3 Augustus 2003

Sewende Sondag in Koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: 2 Samuel 11:26 - 12:13a

Ander tekste: Psalm 51:1 - 12; Efesiërs 4:1 - 16; Johannes 6:24 3

Inleiding

Sien verlede Sondag se nota oor die kontinuïteit met ander Sondae.Die gedeelte van Dawid se sonde-verhaal waarop die fokus vandag val, werp lig op die insig wat Dawid in sy dwaling kry. Deur Natan bring God Dawid weer tot verhaal sodat hy sy skuld bely. (Die vergifnis en gevolge staan oor vir volgende Sondag.) In vandag se liturgie word elke gelowige onvermydelik met sy/haar eie dwaling gekonfronteer asook met die noodsaak om dit te erken. Daarom speel Psalm 51 `n belangrike rol as die Woord van die Gees wat ons tot skuld erkenning begelei.

Aangesien die tekste van die Nuwe Testament gekies is om op die vorige Sondag te volg, hou dit nie direk met die fokusteks verband nie. Johannes sal weer in nouste moontlike verband met die nagmaal gelees word. (Sien die inleiding by die vorige Sondag.)

Efesiërs 4 is liturgies waardevol weens die beklemtoning van die ampte en die gawes wat die Here aan sy liggaam gee. Ons sal versigtig moet wees om die teks nie op onvanpaste wyse in die liturgie in te dwing nie. Die teks kom net een maal in die driejaar siklus van die leesrooster voor. Indien dit nagelaat word, laat dit dus `n leemte. Die sou goed kon pas as die gemeente vooraf besluit het om op hierdie Sondag ampsdraers te bevestig. Dit bied ook geleentheid vir die gemeente om `n keer baie spesifiek oor die welwese van die dienste en ampte van die gemeente te dink en vir hulle te bid. Hierdie teksgedeelte kan vandag die lees van wet vervang. Die gemeente word immers ook in hierdie verband tot gehoorsaamheid opgeroep sodat die eenheid van die kerk gestalte kan kry deur die dienswerk in die gemeente.

Die voorganger moet `n keuse maak: (a) lees die tekste in volgorde na mekaar, elkeen as selfstandige Woord sonder om by `n oorhoofse tema te probeer hou (dit is die bedoeling van die opstellers van die leesrooster; sien ook die orde van die basisliturgie); (b) laat een of meer van die ander tekste weg sodat die "storielyn" van die liturgie nie verbreek word nie; of (c) lees die verskillende tekste só dat die diens die verskeidenheid van die tekste akkommodeer sonder om nougeset by die tema te bly. Die onderstaande voorstel probeer hierin leiding te gee.

Volg die voorstelle in die basisliturgie. Die volgende vul dit aan of gee variasies vir hierdie Sondag.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Aanvangslied /drumpelgebed

"Stuur nou u lig" Lied 272 (Kan ook deur 'n solis gesing word.) Of: "Buig nou voor die Heer, en sing" NSG 16 of 40 (Sien ook vorige Sondag.)

Vredesgroet

Indien die nagmaal gevier word, skuif die vredesgroet daarheen.

Sang

"k het Jesus lief, Hy is my lig en krag" NSG 157 / Lied 491:1, 2, 3, 4, 5.

Gebruik beurtsang; dalk kan die koor afwisselend van die verse sing. Die lied loop die skuldbelydenis vooruit en vra elkeen teenwoordig om vooraf weer te besluit om uit liefde vir die Here besluite oor die gang van sy/haar haar lewe te neem.

Geloofsbelydenis

Indien doop bedien word, verskuif dit na net vóór die doopbediening. Indien nagmaal gevier word, skuif dit daarna toe.

Geloofsbelydenis van Nicea kan saam hardop gedoen word indien 'n liturgie uitgedeel word of die woorde vertoon word.

