

Gemeente saam of voorganger: Psalm 5:1-4,8 aangepas

Luister tog na ons woorde, Here, hoor ons sug.

Gee tog aandag aan ons hulpgeroep, ons Koning en ons God, want tot U bid ons.

U luister na ons stem in die môre, Here, in die môre terwyl ons voor U verskyn.

Ons mag deur u groot liefde in u huis ingaan en in u heilige tempel buig met die eerbied wat aan U verskuldig is. Amen

Voorganger: Gemeente van die Here, ons vier die koms van God se koninkryk in ons harte en in sy kerk en in die hele wêreld.

Gemeente: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Amen.

Seëngroet

Groet mekaar met sy seën (gebruik enige vorm van die trinitariese seëngroet).

Samesang

Lied 594:1 "Na Ons bestaan in tyd en ruimte"

(Alternatiewe liedere – Lied 587:1; 595:1 en 602: 1,4 en 5; NSG 187; NSG 49)

Hierdie lied beklemtoon die "nog-nie" van die koninkryk; dit kan deurlopend elke Sondag gedurende hierdie seisoen gebruik word.

Verootmoediging

Vertel die verhaal van Nabot en sy wingerd (I Kon. 21:1-16). Is die gemeente werklik bereid om hulle lewe neer te lê ter wille van die koninkryk van God?

Skuldbelydenis

Lied 231:2 en 3 "Heil’ge God, herskep ons lewe"/NSG 61 of Lied 233 "Ek, Vader, wat gesondig het"

Vryskelding

Galasiërs 2:15,16,19b en 20 – tweespraak deur voorganger en gemeente:

Voorganger: Julle weet dat julle nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo.

Gemeente: Ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom.

Voorganger: Dit is hoe julle vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

Gemeente: Ons is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ons wat lewe nie, maar Christus wat in ons lewe. Die lewe wat ons nou nog hier lewe, leef ons in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir ons bewys het deur sy lewe vir ons af te lê.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Psalm 119:1-8

Psalm 119 gaan deurlopend in die koninkrykstyd gebruik word.

Skriflesing

I Kronieke 4:1-10 en Psalm 32

Respons

Lied 189, 218 of 228 "Halleluja!"

Dit word aanbeveel dat dit deurlopend in die koninkrykstyd gebruik word.

Kindertyd

Prediking

Respons van gemeente

Lied 268 "Laat, Heer, u seën op ons daal"/NSG 172

Alternatiewe liedere oor "vrug-dra" handel – Lied 524, 525 of 601; NSG 15 of 154

DIENS VAN DIE TAFEL

Formulier

Gebruik enige formulier of seleksies na goeddunke.

(Aanbeveel: Alternatiewe Formulier – Inleiding en Deel I – gedagtenismaal.)

Gereedmaak van die tafel

Keuse uit Lied 297, 299 en 300; NSG 367

Geloofsbelydenis

Tafelgebed

Lied 295, 296, 301 of 302; NSG 368 en 369.

Nagmaalepiklese

Sien Basisliturgie.

Instelling, uitdeling en kommunie

Dankgebed

Indien van ’n kantory/kerkkoor in die diensorde gebruik gemaak word, kan die volgende liedere gebruik word.

Gereedmaak van tafel – Lied 298

Tafelgebed – Lied 569

Kommunie – Lied 303

UITSENDING

Opneem van dankoffers

Samesang

Lied 530:1-3 "Praat ek mense-, eng’letale"/NSG 40

Seën

Die Here sal jou wat sy Naam liefhet beskerm en laat juig. Hy sal dit met jou goed laat gaan; sy goedheid sal jou beskerm soos ’n skild (Psalm 5:12,13 aangepas).

Respons

"Amen" (kies enige van Lied 312-315)

INLEIDING tot DIE KRONIS EN KRONISTIESE GESKIEDENIS

Inleiding

Die boeke Kronieke, Esra en Nehemia word as Kronistiese geskiedenis beskou. Dit word teen die middel van die vierde eeu v.C. gedateer. Dit was ’n tyd toe die koningshuis tot niet was en die volk onder ’n vreemde en heidense regering was. Die manier waarop die Kronis na die geskiedenis kyk, verskil dikwels van die vergelykbare dele in Samuel en Konings. Dit het daartoe gelei dat die Kronis as ’n onbetroubare skrywer beoordeel is. Gevolglik is sy bydrae dikwels onderwaardeer. Die volledigheid wat die Kronis probeer nastreef, val ook op, byvoorbeeld die uitvoerige geslagsregisters en behoud van die Aramese gedeelte in Esra.

