Ander tekste: Ps 123; I Tess 5:1-11; Matt 25:14-30
Die tradisionele opvatting ten opsigte van die historiese boeke Josua,
Rigters Samuel en Konings is dat elkeen beskou word as 'n onafhanklike of
aparte werk wat op 'n bepaalde tydstip deur 'n enkele persoon geskryf is. Hiervolgens word aanvaar dat die boek Josua
deur Josua self of 'n tydgenoot van hom
geskryf is, aangesien die boek na hom vernoem is en hy die prominente figuur
daarin is. Rigters is geskryf deur 'n
onbekende persoon wat klaarblyklik gedurende die vroeë tydperk van die
monargie, tydens die heerskappy van Saul of Dawid geleef het. Beide Samuel en Konings het dan onbekende
outeurs in Juda wat getuies was van die gebeure. Sodanige siening lei tot fragmentering in die interpretasie van
die historiese boeke.
'n Alternatiewe benadering is om op die historiese verstaan van die boeke
te fokus. Literêre kritiek het tot gevolg dat die boeke Josua tot Konings nou
meer gesien word as 'n omvattende geskiedenis van oud-Israel saamgestel deur 'n
enkele outeur of 'n skool. Dit word genoem die deuteronomistiese
geskiedskrywing . Die materiaal in hierdie boeke is sodanig gerangskik dat dit
'n aaneenlopende geskiedenis van Israel van die tyd van die inname tot die val
van Juda voorstel.
Die openingswoorde in Rigters 1:1 (vergelyk die Hebreeus wayyehi, waw +
yehi) dui daarop dat wat nou volg, aansluit by die vorige boek . John Hamlin voer aan dat hierdie
openingswoorde 'n belangrike teologiese boodskap dra en neem die aansluiting
selfs verder terug tot aan die begin van die Bybelgeskiedenis. "They tell
us that the ultimate context for the study of the book of Judges is the entire
panorama which begins with creation, and extends on to Abraham., Moses, Joshua,
the Judges, Samuel, David, the kings of Israel, and Jesus Christ."
In die boek Josua is die weergawe van die geskiedenis van Israel oor die
algemeen positief. Wanneer God se volk hom getrou volg was hulle verseker van
oorwinning en sukses. Die boek Rigters dui 'n meer negatiewe lyn aan. Wanneer
die volk van God doen wat reg is in hul eie oë, in teenstelling met wat reg is
in God se oë, ervaar hulle nederlaag en mislukking. Rigters is bewys van Moses
se waarskuwing in Deut 28:15-68 dat God Israel sal vervloek as hulle van die
verbond afwyk.
Die 'Israeliete' (letterlik 'kinders van Israel') is van die hoofspelers
in die verhaal. Dit gaan eintlik om hulle. Hulle was nie maar net mense nie,
hulle was die 'volk van die Here' (vgl 5:11). Hierdie spesiale verhouding met
die Here 'die God van Israel' (5:3; 6:8) gee aan die dramatiese verhale van die
Boek Rigters hul besondere karakter. Die 'Israeliete' is uitverkies om in die
land Kanaän, sowel as op die hele aarde, 'n goddelike doel te vervul. Nie
soseer die politieke realiteite nie, maar die verskuilde teologiese temas moet
deurgaans in gedagte gehou word.
Met die inname van die land geniet Israel die guns en seën van God. Maar daarna keer hulle hul rug op die Here
en begin om die heidense praktyke van die Kanaäniete na te volg. Om hulle na Homself terug te bring,
dissiplineer God sy volk deur toe te laat dat hulle deur hul vyande verdruk
word. Wanneer hulle uiteindelik tot Hom roep om hulp en bevryding, verlos Hy
hulle genadiglik deur 'n rigter op te wek. As gevolg van God se bevryding is
daar hertoewyding aan die kant van die Israeliete. Maar na 'n periode van seën
begin die volk weer afvallig word en die siklus begin opnuut weer - ses keer
gedurende die periode van 265 jaar opgeteken in die boek. 'Spiritual apostacy
led to national disorganization and social chaos, but repentance resulted in
deliverance and blessing.' (Thomas L Constable)
Die skrywer van Rigters het heel waarskynlik in die tydperk na die dood
van Josia sy werk saamgestel toe valse skrywers die verbondsonderrig in
diskrediet gebring het.; 'n periode toe chaos uit twee rigtings die volk
bedreig het, te wete (a) die ontrou van beide leiers en volk (vgl Rigt
2:11-13), en (b) die aanvalle van eksterne vyande (vgl 2:14-15). Dit wil
voorkom of die boek Rigters ooreenstem met die tyd van koning Jojakim en die
profeet Jeremia, dit wil sê ongeveer vyfhonderd jaar na die gebeure wat daarin
opgeteken is.
