Ander
tekste: Psalm
98:1-4; 2 Timoteus 2:8-13; Lukas 17:11-19
Perikoopafbakening:
Die lectionary neem vers 1-14 as teks. Naäman se belydenis oor Jahwe en
sy voorneme om Hom te dien (15-19), is egter die (teo-)logiese gevolg, die
skopus van die boodskap. Eintlik is 1-27 een verhaal; 19b-27 (die Gehasi
-gedeelte) is die ‘donker kontrasparallel’ (von Rad) van die Naäman-verhaal, en
behoort minstens kortliks in die prediking bygehaal te word. Daarom sal die teks van die hele hoofstuk 5
bekyk word.
Vers 1-3:
Naäman is die lieflike, aangename, vriendelike (vr. Naomi Rut 1:2). Die naam is uitdrukking van die
karakter. Gibbor hayil staan op een lyn met isj gadol en nesu panim,
en beteken in feite dieselfde, naamlik 'n voortreflike, gesiene man. In vers 1
word dus drie maal beklemtoon dat Naäman ‘groot’ is. [In kontras tot die ‘klein dogtertjie’ (ne'arah qetanah) uit Israel, en later sy dienaars (vers 13)].
Dis jammer
die NAV het die redegewende ‘ki’
(want…) weg vertaal. Die rede vir
Naäman se posisie van aansien is naamlik Jahwe, wat hom as instrument gebruik
het om aan Aram die oorwinning te gee. Die oorwinning kan versus Israel wees,
sou vers 2 verstaan word as sou Aram in 'n staat van oorlog teen Israel
wees. Ander dink aan die Aramese
oorwinning oor die Assiriërs by die slag van Karkar in 854v.C. en meen nie vers
2 bedoel dat daar 'n Aramees-Israelse oorlog aan die gang was nie, bloot
ongedissiplineerde ‘desperado's’ (terreurbendes).
Vir die
Joodse lesers/hoorders moes dit opvallend wees dat die God van Israel aan 'n
vreemde mag die oorwinning gee. Die
belydenisgrondslag is: Daar is geen ander God nie, behalwe die
Here… (Deut 6:4). Die implikasie en boodskap vir die Joodse luisteraars in
ballingskap: dis die Here wat vyandige
volke gebruik om sy volk te straf en/of die Here het die beheer oor alle
oorloë, ook groot internasionale botsings. Al mag mense dink Hy het geabdikeer
of bestaan nie (meer) nie, Hy is nog steeds in beheer – van alle volkere en
alle mense. En Hy maak Homself ook aan
‘heidene’, aan die ‘vyand’ bekend. Sodat Naäman, na afloop van sy genesing,
bely daar is geen God op die hele aarde nie, behalwe Jahwe (vers 15b).
Naäman se
‘melaatsheid’ (tsar'at) kon enige
soort velsiekte wees. Die feit dat hy
in die samelewing gebly het, laat dink dat dit nie aansteeklik was nie, of in
'n beginstadium.
Die
onbekende jong meisie uit Israel wat in Naäman se huis vir sy vrou diens
doen, is 'n balling. Die eerste lesers (sien konteks) sou met
haar kon identifiseer. Ten spyte van
haar gevangenskap is sy nie bitter of onbehulpsaam nie, maar deel mee wat sy
van die Here en die profeet weet in belang van Naäman en haar meesteres.
Hierdie
dogtertjie is 'n sleutelfiguur in die verloop van die verhaal. So ook Naäman se dienaars. Hulle is die ‘klein’ mensies in teenstelling
tot die ‘grotes’ (Naäman, maar ook die konings van Aram en Israel). Sonder dat die Here se naam genoem word,
word vertel dat Hy (so in die verloop van dinge) mense gebruik wat in die
samelewing nederige plekke beklee. Was
dit nie vir die dogtertjie en die slawe nie, sou die groot man, Naäman, nie
gesond geword het nie. [Die kontras tussen ‘klein dogtertjie’/’dienaars’ en die
‘groot/magtige’ Naäman (vers 1) is opvallend.] Meer nog: as dit nie vir
die klein mensies was nie, sou die magtige
Naäman nie die profeet in Samaria en bowenal die Wêreldheerser agter die
profeet, leer ken het nie. Deur die woorde en optrede van die
Israelitiese dogtertjie en sy eie slawe moes Naäman leer dat Jahwe eenvoudige
mense gebruik en op verstommende eenvoudige maniere werk. So anders as wat hy
verwag het (vers 11). Dit het egter ook
van sy kant af vernedering gekos [die bewoording in vers 14 dat Naäman
‘afgegaan’ het (jrd)
na/in die Jordaan, is opsetlik so gestel, tekenend van Naäman se vernederende gehoorsaamheid.]
