29 FEBRUARIE 2004

EERSTE SONDAG IN LYDENSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

 Fokusteks: Deuteronomium 26:1-11

Ander tekste: Psalm 91:1-16; Romeine 10: 8b-13; Matteus 6:1-6; 16-21

Inleiding

地 Lewe van dankbaarheid wat sigbaar gestalte kry in belydenis en rentmeesterskap. Hierdie sentrale tema wat deurgaans in die tekste voorkom, is die kern van die preekvoorstel en kry besondere klem in die liturgie. Die fokusteks vir vandag is self ook 地 liturgie, of voorskrif vir hoe 地 bepaalde ritueel uitgevoer moet word gekoppel aan, na alle waarskynlikheid, die oudste geloofsbelydenis van Israel. Gevolglik kry twee liturgiese momente, te wete geloofsbelydenis en offergawes, vandag spesiale aandag, en loop hierdie tema van belydenis en rentmeesterskap ook soos 地 goue draad deur die hele liturgie. Hierdie Sondag staan bekend as Invocavit (Verwys basisliturgie vir Sondae in Lydenstyd).

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Moontlike inleidende gesprek

Stel die volgende vraag aan die gemeente en laat tyd toe vir oordenking en moontlike bespreking: "Behoort Christene in vandag se tyd en ekonomiese klimaat nog die idee van tiendes letterlik te verstaan?"

Aanvangslied

Lied 157 "Here Jesus, ons is saam"/NSG 345

Aanvangswoord

As jy met jou mond bely dat Jesus Christus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie (n.a.v. Rom. 10:9 en 11).

Of

Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en in sy eer herstel" (n.a.v. Ps. 91: 15 invocavit).

Seëngroet

"Genade en vrede vir julle van God ons Vader wat sy enigste Seun na die wêreld gestuur het, en van die Here Jesus Christus wat vir jou en my gely het, en van die Heilige Gees, eerste vrug en waarborg van dit wat kom!" Die gemeente groet ook mekaar met sy seën.

Antwoord

Lied 504 "Kom, laat ons saam tot Jesus nader"/NSG 149

diens van die water

Sien basisliturgie vir Sondae in Lydenstyd.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed vir die opening van die Woord

Here ons God, ons is ook maar swerwers soos wat Jakob was. Ons is ook bywoners en vreemdelinge wat nie aldag mooi seker is waarheen ons oppad is nie. Maar Here, al ons onsekerheid en rigtingloosheid bring ons vanoggend voor U. Ons bely en erken ons onkunde om te doen wat ons behoort te doen en te gaan waar ons moet. Daarom vra ons dat U ons vanoggend opnuut deur u Woord en Gees leiding sal gee. Here, gee vir ons u leiding, en lei ons dan waar U wil. Amen.

Skriflesing

Deuteronomium 26:1-11

 

 

Kindertyd

Hongerdoek (Sien basisliturgie vir Sondae in Lydenstyd) en voer 地 gesprek met die kinders deur vir hulle te vra wat hulle dink gedoen word met die geld wat elke week in die erediens tydens die dankoffers opgeneem word. Noem dan vir hulle verskillende sake waarvoor die geld gebruik word.

Prediking

Antwoord

Lied 384 "Jesus, o dink aan my"/NSG 161 "Jesus, u gaan voor", as antwoord op die boodskap en oorgang na die tafel.

DIENS VAN DIE TAFEL

Die volgende gebed kan voor die nagmaalsviering gebruik word as 地 alternatief vir die formulier of die Groot Nagmaalsgebed.

"地 Boer se tafelgebed" (Johan van der Merwe uit: Die Groot Gebedeboek)

Vader, Seun en Heilige Gees

Met ons lewe sê ons dikwels vir U "Nee!"

Dankie dat U ons nogtans genadig is.

Dankie dat U vir ons "Ja!" sê, ten spyte van ons baie "Nee痴".

