Ander tekste: Psalm 24 ; Efesiërs 1:3‑14;
Markus 6:14‑29
Hierdie
goed geïntegreerde teks vertel die verhaal van die baie belangrike gebeurtenis
in die lewe van Dawid en die volk Israel, toe die ark van die Here na Jerusalem
gebring is. Dit bestaan uit drie
komponente: die eerste mislukte poging om die ark na Jerusalem te bring; die
tweede geslaagde poging en die gesprek tussen Dawid en sy vrou Migal. Retories is daar 'n mate van teenstelling
tussen die eerste twee: die kultiese motiewe in die tweede is heelwat meer
uitgebrei as in die eerste. Maar veral
Dawid se reaksies val op: as gevolg van die tragiese dood van Ussa kry hy so 'n
ontsag vir die teenwoordigheid van God dat hy die ekspedisie afstel. In die tweede is hy die voordanser en die
figuur wat al die aandag trek. Die
derde toneel, wat 'n antiklimaks skyn te wees, Migal se reaksie, dien juis om
die posisie van Dawid, en in besonder sy aanstelling deur God, te beklemtoon.
As ons na
hierdie teks op die historiese gebeure-vlak kyk, sien ons waar Dawid op die
hoogtepunt van sy koningskap sy posisie met 'n slim, maar gewaagde
(Brueggemann), skuif verseël. Op
politieke vlak het hy pas die hoogste sport wat iemand ooit in Israel bereik
het, bereik: hy het die twaalf stamme tot eenheid saamgesnoer. Met slim diplomasie teenoor die binnelandse
teenparty, die huis van Saul en met militêre vernuf teenoor die buitelandse
bedreiging, die Filistyne, konsolideer hy sy posisie (1 Sam. 5). Op sosiale gebied bring dit verrykende
gevolge, al staan dit nie eksplisiet in die teks nie. Israel word van 'n losse stammefederasie (Saul was nooit veel
meer as die koning van sy eie stam nie) omvorm tot 'n internasionale moondheid,
die hoogste piek wat die volk ooit sedert Abraham tot vandag toe, bereik
het. Die werklike sosiale implikasies
in terme van 'n burokrasie en 'n onderdrukte en uitgebuite landelike
werkersklas sou eers in die tyd van Salomo sy volle en katastrofale
konsekwensies bereik. Van belang is
egter wat Dawid op godsdienstige gebied doen, dit waaroor ons teks gaan: deur die ark, wat die‚ simbool van die
teenwoordigheid van Jahwe by sy volk was, na sy persoonlike hoofstad te bring,
verskaf Dawid Goddelike sanksie aan sy posisie. Dat dit eers nie slaag nie was nie sy toedoen nie. Hiermee "annekseer" hy ook die
godsdienstige simbool van die noordelike stamme – die vroeëre verhale van die
ark rondom uittog, intog en in die begin van Samuel is almal Noordelike
stamme-verhale.
Die
volgende tradisie-momente in die vorming van die verhaal verdien ons aandag.
Tradisies
rondom die ark as simbool van God se teenwoordigheid (Eks. 25:10-25; 40:34-38
ens). Die ambivalensie rondom die ark,
naamlik dat dit oordelend en seënend teenwoordig is, en wat in vroeëre
arkverhale reeds voorkom, vind in ons teks besondere klem (Ussa teenoor
Obed-Edom).
Kultiese
tradisie, bes moontlik beïnvloed deur die jaarlikse fees waar die ark
seremonieel weer in die tempel geplaas is (wat Mowinckel die troonbestyging van
Jahwe genoem het, vgl Ps 24). Die
beskrywing van die optogte en die kultiese elemente in die teks reflekteer iets
hiervan.
Tradisies
rondom Dawid: sy besondere piëteit (sy vrees in v 9 teenoor sy fees in vv
13-15), dat hy deur Jahwe as koning verkies is (Migal-episode) en die
legitimasie van Jerusalem as nasionale en godsdienstige hoofstad (v 17). Hierin lê reeds die wortels van die
Dawid-Sion-teologie.
