10 Augustus 2003

Agtste Sondag in Koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: 2 Samuel 18:5 - 33

Ander tekste: Psalm 130; Efesiërs 4:25 - 5:2; Johannes 6:35 51

INLEIDING

Saam met die vorige twee Sondae se fokustekste vorm hierdie teks een verhaal. Die liturgiese voorstelle sluit `n kort reeks af wat daarop gemik was om die eenheid van hierdie drie Sondae te onderstreep. Die onderwerp van vandag se fokusteks is die gevolge van Dawid se sonde. (Sien die preekvoorstel.)

Die keuse van Psalm 130 as newe-teks in die leesrooster dui daarop dat die liturgie die hoop op die Here se genade wil beklemtoon. Nie net verlossing van sonde nie maar ook verlossing van die gevolge van sonde kom alleen deur die genade en goedheid van die Here. Ons kan ook nie die kwade gevolge van sonde hanteer sonder geloof in God se genade nie. Op sy genade, wat die kwaad ten goede kan keer, bly ons wag.

Lees weer die opmerkings by 27 Julie oor die ander tekste. Efesiërs 4 volg op die vorige Sondag se voorlesing uit dié boek. Nou maan die Here die gemeente om `n lewenswyse te volg wat tot onderlinge opbou (vgl 4:12-13) dien en tot eer van God strek (4:24). Dié gedeelte vervul liturgies dieselfde funksie as die tien gebooie en kan daarom kort voor die uitsending gelees word. Johannes 6 vorm deel van die nagmaal of nagmaalsherinnering.

Liturgiese voorstel

Volg die voorstelle in die basisliturgie. Die volgende dien as verryking of as variasies ter wille van die boodskap van hierdie Sondag.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Aanvangslied / Drumpelgebed

"Stuur nou u lig Lied 272". Dit kan ook deur 'n solis gesing word. Of: "Buig nou voor die Heer, en sing" NSG 16 (Sien ook vorige 2 Sondae.)

Vredesgroet

Indien die nagmaal gevier word, skuif die vredesgroet daarheen.

Sang

"Jesus, U die lewe". Lied 496:1, 2. `n Toenaderingslied.

Geloofsbelydenis

Apostoliese Geloofsbelydenis

Indien daar wel gedoop word, verskuif dit na net voor die doopbediening; indien nagmaal gevier word, skuif dit daarna toe. Dit word gevolg met:

Voorganger: Ons glo. Ons bely dit. En tog maak ons soveel verkeerde keuses. As die gevolge van

ons verkeerde keuses ons agterhaal, is dit dan God wat ons ons verdiende loon gee / wat ons straf vir ons foute? Hoe voel jy oor só 'n stelling? (Laat die gemeente in stilte hieroor nadink)

Voorlesing: Ek weet dat ek in die ongeluk sal bly

as ek nie verander nie

en dat ek my nie kan verander nie.

Dit is die rede vir my ellende.

Ek weet dat ek my moet oorwin

en dat ek nie kan nie,

al probeer ek so baie kere.

Oorwin U my, God en Here,

verander U my.

As U u hand uitstrek

om my van myself te bevry

sal ek my graag aanvaar soos ek is

en nie in u pad kom nie.

Ek wil my stil hou terwyl U met my werk.

Want ek weet: ek self is die hindernis

wat deur U oorwin moet word.

Skenk my u liefde

dat ek myself ook kan liefhê.

'n Armsalige, deurmekaar, verskeurde wêreld

is my lewensruimte. Ek wil dit aanneem.

U omskeppingskrag sal my krag wees,

u erbarming my rykdom.

Stuur u Heilige Gees

en verander my. Oormeester my.

Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.

('n gebed van Jörg Zink: Ek weet dat ek in die ongeluk sal bly...)

 

diens van die WOORD

Gebed vir die opening van die Woord

Ons hemelse Vader, dankie vir alles wat ons nader aan U bring.

Dankie vir hierdie dag waarop U ons die geleentheid gee om te ontsnap aan die week se roetine.

