2 Konings 5:1 – 3; 7 – 15 (Wynand Retief)

14 Oktober 2001

Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste: Psalm 98:1-4;  2 Timoteus 2:8-13;  Lukas 17:11-19

God praat deur 'n storie met sy mense oor hulle vyande, oor Homself en oor hulleself in 'n tyd dat die ou sekerhede en reguit preke nie meer werk nie.

Teks

Perikoopafbakening:  Die lectionary neem vers 1-14 as teks. Naäman se belydenis oor Jahwe en sy voorneme om Hom te dien (15-19), is egter die (teo-)logiese gevolg, die skopus van die boodskap. Eintlik is 1-27 een verhaal; 19b-27 (die Gehasi -gedeelte) is die ‘donker kontrasparallel’ (von Rad) van die Naäman-verhaal, en behoort minstens kortliks in die prediking bygehaal te word.  Daarom sal die teks van die hele hoofstuk 5 bekyk word.

Vers 1-3:   Naäman is die lieflike, aangename, vriendelike (vr. Naomi  Rut 1:2). Die naam is uitdrukking van die karakter.  Gibbor hayil staan op een lyn met isj gadol en nesu panim, en beteken in feite dieselfde, naamlik 'n voortreflike, gesiene man. In vers 1 word dus drie maal beklemtoon dat Naäman ‘groot’ is.  [In kontras tot die ‘klein dogtertjie’ (ne'arah qetanah) uit Israel, en later sy dienaars (vers 13)].

Dis jammer die NAV het die redegewende ‘ki’ (want…) weg vertaal.  Die rede vir Naäman se posisie van aansien is naamlik Jahwe, wat hom as instrument gebruik het om aan Aram die oorwinning te gee. Die oorwinning kan versus Israel wees, sou vers 2 verstaan word as sou Aram in 'n staat van oorlog teen Israel wees.  Ander dink aan die Aramese oorwinning oor die Assiriërs by die slag van Karkar in 854v.C. en meen nie vers 2 bedoel dat daar 'n Aramees-Israelse oorlog aan die gang was nie, bloot ongedissiplineerde ‘desperado's’ (terreurbendes). 

Vir die Joodse lesers/hoorders moes dit opvallend wees dat die God van Israel aan 'n vreemde mag die oorwinning gee.  Die belydenisgrondslag is:  Daar is geen ander God nie, behalwe die Here… (Deut 6:4). Die implikasie en boodskap vir die Joodse luisteraars in ballingskap:  dis die Here wat vyandige volke gebruik om sy volk te straf en/of die Here het die beheer oor alle oorloë, ook groot internasionale botsings. Al mag mense dink Hy het geabdikeer of bestaan nie (meer) nie, Hy is nog steeds in beheer    van alle volkere en alle mense.  En Hy maak Homself ook aan ‘heidene’,  aan die ‘vyand’ bekend.  Sodat Naäman, na afloop van sy genesing, bely daar is geen God op die hele aarde nie, behalwe Jahwe (vers 15b).

Naäman se ‘melaatsheid’ (tsar'at) kon enige soort velsiekte wees.  Die feit dat hy in die samelewing gebly het, laat dink dat dit nie aansteeklik was nie, of in 'n beginstadium.

Die onbekende jong meisie uit Israel wat in Naäman se huis vir sy vrou diens doen,  is 'n balling.  Die eerste lesers (sien konteks) sou met haar kon identifiseer.  Ten spyte van haar gevangenskap is sy nie bitter of onbehulpsaam nie, maar deel mee wat sy van die Here en die profeet weet in belang van Naäman en haar meesteres. 

Hierdie dogtertjie is 'n sleutelfiguur in die verloop van die verhaal.  So ook Naäman se dienaars.  Hulle is die ‘klein’ mensies in teenstelling tot die ‘grotes’ (Naäman, maar ook die konings van Aram en Israel).   Sonder dat die Here se naam genoem word, word vertel dat Hy (so in die verloop van dinge) mense gebruik wat in die samelewing nederige plekke beklee.  Was dit nie vir die dogtertjie en die slawe nie, sou die groot man, Naäman, nie gesond geword het nie. [Die kontras tussen ‘klein dogtertjie’/’dienaars’ en die ‘groot/magtige’ Naäman (vers 1) is opvallend.]   Meer nog:  as dit nie vir die klein mensies was nie,  sou die magtige Naäman nie die profeet in Samaria en bowenal die Wêreldheerser agter die profeet,  leer ken het nie.   Deur die woorde en optrede van die Israelitiese dogtertjie en sy eie slawe moes Naäman leer dat Jahwe eenvoudige mense gebruik en op verstommende eenvoudige maniere werk. So anders as wat hy verwag het (vers 11).  Dit het egter ook van sy kant af vernedering gekos [die bewoording in vers 14 dat Naäman ‘afgegaan’ het (jrd) na/in die Jordaan, is opsetlik so gestel, tekenend van Naäman se vernederende gehoorsaamheid.]

