Deuteronomium 34: 1-12 (Robert Vosloo)

24 Oktober 1999

Een en twintigste week in Koninkrykstyd

 

Ander tekste :  Ps. 90: 1-6, 13-17;  1 Tess. 2: 1-8;  Matt. 22: 34-46.

 

Binne God se voortgaande verhaal met mense het eindes nie die laaste woord nie.

Teks en konteks

 

In Deut 34 lees ons die verhaal oor die dood van Moses.  Ons lees ook hier van Josua wat as Moses se opvolger aangewys word.  Die hoofstuk begin met Moses wat uit die Moabsvlakte opklim na die Neboberg (vers 1).  Die Here wys dan vir hom die land en bevestig dit as die land van die belofte wat die volk as 'n gawe sal ontvang (verse 2-4).  In verse 5-8 word die dood van Moses beskryf, asook sy goddelike begrafnis.  Daarna word oorgegaan na die fokus op Josua as nuwe leier (vers 9).  Die vertelling eindig met die opsommende lofrede oor die uitsonderlike profetiese rol wat Moses gespeel het (verse 10-12). 

 

In hierdie vertelling word 'n mens getref deur die intieme verhouding tussen die Here en Moses.  Die gedeelte het 'n “sagte” toonaard wat voortspruit uit die Here se genadige deernis teenoor Moses.  Skrifkenners wys tereg daarop dat hierdie teks, te midde van die vredevolle toonaard, ook met oordeel te make het.  Volgens Num 20:1-13 is dit as gevolg van Moses se gebrek aan vertroue in die Here dat hy nie die land van die belofte mag binnegaan nie.  Sekere tekste uit Deuteronomium wys weer na die sonde van die volk as die rede waarom Moses nie die beloofde land mag binngegaan nie (vgl 1:37; 3:26; 4:21).  Hoe dit ook al sy, die oordeel van God op ongehoorsaamheid dien as 'n rede waarom Moses nie self die land kon binnegaan nie.

 

Ten spyte van die ongehoorsaamheid van Moses en die volk, is die verhouding tussen Moses en die Here nie verbreek nie.  Inteendeel, die  teks gee eerder vir 'n mens 'n gevoel vir die besondere intimiteit wat daar in die verhouding tussen God en Moses is.  In 'n vorige hoofstuk (33:1) word Moses as 'n man van God beskryf.  In hoofstuk 34 sien 'n mens ewe-eens die noue verhouding: die Here wys vir Moses die land en begrawe self vir Moses. 

 

Moses word geteken as die gehoorsame dienaar van God en in die laaste paar verse van hoofstuk 34 lees ons in 'n lofrede oor Moses van die besondere vriendskap tussen God en Moses.  Die 1983-AV sę in vers 10 dat hy (dit is Moses) die Here persoonlik geken het.  Meeste eksegete (soos Von Rad en Craigie) vertaal egter vers 10 dat dit Moses beskryf as die man “whom God knew face to face”.  Die klem lę dus nie op Moses se kennis van God nie, maar op God se kennis van Moses.  So eindig Deuteronomium (en trouens die Pentateug) met die aksent op God wat mense ken en met hulle in 'n intieme verhouding staan en wil staan.  In Craigie se woorde:   “Moses was a prophet, but in his epitaph it is not his knowledge of God that is stessed, but rather the Lord’s knowledge of him” (406). 

 

Wat uitstaan in hierdie herinnering aan Moses aan die einde van Deuteronomium is die feit van die intieme verhouding tussen hom en God - 'n verhouding wat ten diepste gestempel is deur die feit dat God vir Moses geken het en Homself laat ken het.  Te midde van al die dinge wat oor Moses gesę kan word, hou Deuteronomium dus vir ons die intieme verhouding tussen Moses en die Here voor as die uitstaande kenmerk van Moses se lewe.

 

Volgens die vertelling in hoofstuk 34 trakteer die Here as’t ware sy dienskneg Moses op 'n uitsig op die land.  Ons lees dat Moses dan daarna sterf en deur die Here begrawe word - buite die beloofde land.  In vers 6 word bygevoeg dat niemand tot vandag toe weet waar Moses begrawe is.  Heelwat uitleggers ontgin die vraag hoekom die teks beklemtoon dat die plek van Moses se graf nie bekend is nie.  So byvoorbeeld eindig die Joodse skrywer Elie Wiesel 'n boeiende portretskets oor Moses deur aan te sluit by die gedagte dat niemand weet waar Moses begrawe is nie.  Hy skryf oor die graf van Moses:  “It has become neither temple nor museum.  It is everywhere and elsewhere, always elsewhere. Nobody was present at his death.  And so, in a way he lives on inside us, every one of us. For as long as one child of Israel, somewhere, proclaims the Law and his truth, Moses lives on through him, as does the burning bush, which consumes man’s heart without consuming one’s faith” (216,217). 