Help ons vandag in U rus vind.

Dankie vir die Bybel, vir die uiteensetting van hoe U met u kinders omgaan.

Dankie vir u Woord wat ons troos en bemoedig.

Dankie dat U ons ook nou 'n oop hart en verstand gee, sodat ons die kosbare gawes wat U graag aan ons gee, met vreugde en dankbaarheid kan ontvang. Amen

Voor die Skriflesing

Die verhaal van Absalom se opstand en dood en Dawid se rou, is waarskynlik ook bekend genoeg om weer soos die vorige 2 Sondae die verhaal deur die kinders/gemeente in herinnering te laat roep en te laat oorvertel, voordat dit gelees word. Vra weer leidende vrae om die proses aan te help.

Skriflesing

2 Samuel 18:5 - 33

Kindertyd

Wat is die ergste ding wat jy al ooit gedoen het, wat jou pa of ma verskriklik seergemaak / teleurgestel het? (Laat die kinders nadink, maar moenie hulle laat antwoord nie.) Hoe het jy gevoel toe jy besef jy het jou ouers só seergemaak / teleurgestel? (Laat iemand antwoord, as daar van die kinders is wat wil regeer.) Het jou ouers toe opgehou om vir jou lief te wees? (Natuurlik nie!) Vandag se verhaal uit 2 Samuel is 'n baie hartseer verhaal. Van 'n seun wat teen sy pa in opstand gekom het en hom wou doodmaak, van die pa se groot ontnugtering. Maar ook van die pa se verskriklike hartseer toe sy opstandige seun sterf. Wat, dink julle, kan ons uit hierdie verhaal leer? Laat die kinders antwoorde gee. Dalk kan ouers en kinders of mense wat bymekaar sit, gou eers kans gegee word om hieroor te gesels. Dit laat die gemeente solank self oor die boodskap nadink, en dalk kan die prediker selfs in die preek daarby aansluit.

Antwoord op prediking

Lees of sing Psalm 130

Diens van die TAFEL

By die nagmaalstafel waarop die brood en die wyn sigbaar is al word die nagmaal nie gevier nie.

Lees

Johannes 6:35 51

Lied

Sien voorstel en motivering by Sondag 27 Julie.

UITSENDING

Lees

Efesiërs 4:25 - 5:2

Sang

"Here God van Liefde"Lied 286

 

PREEKSTUDIE 2 SAMUEL 18:5-9; 15; 31-33

Inleiding

Dawid se ongehoorsaamheid tydens die Batseba-episode, het rampspoedige gevolge vir sy koningshuis gehad (2 Sam 9-20). Dié verhale bied ook die verklaring waarom Salomo uiteindelik die troonopvolger word (1 Kon 1). Die blote bestaan van Mefiboset, kleinseun van Saul, vorm n potensiële gevaar vir die voortbestaan van Dawid se koningshuis (2 Sam 9). Omraam met berigte van die oorlog teen die Ammoniete (2 Sam 10-11:1; 12:26-31), word Dawid se egbreuk met Batseba en die moord op Uria beskryf (2 Sam 11:2-12:25). Natan kondig Dawid se straf aan, in teenstelling met die seën in 2 Samuel 7. Die straf ("Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie") vind in die daaropvolgende verhale weerklank. Dawid en Batseba se eerste kind sterf weens sy ouers se ongehoorsaamheid (2 Sam 12:14-18). Amnon is die volgende seun van Dawid. Hy word na die ontering van sy suster vermoor (2 Sam 13). En Absalom, Dawid se lieflingseun, kom teen sy vader in opstand en sterf (2 Sam 14-19). Binne dié deel is ons teksgedeelte geplaas. Seba laat n rebellie teen Dawid ontketen (2 Sam 20).

Makro- en Mikrostruktuur

Vir die plek wat 2 Samuel 18 inneem in die groter geheel van 1 en 2 Samuel moet gekyk word na die inleidende opmerkings oor Samuel.