Vers 4-7:
Die etiket van die tyd het voorgeskryf dat konings nie versoeke rig aan
profete in 'n buurland (wat as 'n ondergeskikte beskou word) nie, maar aan sy
gelyke, die koning. Dus tree die koning van Aram diplomaties
korrek op. Die verloop van die storie
laat egter blyk dat die koning/s se optrede onbeholpe en potensieel plofbaar is
omdat die koning van Israel dit as 'n politieke set beskou. Die saak op die tafel is te groot vir die
konings om te hanteer. Ironies genoeg,
is dit juis hulle posisie van aansien wat 'n dilemma skep – waaruit die profeet
hulle moet uithelp!
Die woorde
van die koning van Israel is op sigself egter 'n geloofsbelydenis (al mag dit
ook geyk wees): Dis Jahwe alleen wat
mag het oor lewe en dood, nie die koning of profeet of watter mens ook al
nie. Naäman sal hierdie God moet
ontmoet voordat hy genees kan word.
Die name
van die konings van Aram en Israel word nie genoem nie. Heel moontlik is hulle
Ben-Hadad II en Joram, seun van Agab.
Die punt is egter: die konings is naamloos, in werklikheid dus
onbelangrik. Hulle verdwyn van die toneel wanneer Elisa oorneem.
Vers 8-14
Naäman sou nie net weet dat daar 'n profeet in Israel is nie, maar ook
die God van die profeet leer ken. Wanneer hy by Elisa se huis aankom, bly Elisa uit die oog. Naäman kry net 'n profetiese woord van 'n
boodskapper wat hy moet gehoorsaam. Hoe
reg Elisa was om nie persoonlik tussenbeide te tree nie, word duidelik uit
Naäman se reaksie: Naäman het 'n
demonstrasie van ‘toorkrag’ voor sy oë verwag, 'n magiese handeling, wat hom
gehoorsaamheid aan die profetiese gebod sou spaar. Op hierdie wyse wys die profeet weg van homself en onderskei hom
daardeur van alle wonderwerkers wat Naäman tot sover geken het. Die genesing in
die Jordaan sou slegs as die werk van die God van Israel gesien kon word vir
diegene wat sy bevele (deur sy profeet) gehoorsaam. Die gesag van die Goddelike woord berus nie op die persoonlikheid
van die profeet nie, maar diegene wat daaraan gehoor gee, beleef die beloftes
daarvan.
Naäman
vererg hom eers vir hierdie woord. Die
helder waters van die riviere van Sirië is baie aantrekliker as die Jordaan se
modderwatertjies. Sy persoonlike slawe
haal hom egter met wysheid oor om die geringe te doen. Wanneer Naäman homself verneder (die woorde
‘afgaan na die Jordaan’ is tekenend van vernedering), ervaar hy die
lewendmakend krag van die woord, ja, van Jahwe self.
Vers 15-19a
Naäman se belydenis van geloof in Jahwe as die enigste God, is onmiskenbaar die hoogtepunt van die vertelling. Dit is Israel se klassieke belydenis (vgl.
Deut 6:4), wat hulle gedurende die koningstyd verloën het. Hierdie belydenis uit die mond van 'n
‘ongelowige’ is 'n oordeel oor Israel wat gode begin aanhang het wat nie kan
genees nie. Jesus maak hierdie punt
wanneer Hy die mense van Nasaret bestraf (Luk 4:23-30).