Dankie dat ons u "Ja!" so duidelik hoor

In elke blomkoolwolk wat reën beloof

In elke kalf wat bokspring omdat die lug na water ruik

In elke druppel wat uitsak oor dors aarde

In elke grasspriet wat getrou uitspruit as sy tyd daar is

In elke boerbok wat hom in groen weivelde verlustig

In elke merino se wol

In elke kalfie se geboorte

In elke springbok wat pronk

In elke ribbok wat skugter in die rantjie skuil.

U sê "Ja!" ook in die mense wat vir ons omgee:

Ouers, broers, susters, kinders, kleinkinders en vriende.

U "sê Ja!" ook in die voedsel op ons tafel in die geur, kleur en smaak daarvan.

U sê "Ja" in die brood en wyn nou hier voor ons,

Wat ons herinner aan u grootste "Ja!" ooit:

Die liggaam en die bloed van u Seun, gebreek en gestort vir ons.

Ja, Here, ons beker loop oor.

Ja, U is ons Herder, niks kan ons ontbreek nie.

Ja, naby aan u aarde wil ons lewe

En tot u eer wil ons bestaan.

Amen.

Instellingsverhaal (1 Kor. 11)

Instellingswoorde

Sang

Lied 303 "Eet die brood"/NSG 370 "U het die brood gebreek"

Uitdeling en gebruik van die brood en wyn

Dankoffers

地 Spesiale ritueel wat saamval met die opneem van die offergawes sal hier gepas wees. Laat die gemeente byvoorbeeld by wyse van afwisseling hul offergawes vorentoe bring as simboolhandeling wat onder andere dui op 地 lewe van dankbaarheid wat prakties uitmond in rentmeesterskap en op die eerste opbrengs van die land. Indien dit onprakties is om die hele gemeente vorentoe te laat kom, laat net die kinders of een of ander groep in die gemeente dit doen.

Dankgebed

Here Jesus, ons bring nie hierdie dankoffers na U om gesien te word nie. Nie deur U nie en nie deur mense nie. Help ons dat ons linkerhande nie weet wat ons regterhande doen nie. Ook hierdie gebed en al ons gesing en gepraat in die erediens is nie om deur mense gehoor te word nie, maar alleen deur U. u erediens is ons binnekamer, en wanneer ons bid of vas of armes help in hierdie Lydenstyd, is dit alleen uit dankbaarheid vir die liefde wat U aan ons bewys het. Daarom wil ons vanoggend saam as 地 gemeente ons harte kom leeg maak voor U, met u eie eenvoudige gebed:

Almal bid saam: "Ons Vader" (Matt. 6:9-13)

Sang

Lied 308 "Neem my lewe, laat dit, Heer" / NSG 260

UITSENDING

Verootmoediging en genade toesegging (n.a.v. Ps. 91)

Voorganger: "Liewe gemeente, ons kan saam met dié wat by God skuiling en beskerming vind, sê dat God vir ons 地 toevlug en 地 veilige vesting is, dat Hy ons God is op wie ons vertrou. Kom ons verootmoedig ons voor hierdie God en bely daarom saam ons geloof in hierdie God saam met die digter van Psalm 91."

Voorganger: God hou jou uit die vyand se hand.

Gemeente: Hy bewaar my van siekte en dood.

Voorganger: Hy bewaar my hier in my eie land.

Gemeente: Hyself is my skuilplek in nood.

Voorganger: Ek hoef niks te vrees in die donker nag.

Gemeente: Nie peste, of siekte, of gevaar.

Voorganger: Sy liefde oordek my ook in die dag.

Gemeente: Al word vele ander nie gespaar.

Voorganger: God self is jou skuilplek en beskermer.

Gemeente: En sy engele sal my dra.

Voorganger: Oor klippe en leeus en adders.

Gemeente: Wat meer kan ons van Hom vra?

Voorganger: Omdat sy My liefhet sal Ek haar red.

Gemeente: Sê die Here.

Voorganger: Omdat sy My ken sal ek haar beskerm.

Gemeente: Sê die Here.

Voorganger: Wanneer sy My aanroep sal ek haar gebed verhoor.

Gemeente: Sê die Here.