Vers 4-7:  Die etiket van die tyd het voorgeskryf dat konings nie versoeke rig aan profete in 'n buurland (wat as 'n ondergeskikte beskou word) nie, maar aan sy gelyke,  die koning.  Dus tree die koning van Aram diplomaties korrek op.  Die verloop van die storie laat egter blyk dat die koning/s se optrede onbeholpe en potensieel plofbaar is omdat die koning van Israel dit as 'n politieke set beskou.  Die saak op die tafel is te groot vir die konings om te hanteer.  Ironies genoeg, is dit juis hulle posisie van aansien wat 'n dilemma skep – waaruit die profeet hulle moet uithelp! 

Die woorde van die koning van Israel is op sigself egter 'n geloofsbelydenis (al mag dit ook geyk wees):  Dis Jahwe alleen wat mag het oor lewe en dood, nie die koning of profeet of watter mens ook al nie.  Naäman sal hierdie God moet ontmoet voordat hy genees kan word.

Die name van die konings van Aram en Israel word nie genoem nie. Heel moontlik is hulle Ben-Hadad II en Joram, seun van Agab.  Die punt is egter: die konings is naamloos, in werklikheid dus onbelangrik. Hulle verdwyn van die toneel wanneer Elisa oorneem.

Vers 8-14   Naäman sou nie net weet dat daar 'n profeet in Israel is nie, maar ook die God van die profeet leer ken. Wanneer hy by Elisa se huis aankom,  bly Elisa uit die oog.  Naäman kry net 'n profetiese woord van 'n boodskapper wat hy moet gehoorsaam.  Hoe reg Elisa was om nie persoonlik tussenbeide te tree nie, word duidelik uit Naäman se reaksie:  Naäman het 'n demonstrasie van ‘toorkrag’ voor sy oë verwag, 'n magiese handeling, wat hom gehoorsaamheid aan die profetiese gebod sou spaar.  Op hierdie wyse wys die profeet weg van homself en onderskei hom daardeur van alle wonderwerkers wat Naäman tot sover geken het. Die genesing in die Jordaan sou slegs as die werk van die God van Israel gesien kon word vir diegene wat sy bevele (deur sy profeet) gehoorsaam.  Die gesag van die Goddelike woord berus nie op die persoonlikheid van die profeet nie, maar diegene wat daaraan gehoor gee, beleef die beloftes daarvan. 

Naäman vererg hom eers vir hierdie woord.  Die helder waters van die riviere van Sirië is baie aantrekliker as die Jordaan se modderwatertjies.  Sy persoonlike slawe haal hom egter met wysheid oor om die geringe te doen.  Wanneer Naäman homself verneder (die woorde ‘afgaan na die Jordaan’ is tekenend van vernedering), ervaar hy die lewendmakend krag van die woord, ja, van Jahwe self.

Vers 15-19a  Naäman se belydenis van geloof in Jahwe as die enigste God,  is onmiskenbaar die hoogtepunt van die vertelling.  Dit is Israel se klassieke belydenis (vgl. Deut 6:4), wat hulle gedurende die koningstyd verloën het.  Hierdie belydenis uit die mond van 'n ‘ongelowige’ is 'n oordeel oor Israel wat gode begin aanhang het wat nie kan genees nie.  Jesus maak hierdie punt wanneer Hy die mense van Nasaret bestraf (Luk 4:23-30). 

