SONDAG 20 JULIE 2003

vyfde sondag in koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: 2 Samuel 7:1-14a

Ander tekste: Psalm 89:20-37, Efesiërs 2:11-22, Markus 6:30-34

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Daar is n verbintenis tussen die Samuel en Efesiërs teks. Die liturgie word diensbaar gestel hieraan om aan te toon dat die Kerk van Jesus Christus die heilige tempel van God is. Die fokusteks handel oor Dawid se wens om vir God n huis te bou en die Here se reaksie daarop. Begin daarom die erediens met die Taize lied, Lied 526, deur dit in Afrikaans, Latyn en weer in Afrikaans te sing. Moenie dit verduidelik nie, laat die lied toe om nou reeds subtiel iets te suggereer van die fokusteks. Gebruik dieselfde lied later as slotsang.

Aanvangswoord/Votum

Lees Markus 6:32-34 om daarmee n verwagting te skep dat ook iets van hierdie gebeurtenis vandag in die erediens waar sal word. Dit is vanweë God se grenslose deernis met ons dat Hy in Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees na ons toe gaan kom. Sing hierna Lied 163/NSG 40 twee keer .

Aanbidding en Lofliedere.

Laat die sing van hierdie liedere vooraf gegaan word deurdat iemand Efesiërs 2:17-22 hardop lees of selfs deur die hele gemeente. Sing dan van die volgende liedere: Psalm 84,Psalm 100, Lied 159/NSG 343,Lied 475 en Lied 488/NSG 19

DIENS VAN DIE WOORD EN DIENS VAN DIE TAFEL

Omdat vandag se tekste ons veral laat nadink oor die teenwoordigheid van God by ons, sou dit baie gepas wees om ook die nagmaal te vier. Wys veral op die woorde in die formulier wat dui op die teenwoordigheid van Christus deur sy Heilige Gees in die tekens van brood en wyn. Gebruik die basisvoorstel.

Die basisliturgie wys ons baie daarop dat koninkrykstyd ons herinner aan Jesus se voortgaande en vernuwende werk deur sy Heilige Gees. Vandag se tekste bring dan ook koninkryk en kerk nader aan mekaar. Dalk kan hierdie gebed gebruik word aan die einde van die nagmaalsviering :

"Here, aan U behoort die koninkryk

U is my toevlug

My beskutting in alle gevaar

My vrede in alle stryd

die muur wat my beveilig

die burg waarin ek skuil

die deur wat my insluit.

Aan U behoort die koninkryk

Wie kan my bedrieg?

Here, aan U behoort die koninkryk

U is naby

as ek my inspan en nie weet waarvoor nie.

My moeite lewer vrug

Deur U, al sien ek dit nie.

Aan u behoort die uur van spel,

Aan U die betowering van skoonheid,

Aan U behoort die koninkryk.

Here, aan U behoort die koninkryk.

U skilder n beeld

van u komende heerskappy my voor.

U sal my die sin toon

Wat ek met bewing gesoek het,

Die sin van die stryd en die trane.

U toon die beeld van u vrede,

En ek dank U.

Aan U behoort die koninkryk.

Here, U is die doel van my weë,

Ek soek u koninkryk.

Gee my hier op aarde reeds n teken.

Maak my n toevlug

vir vrede en goedhartigheid,

vir spel en skoonheid,

en laat my teen die wanklank van die haat

my danklied sing.

Ek dank U dat die koninkryk aan U behoort.

Amen"

( Aangehaal uit "Pad na die gebed" van Jorg Zink bl.223)

Soos vroeër aangedui word Lied 526 weer gebruik as slotsang.

preekstudie 2 Samuel 7:1-14

Inleidende opmerkings oor 1 en 2 Samuel

Omrede hierdie die eerste teks in die reeks tekste uit 2 Samuel is vir die volgende Sondae, net enkele opmerkings. Samuel speel nie die belangrikste rol in die verhale wat deel uitmaak van die twee boeke nie. Die skrywer van die boeke is onbekend. Die boek Kronieke bevat n opmerking dat die profete Natan en Gad die hele geskiedenis van Dawid opgeteken het (1 Kron 29:29). Verder verwys 2 Samuel 1:18 na die "Boek van die Opregte". Dis moontlik dat hierdie geskrifte as grondslag vir dele van die boek kon gedien het, maar na alle waarskynlikheid het verskeie mense oor n lang tydperk daaraan gewerk.