 

Wiesel beklemtoon hierdeur iets van die gedagte dat die oop einde oor Moses se dood maak dat daar besef word dat dit nie gaan oor pelgrimstogte na Moses se graf nie, maar oor die uitleef van die wet vanuit die verterende, maar tog helende, verhouding met die Een wat die wet gee.  Die teks nooi ons dus as’t ware om Moses te laat voortleef deur ons lewe.

 

Ook die Nederlandse teoloog Oepke Noordmans meen dat daar 'n dieper betekenis sit in die feit dat niemand weet waar Moses begrawe is nie.  In 'n meditasie oor Deut 34, met die mooi titel Uitzicht en dood, wys Noordmans daarop dat in die heilsgeskiedenis die dood nie die uitblus van lewe beteken nie.  So word gewaak dat Moses se dood 'n versoeking word tot afgodery.  Die klem moet nie lę op Moses nie, maar op die God in wie se diens Moses se lewe gestaan het. 

 

Teologies gesproke kan ons dus sę dat die teks die klem op die regte plek wil laat val - nie op Moses se bekwaamhede of sonde nie, maar op God wat dit land as 'n gawe gee.  Dit is waarskynlik ook die rede hoekom Moses buite die land begrawe word.  “The final verses of the Torah is not about the death of Moses, but about his vision of the land of Canaan ... The central point of the text is that the death of Moses is about the future” (Soards et al, 102).  So word Moses se dood in die regte perspektief - binne God se perspektief - geplaas.

 

In Deut 34 sien ons ook hoe die leierskap van Moses na Josua oorgedra word.  In hierdie sin het die teks 'n sekere realisme.  Daar moet oor Moses gerou word, maar die klem moet nie op die rou val nie.  Die gebruiklike tyd van rou word gehandhaaf, naamlik 30 dae (dit is byvoorbeeld dieselfde routyd wat daar was na Aäron se dood).  Die volk moet voortgaan om die land binne te neem.  Hulle moet waak teen 'n tipe nostalgie wat hulle verlam op te doen wat in die hede van hulle verwag word.  Eindes en nuwe beginne kry so hulle betekenis binne God se voortgaande verhaal. 

 

Heelwat eksegete wys op die onaf einde van die Pentateug.  Die verhaal eindig nie in die beloofde land nie, maar by 'n oorgang - 'n oorgang na 'n nuwe land en 'n nuwe era.  Dit eindig met Israel wat nog nie gearriveer het nie.  Dit is die moeite werd om Thomas W Mann hieroor aan te haal:  “The result of the this strange ending is that the outcome of the story depends ultimately on the readers, both ancient and modern.  Defying our usual literary expections, the end of the book is suspenseful, raising the question, Will Israel (and will we) really be the faithful covenant community?  The ending is thus not happy in the usual sense of the term.  It calls more for sober reflection than celebration, for self-examination rather than self-congratulation, for spiritual soul-searching rather than contentment.  It is more like the ‘night before’ than the ‘day after.’ ... It suspends us, along with every other pelgrim, ‘on Jordan’s stormy banks.’  Thus it calls us both to remember and to hope, recognizing that hope is rooted in memory, faith is grounded in thankfulness, and justice is the fruit of love” (167).

 

Ook Patrick Miller eindig sy bespreking oor Deut 34 (as deel van God se verhaal met sy volk) met die woorde:  “That story still goes on.”  Die einde van Deuteronomium (en die Pentateug) herinner ons dat God se verhaal met sy mense nog nie klaar is nie.  Ook ons het nog nie gearriveer nie - ons is nog by wyse van spreke op pad.  Ek meen dat ons teksgedeelte ook vir ons op hierdie pad met God 'n woord het.  Dit herinner ons dat skynbaar finale eindes nie noodwendig die einde binne God se raamwerk is nie.  Dinge soos die dood is nie die einde van die pad nie, maar omdat ons dood deel van God se verhaal is, word die dood 'n deurgang eerder as 'n doodloopstraat.  Dit kry 'n dieper betekenis.  Iets hiervan word beskryf in die woorde wat Dietrich Bonhoeffer kort voor sy dood vir ‘n vriend gesę het en wat dikwels aangehaal word: “Dit is die einde - vir my die begin van die lewe.” 

 

Ewe-eens is dit die vreemde logika van God dat skynbare eindes soos selfprysgawe (as die sterwe aan die self), juis 'n nuwe begin en dieper lewe moontlik maak (die koringkorrel moet immers eers sterf om te kan lewe).  Hierdie verrassende begin te midde van eindes word nie deur ons moontlik gemaak nie, maar deur God.  God is die een wat in Jesus Christus gesterf het, sodat ons kan lewe.  Deur Christus se selfprysgawe het nuwe beginne vir ons 'n moontlikheid geword.

Preekvoorstel

'n Mens kan op verskillende maniere die vertelling van Deut 34 hoor.  Jy kan dit hoor as 'n tragiese verhaal.  Dit gaan immers oor dood en begrafnis.  Dit gaan oor iemand wat sy lewe aan 'n saak wy  en dan nie die beloning beleef nie.  Boonop is die Here se oordeel oor ongehoorsaamheid die rede vir die teleurstellende einde van 'n groot leier se lewe.  Inderdaad die materiaal vir 'n tragedie.