Rigters 4 en 5 is 'n kombinasie van ouer prosa en poëtiese materiaal om
'n beplande teologiese eenheid te vorm.
Nieteenstaande enkele verskille in die twee hoofstukke bestaan daar weinig twyfel dat albei
dieselfde historiese gebeurtenis beskryf. Hierdie is 'n verhaal van sonde
(4:1), dissiplinêre lyding (4:2) en wrede onderdrukking (4:3), gevolg deur
bevryding (4:23-24) en 'n geslag van vrede en geregtigheid (5:31b).
Die volgende kan genoem word met betrekking tot die polities-militêre
onderdrukking wat Israel ervaar het.
Jabin was die simbool van Kanaänitiese politieke mag in die Noorde.
Sesera, die bevelvoerder van die vreesaanjaende weermag van nege honderd
strydwaens sowel as 'n groot gevegsmag, simboliseer die mag van militêre
tegnologie in diens van verdrukkende politieke beleid. Militêre oorwinning sou
dan die eerste noodsaaklike stap wees om politieke verdrukking te beëindig.
Die betekenis van die 'swaar' verdrukking waarvan 4: 3 praat, word
gesuggereer in die poëtiese weergawe van die stryd. In hoofstuk 5 lees ons van verlate paaie (5:6) en dat reisigers
slegs gebruik kon maak van sypaaie of ompaaie. Hieruit word afgelei dat
ekonomiese onderdrukking by wyse van beheer oor hoof handelsroetes deel van die
totale verdrukking was. Uit 5:19 (vgl 2:14,16)
word afgelei dat die konings van Kanaän mense beroof het deur gebruik te maak
van geweld. Die oorwinning van Barak
het dus beteken dat die Israeliete nie meer op hierdie manier uitgebuit is
nie. Uit 5:30 lei ons af dat 'n verdere
metode van onderdrukking die uitdeel van gevange Israelitiese meisies aan
soldate deur die bevelvoerder Sesera was.
Onder hierdie omstandighede van verdrukking, wat twintig jaar geduur
het, roep die Israeliete tot die Here om hulp (4:3)
Die skielike verskyning van Debora, 'n vrou, 'n profetes, is heeltemal onverwags
in 'n versameling geskrifte deur mans uit 'n samelewing oorheers deur
mans. 'That God allowed the highest
legal matters to be decided by a woman rather than a man was a departure from
the usual order in the social and spiritual life of Israel' (Goslinga). Sy was 'n moeder van Israel' (5:7) na wie
die volk gekom het vir regspraak. 'Her
vision of an alternative to her 'children's' helplessness gave them strength to
unite in a struggle for a transformed society. Her sense of timing, her faith
in God, and her skill in strategic planning led to the end of Canaanite power
in the North. (4:23-24).' (Hamlin).
Debora se wyse leierskap het aan haar mense 'n tydperk van stabiliteit
verskaf.
Jahwe se beslissende rol in die hele verhaal kan nie misgekyk word nie.
Hy bepaal die gang van die geskiedenis hier. Omdat die Israeliete weer gedoen
het wat verkeerd was in die oë van die Here - 'n uitdrukking wat soos klokslag
in die boek herhaal word - het die Here hulle oorgegee in die mag van koning
Jabin. In hul verdrukking roep die Israeliete tot die Here. Die Here die God
van Israel beveel Barak by monde van Debora om op te trek om teen Sisera te
veg. 'Die Here gaan voor jou uit.' (4:14) In die verloop van die geveg is dit
ook die Here wat eintlik die slag vir Barak slaan. (4:15) en dis die Here wat
vir Sesera aan 'n vrou, nie aan Barak nie, uitlewer. (4:9) Daarom is die
oorwinningslied van Debora en Barak ter ere van die Here.