Naäman se
bekering kom tot uitdrukking in sy verbintenis om dankbaar die Here te
dien. Hy probeer dit eers doen deur
geskenke vir Elisa aan te bied. Elisa
weier dit, in skerp kontras met die gebruik dat profete vir hulle diens beloon
(moet) word (sien bv. 1 Sam 9:7v, I Kon 14:3; 2 Kon 4:42 ens.). Hoekom hierdie
weiering? – Dit kan wees omdat hy nie deur geld aan die koning van Damaskus
gebonde wou wees, en so die skyn van sameswering wou dra nie. Of dalk omdat hy nie eer wil ontvang vir 'n
wonder wat deur Jahwe gedoen is nie. Of
miskien omdat Naäman moes leer dat God nie sy heil verkoop nie, en ons dit alleen
as geskenk kan ontvang (Velema, met verwysing na Jes 55:1). Daar is 'n vierde moontlikheid (Fricke,
BAT): Naäman is verplig om voortaan die
Here te aanbid in sy eie land. Hy kan
homself nie met silwer en goud vrykoop van hierdie verpligting nie. Dat hy dit as Elisa se bedoeling verstaan
het, is duidelik wanneer hy direk hierna
twee versoeke/bede rig tot Elisa:
1. Hy vra
grond waarop hy Jahwe wil aanbid in sy eie land. Hierdie was 'n redelik algemene praktyk van die dag. Hy besef dat hy die God van Israel aanbid,
en dat die land die Here se gawe aan sy mense is. Die grond het sakramentele waarde: dit gee geborgenheid aan sy
geloof, en dien as isolasie teen die indringing van die heidendom/profane.
2. Naäman
vra by voorbaat verskoning/vergifnis vir die geleenthede waar hy uit die aard
van sy amp voor Rimmon moet buig.
Rimmon is dieselfde as Hadad (in Sag 12:11 Hadad-Rimmon), die god van
weerlig, donder en reën. (Later die Griekse Zeus, dus 'n Siriese variant van
Baal.) Elisa gee nie 'n Ja of Nee
antwoord nie. Met ander woorde die
oortreding van die eerste gebod word nie gekondoneer nie. Naäman word ook nie wetties behandel
nie. Elisa ontwyk ook nie die
vraag(stuk) nie, maar benader dit pastoraal.
Hy spreek die vredesgroet uit oor Naäman. Dis meer as net 'n vriendelike afskeidswoord (soos wat die NAV
vertaal); dis die seënwens van God se
gerusstellende teenwoordigheid. Elisa
stuur Naäman terug na die wêreld waar die God van Israel nie erken word nie,
met die versekering van dié God se persoonlike teenwoordigheid.
Vers 19b-27
Gehasi se inhaligheid en opportunisme is in kontras met die
gulhartigheid van Naäman en die beginselvastheid van Elisa. Gehasi kry dit reg om die naiewe Naäman se
arm te draai en dubbeld soveel te kry as wat hy gevra het (twee talente silwer is dieselfde bedrag as
waarvoor Omri die berg gekoop het waarop hy Samaria gebou het, 1 Kon 16:24). Von Rad (1973) merk egter op:
Gehasi is geen booswig nie, maar hy kan die versoeking nie weerstaan
nie; hy wil ook eenmaal voor die wêreld groot en ryk wees, alhoewel hy
heeltemal goed weet dat hy sy meester nie so in die oë kan kyk nie. So, merk von Rad op, is die kerk wat probeer
om so 'n dubbele lewe te lei, en tog goed weet dat sy nie haar Heer in die oë
kan kyk nie.
Gehasi loop
hom egter vas in 'n nugtere en heldersiende Elisa. Die profeet het Naäman se geskenke afgewys om te beklemtoon dat die Here sy genesing bewerk het, en nie
Elia nie. Gehasi se optrede, en sy
leuen daaroor, neem die eer van God af weg, en is 'n poging om sonder God
homself te verryk en te red. Daarom die
harde oordeel oor Gehasi en sy nageslag.
Op hierdie
tragiese, maar oop noot, eindig die verhaal.
Dis vir die lesers/hoorders om te identifiseer met een of meer van die
karakters.
Genre (literatuursoort) Hierdie gedeelte is 'n voorbeeld van goeie verhaalkuns. Van al die
Elisa-verhale is hierdie die ingewikkeldste wat intrige (‘plot’) en karakters
betref. Die intrige funksioneer op
verskeie vlakke, en daar is nie minder nie as tien karakters of groepe op die
spel wat met mekaar in interaksie is – te veel om in een preek op uit te
brei. Dit is al getipeer as historiese
of teologiese, of beter nog: profetiese narratief ( New American Commentary,
1995). Die outeur van 1 en 2 Konings
bemerk hoe al die lyne wat getrek is in Deuteronomium 27-28 waar word, en wys
hoe die profetiese uitsprake gestalte kry.
