21 MAART 2004

VIERDE SONDAG IN LYDENSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Lydenstyd gebruik te word.

Fokusteks: Josua 5: 9-12

Ander tekste: Psalm 32; 2 Korintiërs 5:16-21; Lukas 15:1-3; 11-32

Inleiding

Die deurlopende tema van die tekste is een van mense wat smaad (Jos. 5) verduur het, skaamte en selfverwyt (Luk. 15) beleef het, wie se krag as gevolg van hulle eie toedoen opgedroog het (Ps. 32) en toe die wonder beleef het dat alles nuut geword het toe God in hulle lewens ingegryp het (2 Kor. 5). Dit is dus ons verhaal van skaamwees oor ons sonde en ons blydskap oor God se goedheid in Jesus Christus om juis mense soos ons van ons "smaad te bevry". Die uitdaging vir die voorganger sal dus wees om die gemeente te begelei van diepe oortuiging dat ons niks anders as smaad verdien nie, tot n jubelende aanvaarding van die "nuutword" omdat Hy ons ons oortredinge nie toereken nie. Die volgende riglyne mag daarmee help. Hierdie Sondag staan bekend as Laetare (sien basisliturgie vir Sondae in Lydenstyd).

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Bewuswording

Omdat die gemeente die verhaal van die verlore seun so goed ken, kan net kortliks daarna verwys word hoe skaam die seun vir sy pa moes wees en dan kan die aandag gevestig word op vers 20 van Lukas 15. Versoek daarna die gemeente om meditatief na te dink oor hoe dit sou voel as God jou omhels en soen.

n Aangrypende werkie van die komponis Arvo Pärt met die titel Spiegel im Spiegel kan voorgespeel word. Dit is pragtige "stilword-musiek".

Aanvangswoord

Vader, ons is skaam om voor U te kom. Ons het tot inkeer gekom en besef dat ons nie werd is om u kinders genoem te word nie.

Aanvangslied

Psalm 56: 2 en 4 "Op U, o Heer, vertrou ek"

Seëngroet

Ons Vader sien ons as ons nog ver aankom en Hy kry ons innig jammer en Hy omhels ons en Hy soen ons. God, ons Vader, en die Here Jesus Christus, gee aan julle almal genade en vrede.

Aanbidding en lofprysing

Psalm 18:1 en 7 "Ek het U baie lief, o Heer"

Lied 154:1-3 "Kom nou tesaam, laat ons vergader"

Bewuswording van ons smaad

Voorganger: Lees Psalm 32 uit "Die Boodskap".

Gemeente: Oomblik van stil nadenke

Bewuswording van ons nuutwording

Voorganger: God het ons gelukkig gemaak. Hy het ons deur Christus met Homself versoen.

Nou kan ons lewe sonder skaamte! Lees 2 Korintiërs 5:16-21.

Gemeente: Sing Lied 390:1-4 "Ons kniel hier aan u voete neer"/NSG 107.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Voorganger: Vader, ons wil die lewe geniet. Ons wil nie terneergedruk en met skaamte lewe nie. Verwyder die smaad ook uit ons lewe. Laat ons u Woord hoor en glo en gehoorsaam. Laat u Gees ons lei in die waarheid. Dit vra ons in Jesus se Naam.

Gemeente: Sing Lied 313 "Amen".

Woordbediening

Dankgebed en voorbidding

Voorganger gaan voor in n vrye gebed. Maak veral iets van die dankbaarheid dat ons sonder skaamte kan leef en regtig gelukkig kan wees.

DIENS VAN DIE TAFEL

Indien daar meer as een predikant in julle gemeente is, rig soveel bedieningspunte vir die nagmaal in as wat daar predikante is en nooi die gemeente om die sakrament voor te kom gebruik en bedien dit aan elkeen persoonlik. So kan die nuutwording persoonlik beleef word.

UITSENDING

Offergawes

Antwoordlied

Lied 358:1 en 2 "Welkom, o stille nag van vrede".

Seën

Voorganger: Julle is nuwe mense. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Voorganger en gemeente: Sing Lied 311 "Dit wat ons hier ontvang het"/NSG 44.

 

PREEKSTUDIE JOSUA 5:9-12

Teks en konteks

Die perikoop stel `n hele aantal sake aan die orde. Die tradisie-historiese verbondsonderbou vorm die raamwerk van die perikoop. Die besnydenis ritueel en Paasfees word binne die perspektief van die verbond van God met sy volk, geplaas. Die gedeelte verwys terug na die verbondsluiting (Gen. 17 en Eks. 12). As deel van die Deuternomistiese geskiedeniswerk (Josua, Rigters, Konings, ens.) word die verhaal van Israel se besetting van die beloofde land deur die bril van die verbondsteologie vertel.