Naäman se bekering kom tot uitdrukking in sy verbintenis om dankbaar die Here te dien.  Hy probeer dit eers doen deur geskenke vir Elisa aan te bied.  Elisa weier dit, in skerp kontras met die gebruik dat profete vir hulle diens beloon (moet) word (sien bv. 1 Sam 9:7v, I Kon 14:3; 2 Kon 4:42 ens.). Hoekom hierdie weiering? – Dit kan wees omdat hy nie deur geld aan die koning van Damaskus gebonde wou wees, en so die skyn van sameswering wou dra nie.  Of dalk omdat hy nie eer wil ontvang vir 'n wonder wat deur Jahwe gedoen is nie.  Of miskien omdat Naäman moes leer dat God nie sy heil verkoop nie, en ons dit alleen as geskenk kan ontvang (Velema, met verwysing na Jes 55:1).   Daar is 'n vierde moontlikheid (Fricke, BAT):  Naäman is verplig om voortaan die Here te aanbid in sy eie land.  Hy kan homself nie met silwer en goud vrykoop van hierdie verpligting nie.  Dat hy dit as Elisa se bedoeling verstaan het,  is duidelik wanneer hy direk hierna twee versoeke/bede rig tot Elisa:

1. Hy vra grond waarop hy Jahwe wil aanbid in sy eie land.  Hierdie was 'n redelik algemene praktyk van die dag.  Hy besef dat hy die God van Israel aanbid, en dat die land die Here se gawe aan sy mense is.  Die grond het sakramentele waarde: dit gee geborgenheid aan sy geloof, en dien as isolasie teen die indringing van die heidendom/profane.

2. Naäman vra by voorbaat verskoning/vergifnis vir die geleenthede waar hy uit die aard van sy amp voor Rimmon moet buig.  Rimmon is dieselfde as Hadad (in Sag 12:11 Hadad-Rimmon), die god van weerlig, donder en reën. (Later die Griekse Zeus, dus 'n Siriese variant van Baal.)  Elisa gee nie 'n Ja of Nee antwoord nie.  Met ander woorde die oortreding van die eerste gebod word nie gekondoneer nie.  Naäman word ook nie wetties behandel nie.  Elisa ontwyk ook nie die vraag(stuk) nie, maar benader dit pastoraal.  Hy spreek die vredesgroet uit oor Naäman.  Dis meer as net 'n vriendelike afskeidswoord (soos wat die NAV vertaal);  dis die seënwens van God se gerusstellende teenwoordigheid.  Elisa stuur Naäman terug na die wêreld waar die God van Israel nie erken word nie, met die versekering van dié God se persoonlike teenwoordigheid.

Vers 19b-27    Gehasi se inhaligheid en opportunisme is in kontras met die gulhartigheid van Naäman en die beginselvastheid van Elisa.  Gehasi kry dit reg om die naiewe Naäman se arm te draai en dubbeld soveel te kry as wat hy gevra het  (twee talente silwer is dieselfde bedrag as waarvoor Omri die berg gekoop het waarop hy Samaria gebou het,  1 Kon 16:24).  Von Rad (1973) merk egter op:  Gehasi is geen booswig nie, maar hy kan die versoeking nie weerstaan nie; hy wil ook eenmaal voor die wêreld groot en ryk wees, alhoewel hy heeltemal goed weet dat hy sy meester nie so in die oë kan kyk nie.  So, merk von Rad op, is die kerk wat probeer om so 'n dubbele lewe te lei, en tog goed weet dat sy nie haar Heer in die oë kan kyk nie.

Gehasi loop hom egter vas in 'n nugtere en heldersiende Elisa.  Die profeet het Naäman se geskenke afgewys om te beklemtoon dat die Here sy genesing bewerk het, en nie Elia nie.  Gehasi se optrede, en sy leuen daaroor, neem die eer van God af weg, en is 'n poging om sonder God homself te verryk en te red.  Daarom die harde oordeel oor Gehasi en sy nageslag.

Op hierdie tragiese, maar oop noot, eindig die verhaal.  Dis vir die lesers/hoorders om te identifiseer met een of meer van die karakters. 

Genre (literatuursoort)   Hierdie gedeelte is 'n voorbeeld van goeie verhaalkuns. Van al die Elisa-verhale is hierdie die ingewikkeldste wat intrige (‘plot’) en karakters betref.  Die intrige funksioneer op verskeie vlakke, en daar is nie minder nie as tien karakters of groepe op die spel wat met mekaar in interaksie is – te veel om in een preek op uit te brei.  Dit is al getipeer as historiese of teologiese, of beter nog: profetiese narratief ( New American Commentary, 1995).   Die outeur van 1 en 2 Konings bemerk hoe al die lyne wat getrek is in Deuteronomium 27-28 waar word, en wys hoe die profetiese uitsprake gestalte kry.

