27 Julie 2003

Sesde Sondag in Koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: 2 Samuel 11:1-15

Ander Tekste: Psalm 14; Efesiërs 3:14 - 21; Johannes 6:1 - 21

Inleiding

Omdat die volgende drie Sondae se fokustekste een verhaal vorm, is die liturgiese voorstelle vir hierdie drie Sondae daarop gemik om hierdie eenheid te onderstreep (met inagneming van die voorstelle in die basisliturgie vir koninkrykstyd), sodat dit as 'n kort reeks binne die koninkrykstyd benut kan word. Die reeks tekste fokus breedweg op die oorsaak, die erkenning en die gevolge van sonde.

Die fokusteks sinspeel op die misbruik van mag. In Dawid se lewe het dit tot sy val gelei. Psalm 14 lê die wortel van dié dwaling (en enige ander sonde) bloot, naamlik om nie met God rekening te hou nie. Liturgies hoort die psalm dus in die onmiddellike nabyheid van die fokusteks.

Die tekste uit die Nuwe Testament het `n ander fokus. Die keuse van die tekste is in die eerste plek ter wille van `n deurlopende lees daarvan in die gemeente. Die insluiting van Johannes 6 in die leesrooster (hierdie drie Sondae in Jaar B alleen) hou verband met die belangrikheid van die gedeelte wat Jesus as "Brood van die lewe" teken. Hierdie gedeelte verbind God se vryspraak aan die gebruik van die sakrament. Vir liturgiese doeleindes behoort dit aan die nagmaalstafel gelees word.

`n Raakvlak tussen vandag se tekste wat as "storielyn" gevolg kan word, is die konsep van mag. Dawid misbruik sy mag. Jesus gebruik sy mag om te voed en te versterk (Joh 6). Paulus bid om krag en insig (Ef 3). Die tekste herinner daaraan dat ons weens kortsigtigheid nie altyd die regte opsies uitoefen nie. Mag – in ons eie hande of in ander s`n – laat ons weerloos. God se mag laat ons verbysterd. Ons het goddelike wysheid en insig nodig. Prediking aan die hand van die fokusteks geskied daarom vir ons teen die agtergrond van `n Nuwe-Testamentiese blik op God se mag.

Vandag se liturgie word dus benader as viering van God se mag, erkenning van ons eie onmag en `n bede dat ons as kinders van God wysheid mag bekom wanneer ons mag uitoefen of daarvoor te staan kom. Die teks van Johannes 6 word in twee verdeel sodat minstens een gedeelte wat oor Jesus se mag handel, voor die preek gelees word.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Aanvangslied / Drumpelgebed

"Stuur nou u lig" Lied 272 Kan ook deur 'n solis gesing word. Of: "Buig nou voor die Heer, en sing" NSG 16

Vredesgroet

Indien die nagmaal gevier word, skuif die Vredesgroet daarheen.

Sing

"Waak Christen, staan in die geloof" NSG 276; Lied 489:1, 2, 3. Hiermee word die verhaal van Dawid se versoeking reeds vooruitgeloop.

Geloofsbelydenis

Apostoliese Geloofsbelydenis

Indien daar wel gedoop word, verskuif dit na net voor die doopbediening; indien nagmaal gevier word, skuif dit tot daarna. Dit word gevolg met:

Voorganger: "Ons glo. Ons het pas ons geloof duidelik uitgespel. Waarom vind ons dit dan so moeilik (soms selfs amper onmoontlik) om in bepaalde situasies die regte keuses te maak? Waarom kom verkeerde keuses soveel makliker?"

Stilte vir nadenke

Lees

Johannes 6:16-21

Voorlesing

Ek wil stil wees, Here,en op U wag.Ek wil stil wees dat ek kan verstaanwat in u wêreld gebeur.Ek wil stil weesom na aan die dinge te kom,aan al u skepsels,en hul stemme te hoor.Ek wil stil weesdat ek onder die baie stemme

u stem kan herken.