Voorganger: "Ons bely ons geloof so maklik ...gemaklik! Tog weet ons almal dat ons lewens dikwels van die teendeel getuig. Het iemand jou al direk gekonfronteer oor 'n verkeerde keuse / bepaalde sonde in jou lewe? Hoe het jy reageer? Hoe dink jy sou jy voel en reageer as dit met jou sou gebeur?"

Kort stilte vir nadenke

voorlesing

Ons is gewoond om van U te praat,heilige God,en u Naam in ons mond te neem.Ons gryp na U met ons denkeasof ons U in ons hande houen leef tog sonder Uin ons selfgemaakte wêreld.

U self wil ek vind,

nie die skimme van my gedagtes nie,

vir U wat ek nie peil

of begryp of ken nie.

U sê ons kan U

in Jesus Christus leer ken.

Maar ons vervorm Hom deurentyd

na ons beeld en na ons gedagtes.

Hy moet vir ons vreemd word

voordat ons Hom sal verstaan

en in Hom vir U sal vind:

onbekende, vreemde God.

Ek staan by die grens van my klein wêreld.

My gedagtes sluit my in

soos 'n muur.

Ek wil uitkom.

Jesus sê: Volg my.

Dit is die stap wat ek wil doen;

lei my dat ek U vind.

('n gebed van Jörg Zink: Ons is gewoond om van U te praat...)

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om opening van die Woord

Hemelse Vader, dankie vir hierdie dag u dag!Dankie dat ons vandag kan rus, dat ons liggaamlik kan ontspan,

dat ons verstand verkwik en ons gees versterk kan word.

Dankie vir die geleentheid om U vandag saam te aanbid,

dat ons ons sorge in u hande kan gee en ons gedagtes op U alleen kan verenig.Dankie vir u kerk en vir hierdie gemeente.Dankie vir die gemeenskap tussen ons, vir die onderrig wat ons ontvang, vir die lig en leiding vir ons daaglikse lewe.

Dankie vir die lees van u Woord en vir die verkondiging van u waarheid.

Dankie vir die sakramente wat ons herinner aan u genade.

Dankie dat ons u saam kan loof en prys en aanbid.

Voed ons hier só saam, Vader; gee ons die krag en die leiding, dat ons in die week wat voorlê, u stem steeds sal hoor. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen

Skriflesing

Voor die Skriflesing

"Ons gaan vandag uit 2 Skrifgedeeltes luister na wat God vir ons wil sê. Oor elkeen gaan ons op `n ander manier nadink. Die eerste Skriflesing, waaroor die preek vanoggend sal gaan, is "

Die verhaal van Natan wat vir Dawid deur 'n gelykenis met sy eie sonde konfronteer, behoort bekend genoeg te wees dat dit ook soos verlede week se skande-verhaal deur die kinders / gemeente in herinnering geroep en vertel kan word voordat dit gelees word. Vra weereens leidende vrae om die proses aan te help.

 

Eerste Skriflesing

2 Samuel 11:26 - 12:13a

Kindertyd

Jesus het dikwels gelykenisse vertel om mense te leer. 'n Gelykenis is gewoonlik 'n eenvoudige vertelling, oor dinge in die alledaagse lewe, wat vir die mense wat daarna geluister het, baie bekend was. Met só 'n gelykenis kon Jesus vir die mense op 'n eenvoudige manier 'n diep geestelike waarheid verstaanbaar maak. Boonop het hulle dit só ook makliker onthou. Ons sou kon sou kon sê Jesus se gelykenisse is sy "kinderpreke". Maar lank voor Jesus in gelykenisse "gepreek het", het ander predikers ook sulke "kinderpreke" "gepreek". Só gebruik die profeet Natan in die Skrifgedeelte wat ons uit 2 Samuel gelees het, die hartseer gelykenis van die arm man met die ou troetel-skaaplammetjie, om koning Dawid se oë oop te maak vir die vreeslike sonde wat hy gedoen het.

Woordbediening met kort antwoordgebed.

Tweede Skriflesing

Psalm 51:1 12. (Versoek die gemeente om biddend daarna te luister)

en / of sing Psalm 51.