 

Tog kan ons ook anders na die gedeelte kyk.  Dit gaan nie net oor onvervulde ideale nie, maar ook oor vredevolle spesiale oomblikke; nie net oor rou oor dinge wat verby is nie, maar oor 'n die gereedmaak vir 'n nuwe begin.

 

Hoe is dit moontlik dat die vertelling nie oorheers word deur wanhoop en ontnugtering in die lig van Moses se dood nie? Die antwoord lę daarin dat die teks die einde van Moses se lewe binne die perspektief van God se bemoeienis met sy mense plaas.  Die teks fokus dus nie net op Moses nie.  Indien dit geval was so die toonaard van die gedeelte heel anders gewees het.  Nee, Moses se lewe kry betekenis binne God se voortgaande verhaal met sy mense.  Dit is dié groter prentjie wat die angel uit eindes haal.

 

Eindes is deel van die lewe.  Dit neem so baie vorme aan; daar is die einde van 'n sekere lewensfase, of die einde wat hom aanmeld in elke afskeid, of die einde van iemand naby ons se lewe.  Sulke eindes is dikwels traumaties.  Hoe moet ons dit hanteer?  Dit is tog menslik (en selfs ook wenslik) om oor sulke eindes te treur.  Tog help skrifgedeeltes soos Deut 34 ons om te verstaan dat eindes nie noodwendig verpletterend hoef te wees nie.  Binne God se raamwerk kry eindes betekenis; word eindes nie die einde van die pad nie, maar die oorgang na 'n nuwe begin.  In Deut 34 lees ons dat die volk na die 30 dae rou moes aangaan om die land onder leiding van Josua in besit te neem  - die land wat God as 'n gawe aan hulle gegee het.  Die vertelling laat dus nie ruimte vir 'n verlammende nostalgie nie.  Aardse eindes beteken nie die einde van God se verhaal nie.  God se verhaal gaan voort.   Dit is die visie op hierdie groter prentjie wat betekenis gee aan skynbare finale eindes.

 

So 'n paar jaar gelede het daar 'n rolprent met die titel Antonia (Engelse vertaling: Antonia’s line) gedraai.  Hierdie prent sal moontlik deur sommige mense as omstrede beleef word, maar tog hanteer dit ook die gedagte dat eindes nie noodwendig die einde is nie.  Die rolprent begin wanneer Antonia op haar oudag gereed maak vir haar sterfdag.  Sy laat haar haar nasate kom.  Dan is daar die terugflits na haar jongdae en na die lewens van die vroulike afstammelinge wat uit haar geslagslyn gebore is.  Die rolprent eindig weer op die dag wanneer sy sterwe en sy haar laaste gedagtes oor die uiteenlopende mense rondom haar deel.  Heel aan die einde van die rolprent lees 'n mens die woorde:

 

“En als de lange kroniek

op zijn einde loopt

is niets voltooid”.

 

Eindes is inderdaad nie noodwendig so betekenisloos of finaal soos ons dink nie.  As christene fundeer ons hierdie gedagte in die feit dat God ons eindes deel maak van sy voortgaande verhaal.  Ons glo juis dat daar in 'n God se voortgaande verhaal iemand gebore is wat aan Moses herinner.  Hierdie “tweede Moses”, Jesus Christus, toon heelwat ooreenkomste met die eerste Moses.  Ook hy roep mense op tot gehoorsaamheid en tree vir mense in by God.  Maar ander as Moses wie se graf onbekend gebly het sodat ons hom nie aanbid nie, is hierdie Jesus waardig om aanbid te word, omdat hy vir ons gesterf het, uit die dood opgestaan het en aan die regterhand van God sit.  Hy is die een wat dit moontlik gemaak het dat daar te midde van dood en eindes reeds die saad van 'n nuwe begin en 'n nuwe toekoms kan wees.  In hierdie Jesus vind ons reis sy finale doel en vervulling (Achtemeier).

 

Dit is wat ons teks kommunikeer; te midde van praat en prentjies van dood en einde is daar reeds die saad van nuwe lewe en nuwe toekoms.

 

Literatuur

Kommentare:  Craigie, P C (NICOT); Mann, T W (Westminster Bible Companion);  P D Miller (Interpretation);  G von Rad (OTL).

 

Aanvullend: Achtemeier, E, Deuteronomy, Jeremiah (Proclamation Commentaries), 45-47; Brueggemann, W et al, Texts for Preaching: A Lectionary Commentary Based on the NRSV - Year A, 534- 537, Noordmans, O, Verzamelde Werken Deel 8, 198-200;  Olson, D T, Deuteronomy and the Death of Moses: A Theological Reading; Soards, M, Dozeman, Y, Mccabe, K, Preaching the Revised Common Lectionary Year A, After Pentecost 2, 155-157, Wiesel, E, Messengers of God, 188-217.