Aangesien die meeste van die verhale die lotgevalle van Saul en Dawid behandel, word hierdie twee boeke in die Septuaginta (ou Griekse vertaling) en die Vulgata (ou Latynse vertaling) 1 en 2 Konings genoem. Wat ons as 1 en 2 Konings ken, word daar 3 en 4 Konings genoem. Die verhale oor die opkoms van Dawid en hoe hy uiteindelik koning word, word in 1 Samuel 16 tot 2 Samuel 5 vertel. Hierdie verhale begin met die salwing van Dawid as koning (1 Sam 16) en loop uit op die kroning van Dawid (2 Sam 5). In teenstelling met die ongehoorsame Saul word daar van Dawid as oorwinnaar opgemerk dat hy gedoen het soos die Here gesê het (2 Sam 5:25). Hiermee beklemtoon die verteller dat Dawid se voorspoed die gevolg was van sy gehoorsaamheid aan die Here.

Makrostruktuur

Samevattend lyk die makrostruktuur van 1 en 2 Samuel soos volg:

1 Samuel 1-7 Samuel en die ark

1 Samuel 8-12 Samuel en Saul / Ontstaan van die monargie

1 Samuel 13-15 Saul se ongehoorsaamheid

1 Samuel 16 Ondergang van ongehoorsame Saul en opkoms van

2 Samuel 5 gehoorsame Dawid

2 Samuel 6-8 Oorgang

2 Samuel 9-20 Rampspoed vir ongehoorsame Dawidshuis

2 Samuel 21-24 Afsluiting van Dawid se regering

Belangrike motiewe in 1 en 2 Samuel

Eerstens kan daar gelet word op die verkiesing en verhoging van onaansienlikes en die verwerping en vernedering van die aansienlikes ("die boog van die magtiges is verbreek, die wat gestruikel het, het nuwe krag gekry" 1 Samuel 2:4. "Die Here maak arm en Hy maak ryk, Hy verneder, ook gee Hy aansien" 1 Sam 2:7). Samuel se moeder is gespot en verneder (1 Sam 1:6); Saul kom uit die kleinste familie van die swakste stam in Israel (1 Sam 9:21); en Dawid is die jongste van agt seuns wat ten tye van sy salwing skape opgepas het (1 Sam 16:11).

Daarby ontstaan daar periodiek konflik tussen die verhoogde onaansienlikes (bv. Samuel en Dawid) en die vernederde aansienlikes (bv. Eli se seuns en Saul). Hier tree nog n belangrike motief na vore, want die vernedering en verwerping van die aansienlikes spruit voort uit hulle ongehoorsaamheid. Die omgekeerde is ook waar: die verhoogde onaansienlikes word deur gehoorsaamheid aan God gekenmerk.

Dawid

In al vier die tekste wat volg, handel dit oor Dawid. Dawid was n persoon met uiterste kenmerke, daarom is daar iets van elkeen van ons in hom te bespeur. In so n sin is hy wel n voorbeeld, nie vir ons nie, maar van ons. As ons lewe dan soos die van Dawid lyk, kan ons vra: "Maar waarom word hy dan so in die Bybel aangeprys?" As hy ten spyte van sy growwe sondes vergifnis kon vind, dan is daar sekerlik hoop vir iemand soos ek!

Die Bybel stel dit duidelik dat Dawid se lofwaardigheid nie voortspruit bloot uit sy goeie hoedanighede nie. Hy word aangeprys omdat hy aan God vasgehou het in die oomblikke van sy grootste sukses, maar ook in die oomblikke van sy diepste sondes. Dit maak hom die voorbeeld wat voorgehou word. Want vir hom het dit gegaan om die herstel van die verhouding met God ongeag die gevolge daarvan, en nie maar net om n goedkoop vergifnis nie. Telkens moes hy ook die gevolge van sy dade dra. Die feit dat hy verhinder is om die imposante tempel te bou, en die spanning en bloedvergieting in sy eie huis, is alles die uitvloeisel van sy donker dade. In hierdie lig is Dawid iemand by wie geleer word hoe daar met sonde en sukses omgegaan moet word. Sy lewe word n les dat vroomheid op sigself geen maklike waarborg vir die vermyding van sonde is nie. Dit gebeur alleen wanneer die vrome homself dag na dag opnuut aan God wy en Hom dien as Heer en Meester.

Inleiding

2 Samuel is moontlik geskryf tydens die bewind van Salomo, hoewel dit beslis op n latere stadium weer oorgewerk is. Die kernvers van 2 Samuel vind ons in 5:12: "Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en dat die Here Dawid se koningskap in hoë aansien gebring het ter wille van die volk Israel".