Die twee groot teologiese temas van die boek Rigters is volgens
Constable:
(a) Israel se ontrouheid in die
verowering van die land, en
(b) God se genade teenoor
sondaars.
Hul versuim om die oorblywende Kanaäniete uit die land te verdryf, het
uiteindelik gelei tot geestelike afvalligheid deurdat hulle die godsdienstige
gebruike van die Kanaäniete aangeneem het. Geestelike afvalligheid het daartoe
gelei dat Israel polities gedisintegreer het. Die periode van die rigters is
ook gekenmerk deur sosiale chaos en anargie, 'elkeen het gedoen wat reg is in
sy eie oë' (17:6). In skokkende kontras
teenoor hul ontrouheid, staan God se genade vir sy opstandige en ongehoorsame
volk. Op grond van sy verbondsbeloftes aan Abraham is God bereid om elke keer
genade te betoon.
Goslinga voer aan dat die boodskap van die boek Rigters soos volg opgesom
kan word: 'The book of Judges forms an
eloquent protest against any marriage between the church and the world. The
church of Christ must never forget that it finds itself in a world that is
hostile to its King and its service to Him. Never should it overestimate its
own strength or underestimate that of the
enemy. Never may it allow itself to be drawn into a compromise with its
enemy or to indulge the hope that it can defeat him by meeting him halfway. Any
alliance that it makes with the world is tantamount to a denial of its very
nature and can only bring harm to God's kingdom. Church history contains
countless illustrations of what happens to the church when it ignores this
warning and fails to be on guard
against the insidious march of corruption.'
Die tweede deel van die boodskap van Rigters (die anderkant van die
muntstuk) handel oor die kragtige getuienis aangaande die Here se oneindige
geduld met sy volk wat so oneindig ontrou is. Die Here behou nie vir altyd sy
toorn en hou nie sy vergifnis terug van die mense nie. Hierdie aspek van die
verbondsverhouding is die stuk evangelie wat keer op keer herhaal word soos wat
die geskiedenis van Israel in die Bybel ontvou, soos wat die geskiedenis van
die kerk oor die eeue heen ontvou.
'n Mens sou 'n preek kon bou rondom die tema : God hoor ons hulpgeroep.
Ek glo dat almal van ons al een of ander tyd geworstel het of ten minste
gewonder het oor waarom dinge verkeerd loop in ons lewens, op individuele of
gemeenskaplike vlak. Een van die maklikste redes is om teenspoed en ongeluk te
sien as God se straf op een of ander sonde. Wanneer onsself nie betrokke is
nie, is dit dalk maklik om dit vir ander te sê. Wanneer ons definitief weet dat ons ongehoorsaam was en nie meer ag gegee het op die Here se Woord nie,
kan ons dit vir onsself ook sê . Dit is egter nie so maklik om hierdie
oorsaak-gevolg skema aan te voer wanneer toegewyde gelowiges deur teenspoed en
ongeluk getref word nie. Net so moeilik was dit, en is dit nog steeds, om aan
verdrukte swart mense te verduidelik waarom, in die woorde van Adam Small, die
'dice' dan vir hulle verkeerd geval het . Was God dan onregverdig in Sy
skepping van mense (waarom moes ons met die uitdeel van alles agter in die lyn
staan)? Was ons al die jare verdruk omdat ons gestraf word vir ons sonde?
Ek stel al hierdie vrae om aan te dui dat dit nie so maklik is om
antwoorde te bied op al die probleme en vrae wat mense vra nie. Dit mag dalk
makliker wees om die situasie in Rigters te verstaan. Die Israeliete het swaar
gekry en is verdruk omdat God hulle oorgegee het in die mag van die Kanaäniete,
omdat hulle gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, omdat hulle nie
wou luister nie omdat hulle hul deel van die verbondsverpligting versuim het.
Hulle is oor en oor gewaarsku dat ongehoorsaamheid gepaard gaan met straf, dat
gehoorsaamheid en trou gepaard gaan met die seën van die Here. Maar hulle wou
net die luister nie, keer op keer lees ons in die eerste hoofstukke van die
boek Rigters die woorde 'die Israeliete het (weer) gedoen wat verkeerd was in
die oë van die Here.'