Voorganger: In haar nood sal ek by haar wees en haar beskerm.

Gemeente: Sê die Here.

Voorganger: 地 Baie lang lewe sal ek haar gee en oor my hulp sal sy haar verbly.

Gemeente: Dankie Here.

Voorganger: Daar bestaan in die Joodse tradisie 地 ritueel waartydens as op die ark waarin die Tora bewaar word gestrooi word. Met ander woorde, as word gestrooi op dít wat die teenwoordigheid van God simboliseer. Hierdie gebruik is al deur sommige rabbi痴 uitgelê in lyn met Psalm 91:15, naamlik dat God saam met die mens in sy nood is. Wanneer mense ly, ly God, solank mense huil, huil God. 地 Ryke troos waaruit elkeen van ons ook vanoggend kan put.

Slotsang

Lied 393/NSG 180 "Middelpunt van ons verlange"

Seën

"Die Here seën jou en beskerm jou, Hy sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees, en Hy sal al jou gebede verhoor en aan jou vrede gee!"

Sang

Lied 312, 313, 314 of 315 "Amen"

 

PREEKSTUDIE DEUTERONOMIUM 26:1-11

Teks en konteks

In hierdie perikoop word `n liturgie vir die aanbied van die eersteling van die oes voorgeskryf. In Deuteronomium 15:19-23 is die reël oor die aanbied van die eerstelinge van die vee uitgespel, maar daar is niks genoem van die eerstelinge van die oes nie, omdat die Deuteronomis hierdie offers binne `n kulties-liturgiese kader wil plaas.

Deuteronomium 26:1-11 vorm deel van die groter gedeelte (hfst. 12-26) wat oor godsdienstige en samelewingsreëls handel. Waar hoofstuk 12 met die instruksies vir die oprigting van `n sentrale aanbiddingsplek begin, sluit hoofstuk 26 met die instruksies van twee liturgieë wat in die aanbiddingsplek moet afspeel. Die liturgieë beklemtoon hoe die een plek van aanbidding `n sentrale posisie in die lewe van die Israeliet moet inneem. Die gebede, belydenisse en handelinge is alles gerig op `n dankbare viering van die gawe wat hulle ontvang het; om gekies, geroep en deur God verlos te wees. Om `n Israeliet te wees, beteken om `n begunstigde van God se genadige voorsiening te wees, Hy wat van slawe voorspoedige burgers maak. Dit is die boodskap van die geloofsbelydenis (vers 5-10), bestaande uit `n opsomming van die geskiedenis wat in Genesis tot Josua vertel word.

Christensen wys op die volgende prosodiese analise van vers 1-11:

A. Julle moet die eerstelinge-offer na die sentrale aanbiddingsplek bring (26:1-2).

B. Aanbod van eerstelinge-offer aan priester met verklaring (26:3).

Aanbod by die altaar met opsê van Magnalia Dei (26:4-9).

B (1) Aanbod van eerstelinge-offer aan Jahwe deur aanbidder (26:10a).

A (1) Julle moet dit voor Jahwe sit en aanbid/feesvier (26:10b-11).

In die sentrum van die struktuur (4-9) is die opsê van wat G. von Rad "die klein historiese credo" genoem het, of wat G.E. Wright die "magnalia Dei" noem. Die buitenste raam van die struktuur beweeg van die opdrag aangaande die bring van eerstelinge van die oes (1 en 2) na die familie-aanbidding en viering, waarby die priesters en die vreemdelinge ingesluit is (26:10b-11). Die binneraam beweeg ook van die individuele aanbidder se mandjie wat aan die priester gegee word, na die aanbod van die produkte aan Jahwe. Die belydenis van God se wonderdade staan dus sentraal as die fokus van die dankbare, gehoorsame volk. Die wet rakende die eerstelinge van die oes, word net na die wet oor die Amalakiete wat uitgeroei moet word (25: 17-19), gegee. Hierdie wet herinner aan die vertelling van Numeri, oor die verspieders wat met eerstelinge van die vrugte van Kanaän terugkeer (13:23-24). Die beswaardes wat nie kans gesien het vir die verowering van die land nie, is gestraf deur nie toegelaat te word om die land te bewoon nie. Die boodskap in beide Deuteronomium en Numeri is: Geloof in Jahwe lei tot die ontvangs van die beloofde lewensruimte en die gepaardgaande lewensmiddele.