Die Kronis se aanslag mag eensydig lyk, maar is van uiterste belang vir die verstaan van die Ou Testament. Hy kyk op ’n unieke manier na die geskiedenis. Dit is belangrik om te sien dat dinge wat tematies bymekaar hoort, saamgevoeg word, al is dit nie chronologies opeenvolgend nie. Daarom moet ons verstaan dat die sogenaamde "geskiedskrywers" van die Ou Testament deur hulle perspektief op die betrokke gedeeltes van die geskiedenis ’n bepaalde boodskap wou oordra. Wanneer ons die "perspektiwiese" geskiedenis bestudeer, verkry ons ’n beter prentjie van die ideologiese en teologiese agtergronde van die Ou Testament.

Waarop fokus die Kronis?

Die kultus is baie belangrik. Hy stel net in die Suidryk belang. Die tempel en kultus in Jerusalem is die enigste ware kultus. Hierdeur bou hy voort op die ideaal van die Deuteronomis, wat die kultus wou sentraliseer. Dit het beteken dat die kultusgemeenskap in Jerusalem in die tyd na die ballingskap die egte voortsetting van die ware Israel was.

Die rol wat Dawid hierin speel, is baie belangrik. Hy is die kultushervormer. Sy positiewe bydrae word beskryf, byvoorbeeld die verskuiwing van die ark (1 Kron. 13-16), die voorbereidings vir die bou van die tempel en die organisering van die tempelpersoneel (1 Kron. 17-29). Die oorgang tussen die tabernakel en die tempelperiode word baie sterk aan Dawid verbind. Die Kronis help ons om die verandering te verstaan (sien 1 Kron. 16; 21:28 e.v.; 2 Kron. 1:1-6). Die fokus op lofsange en prysliedere word opmerklik. In al hierdie dinge speel Dawid ’n groot rol.

Daarom word Dawid net positief beoordeel. In die Deuteronomistiese geskiedenis word Dawid in sy volle menswees beskryf. Die Kronis vermeld niks van die donker kolle in sy lewe nie.

Die wet is vir die Kronis die allesoorheersende saak. Van 1 Kronieke tot by Esra en Nehemia word die wet die grondslag waarvolgens die samelewing na die ballingskap hervorm moes word.

Die alleenheerskappy van Jahwe tree op die voorgrond (1 Kron. 29:33; 21:3; 17:14). Dawid as heilige koning, heers oor die "koninkryk van Jahwe" (1 Kron. 28:5). Sy koningskap word gelyk gestel aan die koningskap van die Here self. Ons moet hierdie beklemtoning verstaan teen die agtergrond van die tyd waarin hy skryf, naamlik die afwesigheid van die koningshuis en vreemde heerskappy.

Kenmerkend van die Kronis is die gedagte van onmiddellike straf op sonde. Teenoor die Deuteronomis wat die skema van sonde-straf op die volk alleen toepas, maak die Kronis dit ook van toepassing op die enkeling.

God gryp in die geskiedenis in, nie net deur oordeel en straf nie, maar ook deur die uitkoms wat Hy bring. Dit is die daad van God alleen (sien 2 Kron. 20 – Josafat se oorwinning). Die mens moet bid en sing.

Die redding wat God bring, is vir alle mense, al benadruk hy die wet en die kultus.

Die opvatting dat die Kronis waarskynlik ’n Leviet was, word daarop gebou dat daar ongeveer 160 maal na Leviete in hierdie boeke verwys word, terwyl dit net een maal in Konings en twee maal in Samuel gebeur.

Indeling van Kronieke

1 Kronieke 1-9: Stamboom vanaf Adam tot by Saul (Dawid)

1 Kronieke 10-29: Die dood van Saul, Dawid se rol in die bou van die tempel en organisering van die kultus.

2 Kronieke 1-9: Salomo bou die tempel nadat Dawid die voorwerk gedoen het

2 Kronieke 10-36: Ander konings van Juda. Die klem val op die Godvresende konings, naamlik Asa (14-16), Josafat (17-20), Hiskia (29-32) en Josia (34-35). Die verhaal van die skeuring van die ryk tot die ballingskap word vertel, maar die verhaal van die Noordryk word verswyg. In 2 Kronieke 36 word na die ballingskap verwys, terwyl die edik van Kores waarvolgens die Judeërs toestemming kry om terug te keer en hulle tempel te herbou, aangehaal word (Annis Nel).

PREEKSTUDIE – 1 KRONIEKE 4:1-10

Inleiding

1 Kronieke 4:9-10 is van die bekendste Bybeltekste van ons tyd. Bruce Wilkinson het daarvoor gesorg. Die gebed ontlok steeds debat. Daarvan getuig Anne-Marie Mischke se artikel "Wie is die Jabes wat so bid?" (Rapport, 15 Jun. 2003). Sy sê: "… een of ander tyd dring die ding met Jabes jou bewussyn binne …`n verbasende maatskaplik-godsdienstige verskynsel …" Dit het begin met Wilkinson se boekie The Prayer of Jabes, en ontwikkel tot `n hele Jabes-bedryf.