Ander liedere wat gesing kan word is: "Al doen ek steeds nog sonde", Lied 230:3, ook NSG 103:5; "Diep, o God, diep neergeboë", Lied 232 / NSG 60; "Heer ons kom pleit by U", Lied 237; "Ag, Here, heilig, goed en groot", NSG 59;

(Hier kry die gemeente kans vir persoonlike en gesamentlike skuldbelydenis.)

DIENS van die TAFEL

By die nagmaalstafel (waarop die brood en die wyn sigbaar is al word die nagmaal nie gevier nie).

Lees

Johannes 6:24 - 35

Lied

Sien voorstel en motivering by die vorige Sondag.

UITSENDING

Skriflesing

Efesiërs 4:1 16. Lui die gedeelte in deur te sê dat dit nie net Dawid is wat sy amp misbruik het nie. Omdat ons het elkeen `n funksie in die gemeente het, is dieselfde versoeking vir ons elkeen daar. Die Here roep ons om daardie funksie met waardigheid en getrouheid te vervul.

Gee geleentheid vir stil voorbidding vir die ampte en dienswerk in die kerk.

Sang

"Laat, Heer, u vrede deur my vloei." Lied 284:1, 2, 3. Dit is `n uitstekende gebed om mens tot gewillige diens te verbind. "Geseënde huis" (NSG 392) sluit goed by die Skrifgedeelte aan.

 

PREEKSTUDIE 2 SAMUEL 11:16-12:13

Teks

Verlede week se behandeling van 2 Samuel 11:1-15 word volledig veronderstel in die verdere bespreking van tekstuele aspekte van 2 Samuel 11:16-12:13.

Die Skrifgedeelte val in twee dele uiteen, met as skarnier wat die twee gedeeltes verbind, die uitsprake:

"Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here" (2 Sam 11:27c) en "Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur" (2 Sam 12:1a). Moontlike verdeling van 2 Samuel 11:16-12:13:

11:16-27b: Joab sneuwel, nuus bereik Dawid en hy laat haal vir Urija se vrou.

11:27c: Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here

12:1a: Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur.

12:1b-13: Natan kondig Dawid se straf aan. Dawid het berou.

Die verhaal van Dawid se owerspel met Batseba en die tragiese gevolge daarvan, het in verlede week se fokusteks geëindig by vers 15, met Dawid se opdrag aan Joab om vir Urija op die voorpunt waar die kwaaiste geveg word te sit en dan terug te val, sodat Urija in die slag kan bly (verse 14 en 15). Hierdie week se fokusteks begin waar vertel word hoe Joab uitvoering gegee het aan Dawid se opdrag (verse 16 en 17). Joab stuur n boodskapper na Dawid om hom in te lig oor die verloop van die geveg. Verse 19 tot 21 bevat die direkte opdrag van Joab aan die boodskapper. Hierin word die boodskapper vertel hoe hy eers moet wag vir die woede van Dawid om te bedaar en om Dawid eers kans te gee om sekere kritiese vrae oor die geveg te vra. Daarna moet die boodskapper vir Dawid vertel dat Urija die Hetiet, gesneuwel het. Die skrywer struktureer die verhaal met opset so omdat hy wil wys hoe geslepe Dawid was in sy planne om die komplot met Joab toe te smeer. n Boodskapper word gebruik om nuus na Dawid te neem wat hom glad nie sou verras nie, as gevolg van sy komplot met Joab. Die opdrag aan die boodskapper is verder op só n manier verwoord, dat dit selfs vir die boodskapper onmoontlik sou wees om agter te kom dat hy met ou nuus na die koning gegaan het. Nie alleen Urija nie, maar ook Abimelek seun van Jerubbeset en van Dawid se soldate sneuwel in die geveg.