Funksie binne die kanon:
Konings was in die Masoretiese teks deel van die vroeë profete (Josua,
Rigters, Sam, Konings). Vandag bekend as die Deuteronomistiese geskiedskywing
(gegrond op Deut). Die veronderstelde
lesers/hoorders is die Jode in ballingskap.
Die vraag "Hoekom is ons hier in ballingskap?" word profeties
beantwoord. Die skrywer lig sy lesers
bo die tydsomstandighede uit; hulle
moet 'n keuse maak: die
onheilsgeskiedenis voortsit deur Israel na te doen in hulle sonde, of daardie
soort lewe vermy. 2 Konings 5 staan
sentraal in die Elisa-verhale (2 Kon 3-8), asook binne die Koningsboeke.
Teologiese aksente Jahwe,
die God van Israel, is die oppermagtige.
Hy verhoog en verneder. Hy
gebruik op 'n verstommende (eenvoudige) manier, nederige en magtelose mense.
So totaal anders as wat (magtige) mense dink. Inderwaarheid is die sogenaamde magtiges magteloos, onbeholpe en
bevrees. [Daarvan is die melaatse
Naäman, en die (naamlose!) konings van
Aram en Israel toonbeelde – ook in die voorafgaande en opvolgende verhale in 2
Kon 3-8.] Hierdie is natuurlik 'n
kragtige troosboodskap vir uitgelewerde ballinge, maar ook 'n waarskuwing aan
hulle wat nog op eie aansien en mag vertrou.
[19b-27 – die Gehasi-episode – versterk hierdie punt.]
Die klein
dogtertjie uit Israel is, volgens die Hebreeuse teks ‘voor die aangesig van’ (lifné) die vrou van Naäman. Lifné,
veral in kombinasie met ‘amad’
(staan), is 'n teken van respek, selfs
aanbidding. Later in die verhaal gaan
staan Naäman voor die aangesig van Elisa (verteenwoordiger van Jahwe) wanneer
hy bely die Here is die enige God (vers 15), en sweer Elisa 'n eed in die naam
van Jahwe ‘voor wie se aangesig ek staan’ (vers 16). Die storie beweeg die luisteraars/lesers daartoe om te besef dat
hulle voor die aangesig van die Here staan.
En Hom alleen moet vertrou vir die toekoms. Wie dit nie doen nie, sal
weliswaar agterkom dat hulle – melaats! – voor die Here staan.
Doel: om
vir mense wat probleme gekry het met God,
nuwe insig te gee in wie en hoe die God van Israel nou eintlik is, en die feit te beklemtoon dat almal in elk
geval bewus of onbewus voor hierdie God staan, in hulle siekte- en sondenood. Die belangrike Een is Jahwe, en nie een van
die menslike karakters nie. In die
verloop van die verhaal verdwyn hulle almal van die toneel: die jong dogtertjie, die konings, Naäman se
vrou, sy slawe, Elisa wat nie uitkom
nie, Naäman self vanaf 19b, Gehasi en sy hele nageslag.
Hoekom 'n storie? Om
dit te beantwoord, moet ons vra: Aan wie
presies vertel hy dit? Aan mense in ballingskap met eeue se
priesterlike versekering agter hulle dat hulle in 'n ewige verbond met die Here
staan. Maar ook dekades se profetiese waarskuwing dat as hulle nie die verbond
nakom nie, die Here se vloek hulle sal tref. Die profete het reguit gepraat:
"So sê die Here!" Dit het egter aanstoot gegee, want die
selfversekering (en arrogansie!) was te sterk.
Maar toe word die vuur wat die arrogansie gestook het, in een slag
doodgegooi. Tempel, Godstad, offerdiens, priesters, die koningshuis, alles wat
sê dat ons God aan ons kant het, verdwyn ineens. Sielkundig val die meeste mense egter in krisistye juis terug op
ou gevestigde patrone en sekerhede, ongeag of daardie ‘sekerhede’ vals was en
die oorsaak van die krisis. So 'n sielkundige terugval, skep uiteraard 'n
geweldige identiteitskrisis. Daar moet nuwe antwoorde gekry word op die vraag Wie is ons/ek? En: wie is God? (en, belangrik: Wie is die vyand?) Dit is 'n baie delikate tydperk,
waarvoor mense pastors nodig het om hulle tot nuwe insig te beweeg. Die pastorale medium is die storie, met karakters waarmee hoorders kan
identifiseer. Die storie-medium verg
pastorale vertroue: in God, dat Hy self in en deur die storie in die ontvanger sal
werk. En in die ontvanger, dat hy/sy die storie nie eenkant sal weggooi of vir
ander, dalk gevaarlike, doeleindes gebruik nie. Dis in vele opsigte 'n risiko.