Wilkinson wil `n gebed laat aanleer wat God altyd antwoord. Miljoene Christene stem "... met hul beursies en op hul knieë vir Wilkinson se Jabes-idees...", sê Mischke, maar talle teoloë het bedenkinge. In `n resensie van Jabes se boek sê Rick Miesel: "dit word `n formule wat meganies gebid word met die oog op voorspoed…die hedendaagse welvaartsevangelie … Jabes se gebed word gereduseer tot `n `word-ryk-amulet’. Albert Dager sê egter: "…nie alles in Wilkinson se boek is verkeerd nie", maar dit is "…`spirituele wasem’, `n `mantra wat bygelowig oor en oor gesê word om voorspoed te verseker’, `n kultus, weinig … diepgaande verhouding met God."

In `n tweede artikel, "God is nie `n outoteller nie", gee Mischke die menings van Suid-Afrikaanse teoloë. Dr. Isak Burger neem aanstoot aan stellings dat die gebed as mantra gebruik en tot kultus geword het. Hy sê die gebed beklemtoon dat God ook wil seën. Dr. Willem Nicol verklaar die groter klem van Christene die laaste jare op gebed, in die lig van Wilkinson se boek. Dit het mense bewus gemaak van gebed en die rol daarvan in ons lewe. Hy is bekommerd om die gebed te gebruik soos Wilkinson voorstel. Dit kan bydra tot "verwarring en frustrasie by mense wat die `resep’ getrou volg en wie se gebed nie `verhoor’ word nie".

Vir prof. Christina Landman dui navolging van die resep op "`n mate van onvolwassenheid, soos kinders wat `n rympie opsê, vas oortuig dat wanneer hulle hul oë oopmaak iets asof met `n towerslag sal verander". Binne die veranderende Suid-Afrikaanse konteks, meen Landman, dui die Jabes-verskynsel "… op `n veranderende rol van godsdiens in die samelewing: `Om heel te maak en verliese te verdiskonteer, eerder as om te rig, te oordeel en te straf. En dalk is dit ook `n aanklag teen die tradisionele kerk, wat nie vir mense antwoorde verskaf nie’."

In reaksie op Mischke se artikels skryf Martin Deacon (Executive Director: Walk thru the Bible, WorldTeach Southern Africa) `n brief wat feitelike foute daarin uitwys. Deacon sê dat Mischke in haar beriggewing die identiteit van twee persone verwar: Bruce Wilkinson van World Vision en dr. Bruce Wilkinson van WTB. Hy is verontwaardig: "It continues to amaze me how opinionated people are about the `Prayer of Jabez’ without actually having read the book… `The Prayer of Jabez’ sold because people read it and asked God what Jabez asked for and wonderful things continue to happen … The book is about God’s goodness in saying YES when we ask."

In die lig van die voortgaande debat is Jabes se gebed ingesluit in die leesrooster. Hier word dit bespreek in aansluiting by P.G.R. de Villiers se boekie: "Jabes roep tot God". Hy sê: "Die Jabesgebed leer ons eenvoudig en duidelik hoe God selfs in die donkerste oomblikke van pyn groot seën uitdeel. Jabes leer ons egter nie dat gebed soos `n goedkoop towerspreuk is waarmee `n Bybelleser binne `n oogwink `n miljoenêrslewe losslaan nie." 1 Kronieke 4 leer ons veral iets omtrent God; dat Hy goed is en graag seën.

Teks

Jabes se kort gebed (1 Kron. 4:9-10) lê tussen lang lyste name versteek (nagenoeg die middel van nege hoofstukke geslagsregisters). Die klein perikoop het teologiese betekenis en kon as kommentaar op 2:55 bedoel gewees het. Daar is Jabes `n pleknaam, hier `n persoonlike of familie naam (Myers; Japhet). Die verse lei `n etiologiese verhaal rondom die naam Jabes in. Dit is `n eerste kennismaking met die karakter, terwyl die verse los van die konteks staan (Japhet). Die Kronis wil egter die geslagsregisters verder interpreteer. 4:1-7 noem Juda se seuns en hul seuns in `n netjiese struktuur. In 4:8 noem hy die familie van Kos, maar onderbreek homself om eers weer in 4:11-12, nadat Jabes se storie onverwags ingevoeg is, met die naamlys voort te gaan. 4:9-10 dui Jabes nie as pa of seun van iemand aan nie – geen aanloop of afloop rondom sy naam nie. Die begin van Jabes se storie trek aandag. Die Kronis stop in die middel van `n vertelling oor `n sekere man se nageslag om oor ouers en hul kinders se kinders te skryf. Hy begin by die hoofkarakter en fokus op Jabes (vgl. Japhet; Myers; Roubos).