Vers 22 tot 24 vertel wat die boodskapper vir Dawid gesê het. Dawid antwoord die boodskapper wat deur Joab gestuur is asof hy nie in die minste geweet het watter nuus om te verwag nie. Dit is interessant dat Dawid se reaksie wat in vers 25 opgeteken staan, glad nie die ontsteltenis reflekteer waarvoor Joab sy boodskapper in verse 19 tot 21 voorberei het nie. Geen melding word gemaak daarvan dat Dawid kwaad of hartseer geword het nie. Die eerste keer wanneer ons lees dat Dawid kwaad word, is wanneer Dawid die ryk man in Natan se verhaal veroordeel (2 Sam 11:5, 6) en so n oordeel oor homself uitspreek. Dawid se reaksie op die nuus wat die boodskapper bring, is bloot om die boodskapper na Joab terug te stuur met n bemoedigende boodskap waarin hy die tragiese gebeure wat deur sy toesmeer-veldtog en samesweerdery met Joab veroorsaak is, afmaak as: "Dit gebeur nou maar eenmaal so dat mense sneuwel." Die skrywer wil iets van Dawid se gulsigheid uitbeeld deur die vinnige manier waarop die volgende gebeurtenisse mekaar opvolg. Net in vers 26 word melding gemaak van iemand wat gerou het oor Urija se dood. Dis ironies dat die enigste ander persoon wat ontsteld kon wees oor Urija se dood, toe nooit ontsteld was oor sy dood nie, aangesien dit slegs die ongerealiseerde gedrag was wat Joab in verse 19 tot 21 van Dawid verwag het.

In die volgende vers word vertel dat Dawid gewag het totdat Batseba se routyd oor was, en haar toe laat haal het om in sy eie huis te kom woon. Dawid kon nie vinnig genoeg vir Batseba laat haal nie. Die verteller wil dit beklemtoon dat daar by Dawid geen ontsteltenis of berou was nie. En dan kom die dramatiese ommekeer: "Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here" (v 27). Teenoor Dawid se goedkeuring van die dood van verskeie onskuldige mense, staan God se ontevredenheid. n Enkele versie is genoeg om die ganse voorafgaande gedeelte in n totaal ander perspektief te plaas: God se perspektief. Die profeet Natan verskyn op die toneel en vertel vir Dawid n gelykenis. Die gelykenis word vertel sonder n inleiding of verduideliking. Die leser weet bloot dat dit die Here is wat vir Natan na Dawid toe gestuur het. Alles wat volg moet binne daardie raamwerk verstaan word. Dawid se toesmeerveldtog het almal geflous, behalwe vir God.

Geen geregtigheid het tot dusver vanuit menslike oord geskied nie dus moet God ingryp. Natan vertel sy verhaal. Dis die verhaal van n ryk man en n arm man. Die ryk man het groot troppe kleinvee en beeste gehad (2 Sam 12:2) en die arm man het een ou ooilammetjie (v 3) gehad. Die ryk man ontvang n besoeker, vat die ooilam van die arm man en slag haar af vir sy gas. Op hierdie punt word Natan wreed deur Dawid onderbreek. Vir die heel eerste keer in die verhaal van Dawid en Batseba, word melding gemaak van n intense emosie by Dawid. Hy spreek n tweeledige oordeel oor die ryk man van Natan se verhaal uit. Enersyds moet die ryk man doodgemaak word. Andersyds moet hy viervoudig vir die ooilam vergoed (verse 5, 6). Natan reageer op Dawid se emosionele uitbarsting met vier van die kragtigste woorde in die Bybel: "Jy is die man!" (v 7).

Binne die magstruktuur van Dawid se koningshuis het Dawid tot dusver suksesvol daarin geslaag om sy sonde en gevolglike misdaad toe te smeer. Binne daardie sisteem het dit die ingrype van God deur sy profeet, Natan, geverg om Dawid se sonde te ontmasker. Die inisiatief het van God uitgegaan. Natan was Sy instrument. Tot Dawid se verdediging moet mens sê dat hy die openheid gehad het om die inspraak van die profeet toe te laat. Wie het die regspraak gepleeg in die koninkryk van Dawid? Dawid self? Wie spreek die oordeel oor die koning se wandade uit? Die koning bevind homself skuldig nadat hy homself onwetend verstrengel in die lokval van God se gestuurde profeet.