Ek wil stil wees

en my daaroor verwonder

dat U vir my 'n woord het.

Here, ek is nie werd

dat U na my toe kom nie,

maar spreek net een woord

dan word my siel gesond.

('n Gebed van Jörg Zink: Ek wil stil wees...)

diens van die woord

Gebed om opening van die Woord

Ons hemelse Vader, open genadiglik u Woord, sodat ons insig kan kry.Insig in u wil, insig in ons roeping, insig in ons hoop...Ons Vader, open genadiglik u Woord, sodat ons kan leer om die regte keuses te maak,

en om uit ons foute te groei wanneer die lig van u evangelie daarop val.

Maak ons deur u Gees getrou en lei ons deur u Woord. Amen

Skriflesing

Voor die eerste Skriflesing:

Die verhaal van Dawid en Batseba is baie bekend. Laat die kinders / gemeente dit self in herinnering roep en vertel voordat dit gelees word. Vra leidende vrae om die proses aan te help. Lees daarna die Skrifgedeelte om te kontroleer of ons die verhaal reg onthou het.

Lees

2 Samuel 11:1-15

Voor die tweede Skriflesing; Verduidelik hoe die teks die fokusteks ondersteun. (Sien inleiding.)

Lees

Efesiërs 3:14 – 21.

Kindertyd

Kom ons verbeel ons vanoggend ons is koerantredakteurs. Verduidelik kortliks wat 'n koerantredakteur doen: Jy moet elke dag besluit watter berigte oor watter dinge wat gebeur het, moet wáár in jou koerant geplaas word. Watter van hierdie 2 gedeeltes wat ons gelees het, sou na julle mening die beste voorbladberig uitmaak? Natuurlik: Die verhaal van Dawid en Batseba is 'n lekker sappige skande-storie. Dit maak die soort berig wat mense 'n koerant laat optel en koop om van ander mense se intiemste skandes te lees. 'n Berig oor 'n nuwe geloofsgemeenskap van gelowiges, vir wie gebid word dat hulle innerlike versterk word, dat Christus in hulle harte moet wees, dat hulle sal vasstaan in die liefde, dat hulle die omvang van God se liefde sal begryp en die volheid daarvan sal beleef, maak net nie dieselfde soort van sensasieberig nie! Dit klink asof hierdie 2 verhale niks met mekaar te doen het nie. Maar vanoggend se boodskap gaan oor albei hierdie berigte.

Woordbediening

Verootmoediging

Gebruik Psalm 14

 

diens van die tafel

By die nagmaalstafel (waarop die brood en die wyn gedek is, sigbaar, al word die nagmaal nie gevier nie)

Lees

Johannes 6:1-15 of verwys na vers 15 waarin Jesus mag van die hand wys. Gee geleentheid vir nadenke hieroor.

Sang

"Laat ons, Heer, u dood verkondig" Lied 299 of NSG 367, "U skenk ons deel … aan u bloed"(vers 3). Die liedere verwys na die lewensbrood (Joh 6) en bevat `n element van skulderkenning en begeerte tot omkeer. Alternatief: "U het die brood gebreek". NSG 370; Lied 253 is hier dalk minder paslik.

UITSENDING

Sang

NSG 380 / Lied 305: 1, 4. Vers 4 lui: "heilig ons steeds in u waarheid."

 