Buber wys op die werkwoord "gee" (Heb. nãtan) wat sewe keer in 26:1-11 voorkom. Teenoor God wat die goeie in oorvloed gee, gee die Egiptenare "harde werk"/slawerny. Daarby word die naam Jahwe 14 keer in hierdie kort perikoop gebruik, om die fokus van erkentlikheid eenduidig op God te plaas.

Vers 1-4 gee die omstandighede waarbinne hierdie geloofsbelydenis moet geskied. `n Simboliese geskenk moet van die eerstelinge van die oes geneem, in mandjies gesit en aan die priester wat diens doen in die sentrale aanbiddingsplek gegee word. Hierdie voorskrifte word deur Moses gegee vir uitvoering wanneer Israel die land wat God beloof het, ontvang. Daarna moet hierdie `n jaarlikse dankofferseremonie word. Deur van die eerste oes `n deel (2) in die heiligdom in te dra, erken die Israeliete dat God die bron en ware eienaar van die land se opbrengs is. Moses doen die verklaring (3) en die geloofsbelydenis in die eerste persoon enkelvoud, om daardeur te erken dat hy en die volk een is, dat hy hom met Israel identifiseer en namens Israel praat.

Die eersteling van die oes word verbind met die Fees van Weke (en die Loofhuttefees). Die Fees van Weke was volgens W.H. Schmidt aanvanklik `n gewone oesfees wat later dié naam gekry het (Eks. 34, 22). Dit word so genoem omdat dit sewe weke na die gebruik van die eerste sekel (Deut. 16:9) om die graanoes af te sny, plaasvind (7 x 7 + 1 = 50. Grieks "pentekoste"). Daar was moontlik soortgelyke rituele wat tydens oestye deur nie-Israeliete ter ere van die Baäls uitgevoer is. Die Baälgode is deur inwoners van Kanaän beskou as vertiliteitsgode en verskeie handeling moes die vrugbaarheid van die land verseker. Daarom was die geloofsbelydenis van die Israeliete by hierdie oorhandiging van die mandjie van wesenlike belang.

26:5-10a. Hierdie verse bevat waarskynlik Israel se vroegste belydenis van geloof. Dit was `n credo wat op bondige wyse God se dade bely het. Daardeur is die volk se geloof gevorm. Die Arameër-voorvaders verwys na Jakob wat van "plek tot plek" getrek het (weerloos en landloos geswerf het). Met `n klein groepie kinders en hul gesinne het Jakob in Egipte `n heenkome gevind. Ten spyte van verdrukking het Israel `n talryke nasie geword, wat deur die magtige ingrype van God bevryding ervaar en `n land ontvang het `n land wat oorloop van melk en heuning.

Volgens Von Rad en Noth is die uitlating in hierdie belydenis van die openbaring van Jahwe by die berg Horeb as uittogverhaal, `n aanduiding dat Israel eers later die gebeure rondom die Godsopenbaring en wetgewing bygevoeg het. Preuss en Labuschagne vind egter die soeke na die "oerteks" en sy geskiedenis as van min waarde en werk met die funksie daarvan met betrekking tot die seremonie van die eerstelinge.

Preekvoorstel

Ons ken lankal die vertelling van die dominee wat by `n ryk, maar onverskillige boer besoek afgelê het. Oral waar hulle op die plaas stap of ry, spog die boer oor sy ontwikkelings en sy suksesse. Elke keer as hy so uitwei, antwoord die predikant: "Die Here het jou ryklik geseën, broer. Jy en die Here het saam wondere hier gedoen." Toe die predikant dit vir die hoeveelste maal benadruk dat die Here `n onmisbare, eintlik die "senior vennoot" in hierdie boerdery is, kon die man dit nie langer uitstaan nie. Hy sê toe: "Dis goed en wel dominee, maar jy moes darem die gemors hier gesien het toe Hy alleen hier geboer het."