Vir De Villiers lyk dit asof die Kronis, Jabes as uitblinker beskryf. Hy "omkring" sy vertelling oor die lewe en gebed van Jabes met mededelings van sukses. Hy sê aan die begin dat Jabes "voorrang geniet" bo sy broers en aan die einde dat Jabes gekry het wat hy wou hê: "God het laat gebeur wat hy gevra het." Die "kring" om Jabes se storie wek die indruk van `n soort resep vir blink prestasies, maar dit gaan om `n dieper saak. Die Kronis bou sy verhaal rondom twee temas: Eerstens Jabes se lewensverhaal; sy sukses (styg bo sy broers uit) en sy uitdagings (kry van sy ma `n negatiewe naam). Tweedens die rede vir Jabes se oorwinning oor sy omstandighede; sy uitdagings (gebed tot die Here om die pyn te oorkom) en sy sukses (die Here verhoor sy gebed). Die twee temas maak `n belangrike punt met `n ABBA-struktuur (chiasme) (vgl. Japhet).

A - Jabes se lewe is voorspoedig

B - ten spyte van sy negatiewe naam

B1 - omdat hy deur sy gebed die negatiewe oorwin

A1 - en die Here sy lewe voorspoedig maak.

Die tweede deel van die vertelling bestaan veral uit Jabes se gebed, met `n struktuur waarin Jabes vier keer vra dat die Here sekere dinge vir hom sal doen. Al vier versoeke word saamgebind deur `n tweeletterwoord in Hebreeus: "As u …" (Ook vertaal met "Sal U tog nie …"). Die woordjie sê dat die vier versoeke `n innige wens uitspreek, en word in die slotopmerking van die Jabesverhaal bevestig as hy ontvang wat hy "begeer" het (vgl. Japhet). Die OAV beklemtoon die gelaaidheid van die vier dele van Jabes se gebed: dat die Here hom ryklik sal seën; die Here sy grondgebied sterk sal vermeerder; die Here se hand met hom sal wees; die Here onheil van hom sal weghou sodat geen smart hom sal tref nie. Die vier bedes beklemtoon sy groot verwagting en intense begeertes, asook dat hy sy intense begeertes aan die Here stel. Dit is `n besondere seën wat Jabes van die Here verlang. Sy fokus op die Here word uiteindelik bevestig wanneer God sy gebed verhoor (4:10b), met die eenvoudige slotopmerking: "God het laat gebeur wat hy gevra het."

1 Kronieke 1-9 handel oor die geskiedenis van Adam tot met die terugkeer van Israel ná die ballingskap – vertel deur geslagsregisters en naamlyste. In die hart van die Kroniekeboeke staan die vertelling oor die voorbereiding vir die bou van die tempel (deur Dawid), en die uiteindelike bou daarvan (deur Salomo). Vir die Kronis was die tempel en Jerusalem, as die plek waar die tempel gebou word, belangrik, asook almal wat aan die bouwerk meegewerk het. Die stamme van Juda, Benjamin en Levi het getrou gebly en sou uiteindelik die ware Israel vorm. Volgens die Kroniekeboeke is dit oor hulle almal se gehoorsaamheid en getrouheid dat God die volk so besonderlik geseën het (vgl. Roubos).

Die interessantheid van die twee "Jabes-verse" word verskerp deur die mense wat nie daarin genoem word nie; Jabes se pa, grootouers, susters, ooms of tantes. Sy broers is slegs skadufigure op die agtergrond van die verhaal en Jabes se gebed, maar die Kronis identifiseer vir Jabes met `n naam. Dit bevestig subtiel sy voorrang bo sy broers. Ons weet nie veel meer van Jabes nie, maar sy naam beklemtoon tog die ongewoonheid van sy broers se anonimiteit, veral in die lig van die omringende naamlyste. Dat Jabes `n naam het, illustreer dat hy `n belangrike boodskap oordra.

In die Kronis se vertelling speel Jabes se ma `n groot rol. In die eerste deel van Jabes se geskiedenis praat sy ma, en in die tweede deel hy self. `n Belangrike taalkundige kwessie in die Hebreeuse teks is dat die ma haar seun letterlik Jabes "geroep" het, asook dat Jabes tot die Here "geroep" het. Die skrywer wil ironies die handelinge van ma en seun kontrasteer. Die ma bring negatief haar eie slegte ervaring oor die seun, maar die seun wil deur sy positiewe daad van gebed die afbrekende daad van sy ma se naamgewing deurbreek.

