Ander
tekste: Psalm 127; Markus 12:38-44; Hebreërs
9:23-28
Albei
hoofstukke moet ook hier in geheel die basis van die preek vorm. Daarin
onderskei ons die volgende momente:
Naomi soek
'n "rusplek" (3:1 OAV, vgl 1:9) vir die vreemdeling binne Israel en
sy tradisies, in besonder in die lossings- en leveriaatgebruike wat daarop
gemik was sowel om die naam (en dus die toekoms) van 'n afgestorwene te
verseker as om sy eiendom vir sy nageslag te bewaar (Deut 24). Maar dit was regte wat slegs binne
Israel gegeld het waarvan Rut as 'n vreemdeling uitgesluit was. Boonop was sy
'n Moabiet met wie geen Israeliet mag trou nie. Maar Naomi is desperaat want sy
is te oud om self 'n nageslag te verwek. Rut is haar enigste kans. Dus bedink
sy 'n strategie wat op die dorsvloer (punt 2 onder Konteks), die plek van vrugbaarheid, teen middernag (8a) sy klimaks
sou bereik. Die strategie herinner baie aan Tamar (Gen 39; vgl Rut 4:12) wat
haar skoonvader verlei het deur die klere van 'n prostituut aan te trek en so
vir Juda 'n nageslag te verseker! Die verskil is dat Rut eers mooi klere
aantrek (3) om dit later uit te trek en naak aan die voete van Boas te lê (7b:
die meeste uitleggers soos Van Wolde, Trible, Sasson, is dit eens dat dit 'n
beter weergawe van die teks is as die "kuise" Afrikaanse vertaling
van dié vers!). Die verskil is verder dat Rut geen regte soos Tamar en Boas,
geen verpligtinge soos Juda gehad het nie. Tog gaan Rut, die een wat altyd in die
geloof uitwaag (vgl Rut 1,2), na die dorsvloer en bly lê aan die voete van Boas
– wagtend op wat hy as Israeliet sou sê wat sy moes doen (4b). Rut wat van
genade lewe (2:13), handel én wag . . . waarop sy geen reg het nie.
Boas sê
egter nie wat sy moet doen nie. Inteendeel, Rut sê vir hom wat hy as Israeliet kan (nie moet nie) doen (Long). Sy sê:
Neem my as losser onder u beskerming. Letterlik
sê sy: sprei u vlerke/kleed oor my uit – wat volgens Esegiël 16:8 teken van
huweliksluiting was! Aan Boas wat in 2:12b met soveel gemak gepraat het van Rut
wat "onder die vleuels van die Here kom skuil het: word nou gesê: doen jy dan nou aan my wat jy gesê het God
sal doen! "Here is a Moabite peasant woman, an outsider with no status
whatsoever, ordering a man of Israel to fulfil the ancient law of Israel's
God" (Long). Met haar vreemdheid én naaktheid konfronteer sy hom en vra
opnuut genade om middernag: "jy is my losser," neem my op in die
huwelik, sorg vir my toekoms. Sy wat as vreemdeling en as weduwee geen regsposisie
en regte in die Joodse samelewing het nie, vra om in die oomblik van ontmoeting
raakgesien te word: "a foreign woman has called an Israelite man to
responsibility" (Trible). En Boas reageer: "alles wat jy my vra, sal
ek doen" (11b) en aanvaar die verantwoordelikheid as losser en
pleitbesorger in die poort (= die gemeenskap). Verder stuur hy haar met ses
mate gars in die oggend terug na Naomi (15,OAV). Naomi is nie meer
"leeg" nie (1:21) – die gars wat die maag sou vul, is belofteteken
van 'n moederskoot wat gevul sou word.
Wat in die
nag in die geheim tussen die twee hoofkarakters gebeur het, word in die
vroegmôre in die openbaar in die stadspoort, plek van die regshandeling,
besleg. Die naamlose losser is eers gewillig om as losser op te tree om
daardeur die eiendom van Naomi in familiebesit te laat bly (4:3,4). Hy weet
daarby dat Naomi kinderloos sal bly en haar eiendom dus in praktyk by syne
gevoeg sal word! Maar toe hy hoor dat dit 'n huwelik met Rut insluit, wat
behels dat die nageslag van Naomi die eiendom sou behou en verder reg sou hê op
'n deel van sy eiendom (vgl 6b!) – toe laat hy die lossingsreg soos 'n warm
patat vaar. Hy was agter profyt en nie agter verantwoordelikheid vir 'n ander,
boonop vir 'n vreemdeling nie! Hierteenoor is Boas die losser wat die
vreemdeling as vrou neem en daarmee deur
haar aan die nageslag van Elimeleg en Naomi 'n toekoms gee (8-12; sien
veral 10b).