Die teks
soos dit voor ons lê weerspieël 'n duidelike Deuteronomistiese perspektief. Dit vorm die hoogtepunt van die verhaal van
Dawid se opgang tot die ideaalkoning (1 Sam 16-2 Sam 7). In hom is die voorgeskiedenis van
individuele leierskap afgelos (v 21; Rig; I Sam 1-15). Die res van die verhaal in die Konings-boeke
ontvou van hier uit: Dawid word die grondlegger en norm van die
koningsgeskiedenis. Die sentrale
deuteronomistiese motiewe van verkiesing, en van oordeel en seën vind ook
uitdrukking in ons teks.
Hierdie
teks kan vanuit verskillende hoeke benader word:
Kultiese hoek: Ons het gesien dat daar prominente kultiese
momente in die teks is. Die ark is
simbool van God se teenwoordigheid, maar dit is 'n ambivalente realiteit. Wie op onrespekvolle wyse met die simbool
omgaan, ondervind die oordeel van God.
Oor waarin Ussa se vergryp (v 7) bestaan het kan ons, maar behoort ons
nie te spekuleer nie. In die vorige
geskiedenisse van die ark, waar dit as 'n soort magiese wonderwerker hanteer
is, het dit soortgelyke gevolge gehad (1 Sam. 4 en 5). Andersyds is dit instrument van God se seën
(v 10). Waar God teenwoordig is behoort
daar fees gevier te word, daar is dit erediens (v 12-19). Die motief hier is dus: "vrees óf fees
in die teenwoordigheid van God".
Nuwe-Testamenties is daar ander simbole van die teenwoordigheid van
God. Hiervan is die vleesgeworde Woord,
Jesus Christus die kern. Kontak met Hom
kan ook oordeel/vrees of lewe/fees tot gevolg hê (Joh. 1:9-14, 3:16-18). In ons gereformeerde tradisie is die Bybel
en die sakramente van nagmaal en doop die kultiese simbole van God se
teenwoordigheid, deur die werking van die Heilige Gees. Die teks vra na ons omgang daarmee.
Teologiese hoek: Hier sou 'n mens na die bestaan van die
volk van God en haar verhouding met God en hoe dit uitdrukking vind, kon
kyk. Die besondere van die teks is dat
dit op een van die groot draaipunte in heils-historiese perspektief lê
godsdienstig, sosiaal en polities. In
die teks is die funksie van die ark, die posisie van aanbidding in Jerusalem en
die rol van Dawid belangrik. Die
radikale en essensiële veranderinge wat dié‚ groot heils-historiese draaipunt,
die kruis en opstanding van Christus aan die verhouding gebring het, moet in
ons interpretasie meespreek: aanbidding is nie meer volks- (nasionaal-polities)
of plek- (Jerusalem/tempel) gebonde nie.
Ideologiese hoek: Daar kan ook op 'n meer sosiaal
maatskaplike vlak na die gebeure en die verteller/Deuteronomis se perspektief
daarop gekyk word. Ideologie het te
doen met die verwysingsraamwerk waarbinne mense dinge doen of daaroor
dink; (met) die raamwerk verskaf
(hulle) die motivering, en regverdiging vir wat hulle doen. 'n Mens se motief word besonder betekenisvol
(en potensieel gevaarlik!) as dit religieus gelade raak: as daar op goddelike
sanksie vir jou optrede of die posisie wat jy inneem aanspraak gemaak kan
word. Vergelyk maar die teologiese
motivering vir apartheid, en die aanspraak op "God aan die kant van die
armes" in die bevrydingsteologie/stryd.