Dawid is die ryk man. Die ooreenkoms tussen die ryk man en Dawid hou waarskynlik verband met die feit dat Dawid baie vroue gehad het en Urija net een. Dawid se sonde was dat al sy vroue nie vir hom genoeg was nie en dat hy die enigste vrou van Urija vir homself vat, en dan vir Urija doodmaak om sy sonde toe te smeer. n Oordeel word nou uitgespreek oor Dawid. Omdat hy vir Urija met die swaard doodgemaak het (metafories verstaan), sal die swaard "nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het" (v 10). Die Here belowe dat Hy ellende oor Dawid se huis gaan bring. Uiteindelik sterf die kindjie wat gebore is uit die owerspel tussen Dawid en Batseba. Ook van Dawid se ander kinders sou voor hom te sterwe kom. Verder het die Dawidiese koningskap van hier af net agteruit gegaan.

Dawid se sonde word die heel beste deur die verteller vir ons by monde van God self in vers 12 gegee: "want jy het n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen." 2 Samuel 12:13 vertel dat Dawid belydenis doen van sy sonde: "Ek het gesondig teen die Here." Natan verkondig God se vergifnis; Dawid sal nie nou sterwe nie. Ten spyte van Dawid se sonde, word hy onthou as n groot koning. Dit is juis Dawid se bereidheid om tereg gewys te word, wat hom anders gemaak het as die ander konings. Die feit dat Natan toegang gehad het tot Dawid en dat Dawid die profeet se inspraak in sy lewe toegelaat het, sê baie van Dawid se karakter. Die vergifnis van God het egter nie die gevolge van Dawid se sonde weggeneem nie. Die kindjie wat uit sy owerspel met Batseba gebore is, sterwe (v 14). Die Deuteronomis plaas die owerspel tussen Dawid steeds sentraal binne die ondergang van die Dawidiese ryk. Dit is n bittersoet verhaal wat die sonde van magsmisbruik op pynlike en eerlike wyse blootlê.

Konteks

Dit is die moeite werd om vanuit die sistematiese teologie te lees oor die sonde, as agtergrond vir die prediking van hierdie Skrifgedeelte. Baie predikante is deesdae bang om oor die sonde te preek, in reaksie op vroeër jare se swael-en-vuur preke. Dit bly egter onmoontlik om getrou aan die boodskap van die Bybel te bly, sonder om op Skrifgetroue wyse oor die sonde te preek. Daar is inderdaad al verskeie skeppende en transformerende preke oor die sonde in ons tyd gemaak. Predikers kan gerus die volgende twee algemeen beskikbare werke onder oë neem: JJF Durand. Die Sonde. Wegwysers in die Dogmatiek; Adrio König. Bondgenoot en beeld. Oor die wese van die mens en die sonde. Gelowig nagedink. Deel 4.

Daar is n bekende grappie in omloop van die stil, ou oom, wat een Sondag sonder die tannie kerk toe gegaan het. Toe hy terugkom by die huis, het sy hom oor die preek uitgevra. Die oom was nie bekend vir sy spraaksaamheid nie. Toe vra sy vrou hom: "My ou man, nou waaroor het die dominee vanoggend gepreek?" Die oom se antwoord was kort en kragtig: "Sonde!" Die tannie was meer spraaksaam en vra weer: "Nou wat het hy oor die sonde te sê gehad?" Die oom se antwoord was: "Hys daar teen!" Die sonde is egter nie so n eenvoudige saak nie.