In die
huwelik word 'n kind as gawe van God gebore en nie net as produk van samespel
en seksualiteit nie (13): die eerste keer in die hele boek vol menslike
handelinge dat God se handeling eksplisiet genoem word. So handel God deur die
geskiedenis: soms met, en soms teenoor, mense en hulle strategieë (vgl dié van
Rut, Naomi, Boas in die boek). Alle klem val nou op die kind wat gebore is, wat
rus, sekuriteit en 'n toekoms gee: hy laat Elimeleg en Boas en Rut leef
anderkant die grense van die dood. Daarop dui die geslagsregister (18-22)
waarop eintlik die hele boek uitloop (Jonker). Uiteindelik is Naomi en Boas,
die Israeliete deur middel van die
vreemdeling, die veragte en Moabiet weer op die hoofweg van die
heilsgeskiedenis wat deur koning Dawid verder loop tot op die groot Dawidseun
(Matt 1:5,6) wie se koninkryk geen einde sou hê nie (Jonker) – en wat oor graf
en dood 'n toekoms verseker. Tegelyk dra die eskatologiese teks ook 'n
missionêre dimensie: Rut, die Moabiet bring die geslag van Lot wat hulle
afgeskei het van die geslag van Abraham (Gen 13) weer terug in die kring van
die Godsvolk sodat 1:16 (u volk is my volk, u God is my God) wonderlik
bewaarheid word.
Die
vrouegesprek (14-17) is 'n interessante variasie op dié van die manne (11,12).
Rut word nie weer genoem nie: sy wat nie tot rus kon kom nie (1:9), kom tot rus
in die huis van Boas by die wiegie van Obed (= hy wat dien). En ook Naomi kom
tot rus. Driemaal praat die vroue van 'n naam wat gegee word. Naomi kry haar ou
geboortenaam terug in die plek van die naam Mara wat sy vir haarself gegee het
(1:20); die een wat leeg was (1:20) word gevul met vreugde en lewensin (14,15a:
nephesh). As Naomi die kind neem en
hom voed (16) leef Naomi (= die lieflike) voort in Obed (= die een wat dien),
en haar nageslag voort in diens van die groot koninkryk wat sou kom op Gods
bepaalde tyd.
In die
geskiedenis van sowel Abraham en Rut gaan dit om mense wat op 'n pad agter God
aan die vreemde tegemoet gaan en in die proses die veilige oorde van huis,
verwantskap, kultuur en tradisies moes prysgee. Te midde van onsekerheid,
hongersnood, kinderloosheid, geen reg op grond of op 'n toekoms, bly die
geloofslewe 'n lewe onderweg, dié van 'n vreemdeling, van 'n ivri (= Hebreër!). Geloof is om saam met
die roepende God op 'n pad te gaan, selfs as dit moeilik, haas onuitvoerbaar is
(Gen 22!), selfs as dit onmoontlik lyk. Hierdie God is nooit 'n gemaklike God
nie, 'n God wat mense uitdaag om nie selftevrede, self- en gemaksugtig, soos
dit hulle pas te lewe binne hulle vaste en veilige patrone nie. Vir hierdie God
kan jy nie voorskrywe nie, en (nog erger!) nie inskrywe in jóú planne nie. So
maklik dink ons verkeerdelik dat God gebonde is aan ons grense, tradisies,
kultuur, voorskrifte. In die proses maak ons dan God tot óns beeld en gelykenis
in plaas daarvan om verander te word na Sy beeld en gelykenis (vgl Matt 5:45;
Rom 8:29). So 'n geslote geloof wat die deure na ander toehou, wat sogenaamd aan eie opvattinge "trou
en gelyk wil bly," in die proses egter alles vir eiegewin en selfbehoud
wil opeis, is 'n geloof wat God nie toelaat om in te breek en oop te breek nie.
Dan verword die geloof in God tot 'n menslike, al té menslike (Barth!) manier
van meet en pas, van uiteindelik God in te pas in die geslote geloofs- en
handelingsisteme van mense.