Maar wie dit nie wil waag nie, moet weer besef waar die priesterlike
versekering en die hamer van die profetiese woord sondaarmense gebring het.
'n Enkele
opmerking oor die wonderwerke in die Elia en Elisa-verhale (in ons
perikoop die genesing van Naäman en skielike melaatsheid van Gehasi): die rasionalisme van die middel twintigste
eeu het geredeneer dat moderne lesers/hoorders die vertelling van wonderwerke
ongeloofwaardig sal vind. Om dit rasioneel te oorbrug, en die verhale
aanneemlik te maak, is hierdie
literatuur getipeer as ‘legende’ – 'n verhaal wat nie noodwendig in al sy
elemente histories waar is nie, maar
waar sogenaamde ‘wonderwerke’ sou
plaasvind om daarmee die uitstaande eienskappe van persone/God te
beklemtoon. Myns insiens is dit
onvrugbaar om in die prediking die gedeelte te ’rasionaliseer’. Dis 'n debat wat op 'n ander vlak tuis
hoort.
Homiletiese oorwegings: Daar is volgens Hans Martin Müller
minstens drie wyses (wat mekaar nie uitsluit nie) waarop die teks toeganklik
gemaak kan word vir die gemeente:
narratiewe (verteltrant); diskursiewe (teologiese aksente word bespreek);
en dialogiese prediking (vanuit die Christelike geloof word 'n kritiese
tweegesprek met die verteller gevoer).
Sê nou
iemand vertel vir jou 'n sekere persoon wat vir jou te nagekom het, het dit
reggekry omdat die Here dié persoon
die mag daartoe gegee het … En daarna
verneem jy dieselfde ‘vyand’ is getref deur 'n dodelike, terminale
siekte…. Kom ons wees eerlik: maak nie saak met hoeveel simpatie jy die
nuus van jou opponent se ondergang aanhoor nie, hier diep binne sê jy vir jouself: lekker! Goed so!
Elke hond kry sy dag! Dis jou
verdiende loon! Nou kan jy ook vir 'n
slag voel hoe voel dit.
Maar wat
daarvan af jy so 'n ruk hierna hoor jy: hy het wonderbaarlike gesond
geword, en dien nou die Here! Dit behoort nogal gemengde gevoelens op te
roep. [brei uit] …
Dis wat die Israeliete moes aanhoor in die
storie wat ons gelees het: dat die Here eintlik self agter
die vyand gestaan het, en hom weer
genees het van sy dodelike siekte.
Naäman was, wat die Israeliete betref, 'n gehate man…. Maar ook 'n gesiene, gerespekteerde,
suksesvolle man. Jy durf nie sleg praat van hom nie. Sy siekte (en genesing!)
bring gemengde gevoelens na vore…
Ons moet
verstaan: die Israeliete vir wie die
storie bedoel was in die eerste plek, was op daardie stadium in ballingskap.
Dis 'n krisistyd, 'n transformasietyd.
Waartydens mense hulle terugtrek,
vasklem aan ou idees, maar net kan oorleef en 'n toekoms hê as hulle 'n
nuwe visie kry van God, hulleself en die ‘vyand’.
Die storie
van Naäman word vertel sodat die hoorders (op 'n sagte manier) gedwing word om
hulleself af te vra: Maar wie is die Here dan? Wie is die vyand eintlik? Wie is onsself?
Wie is die Here, die God van Israel?
Ons het dan al die tyd gedink ons ken Hom. Ons het van kleins af geleer ons is die Here se mense… deur die
tempeldiens, die priesters, die offers…. Dat Hy altyd vir ons sal wees, aan ons
kant – teen watter vyand ookal.
Maar toe
word ons sekerhede tot in hulle fondamente geskok, dié dag toe daar van die
tempel en van Jerusalem en van die offerdiens en die priesters van die Here
niks oorbly nie….Wie is die Here, die God van Israel? Is Hy nog die God van Israel?