2 Samuel 6-8 bestaan uit losstaande oorlewerings wat n oorgang vorm tussen die verhale oor hoe die gehoorsame Dawid koning geword en voorspoedig geregeer het (1 Sam 16 tot 2 Sam 5), en die beskrywing van hoe Dawid se latere ongehoorsaamheid rampspoed vir sy koningshuis veroorsaak het (2 Sam 9-24). 2 Samuel 7 sou kronologies beter gepas het na hoofstuk 8, waarin van Dawid se oorloë en oorwinnings beskryf word. Nietemin, Natan se voorspelling verduidelik waarom Dawid nie die tempel mag bou nie (2 Sam 7:12-13) en bied die versekering dat Dawid se koningshuis vir altyd sal voortbestaan (2 Sam 7:16).

Perikoopafbakening

Die Leesrooster tekskeuse van 7:1-14 is baie vreemd. n Baie meer sinvolle afbakening sou 7:1-17 en 7:18-29 wees. In 7:1-17 kry ons die belofte van God aan Dawid, van n dinastie (koningshuis), en in 7:18-29 vind ons een van die mooiste gebede van Dawid, as reaksie op God se beloftes.

Mikrostruktuur

I. Die Dawidiese verbond (7:1-17)

a. 7:1-3 Dawid bly in sy eie huis en wil vir die Here n "huis" bou.

b. 7:4-7 Die Here soek nie n "huis" nie.

c. 7:8-11a Die Here se sorg in die verlede.

d. 7:11b-16 Die Here se belofte van sorg in die toekoms.

- Die Here sal vir Dawid n "huis" bou.

e. 7:17 Slotwoord

II. Dawid se gebed (7:18-29)

Teks en konteks

2 Samuel 7:1-17 word as die teologiese hoogtepunt van die Samuel boeke en die Deutronomistiese geskiedwerk (Deut 2 Kon) beskou. Dit het ook n bepalende invloed op die res van die Ou Testament en selfs die Nuwe Testament uitgeoefen. Brueggemann beskryf die verhaal as die dramatiese en teologiese kern van die totale Samuel korpus, een van die mees bepalende tekste in die Ou Testament vir evangeliese geloof. Die Dawidiese verbond word pragtig weergegee in die woorde van een van die kommentare: "This unconditional promise may be one of the very reasons why Israels tradition endures. Exile to Babylon came as a particular challenge to Israels faith. Seemingly, nation, king, Temple, and national identity had been swept away. The retelling of Davids story by the deutoronomistic historian in exilic times offered the chance to reclaim this promise and reaffirm that God is never finished with this commitment to David and to Davids line. The promise holds and offers a constant basis of hope to Gods people."

Die meeste verklaarders lê die gedeelte Christologies uit, en word die beste saamgevat deur een van die Engelse verklaarders: "The early Christian church saw Jesus in the light of this promise. The claim that Jesus was born in the line of David and thus inherits Gods promise to David is not casually made. Jesus was seen as the Messiah, Gods anointed one, announcing a kingdom of God with transforming power in this world. In the church today it is coupled with the Gospel reading of the annunciation to Mary (Luke 1:26-38) to indicate the churchs recognition of continuity between Mary, the mother of Messiah, and David, the father of the messianic line. The angel Gabriels announcement is, in part, a reaffirmation of the everlasting promise to David (Luke 1:31-33)."

Verskillende preke

H.F.Kohlbrugge deel sy preek in drie hoofdele met die volgende onderafdelings:

1. Jesus Christus is die Boumeester. Dawid wou n huis bou, maar God gee die taak vir Salomo. Salomo, wie se naam afgelei is van die woord "vrede", is in twee opsigte die voorloper van Jesus. Hy was boumeester en vredevors. Jesus is die eintlike Vredevors en die eintlike Boumeester wat deur die Dawidiese Verbond belowe is en Hy is n ewige Boumeester. Vandag nog bou Hy mense se lewens.

2. Jesus bou n huis vir ons by die Vader. Dit sal vir ewig staan en aan ons die moontlikheid gee om vir ewig by God te kan woon.

3. Jesus het die huis gebou, nie in die eerste plek vir ons nie, maar vir die Naam van die Here. In Kohlbrugge se eie woorde: "Die huis wat Hy gebou het, word dus genade en barmhartigheid genoem. In dié huis word is alle verlostes veilig en geborge bewaar deur hierdie Boumeester, en daar verkeer hulle saam met Hom" (Vertaal).

A.V. de Nooij gebruik die preek vir n Kersdiens en deel sy preek in twee hoofdele in:

1. JHWH is n Trek-God wat nie n vaste huis nodig het nie.

2. JHWH is die beskermer van David se huis tot in ewigheid.

Hy lê in sy preek baie klem op die tweede gedeelte. God is getrou aan sy beloftes omdat sy Seun gebore is. Hy word by uitstek gepreek as die Messias, as die koning van die komende Vrederyk. Hy sluit sy preek af met die vraag: "Hy wat by uitstek die seun van Dawid is, is self die hoof van die gemeente, wat die huis van Gods is. Mag ons sê dat die voortbestaan van die gemeente teken is van God se trou deur die eeue heen?"