PREEKSTUDIE – 2 SAMUEL 11:1-15

Teks

Die verhaal van Dawid se owerspel met Batseba en die moord op Uria, moet gesien word teen die agtergrond van die outeur van die verhaal (Deuteronomis) se breër bedoeling. In die Ou Testament is alle geskiedskrywing ‘n herinterpretasie van gebeure wat in die verlede plaasgevind het, geskryf vanuit die geskiedskrywer se perspektief. Die Deuteronomis en die Kronis beskryf hoofsaaklik dieselfde gebeurtenisse. Tóg het elkeen ‘n eie perspektief en unieke geskiedskrywing van die gebeure. Só maak die Kronis geen melding van Dawid se groot sonde na aanleiding van sy owerspel met Batseba nie, terwyl die Deuteronomis nie skroom om ‘n hele hoofstuk daaraan te wy nie. Elkeen sou spesifieke redes vir hulle besluite gehad het. Daarom is dit belangrik dat die prediker sal verstaan watter rol die verhaal van Dawid en Batseba binne die breër bedoeling van die Deuteronomis se verhaal vervul het. Die Deuternomistiese geskiedskrywing is vanaf Deuteronomium tot 1 en 2 Konings (uitgesonder Rut), en beskryf Israel se geskiedenis in die beloofde land. Die verhaal eindig met die Babiloniese ballingskap, waardeur die Dawidiese dinastie en die tempel tot niet gemaak word. Die doel van die Deuteronomistiese verhalekompleks is om aan die bannelinge hulle geskiedenis te vertel, sodat hulle hul situasie in ballingskap kan verstaan; Hulle het hulle land verloor as gevolg van hulle sonde, hulle verbondsontrou en ook hulle afgodery. Die Deuteronomis wil die ballinge waarsku en oproep tot bekering en verbondstrou. Vir die doel bied die Deuteronomistiese verhalekompleks verhale van trou en voorspoed (Josua; die vroeë Dawid- en Salomo-verhale) om hulle aan te moedig tot nuwe en volgehoue toewyding, asook verhale van oordeel (Rigters; die verhale van die latere Dawid en Salomo; die ballingskap) om hulle aan te moedig tot bekering.

Die boeke 1 en 2 Samuel vertel hoe die koningskap in Israel ontstaan het. Dit fokus veral op Dawid. Dawid word afgespeel teen die sondige Saul, maar nadat hy owerspel en moord gepleeg het, gaan die verhaal van Dawid, die koningskap en die volk agteruit. Uiteindelik is die sonde van Dawid die keerpunt in Dawid se verhaal. As sodanig is dit ook hier waar die verhaal van Israel ‘n wending begin neem het. Dinge sou nooit weer dieselfde wees nie. Binne die Deuteronomis se groter verhaal, vertolk die verhaal van Dawid dus ‘n belangrike rol as deel van die motivering vir die uiteindelike ballingskap. Deist plaas 2 Samuel 11 binne die sogenaamde Dawidsiklus:

Inleiding (2 Sam 1:1-3:5)

Dawid word koning oor die hele Israel (3:6-5:5)

Dawid neem Jerusalem in besit en word sterk (5:6-25)

Dawid bring die ark na Jerusalem (6:1-12)

Dawid ontvang beloftes van God (7:1-29)

Dawid suksesvol na buite (8:1-10:10)

Dawid pleeg owerspel en moord (11:1-31)

Dawid misluk na binne (13:1-14:33)

Dawid word deur sy seun bedreig (15:1-23)

Die ark word uit Jerusalem verwyder (15:24-29)

Dawid verlaat Jerusalem en word gestroop (15:30-19:8)

Dawid word weer koning oor die hele Israel (19:9-20:26)

Slot (2 Sam 21:1-1 Kon 2:11)

Dawid maak ongelooflike opgang as koning van Israel. Herhaaldelik word melding gemaak van sy militêre sukses. Maar op die hoogtepunt van die verhaal is daar ‘n dramatiese wending: Dawid pleeg owerspel en moord. So word Dawid se geskiedenis ‘n geskiedenis van agteruitgang. Die verhaal erken Dawid vir sy politieke en militêre kwaliteite, maar staan uiters krities jeens sy morele kwaliteite. Deist reken egter dat die Deuteronomis uiteindelik juis hierdie negatiewe kant van Dawid gebruik om aan te toon waarom hy die ideale koning van Israel was. God se woord was en is in die geskiedenis aktief werksaam. Dit word bevestig deur die seën en die vloek van God oor gehoorsame en ongehoorsame optrede. Dawid het geluister na die waarskuwings van die profete en was geseënd. So ook Hiskia en Josia. Jerobeam en Agab en Jerobeam II en vele ander konings, het egter nie na die profete geluister nie en hulle het ondergegaan. Dit neem egter niks van die feit weg nie, dat Dawid se sonde sonder skroom deur die Deuteronomis ontmasker word. Skynbaar word niks weggesteek nie en Dawid se oortredings word ook nie versag om hom in ‘n beter lig te stel nie. Dit is eintlik aangrypend dat dieselfde verhalekompleks wat Dawid vereer as die ideale koning, bereid is om sy sonde onverbiddelik bloot te lê.