Volgens De Villiers wek Jabes se storie aanvanklik die indruk dat sy persoonlike geskiedenis vir die Kronis minder belangrik was as sy gebed. Die subtiele plasing van sy naam aan die begin van sy verhaal het egter `n ander effek. In die res van die verhaal is die naam "Jabes" die spil waarom alles draai. Die betekenis daarvan word twee keer beklemtoon (9b). Sy ma noem hom "Jabes" ("Pyn"), ter herinnering aan haar pyn met sy geboorte (vgl. Roubos). Die geskiedenis onthou Jabes se ma as die vrou wat haar seun met die swaarmoedige naam Jabes/Pyn opgesaal het. Sy bepaal in `n sin Jabes se lewenslot.

Die naam "Jabes" is nie `n negatiewe naam nie (De Villiers). Die Hebreeuse woord vir pyn se laaste twee letters is s-b, en nie b-s soos in Jabes nie (vgl. Japhet; Myers). Dit is weliswaar `n voorbeeld van foutiewe etimologie, maar die afwyking word hier beide veronderstel en beklemtoon (Japhet). Die eenvoudige oplossing vir die probleem lê in die analogie met die Naam van God (Jahwe), wat die mense van die Ou Testament nie wou uitspreek nie. In Jabes se verhaal word sy eintlike naam "Jaseb" vervorm tot "Jabes". Die mense het geglo dat as hulle die naam "Jaseb" selfs net sê, dieselfde lot as vir Jabes hulle sou tref. Hulle het sy naam uit vrees verander.

Jabes se versoek "Stort u seën oor my uit …" (10a), is volgens De Villiers `n aanduiding van sy gesindheid. Hy het nie gedink hy verdien meer nie, maar het geweet van Wie hy vra: die God van Israel wat keer op keer in die geskiedenis van die volk Israel bewys het dat Hy `n liefdevolle God is wat graag sy kinders seën (vgl. 1 Kron. 16:12). Dit is `n aantreklike Godsbeeld wat uit Jabes se gebed straal. God is vir hom die Een wat uitdeel nog voordat daar geoffer word.

Is Jabes se bede "… vergroot my grondgebied …" (10b) nie gevaarlik en selfsugtig nie? De Villiers beklemtoon die verband tussen mense en hul grond in die Ou Testament (vgl. Gen. 21:32; Jos. 13:1-7; 1 Kron. 6:54-81), asook die belangrikheid van die landmotief in die Bybel (Gen. 12:1; Deut. 7:13; 8:7-9). So word geslagsregisters terselfdertyd plekregisters. Die Kroniekeboek vertel van Israel se grondgebied en dat hulle dit ontvang het as belofte van die Here. God se seëninge is deel van God self. Jabes se gebed om die vergroting van sy grondgebied is deel van die Kronis se boodskap oor grond; `n plek waar God sonder pyn of smart gedien kan word.

Jabes vra dat God sy grondgebied vergroot omdat hy Hom as Gewer van sulke konkrete dinge leer ken het. 1 Kronieke se voorstelling van God as die Een wat die land verdeel, beskryf die manier waarop God sy koninkryk uitbrei. Oral waar gelowiges woon, word daardie plek die ruimte waar God ook woon. Die vergroting van Jabes se grondgebied beteken vir die Kronis die vergroting van God se koninkryk (vgl. Goppelt). God woon waar Jabes woon. Jabes bid om saam met God te kan woon. God se gawe van land aan Israel is buitengewoon – `n onverdiende geskenk (vgl. Deut. 6:10-11) aan `n volk wat deur God self gekies word (Deut. 9:4-6). Jabes se gebed stel dit duidelik dat hy God ken as die Een wat op vriendelike en onvoorwaardelike manier aan gelowiges seëninge uitdeel. Wanneer Jabes meer grondgebied vra, vra hy nie om baas te word van die groter stuk grond nie, maar hy gaan saam met God daar woon.

Jabes het verder gebid: "… neem my onder u beskerming …" (10c); `n versoek in ryk beeldspraak. Die oorspronklike Hebreeus het die uitdrukking "die hand van God". Die meer letterlike 1933-53-vertaling sê: "As … u hand met my sal wees." Jabes praat op menslike wyse oor God, maar weet dat God totaal anders as mense is. God se hand is so anders en uniek dat dit die noodlot kan breek (sien De Villiers se bespreking oor Jabes en sy tydgenote se denke oor God se hand). In sy gebed dat God se hand met hom sal wees, vra Jabes God se teenwoordigheid om hom te vertroos, sterk te maak, te vernuwe en te verlos van negatiewe kragte in sy lewe.

Die slot van Jabes se gebed "… en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie ..." (10d), sinspeel weer op sy naam, wat smart, pyn, onheil beteken. Dit is waaroor die hele gebed gaan. Hy is versadig van smart en smag om die einde daarvan te ervaar. In `n heel spesifieke en konkrete versoek vra Jabes om van `n groot ongeluk met baie slegte, selfs dodelike gevolge bewaar te word; iets wat sy lewe bedreig, wat hom tot niet kan maak.