Sonde het implikasies. Sonde haal 'n mens in. Sonde het te doen met die
maak van verkeerde keuses. Dis nie asof die Israeliete dit nie geweet het nie.
Hulle is van die begin af gewaarsku. Hulle is van die begin af genooi om die
regte keuse te maak, 'n keuse vir die lewe., God se lewe. God wou 'n verhouding
met hulle handhaaf, 'n pad met hulle loop, Sy goedheid en guns aan hulle bied.
Hy het dit van die begin af so bedoel en Homself deur die verbondsluiting daartoe
verbind. Ten spyte van vooraf kennis en
waarskuwing, en sodra hulle begin vergeet wie hulle deur 'n krisis gedra het,
het afvalligheid weer ingetree. Die sonde het maar net weer so aanloklik en
aantreklik begin lyk. Dis nie lank nie of hulle is weer ingesuig deur die
skemas van die vreemde volke....
Ten spyte hiervan los God nie Sy
greep op Israel nie. Hy
"bewerkstellig" hul verdrukking. Of anders getel, Hy laat toe dat
hulle in die hande van verdrukkers val, laat toe dat die implikasies van hul ontrou
en ongehoorsaamheid hulle met mag en geweld tref. Soos in die gelykenis van die Verlore Seun, ervaar Hy pyn in Sy
vaderhart om te sien en te weet dat dit nie met hulle goed gaan nie - en wag Hy
dat hulle Hom moet nader, hulle tot Hom moet wend vir hulp. Maar dit gebeur nie
onmiddellik nie. Dit neem hulle twintig jaar om uit te werk waarom hulle is
waar hulle is, en Wie die uitkoms vir hulle is. Sonde het 'n manier om 'n mens gevange te neem en blind en doof te
maak. Die boodskap dat die hand van die Here nie te kort is om te help nie,
neem dan langer om by jou uit te kom.
Die moderne mens rasionaliseer eers dinge, probeer eers op eie stoom en
eie insig regkom en dinge uitwerk. Om die saak na die Here te neem is dalk 'n
teken van swakheid.... Die uitroep na God is heel dikwels die laaste, nie die
eerste uitweg nie. Hoe dit ook al sy,
wanneer ons roep hoor God nie net nie - Hy verhoor ook ons gebede, ons
hulpgeroep. In hierdie verhaal vra God nie van die volk om eers tot bekering te
kom nie, eers hulle sonde te bely en te laat staan nie. Die hulpgeroep van Sy
kinders is genoeg om sy reddingsplan aan die gang te sit. En hy gebruik
bestaande strukture, iemand wat alreeds in sy diens staan as katalisator,
fasiliteerder.
Die feit dat dit God is wat redding en bevryding bring word in hierdie
verhaal beklemtoon. Die man, in hierdie geval Barak, is bang om alleen te gaan
veg. Hy sal alleenlik gaan as die vrou, Debora, saam optrek teen die vyand.
Debora maak dit ook dan duidelik dat Barak geen eer en erkenning vir die
oorwinning oor die magtige generaal Sisera sal ontvang nie. God sal uiteindelik
'n vrou gebruik om Sisera tot sy dood te bring. Ook in die verloop van die
stryd is God eintlik die handelende party - Hy het Sisera en al sy manskappe
bang laat word vir Barak (4:15). Daarom is die oorwinningslied in Hoofstuk 5
tot eer van die Here, want dit is Hy
wat die oorwinning vir en namens hulle behaal het. (5:11).
Wanneer ons na God roep in hulp, vind ons dat hy alreeds gereed staan om te help. Hy het alreeds die reddingsplan in werking gestel met die stuur van sy Seun na die aarde. Ons mag wel ervaar dat God ons nie uit al ons probleme en moeilikhede verlos nie - en dat dit juis hierdie aspek is waarmee ons dikwels worstel - maar wat vasstaan is die versekering wat Hy meer as een keer in die Bybel gee, naamlik dat Hy ons nooit sal verlaat nie, dat Hy altyd met ons sal wees, tot aan die voleinding, dat niks ons kan skei van sy liefde in en deur Christus nie. Wie tot die Here roep, word opnuut hiervan oortuig, daarom kan ons aanhou roep, want ons God hoor en verhoor.