Alreeds die inleidingswoorde van 2 Samuel 11, plaas ‘n vraagteken agter Dawid se gedrag. Dawid verkies om in Jerusalem te bly terwyl hy vir Joab en sy soldate uitstuur "in die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak." Nadat Dawid die begeerlike Batseba vanaf die dak van die paleis sien bad, gebeur dinge vinnig. Dawid laat haal vir Batseba en hulle slaap saam. Batseba se enigste woorde in die Bybel is: "ek is swanger." Min woorde met ernstige nagevolge. Wat volg, is verskeie pogings van Dawid om sy sonde te versluier. Volgens die skrywer dra Dawid al die blaam. Batseba het niks te make met sy bose planne om vir Uria om die lewe te laat bring nie. Intussen veroorsaak Dawid se geslepe toesmeerveldtog dat daar ook ander onskuldiges aan die oorlogsfront sterf. Boonop maak Dawid van Joab ‘n medepligtige in sy misdaad. Wat begin het as begeerte op die dak, het nou buite beheer geraak. Telkens wanneer een probeerslag om sy sonde te versluier nie werk nie, probeer Dawid ‘n volgende, meer ernstige benadering. Sy planne word ‘n draaikolk wat vir Dawid dieper en dieper insuig, totdat dit die dood van ‘n onskuldige man meebring. Eers probeer hy vir Uria by sy vrou laat slaap, sodat dit die ongewenste swangerskap kan verbloem. Die eerbare Uria weier egter om by sy vrou te slaap wanneer Joab en Dawid se manskappe buite in die veld moet slaap. Dawid probeer onsuksesvol om vir Uria dronk te maak, om hom só by sy vrou uit te kry. Einde ten laaste stuur Dawid ‘n boodskap na Joab met die opdrag om vir Uria in die voorste linies te laat veg en skielik terug te val, sodat Uria sal sneuwel.

Konteks

Die verhaal van Dawid en Batseba is ‘n klassieke verhaal van magsmisbruik. Dit is opvallend hoedat preke binne die Amerikaanse konteks meestal aansluiting vind by die Watergate skandaal, of Bill Clinton se seks skandaal. Selfs artikels in die sekulêre pers het die twee skandale verbind met die verhaal in 2 Samuel 11. Die etiese vraagstuk na mag en die gebruik of misbruik daarvan, is so oud soos die berge. Predikers sal baat by die lees van etiese werke wat aansluiting vind by die vraagstuk oor mag. In dié verband kan Heyns se bande wat handel oor die teologiese etiek geraadpleeg word. Doing ethics in context: South African perspectives onder die redakteurskap van Charles Villa-Vicencio en John de Gruchy, bied ook waardevolle insigte. Helmut Thielicke se Theological Ethics: Politics, wy vyf hoofstukke aan die vraagstuk van mag. Hier word ‘n paar van sy gedagtes weergegee.

Nietzche het reeds probeer om die aard van mag in terme van die psigiese struktuur van die mens te verduidelik. Dit is begeerte wat die mens se soeke na mag bepaal. Nietzche wil wys hoe wellus na mag ontstaan. Volgens hom is liefde vir mag die "demoon van die mensdom" wat die mens aandryf tot ‘n "maksimale gevoel van mag." Nietzche sê dat die wil en die behoefte van die mens om mag te hê, só ‘n elementêre impuls is dat dit alle ander norme ondergeskik daaraan stel – dit wat goed, waar en mooi is.