Konteks

Funksie binne die kanon:  Konings was in die Masoretiese teks deel van die vroeë profete (Josua, Rigters, Sam, Konings). Vandag bekend as die Deuteronomistiese geskiedskywing (gegrond op Deut).  Die veronderstelde lesers/hoorders is die Jode in ballingskap.  Die vraag "Hoekom is ons hier in ballingskap?" word profeties beantwoord.  Die skrywer lig sy lesers bo die tydsomstandighede uit;  hulle moet 'n keuse maak:  die onheilsgeskiedenis voortsit deur Israel na te doen in hulle sonde, of daardie soort lewe vermy.     2 Konings 5 staan sentraal in die Elisa-verhale (2 Kon 3-8), asook binne die Koningsboeke.

Teologiese aksente   Jahwe, die God van Israel, is die oppermagtige.  Hy verhoog en verneder.  Hy gebruik op 'n verstommende (eenvoudige) manier,  nederige en magtelose mense.  So totaal anders as wat (magtige) mense dink.  Inderwaarheid is die sogenaamde magtiges magteloos, onbeholpe en bevrees.  [Daarvan is die melaatse Naäman,  en die (naamlose!) konings van Aram en Israel toonbeelde – ook in die voorafgaande en opvolgende verhale in 2 Kon 3-8.]  Hierdie is natuurlik 'n kragtige troosboodskap vir uitgelewerde ballinge, maar ook 'n waarskuwing aan hulle wat nog op eie aansien en mag vertrou.  [19b-27 – die Gehasi-episode – versterk hierdie punt.]

Die klein dogtertjie uit Israel is, volgens die Hebreeuse teks ‘voor die aangesig van’ (lifné) die vrou van Naäman.  Lifné, veral in kombinasie met ‘amad’ (staan),  is 'n teken van respek, selfs aanbidding.  Later in die verhaal gaan staan Naäman voor die aangesig van Elisa (verteenwoordiger van Jahwe) wanneer hy bely die Here is die enige God (vers 15), en sweer Elisa 'n eed in die naam van Jahwe ‘voor wie se aangesig ek staan’ (vers 16).  Die storie beweeg die luisteraars/lesers daartoe om te besef dat hulle voor die aangesig van die Here staan.  En Hom alleen moet vertrou vir die toekoms.  Wie dit nie doen nie,  sal weliswaar agterkom dat hulle – melaats! – voor die Here staan.

Doel:  om vir mense wat probleme gekry het met God,  nuwe insig te gee in wie en hoe die God van Israel nou eintlik is,  en die feit te beklemtoon dat almal in elk geval bewus of onbewus voor hierdie God staan, in hulle siekte- en sondenood.  Die belangrike Een is Jahwe, en nie een van die menslike karakters nie.  In die verloop van die verhaal verdwyn hulle almal van die toneel:  die jong dogtertjie, die konings, Naäman se vrou, sy slawe,  Elisa wat nie uitkom nie,  Naäman self vanaf 19b,  Gehasi en sy hele nageslag.   

Hoekom 'n storie?  Om dit te beantwoord, moet ons vra: Aan wie presies vertel hy dit?  Aan mense in ballingskap met eeue se priesterlike versekering agter hulle dat hulle in 'n ewige verbond met die Here staan. Maar ook dekades se profetiese waarskuwing dat as hulle nie die verbond nakom nie, die Here se vloek hulle sal tref. Die profete het reguit gepraat: "So sê die Here!" Dit het egter aanstoot gegee, want die selfversekering (en arrogansie!) was te sterk.  Maar toe word die vuur wat die arrogansie gestook het, in een slag doodgegooi. Tempel, Godstad, offerdiens, priesters, die koningshuis, alles wat sê dat ons God aan ons kant het, verdwyn ineens.  Sielkundig val die meeste mense egter in krisistye juis terug op ou gevestigde patrone en sekerhede, ongeag of daardie ‘sekerhede’ vals was en die oorsaak van die krisis. So 'n sielkundige terugval, skep uiteraard 'n geweldige identiteitskrisis. Daar moet nuwe antwoorde gekry word op die vraag Wie is ons/ek?  En: wie is God?  (en, belangrik:  Wie is die vyand?)   Dit is 'n baie delikate tydperk,  waarvoor mense pastors nodig het om hulle tot nuwe insig te beweeg.  Die pastorale medium is die storie,  met karakters waarmee hoorders kan identifiseer.  Die storie-medium verg pastorale vertroue: in God, dat Hy self in en deur die storie in die ontvanger sal werk. En in die ontvanger, dat hy/sy die storie nie eenkant sal weggooi of vir ander, dalk gevaarlike, doeleindes gebruik nie. Dis in vele opsigte 'n risiko. Maar wie dit nie wil waag nie, moet weer besef waar die priesterlike versekering en die hamer van die profetiese woord sondaarmense gebring het.