Preekvoorstel

As ek oor dié gedeelte moet preek, sou ek by die struktuur van die Skrifgedeelte wou aangehaak.

Inleiding

Ek het die film "Crocodile Dundee" baie geniet. In een van die tonele stap die akteur in New York saam met sy meisie, toe daar skielik uit die skadus n bende boewe op hulle afspring. Een van hulle het n redelike groot knipmes voor Dundee se gesig gehou en hom beveel om alles wat hy het aan hulle oor te gee. Heel kalm het Dundee sy mes agter sy rug uitgehaal en sê: "Thats not a knife this is a knife!" Toe hy sy massiewe mes te voorskyn bring, het die bende net een kyk daarna gegee, en laat spaander.

Die Skrifgedeelte het my aan die toneel laat dink. Dawid wil vir God n huis bou, maar dan is dit asof God, met respek gesê, vir Dawid sê: "Jy dink jou planne om vir My n huis te bou is groot en indrukwekkend, wag tot jy my planne vir jou huis hoor."

7:1-3: Dawid se plan om vir God n huis te bou

Dawid het ver gevorder van die dae toe hy nog skape opgepas het. Hy het die meeste vyande van Israel verslaan, sy eie paleis klaar gebou, en nou kan hy sy aandag aan ander dinge wy. Na die eerste poging gefaal het, staan die ark van die Here uiteindelik in Jerusalem, binne in n tent. Vir Dawid was dit nie reg nie. Hoe kon hy in n pragtige huis bly, terwyl God se ark in n tent moes wees. Hy deel sy plan met Natan om vir God n meer permanente huis te bou, en Natan, sonder om God te raadpleeg, sê dit is reg.

7:4-7: Visie en hervisionering

Vers 4 is aangrypend. Die verteller wil graag n gevoel van verwagting by sy lesers skep: "Dieselfde nag het daar egter iets gebeur" Na die nag waarin die woord van die Here tot Natan gekom het, besef hy dat God Dawid se planne afkeur; Dawid se visie word deur God gehervisioneeer. Peterson stel dit so: "Daar is tye dat ons groot menslike planne om iets vir God te doen, na n nag se gebedsworsteling met God, geopenbaar word as n groot menslike afleiding van dit wat God besig is om vir ons te doen. Dit is presies wat Natan daardie nag besef het: God het vir Natan gewys dat Dawid se bouplanne vir God, sal inmeng met God se bouplanne vir David" (Vertaal).

Eksegeties is dit belangrik om op te let dat Dawid in verse 1-3 "koning" genoem word, maar wanneer God met Dawid praat, word hy as "My dienskneg" aangespreek. Dit is asof God vir Dawid n nuwe visie wil gee van wie Hy werklik is. Al lyk die tent vir Dawid minderwaardig, is God groter as geboue. Al is Dawid die koning, is hy in vergelyking met God, net n dienskneg. n Belangrike vers uit die Nuwe Testament wat hier aan die orde moet kom, staan in Handelinge 7:44-50: "Ons voorvaders het die tent met die getuienis by hulle in die woestyn gehad. Moses het dit op bevel van God gemaak volgens die voorbeeld wat hy gesien het. Die volgende geslag het die tent ontvang en dit saamgeneem toe hulle onder leiding van Josua die land in besit geneem het waaruit God die inwoners voor ons voorvaders uit verdrywe het. Dit het daar gebly tot die tyd van Dawid. God was vir hom goed, en Dawid het gevra om toegelaat te word om vir God n tempel te bou vir gebruik deur die nageslag van Jakob. Maar dit was Salomo wat die tempel gebou het. God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie. Soos die profeet dit stel: Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here. Watter soort huis sal julle tog vir My bou of watter plek as my rusplek? Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie?" Hier maak God dit duidelik dat geen gebou Hom kan huisves nie.

In 2 Samuel 7:6 en 7, gee God twee redes hoekom Hy nie n gebou nodig het nie. Vers 6: Sy sorg het nog nooit van die tabernakel afgehang nie en, vers 7: Hy het nie gevra vir n gebou nie.