Teleologies gesien, is mag die middel tot ‘n spesifieke doel. Maghebbers sal altyd hulle honger na mag verskans agter hierdie teleologiese perspektief. Buitendien, niemand sal vertroue hê in maghebbers wat openlik erken dat hulle ‘n suiwer smagting na mag het nie. Daarom, sê Thielicke, sal selfs die eenvoudigste maghebbers hulle volgelinge probeer bluf met oortuigende doelwitte, om die gebruik van mag te regverdig. Dit lyk inderdaad moontlik dat mag ‘n doel in sigself kan wees. Mag word ‘n middel tot die doel van bloot méér naakte mag. Voorbeelde van sulke maghebbery is volop in die geskiedenis van die mensdom. Slegs ‘n teologiese benadering, sê Thielicke, kan wys wat die finale doel of bestemming van mag is. Enige pogings om te begin by die voorlaaste doel of bestemming van mag, sal noodwendig eindig in die verabsolutering en afgodery van mag. Alleen God kan die absolute doel en bestemming van mag wees.

Mag as sodanig, is nie óf goed óf sleg nie. Mag as sodanig, is nie meer goddelik of boos as die seksdrang of tegnologie nie, sê Thielicke: "The one thing which remains constant in all the bewildering vicissitudes of the phenomenon of power is that the way man seeks, exercises, suffers, and understands power actually reveals his own nature and interests." ‘n Mens se houding jeens mag en die manier waarop ‘n mens mag gebruik, sê alles van jou as mens. Die werklike probleem is dus nie mag as ‘n soort mitiese entiteit nie, maar die mens wat in ‘n magsposisie is. Daarom is daar strukture en wette nodig waarmee mag ingeperk kan word. ‘n Teologiese perspektief kan mag ontworstel aan die uiteindelike misbruik daarvan. God alleen is die geldige bestemming van mag, sê Thielicke. Daarom is dit belangrik om na te dink en te preek oor die mag van God. Uiteindelik is dit vanuit so ‘n teologiese perspektief, dat dit duideliker word hoe mense met hulle mag werk.

Die konsep van God se mag, verskyn in die Bybel hoofsaaklik binne die konteks van God se mag oor die natuur en die geskiedenis. Die natuurpsalms, asook Job, praat van God se heerskappy oor die natuur. Dit is veral die profete wat verwys na God se leiding en oordeel as groot dade binne die geskiedenis. God se mag word altyd verstaan as gekwalifiseerde mag. Enersyds word dit verstaan as goddelike oordeel, en andersyds as God se vermoë om geduldig en genadig te wees. Thielicke sê: "Omnipotence in the sense of a neutral and purely dynamic overall power free of all values is an artificial abstraction which does not occur in the Bible." God se mag kan in die Bybel nooit klinies en onpersoonlik verstaan word nie. God se mag in die Bybel, is altyd ‘n instrument van persoonlike gesindhede wat aangetref word tussen die twee pole van oordeel en genade.

God se mag manifesteer nooit as blote mag insigself nie. God kan ook nooit gelykgestel word aan hierdie mag nie. God is altyd die genadige God, of die God van oordeel. In beide gevalle is God die Een wat Homself ondergeskik stel aan sy eie "verhewe gedagtes" (Jes 55:8, 9). Dit beteken dat God ‘n selfbeperking aan sy eie mag stel. God se mag is ondergeskik aan sy doel as Skepper en Verlosser. Hierdie doelwitte konstitueer die perke van God se mag. Beide die inperking en die uitoefening van God se mag ontspring vanuit dieselfde bron, naamlik liefde. Thielicke wys op drie vorme van die selfbeperking van God se mag.