Deur die
ark na Jerusalem te bring, verbind Dawid vir God en al die godsdienstige
tradisies aan sy nuutgestigte sosiale en politieke orde. Dawid annekseer as 't ware God en legitimeer
so sy eie posisie en sy ryk. Hiermee lê
hy die basis vir die (ideologiese) regverdiging van die nuwe orde. As 'n mens Gottwald (Tribes of Jahweh) se
rekonstruksie van die sosiale orde in die Rigterstyd lees en die radikale
veranderinge wat die koningskap onder Dawid en Salomo in die gemeenskap te weeg
gebring het, besef jy die implikasies van die gebeure wat in ons teks vertel
word. Volgens hierdie wyd aanvaarde
siening het hulle Israel se sosiale orde van stamstruktuur waar daar geen ryk
of arme, heerser- of arbeiderklas was nie tot 'n klasgebasseerde monargie met
'n stads- en tempel gesentreerde ekonomie omskep. Die Deuteronomis versterk die ideologiese dimensies met die
manier waarop die verhaal opgebou word: Hier word Dawid se sosiaal-politieke
orde Goddelik gesanksioneer. In 2
Samuel 7 word sy posisie en daarmee sy huis (dinastie) gesanksioneer. Die Deuteronomis se perspektief is: Die orde
wat ons het (die monargie), is God se orde; dat dit nie gewerk het nie (di. tot
ballingskap gekom het) is die gevolg van die sonde van konings wat "nie
gewandel het in die weë van hul vader Dawid nie" (bv. 2 Kon 14:3, 16:2). As ons nou so 'n bietjie afstand van Dawid
kon neem en met 'n bietjie suspisie na die teks begin kyk (dit is tipies van
ideologie-kritiese interpretasie!), kan dit ons hopelik help om ook 'n bietjie
afstand van ons eie strukture en ordes in die kerk, en van die kerk (en
kerkleiers) se rol in die samelewing, te kry.
Maar meer
nog: Ideologie-kritiek leer ons ook om
telkens te vra na die ander (agter-) kant van die saak wat so mooi geteken
word. Wat was die werklikheid van hulle
oor wie hier getriomfeer word, die Filistyne, die huis van Saul en die
noordelike ryk (landelike arbeiderklas) in besonder? Hier lê die wortels van dit wat tot rebellie en eindelik tot val
van die orde gelei het (1 Kon 12). As
ons leer om uit hulle hoek, die hoek van die "ander" na Dawid en die
gebeure in die teks te kyk, kan ons dalk opnuut na onsself ook kyk. As ons uit hulle wat in die donker staan se
hoek kan kyk, sien ons dalk in onsself, in die kerk se strukture of leiding of
beleid (ideologie), 'n paar nare skadukolle raak. En dan kan ons dalk ons prediking op hulle vlak en behoeftes rig,
eerder as om "vir hulle te préék".
In
aansluiting by die verskillende gesigshoeke wat pas bespreek is kan die
prediker enige van die lyne kies of dit na eie goeddunke kombineer:
Vanuit 'n kulties-liturgiese hoek kan in 'n preek
oor die erediens en die simbole van God se teenwoordigheid gefokus word op die
tema van "vrees of fees in die teenwoordigheid van God".
As
inleiding: Hoe maak 'n kind as oupa kom kuier? Daar is egte vreugde, genieting
en verlustiging in sy teenwoordigheid (fees), maar hy is nie maar 'n
speelmaatjie nie (respek). Dit is die
gelowige se lewe, en die erediens in besonder: 'n ontmoeting met en belewing
van die teenwoordigheid van God.
En God het
dit goed gedink om simbole van sy teenwoordigheid te gee. Hier kan van die stories rondom die ark
oorvertel word (Eks 25:10-22; 40:1-3,34-38; Num 10:11-12,33-36; Jos 4,6,7; Rig
20:26-28; 1 Sam 3,4,5,6). Gebruik die
tweërlei motief daarin en in 2 Samuel 6: waar die ark nie met die nodige respek
behandel word nie, waar dit as magies en effektief in sigself hanteer word, is
daar katastrofale gevolge. Tog is dit
nie God se bedoeling nie, dis juis bedoel om seën te bring, omdat Hy self
teenwoordig is.
Aspekte wat
aandag kan kry is die teenwoordigheid van God in die erediens, en in besonder
die rol van die simbole van sy teenwoordigheid. Hier kan die Bybel, en mense se houdings ten opsigte van die
boek, ter sprake kom. Die sakramente en
hoe daarmee omgegaan kan word vind hier besondere betekenis, juis omdat die
aksent op sy teenwoordigheid daarin belig word (Mat 26:26-28). Ook die "onwaardige " gebruik van
die nagmaal (1 Kor 11), en insgelyks van die doop, kan betekenisvol ter sprake
gebring word.
