Ander
tekste : Ps. 90: 1-6, 13-17; 1 Tess. 2: 1-8; Matt. 22: 34-46.
In Deut 34 lees ons die verhaal oor die dood van Moses. Ons lees ook hier van Josua wat as Moses se
opvolger aangewys word. Die hoofstuk
begin met Moses wat uit die Moabsvlakte opklim na die Neboberg (vers 1). Die Here wys dan vir hom die land en
bevestig dit as die land van die belofte wat die volk as 'n gawe sal ontvang
(verse 2-4). In verse 5-8 word die dood
van Moses beskryf, asook sy goddelike begrafnis. Daarna word oorgegaan na die fokus op Josua as nuwe leier (vers
9). Die vertelling eindig met die
opsommende lofrede oor die uitsonderlike profetiese rol wat Moses gespeel het
(verse 10-12).
In hierdie vertelling word 'n mens getref deur die intieme verhouding
tussen die Here en Moses. Die gedeelte
het 'n “sagte” toonaard wat voortspruit uit die Here se genadige deernis
teenoor Moses. Skrifkenners wys tereg
daarop dat hierdie teks, te midde van die vredevolle toonaard, ook met oordeel
te make het. Volgens Num 20:1-13 is dit
as gevolg van Moses se gebrek aan vertroue in die Here dat hy nie die land van
die belofte mag binnegaan nie. Sekere
tekste uit Deuteronomium wys weer na die sonde van die volk as die rede waarom
Moses nie die beloofde land mag binngegaan nie (vgl 1:37; 3:26; 4:21). Hoe dit ook al sy, die oordeel van God op
ongehoorsaamheid dien as 'n rede waarom Moses nie self die land kon binnegaan
nie.
Ten spyte van die ongehoorsaamheid van Moses en die volk, is die
verhouding tussen Moses en die Here nie verbreek nie. Inteendeel, die teks gee
eerder vir 'n mens 'n gevoel vir die besondere intimiteit wat daar in die
verhouding tussen God en Moses is. In
'n vorige hoofstuk (33:1) word Moses as 'n man van God beskryf. In hoofstuk 34 sien 'n mens ewe-eens die
noue verhouding: die Here wys vir Moses die land en begrawe self vir
Moses.
Moses word geteken as die gehoorsame dienaar van God en in die laaste
paar verse van hoofstuk 34 lees ons in 'n lofrede oor Moses van die besondere
vriendskap tussen God en Moses. Die
1983-AV sę in vers 10 dat hy (dit is Moses) die Here persoonlik geken het. Meeste eksegete (soos Von Rad en Craigie)
vertaal egter vers 10 dat dit Moses beskryf as die man “whom God knew face to
face”. Die klem lę dus nie op Moses se kennis
van God nie, maar op God se kennis van
Moses. So eindig Deuteronomium (en
trouens die Pentateug) met die aksent op God wat mense ken en met hulle in 'n
intieme verhouding staan en wil staan.
In Craigie se woorde: “Moses
was a prophet, but in his epitaph it is not his knowledge of God that is
stessed, but rather the Lord’s knowledge of him” (406).
Wat uitstaan in hierdie herinnering aan Moses aan die einde van
Deuteronomium is die feit van die intieme verhouding tussen hom en God - 'n
verhouding wat ten diepste gestempel is deur die feit dat God vir Moses geken
het en Homself laat ken het. Te midde
van al die dinge wat oor Moses gesę kan word, hou Deuteronomium dus vir ons die
intieme verhouding tussen Moses en die Here voor as die uitstaande kenmerk van
Moses se lewe.
Volgens die vertelling in hoofstuk 34 trakteer die Here as’t ware sy
dienskneg Moses op 'n uitsig op die land.
Ons lees dat Moses dan daarna sterf en deur die Here begrawe word -
buite die beloofde land. In vers 6 word
bygevoeg dat niemand tot vandag toe weet waar Moses begrawe is. Heelwat uitleggers ontgin die vraag hoekom
die teks beklemtoon dat die plek van Moses se graf nie bekend is nie. So byvoorbeeld eindig die Joodse skrywer
Elie Wiesel 'n boeiende portretskets oor Moses deur aan te sluit by die gedagte
dat niemand weet waar Moses begrawe is nie. Hy skryf oor die graf van Moses:
“It has become neither temple nor museum. It is everywhere and elsewhere, always elsewhere. Nobody was
present at his death. And so, in a way
he lives on inside us, every one of us. For as long as one child of Israel, somewhere,
proclaims the Law and his truth, Moses lives on through him, as does the
burning bush, which consumes man’s heart without consuming one’s faith”
(216,217).
Wiesel beklemtoon hierdeur iets van die gedagte dat die oop einde oor
Moses se dood maak dat daar besef word dat dit nie gaan oor pelgrimstogte na
Moses se graf nie, maar oor die uitleef van die wet vanuit die verterende, maar
tog helende, verhouding met die Een wat die wet gee. Die teks nooi ons dus as’t ware om Moses te laat voortleef deur
ons lewe.