Ons leef in `n toenemende sekulêre en materialistiese omgewing. Jaap du Rand praat van die Ontluisterde Wêreld waarin die Afrikaner en sy kerk beland het. Dit geld natuurlik nie net vir die Afrikaners nie, maar baie ander in Suid-Afrika ná 1994. Baie mense ervaar vandag `n soort geestelike skok, soos wat Adam en Eva ervaar het met die verbanning uit die tuin van Eden. Dat jy die betowerende tuin moes verlaat, waarin geestelike omgang/kommunikasie met God daarin bestaan het dat Hy "teen die tyd dat die aandwind opkom" (Gen. 3:8), deur die tuin gewandel het. Jy verruil dié intieme wandel met God vir die leegheid en kilheid van moderniteit en sekularisasie. Sekularisasie het ons soos `n dief in die nag bekruip en toe lewensgroot voor ons kom staan. Die term "sekularisasie" is in die Middeleeue gebruik wanneer `n kloosterling verlof kry om van sy/haar geloftes onthef te word en die klooster te verlaat om in die wêreld daarbuite te gaan woon. Die woord "sekularisasie" is ook gebruik wanneer die staat beslag gelê het op eiendom en bates wat in besit van die kerk was. Ons gebruik die term vandag in die sin dat mense hul al minder deur God en sy kerk laat lei, terwyl hulle al meer te kenne gee: Ek is aan niemand verantwoording en erkenning verskuldig nie. My prestasies en rykdom is aan my eie goeie bestuur te danke. Ook oor my mislukkings is ek aan niemand `n verduideliking verskuldig nie. Miskien wel aan my baas of my direksie, maar beslis nie aan `n onsigbare God nie.

Deuteronomium 26 wil ons in `n gelowige lewenshouding lei, wat in woord én daad sigbaar word. Dat ons net kan sê: "Ek glo in God", as ons dade dit bewys. Dat ons, met ons geld en goed, nie aan onsself behoort nie, maar aan God. Daarom praat ons in die kerk van "geloofsbelydenis doen". Nie "geloofsbelydenis opsê" nie. Ons maak soos Israel van ouds. In Israel het jy met jou mandjie met allerhande vrugte in jou hand aangekom, dit voor die altaar neergesit, opgekyk en gesê: "Dit het God vir my gedoen. Hierdie mandjie vrugte sê dat ek `n slaaf in Egipte was, nikswerd, klein. Maar God, God het my daarvandaan gebring na `n land wat oorloop van melk en heuning. Hier kan ek nou die eerstelinge bring van die vrugte van die land wat U my gegee het."

Ons dankoffers is sprekende bewys van `n lewenshouding van dankbaarheid ("an attitude of gratitude"). Dit sê dat ons erkentlik leef. Dat ons weet ons het `n Ouer wat vir ons plek geskep het. Soos wat God vir Israel `n land, lewensruimte gee, so gee God ook vandag vir elkeen van sy kinders plek, `n ruimte waar jy mag groei en gedy, waar jy jou self mag ontwikkel en koester, maar waar jy ook ander ontmoet, dien en liefhet vir hulle by jou ruimte gee.

Dit was nie vir die Israeliete makliker om afhanklik en gelowig te leef uit God se hand nie. Ons dink soms dat ons tydgees van sekularisme en materialisme ons voor soveel groter versoekings plaas as wat die mense in die Bybelse tyd moes hanteer. In hoë mate was Israel onder die versoeking om vrugbaarheidsgode, die Baäl en sy vrou Astarte, te aanbid. Israel se God, Jahwe, was daarvoor bekend dat hy in die geskiedenis intree en hulle by die berg Horeb/Sinai en die woestyn ontmoet het. Maar in Kanaän moet jy doen soos die Kanaäniete doen. `n Mens besef hoe werklik hierdie versoeking was om die vrugbaarheidsgode te vertrou, as jy sien dat selfs die Hebreeuse woord vir vrugbaarheid van vee, van die naam van godin Astarte afgelei is.