Die bekende Amerikaanse predikant en teoloog, William Willimon, skryf n interessante en vir die prediking, bruikbare artikel na aanleiding van die verhaal van Dawid en Batseba. Willimon, as eksponent van die post-liberale teologie, tree hiermee doelbewus in gesprek met die universele sondebeskouing van Reinhold Niebuhr. Teenoor Niebuhr en ander wat werk met n algemene of universele sondebeskouing, pleit Willimon vir n eiesoortige, spesifieke sondebeskouing. Hier word Willimon se gedagtes weergegee. Baie van die argumente is hoogs aanvegbaar. Die groot waarde daarvan lê egter in Willimon se tipiese post-liberale aanslag vanuit die narratiewe teologie: "Sonde kan alleen geken word wanneer ons verhale ontmasker word deur verhale van n hoër waarheidsgehalte." Te midde van aanklagte dat die post-liberale teologie sektaries is, moet onthou word dat dié denkstroom n groot bydrae lewer met die wyse waarop die Bybel gebruik word as vertrekpunt vir alle teologiese gesprekvoering.

Baie denkende en sensitiewe mense is bewus van die gebroke werklikheid waarbinne ons leef, sê Willimon. Hierdie algemene bewussyn van gebrokenheid, het egter bitter min te make met Christene se verstaan van sonde. Sonde is meer as blote taboe. Christene verstaan sonde nie as bloot die resultaat van die mens se ongelukkigheid met die beperkings van die menslike bestaan en van ons onvanpaste reaksie op hierdie ongelukkigheid nie (teenoor Niebuhr). Christene verstaan sonde eerder as die gevolg van wat hulle van God weet, soos geopenbaar in Jesus Christus.

Niebuhr haal graag vir Herbert Butterfield aan: "the doctrine of orgininal sin is the only empirically verifiable doctrine that Christians have." Niebuhr voeg dan by: "Even those who do not know that Jesus Christ is Lord, know sin." Hiermee het Willimon n groot probleem. Die post-liberale teoloë word ook soms neo-Barthiane genoem omdat hulle hulleself so dikwels op Barth beroep. Willimon verwys na Barth wat gesê het dat slegs Christene kan sondig. Dit beteken dat net Christene verstaan waarom sonde sonde is. Christene leer sondig, sê Willimon, nie deur te begin by n stel universele opmerkings oor die "menslike toestand" nie, maar by n verlossingsverhaal. Eers later beweeg Christene na n sondebeskouing. In sekere sin kan gesê word dat sonde n verhaalbotsing is. Sondeverhale word as sodanig ontmasker wanneer hulle bots met verlossingsverhale. Die verhaal wat in 2 Samuel 11:1-12:31 opgeteken staan, is vir Willimon n uitstekende voorbeeld van "how Christians are taught to sin by learning a truthful account of ourselves."

Willimon het n probleem met Niebuhr se poging om sonde ontologies te omskryf. Niebuhr sê: "Almal sondig." "Nee", sê Willimon. "Sonde is rebellie teen die Wet, die onvermoë om volgens God se verhaal te leef." "So to a remarkable degree, sin is an event after the story. Thus Barth could assert only Christians sin. Only Christians have a story that makes our actions comprehensible not as minor slip-ups, mistakes of judgement, or even as our inappropriate response to the facts of the human condition but as sin, as our determined effort to live our lives as if God were not the author of our lives" (Willimon).

Preekvoorstel

Die verhaalbotsing waarvan Willimon praat, vind plaas wanneer 2 Samuel 11:25 en 27 radikaal teenoor mekaar te staan kom. Vers 25 vertel van Dawid se tevredenheid met die boodskapper se nuus wanneer Dawid die boodskapper na Joab toe terugstuur en eintlik vir hom laat weet: "Jong, dis nie so erg nie. Hierdie soort goed gebeur maar in oorloë." Vers 25 staan in skrille kontras met vers 27, waar vertel word van God se reaksie op die nuus van die veldslag, en Dawid se toesmeerdery: "Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here." Vers 25 vertel n verhaal van maghebbery en magsmisbruik in die wêreld. Vers 27 vertel n verhaal van God se kontra-planne vir die wêreld. Dawid se verhaal bots met God se verhaal wat deur die profeet Natan vertel word. Dawid se verhaal is n verhaal van geheime sameswerings om moord te pleeg en dit toe te smeer. Natan is die profeet wat sonder inleiding uitsluitlik in die narratiewe modus kommunikeer. Natan vertel n kontra-verhaal. Die profeet se verhaal is God se verhaal wat bots met dié van Dawid. n Verhaalbotsing vind plaas. Die plasing van die profeet se verhaal binne die konteks van Dawid se sondeverhaal, beklemtoon die verhaalbotsing. Die verhaalbotsing word meer eksplisiet wanneer Natan die narratiewe modus van sy kommunikasiestyl verlaat, en vir Dawid direk en konfronterend aanspreek: "Jy is die man!" Dawid sê: "Ek het gesondig teen die Here." Dit is die gevolg van die verhaalbotsing.