Die boek Josua volg direk op Deuteronomium waar Moses op die vooraand van die intog `n laaste toespraak hou. Die boek Josua vertel van die verowering van die land en die verdeling daarvan onder die 12 stamme. Olivier se ontleding in Woord teen die Lig 111/2 is so deeglik, dat ek baie swaar daarop geleun het in my uiteensetting van die konteks. Die uitleg van Olivier moet beslis gelees word. Die verbond speel `n belangrike rol om die teks te verstaan. Olivier wys daarop dat die verwysing na die Verbondsark (4:11), die fokus op die priesters se take(4:18), tesame met die viering van die massafeeste (die massabesnydenis en die Pasgafees by Gilgal), almal verbondshandelinge is.

Nog `n saak wat in die gedeelte aan die orde kom, is die kwessie van leierskap. Moses word as `t ware hier teenoor Josua gestel. Moses het nagelaat om sekere verbondsrituele na te kom, terwyl Josua as leier besef dat hulle nie die land kan binnegaan voordat hierdie handelinge in plek is nie.

Die boek Josua bestaan uit drie dele: 1-12 die verowering; 13-21 die verdeling; 22-24 die afsluiting. Die veroweringsverhaal word in drie dele weergegee, naamlik: 1-2 Voorbereidings om land binne te gaan; 3-5 die deurtog deur die Jordaan; 6-12 die verowering van die verskillende stede en streke. Hoofstuk 5 vorm die skakel tussen die berig oor die wonderbaarlike deurtog deur die Jordaan, wat gelykgestel word met die deurtog deur die Rooisee en die berig oor die verowering van Jerigo. Die doel van die gedeelte is sodat "volke kan besef dat die mag van die Here groot is, en julle die Here julle God altyd sal dien" (4:24).

Oor presies hoe die intog plaasgevind het, is daar nie eenstemmigheid nie. Verskeie modelle en interpretasies word aangewend om `n aanvaarbare verklaring vir die historiese proses te bied. (Lees Olivier, p. 216 , Woord teen Lig 111/2, vir deeglike uiteensetting van verskillende verklarings.)

Hoofstuk 5 handel oor `n paar kultiese rites, wat belangrik was voordat hulle die land kon binnegaan. Wat belangrik is om hier raak te sien, is dat alle kultiese aksies in die Ou Testament in verband staan met die gawes van die lewe. Die Pasga is in die lente gevier wanneer die natuur vol belofte van nuwe lewe is. Dit is ook belangrik om daarop te let dat die besnydenis `n voorwaarde was vir deelname aan die Pasga (Eks. 12:48). Ons sou die hoofstuk so kon indeel:

Vers 1 - Inleiding

Vers 2-9 - Besnydenis

Vers 10-12 - Paasfees

Vers 13-15 - Teofanie

Vers 1. Baie kommentators sien die vers as deel van die vorige perikoop. Dit vorm tog `n inleidende deel van oofstuk 5. Die eerste vers beskryf die rede waarom dit op daardie stadium die regte en veilige tyd was om die mans te besny en die implikasies wat dit gehad het.

Vers 2-9, beskryf die besnydenisritueel. Die vergelyking tussen Moses en Josua se leierskap word op die spits gedryf. Hier word genoem dat Moses versuim het om die besnydenis toe te pas. Josua doen die besnydenis en daarmee word hy as die onbetwiste leier erken. Dit word voltrek op `n heuwel naby Jerigo en kry ook daarvolgens sy naam. Die besnydenis word uitgevoer met klipmesse. Dit word gedoen sodat die mens se betrokkenheid by die gebeure tot die minimum beperk word. Hierdie besnydenis is `n bevestiging van God se beloftes van `n groot nageslag en vaderland. Met die besnydenis verklaar die Here dat die houvas wat Egipte op Israel gehad het, finaal verby is. Hy bevestig sy eienaarskap oor die volk!

Vers 10-12 handel oor die tweede verbondsritueel. Die Pasga word gevier op dieselfde manier as die eerste een (Eks. 12:6). Dit wil voorkom asof die viering van die Pasga in die woestyn afgeskeep is, net soos die besnydenis. Daar is `n definitiewe lyn tussen Levitikus 23 se gebeure en Josua 5. Ook hier word dit beklemtoon dat die lewe slegs deur Jahwe moontlik is. Die Paasfees is dus by uitstek `n fees van die lewe! Die Paasfees beklemtoon die lewe Coram Deo (Voor die aangesig van God).

Vers 13-15. Dit handel oor Josua se droomvisioen met die verskyning van die Here se leëraanvoerder.

Preekvoorstel

Is dit nie merkwaardig nie dat in tye wanneer jy die minste moed het om jou sonde, asook geloof en verbintenis met Jesus te bely, jy dit juis in daardie tye die nodigste het. Kom ek stel dit anders. Die tye wanneer die lewe jou uitput, wanneer jy moeg baklei is teen sonde, moeg baklei is teen die aftakeling van jou liggaam vanweë siekte, die tye wanneer jy nie lus het om selfondersoek te doen nie, is juis die tye dat jy `n nuwe verbintenis aan die Here die nodigste het!