'n Enkele opmerking oor die wonderwerke in die Elia en Elisa-verhale (in ons perikoop die genesing van Naäman en skielike melaatsheid van Gehasi):  die rasionalisme van die middel twintigste eeu het geredeneer dat moderne lesers/hoorders die vertelling van wonderwerke ongeloofwaardig sal vind. Om dit rasioneel te oorbrug, en die verhale aanneemlik te maak,  is hierdie literatuur getipeer as ‘legende’ – 'n verhaal wat nie noodwendig in al sy elemente histories waar is nie,  maar waar  sogenaamde ‘wonderwerke’ sou plaasvind om daarmee die uitstaande eienskappe van persone/God te beklemtoon.  Myns insiens is dit onvrugbaar om in die prediking die gedeelte te ’rasionaliseer’.  Dis 'n debat wat op 'n ander vlak tuis hoort.

Homiletiese oorwegings:    Daar is volgens Hans Martin Müller minstens drie wyses (wat mekaar nie uitsluit nie) waarop die teks toeganklik gemaak kan word vir die gemeente:  narratiewe (verteltrant); diskursiewe (teologiese aksente word bespreek); en dialogiese prediking (vanuit die Christelike geloof word 'n kritiese tweegesprek met die verteller gevoer). 

Preekvoorstel

Sê nou iemand vertel vir jou 'n sekere persoon wat vir jou te nagekom het, het dit reggekry omdat die Here dié persoon die mag daartoe gegee het …  En daarna verneem jy dieselfde ‘vyand’ is getref deur 'n dodelike, terminale siekte….   Kom ons wees eerlik:  maak nie saak met hoeveel simpatie jy die nuus van jou opponent se ondergang aanhoor nie,  hier diep binne sê jy vir jouself: lekker!  Goed so!  Elke hond kry sy dag!  Dis jou verdiende loon!  Nou kan jy ook vir 'n slag voel hoe voel dit.

Maar wat daarvan af jy so 'n ruk hierna hoor jy: hy het wonderbaarlike gesond geword,  en dien nou die Here!   Dit behoort nogal gemengde gevoelens op te roep.  [brei uit] …

Dis wat die Israeliete moes aanhoor in die storie wat ons gelees het:  dat die Here eintlik self agter die vyand gestaan het,  en hom weer genees het van sy dodelike siekte.  Naäman was, wat die Israeliete betref, 'n gehate man….   Maar ook 'n gesiene, gerespekteerde, suksesvolle man. Jy durf nie sleg praat van hom nie.   Sy siekte (en genesing!)  bring gemengde gevoelens na vore…

Ons moet verstaan:  die Israeliete vir wie die storie bedoel was in die eerste plek, was op daardie stadium in ballingskap. Dis 'n krisistyd, 'n transformasietyd.  Waartydens mense hulle terugtrek,  vasklem aan ou idees, maar net kan oorleef en 'n toekoms hê as hulle 'n nuwe visie kry van God, hulleself en die ‘vyand’.

Die storie van Naäman word vertel sodat die hoorders (op 'n sagte manier) gedwing word om hulleself af te vra:  Maar wie is die Here dan?  Wie is die vyand eintlik?  Wie is onsself?

Wie is die Here, die God van Israel?   Ons het dan al die tyd gedink ons ken Hom.  Ons het van kleins af geleer ons is die Here se mense… deur die tempeldiens, die priesters, die offers…. Dat Hy altyd vir ons sal wees, aan ons kant – teen watter vyand ookal. 