Eerstens perk God se skeppingsmag sy mag in. God werk saam met die natuurwette. God veroorsaak dat ons lewens deur die biologiese wette van geboorte en sterfte bepaal word; die polariteit van verskillende geslagte, die wetmatigheid van historiese prosesse en verskeie ander strukture wat Hy in die kosmos vestig of toelaat. Tweedens perk God ook sy eie mag in deur die mens toe te laat om teenoor Hom te kom staan as ‘n persoon. Die mens word ‘n ruimte gegun waarbinne hulle keuses kan maak wat groot verantwoordelikheid verg. Die mens is die enigste skepsel wat deur God in die tweede persoon aangespreek word. Die res van die skepping is bloot die objek van God se skeppende woord. God perk sy beheer van die mens in deur die mens as ‘n persoon te skep: "One might say that in love God takes upon himself the risk of creating man" (Theilicke). Derdens, die belangrikste teologiese rede vir God se inperking van sy mag, naamlik dat die misterie dat God se karakter bestaan, Hom nie tot outeur van die wet maak nie, maar tot outeur van die Evangelie. Die wet maak aanspraak of vrees en hoop; vrees vir straf en die hoop op vergoeding of beloning. Die outeur van die Wet oefen mag uit en perk die mens se persoonsmatige karakter in. Gevolglik, sê Thielicke, word die mens deur die wet in twee geskeur. Enersyds kan die mens gehoorsaam wees uit vrees en hoop om so uiterlik ‘n goeie lewe te leef. Andersyds beteken dit dat die mens se hart nie noodwending werklik in so ‘n goeie lewe is nie (Matt 23:25-28). Terwyl die wet mag uitoefen deur aanspraak te maak op vrees en hoop, maak die hart van God aanspraak op die liefde. Deur van die mens ‘n objek te maak wat liefgehê kan word, wek God liefde op in die mens. As outeur van die evangelie, wil God ons harte (lees: liefde) wen. Hy weier om ons te oortuig met mag. Hy gee eerder sy Seun. Só laat Hy sy genade heers oor sy oordeel. "In short, he serves us in order to win us…Love too is power, unquestionably. But – it must be stated paradoxically – God’s love is the power of service which vanquishes the heart" (Thielicke).

Dit is nodig om laastens aandag te gee aan Thielicke se beskrywing van die magteloosheid van Jesus Christus. Die misterie van die liefde van God, word radikaal sigbaar in die bestaan van Jesus Christus en sy volledige aflegging van mag. Mag en liefde kan mekaar egter nie uitsluit nie. Net soos wat die twee nature van Jesus Christus nie geskei kan word nie, kan liefde en mag nie van mekaar geskei word nie. Ook kan liefde en mag nie verstaan word as ‘n sintese nie. Liefde en mag sal altyd paradoksaal op mekaar aangewese wees. Liefde is die fundamentele motief op grond waarvan mag uitgeoefen en beperk moet word.

Volgens Thielicke behoort Christene ‘n tweeledige perspektief op hulle eie mag te hê. Eerstens is daar die besef dat mag die opdrag het om as orde-skeppende krag die gevalle wêreld teen chaos te beskerm. Tweedens is daar die besef dat mag altyd toegeskrewe en gedelegeerde mag is, wat beteken dat persone gesag het op grond van die feit dat hulle daardie gesag ontvang het. Verder moet mag altyd beperk word deur dit te versprei en deur meganismes te ontwikkel waarvolgens mag uiteindelik uitgeoefen word, as verlengstuk van die geskiedenis en verhaal van God se liefde en genade.