Ook die Nederlandse teoloog Oepke Noordmans meen dat daar 'n dieper
betekenis sit in die feit dat niemand weet waar Moses begrawe is nie. In 'n meditasie oor Deut 34, met die mooi
titel Uitzicht en dood, wys Noordmans
daarop dat in die heilsgeskiedenis die dood nie die uitblus van lewe beteken
nie. So word gewaak dat Moses se dood
'n versoeking word tot afgodery. Die
klem moet nie lę op Moses nie, maar op die God in wie se diens Moses se lewe
gestaan het.
Teologies gesproke kan ons dus sę dat die teks die klem op die regte plek
wil laat val - nie op Moses se bekwaamhede of sonde nie, maar op God wat dit
land as 'n gawe gee. Dit is waarskynlik
ook die rede hoekom Moses buite die land begrawe word. “The final verses of the Torah is not about
the death of Moses, but about his vision of the land of Canaan ... The central
point of the text is that the death of Moses is about the future” (Soards et al, 102). So word Moses se dood in die regte perspektief - binne God se
perspektief - geplaas.
In Deut 34 sien ons ook hoe die leierskap van Moses na Josua oorgedra
word. In hierdie sin het die teks 'n
sekere realisme. Daar moet oor Moses
gerou word, maar die klem moet nie op die rou val nie. Die gebruiklike tyd van rou word gehandhaaf,
naamlik 30 dae (dit is byvoorbeeld dieselfde routyd wat daar was na Aäron se
dood). Die volk moet voortgaan om die
land binne te neem. Hulle moet waak
teen 'n tipe nostalgie wat hulle verlam op te doen wat in die hede van hulle
verwag word. Eindes en nuwe beginne kry
so hulle betekenis binne God se voortgaande verhaal.
Heelwat eksegete wys op die onaf einde van die Pentateug. Die verhaal eindig nie in die beloofde land
nie, maar by 'n oorgang - 'n oorgang na 'n nuwe land en 'n nuwe era. Dit eindig met Israel wat nog nie gearriveer het nie. Dit is die moeite werd om Thomas W Mann
hieroor aan te haal: “The result of the
this strange ending is that the outcome of the story depends ultimately on the
readers, both ancient and modern.
Defying our usual literary expections, the end of the book is suspenseful, raising the question, Will Israel
(and will we) really be the faithful covenant community? The ending is thus not happy in the usual
sense of the term. It calls more for
sober reflection than celebration, for self-examination rather than
self-congratulation, for spiritual soul-searching rather than contentment. It is more like the ‘night before’ than the
‘day after.’ ... It suspends us, along with every other pelgrim, ‘on Jordan’s
stormy banks.’ Thus it calls us both to
remember and to hope, recognizing that hope is rooted in memory, faith is
grounded in thankfulness, and justice is the fruit of love” (167).
Ook Patrick Miller eindig sy bespreking oor Deut 34 (as deel van God se
verhaal met sy volk) met die woorde:
“That story still goes on.” Die
einde van Deuteronomium (en die Pentateug) herinner ons dat God se verhaal met
sy mense nog nie klaar is nie. Ook ons
het nog nie gearriveer nie - ons is nog by wyse van spreke op pad. Ek meen dat ons teksgedeelte ook vir ons op
hierdie pad met God 'n woord het. Dit
herinner ons dat skynbaar finale eindes nie noodwendig die einde binne God se
raamwerk is nie. Dinge soos die dood is
nie die einde van die pad nie, maar omdat ons dood deel van God se verhaal is, word
die dood 'n deurgang eerder as 'n doodloopstraat. Dit kry 'n dieper betekenis.
Iets hiervan word beskryf in die woorde wat Dietrich Bonhoeffer kort
voor sy dood vir ‘n vriend gesę het en wat dikwels aangehaal word: “Dit is die
einde - vir my die begin van die lewe.”
Ewe-eens is dit die vreemde logika van God dat skynbare eindes soos
selfprysgawe (as die sterwe aan die self), juis 'n nuwe begin en dieper lewe
moontlik maak (die koringkorrel moet immers eers sterf om te kan lewe). Hierdie verrassende begin te midde van
eindes word nie deur ons moontlik gemaak nie, maar deur God. God is die een wat in Jesus Christus gesterf
het, sodat ons kan lewe. Deur Christus
se selfprysgawe het nuwe beginne vir ons 'n moontlikheid geword.
'n Mens kan op verskillende maniere die vertelling van Deut 34 hoor. Jy kan dit hoor as 'n tragiese verhaal. Dit gaan immers oor dood en begrafnis. Dit gaan oor iemand wat sy lewe aan 'n saak
wy en dan nie die beloning beleef
nie. Boonop is die Here se oordeel oor
ongehoorsaamheid die rede vir die teleurstellende einde van 'n groot leier se
lewe. Inderdaad die materiaal vir 'n
tragedie.