Israel was in so `n situasie. Die vermoeiende pelgrimstog deur die woestyn is vir goed agter die rug. Die slawerny in Egipte is verby! Hulle het weer hoop! Hulle is bly en opgewonde dat hulle uiteindelik weer `n goeie lewe sal kan lei. Manne en vroue het weer vergesigte begin sien. Die grens van Kanaän na die beloofde land is oorgesteek. Dink vir `n oomblik na oor die hoë verwagtinge wat daar geheers het. Dan sal jy die verskriklike teleurstelling besef wat deur hulle moes gaan toe hulle die muur van Jerigo sien! Die grote stad Jerigo staan tussen hulle en hulle drome. Kan dit wees? Was alles dan verniet? Het die 40 jaar van offer, lyding en swaarkry dan geen nut gehad nie?

Toe trek Israel by Gilgal laer; letterlik en figuurlik op moedverloor se vlakte. Al hulle bravade het meteens daar op die kaal vlakte verdwyn. Hulle is moeg, en nou nog `n verdere struikelblok! Die muur van Jerigo! Ek dink nie dis moeilik om jou in Israel se situasie in te dink nie. Die meeste mense van wie ek persoonlik weet, het al die moedverloor se vlakte beleef!

Onthou toe jy jou lewe aan die Here gegee het? Hoe het jou hart nie van blydskap gejubel nie? Maar toe jy onlangs voorraadopname van jou dissipelskap vir die Here moes maak, hoe ontnugter was jy nie? Want jy kon nie by die mure van die sonde verbykyk nie! Wat help dit dan alles om die Here te volg, as jy dit nie regkry om voluit te leef nie? Jy dink dalk vandag terug aan die dag toe jy saam met jou nuwe huweliksmaat voor die kansel gestaan het. Jy kan dalk nie glo dat jou huwelik wat so rooskleurig was, so suur geraak het nie.

Dit maak nie saak wat nou deur jou gedagte gaan nie. Dit kan wees dat jy nou op moedverloor se vlakte sit. Dat dinge nie vir jou uitgewerk het soos jy dit jou voorgestel het nie. Weet jy wat het Josua gedoen? Hy doen `n baie vreemde ding. Hy roep nie sy leërowerstes bymekaar om krygsvergadering te hou of om `n strategiese beplanning vir Israel uit te werk nie. Hy neem nie sy leiers op `n spanbounaweek en werk visies en missies vir die volk uit nie. Hy stel nie `n konsultant aan nie. Nee, hy reël `n besnydenisplegtigheid, `n plegtigheid waar Israel hulle weer opnuut tot die verbond van die Here moet verbind! Hy wil hê die volk moet weer weet wie God is! Hulle moet weer vir God ontdek! Hulle moet weer vir God sien! Al die manne wat in die woestyn gebore is, moes eers die teken van God se verbond ontvang. Hulle moes almal opnuut `n geloofsverbintenis maak! Want voordat hulle pasja kon vier, moes hulle eers besny word. Hulle moet eers weer bely dat God die verlosser is.

Eers toe hulle die belydenis gedoen het, verklaar die Here dat hulle bevry is van hulle verlede. Toe kon hulle daar op die vlaktes die pasja vier! Toe kon hulle vier hoe God hulle bevry het. Met die viering van pasja word die vlaktes van moedeloosheid omskep in die hoogtes van nuwe verwagting. Wat God belowe het, sal Hy doen. Daarvan was die ongesuurde brood `n teken en `n seël.

Dit is ook die teken van die nagmaal. Die nagmaal is `n fees wat ons gereed maak vir die toekoms. Dit is `n viering van die uittog uit die mag van sonde, `n viering van ons verbintenis met die Here. Die sterf van Jesus aan die kruis en die opstanding uit die dood het die mure van die sonde afgebreek en `n nuwe lewe moontlik gemaak!

Dalk staan u ook vandag op die vlakte van Gilgal? Op moedverloor se vlakte, waar jy net die klippe en droë sand raaksien. Dalk kyk jy vorentoe en sien net mure rondom jou! Dan is dit tyd vir `n nuwe belydenis! Dan is dit tyd vir `n nuwe geloofsverbintenis! Om te bely dat God die enigste is. Om te bely dat Jesus betaal het, volkome betaal het! Die doop en die nagmaal is juis die tekens om te bely dat God in beheer is. As jy dit gebruik, is dit jou belydenis dat God, deur Jesus se kruisdood, die mure van jou omstandighede sal laat kantel. Hy het betaal vir al jou moedeloosheid. Vir `n stukkende huwelik, ja `n stukkende lewe.

Die belydenis van die doop en nagmaal laat jou wegkyk van die vlakte van moedverloor! Dit laat jou opstaan en aangaan, omdat die opgestane Christus `n nuwe perspektief gebring het.

Bibliografie

Beek, M A Prediking van het Ou Testament; Kroeze JH Commentaar op het Ou Testament; Woudstra MH (ICOT); Burger C W, Woord teen Lig III/2; Vriezen, C & Van der Woude, AS, Literatuur van Oud-Israel; Von Rad G, Old Testament Theology 1.