Preekvoorstel

Dit sal goed wees indien die prediker nadink oor die gebruik van mag in sy/haar gemeente. Oor watter soort mag beskik die lidmate? Hoe meer konkreet die voorbeelde, hoe beter. Watter mag gee my finansiële posisie, eiendom, motor, sosiale status my? Is daar mag gekoppel aan my rol as man, vrou, ouer of stemgeregtigde landsburger? Watter soort mag oefen ek uit in die beoefening van my beroep? Is daar nog klasseverskille in die gemeenskap waarin die prediker preek en watter effek het die mag wat daarmee gepaardgaan op die gemeenskap? Watter vorme van mag word op die gemeenskap uitgeoefen, wat ‘n heilsame invloed op hulle het? Watter vorme van mag word op hulle uitgeoefen waardeur hulle verontmenslik word? Christene behoort bedag te wees daarop dat almal in hulle daaglikse lewens mag uitoefen. Die uitdaging is om krities daarvan bewus te wees en om hulle mag só uit te oefen dat dit meewerk aan die koms van die koninkryk van God.

Die prediker kan dit oorweeg om die preekteks (2 Sam 11:1-15) te preek binne die breër verband van Dawid se verhaal (2 Sam 11:1-12:13). Dit beteken egter dat volgende week se teks in die gedrang kom. Dit bied egter belangrike perspektiewe vir die prediking oor mag; die gebruik en misbruik daarvan. Dawid het sy mag as koning misbruik deur sy wandade herhaaldelik toe te smeer. Tóg was daar ‘n sisteem binne hierdie koning se heerskappy, wat hom tot verantwoording kon roep. Dit sê baie van Dawid dat hy dié soort koning was wat toegelaat het dat daar binne sy magsopset ruimte was vir ‘n profeet, om die koning se magsmisbruik te ontmasker. Daar was duidelik ‘n vertrouensverhouding tussen Dawid en Natan. Die Bybel leer dat Dawid beslis nie vir Natan benadeel het as gevolg van sy profetiese rol nie. Die Bybel vertel dat Dawid diep berou gehad het oor sy sonde (2 Sam 12:13). Dawid het ten diepste verstaan waar sy koningskap en mag wat daarmee gepaardgaan, vandaan kom. Dawid het sy magsposisie gesien teen die breër raamwerk van God se verbondsverhouding met die volk Israel. Dawid het gruwelik gesondig, maar het geloofsintegriteit aan die dag gelê deur homself as koning ondergeskik te stel aan God, wat by monde van die profeet uitspraak gelewer het oor sy magsmisbruik as koning. Dawid het verstaan wie eintlik die Koning is. Hy het homself onderwerp aan die Groot Koning en daarom word die sondige Dawid deur die Deuteronomis in ‘n goeie lig gestel.

Mag is dubbelsinnig. Dit is nie óf goed óf sleg nie. Die toepassing van mag, kan ook deur geen mens vrygespring word nie. Elke mens pas elke dag op die een of ander manier mag toe. ‘n Christen sal mag altyd hanteer vanuit die perspektief van die liefde – met die grootste verantwoordelikheid, sensitiwiteit en omsigtigheid. ‘n Christen sal ook altyd vra of die manier waarop hy/sy hulle mag gebruik, uiteindelik die liefde en die koms van die koninkryk dien. ‘n Christen sal ander mense en sisteme toelaat om hulle tot verantwoording te roep ten opsigte van die mag waarmee hulle toevertrou is. God is die enigste geldige bestemming van mag vir Christene. Hulle behoort hulleself altyd te verstaan as blote diensknegte wat toegerus is met net die nodige mag, sodat hulle dít kan vermag waartoe hulle geroep is.

Bibliografie

Bosman, HL et al (Reds) 1988. Old Testament storytellers; Deist, FE et al 1981. Van Eden tot Rome. Die verhaal, samestelling en skrywersperspektiewe van die vertelliteratuur van die Bybel; Hertzberg, HW 1964. I and II Samuel; La Sor, WS 1982. Old Testament Survey. The message, form, and background of the Old Testament; Thielicke, H 1969. Theological Ethics: Politics; Soards, M. ed.al. 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year B. After Pentecost 1; Van Zyl, D 2001. Spreek, Here! ‘n Selfsoek-hulpboek om God se stem in die Ou Testament te hoor.