Tog kan ons ook anders na die gedeelte kyk. Dit gaan nie net oor onvervulde ideale nie, maar ook oor
vredevolle spesiale oomblikke; nie net oor rou oor dinge wat verby is nie, maar
oor 'n die gereedmaak vir 'n nuwe begin.
Hoe is dit moontlik dat die vertelling nie oorheers word deur wanhoop en
ontnugtering in die lig van Moses se dood nie? Die antwoord lę daarin dat die
teks die einde van Moses se lewe binne die perspektief van God se bemoeienis
met sy mense plaas. Die teks fokus dus
nie net op Moses nie. Indien dit geval
was so die toonaard van die gedeelte heel anders gewees het. Nee, Moses se lewe kry betekenis binne God
se voortgaande verhaal met sy mense.
Dit is dié groter prentjie wat die angel uit eindes haal.
Eindes is deel van die lewe. Dit
neem so baie vorme aan; daar is die einde van 'n sekere lewensfase, of die
einde wat hom aanmeld in elke afskeid, of die einde van iemand naby ons se
lewe. Sulke eindes is dikwels
traumaties. Hoe moet ons dit
hanteer? Dit is tog menslik (en selfs
ook wenslik) om oor sulke eindes te treur.
Tog help skrifgedeeltes soos Deut 34 ons om te verstaan dat eindes nie
noodwendig verpletterend hoef te wees nie.
Binne God se raamwerk kry eindes betekenis; word eindes nie die einde
van die pad nie, maar die oorgang na 'n nuwe begin. In Deut 34 lees ons dat die volk na die 30 dae rou moes aangaan
om die land onder leiding van Josua in besit te neem - die land wat God as 'n gawe aan hulle gegee het. Die vertelling laat dus nie ruimte vir 'n
verlammende nostalgie nie. Aardse
eindes beteken nie die einde van God se verhaal nie. God se verhaal gaan voort.
Dit is die visie op hierdie groter prentjie wat betekenis gee aan
skynbare finale eindes.
So 'n paar jaar gelede het daar 'n rolprent met die titel Antonia (Engelse vertaling: Antonia’s line) gedraai. Hierdie prent sal moontlik deur sommige
mense as omstrede beleef word, maar tog hanteer dit ook die gedagte dat eindes
nie noodwendig die einde is nie. Die
rolprent begin wanneer Antonia op haar oudag gereed maak vir haar
sterfdag. Sy laat haar haar nasate
kom. Dan is daar die terugflits na haar
jongdae en na die lewens van die vroulike afstammelinge wat uit haar geslagslyn
gebore is. Die rolprent eindig weer op
die dag wanneer sy sterwe en sy haar laaste gedagtes oor die uiteenlopende
mense rondom haar deel. Heel aan die
einde van die rolprent lees 'n mens die woorde:
“En als de lange kroniek
op zijn einde loopt
is niets voltooid”.
Eindes is inderdaad nie noodwendig so betekenisloos of finaal soos ons
dink nie. As christene fundeer ons
hierdie gedagte in die feit dat God ons eindes deel maak van sy voortgaande
verhaal. Ons glo juis dat daar in 'n
God se voortgaande verhaal iemand gebore is wat aan Moses herinner. Hierdie “tweede Moses”, Jesus Christus, toon
heelwat ooreenkomste met die eerste Moses.
Ook hy roep mense op tot gehoorsaamheid en tree vir mense in by
God. Maar ander as Moses wie se graf
onbekend gebly het sodat ons hom nie aanbid nie, is hierdie Jesus waardig om
aanbid te word, omdat hy vir ons gesterf het, uit die dood opgestaan het en aan
die regterhand van God sit. Hy is die
een wat dit moontlik gemaak het dat daar te midde van dood en eindes reeds die
saad van 'n nuwe begin en 'n nuwe toekoms kan wees. In hierdie Jesus vind ons reis sy finale doel en vervulling
(Achtemeier).
Dit is wat ons teks kommunikeer; te midde van praat en prentjies van dood
en einde is daar reeds die saad van nuwe lewe en nuwe toekoms.
Literatuur
Kommentare: Craigie, P C (NICOT); Mann, T W (Westminster
Bible Companion); P D Miller
(Interpretation); G von Rad (OTL).
Aanvullend: Achtemeier, E, Deuteronomy, Jeremiah (Proclamation Commentaries), 45-47; Brueggemann, W et al, Texts for Preaching: A Lectionary Commentary Based on the NRSV - Year A, 534- 537, Noordmans, O, Verzamelde Werken Deel 8, 198-200; Olson, D T, Deuteronomy and the Death of Moses: A Theological Reading; Soards, M, Dozeman, Y, Mccabe, K, Preaching the Revised Common Lectionary Year A, After Pentecost 2, 155-157, Wiesel, E, Messengers of God, 188-217.