Belangrike motiewe in 2 Samuel 18

Twee persone (eintlik drie, as Joab bygetel sou word) speel hier die hoofrolle. Oor Dawid is daar reeds by die inleidende opmerkings oor 1 en 2 Samuel iets gesê. Ons fokus nou op Absalom.

Absalom

Ouers verlang dat hulle kinders beter sal wees as wat hulle self was. As die kinders maar net finansieel beter daaraan toe is, n beter opleiding kan geniet, minder foute sal maak, gelukkiger sal wees. Maar kinders volg nie noodwendig die woorde van die ouers nie, maar eerder die voorbeeld. Dit is waarom ouers so gou bepaalde foute in hulle kinders raaksien hulle herken hulle eie foute wat maar net in hulle kinders voortgeplant word.

Dawid moes met n skok agterkom dat dit ook waar was van hom en Absalom. Hierdie seun was n gebore koning, aan beide vaderskant en moederskant. Hy het die voorkoms en takt besit wat mense beïndruk het. Hy het die durf gehad om dinge aan te pak en deur te voer. Maar hy het ook sommige van Dawid se tekortkominge gehad. Soos Dawid "gryp" hy wat nie aan hom behoort het nie, sy eie pa se koninkryk en byvroue. Daarvoor sou hy uiteindelik met sy lewe betaal.

Moet die gelowige ouer hom dan maar berus in die feit dat van sy foute op sy kinders oorgedra sal word? Nie noodwendig nie. Die foute behoort ouers meer te inspireer om hul kinders te leer hoe om hul foute te hanteer. Die kind moet geleer word dat alle mense foute het (Rom 3:23, 5:12) en dat dit die rede is waarom God se Seun moes kom om ons te verander (Luk 19:10); dat ons foute ons juis na God toe dryf vir herstel en nuutmaak (Ps 145:14), en nie weg van God af nie; dat die herstel en heelmaak deur die werking van God se Gees geskied in die lewe van die mens. Daardeur word die vrug van die Gees in n mens se lewe ingedra.

Ouerskap en koningskap

Dawid se lewe word gekenmerk deur die spanning tussen ouerskap en koningskap. Hoe rym n mens dié twee verantwoordelikhede? Aan die begin was Dawid n baie suksesvolle koning. Dit word uitgebeeld deur sy militêre en administratiewe bekwaamhede. Gedurende die volgende fase van sy regering was daar soveel ontevredenheid met sy bewind dat eers sy seun, en later die Benjaminiet Seba, genoeg steun vir n opstand teen hom kon monster. "Waarom?"

Die Bybel het n bepaalde antwoord daarvoor, naamlik dat dit saamhang met sy mislukking as eggenoot en vader. Daarom word hierdie mislukkings so prominent tydens die toppunt van sy mag, en voor die begin van die afname daarvan, geplaas. Anders gestel, sy mislukkings as eggenoot en vader het gelei tot sy mislukking as koning. Binne die vraagstelling van die verhouding tussen gesinsgerigtheid en werksgerigtheid, waarsku die Bybel dus dat beroepsukses op die vaste fondament van gesinsukses moet staan. Mislukkings en ongelukkigheid in die huis, het nadelige gevolge vir die beroepslewe. Daarom is die prioriteit die huis, nie die werk nie.

Die vraag kan voorts gestel word: "Waar lê Dawid se mislukking in sy huis?" n Mens sou dit kon saamvat as onbeslistheid met die opvoeding van sy kinders. Tog is dit nie so eenvoudig nie, want dit gaan nie net om die foute wat met die opvoeding van kinders gemaak word nie dit doen alle mense. Die Bybel sê dat die probleme met sy kinders voortgevloei het uit die probleme in sy huwelikslewe en die gevolge daarvan. Daarom word die owerspel met Batseba op die strategiese plek tussen Dawid se groot oorwinnings geplaas. Wat in die huwelik gebeur, affekteer die hele gesin, en dit affekteer weer jou beroep en jou hele menswees.