Tye het nie soveel verander sedert 3 000 jaar gelede, toe Israel Kanaän ingetrek het nie. Vandag, skryf Richard Foster, is daar steeds drie afgode wat die Westerse Christendom verlei: seks, mag en geld. Kom ons los die macho god Mag, en die stomende seksgodin uit vandag se gesprek. Hoeveel houvas het die gierige god geld op jou?

Om welvarend te wees, is genade van die Here. Dis nie verkeerd om baie bates te hê nie. Dis reg om talente te gebruik, hard te werk en spaarsamig te lewe. Paulus spoor ons aan om ons bates reg te gebruik: "Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle `n skat as `n goeie belegging vir die toekoms sodat hulle die ware lewe sal verkry" (1 Tim. 6:17-19). Bevoorregte mense moet geniet wat hulle het. Deur dit te gebruik om ander gelukkig te maak, sal hulle self meer geluk ervaar. Hoe gelukkig maak jy ander en indirek ook jouself?

In die meeste gemeentes is daar tot 50% van diebelydende lidmate wat nie hulle dankoffers gee nie. Daar is heelwat verduidelikings: sommige blameer die diaken wat nie sy/haar pligte nakom nie; sommige kla oor die kerkraad wat nie die fondse op die regte sake spandeer nie; en sommige mense het die verskoning dat hulle vir ander sake, wat die Here op hulle pad gebring het, gee.

Ek gaan nie meer hieroor sê as net dit nie. Vra jouself dié vrae: Is ek besig om my geld en bates op `n Godverheerlikende wyse te bestuur? Is rentmeesterskap deel van my dissipelskap? Is my dankoffer deel van my aanbidding, of is dit `n lastigheid wat ek net soos my inkomstebelasting so vinnig as moontlik afgehandel en uit my gedagtes wil kry? Maak ek ook soos die dogter wat op pad kerk toe loop en speel met twee R5-stukke (een is kerkgeld en die ander is haar eie). Toe die een val en in die rioolgat gaan lê, sê sy: "Ag siestog, kyk waar val die Here se R5 nou in!" Die Bybel sê dat ons dankoffers die Here gelukkig maak: "Julle gawe is voor God `n offer met `n lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig" (Fil. 4:18), En: " . . . julle vrygewigheid (het) tot gevolg dat God gedank word . . . daar (sal) baie wees wat God eer toebring" (2 Kor. 8:11,13).

As ons in dié tyd van die jaar ons dank teenoor God uitspreek vir seën op ons landbou, op alles wat boere gedurende die somertyd kon oes, kom ons net soos die Israeliete van ouds dankie sê; dankie vir God se verlossingswerk, wat sy Seun soos `n koringkorrel in die grond gesaai het, sodat Hy ons brood vir die lewe kon word.

Ons sê dankie vir die lewensruimte en die grond wat God ons hier in Afrika gegee het, waar daar dikwels gestoei word vir `n plek onder God se son. Ons sê dankie ook vir die oes. Dat ons kos kan koop van die rakke van supermarkte en vrugtestalletjies. Laat ons dan weekliks in die erediens `n verklaring aflê dat God vir ons `n plek gegee het om te leef; `n kerk waarin ons jaar na jaar hernu word in ons geloof; en waar ons week na week kan opstaan en bely: Ek glo in God die Vader; en in Jesus Christus; en die Heilige Gees.

Bibliografie

Christensen D L 2002. Word Biblical commentary, 6B Deuteronomy 21:10-34:12 p. 625 Thomas Nelson Publishers; Clements R E 1998. IB vol 2 p. 476 Abbingdon Press; Cunliffe-Jones H 1956. Deuteronomy SCM Press; Schmidt W H 1979. Alttestamentlicher Glaube in seiner Geschichte. Neukirchener Verlag; Thompson J A 1976. Deuteronomy. Intervarsity Press.