Josua 3: 7-17 (Wynand Retief)

31 Oktober 1999

Twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste :Ps. 107: 1-7, 33-37; 1 Tess. 2: 9-13;Matt. 23: 1-12

 

God se volk moet die grens oorsteek na 'n nuwe toekoms. Die ou sekerhede val weg, want daar is 'n nuwe, onsekere leierskap, en van nou af 'n heilige onderskeiding tussen ons geskiedenis en God se geskiedenis. Daar is egter 'n nuwe sekerheid, die brose, onmagtige teken van die Here se magtige leiding...

Teks en konteks

 

Josua is hoofsaaklik 'n historiese vertelling van hoe Israel die land inneem, verower en onder die stamme verdeel. Die in- en oorname is in breŽ gesien 'n "totale aanslag", hoewel daar ook melding is van die onvolledigheid daarvan (13:13, 15:63, 16:10, 17:12-13, 23:4-5). Vanuit 'n teologiese oogpunt het die Here sy beloftes aan die aartsvaders ten volle nagekom (saamgevat in 21:43-45). Hierdie vervullingskarakter het Von Rad so ver gebring om Josua te sien as die afsluitingsboek van die sogenaamde Heksateug (Gen-Jos). Noth reken egter dat die eerste vier boeke van Moses 'n totaal ander karakter dra as Deuteronomium en die boeke van Josua tot Konings, wat grootliks daardeur bepaal is. Noth praat van die Deuteronomistiese geskiedwerk (Deut - Konings), wat in of net na die ballingskaptyd saamgestel sou wees. Die doel van hierdie werk is om duidelik te maak dat die oordeel wat deur die profete oor Israel (Juda) aangekondig is, voltrek is, en 'n nuwe tyd aanbreek, waarvoor nuwe bekering en 'n nuwe fondament - in die lig van die ou tradisies - nodig is. Volgens die Joodse kanon is Josua dan ook die eerste boek van die sogenaamde vroeŽ profete.

 

Die boek word gewoonlik verdeel in drie hoofdele: 1-12 = die verowering van die land;13-21 = die verdeling van die land; 22/23-24 = verbondsverpligtinge. Hoofstukke 1-21 handel oor die Here se verbondsbeloftes wat Hy vervul, en 23-24 oor die verbondsverpligting wat daardeur op die volk gelÍ word (Josua 22 is 'n tussenstuk.) Die veroweringsberig, Josua 1-12, word in drie onderskeie dele weergegee: 1-2 = die voorbereidings om die land binne te gaan; 3-5 = die deurtog deur die Jordaan; 6-12 = die verowering van verskillende dele en streke.

 

Hoofstuk 3 en 4 is eintlik 'n aaneenlopende verhaal van die deurtog deur die Jordaan, terwyl hoofstuk 5 vertel van die besnydenis en paasfees wat eers gevier moes word voordat Jerigo aangedurf word. Die teologiese doel van die deurtog word verwoord in die laaste vers van Josua 4 (vers 24): ...sodat al die volke van die aarde sal besef dat die mag van die Here groot is, [en] sodat julle die Here julle God altyd sal dien (vrees). Die gedeelte word dan ook omraam deur die uitdruklike opmerkinge in 2:24 en 5:1 dat die volke Israel vrees omdat die Here die pad vir hulle oopmaak en die land aan hulle gee.

 

Die boek Josua het baie duidelik die motief van die sogenaamde Heilige Oorlog of Jahwe-oorlog ten agtergrond. Die inname en oorname van die land is Jahwe se stryd en oorwinning oor die volke en hulle gode. In hierdie stryd is die Here die enigste werklike universele, magtige, God ["bo in die hemel en onder op die aarde" - 2:11, "die Here (Adon) van die hele aarde" - 3:11, 12 ens; "die lewende God" - 3:10]. Hy span die natuurelemente (son, maan, haelstene - 10:11-15) in in sy stryd. Hy gee aan Israel die land, Jerigo, die vyande, die aardbodem, rus vir die volk (die woord gee kom 28 keer voor). Daarom vrees die volke en gode Hom. En daarom hoef Josua en Israel nie te vrees nie. Kry hulle trouens die opdrag "moenie bang wees nie...." Die Here se oorwinning ter wille van Israel is vas en seker. God sal die volke sekerlik verdryf (3:10 - infinitivus absolutus).

 

In hierdie stryd speel die ark 'n besondere rol. Dis simbool van die teenwoordigheid van die strydende en oorwinnende Here. Israel het die ark so met hierdie Here vereenselwig, dat hulle in 'n latere episode die ark laat haal om die neerlaag teen die Filistyne te probeer omswaai in 'n oorwinning - tot hulle eie skande (1 Sam 4). In Josua is die ark "die ark van die verbond"; die draer van die "tafels" van die wet, die verbondstipulasies. Die Here is teenwoordig deur sy verbond, as die Verbondsgod, die Grootkoning wat Israel, sy bondgenoot (vasal) beskerm en sy verbondsbeloftes teenoor Israel nakom. Op sy beurt moet Israel die eer aan die Here gee (die Here vrees/dien/gehoorsaam - 4:24). In 3:4 word die afstand tussen die volk en die ark beklemtoon: die Here is heilig en kan nie gemanipuleer word nie (die verhaal van 1 Sam 4), maar moet in gehoorsaamheid gevolg word. Die teken dat die Here vir hulle die oorwinning behaal, is dat "die verbondsark van die Here van die hele aarde" voor hulle uit, die Jordaan in, gaan (3:11).