Dan die ontknoping: "God het laat gebeur wat Jabes gevra het" (10e). Die Kronis se geskiedenis oor Jabes eindig gelukkig. Daar is `n klank van verbasing oor die deurbreking van die "naamsmagie" (Roubos). Die slot gee `n teologiese antwoord op die vraag hoe Jabes so uitsonderlik presteer het. Hy het dringend by God gepleit " to avert the name’s inherent dangers" (Japhet).

Konteks

In die Bybel dra geslagsregisters `n spesiale boodskap. Jabes se gebed en die geslagsregisters funksioneer as wederkerige sleutels om betekenis te ontsluit. Die Kronis wou God se werk in die geskiedenis belig. De Villiers noem enkele funksies van geslagsregisters in die Bybel: (a) Joodse gelowiges het hulle só ingepas by die groter geheel van die volk van God; (b) Bybelskrywers wou daardeur vir Israel wys wat hulle plek onder die omringende volke was; (c) dit gee redes vir mense se status in hul familielyn; (d) verduidelik sekere ontwikkelinge in die geskiedenis van `n volk of groep mense; (e) verklaar hoe God `n volk bewaar, en; (f) herinner mense aan die voorbeeld van hul voorouers – ter bemoediging en waarskuwing.

Die geslagsregisters aan die begin van die Kroniekeboeke wil mense aanmoedig om te kyk na die voorbeeld van hul voorouers, onder wie bidders soos Jabes was. Die geslagsregisters in 1 Kronieke wat die geskiedenis van Israel inlui, begin by Adam (1:1), die eerste mens. `n Mens kan net oor Israel praat deur oor die hele mensdom te praat. Van Adam af volg `n lang lys name wat uitloop op die naam van Dawid (1:1-9:34). Dit suggereer dat alle mense, verteenwoordig in Adam, deur hul verwantskap met Abraham deel het aan die verhaal van God se beloftes aan die uitverkore volk. Uiteindelik sou dié wyer perspektief deur Jesus oorgeneem word, wanneer Hy die allesomvattende ruimte van sy evangelie aandui met die opdrag, voor sy hemelvaart, dat die goeie nuus na alle nasies uitgedra moet word. Sy geslagte is nie net uit die bloedlyn van Israel nie, maar kom uit die hele wêreld (De Villiers).

Dit is ongewoon dat Jabes se ma in `n geslagsregister genoem word en vir haar seun sy naam gee. Anders as ander vroue in die Bybel, speel Jabes se ma deur haar besluit oor sy naam `n deurslaggewende rol, maar dit is nie opbouend nie. Sy verskyn op die toneel as smartvraat wat nie wil vergeet van die moeilike geboorte van haar seun nie. Sy klou vas aan die traumatiese gebeurtenis, deur haar seun met die naam "Pyn" of "Smart" op te saal. Sy verseker dat sy elke keer wanneer sy na Jabes roep of oor hom praat, herinner word aan die pynlike bevalling.

In die Nuwe Testament staan Jesus se geslagsregister in `n lang teks oor die lewe van Jesus. Maar deur die bloed van Jesus kom `n nuwe soort "bloedlyn" tot stand: die nuwe "familie van God". Slegs geloof in Jesus bring mense bymekaar as uitverkore volk van God. Soos vir Jabes, skep God vir sy kinders `n nuwe wêreld, `n uitgebreide grondgebied vir die nuwe volk van God. Wat `n verskil maak in `n mens se lewe, is nie bloedbande en rykdomme nie. `n Hele groep "broers" kan uitsak wanneer hulle belangrike, godsdienstige dinge verwaarloos. Geloof en vertroue op God bepaal uiteindelik `n mens se lewensloop.

De Villiers gee redelik uitvoerig aandag aan name en hul betekenis. `n Aantal name in die Bybel vertel van dramatiese geskiedenisse (1 Sam. 4:19-22; Gen. 25; 1 Kron. 7:20-28; Gen. 35:16-20). "Jabes" is nie enige naam nie. Dit oefen in sy lewe `n sekere negatiewe krag uit. De Villiers stel dit in verband met Genesis 3:16 se woorde van straf oor die vrou in die paradys (vgl. Japhet), en sê dat Jabes se naam in sy lewe `n vloek "aktiveer" wat van die begin van die tye oor mense gehang het. Met sy "Pyn"-naam word Jabes in `n hele geskiedenis van negatiwiteit ingedra. Sy ongelukkige naamkeuse sou beide sy identiteit onthul én dié identiteit skep.