Teks en konteks

Die algemene weergawe van die oorlog begin met die ontplooiing van die troepe (v 1-2) en eindig met die afloop daarvan (v 6-8). Twee sake staan wat belangrik is vir ons verstaan van die gedeelte, staan op die voorgrond:

Die vraag oor Dawid se eie rol in die oorlog (v 3-4). Dawid wou saamgaan (v 2), maar word oortuig om te bly (v 3). Dawid vertrou die oordeel van sy manskappe en is dus afwesig toe Absalom sterf. Party uitleggers reken Dawid se afwesigheid van die oorlog, is n verdere bewys van sy gretigheid vir selfverryking. Ek verskil van dié standpunt en steun eerder op Brueggemann wat sê: "Vers 2-4 getuig van n hoë koningskap ideologie, onder Dawid se lojale volgelinge, maar wat Dawid klaarblyklik weerstaan het. Omdat Dawid strategies te waardevol was vir Israel om sy lewe in n geveg op die spel te plaas, moet ander nou op n direkte wyse met die bedreiging van Absalom se opstand handel" (Vertaal).

Dawid het slegs een opdrag vir sy troepe (v 5). Tussen die verse kan ons ons indink watter emosionele wroeging Dawid moes deurmaak. Hy beplan n oorlog teen sy eie seun. Ons hoor niks in die eerste verse van Dawid as pa nie, net van Dawid as die bevelvoerder. In vers 5 praat die pa egter. Dawid wil hê die rebellie moet gestop word, maar dat sy seun gespaar moet bly. Twee dinge moet raakgesien word in Dawid se bevel (v 5): (i) Dawid noem nie vir Absalom sy seun nie, maar "die jongman". Dit is asof Dawid nie die verbintenis tussen hulle direk wil noem nie; (ii) Hulle moet saggies werk met Absalom "om my ontwil" - om Dawid se ontwil - nie om Absalom se ontwil nie. Die verteller het geen simpatie met Absalom nie, al is hy die koning se seun. Die verteller wil ons inlei in Dawid se dilemma. Hy is gelyktydig pa en bevelvoerder, vader en koning. As bevelvoerder praat hy ook van sy seun, maar sonder emosies (wat natuurlik van n bevelvoerder in die omstandighede verwag word), maar kan ook nie as pa sommer net sy seun laat sterf nie.

Vers 5 is n stukkie tussenspel voordat die verteller die leser in die geveg inlei. Die geveg is erg. Hier kom n volgende saak op die tafel. Die verhouding tussen mensewerk en God se werk. Volgens 2 Samuel 17:14 (Toe het Absalom en al die manskappe van Israel gesê: "Die raad van Gusai die Erekiet is beter as dié van Agitofel." Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring) lyk dit asof God aan die werk is, en in 2 Samuel 18:1-8 na mense wat aan die werk is. Brueggemann stel dit so: "Dawid begeer dat `die jongman met deernis oorgelewer moet word (18:5), maar terselfdertyd het God reeds die aard en afloop van die geveg bepaal (ordained) (17:14). Dawid is n onverskrokke inisieerder, maar hy is ook objek van inisiatiewe wat buite sy bewussyn of beheer gneem word" (Vertaal).

2 Samuel 18:9-15 vertel die verhaal van Absalom se dood, n verhaal wat uit drie tonele bestaan:

1. In vers 9 word vertel van Absalom se probleem in die bos. Drie dinge staan in die teks uit: (i) Absalom hak aan n boom vas. Niemand kan daarvoor verantwoordelikheid neem of geblameer word nie. Dit is asof dit "toevallig" gebeur; (ii) Die detail van hoe hy vasgehaak het word nie gegee nie die Hebreeus sê sy kop het vasgehaak. Mense het op grond van 2 Samuel 14:26 begin glo sy hare het vasgehaak. Die verteller gee doelbewus nie die detail nie, so asof hy die leser wil laat verstaan dat hier ook ander magte aan die werk is; (iii) Absalom hang tussen hemel en aarde ("This phrase may only be a descriptive portrayal. It is, however, an odd phrase; it suggests the narrator is speaking of more than Absaloms physical condition. Absalom is suspended between life and death, between the sentence of a rebel and the value of a son, between the severity of the king and the yearning of the father. He is no longer living, because he is utterly vulnerable, but he is not dead. Absaloms moment is a marvelous moment between (liminal) for the narrator. The moment cannot be sustained for long. He must either live or die").