Die Bybelse
dubbele gebod van die liefde is 'n pleidooi vir 'n geloofshandeling wat alle
geslote deure oopgooi. Daarvoor plaas God dikwels 'n vreemdeling en 'n
nie-geagte, dus veragte buitestaander, op die weg van gelowiges. Húlle moet
gelowiges dikwels help om die geslote wêreldjies wat hulle oë en aandag so
maklik gevange hou, oop te gooi – sodat ook hulle, soos Rut, tot rus kan kom en
'n vaste toekoms verkry in ons harte, in ons huise, in ons gesinne én in ons
ekonomiese bestel. Inderdaad gaan die baie soorte vreemdelinge en vlugtelinge
van die nuwe millennium op die geloof 'n dringende appèl maak. Net soos in die geval
van Boas en Rut, is dit dikwels nie die Israeliet wat vir die vreemdeling sê
"wat om te doen" (3:4b) nie – maar vreemdelinge wat in hulle naakte
verleentheid aan Israel en die kerk sê wat om te doen met die
:"vleuels" van ons godsdienstige gewaad. Inderdaad lê daar net buite
die mure van die kerk naastes in nood wat aan die kerk sê: "U is die
losser; sprei u kleed oor ons uit." Die groot verskeidenheid van
vreemdelinge in ons poorte se bedelstemme moet gehoor word in 'n geloofsgemeenskap wat ongelukkig hulle nie altyd
raaksien en hoor nie! In so 'n bestel
het God velerlei "losser"-gestaltes dringend nodig in kerk en
samelewing: mense en strukture wat op die voorgrond optree as verteenwoordigers
van die God wat dikwels op die agtergrond handel. Dit soek na gelowiges en
strukture wat die Onsienlike God sien, maar ook die vreemdeling sien en in Sy
Naam die vleuels van God sprei oor die onaansienlikstes onder ons. Toenemend
sal die prediking van die koninkryk in die 21ste eeu aandag moet gee aan die
verband tussen die geloofsuitdrukkinge van die kerk en die ekonomiese
eiendomspraktyke van die omringende samelewing tussen nagmaalsbrood en
daaglikse brood, om die isolasie van die kerk en die toevlug van gelowiges in
hulle vreemdelingvrye veiligheidsones te deurbreek. Trouens, die kerk sal
aandag moet gee om aan hierdie verbande 'n soort van staat van belydenis te
gee.
Die
Christologiese en missionêre verdieping en uitbreiding van die teks na die
geslagsregister bied natuurlik boeiende homiletiese moontlikhede wat die appèl
van die vorige punt nog versterk. Rut, die Moabiet, word saam met Tamar, die
Kanaäniet, in die geslagregister van Dawid, en deur hom van die groot
Koningseun, opgeneem, maar ook deur haar word die skeiding tussen Abraham en
Lot missionêr oorbrug. Die prediking van die koninkryksbestel van Christus mag
nooit hierdie missionêre en ekumeniese perspektief mis nie.
Volgens
Long word die verhaal omraam deur 'n afwaartse en opwaartse beweging: geen
koning – geen kos – geen man – geen seun – geen naam – leegheid en 'n naam – 'n
seun – 'n man – kos – 'n koning (Dawid). 'n Mens sou op agtereenvolgende Sondae
bloot hierdie twee lyne verhalend kon preek.
Die preek
sou kon begin met die vraag: wat beteken dit om in God se koninkryk te glo en
as burger van so 'n koninkryk op te tree? Is dit dat ons aan sekere vaste
beginsels moet vashou, vaste gebruike moet onderhou, aan vaste voorskrifte
voldoen? Aan die hand van punte 1 en 2 onder Teks en Konteks kan dan
aangetoon word dat dit beteken om in die geloof met God op 'n weg te gaan, maar
ook in terme van daardie geloof handelend op te tree. Geloof in die koninkryk
van God lei nie tot passiwiteit nie, maar tot aktiwiteit. Die koninkryk van God
is 'n ruimte waarin ons kan waag om te werk en ook kan wag. In aansluiting tot
die preek van vorige week, kan in die plaaslike konteks gewys word op
geleenthede om te waag – en te wag.
Dit sou
egter moet voortgaan deur te sê dat
dit die koninkryk van God, die Koning is wat nie 'n gemaklike Koning is wat ons
gemaklik kan inskryf in óns planne nie. Hy is die God wat die Gans Andere is,
en dus anders is en van ons vra om ons veilige ruimtes en vaste tradisies en
besittings oop te gooi na ander (pt 2 onder Konteks).
Dat ons daardeur ook die stem van die vreemdeling in ons midde sal hoor, wat
roep na die weldadigheid van koninkrykskinders. Baie wat punt 2 onder Konteks gesê is, kan hierby benut word.
Die kerk moet hom vereenselwig met die Boasfiguur wat uiteindelik, in kontras
met die selfsugtige naaste losser,
optree in terme van die gebruike en skatte van Israel wat hy tot beskikking van
die vreemdeling stel (vgl pt 3 onder Konteks).
Die preek sou ook plaaslike "vreemdelinge" moet noem, wat dringend
aan die gemeente sê wat hulle in die Naam van God moet doen.
Aan die einde van die kerklike jaar, met adventstyd om die draai, sou die Christologiese en missionêre uitsig aan die hand van pt 3 onder Konteks) verder uitgewerk kan word. Dit is tog uiteindelik die koms van die grote Dawidseun in wie ons glo en wat ons vier. In Hom kom ons, soos Naomi en Rut, tot rus – elke dag van ons lewe, tot aan die einde van ons lewe . . . en bly ons missionêr rusteloos totdat Hy alle volke in Sy Ryk verenig.