Die eerste lesers van die boek was blykbaar redelik iesegrimmige mense, nalatig in hul liefde vir die Here en onentoesiasties met hulle offers. Hulle het buitengewoon swaar geleef onder intense geestelike depressie. Die Kronis skryf om mense wat moeg, depressief en ongeërg geword het in hulle verhouding met God, te herinner aan wat hulle verloor. Die verhaal oor Jabes se onheilsnaam is hier opgeneem om mense tussen die geslagsregisters deur te herinner dat hulle eintlik diep ongelowig is wanneer hulle nie kan aanvaar dat God sterker as enige "noodlot" is nie. Jabes se broers en familie is die spieëlbeeld van die onentoesiastiese gelowiges van die Kronis se tyd. Die Kronis se boodskap is dat almal nie so hoef te wees nie. Jabes se verhaal illustreer dat God dinge radikaal kan verander en ons bo ons omstandighede kan uitlig.

Die Kronis wou mense subtiel daarop bedag maak dat hulle godsdiens tog nie vir hulle `n las moet word nie. Dit is asof die skrywer mense wou aanspoor om die teenwoordigheid van die Here in die tempel op te soek, sodat hulle geestelik genees en geïnspireer kon word. Hierdie soektog na God word in 1 Kronieke geteken as `n gebedsreis. Die Kronis voer sy lesers weg van hulle negatiewe ervarings na die lesse van die geskiedenis waar hulle sal ontdek hoe God gedurig en geduldig sy beloftes aan mense waargemaak en saam met hulle die pad geloop het. Hy wil onderstreep dat godsdiens `n saak van vreugde en feesviering is, en oor geslagte heen was.

Naas die geslagsregisters gee die werk van die Kronis in sy geheel `n spesiale betekenis aan die gebed van Jabes. Die Kroniekeboeke praat op merkwaardige wyse oor God, en mense se liefde vir God. Dié boodskap kom na vore in die rare en roerende gebede in die sogenaamde "geskiedenis"-boek. Die Kronis het geweet van bid. Dieselfde sensitiwiteit en diepte waarmee hy sy geskiedenis skryf, word soms sigbaar in die onverwagte plekke waar hy die opgetekende gebede plaas – soos Jabes se gebed tussen naamlyste (vgl. 1 Kron. 25:4 se lied van name; Dawid se boetegebed in 21:9, sy tempelgebed in 29:10-19 en sy lied in 16:7-36). De Villiers wys op die groot invloed van 1 Kronieke 29:11 op die Christendom, deurdat dit as slot by die Ons Vader-gebed gevoeg is. Vir die Kronis het geskiedenis ook om gebed gegaan. Dit is gedra deur `n gees van gebed – die agtergrond van Jabes se gebed.

In die verhaal is Jabes die positiewe en vertrouende gelowige bidder tot God. Hy gee vir die toekoms om; wil wegkom van die negatiewe en die goeie dinge in die lewe geniet. In Jabes se stukkie verhaal oor die geskiedenis van Israel kom ons meer van sy gebed te wete as van sy geskiedenis. Moontlik wil die Kornis sê dat Jabes so indrukwekkend is omdat `n groot deel van sy lewe uit gebed bestaan het. Hy durf die onmoontlike aan deur `n lewe van aanhoudende gebed.

Met Jabes se gebed tussen geslagsregisters gee die Kronis aan sy lesers `n model. Gebed beteken om na die God te gaan by wie `n volk oor geslagte heen skuiling gevind het en uitsonderlik geseën is (vgl. Gen. 1:28; 12:2; 28:10-22). Jabes glo wat sy voorvaders geglo het: God is `n seënende God; Hy gee oorvloedig; Hy is `n beskermende teenwoordigheid in die lewe van gelowiges; en Hy kom getrou alle beloftes na. Jabes se lewe is verander deur `n eenvoudige daad. Hy het met God gaan praat oor sy situasie. Hy het die lewe gekies en daarmee die seëninge van God (vgl. Deut. 30:19). Sy afhanklikheid van God kom aktief en dringend tot uiting in sy gebed. In die teenwoordigheid van die God van Israel verander hy van `n man met `n noodlotsnaam in `n man van vreugde. Deur sy gebed styg hy uit bo sy situasie, word hy soos `n duif in die hoogtes.

Terwyl die God wat seën die spil is waarom alles draai, maak mense tog ook `n verskil. Jabes se sukses lê eintlik in die vrug van sy geloof in die God van Israel (1 Kron. 4:10a) en die oes wat dit inbring. Vier keer vra Jabes dat die Here self sy seën vir hom bly gee, sy beskerming vir hom sal bied. Hy vra dit op so ’n manier dat dit duidelik is hy vertrou God, watter vorm God se antwoord ook al mag aanneem. Hy het God vertrou om te help, en sy vertroue is vir ons `n model; nie die feit dat sy gebed God verplig het om te laat gebeur wat hy gevra het nie. Ook Jabes se verhaal is `n bewys van hoe die Here al die beloftes van seën aan gelowiges in die geskiedenis waar maak.