Vanuit die teologiese perspektief kan die preek die
gemeente begelei om na te dink oor die aard van die kerk en haar verhouding met
God in nuwe omstandighede. Hierin kan
'n narratiewe benadering wat die heils-historiese lyn volg benut word.
Moltmann
skryf: "...this history must again and again be recalled and brought to
mind in the present, it must be so expounded to the present that the latter can
derive from history an understanding of itself and its future path and can also
find its own place in the history of the working of God's promises"
(Theology of Hope, p 109).
Skets die
storielyn van die Dawid-geskiedenis: sy opgang, politieke konsolidasie, sosiale
veranderinge en kultiese sentralisasie. Wys wat hierdie aspekte tesame vir die
lewe en toekoms van die volk van God beteken het (vgl. Teksbespreking, 2de
par). Lei die gemeente om iets te
verstaan van hoedat Israel oor hulleself, hulle eie bestaan en hulle verhouding
met God gedink het wanneer hulle die verhaal hoor (deuteronomistiese perspektief).
Vertel dan
verder die verhaal van God se nuwe begin in Christus. Wys op die verskuiwings in die aard van die volk van God (van
nasionaal-politieke entiteit na Kerk, gelowiges uit alle kulture, volke en
lande) en hul belewing van hulle verhouding met God gekom het (van tempel en
rite-gesentreerde aanbidding tot die bedeling van die Gees). Die saak waaroor dit in die teks gaan,
naamlik die volk van God in sy teenwoordigheid, en die vrees en fees daarvan
geld die nuwe volk, die Kerk, netso.
Hoe dit beleef word het verskuif.
Hierop kan kortliks prakties en ter verheldering ingegaan word, maar die
storie moet voortgaan.
Hoe lyk die
storie van die Kerk deur die eeue? Hoe
lyk die storie van die kerk vandag? As
ons terugkyk op die geskiedenis, van Dawid, van Christus en van die geboorte van
die kerk en ons kyk na die kerk, en veral die versplintering daarvan:
versplintering oor nasionale en etniese grense; versplintering as gevolg van
die krampagtige vashou van eie tradisies en eie vorme van geloofsbeoefening en
geloofsbelewing, van hoe elkeen die teenwoordigheid van God beleef. Wat kan ons uit die storie van 2 Samuel 6
leer?
Dis 'n
storie van die konsolidasie van verskillende Jahwe-geloofsgemeenskappe, oor
stam en sosiale grense heen; dis die storie van die opneem van mekaar se
geloofstradisies en aksente ter verryking van die feesvierende volk in die
teenwoordigheid van God. Die kerk, en
ook ons kerk (VGK en NGK), ons gemeente hier waar verskillende gemeentes van
Christus binne dieselfde geografiese area (bv dorp) bestaan, staan voor die
uitdaging. Ten minste histories staan
ons met die millenniumwisseling op 'n draaipunt: watter geskiedenis gaan ons
vir komende geslagte meegee? Hoe gaan
hulle terugkyk op die keuses wat ons vandag maak? Hierdie is nie maar net vrae vir die kerkraad of die dominees
nie. Hoe elke lidmaat die situasie
sien, behaal hoe sy/hy daaroor dink en wat daarvan word (vgl Migal). Die storie van die Deuteronomis wil juis die
gemeente help om op 'n sekere manier oor hulself te dink.
Die preek
sou dus sterk op die lyn van kerkeenheid kon loop en daarmee as voorloper dien
vir die komende weke se reeks uit Efesiërs, waar eenheid 'n dominante motief
is.
Vanuit die ideologiese perspektief kan die preek
die gemeente aanspreek om te besin oor ons verstaan van formatiewe keerpunte in
die bestaan van die kerk. Tema: "Het die kerk ook geraamtes in die
kas?"