2. Vers 10-13 beskryf die tweede toneel. Joab kies om te vergeet wat Dawid beveel het. Hy is n geharde militaris en Absalom is eenvoudig die vyand. Wat die onbekende man ook al mag sê, maak geen indruk op Joab nie.

3. Die derde toneel word in vers 14-15 beskryf. Joab se reaksie op die onbekende man is een van: "Ag, man, ek mors my tyd!" "Joab ignoreer doelbewus die koning se uitdruklike wens. Miskien onthou hy nog Dawid se bevestigende boodskap tydens Uria se dood: "Moenie toelaat dat dié aangeleentheid jou ontstel nie, want die swaard tref nou een persoon en dan n ander" (11:25). Joab laat inderdaad nie toe dat Absalom se dood hom ontstel nie. Hoe kon Dawid immers weet dat dit wat van Joab n nuttige instrument in die dood van Uria gemaak het, nie ook nuttig kan wees met betrekking tot die dood van Absalom nie? Vir Joab is een dood maar soos die ander. Die dood van Uria, soos deur Natan voorspel(12:10), het nou vir Dawid en sy familie ingehaal. Joab is die instrument in beide gevalle, want volgens sy logika dien die dood van beide persone sy koning" (Vertaal).

In 2 Samuel 18:16-30 bou die spanning op: Hoe gaan Dawid reageer op die nuus van Absalom se dood? "Weereens kan ons nie die skakel met die aankondiging van Uria se dood vermy nie. Daardie boodskapper was oortuig dat hy die draer van goeie nuus is: "Gaan sê vir hom dat Uria die Hetiet dood is" (11:21). Hierdie boodskapper hardloop ook met die oortuiging dat hy goeie nuus dra: "Sê vir hom dat Absalom die `traitor dood is" (Vertaal). Maar wanneer Dawid die nuus hoor, is die oorlog en die uitslag daarvan vir hom irrelevant. Hy vra nie eens hoekom sy opdragte nie uitgevoer is nie. Hy is so hartseer oor die nuus dat hy alleenlik maar net die naam van sy seun kan uitroep.

Verskillende preke

P. Mathew se tema vir n preek oor 2 Samuel 18: "Die uiteinde van selfsugtige ambisie." Nadat hy uit n klomp Nuwe Testament tekste (Jak 3:14-16; Gal 5:20; Rom 2:8; Fil 2:3-5) aangetoon het dat selfsugtige ambisie in stryd is met God se wil, gebruik hy vir Absalom as voorbeeld van God se straf oor selfsug. Absalom weeg selfs sy hare, kondig homself as koning aan, ignoreer die feit dat Salomo as koning aangewys is, kom in opstand teen sy pa alles voorbeelde van sy selfsug. Nadat hy dan die verhaal van Absalom se selfsugtige ambisie vertel het, kom hy by die tweede punt in sy preek. Daarin sê hy dan dat die uiteinde van selfsugtige ambisie die dood is. Hy stel dit so: "Absalom this tall, popular, handsome, eloquent leader was left by himself hanging by his hair in the forest. Everyone had deserted him. Even his own mule left him. He who had said: `I am not worried about Gods purposes and ordination. I will make myself king, found himself caught by his own hair and deserted by all."