Maar toe word ons sekerhede tot in hulle fondamente geskok, dié dag toe daar van die tempel en van Jerusalem en van die offerdiens en die priesters van die Here niks oorbly nie….Wie is die Here, die God van Israel?  Is Hy nog die God van Israel?  Is Hy nog ons God?  Is Hy nog hoegenaamd?

Die verhaal vertel:  die Here is nog daar.  Nie net tussen die Israeliete nie, ook by ander mense, die opponente.  Die Here het nog mag, so groot dat ons dit nie kan beperk tot onsself en ons eie voordeel nie.  Die Here besluit hoe en vir wie Hy sy mag wil aanwend.  Hy self besluit vir wie hy wil genees en wie Hy wil slaan met siekte.  Ons kan nie vir Hom voorskryf nie. 

Wie is die vyand eintlik?   Wanneer dit onmoontlik geword het om iets goeds te dink van jou opponente,  jou vyande,  wanneer hulle vir jou 'n ding, 'n mag, begin word het,  sê die Naäman storie:  die ou wat jy voel vir jou so benadeel het, jou so sleg behandel het, wat jy meen verantwoordelik is vir jou swaarkry:  daardie vyand het 'n gesig, is iemand, 'n mens, vir wie die res van die mense groot respek en agting het, iemand wat baie meer sukses in die lewe behaal het as wat jy wil erken.  Ja,  daardie mens is iemand wat die Here agter hom of haar het.  Hoe verskriklik swaar dit vir jou in jou swaarkry is om dit te vat.  Die vyand,  jou vyand, is nie outomaties die Here se vyand nie.  Inteendeel,  die Here het 'n baie spesiale plekkie vir daardie mens;  die Here se begeerte is dat daardie mens, al is dit ook deur vernedering heen, vir Hom moet leer ken en verheerlik.  En as jy goed luister, sal jy hoor:  daardie man of vrou wat jy gedink het die duiwel self is, is 'n boodskapper van die goeie nuus en 'n belyer van hoe goed en magtig jou God is.

Wie is onsself?   Wanneer die verteller kom by die klein dogtertjie,  en hy sê sy is 'n Israeliet, 'n ontvoerde, 'n balling, dan voel die hoorders een met haar.  Sy is (een van) ons – die Here se getuie uit alle nasies, vir alle nasies!   Maar dan gaan die verhaal aan…. Die volgende identifikasie-figuur is die boodskapper van die profeet. Hoe baie kere het ek nie vir ongelowiges gepreek nie/ vertel dat by die Here daar reiniging is van siekte en sonde / onbekeerdes tot bekering geroep.

Dié boodskapper van die profeet kry egter 'n naam:  Gehasi – wat ontevrede is om 'n onbelangrike boodskappertjie te bly / die geleentheid raaksien om homself te verryk sonder dat iemand seerkry of te nagekom word of daaroor hoef sleg te voel…. / nou ook 'n gesiene, gerespekteerde, vermoënde man! En uiteindelik, met familie en al,  melaats!

Die storie is afgelewer. Die luisteraars kyk na mekaar.  En sien 'n gemeente… vol Gehasi's.  Wat voortdurend smag na grootheid en roem.  Nie regtig tevrede is om vernederige diensknegte te bly nie.  As die kans hom voordoen, hulle eie ding te doen.  Al weet hulle by voorbaat ons sal die Here nie in die oë kan kyk nie. 

Naskrif:  Dis 'n storie van melaatses aan melaatses.  Maar iemand in die storie het gesond geword… Want die God van Israel het sy vyande lief, sien hulle nood raak…

 

Bibliografie

Vir agtergrond oor Konings:  The New American Commentary vol 8, 1&2 Kings,  1995,  introduction

Algemene bespreking van teks:  Von Rad, G: Old Testament Theology II, 1960 (1965), 30-31;
Dozeman, T E:  Preaching the Revised Common Lectionary,  Year C, after pentecost 1, 1994, 63-65
Cousar / Gaventa / McCann / Newsome,  Texts for Preaching..  Year C,  1994,  412-414

Preke of preeksketse: Von Rad, G: Predigtmeditationen, 1973, 50-53; Flesseman-van Leer, E: Pastoraltheologie Gottinger Predigtmeditationen vol 70, 1981, 95-98;  Müller, H M / Goldbach, G:  Predigtstudien IV, 1981-82,  105-109;  Velema, W H:  Met het Woord aan het werk,  1984,  13-18