'n Mens kan
begin deur 'n eietydse verhaal van 'n persoon of situasie wat deur die hoorders
as positief en bemagtigend beleef word, te vertel. Dan gaan jy oor deur te sê: "so het die Jode ook die verhaal
van ons teks gehoor." Vertel dan
kortliks die storie van Dawid en van 2 Samuel 6 as mooi storie. Probeer om die gemeente se simpatie te wen,
om hulle te laat lekker voel saam met die Jode vir wie die storie as hulle
storie oorvertel is.
Nooi dan
die gemeente agter die skerms in om te gaan kyk na wat "eintlik" daar
gebeur het (vgl. 1). Die doel hiervan
is om as eye opener te dien, om die gemeente sensitief te maak om ook dieper as
die oppervlakte te kyk. Hier kan op die
rol van tydsomstandighede, die invloed van politieke en sosiale faktore in die
skuiwe wat Dawid gemaak het, gewys word.
Die rol daarvan in ons eie tyd kan hiermee saam aangesny word om lidmate
te help om die invloed daarvan in hul eie lewens en in die kerk en samelewing
bewus te maak. Dit kan ook nodig wees
om krities na die rol van formatiewe persone (vgl. Dawid) te kyk.
In
aansluiting by die vorige perspektief (2) kan daar op die saak van kerkeenheid/
eenwording gefokus word. Hoe kan die
"aanleer" van 'n kritiese kyk op sake/ na onsself ons help om daarmee
te vorder? Hier moet ons ons eie
sentimente en ideale, ons eie heilige koeie identifiseer en by die naam
noem. Ons moet leer om die invloed van
formatiewe persone, van tydsomstandighede in die totstandkoming van
afsonderlike kerke en in die vorming van die Belhar-belydenis ernstig onder oë
te neem. Soos Dawid wil ons ook altyd
God vir ons eie kant en siening en posisie annekseer. As ons die 2 Samuel 6 storie uit 'n Noordryk-perspektief so lees,
wat sou ons hoor? (vgl. 2). Ons moet leer om na mekaar te luister en
onsself uit die hoek van die ander te sien.
Daarsonder sal ons nie vorder in ons gesprek nie. Dis immers die aard van die evangelie dat
wat skeef en oneg is reggemaak moet word.
En in ons
verhouding met ander kerkgroepe? Vir
ons eie kant/ mense stel ons maklik 'n saak asof óns (alleen) reg is: óns is
die draers van die Nuwe-Testamentiese evangeliese tradisie; ons staan by die
leer van die oer-kerk; óns het die vroeë kerk se belewingstradisie; óns
handhaaf die Reformatoriese leer en waardes.
Die teks
wys ook uit dat dit wat dalk in sigself outentieke en opregte formatiewe
gebeure mag gewees het (soos die bring van die ark na Jerusalem) later
(ideologiese) heilige koeie mag word.
Persoonlike bekering stagneer, terwyl die "oer-gebeure"
geïdealiseer word; belydenisvorming as oomblik van waarheid raak kanon in
sigself; skuldbelydenis oor apartheid mag 'n eksistensiële gebeurtenis gewees
het, maar dit bly daarby staan sonder om die konsekwensies daarvan deur te
voer. En weereens: hier kan nie maar na
kerkleiers (eie of ander) gewys word nie; elke lidmaat deel die ideologiese
koeie en geraamtes tot een of ander mate.
En vir die NG Kerk, ten minste, is dit juis die vlak wat die sinodes
terughou om die logiese besluite oor Belhar te neem.
Hierdie lyn
van prediking mag in sommige omstandighede/ gemeentes 'n gewaagde lyn wees,
maar waarskynlik juis daarom 'n noodsaaklike lyn. Onthou dat die saak dus met die nodige wysheid (en humor?!)
aangepak moet word om mense nie te antagoniseer nie. Die preek sal alleen slaag as die prediker daarin kan slaag om
mense met hom/haar saam te neem en oor te haal om nuut na hulself te kyk. Dis tog wat die profete van ouds, en die
evangelie wil doen!
Bibliografie
Anderson (WBC), Brueggemann (Interpretation), Hertzenberg (OTL), Kaiser (Introduction to the OT)