Joseph Smith gebruik weer 2 Samuel 18:31-19:8 as tekskeuse, en sê in sy preek dat Dawid n keuse moes maak tussen sy vaderskap en sy koningskap. Dawid onttrek hom aanvanklik van die samelewing as gevolg van sy pyn en hartseer oor sy kind se dood, maar dan maak hy die keuse om by die poort te verskyn. Volgens Smith beteken dit dat: (i) Dawid die belange van sy volk hoër geag het as homself dit is n goeie les vir enige leier; (ii) geregtigheid in die stad n hoër waarde geag word deur Dawid as sy eie emosionele pyn, want die koning het in die poort altyd die reg gespreek geregtigheid moet ook vir elke gelowig n hoë prioriteit wees; (iii) Dawid bereid was om sy eie pyn met die volk te deel so moet ons ook ons pyn met ander deel.

Volgens my beskeie mening is sy preek gebaseer op inlegkunde en nie uitlegkunde nie.

Preekvoorstel

1. "Like father, like son," of "Die appel val nie ver van die boom af nie." 2 Samuel 18 plaas belangrike vrae op die tafel: Geld hierdie spreekwoorde ook vir sonde? Beteken dit (i) dat my kind kan sterf omdat ek sonde gedoen het?, of; (ii) beteken dit dat as ek sonde doen, gaan my kind dieselfde sonde doen?

Vraag (i): Beteken dit dat my kind kan sterf omdat ek sonde gedoen het? Hierop sou ons kon sê: Nee. So sê Jeremia 31:30 byvoorbeeld: "Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word." Wat egter ook waar is, is dat die gevolge van my sonde my kind kan laat sterf. Die mees ekstreme voorbeeld is wanneer ek myself gaan dronk drink, n ongeluk veroorsaak en my kind sterf in die ongeluk. Of, terwyl ek swanger is rook en drink ek soos ek wil en dit veroorsaak dat my kind met n defek gebore word, of selfs doodgebore word.

Vraag (ii): Beteken dit dat as ek sonde doen, gaan my kind dieselfde sonde doen? Hierop moet ons antwoord: Nie noodwendig nie ja en nee. Ja, dit is so dat kinders die voorbeeld van hulle ouers naleef. So is dit tragies dat sekere kinders in huise groot word waar die pa vir die WP en die Stormers skree, en die kind dan ook begin om vir die span te skree regtig tragies. Maar meer tragies, kinders word ook in huise groot waar daar straf gedrink, gevloek, bedrieg en gesteel word met n ignorering van God en sy beloftes en hulle leef somtyds ook tragies hierdie voorbeelde na. Maar ons kan op die vraag ook sê: Nee. Party kinders word in sulke huise groot, maar kom tot bekering en leef volgens God se wil.

2. Wat gebeur in 2 Samuel 18? Met empatie kan vertel word dat dit hier gaan oor n pa wat sy kind aan die dood afgestaan het. Ons sal nie ligtelik of oppervlakkig tot konklusies oor kinderopvoeding en verdiende loon, of so iets moet spring nie. Mens kan hier met empatie die seer van ouers wat al kinders aan die dood moes afstaan probeer verwoord of ten minste net sê dat mens dit nie regtig verstaan nie. "Hulle wat iets van Absalom se rebellie weet, vind hierdie storie besonder relevant vir ouers van kinders wat self-vernietigende weë volg, waarvan ouer liefde, hoe bereid tot selfopoffering ook al, die kind nie kan red nie. Die krag van hierdie voorstelling van ouerlike hartseer, gee aan dié moment in Dawid se verhaal n bekendheid en emosionele identifikasie, wat los van die kompleksiteit van die verhaal in 2 Samuel funksioneer" (Vertaal).

3. Maar die preek sal wyer en dieper moet strek as net emosionele uitroepe van "My seun, my seun!" Frederick Buechner herinner daaraan dat wanneer Dawid sê dat hy eerder in Absalom se plek sou wou sterf, hy dit werklik bedoel: "If he could have done the boys dying for him, he would have done it. If he could have paid the price for the boys betrayal of him, he would have paid it. If he could have given his own life to make the boy alive again, he would have give it. But even a king cant do things like that. As later history was to prove, it takes a God." Hier sou dan die gulde geleentheid wees om die hele debat van ouerskap en koningskap op die tafel te plaas. Die belangrikheid van n gesonde huwelikslewe wat lei tot n gesonde gesinslewe en wat weer lei tot n gesonde werksetiek, kan hier aangesny word.