Wanneer die Here deur die profeet Natan reageer (2 Sam 12:7-12), word begin deur die Here se groot dade van verlossing en genade van die verlede in herinnering te roep. Eers genade, dan skuldbelydenis. Die Here se hele relaas fokus op wat Hy vir Dawid gedoen het: "Ek het jou gesalf; Ek het jou beskerm; Ek het aan jou gegee; Ek sou enigiets daar wou bygee." Wat die Here ontstel, is dat Dawid die geskenke en gawes wat hy ontvang het, misbruik het. Dawid het die vertroue van die Here misbruik.

Dawid is verlei deur die mag van sy koningskap. Dawid is egter nie onaantasbaar nie. Die koning word in hierdie verhaal uitgebeeld as ondergeskik aan die profetiese verbondswerklikheid. 2 Samuel 12:13 vertel dat Dawid sy skuld bely en dat Natan God se vergifnis verkondig. Dawid se reaksie toon nie alleen dat hy homself neerlê by die Tien Gebooie nie, maar ook by die verbond as kontra-verhaal. Willimon som dit só op: "Just as we were prepared to write off David as a moral failure, the prophets counter narrative has evoked a new David (or is it the old David, in the best sense of the designation?) who is able to submit, to admit to the coherence and dominance of Yahwehs account of things. Our story reads autonomy. Yahwehs story says covenant."

Dawid se sonde word deur die profeet se verhaal ontmasker as n mens wat lewe asof hy geen verhaal gehad het nie. Dit beteken dat Dawid geleef het asof hy nie reeds opgeneem was in n groter verhaal die verhaal van Jahwe se genadige verbond nie. Dawid se sonde was dat hy geleef het soos n "verhaallose" persoon. Gendadiglik kan Jahwe se verhaal dít wat die verhaal van ons vra, in ons opwek. Dawid is instaat daartoe om sy sonde naam te gee, nadat hy die verhaalmatige middele ontvang het om te onderskei wat in sy lewe aan die gang was. Dawid se reaksie word verhaalmatig "opgewek," nie soseer deur Natan se uitspraak, "Jy is die man," nie, maar deur Jahwe se herinnering: "Ek het jou gesalf; Ek het jou beskerm; Ek het aan jou gegee; Ek sou enigiets daar wou bygee" (2 Sam 12:7-12). Nadat hy verlei is deur die vals verhaal van koninklike mag, verbind Dawid homself weer tot Jahwe se kontra-verhaal van verlossing; uit genade alleen.

Bibliografie

Bosman, HL et al (Reds) 1988. Old Testament storytellers; Deist, FE et al 1981. Van Eden tot Rome. Die verhaal, samestelling en skrywersperspektiewe van die vertelliteratuur van die Bybel; Durand, JJF 1978. Die Sonde. Wegwysers in die Dogmatiek; Hertzberg, HW 1964. I and II Samuel; König, A 1991. Bondgenoot en beeld. Oor die wese van die mens en die sonde. Gelowig nagedink. Deel 4; La Sor, WS 1982. Old Testament Survey. The message, form, and background of the Old Testament; Soards, M et al 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year B. After Pentecost 1; Van Zyl, D 2001. Spreek, Here! n Selfsoek-hulpboek om God se stem in die Ou Testament te hoor; Willimon, W 1993. A peculiarly Christian account of sin.