7:8-11a: God se sorg in die verlede

Peterson sê: "Die boodskap wat Natan vir Dawid bring, word beheers deur n voordrag van wat God gedoen het, steeds doen, en in die toekoms gaan doen. God is die eerste-persoon subjek van drie en twintig werkwoorde in hierdie boodskap, en hierdie werkwoorde dra die handeling. Dawid, oorweldig deur die planne van wat hy vir God gaan doen, word nou aan n intensiewe kleedrepetisie onderwerp, van wat God reeds gedoen het, tans besig is om te doen, en nog beplan om in die toekoms te doen" (Vertaal).

Wou Dawid dalk vir God n huis gebou het om sodoende vir God n helpende hand aan te bied? In die verse word Dawid herinner aan wie nou eintlik vir wie sorg. God herinner Dawid daaraan dat Hy die een is wat gesorg het. Die werkwoordvorm verander in vers 10. Waar dit aanvanklik in die verlede tyd was, verander dit nou na die toekomstige tyd. Hier sê die Here amper iets soos: "You aint see nothing yet". Efesiërs 3:20 stel dit goed: "Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink".

7:11b-16: Die Dawidiese verbond.

Hier lê n geweldige gedeelte en dit moet die klem in die prediking ontvang. Die Here praat nou weer oor die hele huisbou kwessie. Nee, sê die Here, dit is nie jy wat vir my n huis gaan bou nie, maar jou seun. In die naam van Dawid se seun Salomo, hoor ons die woord "shalom" - vrede. Later sou die groot Vredevors kom wat al die beloftes sou laat waar word. Groter as die "huis" belofte is die belofte van die koningskap n ewige koningskap. Die vraag is hier: Wanneer het hierdie beloftes waar geword? Dit lyk vir my dat ons hier Christologies sal moet begin dink. Van die beloftes het wel in Dawid se tyd waar geword, maar die feit van Jesus Christus se ewige heerskappy, as nakomeling van Dawid, is ook hier ter sprake. Johannes 14:1-14 kan ook hier betrek word.

In vers 14 vind ons ook die wonderlike belofte dat Salomo vir God soos n seun sal wees. Daar is baie geskryf oor die betekenis van verse 14 en 15. Ek verstaan dit so dat God in liefde "sy seun" sal tugtig as dit enigsins nodig sou wees. Deur die vers word God se liefde beklemtoon.

Slot

"Om God se ewigdurende belofte aan Dawid vandag in hierdie teks te lees, is om herinner te word aan die wortels en die uitdaging van ons messiaanse hoop. Om te vertrou op God se belofte aan Dawid en om te beweer dat Jesus in die geslagslyn van daardie belofte gebore is, is om God se werk te verstaan as n eindelose betrokkenheid by die kwessies van geregtigheid en mag, wat gekonfronteer moet word ter vestiging van die koninkryk van God in elke nuwe tydvak. In die lig van hierdie Bybelse belofte, moet die kerk haar eie geloof verstaan as n eindelose betrokkenheid by dieselfde werklikhede" (Vertaal).

Lesse om te leer

Ons hoef nie vir God n helpende hand te gee nie. Hy is God en niks of niemand kan Hom in n gebou vasvang, of in n definisie nie. Hy is groter as wat ons ooit kan dink of droom. Hier lê tog ook n groot waarskuwing. Ons kan so maklik besluit om dinge te doen omdat dit vir ons lofwaardig en selfs God vererend lyk en klink, sonder om God te raadpleeg. Natan keur Dawid se planne goed sonder om God te raadpleeg. Gebed bly die voorloper van elke plan wat die mens (en veral die kerk) bedink.

God se heerlikheid lê nie in strukture (n eie huis) of getalle of meetbare suksesse nie, maar in God self: "Gods glory is to be found where God is present." God se sorg is altyd meer as wat ons vra. Dit is nie ons wat vir onsself of vir God sorg nie. Dit is nie ons wat die kerk aan die gang hou en die wêreld n beter plek maak nie, dit is en bly God.

Hierdie sorg van God is die duidelikste in sy beloftes wat almal waar geword het. Soveel so dat Hy selfs sy woonplek in ons gemaak het deur sy Heilige Gees (1 Kor 3:16). Sy Seun, die Vredevors, regeer vir ewig. In die tyd waarin ons leef is dit n geweldige troos.

Bibliografie

Woord en Beweging, 1984, Kampen: H.J. Kok; Kohlbrugge, H.F. 1991. De Beloofde Christus. Kampen: Uitgeverij de groot Goudriaan; Brueggemann, W. 1990. Interpretation: A Bible commentary for Teaching and Preaching. John Knox Press. Loader, J.A. (red) 1987. Vertellers van die Ou Testament. Hertzberg, H.W. I & II Samuel. SCM Press. Mauchline, J. 1 and 2 Samuel: New Century Bible.