Dit sou ook van pas wees om hier die vraag in meer detail uit te werk oor die voorbeeld van ouers aan hulle kinders (In n empiriese studie wat deur Prof Hennie Pieterse en Johannes van der Ven gedoen is onder Standerd 9 leerlinge (gr 11), is bevind dat die kinders graag wil hê hulle ouers moet met hulle oor geloof gesels, en dat hulle dit haat as ouers vir hulle aansê om geloof te beoefen as die ouers dit nie self doen nie).

4. In n laaste gedeelte sou mens die moeilike dogmatiese kwessie van straf en sonde moet aanraak. Die feit dat ons sonde gevolge het, wat ons kinders en die mense om ons raak, moet gepreek word: "Absalom het Dawid se voorbeeld nagevolg toe hy op arrogante wyse mag gegryp het. Dit is oordeel op Dawid se sonde wat himself uitspeel in die tragedies van sy familie. Hierdie drama van sonde en oordeel, wat op tragiese wyse vanaf vader na seun oorgedra word, is n tema wat die belangstelling van Christen skrywers sedert Augustinus tot op hede vasgevang het. Hulle het in hierdie finale toneel van die drama in Absalom se opstand, n tragiese en versoberende uitkoms gevind vir die konflik tussen die beoefening van self-belang, die vrye wilsbesluite van die mens, en die onweerstaanbare werking van goddelike voorsienigheid. Absalom se verlies was nie maar net n menslike tragedie nie, maar die resultaat van goddelike geregtigheid" (Vertaal).

Selfs in n postmoderne samelewing is en bly sonde vir God onaanvaarbaar. Hierdie verhaal sny natuurlik ook dieper in ons harte in as wat ons dalk sou wou voorgee. Ons eie landsgeskiedenis maak die verhaal vir ons vandag baie relevant ("The two most celebrated uses of this story of a sons rebellion and a fathers grief are in William Faulkners Absalom, Absalom! and Alan Patons Cry, the Beloved Country. Both find in the racially divided societies of the early twentieth-century American South and mid-century South Africa apartheid parallels to the story of Absalom and David. In both novels and the modern settings they chronicle, sons are brought to grief by the injustices their fathers first put in place and the sons inevitably imitate. Too late the fathers must recognize the price their sons have paid for their fathers sins as well as their own, and the emptiness of the grief with which the fathers are left").

Hierdie verhaal van Dawid se hartseer, en veral sy uitroep oor sy seun, sal altyd die mens se hartsnare roer. "n Mens hoop dat dit ons ook altyd daaraan sal herinner dat tyd uitloop. Daar is verhale waarin die verlore seun nie tuis kom nie, en die wagtende vader se omhelsing leeg bly." Maar, en dit is n groot maar, dit is tog die rede waarom God sy eie Seun "tussen hemel en aarde" laat hang, aan n "boom", verlate (soos Absalom, wie se muil hom ook selfs verlaat), sodat hierdie bose kringloop van "like father, like son" gebreek kan word.

5. Slot

As slotwoord kan ons tog ook, naas al die waarskuwings, die boodskap van God se liefde laat hoor. God is die koning, Sy eie Seun het ook gerebelleer teen die sonde. Sy eie seun het ook gesterf, was ook verlate, maar die verskil is, die boodskapper bring goeie nuus. Die veldslag is verby, en die Seun lewe weer Hy het opgestaan, Sy koningskap is vir ewig.

Bibliografie

Brueggemann, W. 1990. Interpretation: A Bible commentary for Teaching and Preaching. John Knox Press; Loader, J.A. (red) 1987. Vertellers van die Ou Testament. Hertzberg, H.W. I & II Samuel. SCM Press; Mauchline, J. 1 and 2 Samuel: New Century Bible. Bybel in Praktyk.