 

In die verhaal van God se oorwinning oor die magte, oftewel die nakoming van sy verbondsbeloftes, speel die verbondsmiddelaar 'n belangrike rol. Moses word opgevolg deur Josua. Dis belangrik dat Josua net soveel aanvaarding, aansien en respek verkry soos Moses gehad het. En dit is wat die Here gaan bewerk deur Israel droogvoets deur die Jordaan te laat trek soos destyds deur die Rietsee onder Moses se leiding (3:7, 4:14). In die perspektief van die Josua-verhaal was Moses se tyd, die tyd van die eksodus, deurtog deur die Rietsee en woestyntog in werklikheid net 'n voorbereiding vir die vervulling van God se beloftes. Die tyd van Josua is die tyd van vervulling van die landbelofte alreeds aan Abraham. Die deurtog deur die Jordaan is die aanvang en terselfdertyd voorwaarde vir die vervulling van die belofte.

 

Die deurtog/oorgang ('abar = 22 keer in hoofstuk 3 en 4) is dus nie toevallig nie, maar 'n noodwendige en noodsaaklike stuk van die pad met God. Dis 'n situasie waarin die hele Israel (3:7, 17) betrek word, sodat almal sal weet (yada) dat Jahwe, die lewende God, by Josua en die volk is [net soos Hy met Moses en die volk was by die Rooi See - 4:23].

 

Josua 3 handel dus baie duidelik oor die volk van God in 'n oorgangstyd. 'n Oorgangstyd gaan altyd gepaard met groot onsekerheid en verliese van ou sekerhede. Dit is een van die sleutelgedeeltes vir Israel se self-verstaan (Hamlin), met die oog op 'n nuwe identiteit na die woestyntyd (vanuit Deuteronomistiese oogpunt: ballingskaptyd). Almal moet deur die Jordaan gaan. Niemand kan agterbly nie, want agter lÍ die woestyntyd en slegs verre herinneringe aan beter tye lank verby. Die voortstuwing van die geskiedenis, ja, van die vervulling van God se beloftes, vereis dat almal moet meegaan en saam met mekaar die vrese en ekstase van die oorgangstyd en nuwe toekoms beleef. Dis 'n noodwendige waagstuk. Maar dis ook 'n pad van oorwinningsekerheid vir hulle wat hulleself in God se hande toevertrou, en die teken van sy teenwoordigheid (die verbondsark en die priesters) gehoorsaam volg.

 

Wat hier met die Jordaanwaters gebeur, word in skeppingsterme beskryf in onder meer Job 38:8-11: Die Here tem en bedwing die chaosmagte. Wanneer die Skepper op so 'n wonderbaarlike manier ingryp (3:5), kan sy volk deur geen seŽ of riviere - geen anti-goddelike magte - teruggehou word nie.

Josua 3:7-17 kan moeilik in isolasie van die res van hoofstuk 3 en selfs hoofstuk 4 gelees word. Daar is verskeie verwysings en herhalings (in so 'n mate dat kritiese kommentatore meen twee bronne is hier ineengevleg). Vers 12 - die aanwysing van die twaalf manne - word bv verder gevoer in 4:3; die aankondiging in v 7 - dat Josua aansien sal kry - word volgens 4:14 gerealiseer; die doel van die deurtog in 3:10 aangeraak, word in 4:24 uitgespel. Wanneer oor 3:7-17 gepreek word, sal die historiese en literÍre konteks dus noodwendig meespreek.

Preekvoorstel

Josua 3 handel oor die Godsvolk in 'n oorgangsituasie, wat enersyds 'n krisissituasie is, andersyds dieā geleentheid wat hulle identiteit sou stempel en aan hulle koers sou gee vir soortgelyke oorgangstye in die toekoms. Ons kan aanvaar dat diť gedeelte veral aktueel was in die tyd na die ballingskap en voor die tweede besetting van die land. Die toepassing op die oorgangstyd waarin ons leef, is voor die hand liggend. Daar kan vrugbaar aangesluit word by die (swakke) tekens van God se verbond - die doop en die nagmaal.

 

Ons stel die volgende preekskema voor:

1. Die oorgang is 'n breuk tussen die sekerhede van die verlede en die onsekerheid van die toekoms:

 

Die Jordaan was fisies die grens tussen die woestyn en beloofde land; maar ook die grens tussen twee eras: die tyd van Moses en diť van Josua. Die tyd van Moses was weliswaar die woestyntyd, maar tog 'n vertroude tyd, van 'n sterk leier, van vastigheid en sekerheid. Van bekende (alhoewel woestyn!) paaie. Moses is egter nou dood. Al was daar ook die hunkering na hom en sy dae, is diť tyd onherroeplik verby. Die grens na die onbekende moet eenvoudig oorgesteek word. Dis 'n nuwe, onbekende pad (vers 4), met 'n nuwe leier wat homself nog nie bewys het nie.