Preekvoorstel

De Villiers beskryf `n preek uit 1 Kronieke 4:9-10 by `n nagmaalsviering op `n Pinksterfees deur `n jong prediker. Die meerderheid lidmate was bejaard. Die prediker weet die gehoor het die Christelike geloof met moedersmelk ingekry. Hy weet van die baie Pinksterbyeenkomste, die meevoerende Hallelujaliedere, die talle gebede wat hulle oor soveel jare opgestuur het en wat hulle nou weer met hierdie buitengewone tyd in die kerklike jaar verbind. Maar steeds moet `n mens, selfs in die tyd van die grysheid, net een ding vrees: stagnasie waarin daar nooit meer enige vorm van bekering voorkom nie. Hy onderskei tussen eenmalige en voortgaande bekering. Laasgenoemde word gekenmerk deur daaglikse heiliging, vordering in die doen van die wil van die Here, groei in die geestelike lewe. "Jy moet toelaat dat die Here se wil jou lewe vol maak. Bly soos Jabes bid om die strome van seën. Vra soos Jabes: `Here, stort u seën oor my uit!’"

Selfs met die ouderdom kan `n mens nog dieper in die Here ingroei. Juis in die ouderdom het `n mens meer behoefte aan die seën van die Here, aan sy soort voorspoed en geluk. Jou hart, wat al wankelrig begin om hier en daar `n slag te mis, wil veral die plek wees waar die Here woon. God wil ook, veral in die grysheid, seën skenk. Dit is `n boodskap so eenvoudig soos die nagmaal wat daarna volg: die gebreekte broodjie; die glas rooi wyn. Iewers kom die ouer harte tot groter rus.

`n Tweede invalshoek kan aansluit by hoe De Villiers sy boekie begin – met Hans du Plessis se gedig oor Jabes se gebed; hartskreet van `n Griekwaspreker in `n dor land met baie bedreiginge:

Jirre, stier tog nou U se wolklikheit,

en goi U se drippelse op onse koppe yt.

Gjee onse weidingse meerderder gras

en hou ons tog oener U se vlerkense vas.

Keer die beerlou van onse lyfte af weg

en draai tog net onse lewe wee bietjie reg;

lattie hyl ons nie innie nagte so matlik slattie,

ennie trane ons nie oppie mirrag skierlik vattie.

Die eeue oue woorde van Jabes is waarskynlik in ons tyd ook so gewild, omdat dit mense se universele reaksie op die talle bedreiginge van die lewe verwoord. Toe die Kronis hierdie gebed vir die eerste keer gehoor het, moes dit vir hom die presiese formulering van sy eie versmagting na die Here wees. Daarom het hy Jabes se gebed opgeneem in sy werk oor die geskiedenis van die volk Israel.

Die Kronis vertel nie wanneer Jabes sy hoopvolle gebed gebid het nie. Die belangrike punt is dat hy net op `n dag deur `n gebed tot God, radikaal begin verander het. Die ellende wat tot in daardie stadium sy lot was, sy geskiedenis van pyn en morbiditeit, sy depressie, het tot `n einde gekom. Hy het gekies om `n geseënde mens te word.

Wat is die diepe geheim agter die suksesverhaal van 1 Kronieke 4:9-10? In die stryd tussen die magte van die bose en die magte van die lig het die Here van die Lig oorwin. Dit is die verhaal van die getroue God wat gebede verhoor. Die Kronis verlaat homself op gebed om die omstandighede te verander en beklemtoon dat God `n opregte gebed hoor (Myer; Japhet). Die latente krag wat in die naam opgesluit is, word nie ontken nie, maar ondergeskik gestel aan die groter krag van God (Japhet). Die slot van die verhaal is daarom die diepe inhoud van die verhaal. Jabes bid tot God om seën. En God het dit so laat gebeur. Jabes kry nie `n ander naam nie, maar God sluit met hom `n "verbond" teen die "lot" wat in die naam opgesluit lê (Roubos).

Bibliografie

De Villiers, P G R 2001. Jabes roep tot God. Breër perspektief vir selfverryking en groepe. `n Bybelstudie; Du Plessis, H 2001. Innie skylte vannie Jirre. Griekwapsalms en ander gedigte; Mischke, Anne-Marie 2003. Wie is die Jabes wat so bid? `n Obskure gebed van 3000 jaar gelede herleef en word byna `n mantra. Rapport, 15 Junie 2003; Kleyn, Delene 2003. Special edition: A response to Rapport article on Bruce Wilkinson. Absa – Free Internet Access, 19 June 2003; Mischke, Anne-Marie 2003. God is nie `n outoteller nie. Rapport, 15 Junie 2003; Goppelt, L. 1983. Theologogy of the New Testament. Vol. 1; Japhet, S 1993. I&II Chronicles. A Commentary; Myers, J B 1965. 1 Chronicles. Introduction, Translation, and Notes; Roubos, K (POT). 1 Kronieken.