Is Hy nog ons God? Is Hy nog
hoegenaamd?
Die verhaal
vertel: die Here is nog daar. Nie net tussen die Israeliete nie, ook by
ander mense, die opponente. Die Here
het nog mag, so groot dat ons dit nie kan beperk tot onsself en ons eie
voordeel nie. Die Here besluit hoe en
vir wie Hy sy mag wil aanwend. Hy self
besluit vir wie hy wil genees en wie Hy wil slaan met siekte. Ons kan nie vir Hom voorskryf nie.
Wie is die vyand eintlik? Wanneer dit onmoontlik geword het om iets
goeds te dink van jou opponente, jou
vyande, wanneer hulle vir jou 'n ding,
'n mag, begin word het, sê die Naäman
storie: die ou wat jy voel vir jou so
benadeel het, jou so sleg behandel het, wat jy meen verantwoordelik is vir jou
swaarkry: daardie vyand het 'n gesig,
is iemand, 'n mens, vir wie die res van die mense groot respek en agting het,
iemand wat baie meer sukses in die lewe behaal het as wat jy wil erken. Ja,
daardie mens is iemand wat die Here agter hom of haar het. Hoe verskriklik swaar dit vir jou in jou
swaarkry is om dit te vat. Die
vyand, jou vyand, is nie outomaties die
Here se vyand nie. Inteendeel, die Here het 'n baie spesiale plekkie vir
daardie mens; die Here se begeerte is
dat daardie mens, al is dit ook deur vernedering heen, vir Hom moet leer ken en
verheerlik. En as jy goed luister, sal
jy hoor: daardie man of vrou wat jy
gedink het die duiwel self is, is 'n boodskapper van die goeie nuus en 'n
belyer van hoe goed en magtig jou God is.
Wie is onsself? Wanneer die verteller kom by die klein
dogtertjie, en hy sê sy is 'n
Israeliet, 'n ontvoerde, 'n balling, dan voel die hoorders een met haar. Sy is (een van) ons – die Here se getuie uit
alle nasies, vir alle nasies! Maar dan
gaan die verhaal aan…. Die volgende identifikasie-figuur is die boodskapper van die profeet. Hoe
baie kere het ek nie vir ongelowiges gepreek nie/ vertel dat by die Here daar
reiniging is van siekte en sonde / onbekeerdes tot bekering geroep.
Dié
boodskapper van die profeet kry egter 'n naam:
Gehasi – wat ontevrede is om 'n onbelangrike boodskappertjie te bly /
die geleentheid raaksien om homself te verryk sonder dat iemand seerkry of te
nagekom word of daaroor hoef sleg te voel…. / nou ook 'n gesiene,
gerespekteerde, vermoënde man! En uiteindelik, met familie en al, melaats!
Die storie
is afgelewer. Die luisteraars kyk na mekaar.
En sien 'n gemeente… vol Gehasi's.
Wat voortdurend smag na grootheid en roem. Nie regtig tevrede is om vernederige diensknegte te bly nie. As die kans hom voordoen, hulle eie ding te
doen. Al weet hulle by voorbaat ons sal
die Here nie in die oë kan kyk nie.
Naskrif: Dis 'n storie van melaatses aan
melaatses. Maar iemand in die storie
het gesond geword… Want die God van Israel het sy vyande lief, sien hulle nood
raak…
Bibliografie
Vir agtergrond oor Konings:
The New American Commentary
vol 8, 1&2 Kings, 1995, introduction
Algemene bespreking
van teks: Von Rad, G: Old Testament
Theology II, 1960 (1965), 30-31;
Dozeman, T E: Preaching the Revised
Common Lectionary, Year C, after
pentecost 1, 1994, 63-65
Cousar / Gaventa / McCann / Newsome,
Texts for Preaching.. Year
C, 1994, 412-414
Preke of preeksketse: Von Rad, G: Predigtmeditationen, 1973, 50-53; Flesseman-van Leer, E: Pastoraltheologie Gottinger Predigtmeditationen vol 70, 1981,
95-98; Müller, H M / Goldbach, G: Predigtstudien
IV, 1981-82, 105-109; Velema, W H: Met het Woord aan het werk, 1984,
13-18