 

2.Die grens moet oorgesteek word met 'n nuwe onsekere soort leierskap:

 

Met die oorsteek van die Rietsee destyds, was daar 'n krag wat van die leierskap uitgegaan het. In Eksodus 14 lees ons dat die engel van die Here die leiding geneem het, die vuur- en wolkkolom tussen Israel en die Egiptiese leŽr ingebuffer het, en Moses met 'n magsgebaar die waters van die see oopgekloof het. Moses se leierskap was bewese, alreeds in Egipte.

 

Hier by die Jordaan is Josua op die agtergrond, slegs maar die Here se mondstuk. Die volk kry 'n opdrag by monde van die kampopsigters dat hulle die verbondsark moet volg sodra die priesters dit die Jordaan in dra. Josua bevestig hierdie opdrag met 'n profetiese woord aan die volk (v 9). Die priesters met die ark moet die weg baan. Totaal en al die teendeel van magsvertoon.

 

Soos Josua (hoofstuk 1), het die volk niks meer nie as net die beloftewoord (die woord van Josua wat homself nog moet bewys!) en deur die ark die (swakke) teken van die Verbondsgod se teenwoordigheid. Dit verg inderdaad geloof om te glo dat die "Here van die hele aarde" die werklike leier is.

 

3. Die volk moet afstand hou tussen hulle en die ark:

 

Die volk moet feitlik 'n kilometer oophou tussen hulle en die ark. Hulle moet die afstand hou, al het hulle hulle gereinig. Waar die ark gaan, is heilige grond. Die ark gaan vooruit: God se geskiedenis gaan voorop. Daar is 'n afstand tussen die menslike en die goddelike geskiedenis. Israel kan nie, soos wat so dikwels in die verlede gebeur het, hulle eie geskiedenis en God se geskiedenis met mekaar verknoop nie, asof hulle saak per se God se saak is, asof die volk se geskiedenis per se heilsgeskiedenis is. Israel se geskiedenis moet deursigtig wees as die terrein van God se handelinge. Deur hulle gehoorsame navolging moet die mense God kan raaksien, kan raaksien dat die lewende God die land binnegekom het. Alle direkte koppelings tussen volk en God, alle volksteologie, alle roem op godsdienstigheid en triomfalisme word hiermee by voorbaat afgesny.

 

4. 'n Nuwe sekerheid en belewing van God se wonders:

 

In die plek van die ou "sekerhede", kom 'n nuwe sekerheid. Die versekering dat God die vyandelike volke voor Israel uit sal verdryf (v 10), is gegrond op die teken van God se teenwoordigheid, die verbondsark, wat voor hulle sal uitgaan. So seker as die ark die water ingaan en die waters voor die ark opdroog, so seker voer die Here sy beloftes uit. Op die weg van gehoorsaamheid beleef die volk die wonderwerk.

 

Kwantitatief kan Israel ook honderd persent op God reken: die sewetal nasies wat uitgeroei sal word, is die simboliese volgetal. So ook die twaalf manne, verteenwoordigend van die hele Israel. Hoofstuk 3 begin en sluit af met "al die Israeliete/die hele Israel" wat voor die Jordaan te staan kom, en uiteindelik almal deur die Jordaan is. Hierdie sekerheid hang egter deurgaans saam met geloofsgehoorsaamheid, en hef nooit die spanning op tussen wat reeds gegee is en wat nog voorlÍ nie: die volk het regoor Jerigo deurgetrek (v 16) - in 'n situasie wat opnuut geloofsmoed verg.

 

Literatuur

Kommentare geraadpleeg

M A Beek, Jozua (POT), Callenbach, 1981; T C Butler, Joshua (Word Biblical Commentary), 1983; E J Hamlin, Joshua, Inheriting the Land (ITC), Eerdmans, 1983; J A Soggin, Joshua (OTL), 1972; M H Woudstra, The Book of Joshua (NICOT), 1981.

 

Algemeen

J Burden & F Deist, Kom ons doen Bybelstudie, ACACIA, voorwoord 1986;C Burger, Gemeentes in Transito..., Lux Verbi 1995;B S Childs, Introduction to the OT as Scripture, SCM Press, 1979;F E Deist, Duur Genade, 'n Bybeldagboek, Tafelberg 1990;J P J Olivier, Josua 5:10 in Woord teen die Lig III/2, Lux Verbi 1991; G von Rad, Old Testament Theology, vol 1, SCM Press 1975;M Soards ea, Preaching the Revised Common Lectionary, Year A, After Pentecost 2, Abingdon Press 1992;W Zimmerli, Old Testament Theology in Outline, John Knox 1978 (1984).